Vroue wat my inspireer vir Vrouedag 2017: inskrywings 3

  • 2

Let wel: Hierdie kompetisie het reeds gesluit.

Hier verskyn die laaste groep inskrywings wat vir die Vroue wat my inspireer skryfkompetisie ontvang is.

Inhoud

Carla de Villiers Coen Basson
Nicola Tinkler Lolèta Dalton
Margarete Heese Marzanne Schoeman
Alet Tinkler Michèle Meyer
Corri Badenhorst Theresa Postma
Trudie Coetzee Fanus Bothma


 

Carla de Villiers

Stiefma

Huilend agter toe deure waar niemand sien nie. Telkens verstote, derde wiel aan die wa.

Sy word elke dag herinner, sy is nie ’n regte ma nie, maar tog word van haar verwag om alles te doen wat ’n regte mamma sou. Sy versorg hulle, leer hulle, lê nagte wakker oor hulle, spandeer tyd en geld op hulle. Lag, speel en huil saam met hulle. Deel hulle …

Daar word van haar verwag om hulle lief te hê soos haar eie, solank sy verstaan, sy moet terugstaan waar daar in die publiek ’n ma moet wees, want sy is nie Ma nie. Kies elke woord met oorleg, versigtig trap, alles word met ’n vergrootglas dopgehou.

Sy probeer altyd regverdig wees sodat almal wen. Eie kinders is eenvoudig, as sy hulle dissiplineer, is sy ’n goeie ouer. As sy stiefkinders dissiplineer, boelie sy. Sy moet voorgee dat sy hulle net so lief het soos haar eie. Moeilik as hulle soos krimpvarkies is om vas te hou en lief te hê, penne altyd orent. Sy moet die instink onderdruk om haar eie kinders soos ’n tierwyfie te beskerm. Onder geen omstandighede mag hulle voel daar word voorgetrek, telkens ten koste van haar eie.

’n Verhouding gebou uit verlies. Sy kies elke dag om hulle lief te hê, al leer hulle Mamma hulle om haar te haat. Sy het empatie met weerlose kinderhartjies wat moet voorgee dat hulle nie van haar hou nie, maar in der waarheid smag na haar liefde en aanvaarding.

Sy belê in hulle en wees vir hulle lief, kinders wat sy nooit beplan het nie. Beslis nie haar kleintyd-droom om ’n ander vrou se kinders groot te maak nie. Sy word voorgehou aan die gemeenskap as ’n monster, terwyl sy in werklikheid ’n engel is. As sy te betrokke is en hard probeer, wil sy oorneem en vervang. As sy terugstaan, het sy nie lief nie en is onbetrokke. Fyn, vae lyne.

Moedersdag is ’n alleendag, huildag, hartseerdag maar sy plak haar glimlag op en kyk die wêreld in die oë, maak of dit glad nie pla nie, want sy is nie Ma nie.

Vandag eer ek jou Stiefma. Vir elke traan wat jy stort, vir elke ongemaklike situasie waarin jy moet wees, waar jy jou skouers terugtrek en instap asof jy nie omgee om niks te wees nie. Vir al die kere dat jy jou waardig moet hou, wanneer jy geïgnoreer moet word om nie die mamma te ontstel as die kinders dalk te veel liefde vir jou wys voor ander mense nie.

Stiefma, werk tog sagkens met jouself. Die pad is steil en die klippe groot. Foute sal jy maak, en joune word met ’n vergrootglas bekyk. Maak ook jouself ’n prioriteit, kies jou gevegte versigtig en leer om te laat gaan. Kies om te hoop, kies liefde. Staan sterk, al word jy gereeld deur die wêreld onverdiend veroordeel.

Stiefma, eendag, dalk ’n paar jaar van nou af, gaan jy terugkyk en besef, jy het hierdie vreemde wesentjies regtig lief, soos jou eie. Jy gaan besef, jy het dit gemaak. As jy gelukkig is, gaan jy dalk eendag ’n “dankie vir alles” hoor of ’n eenvoudige “ek is lief vir jou”.

Maar tot dan, glimlag deur die trane, vat een dag op ’n slag en onthou dat liefde altyd die antwoord is. Hou jou kop hoog want jy is inderwaarheid, die superheld van ons tyd …


 

Coen Basson

Toe tot nou

“Is dit die rivier wat so dreun?” Al weet ek dit.

“Ja. Slaap nou. Jy moet rus,” paai hy.

Vyf dae en nagte se Julie-reën laat strome uit die toegekapokte kranse en klowe van die Kammanassieberge kolkend rivier-af klots. Ons het vanmiddag gaan kyk; swanger waters sleur bome, diere in kolke en skuimende deinings saam. Agterstevoor branders breek op die nou plekke. Nou vermom die vyandige duister die onheil.

“My man,” uit die stilte, “ek pyn.”

Hy streel oor my styfgespande buikvel, sê, “ek voel ons eersteling roer.”

Weer die ganghorlosie, weer ’n steekpyn. Hou die reën nooit op nie?

“En as die pyne aanhou kom?”

“Moenie bang wees nie.”

“Ek glo jou. Wat anders?  Jy vang kalwers, lammers, vullens. Maar mens? Ek moes oorkant by Ousus se kraamkamer gewees het.”

Hy staan haastig op. Die olielamp verjaag die nabydonker. Hy trek dik aan.

Hy soen my. “Ek kom nou-nou. Ek gaan die perde opsaal.”

Ek skrik. “En dan?”

“Ons moet by Ousus kom.”

“En die vloedrivier?” Ek begin huil. “Ek wil leef, ek moet láát leef.”

“Moenie bang wees nie.”

Alleen met die lamplig se skadufigure teen die mure: “Here, laat my nie bang wees nie.”

Hy help my aantrek. “Dik, dis bitter koud, dit reën.”

Ek bid binnetoe teen bangwees en vir lewe. Sy veldhoed hou my kop droog, die bokseiltjie maak hy tjalie om my vas. Tel my op mak Vos se rug.

“Here, hou my kind in, ek sit wydsbeen oor die saal. Laat die koppie nie stamp nie.”

Sy kakiejas en die seil word my werklikheid van droom en hoop. ’n Avontuur waarin ek afwesig voel. Ek hoor die blaasorkes op ons bruilof. Dis lig, ons lag en dans. Ons liefde. Swanger. Lewe in my lewe. Die perde stap. Hy op die swart hings langs my.

“God, ek mag nie bang wees nie. Vir hulle.” 

“Hier by die draai,”  troos hy, “is minder branders. Hier moet ons deur.”

Ousus se verlostange. Sy arm om my as ons wals. Raaswater. Ek verbeel ek hoor die eerste skree.

 “Hou styf vas aan die saal, ek hou al twee se teuels. Ons gaan in. Ek en die hings sal bokant keer dat stompe nie teen julle stamp nie.”

 Dieper. Ek voel my voete sak in yspyn water. My kuite.

“Here, waarheen spoel riviere mens? Laat ons nie spoel nie.”

“Hou styf, moenie los nie. Moenie bang wees nie, ons gaan swem.”

Vos sak met my weg en die water kom tot teen my borste, ek klou in die yswater aan die saalboom vas. My oë is vaag gewoond aan die donker. Die perde se koppe is bo die water, ek voel die wieg-wieg-wieg soos Vos swem.

Half bewusteloos verkluim in die Kammanassievloed se kapokwater, gly my lewe verby, maar oer-instink los ’n skrefie lewe oop. 

Voor my wêreld eindig, trap Vos op die riviervloer. Die water sak teen my yslyf. Vos stap uit, in in die geel aardbol van die lantern op Ousus se perdekar. Hy, ook deurweek, tel my op die perdekar. Perdepote jaag die nag in met my. Verloskamer toe.

Ousus, tussen my oopgesperde bene, roep: “Druk weer!”

Ek vee oor sy toga se twee graadkleurbande. “Ma se kind lyk so mooi. Ma is trots op jou. Wens Pa kon ook nog hier wees.”

Op my hotelkamerkussing lê ’n wit roos en ’n nota. “Dankie, Ma, vir hierdie lewe. Eendag sal ek die ongelooflike storie skryf van die warm moederwater snoesig óm my, een donker natreënnag. Van kapokwater, perde en geboorte. Van my dapper ma. Van liefde en van inspirasie.”


 

Nicola Tinkler

Engel geweef uit suiwer liefde

Die liefde van ’n moeder, wie sal dit ooit kan begryp? Van die eerste oogopslag tussen pasgebore baba en trotse moeder was liefde vanselfsprekend. Aanvaarding en omgee was aan die orde van die dag. Geen probleem ooit te groot of las te swaar. Geen fout wat onvergewe bly of tyd te min. ’n Vrou wat daagliks in God se teenwoordigheid wandel. Storms wat in harte woed word rustig gemaak met een sagte kyk. Eindelose vrae en verlange word beantwoord met woordelose gebede. Dade van onselfsugtigheid reën daagliks neer. ’n Steunpilaar vir alle tye. Die drome, wense en hartsbegeertes van haar kinders wat daagliks beskerm en gerespekteer word. Die vat van ’n eindelose hand of die veilige koestering omvou deur berusting, troos, moed en hoop. Moederliefde wat brose harte op die vleuels van liefde dra. Vrese, bekommernisse en teleurstellings wat inbetaal kan word. Gesprekke met Vader tydens middernagtelike ure wat weergalm van smeking vir beskerming en seëning vir haar kinders. Wyse raad wat uitgedeel word met ’n hart wat bloei – die bewyse van eie smart en seer. Liefde onoorwonne. Liefde onbeskryflik. Liefde onvoorwaardelik. Liefde dieper as die see.

’n Groot bederf van God.

Mamma, die blom van goud in my hart. Die rots waarop my voete daagliks hul plek vind. Die rivier wat trane opvang. Die pad waar alle sorge wegloop. Die sonskyn wat vreugde en vrede bied. Die helder ster in ’n donker nag. Die rusplek vir my siel.

Nimmereindigende omgee. Vriendskap onvervangbaar. ’n Voorbeeld vir ewig. Karakter rotsvas. Veilige vesting. Sagte hande wat gesond maak. Vrou van staal. Hart volledig uit suiwer goud gegiet.

’n Duisend woorde is te min om dankie te sê. Mamma, die vaste fondasie wat ’n gesin ewigdurend bymekaar hou. Hierdie is maar ’n druppel in die see van beskrywing van wie en wat ’n mamma is en beteken. ’n Ware engel geweef uit suiwer liefde.

Ons is wesens wat gemaak is om súlke liefde te ontvang en te gee. Elke sel en hartklop smag daarna. Hierdie is die liefde wat nooit weer vanselfsprekend aanvaar mag word nie, nooit weer betwyfel of geminag mag word nie. Hierdie liefde is genoeg. Mamma, jy is genoeg.

’n Engel geweef uit suiwer liefde.


 

Lolèta Dalton

Vroue wat my inspireer

Vroue is so besonders gemaak, deur die Skepper, Hy het hulle so ragfyn aanmekaar gesit, met soveel emosie, passie en talent.

 Daarom wil ek graag die volgende deel van ’n vrou wat my altyd sal inspireer.

’n Moeder sal altyd ’n baie besondere inspirasie vir my wees. Haar warmte, omgee en haar onvoorwaardelike liefde wat alle verstand te bowe gaan. Haar sagte aanraking wanneer sy haar kinders vertroos of aanmoedig. Die ontferming waarmee sy haar gesin versorg en vertroetel. En tog ook in die diepte van haar hart, dra sy haar eie bekommernisse, stil en alleen. Saans, nadat  sy almal gevoed het en hulle rustig slaap, is dit sy wat haar laaste rondtes doen om te gaan kyk of die kinders elkeen veilig is en rustig slaap. En soos sy deur die huis loop, sing haar hart die ou bekende Halleluja-liedjies en daardie tye gesels sy met haar God. Sodra sy terugkom in haar kamer, hoor sy net die rustige asemhaling van haar geliefde man. Sy soen hom saggies en skuif agter sy rug in en sit liefdevol haar arm om hom. Tevrede maak sy haar oë toe.

Soggens vroeg, voor die wekker lui, staan sy fluks op, ongeag of dit winter of somer is en begin werskaf in die kombuis. Sy bedien vars koffie vir haar man in die bed, pak die kinders se kospakkies vir die skool. En so begin haar nuwe dag, maar sy doen dit met soveel passie en ongekende vreugde. Sy leer haar kinders om die regte keuses te maak, sy gee hulle leiding met liefde. Sy dra hulle belange op die hart, haar gesin is so belangrik vir haar, sy stel belang en gee so baie om vir elkeen op sy gebied.

Vroue wat ek in hierdie kategorie plaas, is Maria van Nasaret. Haar voorbeeld in elke faset van haar aardse lewe staan uit soos ’n paal bo water. Sy was ook jonk, verlief en verloof, sy het ook uitgekyk om haar eie gesin te hê en toe gebruik God haar bo haar wildste verwagtings in. En as elke vrou, oud of jonk, net in haar voetspore wil gaan stap, herleef haar diepe emosies soos net ’n vrou kan. Elke faset van haar lewe op aarde, haar vreugdes, vrese, ook haar diepe pyn en verlies en haar trots op haar oudste Seun, maar ook haar hartverskeurende snikke aan die voet van die  Kruis. Daar moes sy magteloos toekyk, met trane oor haar wange, haar Seun is vasgespyker, hyg na asem, roep uit Hy is dors, Hy het in helse pyn verkeer, en sy was magteloos en haar binneste stukkend. Haar begeerte om Hom net nog vir oulaas ten haar bors vas te druk, net nog vir ’n laaste keer aan Hom te kon raak. Maar alles tevergeefs, dis verby. Sy moes omdraai, want sy het nog kinders gehad, en haar man het haar ook nodig gehad.

Vandag kan ek nie haar soortgelyke kry nie. Soveel vrouens gooi hulle babatjies weg, maak hulle dood nog voor geboorte, mishandel en verniel hul kindertjies. Die norm vandag is, daar word eerder saamgebly, kinders gekry, en sou dit nie werk nie, vat jou goed en trek. Watter voorbeeld is dit nou vir die kinders? Stiefouers wat kinders verkrag, aanrand en vir die dood agterlaat. Wat het van die voorbeeld van Maria van Nasaret, geword, wat meer as amper drieduisend jaar gelede geleef het?

Ek sluit af, “uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie, as sy die Here dien, dan verdien ’n vrou om geprys te word.”  (Spreuke 31:30)


 

Margarete Heese

Deur die lens van ’n hoërskooljuffrou

Sy sit dikmond voor my in die klas. Lusteloos vooroor gebuig. Totdat hy haar liggies op die skouer tik. Seker maar om ’n antwoord te bedel vir een van die taalvrae waarmee hulle besig is. ’n Verleidelike glimlag sprei oor die mooi gesiggie wanneer sy na hom omdraai.

***

Sy steek haar hand beskeie maar ferm op. Ek weet sommer hier kom ’n gekibbel oor my interpretasie van haar eksamen-antwoord en die gepaardgaande puntetoekenning. Maar ek weet reeds dit sal nie ongegrond wees nie. Sy is een van daardie klein persentasie begaafde leerders vir wie memorandums aangepas word. En sy huiwer nie om bedaard op te eis wat haar toekom nie.

***

Sy staar afgetrokke voor haar uit. Vir ’n oomblik huil my binneste vir die gebroke figuurtjie langs die venster. Die slagoffer van onmenslike mishandeling. Maar net vir ’n oomblik. Ek sien ’n gedaantewisseling voor my oë plaasvind. Asof die toneelspeler vanuit haar slagofferrol terugkeer na die hier-en-nou. Sy kyk die werklikheid vierkantig in die oë, en sy deins nie terug nie.

***

Die uitbundige geklets van opgewonde matriekmeisies transformeer my eie fronsende gelaat in ’n glimlag. Dit is die dag van die matriekafskeid. Dié dag waarna die meeste skoolmeisies reikhalsend uitsien. Nie net die glansgeleentheid en alles wat daarmee gepaardgaan nie, maar ook na ’n toekoms wat uitnodigend wink.

***

Dit is enkele sekondes voordat die eindfluitjie blaas. Dit is interskole. Die telling is gelykop. Sy strek haar arms bo haar kop om die bal op haar vingerpunte te balanseer. Ek sien die kalmte vanuit haar vingerpunte terugvloei na die res van haar liggaam toe die bal haar hand verlaat. Sy wéét sy het haar span en haar skool nie in die steek gelaat nie.

***

Die jong vroue in die klas voor my inspireer my. Hoeveel ander skepsels op aarde moet sulke delikate toertjies op die balanseerbalk van die lewe uitvoer? Aan die eenkant sag, verleidelik, weerloos, maar terselfdertyd sterk, selfversekerd, gedetermineerd. Met ’n energie wat nie deur terugslae geblus word nie. Hul oorwinnings én terugslae herinner my voortdurend daaraan dat my innerlike krag en deursettingsvermoë vlak onder die geheimsinnige, en soms wispelturige, laag van vroulikheid en vrouwees lê.

***

Hul ragfyn droomvangers vol jongmeisiedrome inspireer my. Wie het gesê dat drome slegs vir kinders en jongmense bedoel is? ’n Droom is tog niks anders as die begin van ’n visie bestem vir iets groots nie.

***

Deur die jare herinner hulle my telkens aan my voortvarende jongmeisie – voorneme dat ouderdom immer vir my ’n keuse sal wees – selfs al begin die tyd stadigaan maar meedoënloos die liggaam aftakel.


 

Marzanne Schoeman

Pottebakkers

Doen slegs jul wil, dames, jul wil met my,
jul, pottebakker, met my, die klei
vorm my en maak my net soos julle is.

“Welkom, welkom,” sê die vrou toe sy soos ’n warrelwind wild in die rondte tol.

Sy stop en vat my hand in ’n stywe greep. Ek kyk veelseggend af daarna net om te sien hoe haar handdruk blou verf aan my palm afgesmeer het. Frida is die juffrou van die ateljee met die lang blonde hare en swart jas wat bespat is met kleure van die reënboog soos sy al oor die laaste twintig seisoene met ’n kwas soos ’n staf in haar hand vir haar studente demonstreer: “impasto, impasto, impasto!”

Sy lei my deur die gemosaïekte deur omring met sement-engele tot by die blou vertrek waar hulle vir my wag.

Eers hardloop Pablo, die swart Labrador sirkels om my bene en ek verloor byna my balans voor ek by die vertrek instap.

“Goeiemiddag pottebakkers,” sê ek.

Dis alombekend dat ek uit ’n hegte familie met merkwaardige vrouens kom, maar liewe leser kom ek stel jou voor:

My Ouma bak nog brood met liefde en ons hande is ewe groot. Sy doen beeldhouwerk vir groot wynplase en sy is ’n boffin in haar veld. Die vrou by die apteek was nou die dag reg. Sy het gesê dis mos tyd dat iemand van my ouma ’n standbeeld bou.

Annemari, my tante, drink net tee uit handgemaakte koppies met voëlmotiewe op en dra ’n wonderwerkbaba op die ouderdom van vier en veertig. Sy staan in die hoek van die vertrek, met ’n byna gefrustreerde uitdrukking terwyl sy aan haar beeld werk. Sy oor bly afval. Sy noem hom Felix, maar ek dink Van Gogh is meer gepas.

Melanie het seeblou oë wat in lettergrepe praat en sy dra vurke vir armbande. Sy sit op ’n klein stoeltjie terwyl haar hande, gemaak om goed te maak, ’n silindriese pot op die wiel vorm. 

Aan my mamma met die pen in haar hare wil ek net dankie sê vir die liefde vir lees wat sy al van kleins af by my gekweek het.

Sy nooi my in en met haar linkerhand verduidelik sy, “Marzanne, ek het vir jou proteas in die Mercedes se boot,” terwyl haar regterhand die sjokolade merlot in die halfvol wynglas tiep. Plek-plek val daar rooi kolle wyn op die koerantberigartikels wat soos granaatpitte oor die tafels versprei lê. Haar oog vang ’n berig.

“Het julle gehoor wat is in die nuus vandag? Die kind wat vermis was is weer gevind. Kan jy glo ja? Sy het daar weggekruip. Nee, ek dink ook nie sy is te groot vir ’n pak slae nie.”

Hulle skink vir my ook ’n glas. Ek haal my klei uit om te begin brei. Ons drink wyn, ons maak potte, ons lag en ons huil. Hier vorm ons mekaar, word ons mekaar en ís ons mekaar. Hier in ’n klein ateljee geleë in ’n stil doodloopstraat in die Paarl.

Julle is die vroue wat my na gedigte & koffie dryf. Oor julle kan ek boeke vol stories skryf.

Vuurwerke. My Skepper. Kuns. Liefde. Tee. Kos. Eenvoud. En vrouwees. Dis alles goed waaroor ek by julle leer.

Soos ek terugleun en my rug teen die stowwerige muur stut en nog ’n sluk van hierdie sjokolade sjokolade wyn wyn (my kop draai) neem en ek vir julle kyk, terwyl julle lag en gesels en is, wil ek net soos julle wees.

Ma sê mos mens moet naby mense bly wat soos sonlig voel.

Julle is ’n kasteel en my fondasie is reg gelê.


 

Alet Tinkler

Gryswordjare

Heerlik in die sonnetjie, kleurvolle gehekelde kombersie oor haar bene, sit sy starende. Die enigste beweging is die gewring van haar hande en so nou en dan ’n frons op die voorkop. Onwillekeurig wonder ek wat sy dink. Haar lewe van vergange tyd speel in my gedagtes af. Ek hou haar dop – soms loop ’n verdwaalde traan teen my wange af en soms speel ’n glimlag plesierig om my lippe. Haar fleur is weg! Diep kepe op haar gesig en hande is die uiterlike teken van gedane sake en die goeie nagevolge van haar nalatenskap.

Eens op ’n tyd was sy ’n vlytige mamma wat berge kon versit. Die kort beentjies het beweeg soos die van ’n ribbokkie. Oë wat geen seer of nood gemis het nie. Bereidwillige hande wat permanent uitreik na ander.  Haar kroos was haar trots en sy die gom wat alles en almal geanker het.

Soos ’n Kiewietjie neerdaal op enige gevaar wat haar nes of kleintjies bedreig, sou sy nie skroom om aanvalle te loods ter beskerming van dit wat haar kleinood is nie! Sy sou trompetter soos ’n olifantkoei en haar stem verhef teen die vyand wanneer sy seer in haar kroos se oë sien. Sy sou braaf glimlag, selfs wanneer haar hart bloeiende is.

Soos ’n seekat, wat nooit die nes sou verlaat het totdat die laaste eier uitgebroei is nie en uiteindelik ’n hongerdood gesterf het, het sy ook baie kere haar laaste geoffer en haarself ingekort op sekere voorregte. Die tye wanneer sy laaste vir haar kossies sou inskep omdat sy kwansuis nie honger is nie. Sy sou ook saans laaste bed toe gaan wanneer sy die rondte gedoen het om seker te maak elke deur en venster is stewig toe.

Wanneer almal veilig slaap, sal sy moeg maar tevrede in stilte neerbuig voor Vader God. Haar enigste Kragbron, Voorsiener en Vertroueling. Sy sal elke kind en sommer ook die diere en familie by die naam voor Sy voete neerlê. Daar in stilte, haar vreugdes en blydskap uitbabbel. Met net die sagtheid wat sy kon hê, elke probleem met Vader deurwerk. Sy Woord bestudeer en elke belofte haar eie maak totdat die slaap haar oorval.

Soggens sou sy weer die eerste beweging in die huis wees. Dan bekruip die heerlike reuk vanuit die kombuis jou. Sy skarrel met ’n glimlag, nuwe krag en moed en ’n lied wat sy neurie. ’n Heerlike gevoel van veiligheid en koestering omarm jou, want jy weet Mamma is daar en alles sal reg uitwerk. 

Miskien, ja net miskien is dit wat alles deur haar gedagtes vloei. Herinneringe so diep gebêre met meer detail wat net sy kan onthou. Dalk wil haar voetjies wikkel en haar hande dien juis omdat hul voel dat hul doel lank nog nie uitgedien is nie. Dalk is sy gefrustreerd omdat die vleeslike nie meer wil saamwerk nie terwyl die wil steeds daar is? Dalk voel sy verlate en alleen – uitgedien?

Diep in my hart weet ek egter dat sy meer gedoen het as wat enige mens moontlik kon doen – die offer van jouself vir jou gesin. Met trane in my oë fluister ek skor: “Vader, ek dank U vir haar, vrou, my mamma en kinders se ouma. Sagte, ware, volkome vrou, geskape met kosbare waarde ver bo korale. Beskerm haar en maak haar las lig. Sy het U Naam en Skepping eer aangedoen. Dankie Vader vir die voorreg van haar in my lewe – ’n vrou uit U hand. In die Naam van Jesus. Amen.”


 

Michèle Meyer 

Om soos sy te wees

Haar eerste woorde aan my was “May I have your Woolworths card?” My kind was in matriek. Ek moet roer om betyds uit die trollietou die kroek-middagete by die skool te kry voor haar Ontwerp prakties begin. SHAMORE lees die naam wit teen haar swart uniform en iets in haar regop rug laat my die naam twee maal hardop sê. Kredietkaartkode ingetik, stil stoot die strokie uit die klein slim masjientjie. “Thank you, Mrs Meyer,” en weer daai glimlag.

Ek vra oor haar naam die volgende keer toe ons weerskante van die kassierblad staan. Haar tande perfek, beenwit gesond. Sy is een van ’n tweeling, sê Shamore. Hulle ma was moeg na die geboorte en het besluit om een naam te gebruik, net een letter te verander. Shamone is haar sussie. Vanjaar is hulle 28 jaar oud.

Onnosel eenvoudig soos ek dikwels is kyk ek na die ander kassiere en vra of Shamone ook hier werk, in die mooi swart en wit winkel. Dis die eerste keer dat iemand met ’n wye wit glimlag vir my sê hulle sussie is ’n druggie. En nee, sy werk nie hier nie. Ek stotter ’n jammer en kyk af na my stapeltjie babawortels, roket en skottelgoedsponsies.

“Don’t be sorry, I’m glad to tell someone. I worry about her a lot.”

 Ek vra waar Shamone is. Shamore weet nie. Sy soek haar. Sy probeer oral, hulle ma is nie gesond nie en die worry oor Shamone maak haar klaar. Raak glo af en toe net weg, gewoonlik na ’n skoon tydjie. Dan kry hulle haar maar weer tussen die pimps en die pushers. En ek het gedink ek het ’n situasie met ’n bedonnerde een in matriek. Ek sê ek hoop hulle kry haar gou, en sterkte, moenie opgee nie. Shamone kyk my vol in die oë, regop rug.

“I won’t give up. I never will. Thank you, Mrs Meyer.”

Dis warm in my blink kar, maar ek sit ’n rukkie doodstil en kyk vir die stuurwiel. Dan raak dit te ongemaklik en ek ryskool toe om die matriek op te laai in die blink kar. Sy is moeg na ’n helse dag en is bly oor die koue cranberry-sap.

Haar glimlag skakel ’n lig aan bo die till. “May I have your Woolworths card, please, Mrs Meyer?” Ek sal nie glo wat het gebeur nie. Sy het haar gekry. Shamore. ’n Pimp se broer het uitgepraat en toe klim Shamore in ’n taxi, ry Eersterust toe en loop van hoerhuis tot hool tot sy haar tweelingsuster kry op ’n dun matrassie in ’n donker kamer. Sy is nou by die huis en hulle ma is so bly. Sy wil nie eet nie, sy is kwaad nog, maar dit sal oorgaan. Glo so maer soos ’n riet. Die ding is nou net om haar daar te hou. As sy uit is by die deur ruik die pushers en dealers haar uit en dan is dit weer tickets. Hulle ma pas haar bedags op, sy wat Shamore is slaap snags met haar arms om haar sussie se dun lyf.

Die matriek se eksamen is verby en ons gaan dit vier met lamskenkels. Land by Shamore wat nie glimlag nie. Shamone is weer weg. Hulle ma is in ’n toestand. Die banale hoop skenkels lê soos ’n vloek tussen ons op die blink blad.

“Ek is jammer oor jou sussie weer weg is. Ek hoop hulle kry haar gou en sterkte, moenie opgee nie.”

 “I won’t give up. I never will. Thank you, Mrs Meyer.”


 

Corri Badenhorst 

’n Sterker en vroliker vrou het ek nog nie weer gekry nie. Haar naam? Ansie Killian. Ansie is ’n enkelma wat baie mense verwar as hulle haar van nader leer ken. ’n Mooi, godsdienstige vrou. Sy het altyd ’n sagte woord en glimlag om te deel. ’n Vrou in haar middeljare wat ’n voorbeeld van geluk en liefde is. Sy het my geleer dis nie wat jy het of wie jy is wat jou gelukkig maak nie. Dis hoe jy opstaan en wat jy besluit om met jou omstandighede te doen. Haar gunsteling spreekwoord is: Moenie huil oor gestorte melk nie, jy kan dit nie weer optel nie.

Sy is ’n vrou wat die reg het om seer te hê en om negatief te wees. Na haar kind binne haar dood geskop is en sy verkrag is. Na sy mishandel was deur meer as een man en in die steek gelaat is deur haar kinders se pa. Na sy alles vir hoeveel keer in haar lewe verloor het, het sy opgestaan en voort gegaan. Met ’n glimlag op haar gesig! Sy is die toonbeeld van hoe om geluk in jou lewe te vind. Ansie sal net koekmeel en olie in haar huis hê en sê sy het meer as genoeg kos en nog steeds vir die man op die straat kos gee. Sy kon tower met die bietjie wat sy het.

Sy sal ou meubels optel by mense wat op pad ashoop toe is en as sy klaar is daarmee, is dit so goed soos nuut. Sy glo nie dat klas en rykdom met geld kom nie, maar van binne. Sy het die onuitgeputte put van krag en positiwiteit wat onwerklik is vir vele mense. “Waar kry jy dit vandaan?” sal almal haar vra. Haar antwoord sal altyd kom met ’n glimlag. “As jy nie die liefde het nie het jy niks, Lewe volgens Korintiërs 13 en jy sal altyd gelukkig wees.” By haar het ek geleer liefde is nie net van ’n man aan ’n vrou nie of van jou kinders nie. Dit kan ook kom van ’n warm bed om in te slaap of ’n heerlike sonskyndag of die geluid van die wind wat deur ’n boom se blare fluister.


 

Theresa Postma 

die ontmoeting
vir Rose Masiya

douvoordag tussen mure van kartonkardoes
op die grou straatskouer ingebed
sit sy getrou
sy dra die rafels van elke seisoen
en smous selfgebakte vetkoek en skons

vroeg-vroeg, donker al, het sy die pad gevind
verby die sinkhuise sonder skadu's
deur die oop strate waarin soveel armoede groei
verby die dromvure, die bushalte, die taxi-staanplek
tot hier,
hier waar die maan vir oulaas talm
bo die rookblou swel van stadsgeraas

dit is hier waar ons soms ontmoet,
hier onder die uitgestrekte hande van die plataan
is daar geen illusie van tyd en grens
saam speel ons bal met die bleekwit maan

dit is ook hier waar ek tree vir tree in stilte vra
"Here, seën hierdie vrou met ewige behou,
sý wat onselfsugtige sorg vir haar familie
soos ’n kopdoek dra."


 

Trudie Coetzee

Vir Bibi Slippers

donners geel en slapband
sit jou woorde langs my in die bed
my een hand balanseer ’n sigaret
my lakens steek ’n kat weg
sestig snye pizza later
en ’n hand vol olievlekke
sit ek met ’n mond wat soek
na die regte verhouding woord-
tot-verseël-rangskikking
om jou te peil:

as Antjie
as potplant
as 55kg marshmallow
iets wat pas by die
groot geel blom
in my dagboek
net nie te groot nie
ook nie te geel nie …
ook nie te veel blom nie
(moeilik) want
geel is my gunsteling kleur
en too much of a good thing
pas by jou persoonlikheid
nee, liewer iets wat lyk na jou
kamer op televisie
maar sonder die celebrities
ek sal dalk vir Loftus nooi
maar jy hou nie van namedropping nie
net as dit oor Anne Carson gaan
of dalk Sam Riviere se Sophie …

maar ek is slegs
’n tentatiewe digter
in  ’n semi-furnished pypsteel-flat
sonder ’n funky naam
of ’n fotostaatmasjien


 

Fanus Bothma

O solo mio-nimf (’n versugting vir ’n geliefde)
vir Esther

’n verre verlede lê verskuil
agter haar diep bruin oë:
haar hartseer lag klots
daagliks teen my vas …
sy ken die heimnis van vrou
alleen
wees
’n strandloper-liefde
sonder passie,
’n soekende swerf na êrens …

die branders by blouberg
beur onbevange oor ou voetspore
op ’n vreemd-verlate strand
vol heimnisse van vergane
alleenheid …
van vreemde liefdes
sonder passie,
’n terugspoel van nêrens …

eenkant stap ’n vrou
alleen
doelloos
verlore
oor ’n verre verlede:
saam met ’n strandloper
op ’n vreemde strand!

2000

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top