VraNet: Sosiale media

  • 0

Het jy al ooit gewonder oor versekering, visums, begrotings, werksonderhoude en volwassenes se ander vreugdes, frustrasies en verantwoordelikhede? Het jy al gewens vir raad wat op Suid-Afrikaners gemik is, en nie op ’n jong volwassene in ’n ander land en ander konteks nie? LitNet wil jou help om die gaping tussen kindwees en volwassenheid te oorbrug deur namens jou vir mentors raad en praktiese wenke oor verskeie kwessies te vra.

Liné Enslin vra vir Frances Strooh, digitale bemarker by NB-Uitgewers, raad oor sosiale media, hoe om dit te hanteer, hoeveel jy moet deel, hoe dit werk en die voor- en nadele daarvan.

Die sosiale media is besig om stadig maar seker kommunikasie, vriendskappe en selfs bemarking handomkeer te verander. Dit het dus ’n heel ander benadering en manier van dink en doen nodig. Wat is van die belangrikste sosialemediaplatforms en waarvoor word elkeen hoofsaaklik gebruik?

Lees ook vorige VraNet-artikels
• VraNet: Wat jy moet weet voor jy ’n huurkontrak teken
• VraNet: Rekenaars en foutspeuring
• VraNet: Nuttige wenke vir kosmaak
• VraNet: Werksonderhoude
• VraNet: Noodhulp en medikasie

Ek gaan hierdie vraag hoofsaaklik uit ’n besigheidsoogpunt beantwoord, want ek dink in ’n persoonlike hoedanigheid sal dit grootliks afhang van jou voorkeure.

Netwerke soos Facebook en Twitter word deur besighede gebruik om met bestaande en nuwe klante en kliënte in verbinding te tree en ’n verhouding met hulle te bou. Hierdie netwerke kan deur besighede gebruik word vir marknavorsing en bewusmaking en dit word al hoe meer prominent in klante- en kliëntediens, aangesien baie mense hulle tot Facebook wend as hulle ’n besigheid wil kontak.

Mense gebruik die medianetwerke Instagram en YouTube hoofsaaklik om foto’s en video’s te deel en te vind. Dit is wonderlik as jou besigheid of handelsmerk unieke en gewilde inhoud op hierdie platforms kan produseer en sodoende bewusmaking kan bevorder.

Pinterest is iets wat ek ’n “idee-netwerk” noem, maar ek vind dat platforms soos Facebook toenemend vir hierdie doel gebruik word. Mense sluit aan om oulike idees en inspirasie te ontdek, te stoor, te deel en te bespreek. ’n Platform soos Pinterest sal vir sommige besighede belangriker of meer voordelig wees as vir ander.

As jy enige drie sosialemediaplatforms sou aanbeveel vir persoonlike gebruik, watter sou dit wees en hoekom?

Ek self is mal oor Instagram, Facebook en Reddit. Ek hou van hoe visueel Instagram is en hou veral daarvan om wêreldreisigers en profiele soos National Geographic hierop te volg. Facebook is weer ’n uitstekende manier om kontak te behou met maats van die skool en die vriende wat ek in Frankryk gemaak het toe ek vir ’n jaar daar gewoon het. Ek dink nie almal sal weet wat Reddit is nie, want dis nog betreklik onbekend in Suid-Afrika. Dit is amper meer soos ’n forum en diverse platform waar ek elke dag baie interessante dinge leer, snaakse inhoud vind en ook op hoogte bly van nuusgebeure van regoor die wêreld.

Natuurlik is veiligheid een van die belangrikste kwessies wanneer dit kom by kommunikasie met kennisse en/of vreemdelinge in ’n omgewing waar die inligting wat gedeel word nie altyd gekontroleer word nie. Wat is belangrike oorwegings vir ouers ten opsigte van hul kinders se aanlyn teenwoordigheid en ook vir volwassenes wat meer omtrent veiligheid in aanlyn omgewings wil weet?

Soos jy tereg daar sê, is daar beslis risiko’s verbonde aan die gebruik van sosiale media. Tog is dit belangrik om te onthou dat elke sosiale netwerk ’n magdom hulpmiddels en forums het waar jy meer kan leer oor hoe om dit veilig te gebruik. Ek deel ook graag ’n paar eenvoudige maatreëls wat jy kan toepas:

  • Gebruik ’n sterk wagwoord – hoe langer, hoe beter.
  • Moenie dieselfde wagwoord vir al jou sosialemedia-rekeninge gebruik nie.
  • Gebruik “two-step verification” waar moontlik. Dit vereis dat ’n kode eers na jou selfoon gestuur word voordat jy kan inteken en dit beteken dat jy ook daarvan verwittig sal word as iemand sonder toestemming by jou rekening probeer inteken.
  • Sluit jou foon se skerm met ’n wagwoord, pin of patroon indien jy enige sosialemedia-toepassings op jou slimfoon het.
  • Moenie vriendskapversoeke aanvaar van mense wat jy nie ken nie.
  • Moet verkieslik nie lukraak op skakels kliek nie, selfs al word dit deur ’n vriend gedeel. Kyk veral uit vir taalgebruik of inhoud wat jou vriend(in) nie normaalweg sou gebruik nie.
  • Moenie sensitiewe inligting soos jou adres, telefoonnommer, en so meer op sosiale media deel nie. ’n Voorbeeld wat ek gereeld sien, is waar mense ’n foto van hul rybewys deel wanneer hulle die lisensietoets slaag. Dit bevat besonderhede soos jou identiteitsnommer wat in die verkeerde hande skade kan berokken. Raak vertroud met die privaatheidsinstellings van die netwerk wat jy gebruik sodat jy meer beheer het oor wie wat kan sien.
  • Teken af wanneer jy klaar is.

In terme van kinders se veiligheid op sosiale media is die goeie nuus dat die meeste netwerke ouderdomsbeperkings het. Ek weet byvoorbeeld dat Facebook se ouderdomsbeperking 13 jaar is. Die grootste gevaar vir babas en jong kinders aanlyn is gewoonlik die inligting wat hul ouers op sosiale media deel. Net soos wat jy jou eie ligging, adres en persoonlike inligting moet beskerm, moet jy ook versigtig wees met watter foto’s en inligting van jou kinders jy op sosiale media plaas. Moet byvoorbeeld nie die naam en adres van jou kind se dagsorginstelling of die uitstappie wat julle vir die naweek beplan op Facebook plaas nie, want dit kan jou kind blootstel.

Iets wat ook met Anchen Muller se verdwyning vorendag gekom het, is dat haar ouers haar gehelp het om haar Facebook-profiel op te stel, maar dat sy hulle toe geblok het en ’n ander “meer onskuldige” profiel geskep het wat hulle gevolg het. Hulle was daarom nie bewus van haar dubbele lewe op Facebook nie. As jy jong kinders op Facebook het, is dit dalk ’n goeie idee om van tyd tot tyd ’n vriend of kennis te vra om jou kind se naam in die soekfunksie in te tik om te kyk of daar nie moontlik ’n profiel is waarvan jy nie bewus is nie.

Die belangrikste ding om vir kinders met hul eie sosialemedia-profiele te leer, is dat sodra iets daar buite is, jy dit nie noodwendig kan terugtrek nie. Die “wag voor jou mond”-spreekwoord moet net so sterk aanlyn aangewend word, en dis ook belangrik om jouself en jou kinders rakende privaatheidsinstellings op te voed.

Waar lê die streep ten opsigte van hoeveel tyd jy per dag aan sosiale media afstaan en hoe gereeld jy "updates" of foto's post?

Ons moet wegbeweeg van die siening dat die aanlyn era “goed” of “sleg” is – dit is nou onherroeplik deel van die samelewing en alledaagse lewe. Elke persoon sal weet wanneer hulle die “streep” oortree, en soos met die meeste dinge in die lewe moet jy besef dat sodra iets ’n meer negatiewe as positiewe impak op jou lewe het, jy dit waarskynlik moet staak. As jy sosiale media “reg” doen, sal jy vind dat dit jou verhoudings met ander mense versterk. Jy sal weet of sosiale media ’n negatiewe impak op jou lewe het as dit jou geïsoleerd en ondergeskik laat voel. Sosiale media kan die lewe soms soos ’n kompetisie laat voel, maar dis belangrik om te onthou dat dit wat jy op Facebook of Instagram sien, nie altyd ’n akkurate weerspieëling van ander mense se lewens is nie. Ek dink dit is die grootste nadeel van sosiale media – dit kan maak dat mense met sekere persoonlikheidstipes hulself voortdurend met ander vergelyk.

Hoe belangrik is jou beeld op sosiale media vir voornemende werkgewers of jou huidige werkgewer? Is dit iets wat vir hulle belangrik is of belangrik behoort te wees?

Tensy jy dit onmoontlik maak vir ander om jou op sosiale media te vind, moet jy altyd die benadering hê dat dit wat jy plaas, in enigiemand se hande kan beland. Jou teenwoordigheid op sosiale media is ’n uitstekende manier vir ’n voornemende werkgewer om te sien of jy by ’n besigheid se kultuur sal inpas en of jou persoonlike lewe ’n negatiewe impak op jou werksverrigting sal hê. Dan is dit natuurlik ook nie slim om by die werk weg te bly omdat jy “siek” is en dan foto’s van jou aand uit op Facebook te deel nie!

In dieselfde asem moet ek tog noem dat ’n sterk sosialemedia-teenwoordigheid ’n besliste professionele pluspunt kan wees. In ons bedryf help dit as ’n skrywer ’n sterk gevolg op sosiale media het aan wie hy of sy ’n nuwe boek kan bemark. By kleinsakeondernemings, wat dikwels deur ’n individu bedryf word, soos haar- en skoonheidsalonne, fotograwe, ens. word dit ook al hoe belangriker om ’n groot gevolg op te bou.

Die ander kant van die munt is natuurlik dat hierdie profiele ’n platform skep vir mense om hul ontevredenheid met swak diens uit te spreek. Dit moet dus aktief bestuur word om sulke kwessies so gou moontlik aan te spreek en op te los voordat dit ’n sneeubal-effek op jou openbare beeld het.

Watter voordele en nadele hou sosiale media vir besighede in? Ek dink byvoorbeeld aan werkgewers wat hulle in werkstyd na sosiale media wend, maar ook aan positiewe aspekte soos bemarking.

Sosiale media het beslis ’n impak op werknemers se produktiwiteit, en die grootste nadeel is dat werknemers (veral mense met kantoorwerke) nie meer opstaan om te gaan asem skep nie, maar eerder agter hul rekenaar bly om te loer wat aanlyn aangaan.

Die impak op werknemers se produktiwiteit word tog verdwerg deur die voordele wat sosiale media vir besighede inhou. Wanneer dit effektief aangewend word, kan dit besighede in staat stel om ’n enorme aantal mense te bereik. Verder kan dit onder andere lei tot ’n afname in bemarkingskoste, ’n toename in verkope, ’n beter ranglysplasing op soekenjins, toegang tot internasionale markte asook ’n beter begrip van en verhouding met jou teikenmark.

Bevorder sosiale media sosiale kohesie, byvoorbeeld onder hoërskoolleerders en kollegas?

Dit kan beslis, maar dit hang af van hoe dit gebruik word. Buiten ’n lessenaarfoto sou jy dalk nie weet hoe jou kollega se gesin lyk of wat hy of sy vir ontspanning doen nie, maar nou kan jy oor naweke dalk ’n foto op sosiale media sien wat jou meer van jou kollega leer, en dit kan op sy beurt weer ’n aanknopingspunt word vir gesprekke by die werk en ’n beter verhouding met jou kollega. Die grootste nadeel, soos voorheen genoem, is die neiging om jouself met ander te vergelyk en jou waarde te meet aan die aantal “likes” wat jou profielfoto kry. Dit kan veral op hoërskoolleerders ’n negatiewe impak hê, aangesien ’n mens in daardie lewensfase baie vatbaar vir indrukke is.

Is daar enige rede waarom jy mense sou afraai om enige sosialemediaprofiele te hê?

As jy vind dat jy sosiale media as plaasvervanger vir sosiale interaksie gebruik, is dit dalk ’n gevaarteken. Sommige mense word ook wat ek noem “sluipers” op sosiale media, in die sin dat hulle nooit self inhoud plaas nie, maar net ander dophou, uit vrees vir oordeel. Dit kan ’n aanduiding wees dat jou verhouding met sosiale media nie baie gesond is nie en dat jy dalk beter daarsonder in jou lewe sal vaar. Die gebruik van sosiale media is veronderstel om jou te verbind met vriende en geliefdes, te inspireer, in te lig en gelukkig te maak.

Mense maak deesdae staat op sosiale media om die nuus van die dag te bekom en bewus te wees van wat in hulle omgewing aangaan. Hoe kan sosiale media gebruik word om ’n positiewe invloed op die omgewing en ander mense te hê?

Sosiale media kan soms, net soos die nuus, oorweldigend negatief wees. Veral as daar ’n groot politieke situasie of natuurramp onderweg is en elkeen ’n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Ek het groot waardering vir blaaie soos Beautiful News wat kies om sosiale media met pragtige, positiewe inhoud te vul. Verder het ek al gesien hoe klein besighede of projekte en mense wat sukkel om werk te vind ongelooflike ondersteuning op sosiale media kry. Dit sou ook interessant wees om te sien hoe sosiale media die hulp wat na die brande in Knysna ingestroom het, aangehelp het. Ek glo regtig dat hierdie tipe voordele en samewerking wat uit sosiale media voortspruit, die nadele oorskadu.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top