"Vrees het nie 'n kleur nie": Sophia Kapp se toespraak op die Kaapse Vlakte

  • 1

 

Die skrywer Sophia Kapp het op 29 Augustus 2013 in Valhalla Park, ’n arm gemeenskap op die Kaapse Vlakte, ’n pleidooi gelewer vir vroue om hul regte op te eis. Sy het statistiek van die Wêreldgesondheidsorganisasie aangehaal wat getoon het dat een uit elke twee vroue in Suid-Afrika aangerand of seksueel misbruik sal word gedurende haar leeftyd. Sy deel haar toespraak by die geleentheid met LitNet se lesers.

28 Augustus 2013: Valhalla Park

Ons leef in ’n land waar daar elke dag verskriklike goed gebeur. Ons hoor daarvan, ons lees dit in die koerante, ons sien dit voor ons oë gebeur. Hier anderkant in Manenberg skiet hulle mekaar helder oordag dood. Dis gruwelik en ontstellend en as ek die vrees in die kinders se oë sien, wil ek huil.

Maar daar is twee goed wat hierdie jaar gebeur het wat my meer ontstel het as al die ander. Die eerste is Reeva Steenkamp se dood. Die ander was Anene Booysen se dood.

Julle onthou hulle, nè? Reeva was Oscar Pistorius se meisie. En as jy alles wat sy was en gehad het op papier neerskryf, sou jy sê sy het amper ’n ideale lewe gehad. Sy was soos ’n heldin in ’n storieboek: sy was so mooi, sy was ’n model. Sy het ’n loopbaan gehad en genoeg geld verdien om vir haar ouers te sorg. Sy was slim: sy het ’n graad in die regte gehad. Sy het ouers gehad wat vir haar baie lief was. Toe sy Johannesburg toe getrek het, het vriende van haar ouers haar opgepas – sy het selfs weg van die huis af mense gehad wat vir haar lief was. Sy was nie ’n weggooimens nie.

Anene se lewe was amper presies die teenoorgestelde. Sy was nog op skool, sy was arm, sy het nie ouers gehad nie. Die mense wat haar moes oppas, het dit nie baie goed gedoen nie. En sy was ’n gewone meisiekind, met ’n gewone glimlag.

So kry ons die pragtige, wit, bevoorregte meisie aan die een kant, en die gewone, bruin, arm kind aan die ander. Soos ek gesê het: teenoorgesteldes.

Of so lyk dit. Want eintlik, ten diepste, was hierdie twee meisies susters: hulle is al twee doodgemaak - al was hulle elkeen op ’n plek waar hulle veilig moes gevoel het. En in daardie laaste, verskriklike oomblikke net voor hulle dood is, het Reeva en Anene presies dieselfde ding ervaar: vrees.

Daardie vrees het nie ’n kleur nie. Dis nie swart vrees of bruin vrees of wit vrees nie. Dis net vrees. En dis net vroue wat dit ken en dit verstaan.

Daar is niks wat jou daarteen beskerm nie – nie jou velkleur nie, nie jou ouers nie, nie jou geleerdheid nie en nie hoe jy lyk nie. As jy ’n vrou is, is jy daaraan uitgelewer, nes al jou susters regoor Suid-Afrika. Regoor die wêreld.

Daar is ’n internasionale organisasie wat die welstand van mense monitor. Dit staan bekend as die World Health Organisation (Wêreldgesondheidsorganisasie). Hulle het ’n studie onderneem oor geweld teen vroue. Die studie het baie dinge uitgewys, maar drie kwessies het my opgeval:

 

  • Die eerste: Meer as die helfte van Suid-Afrika se vroue was al slagoffers van fisieke of seksuele geweld. Dink mooi oor wat dit beteken. Dit beteken die helfte van die vroue wat vanoggend hier is, die helfte van alle vroue wat jy ken, was slagoffers van geweld. Dit beteken meer as die helfte van al die dogters wat ons grootmaak, gaan slagoffers van geweld word.
     
  • Hier is die tweede ding wat ek raakgelees het wat my ontstel het: "Men who committed violence against women probably grew up in households where the same happened." Wat beteken dit? As jy nou in ’n huis bly waar jy aangerand word, gaan jou seun eendag dieselfde met sy vrou doen?
     
  • Die derde feit uit die verslag wat my opgeval het, was dat die helfte van alle vroue wat vermoor word, deur hulle "intimate partners" vermoor word.

 

Ek wil hê jy moet mooi dink vandag oor die lewe wat jy leef, oor wat jy bereid is om te aanvaar en wat jy vir jou kinders leer wat oukei is. Ek wil vir jou vra: Wat maak jy met jou regte? Ek weet dis nie maklik om jou voet neer te sit en uit ’n aaklige situasie weg te loop nie. Ek weet, want ek was daar. Ek weet wat dit kos. Ek weet hoeveel keer ’n mens probeer en hoeveel keer jy teruggaan omdat jy dink jy het nie ’n keuse nie of omdat jy dink jy is ’n mislukking as jy loop.

Jy is nié.

Jy sien, liefde is nie ’n voorreg nie. Dis ook nie jou reg nie. Vir vroue is liefde ’n opdrag. Dis ’n taak. En dis waarskynlik die moeilikste taak wat enigiemand in hierdie wêreld gekry het.

Het jy al ooit opgelet hoe maklik dit is om te haat? Om verdeeldheid te saai? Om mense uitmekaar te dryf? Om ander mense te verag en te verstoot net omdat hulle nie soos jy lyk of dink of optree nie? Dis maklik om, soos hier in Manenberg, op mekaar te skiet en mense bang te maak. Enigeen kan dit doen.

Dis nie enigeen wat in so ’n situasie kan woon en werk en nog in die liefde kan glo nie. Dis net ’n vrou wat dit kan regkry. As ons as vroue nie vir die wêreld leer wat liefde is nie, gaan niemand weet hoe dit lyk nie. As jy nie vir jou kinders leer hoe lyk liefde nie, ware, opregte liefde wat opbou en nie afbreek nie, gaan hulle nie weet wat dit is nie. As jy nie die haat en geweld en vrees beëindig nie, gaan dit nooit einde kry nie.

Daar is baie mense wat al vir my gesê het die boeke wat ek skryf, is minderwaardig want dit is "maar net" liefdesverhale. Dis nie die soort stories wat professore op universiteit voorskryf nie. Koerante skryf nie resensies oor my werk nie. My boeke is nie slim en geleerd en grênd nie en ek is nie ’n belangrike skrywer nie.

Wel, ek is nie grênd nie en ek wou dit nog nooit gewees het nie. Dit was van die eerste dag wat ek begin skryf het vir my belangriker om vir my susters te skryf wat moed nodig het as die lewe en mans hulle wil platdruk. Ek wil vir my susters sê: julle is nie alleen nie. Moenie moedeloos word nie en moenie ophou glo in die liefde nie. Dis die enigste ding wat hierdie wêreld mooi hou, en die enigste een wat dit kan gee, is jy.

Die personeel by Valhalla Park het my hiernatoe genooi, want dis Vrouemaand. Dis die maand waarin ons die dapper vroue herdenk wat in Augustus 1956 na die Uniegebou in Pretoria toe gemarsjeer het om vir JG Strijdom te gaan sê die dompas-stelsel is ’n gruwel. Dis vroue wat ná jare se aftakeling en vernedering self hulle boeie afgebreek het en dit voor hulle mishandelaars gaan neersit het. Hulle het daardie dag hulle regte opgeneem en gesê: tot hier toe en nie verder nie.

Ek salueer daardie vroue vandag. Hulle was heldinne, elkeen van hulle. Nie omdat hulle nie bang was nie – ek is seker hulle was bang. Hulle het nie geweet wat met hulle gaan gebeur nie. Dit was heeltemal moontlik dat hulle aangerand kon word. Dis moontlik dat hulle geskiet kon word. Hulle kon dalk hulle werk verloor, of selfs hulle kinders, omdat hulle ’n wet oortree het. Maar hulle het, ten spyte van hulle vrees, die regte ding gedoen.

En omdat hulle bereid was om dit te doen, het ons vandag regte wat ons nie andersins sou gehad het nie: die reg op respek, die reg op menswaardigheid, die reg om te kies watter soort lewe ons wil leef. Moenie hierdie vroue se opoffering minderwaardig maak deur te glo jy verdien dit nie. Jy is daarop geregtig. Vat dit vir jou. Want jy is dit werd.

Kyk na foto's van die geleentheid waar hierdie toespraak gelewer is.

  • 1

Kommentaar

  • MARLIZE HOBBS

    Ek is so beïndruk deur hierdie gesprek wat Sophia met die mense van Valhallapark gehad het.  Ek salueer dan vir Sophia, vir haar innerlike krag en haar vermoë om in liefde te glo en in liefde te leef.  Dit is baie waar: vrees het nie 'n kleur nie, vrees vra nie wie jy is of waar jy vandaan kom nie. Wanneer jy in daardie oomblik van geweld staan, is jy bloot bang ... tot die dag dat jy besluit: genoeg is genoeg.  Baie dankie Sophia vir jou toespraak!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top