Vuurwarm Jan Braai

  • 0

Jan Braai se doelwit is om Nasionale Braaidag as dié vakansiedag op Suid-Afrikaners se almanak te laat uitstaan. Sy eerste boek, Vuurwerke, word beskryf as "’n omvattende ensiklopedie van hoe om te braai". Nou is sy tweede boek, Vuurwarm, op die rak. Naomi Meyer het hom kort voor Erfenisdag 2013 hieroor uitgevra.

Is Jan Scannell en Jan Braai dieselfde mens?

Ja en nee. My regte naam is Jan, my regte van (op my paspoort) is Scannell. My “media”-van is Braai. Maar ek het 'n pa en twee neefs wie se name ook Jan Scannell is. Ons is almal na dieselfde oupa vernoem. So as jou naam Jan Braai is, dan is jy dieselfde mens as Jan Scannell. Maar as jou naam Jan Scannell is, dan is jy nie noodwendig Jan Braai nie – jy het ’n een-uit-vier-kans. My neefs is mos nie ek nie. Hoop dit maak sin?

Jy het ’n dag ’n naam gegee, maar dit was iets wat almal in hierdie land nog altyd doen. Wat was die dag en die ding wat gebeur het toe dit jou getref het: Braaidag!?

Ja-nee kyk, dit was immers die punt van Nasionale Braaidag, dat braai iets is wat almal in die land reeds doen, so kom ons vier dit! Die ontstaan van Nasionale Braaidag was nie ’n oomblik nie, dit was ’n proses. Ek dink as mens oor ’n leeftyd van nou af daarna gaan terugkyk, dan gaan dag een en vandag, agt jaar later, eintlik maar al twee nog lyk na die begintye”. Ek wil hê dit moet nog vreeslik groot raak. En in vergelyking daarmee is dit tans maar nog klein.

Braai is ’n magsding. Die meeste braaiers wil nie hê iemand moet vir hom sê hoe hy dit moet doen nie. Tog was jou eerste boek, Vuurwerke, ’n topverkoper. Wat is jou geheim?

Daardie is maar ’n bogstorie. Die meeste mense is eintlik heel gretig om bietjie raad en advies te kry. Soos jy self sê, Vuurwerke is ’n topverkoper, wat tog sekerlik bewys dat mense graag meer wil weet van hoe om te braai. Ek dink die mite gaan eintlik meer daaroor om nie iemand anders reg te wys voor ’n groep mense nie – of dit nou gaan oor bestuursvernuf, verhoudingsadvies, politieke menings, geloof of braai. Mense hou nie daarvan om voor ’n groep ander mense verkeerd bewys te word nie.

Wat my boeke betref – Vuurwerke, en nou Vuurwarm – is my gevoel dat die lees van ’n “kookboek” moet wees soos die lees van ’n storieboek, nie soos die lees van ’n handboek nie. Dit moet pret wees en jy moet op ’n bank kan lê en dit lees. My doel met die boeke is om normale mans en vrouens in staat te stel om fantastiese geregte oor kole en vlamme van houtvure te kan voorberei. Ek probeer skryf in ’n styl wat sal verseker dat elke persoon wat dit lees, presies sal verstaan wat ek sê, en met die minimum moeite die geregte self sal kan optower.

Om die vuur aan te steek, beteken ’n ander ruimte word betree. Die atmosfeer verander. Wat beteken braai vir jou, op persoonlike vlak?

In Afrika is ’n vuur die tradisionele plek van samekoms en vergader. Daar is lig, hitte, kos en veiligheid teen wilde diere. Dit is waar mense saamkom om stories uit te ruil en om tradisies oor te dra. Dit is vandag nog so. Sodra jy ’n vuur aansteek, kom staan mense rondom die vuur.

Jou tweede boek is met eerste oogopslag meer gefokus op “regte resepte” as op braaivleis. Maar wil mense nie die braai eenvoudig hou nie? Net ’n tjoppie op die vuur?

Ek sê nog altyd, jy kan enige ding braai, en enigiets smaak beter as jy dit oor die kole voorberei het. My lewensmissie is om alle Suid-Afrikaners op 24 September elke jaar, Nasioanle Braaidag, rondom braaivure te verenig. Wat presies jy braai, maak glad nie saak nie. Met my tweede boek, Vuurwarm, hoop ek om mense bloot te stel aan ’n wye verskeidenheid fantastiese resepte en geregte wat enige mens met baie min moeite op ’n vuur kan voorberei. Vir my is seker die mees bevredigende ding as ek êrens ’n tannie of dame raakloop en sy lig my in hoe bly sy en die kinders is, want haar man het my nuwe boek begin lees, en nou maak hy elke naweek vir hulle sulke lekker kos op die vuur, en hy geniet dit so baie, en hulle eet so lekker. Ek weet ook van vrouens wat “braaigroepe” het, amper soos boekklubs. Dan kom hulle een keer per week bymekaar en braai een van die resepte uit die boek. Nou, dít is vir my ’n land wat vorentoe beweeg! My TV-program Jan Braai vir Erfenis saai elke Vrydagaand 19:30 op kykNET uit, en daar kan mens ook die positiewe terugvoer van duisende mense sien elke keer as ek iets nuuts en interessants op die TV doen wat hulle dan by die huis kan herhaal. Ek dink mense is honger vir meer en ’n wyer verskeidenheid dinge om te braai. Maar die kuns met die skryf is om dit eenvoudig uit een te sit, sodat almal verstaan presies hoe om dit te doen.

Vuurwerke is die eerste deel van die ensiklopedie. Vir wie beveel jy die tweede deel, Vuurwarm, aan?

Elke man en vrou wat van die lewe hou.

Waarom al die lekker geregte nie gewoon op die stoof voorberei nie? Waarom dit op die braaivleisvuur gaarmaak?

Om ’n vuur aan te steek is darem baie lekkerder. Hoekom braai jy nie jou steak net in ’n pan nie!? Uit ’n kulinêre oogpunt gaan die geregte waarvoor jy hitte nodig het om vleis te seël in die pot of pan, beter werk op die vuur, want hy het meer hitte. En die rook van die vuur gee ook geur. Alles wat jy op ’n rooster braai, gaan beter smaak weens die smaak wat die kole en rook daaraan gee. Baie mense skrik vir braai, maar mens kan tog enige kos op die vuur voorberei – die vlamme en kole is net jou bron van hitte. Ek hoop dat hierdie boek ’n klomp mense in staat sal stel om enige vrees wat daar vir ’n braaivuur is, af te skud.

Gestel ek is arm. Hoe kan ek die kos in die boek maak? Is daar resepte in die boek wat almal se sak gaan pas?

Juis. Sodra mens meer interessante kos begin maak, is dit heelwat kere die geval dat jy met nietradisionele en dalk meer “bekostigbare” snitte begin kosmaak. Daar is twintig beesvleisresepte in die boek, waarvan net een met filet-steak is, en selfs daardie resep kan jy net so lekker met rump steak maak. Die ander ding van die boek is dat jy in elke liewe geval lekkerder kos gaan maak as wat die meeste restaurante voorsit. Jy maak kos op ’n baie lekker vlak en jy gaan soveel geld spaar, want jy eet regtigwaar net by ’n toprestaurant omdat jy te lui is om self te braai. As jy vreeslik lekker wil eet, dan braai jy vir jou iets uit Vuurwarm.

Gestel ek is nie juis ryk nie. Ek kan die kos in die boek maak, maar dalk het ek nie ’n lekker potjiekospot vir al die geregte nie. Wat is my alternatief – enige ander potte en panne?

Definitief. Ek het so ’n paar maande terug by die Shoprite in Ceres een van daai goedkoop Hart-potte gekoop om iets op die vuur te maak vir my TV program. Die pot lê nou in die TV-program-boks en is al heelwat gebruik om allerhande verskillende geregte en souse op die vuur voor te berei. Wat panne betref: jy vat daai ou pan wat al so ’n skewe onderkant het en nie meer werk op jou stoof nie, want hy staan te krom en sy onderkant raak nie aan die plaat nie, en kry nie hitte nie. Nou daai skewe krom pan is perfek vir die braaivuur, want die vlam se hitte gaan orals – dit gee nie om dat die pan skeef is nie. Dan braai jy ’n klomp heerlike kos in daai pan op die vuur. Wat potjiekospotte betref: die goed kos so ’n paar honderd rand. Mens moet net in gedagte hou dat so ’n swartpotjie ’n leeftyd lank hou. Die swartpotjie wat my pa gebruik het toe ek net begin praat en stap het, is presies dieselfde een wat hy vandag nog gebruik, so as jy so daaroor dink is ’n swartpotjie eintlik ’n baie goedkoop item.

Jy weet hoe gaan dit in die land met nasionale vakansiedae. Mense slaap laat, leef almal in hul borrels en meng nie oor en weer nie. Elkeen se reg om te doen wat hy wil met ’n dag waarop hy nie hoef te werk nie. Maar wat probeer jy met Braaidag bewerkstellig? En wat kan mense doen om jou droom vir almal te verwesenlik?

Ek probeer ’n nasionale dag van partytjie skep in Suid Afrika. Een dag per jaar waar niks anders saak maak nie, al wat jy moet doen is om fees te vier. Kry jou vriende en familie saam rondom ’n braaivuur op 24 September. Dis al. Wát jy braai, maak nie saak nie. Hoe laat jy dit doen, maak nie saak nie. Waar jy is, maak nie saak nie. Jy hoef nie ’n kaartjie te koop nie, jy hoef nie geld te skenk nie. Hierdie is nie ’n liefdadigheidsorganisasie nie. Nasionale Braaidag is ook nie ten bate van iets anders nie. Al wat jy hoef te doen is om die dag te geniet saam met vriende en familie. Dis darem lekker eenvoudig!


Titel: Vuurwarm
Skrywer: Jan Braai
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798162760

 

Koop Vuurwarm by Kalahari.com.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top