Vonnisbespreking: Turquand en estoppel: voëls van eenderse vere?

  • 0

Vonnisbespreking: Turquand en estoppel: voëls van eenderse vere?
One Stop Financial Services (Pty) Ltd v Neffensaan Ontwikkelings (Pty) (The CRL Trust as Intervening Creditor) 2015 4 SA 623 (WKK)

Marianne Lombard, Departement Handelsreg, Universiteit van Suid-Afrika
Christiaan Swart, Departement Handelsreg, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 13(2)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

Turquand and estoppel: birds of a feather?

The representation of companies has always been a problematic and complicated aspect of company law. In this case discussion the approach of the court in One Stop will be critically analysed. It will be argued that the application of the Turquand rule is not dependent on whether the business structure possesses legal personality or whether the doctrine of constructive notice applies. Furthermore, the importance of making a distinction between the doctrine of estoppel and the Turquand rule will be illustrated. The judgment is unclear in many respects – especially in relation to the application of the doctrine of estoppel in light of the fact that the doctrine of constructive notice has been abolished. By describing the Turquand rule as a special application of the presumption of regularity, the court failed to recognise the Turquand rule as an independent rule which forms part of substantive law. Even though some reform has been introduced pertaining to the principles of the representation of companies, the application of these principles is still far too complex and needs to be simplified. A model similar to the one used under the Close Corporations Act 69 of 1984 is suggested.

Keywords: Companies Act 71 of 2008; doctrine of constructive notice; doctrine of estoppel; representation; Turquand rule.

Trefwoorde: leerstuk van estoppel; leerstuk van toegerekende kennis; Maatskappywet 71 of 2008; Turquand-reël; verteenwoordiging.

 

1. Inleiding

Vanuit ’n praktyksoogpunt is dit van kardinale belang om die omvang te bepaal van ’n verteenwoordiger se magtiging om namens ’n maatskappy op te tree. Ongelukkig is die bepaling van die aard en omvang van ’n verteenwoordiger se magtiging in die meeste gevalle ’n moeilike taak wat afhang van die feite van elke geval, die verteenwoordigingsreg, asook die interpretasie en toepassing van regsbeginsels wat eie aan die maatskappyereg is. Vir hierdie vonnisbespreking is die Turquand-reël en die leerstuk van estoppel van besondere belang.

Daar heers al vir ’n geruime tyd verwarring in die Suid-Afrikaanse reg oor die interpretasie en toepassingsveld van die Turquand-reёl en die leerstuk van estoppel. Artikel 20(7) van die Maatskappywet 71 van 2008 (Maatskappywet) het die Turquand-reёl gedeeltelik gekodifiseer, en die One Stop-saak is na die beste wete van die skrywers die eerste beslissing ná die inwerkingtreding van die Maatskappywet wat oor die Turquand-reël en die leerstuk van estoppel handel. Artikel 20(7) oorvleuel met die gemeenregtelike vorm van die Turquand-reël en moet ook so uitgelê word (sien Delport en Vorster 2015:98–9 vir ’n kritiese oorweging van art. 20(7); sien ook Katz 2010:252–3; Delport 2011:136–7; McLennan 2009:146–8, 1523). Die howe, praktisyns, akademici en studente sal dus baat vind by ’n hofbeslissing wat tussen die toepassing van die Turquand-reёl en dié van estoppel onderskei en dit behoorlik omskryf en suiwer toepas. Die uitspraak in One Stop is in sekere opsigte verwarrend en vatbaar vir kritiek. Die doel van hierdie vonnisbespreking is om ’n ontleding van die ooreenkomste en verskille tussen die Turquand-reël en die leerstuk van estoppel te doen. Verwante aspekte sal ook uitgelig en behandel word.

Die leerstuk van estoppel is daarop gemik om onskuldige derdes te beskerm wat met ’n skynbare verteenwoordiger kontrakteer, en waar ’n skyn opsetlik of nalatig deur die prinsipaal verwek word dat die verteenwoordiger gemagtig is, terwyl dit nie werklik die geval is nie. Wanneer sodanige onskuldige derde dan op grond van die skynverwekking tot sy nadeel handel, word die prinsipaal deur estoppel verhoed om gebondenheid aan die ooreenkoms te ontken en op die ware toedrag van sake te steun (sien African Life Assurance Company Ltd v NBS Bank Ltd 2000 1 All SA 545 (T) 560-2; Freeman and Lockyer v Backhurst Park Properties (Mangal) Ltd 1964 1 All ER 630 (CA); Cassim e.a. 2012:189–91; Cilliers en Benade 2000:193; McLennan 1979:347; sien ook Christie 2011:28–30). Voorts is estoppel ’n verweer – nie ’n eisoorsaak nie – en vereistes vir die aanwending van die leerstuk van estoppel is ook strenger as dié vir die toepassing van die Turquand-reël (Du Plessis 1991:291).

Die Turquand-reёl is ’n selfstandige billikheidsreël van die maatskappyereg (Henning en Du Plessis 1993:345). Dié beginsel is beskryf in die Engelse saak van Royal British Bank v Turquand 1856 6 E & B; 119 ER 886 en het ten doel om bona fide-derdes wat met maatskappye kontrakteer, se ondersoekplig na die interne bestuursvereistes van die maatskappy binne redelike perke te hou. Die beginsel is in die Suid-Afrikaanse reg gevestig in The Mine Workers’ Union v Prinsloo 1948 3 SA 831 (A). Dit het histories ten doel gehad om die streng werking van die leerstuk van toegerekende kennis te temper (Henning en Du Plessis 1993:346; Oosthuizen 1979:6).

Die probleme met die interpretasie en toepassing van dié twee regsfigure het waarskynlik ontstaan deurdat die howe te veel en foutiewelik staat gemaak het op beslissings in die Engelse reg (Oosthuizen 1979:9; Trust Bank van Afrika Beperk v Eksteen 1964 3 All SA 507 (A) 510). Een van die problematiese aspekte van die uitspraak is dat daar nie ’n duidelike onderskeid tussen die leerstuk van estoppel en die Turquand-reёl gehandhaaf word nie (Oosthuizen 1979:6). Hierdie bespreking sal dus die uitspraak ontleed en poog om ’n alternatiewe interpretasie te verskaf wat die twee regsfigure behoorlik onderskei en verduidelik.

 

2. One Stop-saak

2.1 Feite en bevel

Hierdie saak handel oor die aansoek deur die applikant (One Stop) vir die voorlopige likwasie van die respondent (Neffensaan) (par. 1). Die aansoek is nie deur die respondent geopponeer nie, maar wel deur een van die respondent se krediteure, CRL Trust (parr. 1, 4).

Die applikant se aansoek is gebaseer op drie beweerde ooreenkomste wat tussen die applikant en die respondent gesluit is. Die eerste van hierdie ooreenkomste het bepaal dat die respondent as borg verbind is vir gelde ten bedrae van R1,35 miljoen wat aan die Molco Development Trust (Molco Development) geleen is ingevolge ’n skriftelike ooreenkoms gedateer 2 Maart 2011. Die tweede ooreenkoms waarop die applikant steun, is ’n leningsooreenkoms ten bedrae van R150 000 wat deur die applikant aan die respondent geleen is. Ingevolge ’n derde ooreenkoms, gedateer 5 Maart 2012, is ’n bedrag van R233 420 aan die respondent geleen (par. 1). Tydens die sluiting van bogenoemde ooreenkomste het die direksie van die respondent uit drie lede bestaan, naamlik mnre. Coetzee, Moller en Bock. Al drie ooreenkomste is deur Moller onderteken. Coetzee het die tweede ooreenkoms as ’n getuie geteken. Dit is ’n aanvaarde feit dat Coetzee te alle tye bewus was van vermelde borgooreenkoms en die ander leningsooreenkoms. Die respondent se betalingsverpligting ingevolge die ooreenkomste het onderskeidelik op 9 Mei 2011, 31 Januarie 2012 en 30 April 2012 ontstaan (par. 2). Sedert die aanvang van die voorlopige likwidasieaansoek op 7 November 2014 het verskeie samesprekings tussen die applikant en die respondent plaasgevind. Sonder dat enige skikking bereik is, het die respondent sy kennisgewing om die aansoek te opponeer, onttrek. In die lig hiervan het CRL Trust, waarvan Moller een van die trustees was, die hof suksesvol versoek om tot die aansoek toe te tree (par. 4).

CRL Trust het die aansoek geopponeer met die uitgangspunt dat Moller en Coetzee nie deur die respondent gemagtig was om die borgooreenkoms en die leningsooreenkomste namens die respondent aan te gaan nie (par. 7). Een van die direkteure, mnr. Bock, het na bewering geen kennis van enige van die drie ooreenkomste gedra nie tot net voor die aanvang van die likwidasieverrigtinge wat deur die applikant ingestel is (par. 13).

Op 31 Julie 2007 het CRL Trust onroerende eiendom aan die respondent verkoop vir R6 miljoen. As deel van die koopprys was die respondent verplig om aandele in die respondent aan CRL Trust uit te reik (par. 7). Die inskrywingsooreenkoms wat die aandelebesit in die respondent gereël het, het bepaal dat die akte van oprigting van die respondent gewysig moet word om dit in ooreenstemming met die bepalings van die inskrywingsooreenkoms te bring. In geval van teenstrydighede tussen die bepalings van die inskrywingsooreenkoms en die akte van oprigting sou die bepalings van die inskrywingsooreenkoms voorrang geniet. Verder het die inskrywingsooreenkoms bepaal dat elke aandeelhouer wat meer as 20 aandele hou, geregtig was om een direkteur in die direksie van die respondent te verkies. Die kworum vir direksievergaderings van die respondent was minstens twee direkteure waarvan een ’n direkteur moet wees wat aangestel is deur Kuismansbaai (Edms.) Bpk., wat ’n houer van 63,12% van die uitgereikte aandelekapitaal in die respondent was, en die ander direkteur aangestel deur CRL, ’n houer van 0,71% van die uitgereikte aandelekapitaal in die respondent. Besluite sou geldig wees slegs indien dit aangeneem is deur die meerderheid van direkteure wat teenwoordig is ten tye van die direksievergadering. ’n Besluit wat onderteken is deur al die direkteure van die respondent sou geag word geldig te wees asof die besluit op ’n behoorlik saamgestelde direksievergadering geneem is. Behalwe die kooptransaksie tussen die respondent en CRL Trust wat op 31 Julie 2007 gesluit is, waartoe magtiging aan Moller verleen is, is geen direkteure, aandeelhouers, amptenare en werknemers van die respondent gemagtig om die respondent te bind tot die transaksies wat in klousule 13.9 van die inskrywingsooreenkoms gelys word nie. Die direkteure is voorts verbied om enige transaksie soos beoog in klousule 13.9 voor te stel, toe te laat of te magtig tensy die toestemming van al die aandeelhouers vooraf verkry is. Klousule 13.9 van die inskrywingsooreenkoms het onder andere verwys na die aangaan van langtermynskulde en ander lenings verwant aan eiendomsontwikkeling, asook die uitreik van waarborge en borgstellings van ’n buitengewone aard (par. 8).

Die vraag voor die hof is of die Turquand-reël en artikel 20(7) van die Maatskappywet 71 van 2008 die respondent verhoed om te steun op Moller se gebrek aan magtiging om in die bogenoemde ooreenkomste namens die respondent op te tree (par. 8). Die kwessie met betrekking tot artikel 20(7) van die Maatskappywet is op slegs die twee leningsooreenkomste van toepassing, aangesien die borgooreenkoms gesluit is voor die inwerkingtreding van die Maatskappywet op 1 Mei 2011 (par. 19). Die respondent se akte van oprigting is nie voor die hof geplaas nie (par. 20).

Die applikant se aansoek word met koste van die hand gewys.

2.2 Uitspraak

Die hof (parr. 5, 7) bevestig die beginsel dat ’n applikant die onus dra om ’n prima facie-saak vir ’n voorlopige likwidasiebevel uit te maak alvorens sodanige bevel verleen sal word. Selfs al maak die applikant ’n prima facie saak uit, sal die aansoek afgewys word indien die respondent kan aantoon dat daar ’n bona fide-dispuut gebaseer op redelike gronde bestaan met betrekking tot die eisoorsaak waarop die applikant steun. Die hof benadruk dit verder dat die likwidasieproses nie misbruik mag word om ’n eis af te dwing nie (par. 6).

Die hof wys daarop dat die plig van ’n derde wat met ’n maatskappy handel, ingevolge die Turquand-reël nie verder strek as om die maatskappy se akte van oprigting te lees nie. Die doel van die Turquand-reël is om die onbillike gevolge van die leerstuk van toegerekende kennis teen te werk. Die Turquand-reël behels dat indien die akte van oprigting – in stede daarvan om die aangaan van ’n sekere transaksie te verbied – magtiging verleen om sodanige transaksie aan te gaan onderhewig aan die nakoming van ’n interne vereiste, die derde kan aanneem dat die interne vereiste nagekom is (par. 21). Volgens die hof gee die Turquand-reël uitvoering aan die beginsel dat daar nie van derdes vereis word om kennis te neem van die interne bestuursreёls van ’n maatskappy nie (par. 22). Die hof maak die belangrike opmerking dat die toepassing van die Turquand-reël nie beperk is tot maatskappye nie. Die Turquand-reël gee uitvoering aan die geykte beginsel in die verteenwoordigingsreg dat derdes beskerm behoort te word teen die interne beperkings wat aan ’n voorgestelde verteenwoordiger se magtiging opgelê word (par. 23). Deur op regspraak in Engeland en Australië te steun, kom die hof tot die gevolgtrekking dat die Turquand-reël ’n verskyningsvorm is van skynbare volmag wat deel vorm van die estoppel-leerstuk (par. 25).

Die regter (par. 26) bespreek die beginsels met betrekking tot die verteenwoordiging van maatskappye in gevalle waar werklike volmag ontbreek, aan die hand van die volgende vier voorbeelde wat moontlik in die akte van oprigting van ’n maatskappy kan voorkom.

In voorbeeld 1 word ’n transaksie buite die magtiging van ’n persoon Y geplaas. In voorbeeld 2 word aan ’n persoon Y werklik magtiging verleen om ’n transaksie namens ’n maatskappy te sluit, maar hierdie magtiging is onderhewig aan ’n interne vereiste, soos die verkryging van die goedkeuring van aandeelhouers. Voorbeeld 3 maak voorsiening vir die delegasie van magtiging aan ’n persoon (Y), maar die magtiging was nooit aan Y gedelegeer nie, of in die alternatief was die delegasie onderhewig aan sekere voorwaardes of beperkinge. In voorbeeld 4 word daar in die akte van oprigting voorsiening gemaak vir die aanstelling van direkteure of ’n besturende direkteur, maar die aanstelling word nooit gedoen nie, alhoewel persone toegelaat word om op te tree as de facto-direkteure of as ’n de facto besturende direkteur. Volgens die hof kan voorbeeld 4 as ’n spesie van voorbeeld 3 beskou word.

Indien die maatskappy in enige van die bogenoemde voorbeelde ’n persoon (Y) se werklike volmag ontken, sal die derde (X) op die leerstuk van estoppel kan steun op sterkte van voorstellings wat deur die maatskappy gemaak is. Die hof verduidelik omdat die akte van oprigting van ’n maatskappy ’n openbare dokument is, word kennis van die inhoud daarvan ’n derde party toegereken. Daarom sal ’n maatskappy nie vir doeleindes van voorbeeld 1 gebonde gehou word nie, aangesien die derde party (X) in die akte van oprigting kan vasstel dat (Y) geen magtiging gehad het nie. Wat betref die ander drie voorbeelde kon ’n derde persoon (X) nie sonder verdere aanneem dat (Y) oor die nodige magtiging beskik het om die maatskappy te verteenwoordig nie (par. 27). Die toepassing van die Turquand-reël versag die effek van die leerstuk van toegerekende kennis in die ander drie voorbeelde. Tensy die derde party (X) mala fide opgetree het of daar omstandighede teenwoordig was wat op die teendeel dui, kan die derde party (X) op grond van die Turquand-reël aanvaar dat die interne vereistes, soos gestel in voorbeelde 2, 3 en 4, nagekom is. Die Turquand-reël troef die toepassing van die leerstuk van toegerekende kennis in voorbeelde 2, 3 en 4 (par. 28). Die derde party (X) moet bewys dat die verteenwoordiger van die maatskappy oor skynbare volmag beskik. In voorbeeld 2 noem die hof dat die direkteure oor die volmag beskik, maar dat sekere transaksies soms onderhewig kan wees aan die goedkeuring van aandeelhouers. Omdat die direksie gewoonlik oor die volmag beskik om namens die maatskappy te handel, sal dit redelik wees indien ’n derde party aanneem dat die direksie gemagtig is om namens die maatskappy te handel. Die hof merk op dat daar nie van ’n derde party in X se posisie verwag word om die nakoming van die voorwaardes van die direksie te ondersoek nie, en skynbare volmag is duidelik van toepassing. In hierdie gevalle kan ’n saak bereg word op grond van die skynbare volmag van die direksie. Die hof beaam die standpunt dat die aandeelhouers van ’n maatskappy ’n skyn kan verwek dat die direksie of ander persone wat die maatskappy bedryf, oor volmag beskik (par. 29). Daar moet op gelet word dat ’n derde nie vir die toepassing van die Turquand-reël en estoppel kan aanneem dat ’n enkele direkteur oor skynbare volmag beskik nie (par. 30). Wanneer die akte van oprigting vir die aanstelling van ’n besturende direkteur voorsiening maak, kan by die aanstelling van die besturende direkteur aanvaar word dat hy beklee is met die magtiging wat gewoonlik met die amp gepaard gaan, behalwe in gevalle waar die magtiging van die besturende direkteur in die akte van oprigting beperk word (par. 31). Dieselfde beginsel kan ook geld vir sekere ander uitvoerende beamptes en werknemers (par. 32). ’n Derde party is onder geen verpligting om die interne bestuursaspekte of vereistes te ondersoek of te verifieer nie (par. 31). In die reël kan aangeneem word dat ’n enkele direkteur nie oor die magtiging beskik om die maatskappy te verteenwoordig nie. Die feit dat die akte van oprigting voorsiening maak vir die delegasie van die mag om die maatskappy te verteenwoordig, beteken nie dat ’n derde party kan aanneem dat die mag aan enige persoon gedelegeer is nie. Hierdie beginsel geld ook in gevalle waar die akte van oprigting voorsiening maak vir die delegasie van die direksie se magte aan ’n enkele direkteur. Om skynbare volmag aan die kant van die maatskappy se voorgestelde verteenwoordiger te bewys, moet bewys word dat die maatskappy die skyn verwek het dat die voorgestelde verteenwoordiger oor die volmag beskik het om die maatskappy te verteenwoordig. Die hof maak die opmerking dat ofskoon ’n derde party geag word kennis te hê van die inhoud van die akte van oprigting van die maatskappy, dit nie beteken dat die derde party werklik oor kennis van die akte van oprigting beskik nie. Indien die derde party nie oor werklike kennis van die akte van oprigting beskik nie, kan die derde nie op die akte van oprigting steun om ’n skyn aan die kant van die maatskappy te bewys nie. Vir die laasgenoemde standpunt steun die hof op die Freeman-saak as gesag (par. 33).

Volgens die hof is die Turquand-reël slegs van toepassing in gevalle waar die derde party skynbare volmag kan bewys. Dit beken dat X in voorbeeld 2 op die bepalings in die akte van oprigting moet ag geslaan het en as gevolg van die werking van die leerstuk van toegerekende kennis navraag moes gedoen het oor nakoming van die voorwaarde of die delegasie van magtiging in voorbeeld 3, of die formele aanstelling van direkteure of ’n besturende direkteur. Die Turquand-reël is van toepassing indien ’n verdere interne organisatoriese handeling nodig is om die magtiging te bewerkstellig (par. 41).

Omdat die akte van oprigting van die maatskappy nie voor die hof geplaas is nie, kom die leerstuk van toegerekende kennis en die Turquand-reël nie ter sprake nie. Die saak is slegs op grond van skynbare volmag beslis (par. 42). Op grond van die feit dat Moller en Coetzee nie die maatskappy op hul eie kon verteenwoordig nie, kon die sluiting van die borgkontrak nie geldig wees nie (par. 43). Die hof beslis verder dat die applikant nie op skynbare volmag kan steun indien die applikant nie werklike kennis van die akte van oprigting het nie. Die applikant kon in hierdie saak nie bewys dat Moller en/of Coetzee skynbare volmag gehad het om die betrokke transaksies te sluit nie. Daar is geen bewyse dat Moller of Coetzee voorgehou is as die besturende direkteur van die maatskappy nie; of dat al die maatskappy se besigheid bedryf is met die volle wete van Bock nie. Die applikant het in die aansoek nie op skynbare volmag gesteun nie. Die applikant steun slegs daarop dat die applikant bona fide opgetree het met die indruk dat Moller op grond van sy amp as direkteur van die eerste respondent gemagtig was om die transaksies te sluit (par. 44). ’n Derde party kan nie steun op ’n voorstelling deur die beweerde verteenwoordiger om die maatskappy te bind nie. Daar kan egter ook nie daarop gesteun word dat die twee direkteure ’n kworum van ’n direksievergadering vorm nie (par. 45).

Die applikant het volgens die hof gefaal om te bewys dat Moller oor skynbare volmag beskik het om die borgooreenkoms namens die maatskappy te teken (par. 45). Die hof wys daarop dat al sou die akte van oprigting van die maatskappy bepaal dat borgooreenkomste van ’n ongewone aard is en ingevolge die maatskappy se akte van oprigting gemagtig sou moes word deur die vooraf verkreë geskrewe goedkeuring van alle aandeelhouers, daar geargumenteer kan word dat die Turquand-reël nie van toepassing is nie, aangesien die oorspronklike magtiging vir die aangaan van hierdie transaksies in die aandeelhouers setel en nie in die direksie nie. Die aard van die vereiste moes die derde party redelikerwys genoop het om verdere ondersoek na die nakoming van die vereiste te doen. Die Turquand-reël kon op die feite van hierdie saak toepassing gevind het slegs indien Moller skynbare volmag gehad het om die maatskappy te verteenwoordig (par. 46). Die hof het bevind dat die borgooreenkoms wat deur die applikant met die maatskappy gesluit is, van ’n ongewone aard is wat dus die eenstemmige voorafverkreë toestemming van die aandeelhouers vereis het (par. 47).

Gebaseer op artikels 20(7) en 20(8) van die Maatskappywet bevind die hof dat die wetgewer nie die gemeenregtelike weergawe van die Turquand-reël herroep het nie (par. 52). Die hof verwys na voorbeeld 1 en maak die opmerking dat die effek van die afskaffing van de leerstuk van toegerekende kennis is dat ’n persoon ’n maatskappy kan bind op grond van skynbare volmag, selfs in gevalle waar die magtiging van die besondere transaksie buite die omvang van die verteenwoordiger se magte val. Met die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis kan ’n maatskappy verbind word tot transaksies op grond van skynbare volmag wat dalk duidelik verbied word in die maatskappy se akte van oprigting. Die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis het geen effek op die Turquand-reël en artikel 20(7) nie (par. 53). Artikel 20(7) het geen verandering gebring aan die omstandighede waarin die artikel en die Turquand-reël toepassing vind nie (par. 54). Die Turquand-reёl laat nie toe dat ’n derde kan aanneem dat enige persoon gemagtig is om die maatskappy te verteenwoordig slegs vanweë die feit dat die akte van oprigting voorsiening maak vir die delegasie van magte nie. Die woorde “formal and procedural requirements” in artikel 20(7) moet volgens ’n obiter-opmerking van die hof gelees word in ooreenstemming met die gewone omvang van die Turquand-reël. Wanneer met net een direkteur van die maatskappy gehandel word, kan daar nie aanvaar word dat die magtiging van daardie direkteur slegs ’n formele of ’n prosedurele aangeleentheid is nie (par. 55). Volgens die hof bevestig artikel 20(7) die posisie in Wolpert v Uitzigt Properties Pty Ltd 1961 2 SA 257 (W) dat ’n persoon wat na bewering as die verteenwoordiger van ’n maatskappy optree, die maatskappy kan bind slegs indien die beweerde verteenwoordiger oor werklike of skynbare volmag beskik het (par. 56). Die hof het bevind dat daar geen getuienis was dat voorstellings gemaak is dat Moller en/of Coetzee gemagtig was om die bedrywighede van die eerste respondent te behartig nie (par. 57).

 

3. Bespreking

3.1 Die leerstuk van toegerekende kennis, regspersoonlikheid en die Turquand-reël

Die hof (parr. 23, 25) maak die obiter-opmerking dat die Turquand-reёl nie van toepassing is op ander besigheidsvorme, soos eenmansake en vennootskappe nie, omdat hierdie besigheidsvorme nie oor grondwette beskik waartoe die publiek toegang het nie. Die Turquand-reël beskerm ’n derde party deurdat ’n maatskappy byvoorbeeld nie die nienakoming van ’n interne vereiste kan opper as verweer om sodoende die maatskappy se gebondenheid aan ’n kontrak of ooreenkoms vry te spring nie (Henning 2006, par. 306). Oosthuizen (1977:216–7) wys daarop dat die Turquand-reël toegepas kan word in die afwesigheid van die leerstuk van toegerekende kennis. Hy is verder van mening (1977:217) dat die toepassingsveld van die Turquand-reël nie afhanklik gestel behoort te word van die regspersoonlikheid van die onderneming of vereniging nie. (Sien ook Henning 2006, par. 306; The Mine Workers’ Union v JJ Prinsloo; The Mine Workers’ Union v JP Prinsloo; The Mine Workers’ Union v Greyling 1948 3 SA 831 (A) vir die toepassing van die Turquand-reël op ’n geregistreerde vakbond; sien Henning en Du Plessis 1993:339–56 vir die toepassing van die Turquand-reël op ’n vennootskap; vir kommentaar m.b.t. die toepassing van die Turquand-reël op trusts sien Land and Agricultural Development Bank of SA v Parker [2004] 4 All SA 261 (HHA) par. 18; Nieuwoudt v Vrystaat Mielies (Edms.) Bpk. 2004 3 SA 486 (HHA); Van der Merwe v Hydraberg Hydraulics; Van der Merwe v Bosman 2010 5 SA 555 (WKK); Man Truck & Bus (SA) Ltd v Victor 2001 2 SA 562 (NK); Du Toit 2004:149 e.v.; McLennan 2006:329–35; Beukes 2004:264–70.)

3.2 Die vermoede ten gunste van reëlmatigheid en die Turquand-reël

Volgens die hof (par. 23) is die Turquand-reёl ’n verskyningsvorm van die vermoede ten gunste van reëlmatigheid. Die hof baseer hierdie standpunt op die Engelse uitspraak in Morris v Kanssen 1946 AC 459, 474–5. Hierdie stelling is nie heeltemal suiwer nie, aangesien dit nodig is om daarvan kennis te neem dat die vermoede ten gunste van reëlmatigheid en die Turquand-reёl in sekere belangrike opsigte van mekaar verskil. Die Turquand-reël is ’n selfstandige reël en nie ’n weerlegbare vermoede soos die vermoede ten gunste van reëlmatigheid nie (Oosthuizen 1979:7; Henning en Du Plessis 1993:345; sien ook Delport en Vorster 2015:98). ’n Maatskappy word kragtens die Turquand-reël gebonde gehou ofskoon daar bewys word dat die maatskappy se interne vereistes nie nagekom is nie (Oosthuizen 1979:7). Omdat dit nie altyd moontlik is dat ’n derde party wat sake met die maatskappy doen, kan vasstel of die interne vereistes van die maatskappy nagekom is of nie, vervul die Turquand-reël die funksie van ’n onweerlegbare vermoede (Oosthuizen 1979:7). Dit is wel so dat die vermoede ten gunste van reëlmatigheid goed gevestig is in die Suid-Afrikaanse verteenwoordigingsreg, maar hierdie beginsel kan in sommige gevalle in die maatskappyereg nie sonder die Turquand-reёl toegepas word nie. Die Turquand-reёl verleen erkenning aan die feit dat ’n derde party wat met ’n maatskappy handel, gewoonlik nie kennis kan dra oor die nakoming of nienakoming van interne bestuursreёls of vereistes in ’n maatskappy nie.

3.3 Die leerstuk van estoppel

Die basis waarop die maatskappy gebonde gehou kan word in die voorbeeld waarna die hof (parr. 31, 32) verwys, is estoppel of skynbare volmag. Die hof se verwysing in One Stop na die Turquand-reёl in hierdie voorbeeld is foutief en onnodig. Aangesien die hof in One Stop nie die voordeel gehad het van die konstitusionele hof se uitspraak in Makate v Vodacom (Pty) Ltd 2016-04-26 saaknr. CC T52/15 (KH) nie, word aanvaar dat die uitgangspunt van die hof was dat skynbare volmag ’n verskyningsvorm van estoppel is. Daar moet wel kennis geneem word van die standpunt in Makate dat alhoewel skynbare volmag en die leerstuk van estoppel wel in ’n mate kan oorvleuel, ’n onderskeid tussen die twee beginsels gemaak moet word (sien parr. 44, 49, 50; 52, 75). Hierdie standpunt is vatbaar vir kritiek soos uiteengesit deur regter Wallis in die minderheidsuitspraak in Makate. Volgens regter Wallis is skynbare volmag en die leerstuk van estoppel in beginsel – en gebaseer op die heersende Suid-Afrikaanse gesag – dieselfde, en ’n onderskeid behoort nie tussen hierdie twee beginsels gemaak te word nie (par. 110). Alhoewel die meerderheid- en minderheidsuitsprake van die konstitusionele hof verskillende standpunte ingeneem het daaroor of skynbare volmag as ’n vorm van estoppel beskou kan word, sou dit en het dit geen effek gehad op die bevel wat deur die hof toegestaan is nie. Vanuit ’n akademiese oogpunt verdien die beredenering van die verskillende regters se benadering in Makate verdere ontleding en evaluering. Dit is belangrik om daarop te let dat selfs al is die Makate-uitspraak na die uitspraak in One Stop gelewer, die Makate-saak nie noodwendig die geldigheid van die kritiek met betrekking tot One Stop verander nie. In Makate was die hof gemoeid met die oorvleueling van die leerstuk van estoppel en skynbare volmag, terwyl die hof in One Stop en hierdie bespreking meer klem lê op die oorvleueling tussen die leerstuk van estoppel en die Turquand-reël.

Om suksesvol te kan steun op die leerstuk van estoppel, moet ’n derde bewys dat die maatskappy as prinsipaal ’n voorstelling gemaak het deur woorde of gedrag op ’n wyse wat die maatskappy redelikerwys verwag het ’n buitestander sou noop om op sterkte van die voorstelling op te tree; dat sodanige optrede deur die derde op sterkte van die voorstelling redelik is; en dat die optrede van die derde ’n nadelige gevolg vir hom/haar sou inhou (NBS Bank Ltd v Cape Produce Co (Pty) Ltd 2002 1 SA 396 (HHA) par. 26; Cassim e.a. 2012:189–91; Cilliers en Benade 2000:193; sien Christie en Bradfield 2011:28–30 vir ’n bespreking van die vereistes en toepassing van die leerstuk van estoppel in die konteks van die kontraktereg).

Die hof (par. 44) wys daarop dat die applikant nie bewus was van die bepalings van die akte van oprigting nie. Die hof beslis dan verder dat die applikant daarsonder nie eens kan begin om ’n saak van skynbare magtiging daar te stel nie. Die ware posisie is dat dit onnodig is dat die derde die akte van oprigting moes bestudeer het ten einde staat te kon maak op die Turquand-reël (The Mine Workers Union 849; Oosthuizen 1979:9). Die hof (par. 44) verwys na die Freeman-uitspraak en maak die stelling dat voorstelling van die skynbare volmag apart van die maatskappy se akte van oprigting gemaak moet word. Hierdie stelling strook met die argument dat die Turquand-reël en skynbare volmag (estoppel) as aparte reëls beskou moet word.

Die Freeman-beslissing dien as ’n duidelike illustrasie van die omstandighede waarin die toepassing van die leerstuk van estoppel en die Turquand-reël kan oorvleuel. Sommige skrywers is van oordeel dat die leerstuk van estoppel die basis gevorm het vir die aanspreeklikheid van die verweerder-maatskappy. Cilliers en Benade (2000:194) is van mening dat die omstandighede in Freeman van so ’n aard was dat die toepassing van beide die Turquand-reël en die leerstuk van estoppel as basis kon dien om die aanspreeklikheid van die verweerder te regverdig.

Die hof se uitspraak (par. 440) is twyfelagtig. Die vereiste van ’n voorstelling deur die maatskappy (parr. 44, 45) dat die verteenwoordiger gemagtig was, is problematies. Dit is nie ’n vereiste van die Turquand-reёl dat daar ’n skynverwekking deur die maatskappy moet wees nie (Henning en Du Plessis 1993:348; Oosthuizen 1979:9). Die foutiewe vermenging van die vereistes van die Turquand-reël en estoppel word duidelik in hierdie uitspraak geïllustreer (par. 29). Hoe en wanneer is daar voldoening aan sodanige voorstelling? Die maatskappy self kan dit tog nie voorstel nie. Dit kan slegs deur die direkteure van die maatskappy gedoen word (art. 66 van die Maatskappywet), en die derde onderhandel dan normaalweg juis met die direkteur(e). Die vraag behoort te wees of die persoon met wie onderhandel word, inderdaad ’n gemagtigde direkteur/verteenwoordiger is van die maatskappy al dan nie. Indien die direkteur of verteenwoordiger wel gemagtig is, is die Turquand-reёl van toepassing waar daardie magtiging onderhewig is aan die nakoming van ’n interne vereiste. Indien nie, kan daar, afhangende van omstandighede en die feite, gekyk word na estoppel of ander toepaslike beginsels.

Alhoewel ’n enkele direkteur in die reël nie ’n maatskappy kan bind tot ’n transaksie of ooreenkoms nie, kan só ’n direkteur, afhangend van die omstandighede van die geval, ’n maatskappy bind op grond van die leerstuk van estoppel. Die maatskappy kan ’n voorstelling maak aan ’n derde dat ’n enkele direkteur wel die magte het om die maatskappy te bind deur die direkteur in ’n besondere of spesifieke amp aan te stel, soos as besturende direkteur of hoof uitvoerende beampte (sien ook Makate as voorbeeld; sien Panorama Developments (Guildford) Ltd v Fidelis Furnishing Fabrics Ltd [1971] 2 QB 711, 716 t.o.v. die posisie van die maatskappysekretaris). Hierdie aanstellings kan soms problematies wees aangesien die werklike magtiging waaroor persone in hierdie aanstellings beskik, kan verskil van die indruk wat by derde persone geskep word. In sommige omstandighede kan daar selfs ’n plig ontstaan dat die maatskappy die beperkinge op die betrokke amptenaar se magte aan die derde kommunikeer. Hierdie argument word versterk deur die wetgewer se erkenning van die regte, pligte en bevoegdhede van voorgeskrewe beamptes (sien definisie van “prescribed officer” in art. 1 asook die verwysing na voorgeskrewe beamptes in art. 76 van die Maatskappywet).

3.4 Die oorvleueling van die Turquand-reël en estoppel

Die hof se beslissing dat die Turquand-reёl ’n toevoeging is tot skynbare volmag (par. 25), wat weer op sy beurt ’n besondere verskyningsvorm van estoppel is, is vatbaar vir kritiek. Beide die leerstuk van estoppel en die Turquand-reël kan ’n grondslag bied vir die gebondenheid van ’n maatskappy aan ’n kontrak indien die verteenwoordiger van die maatskappy nie gemagtig was om die ooreenkoms of kontrak aan te gaan nie (Oosthuizen 1979:9; Du Plessis 1991:290–2). Alhoewel die omstandighede kan oorvleuel waarin skynbare volmag (of die leerstuk van estoppel) en die Turquand-reël toepassing vind, kan die Turquand-reёl nie as ’n vorm van skynbare volmag beskou word nie (Du Plessis 1991:290–1; Oosthuizen 1979:9). Die oorsprong en doel van die leerstukke verskil wesenlik, asook die vereistes vir die bewys van die onderskeie leerstukke – die bewyslas ten opsigte van estoppel is aansienlik moeiliker as dié van die Turquand-reёl (Oosthuizen 1979:9–10; Du Plessis 1991:291). Dit is dus vir ’n eiser of applikant voordeliger om sy eis op die Turquand-reёl te baseer. Alhoewel die leerstuk van estoppel in die meeste gevalle voldoende beskerming aan derdes bied, maak dit nie voorsiening vir daardie omstandighede of gevalle waar die derde party bewus is van ’n beweerde agent se gebrek aan magtiging weens een of ander interne vereiste nie (Henning 2006, par. 306). In hierdie omstandighede sal die derde party homself, weens sy kennis van die interne vereiste, nie op die leerstuk van estoppel kan beroep nie (Henning 2006, par. 306). Weens die derde se posisie is dit vir hom of haar baie moeilik, of selfs onmoontlik, om vas te stel of die interne vereiste waaraan die magtiging van die verteenwoordiger of agent met wie hy handel, onderhewig is, behoorlik nagekom is (Henning 2006, par. 306). In sodanige geval is die Turquand-reёl die enigste reël waarop die derde hom kan beroep om die maatskappy (of enige ander ondernemingsvorm) gebonde aan die ooreenkoms te hou (Henning 2006, par. 306). Die Turquand-reёl is verder ’n afsonderlike, selfstandige regsreël spesifiek ingestel vir die maatskappyereg om die ondersoekplig van bona fide-derdes te verminder en, histories, om die streng werking van die leerstuk van toegerekende kennis te temper (Oosthuizen 1979:6–7; Henning en Du Plessis 1993:346). Vir die standpunt dat die Turquand-reёl as ’n vorm van skynbare volmag gesien kan word, steun die hof op ’n reeks buitelandse beslissings wat Engelse regspraak insluit. Oosthuizen (1979:6–7) wys daarop dat die beginsels rakende estoppel en Turquand in die Engelse reg verkeerdelik vermeng is en dat hierdie verkeerdelike vermenging van die beginsels herhaaldelik oorgedra is na die Suid-Afrikaanse reg.

3.5 Versuim deur die hof om duidelik te onderskei tussen voorbeelde 3 en 4

In die behandeling van die voorbeelde genoem in die uitspraak, maak die hof die stelling dat voorbeeld 4 gesien kan word as ’n spesie van voorbeeld 3 (parr. 26–28). Hierdie stelling van die hof is verwarrend en verdien verdere toeligting. Die groot verskil tussen voorbeelde 3 en 4 lê daarin dat die identiteit van die verteenwoordiger in voorbeeld 3 bekend is. In voorbeeld 4 maak die akte van oprigting net voorsiening vir die aanstelling van ’n besturende direkteur. In voorbeeld 4 kan ’n derde party wat met die maatskappy sake doen, nie bloot aanneem dat die persoon met wie hy handel die aangestelde besturende direkteur is nie. Die Turquand-reël is van toepassing op voorbeeld 3, maar kan nie op gesteun word in die omstandighede soos uiteengesit in voorbeeld 4 nie. Die maatskappy in voorbeeld 4 kan gebonde gehou word slegs indien bewys word dat die betrokke verteenwoordiger oor skynbare volmag beskik het en voorgestel is as die aangestelde besturende direkteur van die maatskappy.

3.6 Die oorspronklike mag van direkteure om die maatskappy te bestuur

Deur na Rolled Steel Products (Holdings) Ltd v British Steel Corporation 1968 Ch 246 (CA) te verwys, bevind die hof dat ’n derde party wat met die maatskappy handel, mag aanvaar dat die direksie gemagtig is om namens die maatskappy op te tree. In hierdie opsig is dit jammer dat die hof nie liewer na artikel 66(1) van die Maatskappywet verwys het nie. Hierdie artikel maak dit duidelik dat die direksie die bevoegdheid en plig het om die besigheid en sake van ’n maatskappy te bedryf. Die posisie ingevolge die 2008-wet verskil van dié ingevolge die 1973-wet waarkragtens die bestuursbevoegdhede vanaf die aandeelhouers aan die direksie gedelegeer is. Kragtens die 2008-wet setel die oorspronklike bevoegdheid vir die bestuur van die besigheid en sake van ’n maatskappy in die direksie en is dit nie meer ’n gedelegeerde bevoegdheid soos voorheen nie (Navigator Property Investments (Pty) Ltd v Silver Lakes Crossing Shopping Centre (Pty) Ltd2014 JOL 32101 (WKK)). Hierdie verandering in die oorsprong van die bevoegdheid behoort ’n wesenlike verskil te maak aan die toepassing en interpretasie van die Turquand-reёl ná inwerkingtreding van die Maatskappywet, veral saamgelees met artikel 20(7) van die wet. Artikel 66(1) maak voorsiening daarvoor dat sekere bestuursmagte ooreenkomstig die akte van oprigting wel vir aandeelhouers gereserveer kan word, maar weens die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis sal bepalings van sodanige aard geen effek hê op die maatskappy se eksterne verhoudinge nie (art. 19(4) gelees met art. 20).

Die feit dat die direksie van ’n maatskappy oor die oorspronklike gesag beskik om ’n maatskappy se sake te bestuur, hou belangrike implikasies vir die toepassing van die leerstuk van estoppel in. Vroeër is reeds daarop gewys dat een van die vereistes van estoppel is dat daar bewys moet word dat die prinsipaal ’n voorstelling moet gemaak het dat ’n persoon oor skynbare magtiging beskik het om die prinsipaal te verteenwoordig. In One Stop wys die hof (par. 29) daarop dat so ’n voorstelling deur die maatskappy se aandeelhouers gemaak mag word. Omdat die bevoegdheid om die besigheid van ’n maatskappy te bestuur nie meer ’n bevoegdheid is wat deur die aandeelhouers aan die direksie gedelegeer word nie, moet die stelling van die hof (par. 29) met ’n knippie sout geneem word. Die aandeelhouers is nie gemagtig om namens die maatskappy op te tree nie. ’n Derde party kan nie, gebaseer op ’n voorstelling deur die aandeelhouers daarvan, ’n maatskappy op grond van estoppel gebonde hou nie.

3.7 Estoppel en die ongemagtigde verteenwoordiger

Die hof se stelling (par. 53) moet binne konteks verstaan word. Hier wys die hof daarop dat die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis nou tot gevolg het dat ’n ongemagtigde verteenwoordiger ’n maatskappy kan bind tot ’n kontrak selfs indien die akte van oprigting die transaksie buite die omvang van die verteenwoordiger se magte plaas. Die hof se uiteensetting van die regsposisie in hierdie opsig benodig verdere verduideliking. Eerstens, selfs voor die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis, is die leerstuk van estoppel as grondslag gebruik om maatskappye gebonde te hou in omstandighede waar die verteenwoordiger van die maatskappy nie oor werklike magtiging beskik het nie. Natuurlik kan die derde party hom of haar beroep op die leerstuk van estoppel slegs indien al die vereistes van estoppel teenwoordig is. Tweedens moet die hof se opmerking (par. 53) nie verwar word met daardie gevalle waar ’n verteenwoordiger strydig met ’n maatskappy se doelstellingsklousule in die maatskappy se akte van oprigting optree nie, en daarom nie oor magtiging beskik nie. In hierdie gevalle kan ’n maatskappy nie as verweer opper dat ’n verteenwoordiger se magtiging gebrekkig is op grond daarvan dat die maatskappy self nie oor die vermoë beskik het om die transaksie te sluit nie vanweë die beperking in die maatskappy se akte van oprigting. Die regsbasis vir die maatskappy se gebondenheid in hierdie gevalle is nie estoppel nie, maar statutêr, tesame met die toepassing van die beginsels van die verteenwoordigingsreg (sien art. 19(1)). ’n Maatskappy kon selfs nie ooreenkomstig die Maatskappywet 61 van 1973 (art. 36) ’n gebrek aan magtiging van ’n verteenwoordiger as verweer opper indien die gebrek slegs toegeskryf kon word aan die feit dat die betrokke transaksie strydig was met die doelstellingsklousule(s) van die maatskappy se akte en statute nie.

Die afskaffing van die leerstuk van toegerekende kennis, gelees saam met artikel 19, het die effek dat ’n uitdruklike beperking op ’n verteenwoordiger se magtiging in die akte van oprigting nie outomaties in ag geneem kan word ten einde die bona fide-optrede, of die redelikheid van die derde se optrede, op sterkte van die maatskappy se voorstelling te beoordeel nie. Sodanige beperking kan wel in ag geneem word indien werklike kennis van die beperking(s) op die verteenwoordiger se magtiging aan die kant van die derde party bewys kan word.

3.8 ’n Enkele direkteur as verteenwoordiger: ’n voorstel

Wanneer die hof (par. 30) die regsposisie behandel waar ’n derde party met ’n enkele direkteur handel, wys die hof tereg daarop dat ’n onderskeid gemaak moet word tussen wanneer ’n derde met ’n enkele direkteur handel en wanneer die hele direksie namens die maatskappy optree. Die verteenwoordiging van ’n maatskappy deur ’n enkele direkteur kan gesien word as 'n spesie van voorbeeld 4 waarna die hof in sy uitspraak verwys. Dit is ook belangrik om ag te slaan op die bepalings van artikel 66(1) van die Maatskappywet, wat bepaal dat die direksie die magtiging het om al die bevoegdhede uit te oefen en die funksies te behartig van die maatskappy.

Die gesag en magtiging om ’n maatskappy te bestuur en te verteenwoordig setel in die direksie van ’n maatskappy. Die direkteure moet hul magte en gesag gesamentlik as ’n direksie uitoefen (Delport en Vorster 2015:250). ’n Enkele direkteur is nie by magte om ’n maatskappy tot ’n transaksie te bind tensy hy of sy behoorlik daartoe gemagtig is deur ’n direksiebesluit of die akte van oprigting van die maatskappy nie. Dit is nie ongewoon dat die maatskappy se akte van oprigting voorsiening maak vir die magtiging van ’n enkele direkteur om die maatskappy te verteenwoordig nie. So ’n bepaling laat ’n derde nie toe om aan te neem dat enige lid van die direksie ingevolge sodanige bepaling aangestel is om die maatskappy te verteenwoordig nie (Wolpert).

Gewoonlik kan ’n enkele direkteur nie ’n maatskappy verteenwoordig nie, tensy die direkteur behoorlik daartoe gemagtig is, of die skyn deur die maatskappy geskep word dat die spesifieke direkteur gemagtig is. Daar word aanvaar dat die hof (par. 54) bedoel dat daar geen beperkings op die magte van die verteenwoordigers is nie, en ook nie op die bevoegdhede van die maatskappy nie. In voorbeeld 1 sal die maatskappy ingevolge die huidige wet nie kan argumenteer dat die maatskappy se verteenwoordiger(s) se magtiging gebrekkig was omdat die betrokke ooreenkoms of transaksie buite die bevoegdhede of doelstellings van die maatskappy geval het nie.

Om die posisie rakende die verteenwoordiging van maatskappye deur direksielede te vereenvoudig word die voorstel gemaak dat daar oorweging aan geskenk moet word om ’n bepaling soortgelyk aan artikel 54 van die Wet op Beslote Korporasies 69 van 1984 in die Maatskappywet te inkorporeer. ’n Soortgelyke bepaling, met die nodige aanpassings, in die wet, sal die posisie rakende die verteenwoordiging van maatskappye deur ’n enkele direkteur vereenvoudig (McLennan 1997:335-6). Sodra ’n derde party vasgestel het dat hy of sy te make het met ’n direkteur van ’n maatskappy, kan die derde party aanvaar dat die direkteur behoorlik gemagtig is om die maatskappy te verteenwoordig. Met die beginsel dat die lede van ’n direksie die bevoegdhede en magte wat aan hulle opgedra is, gesamentlik moet uitoefen en met die bepaling in artikel 66(11) dat die geldigheid van ’n direksie se optrede nie beïnvloed word wanneer die direksie ten tye van die uitoefening van ’n bevoegdheid nie uit die minimum getal lede in die direksie van die maatskappy bestaan het nie, sal die aanvaarding van ’n bepaling soortgelyk aan artikel 54 van die Wet op Beslote Korporasies goed te pas kom.

Alhoewel die aanvaarding van so ’n bepaling gerief en sekerheid sal bevorder vir partye wat met maatskappye handel, kom dit wel teen ’n prys, naamlik dat ’n direkteur ’n maatskappy kan bind tot kontrakte wat nie noodwendig die goedkeuring van die mededirekteure wegdra nie. Dit kan ook verder wegkalwe aan die beskerming wat tans aan aandeelhouers verleen word. Dit sal ook verg dat aandeelhouers en lede van die direksie die nominasie en aanstelling van lede in die maatskappy se direksie sorgvuldig moet oorweeg en behoorlike stappe moet doen om te verseker dat die nodige korporatiewe beheerstelsels geïmplementeer word. Tans is die posisie dat ’n enkele direkteur nie as ’n maatskappy se verteenwoordigermag optree nie, tensy die direkteur behoorlik daartoe gemagtig is kragtens die maatskappy se akte van oprigting of ’n direksiebesluit. ’n Enkele direkteur sal ook ’n maatskappy tot ’n kontrak of ooreenkoms kan bind indien al die elemente van die leerstuk van estoppel teenwoordig is.

 

4. Gevolgtrekking

Die verteenwoordiging van maatskappye het sedert die inwerkingtreding van die Maatskappywet 71 van 2008 nog nie veel aandag in ons howe geniet nie. Die korrekte toepassing van die beginsels met betrekking tot die verteenwoordiging van maatskappye is nie slegs van akademiese belang nie, maar raak die daaglikse bedrywighede van alle besigheidsentiteite ten nouste. Die uitspraak in One Stop het verskeie regsaspekte rakende verteenwoordiging aangeroer. Van die regsaspekte wat die hof aangeroer het, is die toepassing van die Turquand-reël, die leerstuk van toegerekende kennis en estoppel. Ongelukkig is die hoop verydel dat die Maatskappywet 71 van 2008 regsekerheid in hierdie opsig sou bevorder – die uitspraak laat die leser daarvan met meer vrae as antwoorde. Kortom, die hof versuim om dit duidelik te maak dat die toepassing van die Turquand-reël nie van óf die regspersoonlikheid van ’n onderneming óf die leerstuk van toegerekende kennis afhanklik is nie. Die hof fouteer verder deur die vermoede van reëlmatigheid in die verteenwoordigingsreg en die Turquand-reël verkeerdelik te vervleg. Die Turquand-reël is ’n gevestigde, selfstandige reël van die Suid-Afrikaanse ondernemingsreg. Die behandeling van voorbeelde 3 en 4 in die uitspraak dra tot verdere moontlike verwarring by. Die uitspraak versuim voorts om ’n duidelike onderskeid te tref tussen die leerstuk van estoppel en die Turquand-reël. Vanuit ’n bewysregtelike oogpunt is hierdie onderskeid van kardinale belang.

Basiese beginselverskille tussen hierdie twee regsfigure moet deurentyd in gedagte gehou word en die beginsels moet streng en suiwer toegepas word, by versuim waarvan die vermenging van die twee regsfigure hier, soos in Engeland, sal voortduur. Sodanige vermenging is nie in belang van die maatskappyereg in Suid-Afrika nie, aangesien dit tot verkeerde beslissings kan lei wat nie die beginsels van die maatskappyereg en die Maatskappywet suiwer en korrek interpreteer en toepas nie. Uiteindelik ly regsekerheid daaronder, aangesien litigante onseker is oor welke beginsel deur die hof toegepas gaan word.

Die uitspraak maak ook verkeerdelik die toepassing van die Turquand-reël afhanklik van die publiek se toegang tot die entiteit se grondwette. Artikel 66(1) van die wet bring ook ’n verandering in die toepassing van die leerstuk van estoppel mee. ’n Derde party wat op die leerstuk van estoppel wil steun om ’n maatskappy tot ’n transaksie of kontrak te bind, sal selde daarop kan steun dat ’n verteenwoordiger van die maatskappy oor skynbare volmag beskik het op grond van ’n voorstelling wat deur die aandeelhouers van die maatskappy gemaak is.

In die lig daarvan dat die Maatskappywet daarna streef om die Suid-Afrikaanse maatskappyereg te vereenvoudig, is dit jammer dat die wetgewer nie die beginsels oor die verteenwoordiging van maatskappye verder vereenvoudig het nie. Die benadering wat die wetgewer gevolg het in artikel 54 van die Wet op Beslote Korporasies kon ’n gepaste benadering gewees het vir die maatskappyereg ten einde duidelikheid en eenvormigheid teweeg te bring oor die beginsel van verteenwoordiging in die maatskappyereg.

 

Bibliografie

Beukes, H.G.J. 2004. Does the Turquand rule apply to internal requirements in a trust deed? South African Mercantile Law Journal, 16(2):264–70.

Cassim, F.H.I. e.a. 2012. Contemporary company law. 2de uitgawe. Claremont: Juta.

Christie, R.H. en G.B. Bradfield. 2011. Christie’s The law of contract in South Africa. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Cilliers, H.S. en M.L. Benade. 2000. Corporate law. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis Butterworths.

Delport, P.A. 2011. Companies Act 71 of 2008 and the Turquand rule. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 74(1):132–8.

Delport, P. A. en Q. Vorster. 2015. (Service issue 11.) Henochsberg on the Companies Act 71 of 2008. Durban: LexisNexis.

Du Plessis, J.J. 1991. Optrede van ongemagtigde maatskappyfunksionarisse. South African Mercantile Law Journal, 3(2):281–308.

Du Toit, F. 2004. Die aanwending van die Turquand-reël in die Suid-Afrikaanse trustreg. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:149–61.

Henning, J.J. 2006. Partnership. 19 The Law of South Africa. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Henning, J.J. en J.J. du Plessis. 1993. Kontraksluiting namens vennootskap. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 56(1):339–56.

Katz, M.M. 2010. Governance under the Companies Act 71 of 2008: Flexibility is the key word. Acta Juridica, 1:248–62.

McLennan, J.S. 1979. The ultra vires doctrine and the Turquand rule – a suggested solution. South African Law Journal, 96(2):329–71.

—. 1997. Time for the final abolition of the ultra vires and constructive notice doctrines in company law. South African Mercantile Law Journal, 9(3):333–6.

—. 2006. Contracting with business trusts. South African Mercantile Law Journal, 18(3):329–35.

—. 2009. Contract and agency law and the 2008 Companies Bill. Obiter, 30(1):144–53.

Oosthuizen, M.J. 1977. Die Turquand-reël as reël van die verenigingsreg. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 3:210–19.

—. 1979. Aanpassing van die verteenwoordigingsreg in maatskappyverband. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:1–15.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top