VraNet: Rekenaars en foutspeuring

  • 0

Het jy al ooit gewonder oor versekering, visums, begrotings, werksonderhoude en volwassenes se ander vreugdes, frustrasies en verantwoordelikhede? Het jy al gewens vir raad wat op Suid-Afrikaners gemik is, en nie op ’n jong volwassene in ’n ander land en ander konteks nie? LitNet wil jou help om die gaping tussen kindwees en volwassenheid te oorbrug deur namens jou vir mentors raad en praktiese wenke te vra oor verskeie kwessies. Soek jy raad oor iets spesifiek? Stuur jou versoek aan vranet@litnet.co.za.

Deesdae is dit byna onmoontlik om sonder ’n rekenaar of basiese rekenaarvaardighede oor die weg te kom. Vir ’n jong volwassene wat nou die werksmark betree, is dit nóg meer van belang. Liné Enslin gesels met Jürgen Loff oor rekenaars, sagteware, foutspeuring en die dinge wat elke rekenaargebruiker behoort te weet.

Hoe besluit jy watter rekenaar om vir persoonlike of werksdoeleindes te koop? Is ’n desktop (tafelrekenaar), notebook (boekrekenaar of skootrekenaar) of netbook (netboek) beter, en wat is die verskil? Watter opsie is goedkoper as jou begroting ’n bietjie knyp is?

Hier is ’n kort beskrywing van die verskillende toestelle wat op die mark is:

  • Tafelrekenaar

Tradisioneel bestaan die tafelrekenaar net uit die masjien self, met al sy komponente ingesluit. Die eksterne in- en uitsettoestelle (soos die toetsbord, muis en skerm) word apart gekoop. Deesdae is daar ook alles-in-een-rekenaars op die mark, waar die skerm en die rekenaarkomponente saam verpak is as een toestel.

  • Skootrekenaar

Die skootrekenaar is ’n draagbare rekenaar wat die rekenaarkomponente, toetsbord, skerm en raakpaneel insluit. Dit word vervaardig met ’n interne battery en sluit ook die gewone in- en uitsetpoorte in wat ’n tafelrekenaar het. ’n Skootrekenaar is baie gerieflik vir diegene wat gedurig op verskillende plekke werk.

  • Netboek

’n Netboek is ’n kleiner weergawe van ’n skootrekenaar met minder verwerkingskrag, geheue en in- en uitsetpoorte. Dit word ook dikwels sonder ’n CD-ROM-leser/skrywer vervaardig om die rekenaar nog meer kompak te maak. ’n Netboek is geskik vir diegene wat ’n rekenaar net vir internetgebruik, woordverwerking en e-pos wil hê. Die prys van ’n netboek is laer as dié van die ander toestelle wat hier gelys word.

  • Tablet

Tablette is ook deesdae baie gewild en is die ligste opsie. Hulle weeg gewoonlik onder 1 kg en word met of sonder ’n ontkoppelbare toetsbord vervaardig. Tablette gebruik gewoonlik mobiele bedryfstelsels, nl Android, iOS, Windows of ChromeOS. Die toestel is baie kompak, en omdat sy komponente so klein is, is die prys vergelykbaar met dié van ’n skootrekenaar. Die groot voordele van ’n tablet is sy grootte en gewig. Dit is klein genoeg om in ’n handsak of ’n baadjiesak te pas en dit is nie ’n ongerief om dit heeldag rond te dra nie.

Kan ’n tablet (sonder ’n ontkoppelbare toetsbord, muis of skerm) ’n rekenaar vervang?

Dit hang af van wat jy graag met die toestel sal wil doen.

As jy van plan is om baie tikwerk te doen, is enige van die bogenoemde opsies wat ’n toetsbord het, ’n beter opsie.

’n Tablet is ontwerp om dokumente vinnig te lees of te korrigeer, e-posse te lees en die internet te gebruik. Sodra jy meer komplekse take wil verrig, soos iemand wat die werksmark betree, het jy ’n ander toestel nodig wat hierdie take sal vergemaklik.

Hoe weet jy na watter spesifikasies om te kyk wanneer jy ’n rekenaaradvertensie sien? Wat moet altyd ingesluit wees?

Die belangrikste spesifikasies om in ag te neem, is die volgende:

  • Sentrale verwerkingseenheid (CPU): Dit staan gewoonlik eerste in die beskrywing in ’n advertensie. Dit dui die spoed van die rekenaar aan. Dit word gemeet in frekwensies, dus hoe hoër, hoe beter. Kyk uit vir ’n rekenaar met ’n CPU-frekwensie van 2 GHz en hoër, en verkieslik met ’n multikernverwerker (byvoorbeed dual core, quad core of hexacore).
  • Geheue (RAM): Hoe meer RAM die masjien het, hoe meer prosesse en programme kan dit gelyktydig hanteer. Kyk vir ’n rekenaar met 4 GB-RAM of meer.
  • Stoorspasie (hardeskyf): Hoe groter die hardeskyf, hoe meer data kan dit stoor. Kyk uit vir ’n rekenaar met ’n 500 GB-hardeskyf of groter.
  • Deesdae is dit nie meer belangrik om ’n rekenaar met ’n CD-ROM te hê nie, aangesien die meeste sagteware van die internet verkrygbaar is.

Dit is voordelig as die volgende reeds ingesluit is by die pakket wat jy koop, want indien nie, sal jy dit apart moet aankoop:

  • Die bedryfstelsel (operating system), byvoorbeeld Windows (7, 8 of 10). Ander bedryfstelsels is wel gratis aanlyn beskikbaar, byvoorbeeld Linux en Chrome OS, alhoewel ’n bedryfstelsel soos Linux meer geskik is vir ’n gevorderde rekenaargebruiker.
  • ’n Woordverwerkingspakket, soos Office. Die nuutste Office-pakket is Office 2016, maar enigeen wat sedert 2007 op die mark is, is steeds aanvaarbaar. Die Office-pakket sluit onder meer Word, Excel, Access, PowerPoint en Outlook in.

Wat is die verskil tussen ’n kilobyte (kilogreep), megabyte (megagreep) en gigabyte (gigagreep)?

Data word in grepe (bytes) gemeet. Die kleinste eenheid is ’n bis (bit). Een greep bestaan uit 8 bisse. ’n Kilogreep (KB) bestaan uit 1 024 grepe, ’n megagreep (MB) uit 1 024 kilogrepe en ’n gigagreep (GB) uit 1 024 megagrepe, ens. ’n Lêer wat slegs teks bevat, sal ’n paar kilogrepe groot wees, waar ’n liedjie of hoëresolusie-foto ’n paar megagrepe groot is en ’n video ’n paar gigagrepe.

Indien jy ’n geheuestafie koop wat 8 gigagrepe stoorspasie het, sal jy ongeveer 1 600 Word-dokumente, of 400 liedjies, of 400 hoëresolusie-foto's of 8 episodes van ’n TV-reeks daarop kan stoor.

Watter basiese rekenaarprogramme moet op ’n persoonlike rekenaar wees? Is daar goedkoper en duurder alternatiewe? Hoe besluit jy watter om te installeer?

Die gemiddelde rekenaargebruiker het die volgende sagteware nodig:

Sagteware

Teen ’n koste beskikbaar

Gratis beskikbaar

Antivirus-sagteware

Norton, McAfee, ESET

AVG, Avast

Woordverwerkingspakket

Office, iWork

OpenOffice, Libre Office

PDF-leser

Adobe Acrobat Pro

Adobe Reader, Foxit

’n Mediaspeler

Windows Media Player

VLC, iTunes, Real Player

’n Webblaaier

Internet Explorer, Safari

Mozilla Firefox, Google Chrome

 

’n Meer gevorderde rekenaargebruiker sal by die volgende rekenaarprogramme kan baat:

Sagteware

Teen ’n koste beskikbaar

Gratis beskikbaar

Fotoredigeerder

Adobe Photoshop

Fotor, Photoscape

Grafiese ontwerp-sagteware

CorelDRAW, Adobe Illustrator

Gimp, Blender

E-possagteware

Outlook

Thunderbird

 

Is dit veilig om jou werk eerder op ’n geheuestafie te stoor as op jou rekenaar self?

Dit is veilig en betroubaar om alternatiewe stoorspasie te gebruik, maar dit is altyd wys om ’n paar reserwekopieë van jou werk te hê. Hou die primêre lêer op jou rekenaar self. Indien jy internettoegang het, kan jy ’n kopie aanlyn stoor deur aanlyn fasiliteite soos Google Drive of Dropbox te gebruik. Jy kan jou lêer dan van enige toestel af oopmaak, mits jy internettoegang het. Jy kan ook reserwekopieë van dokumente op ’n geheuestafie of eksterne hardeskyf maak.

Watter basiese keyboard shortcuts (toetsbordkortpaaie) behoort elke persoon te ken?

Die volgende kortpaaie kan deur Windows-gebruikers benut word:

  • Ctrl + C – Copy
  • Ctrl + X – Cut
  • Ctrl + V – Paste
  • Windows-knoppie + E – Maak jou file explorer oop, sodat jy vinnig jou lêers kan bereik.
  • Windows-knoppie + D – Verklein alle programme en neem jou na die rekenaar se desktop.

Wat maak jy as jou hele rekenaar vries en dit geen verskil maak as jy op enige plek klik of enige knoppie druk nie?

Probeer altyd heel eerste om Ctrl, Alt en Delete tegelykertyd te druk. Dit sal ’n kieslys oopmaak waarop jy kan uitteken en jou rekenaar afskakel, of die Task Manager kan oopmaak. In die Task Manager kan jy enige program of proses toemaak of beëindig.

Indien dit steeds nie ’n verskil maak nie, kan jy die rekenaar sê aan/af-knoppie inhou totdat die toestel afskakel. Jy kan dan ’n tydjie wag en dit weer aanskakel.

Wat maak jy as net een van jou programme vries en die res nog werk?

Jy kan Ctrl, Shift en Esc tegelykertyd druk om die Task Manager oop te maak, en dan die program wat gevries is, toemaak.

Watter basiese rekenaarinstandhouding moet mens gereeld doen?

  • Hou jou toetsbord skoon. Stof kan onder die toetse ingaan en obstruksie veroorsaak, wat tot probleme kan lei.
  • Skandeer gereeld jou rekenaar vir virusse, spioenware en reklameware. Jy kan jou rekenaar stel om die soektog uit te voer wanneer jy dit nie gebruik nie, of dit kan in die agtergrond plaasvind terwyl jy besig is met ander werk.
  • Defragmenteer jou hardeskyf een keer elke ses maande. Data word gefragmenteerd op die hardeskyf gestoor, en dit vertraag jou toegang tot die data. Deur die data te defragmenteer, sal dit jou rekenaar help om vinniger by die data uit te kom en soektyd verminder.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top