Vryfees 2013: Vuilspel-bekendstelling

  • 0

 

 
Op die foto is Lilian Liebenberg, Bettina Wyngaard en Otto Liebenberg.

 

Haar naam begin met ’n B, maar die aand is vol A’s. Dís nou die aand waarop Bettina Wyngaard tydens die Vryfees vandeesweek by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) die woord gevoer het oor sterk vroue wat die wêreld ’n beter plek maak: So uit die boeke uit.

Die eerste A is vervat in haar ambag as advokaat wat haar nader aan die regsaspek van vroueregte gebring het. Sy het ná ’n BA en LLB aan die Universiteit Stellenbosch ’n vroueregte-prokureur geword en was in hierdie fase van haar loopbaan onder meer die koördineerder van die Anglikaanse Kerk se genderkantoor in Somerset-Wes. Maar haar loopbaan het ’n nuwe era betree, want nou skryf sy voltyds. Dié keer, en stééds, gevestig in Grabouw.

Haar tweede boek, Vuilspel, wat sogenaamde korrektiewe verkragtig aanraak, is by vanjaar se Vryfees bekendgestel. Sy vertel daarvan, maar brei veral uit oor haar debuut, Troos vir die gebrokenes. Die aand kleur verder in A’s, want sy vertel oor die aanneemkind in die boek en die appelfabriek wat as ruimte vir die verhaalgegewe dien. Die appelfabriek is soortgelyk aan die appelfabriek in Grabouw waartoe sy grootliks toegang gehad het om die navorsing vir die boek te doen.

“Ek kon in al die afdelings van die fabriek ingaan en met die werkers praat,” sê Bettina, en haar glimlag strek ver van links tot regs oor haar gesig. “Een van die karakters in hierdie boek is geskoei op ’n ware persoon. Die res is fiktief.” Weer die glimlag met die tande wat soos rye appels ewe mooi gesorteer op ’n waaierband loop.

So verpak die aand in rye A’s; en des te méér nog word dit verbind deur die woorde van ’n taal wat met ’n A begin op ’n vasteland waarvan die naam óók met ’n A begin.

Hierdie begaafde skrywer, wat Troos vir die gebrokenes in net agt maande voltooi het en boonop die Jan Rabie-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa daarvoor ontvang het, vertel ook van die derde boek waaraan sy tans werk: Slawerny. Dit ondersoek die tema van mensehandel.

Sy noem ook van die vierde boek wat alreeds voor haar geestesoog afspeel.

“Ek skryf, nie omdat ek meer daaruit verdien as my vorige loopbaankeuse nie, maar omdat dit my hart is. Hoe dan anders?”

En sy kyk vorentoe. Gaan aan en bly positief. Want Bettina Wyngaard is ’n brawe vrou met ’n brawe hart. En ’n breë glimlag. En sy weet van A’s en B’s bymekaarbring.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top