Vonnisbespreking: Die reg op privaatheid en outonomie

  • 0

Vonnisbespreking: Die reg op privaatheid en outonomie
Prince v Minister of Justice and Constitutional Development 2017 4 SA 299 (WCC);
[2017] 2 All SA 864 (WCC)

Johann Neethling, Departement Privaatreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 15(2)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

The right to privacy and autonomy

The decision of Davis J in Prince followed in the footsteps of the Constitutional Court which extended the constitutional right to privacy in section 14 of the Constitution to so-called “substantive or personal autonomy privacy rights” that enable persons to take decisions about private matters such as their families, houses and sexual activities, and execute them. In this case the court held that to the extent that legislation prohibits the use of cannabis by an adult in private dwellings where the possession, purchase or cultivation of cannabis is for personal consumption by an adult, such statutory prohibition constitutes an unconstitutional limitation of the right to privacy, and should therefore be amended. Traditionally the right to privacy protected the field of private personal information against the wrongful acquaintance with such information by intrusion into the private sphere or the revelation of private information. It is unfortunate that personal autonomy which is “only concerned with acts / conduct of individuals performed in the confines of their own homes when they invoke a right to autonomy as expressed in the privacy of their own homes” is protected under the cloak of the right to privacy as one is here concerned with two completely different legal concepts. On the one hand the general capacity of a person to be the subject (holder) of rights (in other words, the recognition of his legal personality or legal subjectivity), and according to which he has the freedom to be active in the law (such as taking decisions concerning his private life), and on the other hand the right to privacy as a subjective right which he possesses because he is a legal subject. This distinction does not mean that persons should not be protected against (unreasonable) prescriptions by the state which limit their autonomy (especially also with regard to their private life). This can be done under the cloak of the right to privacy, as the courts are presently doing, but for the sake of conceptual clarity and sound legal development informational privacy and autonomy as to private life should clearly be kept apart. In order to avoid confusion, it would perhaps be better to accommodate the protection of autonomy under the right to human dignity in section 10 of the Bill of Rights.

Keywords: autonomy; Cannabis; dagga; dignity; human dignity; informational privacy; legal subjectivity; privacy; private life; self-determination (freedom of activity); self-determination (privacy); subjective right

Trefwoorde: Cannabis; dagga; eer; inligtingsprivaatheid; menswaardigheid; outonomie; privaatheid; private lewe; regsubjektiwiteit; selfbestemming (vryheid van doenigheid); selfbestemming (privaatheid); subjektiewe reg; waardigheid

 

1. Inleiding

Die doel van hierdie bespreking is om die beslissing in Prince onder die loep te neem veral in die lig daarvan dat die reg op privaatheid wat in artikel 14 van die Grondwet verskans word, ook aangewend word om daaronder ’n persoon se outonomie om besluite oor sy private lewe te neem, tuis te bring. Vir doeleindes hiervan is dit belangrik om duidelikheid aangaande die begrip privaatheid te verkry. Dit is egter geen maklike taak nie, aangesien die opvattinge daaromtrent dikwels baie subjektief gekleur is. Miller (1971:25) verklaar in hierdie verband: “The concept of privacy is difficult to define because it is exasperatingly vague and evanescent, often meaning strikingly different things to different people.” Dit word soos volg deur die Konstitusionele Hof in Bernstein v Bester 1996 2 SA 751 (KH) 787–8 gestel: "The concept of privacy is an amorphous and elusive one which has been the subject of much scholarly debate."

 

2. Inligtingsprivaatheid

Desnieteenstaande bestaan privaatheid volgens die meeste skrywers daarin dat die belanghebbende in ’n sekere mate afgesonderd van die publiek en publisiteit leef en dus buitestanders verhinder om met hom of sy persoonlike sake kennis te maak. (Vir ’n volledige bespreking sien Neethling 1976:280 e.v. en die gesag waarna daar verwys word; sien ook McQuoid-Mason 1978:91 e.v.) Daar word ook algemeen aanvaar dat die belanghebbende self die omvang van sy belang in sy privaatheid bepaal. Hy of sy moet dus self bestem of beskik dat persoonlike feite op hom in sy afgesonderdheid betrekking het en gevolglik van kennismaking deur buitestanders uitgesluit is.

In National Media Ltd v Jooste 1996 3 SA 262 (A) 271–2 verduidelik appèlregter Harms dit so:

A right to privacy encompasses the competence to determine the destiny of private facts… The individual concerned is entitled to dictate the ambit of disclosure eg to a circle of friends, a professional adviser or the public. He may prescribe the purpose and method of the disclosure. Similarly, I am of the view that a person is entitled to decide when and under what conditions private facts may be made public.

In ooreenstemming met hierdie bestemmingsfunksie moet die belanghebbende ook die wil hê om persoonlike feite privaat te hou. Ontbreek die privaathoudingswil, dan ontbreek vanselfsprekend ook die persoon se belang in privaatheid. In Jooste 271 word dit kort en kragtig soos volg gestel: “Absent a will to keep a fact private, absent an interest (or a right) that can be protected” (sien ook Neethling en Potgieter 2015:380 vn. 286).

Aangesien slegs die belanghebbende self die inhoud en gevolglike omvang van sy privaatheidsbelang kan bestem – hy of sy is dus outonoom (dit wil sê, oefen dié funksie onafhanklik en selfstandig uit; sien WAT 2000:883) – word hierdie selfbestemmingsfunksie as die wese van die individu se belang in privaatheid beskou. Hierdie funksie moet egter nie met outonomie as aspek van regsubjektiwiteit verwar word nie (hierop word hier onder ingegaan: vgl. Van Heerden en Neethling 2008:91). Hier het ’n mens met ’n essensiële (feitelike) eienskap van privaatheid te make wat deur regswerking ook as inhoudsbevoegdheid van die (subjektiewe) reg op privaatheid geld (sien hieroor Neethling 1997:142; sien verder Neethling en Potgieter 2015:53; Neethling e.a. 2005:11; Van Heerden en Neethling 2008:90 oor die inhoudsbevoegdhede van subjektiewe regte). Ingevolge die leerstuk van subjektiewe regte (wat die persoonlikheidsreg op privaatheid insluit), beskik die reghebbende naamlik oor genots-, gebruiks- en beskikkingsbevoegdhede ten opsigte van sy privaatheid as regsobjek, welke bevoegdhede deur die reëls en norme van die reg bepaal word.

In die lig van die voorgaande kan die individu se belang in privaatheid, soos dit in die feitelike werklikheid voorkom, kernagtig soos volg omskryf word: Privaatheid is ’n individuele lewenstoestand van afsondering van openbaarheid. Hierdie lewenstoestand omsluit al daardie persoonlike feite of inligting wat die belanghebbende self bestem om van kennismaking deur buitestanders uitgesluit te wees en ten opsigte waarvan hy ’n privaathoudingswil het (sien Neethling 1976:287; Neethling e.a. 2005:32). Hierdie definisie word algemeen in die regspraak aanvaar (sien bv. Jooste (HHA) 271; Greeff v Protection 4U h/a Protect International 2012 6 SA 393 (GNP) 406–7; Jooste v National Media Ltd 1994 2 SA 634 (C) 645; Universiteit van Pretoria v Tommie Meyer Films (Edms) Bpk 1977 4 SA 376 (T) 384; Bernstein 789; Swanepoel v Minister van Veiligheid en Sekuriteit 1999 4 SA 549 (T) 553; vgl. ook NM v Smith (Freedom of Expression Institute as Amicus Curiae) 2007 5 SA 250 (KH) 262–3; Motor Industry Fund Administrators (Pty) Ltd v Janit 1994 3 SA 56 (W) 60; Financial Mail (Pty) Ltd v Sage Holdings Ltd 1993 2 SA 451 (A) 462).

Die begrip inligtingsprivaatheid (informational privacy) moet ter wille van begripsduidelikheid en regsekerheid onderskei word van ander begrippe van privaatheid in Suid-Afrika wat, van nader beskou, verskillende ander persoonlike belange betrek en beskerm. Vir huidige doeleindes is slegs die begrip outonomie relevant, omdat dit in die Prince-saak onder die vaandel van privaatheid tuisgebring word.

 

3. Outonomie

Waar ’n buitestander aan ’n persoon voorskryf op welke wyse hy sy private lewe moet reël (soos sy kerk- en politieke verband, die opvoeding van sy kinders, ens.), of waar die staat individue verbied om byvoorbeeld afhanklikheidsvormende stowwe of pornografiese materiaal in hul private woning te besit en te gebruik of te lees, word hierdie handelswyse dikwels as ’n privaatheidskending tipeer (sien hieroor Neethling e.a. 2005:34–5; Neethling 2010:784 vn. 20; Neethling 2005:25–6; Rautenbach 1972:352 e.v. (afhanklikheidsvormende stowwe); McQuoid-Mason 1996, hfst. 18.7 ("Privacy rights protecting personal autonomy"). Hierdie gevalle van inmenging deur die staat in die private lewe van onderdane word in die Amerikaanse reg ook onder die beskermingsgebied van die reg op privaatheid tuisgebring (sien Neethling 1976:175 e.v.). Trouens, by die erkenning van die reg op privaatheid as konstitusioneel verskanste mensereg het die Amerikaanse hooggeregshof in Griswold v Connecticut (1965) 381 US 479 met so ’n geval te doen gehad. Die hof beslis dat ’n statuut wat die gebruik van voorbehoedmiddels in die huwelik verbied, inbreuk maak op die reg op privaatheid (sien ook Neethling 1976:155 e.v.).

Ook in ons regspraak word hierdie benadering gevolg. Die Konstitusionele Hof het naamlik die toepassingsgebied van die grondwetlike reg op privaatheid wyer as die beskerming van inligtingsprivaatheid uitgebrei tot sogenaamde “substantive or personal autonomy privacy rights” wat persone in staat stel om besluite oor private aangeleenthede soos hul familie, huis en seksuele lewe sonder inmenging van die staat te neem en dit uit te voer (McQuoid-Mason 2000:248–9; Neethling en Potgieter 2015:380 vn. 286). In Case and Curtis v Minister of Safety and Security 1996 3 SA 617 (KH) 656–7 (sien ook 658–9, 660–1, 662–3; sien verder Neethling 1997:141–3) formuleer regter Didcott sy standpunt dat die wetsverbod op die besit van pornografiese materiaal in die private woning die konstitusionele reg op privaatheid skend, kernagtig soos volg:

What erotic material I may choose to keep within the privacy of my home, and only for my personal use there, is nobody's business but mine. It is certainly not the business of society or the State. Any ban imposed on my possession of such material for that solitary purpose invades the personal privacy which s 13 of the interim Constitution (Act 200 of 1993) guarantees that I shall enjoy. Here the invasion is aggravated by the preposterous definition of “indecent or obscene photographic matter” which s 1 of the statute [contains]. So widely has it been framed that it covers, for instance, reproductions of not a few famous works of art, ancient and modern, that are publicly displayed and can readily be viewed in major galleries of the world.

Hierteenoor het die hof in De Reuck v Director of Public Prosecutions, Witwatersrand Local Division 2004 1 SA 406 (KH) 431 e.v. beslis dat die statutêre verbod op kinderpornografie, wat ook ten aansien van die besit daarvan in die privaatheid van die woning geld, nie grondwetlik ongeldig is nie omdat dit ’n geregverdigde beperking op die reg op privaatheid (outonomie) daarstel. Kinderpornografie word universeel gesien as ’n euwel wat bekamp moet word.

Adjunkhoofregter Langa (440–1) laat hom soos volg hieroor uit:

Although possession and consumption of child pornography often takes place in the inner sanctum of the home, the legislative purposes identified above remain of great importance. It should not be overlooked that many of the resultant acts of abuse against children take place in private. In other words, where the reasonable risk of harm to children is likely to materialise in private, some intrusion by the law into the private domain is justified.

In National Coalition of Gay and Lesbian Equality v Minister of Justice 1999 1 SA 6 (KH) word beslis dat die gemeenregtelike misdaad van sodomie in stryd met die Grondwet en daarom ongeldig is (sien Rautenbach 2001:115 e.v.). Regter Ackermann (30) beskryf die betrokkenheid van die aantasting van die reg op privaatheid en outonomie soos volg:

Privacy recognises that we all have a right to a sphere of private intimacy and autonomy which allows us to establish and nurture human relationships without interference from the outside community. The way in which we give expression to our sexuality is at the core of this area of private intimacy. If, in expressing our sexuality, we act consensually and without harming one another, invasion of that precinct will be a breach of our privacy … The fact that a law prohibiting forms of sexual conduct is discriminatory, does not, however, prevent it at the same time being an improper invasion of the intimate sphere of human life to which protection is given by the Constitution in section 14. We should not deny the importance of a right to privacy in our new constitutional order, even while we acknowledge the importance of equality. In fact, emphasising the breach of both these rights in the present case highlights just how egregious the invasion of the constitutional rights of gay persons has been. The offence [sodomy] which lies at the heart of the discrimination in this case constitutes at the same time and independently a breach of the rights of privacy and dignity which, without doubt, strengthens the conclusion that the discrimination is unfair.

Uit bostaande bespreking blyk duidelik dat ’n mens hoegenaamd nie hier met ’n inbreukmaking op inligtingsprivaatheid te make het nie, aangesien ’n kennismaking met private persoonlike feite strydig met die betrokkene se bestemming en wil ontbreek. Trouens, daar is in hierdie gevalle van inmenging met ’n persoon se outonomie oor sy private lewe waarskynlik glad nie eers van ’n persoonlikheidskrenking sprake nie. ’n Persoon se vrye wilsuitoefening of outonomie hou verband met die selfbestemmingsvryheid van die mens binne die perke van die reg in ’n samelewing – dus ook sy vryheid om self besluite oor persoonlike aangeleenthede te neem (sien Joubert 1953:123). (Soos gestel, moet die selfbestemmingsfunksie van die individu oor sy inligtingsprivaatheid – in die sin dat die individu self die inhoud en gevolglike omvang van sy privaatheidsbelang bestem – nie met outonomie as aspek van regsubjektiwiteit verwar word nie.) So gesien, is outonomie deel van die regsubjektiwiteit self en kan staatsoptrede wat outonomie aan bande lê, dus ook om hierdie rede nie as privaatheidskending tipeer word nie. Hierdie standpunt beteken nie dat persone nie teen (onredelike) staatsvoorskrifte wat hul outonomie (veral ook in hul private lewe) aan bande lê, beskerm moet word nie. Inteendeel, indien die Handves van Regte (hfst. 2 van die Grondwet) geen ander aanknopingspunt bied as die reg op privaatheid in artikel 14 om onderdane teen staatsvergrype in hierdie verband te beskerm nie, outonomie wel onder die vaandel van die reg op privaatheid – soos die Konstitusionele Hof tans ook doen (sien hier bo) – tuisgebring kan word, maar dan met die voorbehoud dat die onderskeidende eiesoortige aard van privaatheid en outonomie duidelik deur die hof erken en gehandhaaf word (sien Neethling 1997:137 e.v., 142). In hierdie verband maak Burchell (1996:653) se voorstel dat "individual autonomy" onder die reg op menswaardigheid (art. 10 van die Grondwet) beskerm moet word, meer sin. In sy wese is die reg op waardigheid die erkenning van die intrinsieke waarde van die mens in ons samelewing. Dit is ’n omvattende begrip wat menswees in al sy fasette omvat en kleur, en daarom onderliggend aan die totale menslike persoonlikheid is, sowel wat die fisiek-psigiese sye as geestelik-sedelike aspekte daarvan betref (sien Neethling 2006:94–9; Neethling en Potgieter 2015:19 vn. 148). Daarom kan outonomie oor private aangeleenthede goedskiks onder waardigheid tuisgebring word, mits deeglik voor oë gehou word dat dit net ’n aspek van die selfbestemmingsvryheid van die mens binne die perke van die reg in ’n samelewing is. Dit sal ten minste die moontlikheid van verwarring van outonomie met privaatheid uitskakel.

 

4. Prince-saak

Teen hierdie agtergrond moet die beslissing in die Prince-saak onder die loep geneem word. Hier was die kernvraag na die geldigheid van wetgewing wat die gebruik, besit, koop en kweek van Cannabis (dagga of hennep) vir persoonlike gebruik in die privaatheid van ’n woning verbied in die lig van die staat se regverdiging vir sodanige beperking op privaatheid. Regter Davis (311H-I) beskou die reg op privaatheid as sentraal in hierdie saak.

Volgens die Konstitusionele Hof is die beskerming van die reg op privaatheid – en gevolglik die kwessie van onregmatigheid – geleë op ’n kontinuum, waar die reg op privaatheid minder beskermenswaardig word namate ’n persoon meer interaksie met die wêreld het (sien In re Hyundai Motor Distributors (Pty) Ltd v Smit 2001 1 SA 545 (KH) 556–7). Die kontinuum neem ’n aanvang by die innerlike, beweeg dan na die afsondering van die huis en die persoonlike lewe, en eindig in die openbare sfeer waar die reg op privaatheid slegs ’n geringe mate van beskerming geniet (sien Mistry v Interim Medical and Dental Council of South Africa 1998 4 SA 1127 (KH) 1144–5; Neethling e.a.2005:221–2; Neethling en Potgieter 2015:381 vn. 290). In hierdie verband verklaar regter Davis (312C-D) ook, met verwysing na Hyundai: “It has become established law, insofar as privacy is concerned, that this right becomes more powerful and deserving of greater protection the more intimate the personal sphere of the life of a human being which comes into legal play.”

Hy (312E) vervolg dat daar ’n verband tussen die individu se reg op privaatheid en die reg op waardigheid (ingevolge art. 10 van die Grondwet) is, en verwys na Teddy Bear Clinic for Abused Children v Minister of Justice and Constitutional Development 2014 2 SA 168 (KH) 188 waar die hof dit soos volg stel: “Privacy fosters human dignity insofar as it is premised on and protects an individual’s entitlement to a ‘sphere of private intimacy and autonomy’.”

Hieruit volg volgens die regter (312F-H, met verwysing na die Case and Curtis-saak) dat privaatheid die reg omvat om intieme besluite te neem, en dat ’n mens se persoonlike outonomie beskerm moet word. ’n Mens het dus die bevoegdheid om besluite oor hierdie aangeleenthede te neem sonder onbehoorlike inmenging deur die staat. Hy (312I) wys vervolgens daarop dat daar ook ’n verband tussen privaatheid (outonomie) en die reg op vryheid bestaan. Hiermee bedoel die hof sekerlik nie fisiese bewegingvryheid nie, maar vryheid van doenigheid in ’n samelewing. Hier het ’n mens te make, soos Joubert (1953:127; sien ook Neethling e.a. 2005:16; Neethling 2008:91) tereg aanvoer, met ’n algemeen menslike kenmerk of eienskap wat “die hele gebied van die menslike wilsuiting en selfuitlewing binne die grense van die reg” omvat; in kort “die selfbestemmingsvryheid van die mens in die samelewing”. Soos reeds hier bo aangetoon, is vryheid van doenigheid (met betrekking tot aangeleenthede in die private lewe ’n aspek van privaatheid as outonomie (en nie inligtingsprivaatheid nie).

Die vraag wat nou beantwoord moet word, is of die wetgewende verbod op dagga beperkings op die reg op privaatheid (outonomie) plaas. In Prince v The President Cape Law Society 2002 2 SA 794 (KH) het die Konstitusionele Hof beslis dat die wetgewing wel sodanige beperking op Rastafariërs se privaatheid met betrekking tot die besit en gebruik van dagga vir religieuse doeleindes daarstel (sien Davis R 313A). Regter Davis (313A-B) steun hierdie benadering:

If privacy, considered to be analysed as a continuum of rights which starts with an inviolable inner core moving from the private to the public realm where privacy is only remotely implicated by interference, it must follow that those who wish to partake of a small quantity of cannabis in the intimacy of their home do exercise a right to autonomy which, without clear justification, does not merit interference from the outside community or the State.

Dieselfde gevolgtrekking moet volgens regter Davis (313C-D) ook gemaak word met betrekking tot die kweek van ’n daggaplant in die tuin van ’n mens se huis indien die plant uitsluitlik vir persoonlike gebruik benut word.

Nietemin moet nou bepaal word of daar regverdiging vir die beperking van die reg op privaatheid in die huidige omstandighede is (313F-I). Die fundamentele regte wat in die Handves van Regte verskans word (dus ook die reg op privaatheid), mag deur ander algemeen geldende reg beperk word, maar net in die mate waarin die beperking sowel redelik as regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese same­lewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid – die fundamentele regte is dus nie absolute regte nie. By die beoordeling van die redelikheid van ’n beperking moet alle tersaaklike faktore in ag geneem word, inbegrepe die aard van die reg, die belangrikheid van die doel van die beperking, die aard en omvang van die beperking, die verband tussen die beperking en die doel, en minder beperkende maatreëls om die doel te verwesenlik (sien art. 36(1) van die Grondwet; sien ook Neethling en Potgieter 2015:18; Neethling e.a. 2005:74). Die onus om te bewys dat die beperking van privaatheid geregverdig is, rus op die staat (313I). Na ’n deeglike ontleding van die getuienis van die staat wat argumenteer dat die beperking van privaatheid deur die betrokke wetgewing geregverdig is (315 e.v.), en ’n omvattende en diepgaande regsvergelykende ondersoek wat aantoon dat die kriminalisering van die besit van dagga vir persoonlike gebruik nie geregverdig kan word nie (323 e.v.), kom die hof tot die slotsom dat die staat hom nie van sy bewyslas gekwyt het nie. Regter Davis (334; my kursivering) laat hierop volg:

A finding that respondents [state] have not discharged the burden of justifying the limitation of the right to privacy should not be construed as meaning that this court wishes, in any way, to understate the importance of curbing drug trafficking and the pernicious and socially destructive activities of drug dealers. But this case is only concerned with acts/conduct of individuals performed in the confines of their own homes when they invoke a right to autonomy as expressed in the privacy of their own homes. This judgment must, thus, not be read to extend any further than the narrow confines of the dispute as I have defined it. It is necessary to emphasise that this Court is acutely aware of the challenges regarding drug abuse as well as the prevalence of drug usage amongst minors and school going children. It is also important to state that this case does not extend to children as defined. Children must be protected from any harm caused by exposure to drugs.

Volgens regter Davis is dit die taak van die wetgewer om die bestaande wetteregtelike voorskrifte so te wysig dat daar ’n onderskeid gemaak word tussen die besit, koop, kweek en gebruik van dagga vir persoonlike doeleindes en ander gebruike daarvan. Daarom moet die bevel van die hof dit duidelik maak dat die wetteregtelike voorskrifte ongrondwetlik is slegs in die mate waarin hulle inbreuk maak op die private gebruikmaking en verbruik van dagga vir persoonlike doeleindes en na die wetgewer se oordeel nie oormatige nadeel veroorsaak nie. Die hofbevel lui soos volg:

1. The following provisions are declared inconsistent with the Constitution of the Republic of South Africa Act 108 of 1996 and invalid, only to the extent that they prohibit the use of cannabis by an adult in private dwellings where the possession, purchase or cultivation of cannabis is for personal consumption by an adult …

2. This declaration of invalidity is suspended for a period of 24 months from the date of this judgment in order to allow Parliament to correct the defects as set out in this judgment.

3. It is declared that until Parliament has made the amendments contemplated in paragraph 1 or the period of suspension has expired, it will be deemed to be a defence to a charge under a provision as set out in paragraph 1 of this order that the use, possession, purchase or cultivation of cannabis in a private dwelling is for the personal consumption of the adult accused.

 

5. Gevolgtrekking

Die beslissing van regter Davis in Prince volg op die voetspoor van die Konstitusionele Hof wat die toepassingsgebied van die grondwetlike reg op privaatheid in artikel 14 van die Grondwet uitgebrei het tot sogenaamde “substantive or personal autonomy privacy rights” wat persone in staat stel om besluite oor private aangeleenthede soos hul familie, huis en seksuele lewe sonder inmenging van die staat te neem en dit uit te voer. Tradisioneel het die reg op privaatheid die terrein van private persoonlike inligting beskerm teen die onregmatige kennisname van sodanige inligting deur indringing in die private sfeer of die openbaarmaking van private inligting. Dit is jammer dat die persoonlike outonomie wat “only concerned [is] with acts/conduct of individuals performed in the confines of their own homes when they invoke a right to autonomy as expressed in the privacy of their own homes” onder die mantel van die reg op privaatheid beskerm word, aangesien ’n mens hier met twee geheel en al verskillende regsverskynsels te make het: aan die een kant die regsubjektiwiteit van die mens, die funksie waarvolgens hy doende in die reg optree (soos om besluite oor sy private lewe te neem), en aan die ander kant die reg op privaatheid as erkende subjektiewe persoonlikheidsreg (vgl. Joubert 1953:123). Hierdie onderskeid beteken nie dat persone nie teen (onredelike) staatsvoorskrifte wat hul outonomie (veral ook in hul private lewe) aan bande lê, beskerm moet word nie. Dit kan geskied onder mantel van die reg op privaatheid, soos die howe tans doen, maar ter wille van begripshelderheid en gesonde regsontwikkeling moet inligtingsprivaatheid en outonomie ten aansien van die private lewe net duidelik uitmekaar gehou word. Ten einde moontlike verwarring te vermy, is dit dalk beter om die beskerming van outonomie onder die reg op waardigheid in artikel 10 van die Handves van Regte tuis te bring.

 

Bibliografie

Apathy, P. e.a. (reds.). 2010. Festschrift für Helmut Koziol zum 70. Geburtstag. Wene: Jan Sramek Verlag.

Burchell, J.M. 1996. The protection of personality rights. In Zimmermann en Visser (reds.) 1996.

Chaskalson, M. e.a. (reds.). 1996. Constitutional law of South Africa. Kaapstad: Juta.

Joubert, W.A. 1953. Grondslae van die persoonlikheidsreg. Kaapstad/Amsterdam: Balkema.

McQuoid-Mason, D.J. 1978. The law of privacy in South Africa. Kaapstad: Juta.

—. 1996. Privacy. In Chaskalson e.a. (reds.) 1996.

—. 2000. Invasion of privacy: common law v constitutional delict – Does it make a difference? Acta Juridica, 227.

Miller, A.R. 1971. The assault on privacy (computers, data banks and dossiers). Ann Arbor: University of Michigan Press.

Nagel, C.J. (red.). 2006. Gedenkbundel vir JMT Labuschagne. Durban: LexisNexis.

Neethling, J. 1976. Die reg op privaatheid. LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

—. 1997. Die reg op privaatheid en die Konstitusionele Hof: Die noodsaaklikheid vir duidelike begripsvorming. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 60(1):137–43.

—. 2005. The concept of privacy in South African law. South African Law Journal, 122(1):18–28.

—. 2006. Die betekenis en beskerming van die eer, dignitas en menswaardigheid in gemeenregtelike en grondwetlike sin. In Nagel C.J. (red.) 2006.

—. 2008. Van Heerden-Neethling unlawful competition. Durban: LexisNexis.

—. 2010. The right to privacy under South African law. In Apathy P. e.a. (reds.) 2010.

Neethling. J. en J.M. Potgieter. 2015. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Neethling, J., J.M. Potgieter en P.J. Visser. 2005. Neethling’s law of personality. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Rautenbach, I.M. 1972. Aspekte van die reg rakende afhanklikheidsvormende stowwe. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 35(4):352–66.

—. 2001. The conduct and interests protected by the right to privacy in section 14 of the Constitution. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:115.

Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT). 2000. Deel XI. Goodwood: NBD.

Zimmermann, R. en D. Visser (reds.). 1996. Southern Cross: civil law and common law in South Africa. Kenwyn: Juta.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top