Voorstelling van Adam Small tydens onthulling van borsbeeld

  • 0

Die borsbeeld van Adam Small, en Michael le Cordeur (Foto: Naomi Bruwer)

Kunstekaap  16 Desember 2017

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat die volgende woorde na ons almal se harte gaan!

En maak vir ons lig moet hierie woorde
Soos moet kerse
.

Nou vrinne

Adam Small is op 21 Desember 1936 in Wellington gebore. Hy spandeer sy grootwordjare op die plaas Goree in Robertson (waar sy pa skoolhoof was) en later op die Kaapse Vlakte. Hy studeer aan die Universiteit van Kaapstad en die London School of Economics. Hy keer later na Engeland terug vir verdere studie aan Oxford oor onder andere Nietzche. In 1959 word hy dosent in filosofie aan Fort Hare en in 1960 een van die grondleggers van die nuwe Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Small se lewe is gekenmerk deur konflik, omdat sy werk vir lank deur die establishment geïgnoreer is. Hy moes dikwels  om ’n permit aansoek doen om na sy eie dramas te kyk, soos toe Kanna in die Staatsteater opgevoer is. Ook in hierdie teater, toe nog die Nico Malan.  Dit is algemene kennis dat hy hom aan die kant van die studente geskaar het toe hulle in opstand gekom het teen apartheid. Hieroor moes hy sy werk as hoof van Filosofie in 1973 prysgegee, maar danksy Richard van der Ross keer hy in 1984 terug as hoof van die Departement Maatskaplike werk tot 1997.

Maar dit was tipies Small, wat denkend en nadenkend met die wêreld en sy probleme omgegaan het, wat geglo het in die “oop gesprek” en bereid was om in dialoog te tree met selfs sy grootste teenstander, op soek na die waarheid. Small was in baie opsigte ’n enkeling – gekant teen politieke populisme – en het sy diepste gevoelens slegs met diegene baie na aan hom gedeel; andersins moes jy die versiendheid van sy filosofiese denke in sy gedigte en sy dramas gaan naspeur.

Denker, digter, dramaturg; ek sou kon byvoeg: akademikus, taalaktivis, vryheidsvegter. Volgens Hein Willemse ook filosoof, skrywer, maatskaplike werker en intellektueel, wat hom oor sy mense en hul menslikheid ontferm het.

Adam Small het die brandende vraagstukke waarmee ons geworstel het, en die eens versweë onderwerpe van ’n verdeelde Suid-Afrika, gevoelig dog gesaghebbend op deurdagte wyse aangeroer – kwessies soos apartheid, gedwonge verskuiwing van mense en rassediskriminasie – en hom só as denkende revolusionêr onderskei.  Sy oeuvre hanteer al die temas wat vandag steeds relevant is. Die problematiek van die individu wat verskeurd is tussen sy eie aspirasies en dié van sy mense, en die fyn lyn tussen reg en verkeerd, tussen goed en kwaad. Was Johnny Adams in Goree ’n terroris wat ’n onskuldige vrou en kind in ’n supermark opblaas, of ’n vryheidsvegter wat sy mense se vryheid bo lewenslange tronkstraf gekies het?

Gedigte soos “Die here het gaskommel”, “Kitaar my kruis”, “Sê sjibbolet” en “Kô, lat ons sing” het huishoudelike name in ons land geword, maar spreek ook van verbittering oor wat apartheid aan hom en sy mense gedoen het. Ten spyte van alles was hy onverskrokke en het hy die apartheidswette uitgedaag met gedigte soos “What abou’ de lô?”.

Toe, op ’n dag in 1983, het hy – toe ’n verbitterde mens en uit verset teen apartheid –  opgehou om te publiseer. Die groot Stilte het gevolg.

Small die Sestiger

Die Sestigers word bestempel as die vernuwers in die Afrikaanse letterkunde. Daar is Breytenbach in die digkuns, Brink en Leroux in die romankuns en De Vries in die kortverhaal. In die drama is dit ongetwyfeld Adam Small, en sy se drama-oeuvre sluit in Kanna hy kô hystoe (1965), Joanie Galant-hulle (1978), Krismis van Map Jacobs (1983) en The Orange Earth (1984), vertaal as Goree in 2013.

Dis veral Kannadeur baie letterkundiges, insluitende JC Kannemeyer en Andre P Brink, aangeslaan as die grootste drama nóg in Afrikaans – wat ’n totale vernuwing ingelui het en die Afrikaanse drama in die moderne era geplaas het. Uiteindelik sou hy vir sy bydrae tot die Afrikaanse drama in 2012 deur die Suid-Afrikaanse Akademie met die Hertzogprys vereer word – ’n eer wat hom lank reeds toegekom het.

In Desember van 2016 het die Universiteit Stellenbosch ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Hy het ook eredoktorsgrade van die UWK, die Nelson Mandela Universiteit in PE en die Universiteit van KwaZulu-Natal ontvang.

Adam die Moses

Adam Small was ook ’n vertolker, ’n Moses (soos hy die figuur in sy tweede bundel, Kitaar my kruis (1962), noem): Nou het ’n Moses vir julle opgestaan.

Small het begin om namens sy mense te praat oor die liberale waardes van vryheid van denke en spraak:  ʼn stem vir menige stemlose.

Sy poësie en dramas was sy manier om te rebelleer teen die uitsluiting van bruin mense, en veral Kaapssprekendes, uit die hoofstroom Afrikaanse leefwêreld.  Vir menige leser is dit die Small wat almal ken: die skrywer wat die spreektaal van die Kaapse werkersklas – eens verbind met afwyking, domheid en grappigheid – so pragtig en met soveel waardigheid te boek gestel het. Hy het Kaaps gevestig as “’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra” (Kitaar my kruis).

Deur in Kaaps te skryf het hy sy mense taalkundig bemagtig en so hul stem teruggegee wat deur die establishment-media en apartheidsregering stilgemaak is: “Laat die wêreld maar praat pellie, los en vas.”  Sodoende het Small daarin geslaag om van Kaaps ’n literêre taal te maak en Kaaps te verhef tot  ʼn taal van verset teen politieke onreg.  Meer nog: danksy Small is die stigma rondom Kaaps afgebreek, is die Suid-Afrikaanse letterkundeskat verruim en die Afrikaanse woordeskat verryk. Vandag word sy poësie en dramas  in skole en universiteite bestudeer. 

Adam die profeet

’n Proefiet van Jesus djy? ’n Proefiet van Jesus dja.

Adam Small was tegelykertyd filosoof en profeet. Reeds vyftig jaar gelede verwys hy na die leierskapskrisis waarin Suid-Afrika hom sou bevind as hy vra:  “Waar, waar is Moses? Die wêreld se manne sit in die knyp.” Dan beantwoord hy sy eie vraag: “As Kanna hier was, sou ons bieterde af gewees het. Kanna het mos gesê hy gan hys toe kom."

“Daarom moet ons skryf waar jy kan, praat waar jy kan. Probeer mense oorreed. Ons moet die kaarte maar nougeset bly skommel, bly meet en pas, en bly hoop, bly hoop vir Suid-Afrika,” skryf Van Wyk Louw aan hom in sy brief.

In die lente van 2013, dertig jaar na sy selfopgelegde ballingskap, het ’n nuwe lente vir Small aangebreek met die bekendstelling van Klawerjas,  ’n digbundel wat hy aan sy vrou Rosalie opgedra het en op sy (en my) geboortedorp, Wellington, vrygestel is.

Adam Small se borsbeeld by die Kunstekaap (Foto: Liné Enslin)

Adam, ’n man van versoening

Sy moed om terug te keer na die openbare lewe nadat hy so lank met die gevolge van apartheid geworstel het, is een van die kragtigste dade van versoening wat nog in Afrikaans geskied het. Dis waarom die Kunstekaap en die SBA vandag, Versoeningsdag, namens ons almal vir Adam Small vereer met die onthulling van n bronsbeeld; ook vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans en in besonder die Kaapse variant. Hiervoor gee ek graag erkenning aan die bestuurspanne van Kunstekaap en die SBA.

Op die Kaapse Vlakte, deur die wynlande van Stellenbosch, tot ver anderkant Wellington se berge, en oor die Karoovlaktes weerklink die verse van Adam Small. ’n Bronsbeeld ter ere van Small, asook hierdie huldigingsbundel deur die Suid-Afrikaanse Akademie, is gepaste erkenning vir ’n man wat lank in sy eie land misken is terwyl hy eintlik sy tyd ver vooruit was. 

Die mense van Voorstraat en Terracestraat – sy mense – vier vandag hierdie geskiedkundige oomblik saam met die gaste hier. As ’n Wellingtonner aan ’n oud-Wellingtonner, kan ek net sê: Wat ’n voorreg om deel te wees van iets so spesiaals:

...  want julle sien vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en in my hand is my glas

so kô, laat ons ’n heildronk instel  
op Adam Small
want hier in die Kunstekaap
het Small uiteindelik hystoe gekom.
Ek dank u.

Michael le Cordeur is mede-professor en hoof van die Departement Kurrikulumstudies aan die US en doseer Afrikaanse letterkunde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top