VraNet: Werksonderhoude

  • 0

Het jy al ooit gewonder oor versekering, visums, begrotings, werksonderhoude en volwassenes se ander vreugdes, frustrasies en verantwoordelikhede? Het jy al gewens vir raad wat op Suid-Afrikaners gemik is, en nie op ’n jong volwassene in ’n ander land en ander konteks nie? LitNet wil jou help om die gaping tussen kindwees en volwassenheid te oorbrug deur namens jou vir mentors raad en praktiese wenke te vra oor verskeie kwessies. Soek jy raad oor iets spesifiek? Stuur jou versoek aan vranet@litnet.co.za.

Inge Loff het jare se ondervinding in talentbestuur en -ontwikkeling en gee praktiese wenke vir werksonderhoude.

"After much debating, research and thought, I have decided adulting is not for me. Thank you for the opportunity." Sam Lee

Die groot, duister wêreld van werk kan nogal skrikwekkend wees, veral vir jong volwassenes wat die studentelewe en die veiligheid en sekuriteit daarvan agterlaat.

Dis genoeg om selfs die gehardste individu in ’n koue sweet te laat uitbreek.

Dit kan egter ook ’n opwindende ondervinding wees as jy jouself lank genoeg voor die tyd voorberei.

Ek het meer as tien jaar se ondervinding op die gebied van talentbestuur en -ontwikkeling en ek is elke keer opnuut verbaas om te sien hoe min moeite daar deur eerste-keer-werksoekers gedoen word om hulself vir onderhoude voor te berei.

Die meeste artikels oor werwing wat mens op LinkedIn sien, verwys na maniere waarop ’n mens jouself as ’n handelsmerk moet beskou. Hoe mens moeite moet doen om jouself tussen ander te laat uitstaan. Maar wanneer dit by die punt kom waar jy jou CV indien en die dekbrief wat met jou CV gepaard gaan, skryf, maak ons nie van die geleentheid gebruik om onsself oortuigend te “verkoop” nie.

Kom ek stel die volgende vraag aan jou, liewe leser: As jy nie genoeg vertroue in jou eie vermoëns en vaardighede het nie, hoe kan jy dit van ’n voornemende werkgewer verwag?

Hier volg ’n paar realiteite oor die werkswêreld waarvan jy bewus moet wees:

  • Jy is maar een uit baie werksoekers wat vir daai een, asemrowende droomposisie kompeteer!
  • Die persoon aan wie jy jou CV stuur, het baie CV’s om deur te sif – bo en behalwe sy of haar normale daaglikse take waarvoor hy of sy verantwoordelik is.
  • Niemand gaan jou goedgunstig wees of gunste doen net omdat jy die dux-leerling in jou klas was nie.
  • Berei jouself voor om jouself en jou waarde te bewys, selfs al moet jy op die heel onderste rang begin.
  • ’n Voornemende werkgewer is nie daar om jou lewe te vergemaklik of om vir jou ’n toekenning te gee net omdat jy by die werk opdaag nie – nederigheid, ’n sterk werksetiek, ’n houding wat respek uitstraal, asook motivering is ’n paar van die dinge wat jou kop en skouers sal laat uitstaan.

Ek kan nog baie byvoeg, maar ek is seker die punt is gemaak.

Kom ons kyk nou na die praktiese dinge wat jy kan doen om jouself te laat uitstaan tussen al die ander werksoekers daar buite.

Jy’t so pas die rol van jou drome gesien. Die een waarvoor jy in jou hart weet jy gebore is …

Eerstens: maak seker jy bestudeer die geadverteerde rol. Lees alles wat jy oor die maatskappy in die hande kan kry. Jy benodig hierdie inligting om jouself te verkoop en ook om die werwer te oortuig dat hulle hul soektog kan staak, omdat jy die kandidaat is na wie hulle soek. Hulle weet dit net nog nie.

Tweedens: stel jou dekbrief saam en pas jou CV aan om dit in ooreenstemming met die werksvereistes te bring. Wanneer jy op die formaat van jou CV en dekbrief besluit, neem die tipe maatskappy in ag. Raak vertroud met die korporatiewe kultuur eie aan hulle.

As voorbeeld: as jy by Twitter of Facebook vir ’n posisie aansoek doen, twyfel ek sterk dat ’n vervelige A4-dekbrief en ’n twee-bladsy-CV die werwingskomitee penorent sal laat sit. Iets soos ’n video oor jouself wat van hul tegnologie of kenmerke gebruik maak, sal vir seker jou aansoek tussen die ander laat uitstaan. Jy het vernuwing en kreatiwiteit gedemonstreer, en die feit dat jy van hul eie tegnologie gebruik gemaak het, wys dat jy jou huiswerk gedoen het oor wat hulle doen.

Derdens, en ek wens jongmense gee aandag hieraan: of jy ’n geskrewe werksaansoek of ’n indrukwekkende multimediaproduksie oor jouself saamstel, let op na die gebruik van korrekte grammatika. Daar is min goed wat ’n mens so omkrap soos om ’n aansoek te lees wat deurtrek is met spelfoute, foutiewe grammatika en swak samestelling.

Wanneer ’n swak saamgestelde aansoek aan ’n werwer voorgelê word, word die volgende indruk geskep …

  • Die persoon is oënskynlik ’n luiaard.
  • Die persoon gee nie aandag aan die fyner besonderhede nie.
  • Die persoon het nie werkstrots nie en gee nie om oor hoe hy of sy dit voorlê nie.
  • Die aansoek dui op swak werksetiek.

Dan laastens: jy het daarin geslaag om vir ’n onderhoud gekies te word. Doen die volgende dinge om seker te maak dat jy nie die werk sal kry nie …

  • Daag laat op vir die onderhoud.
  • Trek plakkies en ’n Guns N’ Roses T-hemp aan wat jou nuwe tatoeëermerk van ’n arend wat ’n beer op ’n berg aanval, laat uitstaan.
  • Of, as jy ’n jong dame is, dra ’n oulike toppie met blinkers wat van jou skouers af hang tesame met modieuse jeans (jy weet, die soort wat by die knieknoppe stukkend is) en jou hoogste stiletto’s wat juis vir spesiale geleenthede soos hierdie bedoel is.
  • Kou kougom tydens die onderhoud.
  • Hou jou Instagram dop vir nuwe foto’s tussen onderhoudsvrae.
  • Neem na afloop van die onderhoud ’n selfie van jou en die werwer met die maatskappy se handelsmerk in die agtergrond en deel dit op Twitter met die byskrif: “Eerste onderhoud was kwaailappies!”

Baie van hierdie goed is verregaande, maar julle sal verbaas wees om te hoor wat ek al oor die jare gesien het.

Op ’n ernstige noot: onthou – jy wil ’n goeie en blywende indruk skep. Maak seker dat jy professioneel aangetrek is. Daag vroeg op. Wees gefokus tydens die onderhoud. Maak seker dat jou antwoorde weldeurdag is. Moenie huiwer om na afloop van die onderhoud ’n sin of twee aan die werwer te stuur om dankie te sê nie.

Gaan nou uit, trek jou beste Sondag-uitrusting aan, en pak “grootword” met ywer aan!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top