Vroue wat my inspireer vir Vrouedag 2017: inskrywings 2

  • 0

Let wel: Hierdie kompetisie het reeds gesluit.

Hier verskyn nog inskrywings wat vir die Vroue wat my inspireer skryfkompetisie ontvang is.

Inhoud

Mantie Smith Wendy Anthonie
Aveli Keyser Alma Swart
Susan Tiervlei Sunita Keyser
Sidney Gilroy Amanda Vallero
Tanya du Plessis Michiel Potgieter
Lizette Parker  

 

Mantie Smith

Vroue wat my inspireer

Die twee vroue wat my grootliks inspireer, is nie meer met ons nie; nietemin het hulle my sodanig geïnspireer dat ek nie anders kan as om net ’n klein skerfie van hulle stories te vertel nie. Hulle was my twee oumas  ̶  my ouers se ma’s onderskeidelik – wat baie verskillend was en tog was hulle dieselfde – sterk vrouens wat hulle families versorg, ondersteun en  voorgegaan het.

Ouma Miemie, na wie my suster vernoem is, het die naaste aan ons gewoon en ek het haar baie dikwels gesien. As ek nou na haar foto’s kyk, sien ek dat sy seker nie as ’n skoonheid onthou sal word nie; skraal, regaf lyf, die familieneus, valerige hare. In die Depressiejare, toe my oupa, ’n bouer, werkloos was, het sy haar gesin aan die gang gehou met babaklere wat sy gehekel het; my tant Lenie, die oudste, moes die smouswerk doen – aanklop by mense, die ware verkoop en die paar pennies huis toe bring, terwyl Ouma fluks die volgende baadjie en sokkies hekel. Toe ek so ’n opgeskote dogtertjie was, het Ouma met die hulp van my oom (hy was eintlik háár handlanger, as ek nou terugdink), ’n groot hoenderhok gebou;  sementvloer, stutpale en ogiesdraad vernuftig opgerig en ’n sinkdak bo-op. Binne-in die hok is neste met bakstene ingebou. Toe kom die trein met bokse en bokse vol kuikentjies, waarvoor my mond oopgehang het. Soveel van piepende, woelende bolletjies; ek wou net speel! Sommige outjies het bietjie gehawend aangekom en hulle is hoog bokant die stoof in skoenbokse in flennie toegemaak en vertroetel. Die ICU was Ouma se voorskootsak – teen haar bors het menige kuiken oorleef. Teen Kersfees is die plompe hoenders vanuit die agterplaas verkoop en ek en my nefie het hand bygesit met die weeg terwyl Ouma oor die pryse kibbel. In graad 1 was ek ’n halfuur voor my sussie klaar met die dag se skool en het ek gou-gou oor die pad gehardloop na Ouma se huis om gou ’n broodjie met “Bovverol” te kry. Ek sou nie kon hou tot by die huis nie. Ouma het ook sommerso uit ’n stuk lap, sonder patrone, vir my konsertklere gemaak; ek moes op die tafel staan sodat sy die mousgate kon uitknip en die skewe onderkant kon reguit knip. Ouma is op die rype ouderdom van 85 oorlede. Wat my die meeste geïnspireer het, was haar onwrikbare, standvastige geloof, ysere wil en deursettingsvermoë.

Ouma Martie (my naamgenoot) was beeldskoon; haar pikswart hare was in ’n vlegsel om haar kop gedraai en haar groot, bruin oë was een van haar sterk trekke wat nou nog dwarsdeur die familie-gene loop. Ouma M was as vierjarige in ’n konsentrasiekamp. Ek neem aan dit moes die Irene-kamp gewees het wat die naaste was aan die plaas Donkerhoek wat aan hulle behoort het. Sy het dit oorleef, maar onthou die ontsettende honger. Ek is so spyt dat ek haar nie meer uitgevra het nie. As jongmeisie het sy die jong Dirk Coetzee se hart gesteel. Hulle het getrou en tien kinders gehad – sewe seuns en drie dogters, die een mooier as die ander. Oupa het haar ontval toe hy 52, en die jongste seun twee jaar oud was. Ouma het haar kroos grootgemaak en was vandat ek haar geken het, die onbetwisbare matriarg van die familie. Sy is op 75 oorlede.

Toe my persoonlike lewe ’n paar jaar gelede sleg kantel en ek gedreig om moed te verloor, het ek net vir myself gesê: Opgee is nie ’n opsie nie; jy stam van twee sterk vroue af. Jy is uit goeie hout gesny! 


 

Wendy Anthonie 

Ek is ’n XXX-vrou

11 Augustus: 03h11

Skootrekenaar.

My bed.

Ek was besig om met slaapswaar-oë my baas se toespraak oor Vrouedag af te rond. ’n Vinnige loer op fb en ek lees die LitNet-kompetisie raak.

Twee van die sinne wat ek toe pas klaar getik het, lees soos volg: “Dit is goed om hulde te bring aan al die formidabele vroue in ons landsgeskiedenis, maar ons moet soms stil word om onsself te vier, want agter elke suksesvolle vrou staan JY!”

En dis toe net hier dat ek dink: “Practice what you preach, girl!”

Behalwe my vindingryke ma is die enigste vrou wat my op die oomblik inspireer, die skrywer van hierdie 600 woorde.

Met ’n kroeskop en sproetgesig waaroor ek as kind gespot is, was ek nog maar altyd as die lelike eendjie van vier kinders gesien. My pa, ’n stoere Kapenaar teen wie se bors ek altyd gehuil het, het immer gevra: “Wil djy mooi wies, of wil djy slim wies?”

Ek het slim wees gekies, want ek kon nie esteties kompeteer teen my speelmaats nie. Pa het gehelp deur my te voer met Shakespeare en al wat ’n Engelse digter is. Hy’t my aangemoedig om elke dag ’n nuwe woord te leer sodat, wanneer ’n jaar verby is, ek 365 nuwe woorde geken het.

Ek het kleintyd geleer dat die wêreld jou niks skuld nie en dat die kosmos nie ruikers aandra nie. Jy moet jou eie blomme kweek sodat jy elke dag ’n vars blommeruiker kan hê.

As skoolsekretaresse is ek in 1994 met ’n breingewas gediagnoseer. Post-operatief is ek met ’n skewe glimlag gelaat. Ek is 100% doof in my regteroor, het iets soos 20% gehoor in die oor wat nog werk en sukkel met ’n oog waardeur ek somtyds nie kan sien nie – soos ’n motor met stukkende ruitveërs.

Maar uit elke dwarsklap wat die lewe my al gegee het, het die mooi gedy.

Vandag gee ek steeds nie om oor hoe ek van buite lyk nie. Hy het my ’n tweede kans op die lewe gegee – ’n kans wat ek op die ouderdom van 63 jaar optimaal benut deur elke dag boordensvol te pak. Ek sterf liewers aan slytasie as aan verroesting.

Ek droom steeds groot en daag myself elke dag uit. Deure word in my gesig toegeklap, maar vir een deur wat toeklap gaan daar 100 ander oop.

Ek is geërd om as persoonlike assistent vir die dorp se burgemeester te werk. Ek besit en bestuur die amateurteatergroep, INKkoors nou al vir meer as 21 jaar en het pas die produksie, BLOED op die planke gehad.

Ek is ’n maand gelede aangestel as die munisipaliteit se media-beampte, het pas twee voorstelle by die Suidoosterfees in Kaapstad en ’n voorstel vir ’n televisiereeks ingedien, besig met reëlings vir ’n Wes-Kaapse Premier-geborgde produksie op Oudtshoorn asook ’n besoek aan die Showroom-teater op Prins Albert.

Ek was sedert die geboorte van my 3 kinders ’n X-meisie, maar noudat ek pensioenarisstatus bereik het, het daar twee ekstra X’e bygekom. Ek voel egter vere, want Pa se woorde eggo steeds in my kop.

Ek is liefs koel en loslit in oorgroot kaftans as om myself figuurlike te wurg in baadjies wat te klein is.

Ek voel geïnspireerd deur myself wanneer ek deesdae sukkel om my 63-jarige lyf uit die bed te sleep, maar wanneer ek met ’n lipstiekbekkie voor my spieël staan vra ek nie: “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand” nie. Ek sê sommer self ek is die mooiste EN die sterkste. As ek nie in myself glo nie, gaan niemand anders dit doen nie.

Ek sal altyd my eie XXX-meisie bly! Groot, sterk en soet!


 

Aveli Keyser

Ma

Jy is soos:
jou spens
- altyd oop -

Ek skep uit:
lepels liefde
bekers braafheid
koppies koester
flesse vrede
potte plesier
panne passie

- omgee -

En brou daaruit iets
van jou
in my:

Ek hoor jou, as ek lag
ek sien jou, in my spieël
ek ruik jou, aan my klere
ek voel soos jy voel

En as jou spensdeur eendag sluit
staan ek 
alleen 
in ’n koue kombuis
waar eens die geure
van ’n moeder was 

En as ek jou soek, het ek net
myself
om op terug te val.


 

Alma Swart 

Ouma se silwer randjie

Ek loop saggies in die kamer in en gaan sit op die stoel langs die bed. Die uitgeteerde gryskopvroutjie is nou net ’n skaduwee van weleer. Ek vat die benerige handjie in myne. Met toe oë druk sy my hand saggies.

“Jy ruik lekker,” haar stem is net ’n fluistering, maar die glimlag is onmiskenbaar.

Sy het my grootgemaak. Nie my ma nie, my grootmaak-ma.

Terwyl ek so oor haar haartjies vee, hoor ek in my gedagtes haar helder stem van eers sê: “Elke donker wolk het ’n silwer randjie. Staan net stil en kyk op.”

Op 50 het haar enigste liefde en maat, na sy ewige blyplek gegaan en sy was alleen en onopgelei in enige werk. Ek was tien jaar oud en haar steunpilaar. Een somermiddag sit sy op die stoep en wonder wat van haar en haar kleindogtertjie gaan word. Die smeekstem van ’n man laat haar opkyk. Net betyds om te sien hoe ’n kar wegtrek en hom net daar los. Sy staan op en stap na die verwese man. Hy is swak en baie bleek. Hy is terminaal en sy enigste familie sien nie meer kans sien om na hom te kyk nie.

Sy maak die hek oop en nooi hom in haar huis in. Terwyl hy sy glas koue water op die sagte bank drink, maak sy ’n besluit. Sy sal na hom kyk.

Die woord het gou versprei en die klein drieslaapkamerhuise se vertrekke is almal ten volle gebruik. Sit- en eetkamer was gou ook slaapplek.

Ek het gesien hoe sy nagte omsit saam met mense wat net afgelaai word. Hoe sy hul hande vasgehou het tot hul laaste asem uit is. Sy het hul versorg en gevoer. Die dorpenaars het groente en enkele stukkies vleis gebring. Meestal uit skuldgevoel, het ek altyd gedink. Met genoeg kos vir een mens het sy vir vyf of meer mense gesorg. Niemand het ooit honger gely nie. Haar silwer randjie was altyd haar baken.

Mense het soms net enkele dae maar ook maande lank daar vertoef. Hul laaste rukkie op aarde waar ’n aardse engel hul gereed gemaak het vir die hiernamaals.

Nou het die groot K haar kom haal. Met haar hand in myne.

Sy druk weer my hand en maak haar oë oop. Oë wat eers hemelsblou was, is nou leeg en glaserig.

Ek moet nader gaan om die fluisterwoorde te hoor.

“Kyk tog dat oom Piet eet voordat hy sy pynpilletjie drink. Sy maag is baie sensitief.”

“Nee Ouma, oom Piet is nie meer by die huis nie. Daar is niemand meer nie. Ons het die huis al twee jaar gelde verkoop.”

Ouma maak  haar oë toe vir ’n paar sekondes. Toe sy hulle oopmaak is daar ’n helderheid wat nie flussies daar was nie.

“Spokie, onthou net, los altyd ’n skeppie kos in die potte. As iemand opdaag wat honger is, kan jy net skep.”

Ouma se oë is vir ’n laaste keer toegemaak.

Ek kyk op en deur my trane sien ek die silwer randjie om die donker wolk: Sy het my grootgemaak.

Dit is al 20 jaar gelede.

Selfs vandag is in my potte altyd ’n skeppie kos oor. Ek het altyd iemand om voor om te gee. Die meeste van alles; ek en almal om my is nooit honger nie.

Ouma was my inspirasie om vandag te oorleef. My inspirasie om my kinders groot te maak. My inspirasie om elke dag op te staan en positief te wees.

Die gedagte aan haar is my silwer randjie.


 

Susan Tiervlei 

My ma

Was ’n voortreflike vrou
sy word vir haar standvastigheid onthou
en as sy gebroke was, was sy net tydelik broos
haar kragte eindeloos

My ma was die rots van ons huis
’n raakvatter in die kombuis
sy het baie wilskrag gehad
ons altyd moed ingepraat

Sy het nooit laat ons honger gaan lê
daarvoor het ek altyd vir haar dankie gesê
my ma het ons nooit gefaal
want sy het geweet hoe om ’n haas uit haar hoed te haal

Sy was ’n Godvresende vrou
my altyd met ’n kombers van gebed toegevou
snags as ek haar gesoek het
of as die huis net te stil was
en ek gesien het haar kamerdeur was toe

Dan het ek ingeloer
en daar het sy
op haar knieë voor haar bed gesit en bid vir my
Woensdae het hulle bymekaar gekom by ’n sekere huis
gedoek en gebybel

Daar het hulle
op hulle knieë op die dorsvloer gaan lê 
sodat ons ’n voorspoedige lewe kon hê
sy het haar naaste lief gehad en vertrou
’n deugsame vrou

My ma se lof is ’n oneindige gesang
met ’n dankbare traan op my wang
dit is ’n foltering om haar so te mis
mag haar siel in vrede rus


 

Sidney Gilroy 

My ma het my geleer skryf

Met die donkerte kom sy tuis. In die sinkhuis staan haar sitkamerstel. ’n Trotse ding. Vir twee jaar het sy daaraan afbetaal. As sy die optelgoed en koeldrankblikkies wat sy daarvoor moes aas langs mekaar sou pak, sal dit van hier tot by die stortingsterrein strek.

Die stel is só gedraai dat wie daarop sit na ’n leë muur staar. Sy spaar nog vir die televisiestel. Intussen moet die kartondoos met die rooi fluweellappie daaroor doen.

Sy verstaan nie waarom die mense in die motors soveel bruikbare goeters by hul vensters uitsmyt nie; half-gedrinkte koeldranke, kitskos-sakke met warm morsels, kosblikke se inhoud, ou speelgoed, skoene, tydskrifte, klere. Die lys van goed wat sy in haar trollie laai is armlank.

En briewe. Baie briewe. Sy gooi die geseëlde posstukke by die sak afvalpapier. As hulle dit nie wou lees nie, waarom sal sý so verwaand wil wees? Dié met ’n plastiekvenstertjie ook. Selfs al is hulle al gelees. Wat sy wel oorhou, is die briewe wat met die hand geskryf is. Sy pik hulle gedurende haar vlugtige sifting deur die asblikke, drek en gemors op. Bukkend prop sy die briewe tussen haar boesem in om later hulle hier te kom bêre.

Sy sug as sy langs die kartondoos kniel. Sy was lank op haar voete vandag. Met sorg vou sy die fluweellappie eenkant voordat sy die kartondoos oopvou.

Vandag se vonds was min: twee gebleikte papiervelle met stokkerige letters in blou ink. Dit kan ’n kind se skryfwerk wees. Onderaan is skoenlappers en hartjies geteken. Die ander is ’n nota op ’n perfekte vierkantige kaartjie. Sierlike letters krul in dik, swart ink daaroor. Wat sou dit tog sê?

Agterop is letters en syfers gedruk.

Sy ruik daaraan. Beslis parfuum.

Sy probeer die naam onder die sinne ontsyfer deur met haar wysvinger die rondings van die skrywer se pen na te aap.

A-N-N-E-L...

Agter haar raas die deur in die voorste vertrek. Sy vou die papier vinnig onder die fluweel weg; skuif die kartondoos tot op sy plek.

Sleepvoet kom hy nader.

“Wat eet ons?” Lui soek sy oë deur die skemer in die vertrek. Hy vryf oor sy voorkop, die waas van drank en wat hy gerook het hang oor sy gelaat en sy skouers ook.

“Ek het bone en marog gekook.”

Sy steek ’n kers op voordat sy vir die tweeplaatstoof mik.

 Haar hart klop tot onder haar tong as sy vir die voordeurklokkie strek. Sy is laat. Daar is moeilikheid met die busbestuurders.

Fronsend maak die huisvrou die voordeur oop. Haar baas is omgekrap. Sy bemeester ’n glimlag.

“Dit gebeur elke Dinsdag,” jak sy haar af voordat sy van haar wegdraai.

Binnekant wag chaos haar in. Sy stof af, ruil doeke, tel agter die kleuter op, deel bevele aan die tuinjong uit.  Sy poets die silwerware, was die vensters en die vloere en die klere en helaas, sorg sy dat kos op die stoof prut teen die tyd wat die skoolbus voor die ellelange grasperk stilhou.

Sy kan haar opgewondenheid nie beteuel nie.

As die kleuter slaap en die huisvrou winkels toe verdwyn, neem sy haar kans waar.

Sy klop aan die tiener se kamerdeur. Deur die mure pomp musiek. Dit word meteens stil.

“Kom in!” nooi sy haar.

Binnekant is die vertrek deur die middagson warm gebak. Skoolboeke, klere, penne en skoene lê rondgestrooi. Sy kry sitplek op die mat. Die tiener het alreeds die boek oopgevou.

“Ons leer vandag van klinkers. Is jy reg?” vra sy met ’n glimlag.

Sy kyk opgewonde vir die tydskrif. Dinsdae is haar gunsteling dag.


 

Amanda Vallero 

’n Huldeblyk aan my ma

Heila, my ma, is die vrou wat my die meeste inspireer. Sy was die oudste van ses kinders en was ’n klein dogtertjie toe haar pa weg is Europa toe om in die oorlog te veg sonder om twee keer te dink aan sy vrou en kinders. Haar ouers is geskei toe sy nog bitter jonk was en die kinders is in pleegsorg geplaas. My ma is na haar peetouers gestuur en die res was versprei in kinderhuise en landbouskole.

Sy het ’n goeie lewe gehad as jong meisie en was in ’n privaatskool. Desnieteenstaande, het sy elke dag skuldig gevoel dat haar broers en susters nie so gelukkig is nie. Na haar skoolopleiding het sy ’n goeie werk gekry en het in die tyd vir haar twee susters, wat toe nog in die kinderhuis was, gesorg.

Sy is later getroud met my pa en hulle huwelik was, om die minste te sê, stormagtig. Sy het te midde van die argumente en rusies, haar twee susters, wat in die kinderhuis was, onder haar dak geneem en vir hulle gesorg tot hulle selfversorgend was. My suster en ek is gebore en dit was finansieel swaar, maar my ma het besluit om vir my en my suster die beste te gee wat sy kon. Ons het tuisgemaakte klere gedra maar dit was keurig en smaakvol. Sy het ons etiket geleer en 'n liefde vir die fynere kunste.

Ons het nooit ’n tweede voertuig gehad nie en moes op munisipale vervoer staat maak. Ek moet  noem dat sy elke dag ten minste vier kilometer werk toe moes stap. Ek kan nie onthou dat my ma ooit gekla het oor die wind en weer nie.

Ten spyte van ons armoede en die feit dat my pa skofte gewerk het, het my ma ons weekliks na die biblioteek geneem om boeke uit te neem aangesien sy geglo het dat jy intellektueel sal ontwikkel.

Sy het my en my suster twee maal per week na klasse gestuur het om meer liefde vir die kunste aan te leer. Ons weet vandag dat dit ’n ekstra finansiële las op haar geplaas het. Na werk saans, het sy die bus geneem om ons by die kunsklasse te kom haal.

Ten spyte van haar swaarkry onder ’n man wat buierig was, het sy altyd gelag en ons geleer hoe om die humor in die lewe raak te sien en die negatiewe met positiewe denke te vervang.

Na my pa se dood, het sy steeds bly werk en het op die rype ouderdom van 75 afgetree. Sy het steeds, ten spyte van erge osteoporose, die bus daagliks geneem om vir oud-kollegas of vriende te gaan kuier oor ’n koppie tee. Tot die dag van haar dood in 2008 was sy steeds geliefd en bemind onder alle rasse, van die straatverkoper tot die busbestuurder. Ons het daagliks besef dat die Here sy engele gestuur het om my te bewaar wanneer my ma die stad in is.

My ma het ons geleer om mededeelsaam te wees en almal met respek te behandel. Sy het ons ook geleer dat materiële goed nie saak maak nie maar wel naasteliefde en om nooit mense te etiketteer nie. Haar filosofie was altyd dat jy nooit aan ander moet doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

Haar nimmereindigende glimlag, haar nederigheid en haar wyse woorde sal ons altyd bybly.


 

Tanya du Plessis 

Vroue wat inspireer is om ons

Elke vrou het iemand na wie sy opkyk, ’n rolmodel van soort. Van kleins af word ons gedruk om iemand anders se spore te volg om die perfekte vrou te wees. As jong meisie is die rolmodel meestal Barbie, wie wil nou nie soos Barbie wees nie? Lank, maer, blou kykers en blonde hare met so ’n mooi lyfie. Sonder waarskuwing verander belangstelling en saam met die veranderinge kom nuwe rolmodelle. Dit is hier waar elke meisie in ’n ander rigting gaan. Die rolmodelle wissel van bekende vroue soos Angelina Jolie tot skrywers soos JK Rowling. Vir my was daar ander vrouens wat meer vleis om die bene het.

Vrouens wat vir my uitstaan is Sophia Ambroso, Margaret Thatcher en Angela Merkel, daar is ook fiksie-karakters soos Diana Prince (Wonder Woman), Lois Lane en Rose Hathaway (Vampire Academy-reeks van Richelle Mead).

Sodra ek begin kyk na merkwaardige vroue in my lewe kom my gedagtes altyd terug na dieselfde drie toe  ̶  my ma, my ouma en my verloofde se ma. Die drie vrouens is taai, hul is van Afrika se grond gemaak. Die Afrika-grond oorleef die ergste hitte in die somer en die koudste temperature in die winter, tog deur al die jare heen bly die grond vrugbaar en lewe spruit voort daaruit.

Om die titel te werf as inspirerende vrou dink almal daar is ’n paar vereistes waaraan daar voldoen moet word. Vir my is die een vereiste om jouself te wees ten spyte van wat almal van jou dink. My ma het alles opgeoffer vir my en my broer sodat ons vandag kan wees waar ons is, niks was ooit te veel moeite vir haar nie. Sy was daar met elke groot oomblik van my lewe; eerste dag van skool, Matriekafskeid, ontvang van bestuurslisensie, gradeplegtigheid, vakke gedop op skool, verhoudings wat gebreek is en vele onsuksesvolle werksonderhoude. Sy het my gevorm tot die vrou wat ek vandag is ten duurste pryse ooit; haar tyd.

My ouma sien ek as ’n inspirerende vrou, omdat sy een vol lewe gehad het en net nooit opgegee het nie. Hoeveel vrouens sal met hul niggie se man trou, na haar dood, en die niggie se kind grootmaak as haar eie? Behalwe vir die kind wat sy geneem het, het sy nog twee van haar eie gehad en het voldag gewerk. Jare na die eerste man se dood het die skoolliefde haar weer gevind en hul is getroud. Hy het sy lewe gelei sonder haar en het self kinders van sy eie. My ouma het nie haar hart toegemaak omdat daar reeds so baie mense was nie. Inteendeel het sy haar hart net oopgemaak vir nog mense en so haar lewe meer kleur gegee. Vandag in haar sewentigs gaan sy sterk aan en wys wat vrou-wees beteken as ’n senior.

Die laaste vrou wie die titel van inspirerende vrou verdien, is my verloofde se ma. Die auntie is van harde Afrika-grond gemaak. Niks kry haar onder nie, alles kan teen haar tel en steeds kom sy as oorwinnaar uit. Haar man het haar gelos met twee kinders, in die oudste se matriekjaar. Sy het die lewe in die oë gekyk en haar alles gegee as enkelma. Daar was nooit tekort aan iets en daar is net liefde by haar.

Vir my is elke vrou wat oor my pad kom ’n inspirerende vrou, elke vrou het iets in haar wat haar dryf. Die vrou is ’n komplekse wese. Sy is ’n vegter, cheerleader, dokter, vriendin, kok, chauffeur, mode-ontwerper en leermeester vir haar welpies.


 

Michiel Potgieter 

Oumagrootjie

Dit het  meer as ’n eeu gelede begin toe Grootjie Wynand  ’n vrou vir Blinkwater begin soek het. Die Anglo-Boereoorlog was pas verby toe die jonge Wynand, gewapen met ’n brief van sy pa, by die huis van die Fichardts in  Bloemfontein opgedaag het. Alle kragte het saamgespan die oomblik toe Wynand vir Victoria Shelley op daardie stoep sien staan het.

Vir so ’n ervaring bestaan geen eenvoudige verklaring nie. Een oomblik was hy nog stewig op sy boerebene, gereed om die volgende tree te gee, net om oomblikke daarna te besef  dat die been waarop hy al vier-en-twintig jaar staatmaak sonder waarskuwing onder hom geswik het.

Victoria het langs die houtreëling van die stoep gestaan. Sy het ’n koningsblou rok aangehad. Haar hare was koringblond soos syne en agter haar kop vasgemaak. Hulle het woordeloos na mekaar gekyk. Die meisie van ver anderkant die water, wat vir Miss Hobhouse kom help het om spin- en weefskole op die been te kry. Hy, die boerseun, wat wou vrou vat.

Gebeur so iets net in een se hart, kan dit van verbygaande aard wees. Vir hulle slaan dit op daardie oomblik, in een kyk, gelyk en sonder genade. Moenie glo dat sy soos ’n ryp perske in sy skoot geval het nie. Allermins. Sy’t die kuns verstaan om afgetrokke te speel. Geweet hoe mens maak om ’n jongman se aandag te hou. Sy kon dit bekostig. Want in daardie eerste oogopslag het sy mos klaar geweet hoe die wind waai.

Dis hy! Boer of te nie. Onlangs nog die “vyand”, maar gelaai met al die onbeskryfbare begeerlikhede wat wonderwerke in haar hart ontketen het. Stewige raamwerk wat sy klere nie vir haar kon wegsteek nie. Hande wat mens onnadenkend stewig sou kon vashou, maar wat tegelyk ook teer en toeganklik sou wees vir ’n vrou soos sy.

Met die eerste oogopslag het hy eers haar hande, toe haar oë en later haar ken raakgesien. Haar oë wat kon lag, wat kon terg. Sy was seker van haarself. Uit haar houding kon hy aflei dat haar bene meer as skaflik sou wees. ’n Begaafde meisiekind, wat musiek kon maak asof sy besig is om die engele te begelei. Dit was liefde, soos die liewe Heer se bedoeling voor die sondeval was.

So begin ’n twee jaar lange vriendskap met volop raad van beide kante. Moenie oorhaastig wees nie! Die opofferinge was groot. Die skeiding pynlik en by tye ondraaglik, maar selfs die tyd het nie met hulle twee raad geweet nie. ’n Boer wat weet van teel en sulke goed, hoort mos te weet dat mens nie sommer bloedlyne bymekaar jaag nie. Wat van die kinders? Wat van die Kerk? Watter taal gaan hulle praat? Hoe gaan julle hulle grootmaak?

Nieteenstaande al die verdoemings en swartgallige voorspellings, het Victoria twee keer kom kuier en hy het eenmaal gegaan. Dit was genoeg. Haar familie kon haar vasbeslotenheid begryp. Kwaliteit kan nie deur verskille of kultuur toegesmeer of afgewater word nie.

Deur haar betrokkenheid by die weefskool het sy baie van die boere se aard en karakter leer ken en verstaan. Sy het brokkies taal opgetel en haar verkneukel daarin om krapperige g’s agter in haar keel te vorm.

Feit is, sy was hier.

Niemand het haar gevra om na dié land te kom nie. Daar was geen dwang van iemand by nie. Dit was omgee en besorgdheid wat opreg van binne gekom het. Dit was deel van die stamboom wat sy by die Jouberts kom voeg het.

Dankie Oumagrootjie! Ek bewonder jou en sien hoe dié gene in my kleinkinders uitslaan.


 

Lizette Parker 

Agnes, my huishulp

Vir 13 jaar was sy die steunpilaar vir my en my kinders in ’n tyd wat ons eerder wil afskryf. Wanneer ek terugdink, sien ek hoe hierdie wonderlike vrou die ongevraagde verantwoordelikheid op haarself neem om ons nes met sagte vere uit te lê. 

Gedompel in ’n onverwagse, venynige en uitgerekte egskeiding wat vir vyf jaar gesloer het, is my en my drie jong kinders se lewens onherroeplik verander. Die impak van egskeiding word erg onderskat, het ek toe besef. Ten minste is daar afsluiting as jou eggenoot sterf, want mense simpatiseer en bring blomme en kos ... Maar, saam met die stigma van ’n  egskeiding, word jou rou en seer nie so maklik deur die samelewing erken nie.

Vandag kan ek met groot dankbaarheid sê dat ons dit oorleef het en sterk staan. Agnes se liefde was die groot salf saam met die pleisters van geliefdes. Net sy was naby genoeg aan ons om ons verlies te verstaan. Met haar gunsteling trooswoorde van “daai Oupa (God) slaap nie”, het sy my gedra. Sy het ons vriende gefynkam met eenvoudige karakteranalises wat met die tyd bewys het dat sy raak was: “sy is hoog” (vir ’n snob) of “stadige gif” (vir ’n gevaarlike mens) of “nie ons soort nie” (vir die wat nie inpas nie).

Die hartseer van my ma se ontydige dood in hierdie tyd was gebuffer deur hierdie moeder- en oumafiguur. Die vertroue wat ek in my medemens verloor het weens die egskeiding, kon sy weer opbou deur haar ongesproke begrip vir my diepste hartsgeheime en vrese.

My kinders se verjaarsdae was sinoniem met Agnes se vetkoek en maalvleis. Hoe kosbaar is die prentjie van haar en haar man, Oupa Robert, tussen al die jongmense op hulle partytjies! Hoe ’n lafenis vir die siel was haar saggekookte beesvleis, soet pampoen, opgekookte groenboontjies met stukkies aartappels en ui nie op ’n koue wintersaand nie? 

Saam het ons my kinders gedissiplineer en geprys, hulle suksesse gevier, mekaar getroos as hulle opmors en saam uitgevind hoe vermoënd dit is wanneer tienerseuns deur die partytiestadium gaan. (Eers later uitgevind dat sy my tienerseuns teen baie moeilikheid beskerm het deur nie vir my te vertel wat hulle agter my rug aangevang het nie!) In die afwesigheid van ’n pa, was sy die ander ouer.

Saam kon ons filosofeer en politiek praat en saam kon ons heerlik lag vir mekaar. Ek, die wit Afrikaanse vrou van die Boland en sy die swart Sotho-vrou van die Vrystaat. Ek, met ’n Meestersgraad en sy met Standerd 4. Ek, wat my ambisie om te studeer kon vervul - sy, wat dit moes opgee oor ’n gebrek aan geld en geleentheid. Ek moes later uitvind dat sy jare gelede dieselfde paadjie as ek geloop het - ook met drie jong kinders. In hierdie aflosresies kon sy vir my die stokkie aangee met dit wat sy geleer het.

Daar is nie genoeg woorde om hierdie vrou te salueer nie. Dus hou ek en my 16-jarige seun mekaar vanaand styf vas en is ons ontroosbaar oor hierdie groot verlies. Tussen die trane, wens ek met my hele hart dat sy haar aftreejare saam met Oupa Robert in Venda gaan geniet. Mag sy omring word met die oorvloed wat sy in ons lewens so onvoorwaardelik gegee het.

Twee jaar later daag sy en Oupa Robert hier op, onderweg na die Vrystaat, met arms vol groente uit haar groentetuin in Venda. Ek sê steeds dankie vir hierdie vreemdeling wat 13 jaar gelede in ons lewens ingestap het:  “Ek wil ook daai stokkie in die aflosresies aangee, liewe Agnes!”


 

Sunita Keyser 

ek staar na die handboek
sien die spysverteringskanaal van mond tot anus
die dikderm wat reghoekig om die dunderm span
die werwelkolom en lewegewende senuwees
laaste periode biologie
wat is in die vliet van ’n jong mens se gedagte
bekommernis oor die eksamen
’n droom oor die toekoms
ek hoor ’n ambulans
dit was toe my ma
’n vragmotor het voor haar ingedraai
haar motor het gerol
ander onthou daardie jaar omdat dit gesneeu het
die swart teerstrate was wit
mense het mekaar met sneeuballe gegooi
en nie werk toe gegaan nie
op die voorblad van die koerant
was ’n sneeuman met ’n wortel vir ’n neus
ek het my ma se bleek hand houvas
gekyk hoe haar urine in ’n plastieksak drup
en haar trane oor die kussing loop
die ortopeed het geopereer
my ma se rugmurg met ’n lepeltjie geskep
by die huis was ’n gedruis van stemme
sy sal nooit weer kan loop nie
in die hospitaal het hulle haar lang swart vlegsel afgesny
dat net happe en ’n sliert oorbly
want sy moes vir lank baie lank
net doodstil lê
en van toe af het net die hondjie my kom groet
as ek van die skool af kom
baie aande het ek skoolkind
wat nie kos kon kook
vir my pa net boeliebief en klitseier gemaak om te eet
maar hy het nooit ’n woord gekla
maande later op ’n blye dag
het my ma met wiele onder haar
en struikelblokke voor haar
huis toe gekom
alles is te hoog
en rystoelwiele kan nie trappe klim
bed op en bed af
stoel op en stoel af moet iemand help
rooi brandstrepies op haar arms
om sywaarts op die stoof te kook
soms met naaldwerk steek
verlore spelde in haar been
ag ek voel tog niks lag sy dan
soms droom sy van tennis
word dan wakker wreed
met bene wat nie kan
troos sy dan haarself ag toemaar
ek het buitendien so vrot gespeel
op ’n keer toe sy buite
die tuinslang sleep
sak die klein wiel die sagte aarde in
en tuimel sy vooroor
maar al moet sy daagliks ly
is ek net heeltyd bly
oor die koester van haar sagte arm
die warmte van haar gees om my
want die huis was vir lank onmeetbaar
so bedroef en vreeslik leeg
en eindelik word sy die ankerplek
die kragtigheid en toeverlaat van
elke ander met wie haar paaie kruis
op vrouedag veral en elke ander dag
wil ek eer betoon aan
vroue wat op wiele leef
rystoelvroue

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top