Vroue en dubbele standaarde in 2018

  • 1

The more things change, the more they stay the same.

Die afgelope week was daar die Equal Pay Day, wat ten doel het om bewusmaking te skep rondom die ongelykhede wat daar in salarisse bestaan. Ek vermoed dat die meeste Suid-Afrikaners salig onbewus was daarvan.

Dis al keer op keer bewys dat vir dieselfde werk, met dieselfde verpligtinge en dieselfde verantwoordelikhede, met identiese werksomskrywings, mans steeds meer betaal word as vroue. Boonop word wit vroue meer betaal as swart vroue vir dieselfde werk. Interessant genoeg word, volgens Amerikaanse navorsing, vroue van Asiatiese oorsprong meer betaal as enige ander groep behalwe wit mans.

Terselfdertyd het vroue van alle rasse met die sogenaamde glasplafon te kampe. Gewoonlik word vroue se biologiese funksie blameer daarvoor dat hulle nie tot sekere poste bevorder word nie. “Ons kan nie bekostig om iemand in die pos aan te stel wat dalk met kraamverlof moet gaan nie. Ons kan nie bekostig om iemand in daardie posisie vir x aantal maande te verloor nie.” Dis nou ongeag of die vrou belangstel in moederskap of dalk selfs in staat is daartoe, om watter rede ook al.

Hierdie week is daar groot gewag gemaak van die eerste Amerikaanse senator in die geskiedenis van Amerikaanse politiek wat geboorte geskenk het terwyl sy ’n ampsdraer is.

Selfs die Suid-Afrikaanse regerende party, met al hulle beloftes van gelykheid oor alle grense heen, het nie genoeg vroue in senior poste aangestel nie. Ditto die DA, wat vir die oomblik nog die hoofopposisieparty is. Daar is nog steeds ’n dubbele standaard, waar dit op vele subtiele maniere duidelik gemaak word dat daar aan vroue se werk nie dieselfde waarde geheg word as aan manlike arbeid nie. Daar is die verwagting dat die belangrikste werk wat ’n vrou kan doen, binne die vier mure van haar huis moet wees.

Nêrens is die dubbele standaard duideliker as wanneer ’n vrou ’n magsposisie beklee nie. Dit was opvallend met die lofliedere wat Winnie Madikizela-Mandela toegesing is na haar sterfte. Daar is heelwat gewag gemaak van haar “kompleksiteit”. Watse kompleksiteit? Sy was Winnie Mandela, nie net mevrou Nelson Mandela nie. Sy was ’n persoon uit eie reg, gedefinieer deur haar eie bekwaamhede en nie net haar keuse van ’n eggenoot nie. Sy was wel iemand se vrou en ma, maar sy was soveel meer. Elke lofbetuiging het veel gewag gemaak van die feit dat sy weggestuur was van haar kinders. Hoeveel van die persone wat dit omtrent haar gesê het, het dieselfde omtrent Nelson Mandela gesê? Hy was immers ook weggestuur van sy kinders af. Maar sien, dis die dubbele standaard. As ’n man dinge doen wat hom van sy gesin verwyder, is hy beginselvas en ’n held. Dis nou as die feit dat hy van sy kinders verwyder was, selfs genoem en erken word. As ’n vrou dit doen, is sy op een of ander manier defektief – want ’n vrou se plek is mos primêr “barefoot and pregnant in the kitchen”.

Uit die huldeblyke wat ingestroom het, het dit gelyk asof Winnie kompleks is omdat sy ambisieus was, die gewapende stryd ondersteun het, baie meer uitgesproke en polities aktief was as die meeste ander vroue in die ANC én ’n ma en vrou was. Asof dit wedersyds uitsluitende eienskappe is. Daar was gewag gemaak van haar seksuele aktiwiteite en haar drankgebruik. Die meeste mans vergryp hulle veel erger, en nie ’n haan kraai daarna nie.

Winnie het, soos die meeste vroue in magsposisies, geweier om aan die stereotipe van madonna of hoer te voldoen. Dit was waarskynlik die “sonde” waarvoor sy die meeste verkwalik word.

Vroue in magsposisies word ook veel feller gekritiseer as hul manlike eweknieë wanneer hulle mag uitoefen. Toe Helen Zille meer mans as vroue rondom haar aangestel het, was daar oproer. Tog het haar manlike voorgangers dit almal gedoen en dit was aanvaar as normaal, “the price of doing business”.

Hillary Clinton is in haar presidensiële veldtog aangeval vir optrede wat as normaal van mans in die veld aanvaar word. Patricia de Lille doen op die oomblik ’n delikate eierdans in die Kaap, waarskynlik om dieselfde redes, met ras daartoe bygevoeg.

In die res van die wêreld begin vroue stadig maar seker hul regmatige plek inneem. Ysland het so pas ’n vroulike premier gekies. In die meeste Skandinawiese lande is oor die algemeen meer gelykheid tussen mans en vroue.

Angela Merckel van Duitsland word algemeen beskou as die leier van die Vrye Wêreld, nadat daar ’n vakature ontstaan het met die Amerikaanse verkiesing van 2017. Sy is egter die uitsondering wat die bestaan van die reël bevestig.

Hier by ons het ook ’n vakature ontstaan. Mother of the Nation. Groot skoene om te vul. Maar het ons regtig ’n ma nodig, asof ons klein kindertjies is, of het ons ’n gelyke vennoot nodig? Miskien het dit tyd geword dat ons eens en vir altyd van die dubbele standaard ontslae raak en vroue begin sien as feilbare mense, warts and all.

Miskien sal ons dan minder “komplekse” vroue sien, en meer volwaardige mense.

  • 1

Kommentaar

  • Kolskoot. Hierdie gesprek is een van die belangrikste eggo's na haar dood. Die ander val ook onder "kompleks", maar van 'n ander aard: hoe handig haar (manlike) kollegas in die ANC die vorige regering se disinformasie-leuens oor haar gevind het en dit so stilletjies aangemoedig het. Kulturele chauvinisme en politieke konkelry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top