Hendrix se "Voodoo child" ontmoet Händel se Messias

  • 0

Londen is 'n stad wat sy beroemdes eer. Jimi Hendrix is steeds een van die grootste inspirasies vir rockkitaarspelers in die wêreld. Die stad Londen het onlangs besluit om ‘n museum ter ere van Hendrix se bydrae tot rockmusiek te open. Die museum is geleë in Brookstraat 23, Mayfair - een van die mees gesogte areas in Londen. Dit is die woonstel waar Hendrix en sy voormalige vriendin, Kathy Etchingham, gedurende 1968 gewoon het.

Ingang (rooi deur) tot Hendrix se woonstel op die derde verdieping

Per toeval het Friedrich Händel 240 jaar vroeër in 'n naburige huis, nommer 25, gewoon. Dit is hier waar Händel sy bekendste oratorium, die Messias, binne 24 dae geskryf het. Hy sou hier woon tot sy dood in 1759, en nog vele ander musiekstukke in sy gunsteling komposisiekamer skryf en komponeer.

In teenstelling het Hendrix sy idee vir "Voodoo child (Slight Return)", een van sy bekendste liedjies, hier gekry en dit toe in ’n blues jam in ’n New Yorkse klankstudio verewig.

Voorheen was hierdie gebou slegs die Händel Museum en kon mens Hendrix se woonstel op uitnodiging besoek, aangesien die boonste verdiepings van die huis verbind is. Nou staan dit bekend as Händel & Hendrix in London.

Händel se komposisiekamer

Hendrix se woonstel is 48 jaar later weer deur Kathy presies opgeknap soos dit voorheen was. Die kaggel, rakke, vensters en selfs die wankelrige vloer is weer herstel soos wat dit oorspronklik was. Foto’s uit daardie periode is gebruik om onder andere Jimi se klereuitrustings en plateversameling na te boots.

Hendrix se slaapkamer

Mens  voel of jy Hendrix se privaatheid skend wanneer jy die slaapkamer betree. Dit staan in skrille kontras tot Händel se huis. ‘n Tipiese 60’s "hippie pad". Ek staan in stilte by die venster en kyk uit op Brookstraat met sy sonderlinge kafees en winkeltjies. Dis ‘n grou dag in Londen en onwillekeurig begin ek saggies neurie: "There’s a red house over yonder, that’s where my baby stays ..."

Teks en foto’s: Stephen Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top