Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge: ’n lesersindruk

  • 2

Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge
Niël Barnard, met Tobie Wiese
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624079743

Barend van der Merwe

’n Boek opgedra aan staatsamptenare? Dit is dan mos my tipe boek! Vreedsame revolusie dien as ’n opvolg vir Geheime revolusie, wat in 2015 verskyn het, en wat fokus op Barnard se werk by Nasionale Intelligensie, spesifiek die eerste ontmoetings tussen die apartheidsregering en die leiers van die African National Congress. In Vreedsame revolusie verskuif die fokus na die tydperk ná die ontbanning van die vryheidsbewegings in 1990, toe die veelparty-onderhandelinge plaasgevind het. Dit was ’n epogmakende tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis, waaroor daar al heelwat publikasies verskyn het, en baie sal ook nog geskryf word, maar met Vreedsame revolusie kry mens die perspektief van iemand wat self baie na aan die gebeure was.

Barnard gee uit die staanspoor die eer vir die eerste tree na onderhandelinge aan die voormalige staatspresident PW Botha (1916–2006), vir wie hy min kritiek in sy boeke openbaar, gemeet aan sommige van die ander leiers van die Nasionale Party, wat gereeld oor die kole gehaal word. Volgens Barnard bestaan daar geen bloudruk vir onderhandelinge nie, en is die stelsels wat in Suid-Afrika ontwikkel is, uniek. Hoewel die boek se titel Vreedsame revolusie is, gee hy op bl 57 toe dat die oorgang van ’n minderheidsregering na demokrasie eintlik maar baie gewelddadig was. Vir Nelson Mandela (1918–2013) word die heuningkwas soms uitgehaal, maar Mandela was ook soms “onverantwoordelik” (59) deur die regering met die Nazi’s te vergelyk.

Soos wat die onderhandelinge voortgesleep het, het die Nasionale Party egter al meer en meer gesag en legitimiteit verloor. En die regering se onderhandelaars is dikwels ore aangesit: “In die vertroulike gesprekke en bedinging in die werkgroepe het die regering se standpunte meermale geseëvier; in die ‘openbare onderhandelinge’ selde” (76).

Volgens Barnard was amnestie een van die sake wat die swakste hanteer is, om van taal nie te praat nie. Afrikaans was nie ’n onderwerp wat veel aandag geniet het by die onderhandelaarstafels nie, en Barnard maak veral vuur onder FW de Klerk, Roelf Meyer, Gerrit Viljoen, Dawie de Villiers en Pik Botha, wat volgens hom ’n “belangloosheid” getoon het “wat vir altyd op hulle kulturele sonderegisters behoort te staan” (110). Pravin Gordhan, die latere minister van finansies in die kabinet van Jacob Zuma, het “geniepsig” gereageer elke keer wanneer iemand Afrikaans gepraat het, deur te sê: “I don’t follow that language” (113), aldus Barnard.

Op die politieke spektrum kry mens die interessante verskynsel dat hoe verder weg twee pole van mekaar beweeg, hoe meer stem hulle gedrag ooreen. Die revolusionêr en die reaksionêr deel miskien die teenoorgestelde visie, maar hulle metodes om daar uit te kom, is dikwels baie dieselfde. Tydens die onderhandelinge het die “regse” partye en die “linkse” partye ewe min belangstelling getoon om te onderhandel. Al hierdie groepe was minder of meer ewe veel versplinter, en kon glad nie enige substansiële drukgroepe vorm nie. Daar is eerder onder mekaar gestry as wat daar tyd aan die onderhandelinge bestee is. Leë dreigemente en eindelose geskille oor die grondgebied van ’n Afrikaner-volkstaat was aan die orde van die dag, en volgens Barnard kon regse sentiment “maklik opgesweep word, maar wanneer die werklike offers gebring moes word, was min daartoe bereid” (176). Die heel grootste bedreiging van die onderhandelinge was natuurlik Mangosuthu Buthelezi en die Inkatha Vryheidsparty, wat ook uiteindelik maar meegesleur was deur die onderhandelinge wat voortgestoom het en waaraan Buthelezi min kon verander. Barnard beskou die onderhandelde oorgang, alle gebreke ten spyt, as “’n kompliment vir die bestuursvermoë van Suid-Afrika” (254).

Die boek word afgesluit met ’n hoofstuk oor Barnard se werk as direkteur-generaal van die Wes-Kaapse Provinsiale Administrasie, waar hy vir 22 jaar gewerk het, asook ’n hoofstuk oor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK). Vir die WVK is daar baie kritiek, maar die hoofstuk laat nie naastenby reg geskied aan die kompleksiteite en nuanses van die WVK se prosesse nie, en is maar ’n druppel in die emmer in vergelyking met wat al oor die WVK geskryf is. Die WVK, kan mens dalk vandag sê, was van meet af aan gedoem, maar die alternatief, nl om al die wandade van apartheid onder die mat in te vee, was eenvoudig nie op die tafel tydens die oorgang nie.

Vreedsame revolusie is nie ’n omvattende studie van die tydperk onder bespreking nie, en neem meer die vorm aan van die verhaal van een persoon se herinneringe, hoewel die skrywer ook deur middel van voetnote ’n wetenskaplike geurtjie aan die publikasie verskaf. Selfs die “Bykomende leeslys” wat aan die einde verskyn, is eintlik maar skraps, en kan net as ’n vertrekpunt beskou word. In verband met die WVK alleen is daar etlike studies gedoen, onder meer akademiese proefskrifte, wat mens ook hierby sou moes ingesluit het as mens volledigheid nagestreef het. Maar dit is nie die doel van hierdie publikasie nie. Vreedsame revolusie is ’n boeiende en insiggewende vertolking van die onderhandelinge, en die teks word ook goed aangevul met foto's en verwysings na primêre bronne soos notules van vergaderinge.

Gegewe die omstredenheid van die huidige politieke situasie in Suid-Afrika mag Vreedsame revolusie ’n pynlike leeservaring vir sommige mense wees. Die boek se waarde lê vir my in die feitelike inligting en die perspektiewe van die skrywer wat my tot groter insig gelei het. En bowenal is die boek eenvoudig eg Suid-Afrikaans. Ek was gedurende die lees daarvan aangenaam verras om te lees hoe die “Boere” in 1991 by protesoptogte ’n vuurtjie aangesteek het en ’n vleisie gebraai het. En hulle maak in 2017 nog steeds so, soos wat ons gesien het tydens “Swart Maandag” (30 Oktober 2017) toe daar presies ook so gemaak iss.

Dit is lekker om te weet dat, al verander ons wêreld ook hoe, daar sekere dinge is wat maar altyd dieselfde bly.

  • 2

Kommentaar

  • Ek stem saam met Barend van der Merwe sowel as ander resensente dat Barnard vanuit sy sleutelposisie as Hoof van Nasionale Intelligensie sonder twyfel organisatories en andersins 'n bekwame rol ter bereiking van die politieke skikking in 1994 vervul het. Dit was internasionaal gesproke selfs uniek komende van 'n persoon wat in sy vorige loopbaan as akademikus tot en met die aanvang van sy rol in die betrokke onderhandelingsproses met Mandela geen afkeur teenoor die nou alomerkende onmenslike apartheidsbeleid getoon het nie. Inteendeel het hy voorheen as bekende filosofiese pleidbesorger van swaardkrag-politiek 'n ystervuis ten gunste van hierdie beleid vertoon; synde 'n benadering wat ons kan aanneem PW Botha se militaristiese oog gevang het en aanleiding gegee het tot Barnard se aanstelling as NI hoof op 'n merkwaardige jong leeftyd. Soos Van der Merwe aantoon kom Botha dan teenoor FW de Klerk veel meer ongeskonde uit Barnard se verhaal. Dis egter vir my opvallend dat Van der Merwe sowel as ander resensente nie na Barnard se uitgesproke ondersteuning in sy boek van SA se bou van 'n kernwapen verwys nie; 'n wapen wat 40 jaar gelede met behulp van oor 'n duisend wetenskaplike kundiges teen 'n beraamde koste van R800 000 000 tot stand gebring is (N von Wielligh en L von Wielligh-Steyn. "Die Bom, Suid-Afrika se kernwapen program", 2014, p 259). Barnard grond sy ondersteuning van hierdie inisiatief daarop dat dit as 'n broodnodige "onderhandelings"-meganisme vir die SA regering in die aangesig van buitelandse moondhede se vyandigheid teenoor SA sou dien. Sodoende aap hy die beskrywing van PW Botha presies na. Of was dit dalk andersom? In 'n destydse "uiters geheime" dokument in 1981 verwys Botha na die SA se kernwapen as "primêr 'n politieke wapenstelsel en nie 'n militêre stelsel nie" ... 'n benadering wat vir SA die opsie gebied het om "aan die onderhandelingstafel van die grotes te beding met as basis 'n kernafskrikstrategie" (ibid, p 471). Kernwapens in die hande van moondhede soos die VSA en Rusland dien duidelik as wedersydse afskrikmiddels. Barnard en Botha se inhoudlose afskrikonderhandelingstaktiek het daarenteen geen vyandelike gesindheid of optrede jeens SA tot halt geroep of enigsins afgeweer nie. Inteendeel, dit het dit dalk selfs laat toeneem. Daarbenewens nadat daar met SA se kernwapens weggedoen is het swart leiers soos in die von Wiellighs se boek aangetoon is (pp 276-277) dit kwalik geneem as 'n daad van wantroue in hulle. Die von Wiellighs verwys op dieselfde bladsye van hul boek ook na Barnard se eie ondervinding in hierdie verband. Al positiewe newe-effek van SA se kernwapen-avontuur was die bewyse wat dit gelewer het van SA se uitsonderlike vindingryke wetenskaplike vernuf. Dit bly vir my opmerklik dat Barnard se resensente sy destydse en steeds huidige ondersteuning van 'n duur, ondoelmatige en vrugtelose inisiatief oor die hoof sien. Ewe opmerklik is dat die von Wiellighs in hul breedvoerige dekking van hul bomonderwerp herhaaldelik na die afskrikstrategie verwys maar sonder om die meriete (vir of teen) daarvan te ontleed.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Dankie Pierre
    Dit is beslis nie met opset dat ek niks oor die kernwapens geskryf het nie. Dit is 'n interessante onderwerp, maar dit wys jou net dat mens 'n seleksie maak wanneer jy iets skryf en dan sekere sake uitlaat wat vir iemand anders dalk baie belangrike detail is.
    Ek het wel aan die kernwapens en boek teruggedink toe daar kort na ek dit gelees het, ook in die media verwys is na daardie kernwapens deur Jacob Zuma, wat skynbaar beweer dit is vernietig omdat die ou regering nie die nuwe regering vertrou het nie. Dit is nie die indruk wat ek uit Barnard se boek gekry het nie. Volgens Barnard is die wapens vernietig op grond van 'n internasionale ooreenkoms, en soos ek verstaan het Barnard nie saamgestem met die vernietiging van die wapens nie, en dat Suid-Afrika te min toegewings ontvang het vir die opgee van die land se kernwapenvermoë.
    Ek sal dit geniet as jy ook 'n lesersindruk van die boek skryf, om so jou opinie oor die boek te kan lees. In my indruk het ek die fokus uitsluitlik gehou op die onderhandelinge.
    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top