Vroue wat my inspireer vir Vrouedag 2017: kortlys

  • 1

Hier is die 7 finaliste van die skryfkompetisie "Vroue wat my inspireer". Die wenner sal binnekort bekend gemaak word.

 Kortlys (alfabeties volgens naam)

1. Antoinette Venter

Die anatomie van ’n heldin 

Hy vind haar naakte liggaam half bedek onder die oranjegeel stekelblaartjies van die Strelitzia-bos. 

Terwyl hy op die polisie wag maak sy oë vraagtekens oor haar figuur.

Haar oë – glasig. Bleekblou damplek van soveel opgehoopte trane. Later die weerkaatsers van diepe empatie.

Haar lippe – koud. Senuwee-gevulde omverskoningvraers. Later reg-soeners van pyn.

Haar nek – blou gekneus. Wurgpilaar van woede. Later die pilaar waarop ander se laste sou rus.

Haar boesem – pap. Leeg gesuig. Later die rusplek vir iedere moeë gees.

Haar hande – knopperig. Skropmeganismes. Later voeders van vele.

Haar maag – verrek. Broeiplek van ondankbares. Later die baken van vertroosting.

Haar voete – vereelt. Stomp geloop agter aanvaarding. Later die fondasie waarop die uitgeworpenes hul hoop sou bou.

Haar naam – wie weet? Later moeder Theresa van die bosslapers.

Mag sy saliger rus as wat sy geleef het, dink hy, terwyl hy sy enigste baadjie oor haar gooi.


 

2. Carla de Villiers

Stiefma

Huilend agter toe deure waar niemand sien nie. Telkens verstote, derde wiel aan die wa.

Sy word elke dag herinner, sy is nie ’n regte ma, maar tog word van haar verwag om alles te doen wat ’n regte mamma sou. Sy versorg hulle, leer hulle, lê nagte wakker oor hulle, spandeer tyd en geld op hulle. Lag, speel en huil saam met hulle. Deel hulle…

Daar word van haar verwag om hulle lief te hê soos haar eie, solank sy verstaan, sy moet terugstaan waar daar in die publiek ’n ma moet wees, want sy is nie Ma nie. Kies elke woord met oorleg, versigtig trap, alles word met ’n vergrootglas dopgehou.

Sy probeer altyd regverdig wees sodat almal wen. Eie kinders is eenvoudig, as sy hulle dissiplineer, is sy ’n goeie ouer. As sy stiefkinders dissiplineer, boelie sy. Sy moet voorgee dat sy hulle net so lief het soos haar eie. Moeilik as hulle soos krimpvarkies is om vas te hou en lief te hê, penne altyd orent. Sy moet die instink onderdruk om haar eie kinders soos ’n tierwyfie te beskerm. Onder geen omstandighede mag hulle voel daar word voorgetrek, telkens ten koste van haar eie.

’n Verhouding gebou uit verlies. Sy kies elke dag om hulle lief te hê, al leer hulle Mamma hulle om haar te haat. Sy het empatie met weerlose kinderhartjies, wat moet voorgee dat hulle nie van haar hou nie, maar in der waarheid smag na haar liefde en aanvaarding.

Sy belê in hulle en wees vir hulle lief, kinders wat sy nooit beplan het nie. Beslis nie haar kleintyd droom om ’n ander vrou se kinders groot te maak nie. Sy word voorgehou aan die gemeenskap as ’n monster, terwyl sy in werklikheid ’n engel is. As sy te betrokke is en hard probeer, wil sy oorneem en vervang. As sy terugstaan, het sy nie lief nie en is onbetrokke. Fyn, vae lyne.

Moedersdag is ’n alleen dag, huil dag, hartseer dag maar sy plak haar glimlag op en kyk die wêreld in die oë, maak of dit glad nie pla nie, want sy is nie Ma nie.

Vandag eer ek jou Stiefma. Vir elke traan wat jy stort, vir elke ongemaklike situasie wat jy in moet wees, waar jy jou skouers terugtrek en instap asof jy nie omgee om niks te wees nie. Vir al die kere dat jy jou waardig moet hou, wanneer jy geïgnoreer moet word om nie die Mamma te ontstel as die kinders dalk te veel liefde vir jou wys voor ander mense nie.

Stiefma, werk tog sagkuns met jouself. Die pad is steil en die klippe groot. Foute sal jy maak, en joune word met ’n vergrootglas bekyk. Maak ook jouself ’n prioriteit, kies jou gevegte versigtig en leer om te laat gaan. Kies om te hoop, kies liefde. Staan sterk, al word jy gereeld deur die wêreld onverdiend veroordeel.

Stiefma, eendag, dalk ’n paar jaar van nou af, gaan jy terugkyk en besef, jy het hierdie vreemde wesentjies regtig lief, soos jou eie. Jy gaan besef, jy het dit gemaak. As jy gelukkig is, gaan jy dalk eendag ’n “dankie vir alles” hoor of ’n eenvoudige “ek is lief vir jou”.

Maar tot dan, glimlag deur die trane, vat een dag op ’n slag en onthou dat liefde ALTYD die antwoord is. Hou jou kop hoog want jy is in der waarheid, die superheld van ons tyd…


 

3. Hendie Grobbelaar 

My stille inspirasie

Ons kon nooit saam te lank om een vuur kuier nie. Te verskillend, twee pole op twee planete – al het ons van dieselfde ouers gekom.

Ek was meer konserwatief, konsidererend, ’n regte softie wat gereeld oor alles kon kerm. My lewe fyn uitgewerk volgens wat sosiaal aanvaarbaar was.

Sy was ’n liberalis, reguit van geaardheid, so standvastig soos ’n muur. Sy het gelewe op haar terme en sy het geen toestemming daarvoor gevra of verskoning aangebied nie.

Ek was vyf toe sy my leer swem het  ̶  op haar rug in die diep kant, tot waar sy my gelos het om self te spartel tot by die kant. Sy was net ’n armlengte ver, maar tog.

By die huis het sy my geboelie, maar by die skool het sy my afknouers bloedneus geslaan.

Toe die kanker haar begin verswelg, het die staal in haar geglinster. Almal om haar het uitmekaargeval, maar sy het staande gebly. Nooit gekla nie, nooit gevra hoekom nie, al moes die pyn, vrees en verlatenheid haar versmoor het.

My respek vir haar het in die laaste paar maande gegroei, hoe meer ek haar stryd gadegeslaan het. Ek het probeer om haar verlorenheid in haar siekte te begryp, maar ek het liederlik gefaal.

Ons laaste gesprek was telefonies; haar stem, blikkerig en moeg. Ek het gesê sy moet gesond word sodat sy een van haar meesterkoeke kon gaan bak vir haar verjaardag die volgende week. Sy het net tam gelag, en toe gehoes. O Here, dit het so seer geklink! Ek was bang  ̶  vir haar part, maar ook vir myne.

Sy was nooit my inspirasie nie; nooit ’n rolmodel nie, nie eens ’n vriendin nie. Sy was net my ousus. Op hierdie aarde geplaas om my lewe moeilik te maak, of so het ek gedink.

Maar sy was ’n kreatiewe vrou, formidabele raakvatter en organiseerder, alhoewel bitter hardkoppig en eiewys. Moeilik om te verstaan met ’n bitsige tong, maar met ’n hart van goud.

Haar siekte het haar dapperheid en krag openbaar. Nooit het ek gedink sy sou my inspirasie word nie maar haar onverbiddelike vasbyt en deurdruk het respek en bewondering afgedwing tot op die laaste dag.  

Haar nalatenskap aan my het heelwat later gekom. Ek het my eie swaarkry-episodes begin bevraagteken en analiseer. Was enigiets werklik so erg dat ek beheer moes verloor en in ’n patetiese bondeltjie verander? Wat was die werklike lengte van my eie uithouvermoë? Hoe ver kon ek myself druk voordat ek nie meer kon staande bly nie? Sou ek so ver soos sy kon gaan, en met waardigheid?

Die antwoord was opgesluit in haar opofferings en deurdruk. Ons is uit een boom gesny en dit maak my sterk vir wat ook al eendag wag.

Vandag is ek dankbaar vir haar voorbeeld van stille krag en diepte, veral in haar donkerste nag.

Ek is natuurlik ook dankbaar dat sy my nie laat verdrink het op vyf jaar nie.

(Opgedra aan my ousus, Elva Gouws, wat drie jaar lank met longkanker geworstel het en ’n dag na haar 54ste verjaardag begrawe is.)


 

4. Michiel Potgieter

Oumagrootjie

Dit het meer as ’n eeu gelede begin toe Grootjie Wynand ’n vrou vir Blinkwater begin soek het. Die Anglo-Boereoorlog was pas verby toe die jonge Wynand, gewapen met ’n brief van sy pa, by die huis van die Fichardts in  Bloemfontein opgedaag het. Alle kragte het saamgespan die oomblik toe Wynand vir Victoria Shelley op daardie stoep sien staan het.

Vir so ’n ervaring bestaan geen eenvoudige verklaring nie. Een oomblik was hy nog stewig op sy boerebene, gereed om die volgende tree te gee, net om oomblikke daarna te besef  dat die been waarop hy al vier-en-twintig jaar staatmaak sonder waarskuwing onder hom geswik het.

Victoria het langs die houtreëling van die stoep gestaan. Sy het ’n koningsblou rok aangehad. Haar hare was koringblond soos syne en agter haar kop vasgemaak. Hulle het woordeloos na mekaar gekyk. Die meisie van ver anderkant die water, wat vir Miss Hobhouse kom help het om spin- en weefskole op die been te kry. Hy, die boerseun, wat wou vrou vat.

Gebeur so iets net in een se hart, kan dit van verbygaande aard wees. Vir hulle slaan dit op daardie oomblik, in een kyk, gelyk en sonder genade. Moenie glo dat sy soos ’n ryp perske in sy skoot geval het nie. Allermins. Sy’t die kuns verstaan om afgetrokke te speel. Geweet hoe mens maak om ’n jongman se aandag te hou. Sy kon dit bekostig. Want in daardie eerste oogopslag het sy mos klaar geweet hoe die wind waai.

Dis hy! Boer of te nie. Onlangs nog die “vyand”, maar gelaai met al die onbeskryfbare begeerlikhede wat wonderwerke in haar hart ontketen het. Stewige raamwerk wat sy klere nie vir haar kon wegsteek nie. Hande wat mens onnadenkend stewig sou kon vashou, maar wat tegelyk ook teer en toeganklik sou wees vir ’n vrou soos sy.

Met die eerste oogopslag het hy eers haar hande, toe haar oë en later haar ken raakgesien. Haar oë wat kon lag, wat kon terg. Sy was seker van haarself. Uit haar houding kon hy aflei dat haar bene meer as skaflik sou wees. ’n Begaafde meisiekind, wat musiek kon maak asof sy besig is om die engele te begelei. Dit was liefde, soos die liewe Heer se bedoeling voor die sondeval was.

So begin ’n twee jaar lange vriendskap met volop raad van beide kante. Moenie oorhaastig wees nie! Die opofferinge was groot. Die skeiding pynlik en by tye ondraaglik, maar selfs die tyd het nie met hulle twee raad geweet nie. ’n Boer wat weet van teel en sulke goed, hoort mos te weet dat mens nie sommer bloedlyne bymekaar jaag nie. Wat van die kinders? Wat van die Kerk? Watter taal gaan hulle praat? Hoe gaan julle hulle grootmaak?

Nieteenstaande al die verdoemings en swartgallige voorspellings, het Victoria twee keer kom kuier en hy het eenmaal gegaan. Dit was genoeg. Haar familie kon haar vasbeslotenheid begryp. Kwaliteit kan nie deur verskille of kultuur toegesmeer of afgewater word nie.

Deur haar betrokkenheid by die weefskool het sy baie van die boere se aard en karakter leer ken en verstaan. Sy het brokkies taal opgetel en haar verkneukel daarin om krapperige g’s agter in haar keel te vorm.

Feit is, sy was hier.

Niemand het haar gevra om na dié land te kom nie. Daar was geen dwang van iemand by nie. Dit was omgee en besorgdheid wat opreg van binne gekom het. Dit was deel van die stamboom wat sy by die Jouberts kom voeg het.

Dankie Oumagrootjie! Ek bewonder jou en sien hoe dié gene in my kleinkinders uitslaan.


 

5. Sidney Gilroy

My ma het my geleer skryf

Met die donkerte kom sy tuis. In die sinkhuis staan haar sitkamerstel. ’n Trotse ding. Vir twee jaar het sy daaraan afbetaal. As sy die optelgoed en koeldrankblikkies wat sy daarvoor moes aas langs mekaar sou pak, sal dit van hier tot by die stortingsterrein strek.

Die stel is só gedraai dat wie daarop sit na ’n leë muur staar. Sy spaar nog vir die televisiestel. Intussen moet die kartondoos met die rooi fluweellappie daaroor doen.

Sy verstaan nie waarom die mense in die motors soveel bruikbare goeters by hul vensters uitsmyt nie; half-gedrinkte koeldranke, kitskos-sakke met warm morsels, kosblikke se inhoud, ou speelgoed, skoene, tydskrifte, klere. Die lys van goed wat sy in haar trollie laai is armlank.

En briewe. Baie briewe. Sy gooi die geseëlde posstukke by die sak afvalpapier. As hulle dit nie wou lees nie, waarom sal sý so verwaand wil wees? Dié met ’n plastiekvenstertjie ook. Selfs al is hulle al gelees. Wat sy wel oorhou, is die briewe wat met die hand geskryf is. Sy pik hulle gedurende haar vlugtige sifting deur die asblikke, drek en gemors op. Bukkend prop sy die briewe tussen haar boesem in om later hulle hier te kom bêre.

Sy sug as sy langs die kartondoos kniel. Sy was lank op haar voete vandag. Met sorg vou sy die fluweellappie eenkant voordat sy die kartondoos oopvou.

Vandag se vonds was min: twee gebleikte papiervelle met stokkerige letters in blou ink. Dit kan ’n kind se skryfwerk wees. Onderaan is skoenlappers en hartjies geteken. Die ander is ’n nota op ’n perfekte vierkantige kaartjie. Sierlike letters krul in dik, swart ink daaroor. Wat sou dit tog sê?

Agterop is letters en syfers gedruk.

Sy ruik daaraan. Beslis parfuum.

Sy probeer die naam onder die sinne ontsyfer deur met haar wysvinger die rondings van die skrywer se pen na te aap.

A-N-N-E-L...

Agter haar raas die deur in die voorste vertrek. Sy vou die papier vinnig onder die fluweel weg; skuif die kartondoos tot op sy plek.

Sleepvoet kom hy nader.

“Wat eet ons?” Lui soek sy oë deur die skemer in die vertrek. Hy vryf oor sy voorkop, die waas van drank en wat hy gerook het hang oor sy gelaat en sy skouers ook.

“Ek het bone en marog gekook.”

Sy steek ’n kers op voordat sy vir die tweeplaatstoof mik.

Haar hart klop tot onder haar tong as sy vir die voordeurklokkie strek. Sy is laat. Daar is moeilikheid met die busbestuurders.

Fronsend maak die huisvrou die voordeur oop. Haar baas is omgekrap. Sy bemeester ’n glimlag.

“Dit gebeur elke Dinsdag,” jak sy haar af voordat sy van haar wegdraai.

Binnekant wag chaos haar in. Sy stof af, ruil doeke, tel agter die kleuter op, deel bevele aan die tuinjong uit. Sy poets die silwerware, was die vensters en die vloere en die klere en helaas, sorg sy dat kos op die stoof prut teen die tyd wat die skoolbus voor die ellelange grasperk stilhou.

Sy kan haar opgewondenheid nie beteuel nie.

As die kleuter slaap en die huisvrou winkels toe verdwyn, neem sy haar kans waar.

Sy klop aan die tiener se kamerdeur. Deur die mure pomp musiek. Dit word meteens stil.

“Kom in!” nooi sy haar.

Binnekant is die vertrek deur die middagson warm gebak. Skoolboeke, klere, penne en skoene lê rondgestrooi. Sy kry sitplek op die mat. Die tiener het alreeds die boek oopgevou.

“Ons leer vandag van klinkers. Is jy reg?” vra sy met ’n glimlag.

Sy kyk opgewonde vir die tydskrif. Dinsdae is haar gunsteling dag.


 

6. Sunita Keyser

ek staar na die handboek
sien die spysverteringskanaal van mond tot anus
die dikderm wat reghoekig om die dunderm span
die werwelkolom en lewegewende senuwees
laaste periode biologie
wat is in die vliet van ’n jong mens se gedagte
bekommernis oor die eksamen
’n droom oor die toekoms
ek hoor ’n ambulans
dit was toe my ma
’n vragmotor het voor haar ingedraai
haar motor het gerol
ander onthou daardie jaar omdat dit gesneeu het
die swart teerstrate was wit
mense het mekaar met sneeuballe gegooi
en nie werk toe gegaan nie
op die voorblad van die koerant
was ’n sneeuman met ’n wortel vir ’n neus
ek het my ma se bleek hand houvas
gekyk hoe haar urine in ’n plastieksak drup
en haar trane oor die kussing loop
die ortopeed het geopereer
my ma se rugmurg met ’n lepeltjie geskep
by die huis was ’n gedruis van stemme
sy sal nooit weer kan loop nie
in die hospitaal het hulle haar lang swart vlegsel afgesny
dat net happe en ’n sliert oorbly
want sy moes vir lank  baie lank
net doodstil lê
en van toe af het net die hondjie my kom groet
as ek van die skool af kom
baie aande het ek skoolkind
wat nie kos kon kook
vir my pa net boeliebief en klitseier gemaak om te eet
maar hy het nooit ’n woord gekla
maande later op ’n blye dag
het my ma met wiele onder haar
en struikelblokke voor haar
huis toe gekom
alles is te hoog
en rystoelwiele kan nie trappe klim
bed op en bed af
stoel op en stoel af moet iemand help
rooi brandstrepies op haar arms
om sywaarts op die stoof te kook
soms met naaldwerk steek
verlore spelde in haar been
ag ek voel tog niks lag sy dan
soms droom sy van tennis
word dan wakker wreed
met bene wat nie kan
troos sy dan haarself  ag toemaar
ek het buitendien so vrot gespeel
op ’n keer toe sy buite
die tuinslang sleep
sak die klein wiel die sagte aarde in
en tuimel sy vooroor
maar al moet sy daagliks ly
is ek  ek net heeltyd bly
oor die koester van haar sagte arm
die warmte van haar gees om my
want die huis was vir lank onmeetbaar
so bedroef en vreeslik leeg
en eindelik word sy die ankerplek
die kragtigheid en toeverlaat van
elke ander met wie haar paaie kruis
op vrouedag veral en elke ander dag
wil ek eer betoon aan
vroue wat op wiele leef
rystoelvroue


 

7. Wendy Anthonie

Ek is ’n XXX-vrou

11 Augustus: 03h11

Skootrekenaar.

My bed.

Ek was besig om met slaapswaar-oë my baas se toespraak oor Vrouedag af te rond. ’n Vinnige loer op fb en ek lees die LitNet-kompetisie raak.

Twee van die sinne wat ek toe pas klaar getik het, lees soos volg: “Dit is goed om hulde te bring aan al die formidabele vroue in ons landsgeskiedenis, maar ons moet soms stil word om onsself te vier, want agter elke suksesvolle vrou staan JY!”

En dis toe net hier dat ek dink: “Practice what you preach, girl!”

Behalwe my vindingryke ma is die enigste vrou wat my op die oomblik inspireer, die skrywer van hierdie 600 woorde.

Met ’n kroeskop en sproetgesig waaroor ek as kind gespot is, was ek nog maar altyd as die lelike eendjie van vier kinders gesien. My pa, ’n stoere Kapenaar teen wie se bors ek altyd gehuil het, het immer gevra: “Wil djy mooi wies, of wil djy slim wies?”

Ek het slim wees gekies, want ek kon nie esteties kompeteer teen my speelmaats nie. Pa het gehelp deur my te voer met Shakespeare en al wat ’n Engelse digter is. Hy’t my aangemoedig om elke dag ’n nuwe woord te leer sodat, wanneer ’n jaar verby is, ek 365 nuwe woorde geken het.

Ek het kleintyd geleer dat die wêreld jou niks skuld nie en dat die kosmos nie ruikers aandra nie. Jy moet jou eie blomme kweek sodat jy elke dag ’n vars blommeruiker kan hê.

As skoolsekretaresse is ek in 1994 met ’n breingewas gediagnoseer. Post-operatief is ek met ’n skewe glimlag gelaat. Ek is 100% doof in my regteroor, het iets soos 20% gehoor in die oor wat nog werk en sukkel met ’n oog waardeur ek somtyds nie kan sien nie – soos ’n motor met stukkende ruitveërs.

Maar uit elke dwarsklap wat die lewe my al gegee het, het die mooi gedy.

Vandag gee ek steeds nie om oor hoe ek van buite lyk nie. Hy het my ’n tweede kans op die lewe gegee – ’n kans wat ek op die ouderdom van 63 jaar optimaal benut deur elke dag boordensvol te pak. Ek sterf liewers aan slytasie as aan verroesting.

Ek droom steeds groot en daag myself elke dag uit. Deure word in my gesig toegeklap, maar vir een deur wat toeklap gaan daar 100 ander oop.

Ek is geërd om as persoonlike assistent vir die dorp se burgemeester te werk. Ek besit en bestuur die amateurteatergroep, INKkoors nou al vir meer as 21 jaar en het pas die produksie, BLOED op die planke gehad.

Ek is ’n maand gelede aangestel as die munisipaliteit se media-beampte, het pas twee voorstelle by die Suidoosterfees in Kaapstad en ’n voorstel vir ’n televisiereeks ingedien, besig met reëlings vir ’n Wes-Kaapse Premier-geborgde produksie op Oudtshoorn asook ’n besoek aan die Showroom-teater op Prins Albert.

Ek was sedert die geboorte van my 3 kinders ’n X-meisie, maar noudat ek pensioenarisstatus bereik het, het daar twee ekstra X’e bygekom. Ek voel egter vere, want Pa se woorde eggo steeds in my kop.

Ek is liefs koel en loslit in oorgroot kaftans as om myself figuurlike te wurg in baadjies wat te klein is.

Ek voel geïnspireerd deur myself wanneer ek deesdae sukkel om my 63-jarige lyf uit die bed te sleep, maar wanneer ek met ’n lipstiekbekkie voor my spieël staan vra ek nie: “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand” nie. Ek sê sommer self ek is die mooiste EN die sterkste. As ek nie in myself glo nie, gaan niemand anders dit doen nie.

Ek sal altyd my eie XXX-meisie bly! Groot, sterk en soet!

  • 1

Kommentaar

  • Hendie Grobbelaar

    Ek kon nou eers al die Vrouedagstories lees en is verstom oor die pragtige verhale. Ek is nederig dankbaar om een van die finaliste te wees. Dankie LitNet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top