Vonke spat oor godsdiens in skole

  • 26

Die land kan hom gereedmaak vir ’n waterskeidingsaak ten opsigte van godsdiens in skole. Die hooggeregshof in Johannesburg hoor van 15 tot 17 Mei die stryd teen die beoefening van godsdiens gedurende skoolure aan.

Die voorstanders sowel as die teenstanders daarvan glo albei hulle het ’n sterk saak wanneer die hof volgende maand daaroor moet besluit. Skole wat slegs een geloof wil bevoordeel, kry egter al hoe meer die wind van voor, selfs uit eie geledere.

Die hofsaak volg na ’n jare lange stryd sedert 2014 tussen die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) en ’n aantal skole wat na bewering diskrimineer teen leerders wat nie die Christelike geloof aanhang nie.

Die twis gaan nie oor godsdiensonderrig as sodanig in skole nie, maar oor die beoefening daarvan gedurende skoolure en die wyse waarop dit geskied.

Terwyl Ogod gekant is teen die beoefening van godsdiens gedurende skooltyd in openbare skole, meen die skole met ’n Christelike etos dit is hulle grondwetlike reg om hulle geloof tydens skoolure te beoefen.

Die hof gaan nou gevra word om te beslis dat dit in stryd is met die Nasionale Onderwysbeleid en die land se Grondwet om slegs ’n sekere geloof se etos in openbare skole te verkondig.

Die skole wat by die hofsaak betrek word, is die Laerskool Randhart, die Laerskool Baanbreker, die Laerskool Garsfontein, die Hoërskool Linden, die Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium, wat almal ’n Christelike etos het.

Die skole staan die hofaansoek teen.

In ’n onverwagse wending het die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ’n verrassende ommeswaai oor sy standpunt oor godsdiens in skole gemaak in die hofstukke wat hulle by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het. Dit kan die skole wat daarop aandring om ’n Christelike etos te handhaaf, se saak erg in die wiele ry.

Dié vakbond waaraan die meeste Afrikaanse onderwysers in die land behoort, sê in hulle hofstukke skole behoort hulself nie met slegs ’n enkele geloof te identifiseer nie.

Tot baie se verbasing stem dit grootliks ooreen met Ogod se aansoek wat voor die hof dien.

SAOU se uitvoerende hoof, Chris Klopper, ontken dat hulle Ogod se hofaansoek skielik ondersteun, maar Ogod se voorsitter, Hans Pietersen, is verheug oor dié nuwe wending.

Voorheen het Klopper gesê die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), wat die skole gedagvaar het, “kan in die hel in vlieg”.

Nóú blyk dit dat SAOU en Ogod se standpunte glad nie meer so onversoenbaar is nie.

Albei stem saam skole moet hulle nie met ’n bepaalde geloof vereenselwig nie en dat dit nie in leerlinge se belang is om deur een geloof bedien te word nie.

Pietersen sê hy is dankbaar oor die houding wat Klopper nou inneem. Die “manmoedigheid” wat Klopper aan die dag gelê het om die hofdokumente te onderteken, moet volgens Pietersen verwelkom word.

Voorstanders van skole met ’n Christelike etos is egter woedend vir Klopper.

Die voormalige hoof van die Hoërskool Linden in Johannesburg vra in ’n brief aan 3 000 onderwysers landwyd om ’n petisie te teken om te eis dat sy eertydse bondgenoot, SAOU, hom aan die hofsaak oor godsdiens in skole onttrek.

Die uitvoerende hoof van die Federasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Paul Colditz, bly egter optimisties oor die uitslag van die hofsaak.

Fedsas verteenwoordig die ses skole in die saak, terwyl AfriForum, wat as vriend van die hof by die saak betrokke is, finansiële steun bied vir die skole se regskoste.

“As ek nie optimisties was oor die saak nie, sou ons lede dit tog immers nie opponeer het nie en sou ons as Fedsas ons ook nie met die opposisie assosieer het nie,” het Colditz op navraag aan LitNet gesê.

Hy wou hom nie te veel oor die saak uitspreek nie, “omdat dit sub judice is en ek die regsproses respekteer”.

Colditz sê dit is ’n belangrike saak in dié opsig dat dit vir albei partye en vir meerdere mense die geleentheid gee om te sê in watter tipe samelewing hulle hul wil bevind.

“Een waarin mense en instellings die vryheid het om te glo soos hulle glo en om daardie geloof ook vrylik te manifesteer en uit leef, beide in die private en in die openbare ruimtes, of een waarin mense van ’n bepaalde oortuiging andere deur middel van hofbevele tot swye probeer dwing.”

Pietersen, ’n sakeman van Stellenbosch wat die hofsaak dryf, ontken dat hulle enigiemand tot stilswye wil dwing.

Hy sê sy organisasie tref ’n onderskeid tussen godsdiensbeoefening in skole waar slegs een groep se godsdiens bevoordeel word en godsdiensonderrig waar alle godsdienste gelyke erkenning kry.

Pietersen meen leerders behoort gelykmatig oor alle godsdienste onderrig te word. Die beoefening van enige spesifieke godsdiens moet buite skoolure geskied sonder om direk of indirek teen leerders te diskrimineer wat nie daaraan deelneem nie.

Die hofstukke beslaan meer as 2 000 bladsye en verteenwoordig wyd uiteenlopende sienings.

Die betooghoofde van die opponente, die Minister van Basiese Onderwys asook die vriende van die hof is op 28 Februarie ontvang.

Volgens Pietersen was die skole se hoofde “’n potpourri van ontkenning en pogings om die saak en aantygings af te weer”.

Hy sê dit was egter verblydend om toe sien hoe deeglik die Minister en die CASAC (www.casac.org.za) ten gunste van die Nasionale Beleid oor Godsdiens, waarteen die skole en hul ondersteuners skop, argumenteer.

“Dit bly steeds onverklaarbaar hoe die skole, en deur assosiasie ook Fedsas, Paul Colditz en AfriForum, argumenteer vir die beweerde reg van meerderhede om beleide en gebruike tot uitsluiting of vervreemding van minderhede te bepaal.”

In Ogod se betooghoofde van 69 bladsye steun hulle swaar op die handves van menseregte soos vervat in die Grondwet.

Van die besware wat geopper word, is dat leerders glo by sommige skole geviktimiseer en gestigmatiseer word as hulle nie aan die skole se godsdiensaktiwiteite wil deelneem nie.

Van die leerlinge word glo selfs vertel dat hulle hel toe gaan as hulle nie Christene is nie. Volgens die hofstukke is daar onderwysers wat hieraan meedoen.

Pietersen sê die hofsaak gaan nie daaroor om godsdiens uit skole te verban nie, maar dat alle godsdienste gelyke erkenning by openbare skole moet kry.

“Daar moet ’n duidelike onderskeid getref word tussen godsdiensbeoefening waar slegs een godsdiens bevoordeel word en godsdiensonderrig waar leerders op ’n professionele wyse blootstelling aan alle godsdienste kry.”

Godsdiensonderrig en godsdiensdiversiteit moet volgens Ogod se betooghoofde gefasiliteer word deur opgeleide professionele mense en objektiewe kriteria en deur geloofwaardige en objektiewe personeel aangebied word.

Hulle sê die beoefening van godsdiens (in teenstelling met godsdiensonderrig) mag nie deel wees van die formele skoolprogram nie. Skoolgeriewe mag wel vir sulke programme gebruik word op ’n wyse wat nie afwyk van die kernfunksies van ’n skool nie, mits dit nie tydens skoolure is nie.

Pietersen sê die hof moet die nasionale godsdiensbeleid van 2003 en die bepalings van die Grondwet afdwing. “Skole moet gelas word om daarby te hou. Ek wil hê alle gelowe moet gelyke erkenning by skole kry. Een geloof mag nie bevorder word ten koste van ’n ander nie.”

Die skole dring op hulle beurt aan op die reg van op godsdiensvryheid soos hulle dit sien en sê hulle oortree nie die Grondwet nie.

Volgens die skole word kinders nie benadeel as hulle nie die meerderheidsgeloof van ’n betrokke skool volg nie.

Hulle voer aan dat daar geen indirekte dwang vir die minderheid is om skole met ’n Christelike etos se geloofspraktyke by te woon nie. Leerders wat nie daarmee saamstem nie, het die reg om hulleself daarvan te verskoon.

Colditz sê hy is verras om te hoor Ogod wil nie teen enige godsdiens diskrimineer of die Christelike godsdiens bykom nie. Hy sê die stelling dat hulle eerder wil toesien dat alle geloofsoortuigings dieselfde hanteer word, stem nie ooreen met hulle hofaansoek nie.

Pietersen hou egter vol dit was nog nooit Ogod se standpunt om godsdiensonderrig by skole te belet nie. “Ons sê net daar mag nie ongelyke bevordering van een godsdiens bo ’n ander wees nie.”

Hy sê sy organisasie het geen beswaar teen godsdiensonderrig as sodanig by openbare skole nie, mits alle godsdienste gelyke behandel ontvang soos wat deur die Grondwet voorgeskryf word. Vir hom gaan dit oor die beoefening van godsdiens gedurende skooltyd en dat sekere leerders direk of indirek geviktimiseer word as hulle nie daaraan deelneem nie.

Lees ook


Die duiwel is los oor godsdiens in die skole

Jean Oosthuizen, Hans Pietersen
SA Skoleseminaar

Hans Pietersen se organisasie se hofaansoek, wat openbare skole wil verbied om net een godsdiens voor te staan, het die hele land aan die gons. Jean Oosthuizen wou by hom weet wat agter dit alles sit.

  • 26

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Suid-Afrika is 'n Regstaat en sekularisme 'n onderdeel daarvan. Die land is nie 'n Christelike staat nie want sou dit wees, sal die sosiale konstruksie ten opsigte van die uitoefening daarvan hoofsaaklik aan die hand van Christelike waardes beoordeel en toegepas moet word en ons weet almal dat dit vanuit 'n Staatsregtelike oogpunt nie die geval is nie - boonop is daar ook diepliggende verskille binne die Christelike en ander geloofsverbande. En alhoewel SA se grondwet wel godsdiensvryheid waarborg, is dit nie gelykstaande aan die voorkeur van die een godsdiens bo 'n ander in 'n spesifieke domein nie.
    Wat wel waar is, is dat die Christelike geloof die grootste in getal is en dat die beoefening daarvan hoofsaaklik tot uitdrukking kom in die ouerhuis, kerke en ook in gevalle waar individue/gemeenskappe hulself vrywillig en dusdanig so organiseer.
    Hierdie soort vryheid bestaan vir elke individu binne elke geloofsopvatting ... ons noem dit sekularisme binne 'n demokratiese raamwerk. Dis regverdig en billik en niemand hoef op iemand se tone te trap nie. Die onverdraagsaamheidsrisiko wat soms in psigiese en selfs fisiese konflik eindig, word in so 'n opset uitgeskakel.
    Godsdiensonderrig (as deel van 'n vak) waar leerlinge kennis kan opdoen oor verskillende gelowe is per se nie 'n slegte idee nie, as dit dan moet. Dit blyk vir my op die oog af OGOD se siening te wees. Of ons skole (TANS) oor leerkragte beskik wat sodanige onderrig op 'n gebalanseerde en nie-diskriminerende basis kan doen, betwyfel ek. Leerkragte onderrig tans vanuit 'n bepaalde godsdiensverwysingsraamwerk en leerlinge se sienings en waarneming is heel dikwels subjektief - iets wat soms tot "probleme" aanleiding gee.
    My interpretasie van OGOD se beswaar is dat hulle dit nie teen die Christelike geloof in beginsel het nie, maar teen die praktiese beoefening daarvan en dit geld vir (ENIGE) godsdiens by skole; met ander woorde, ongeag dit skole is met 'n meerderheid Christen-, Moslem- of Joodse leerlinge ... Indien nie, sou dit dui op 'n verskuilde agenda wat inherent oneerlik en inkonsekwent is.
    In 'n multikulturele samelewing soos dit die geval in SA is, is 'n getalle-argument ten opsigte van die beoefening van 'n bepaalde godsdiens in 'n skool teen bogenoemde agtergrond nie juis baie suiwer nie. Godsdiens word met 'n bepaalde soort 'gesag' onderrig en beoefen en dis normaal dat leerlinge wat in die minderheid is en nie daardie geloofstandpunt deel nie, dit as problematies ervaar en dit GELD VIR ELKE GELOOF in sodanige en soortgelyke situasies.
    Daar word tans baie gesê en geskryf oor (SEKERE) Moslems wat 'n soort Khalifat nastreef. Mens wonder soms, en jou nuuskierigheid oorval jou soms, en jy wonder hoeveel Christene in Suid-Afrika 'n "soort Khalifat" (CHRISTENSTAAT?) minus ekstremisme en geweld) wil sien - dis nou as hulle hul sin kan kry en as mens die argument vanuit 'n Christelike perspektief sou wou deurtrek - bloot 'n vraag.
    My gevoel is dat geloof vir die mensdom (soos dit elke dag ervaar word) baie belangrik en spesiaal is. Elkeen dink en glo hy/sy het die waarheid beet en ons almal weet dat van die ergste en wreedste konflik en oorloë in die naam van godsdiens gevoer is. In skole waar godsdiens nie prakties beoefen word nie hou die verskeidenheid leerlinge nie op om te wees wat hulle is nie, of te glo waarin hulle glo nie. Indien godsdiens, ENIGE godsdiens dus voorkeur by bepaalde skole moet kry sal die debat en 'twis' soos ons dit nou ervaar, steeds met ons wees of latent bestaan. Daarvoor is daar baie redes.
    Dit wil dus vir my voorkom dat indien ouers van Moslem-, Christen-, Joodse of ander gelowe die onderrig en beoefening van 'n spesifieke geloof voorstaan, die weg een sal wees van kerk/geloof skole wat privaat georganiseer en gefinansier moet word. Indien dit egter afgedwing wil word sal Suid-Afrika se hele huishouding moet verander MET die instemming van die meerderheid en dis werklik te betwyfel.
    In Amerika is die vraag oor godsdiensonderrig ook al baie bespreek en gedebatteer. Hier is besluite en miskien kan dit mens aan die dink sit:
    https://www.aclu.org/other/joint-statement-current-law-religion-public-schools

    • "Dit wil dus vir my voorkom dat indien ouers van Moslem-, Christen-, Joodse of ander gelowe die onderrig en beoefening van 'n spesifieke geloof voorstaan, die weg een sal wees van kerk/geloof skole wat privaat georganiseer en gefinansier moet word." - Gustaf Claassens
      Gustaf, jou idee kom daarop neer dat die kind wat (of wie se ouers) wil hê dat onderwysers op skool oor geloof praat, geen reg op staatsfinansiering van sy skoling het nie. As sy ouers min of niks op opvoeding kan spandeer, moet die staat nie omgee nie.
      Ek glo dat die staat wel moet bydra tot die skoling van kinders wat geloof as deel van hul opvoeding verkies, of wie se ouers dit verkies.

      • Gustaf Claassens

        Retha, ek verstaan nie mooi wat jy probeer sê of bedoel nie. Lees my stuk in sy totale konteks dan behoort daardie gedeelte waarna jy verwys meer sin te maak.

  • Pieta van den Heever

    Daar word die heeltyd gepraat van die gelowige se PERSOONLIKE verhouding met god! As dit so persoonlik is hoekom moet ek die heeltyd daarvan hoor? Ek het die laaste drie jaar die Afrikaner se ware kleure gesien, selfs binne my eie familie! Wat 'n slegte nasie, as jy nie in hulle boksie wat hulle vir jou geskep het pas nie. Ek, my vrou en kinders is net so weggegooi! Die hofsaak gaan ons wen maar die verhoudings is verby! Dankie tog ek hoef nie meer met 'n klomp onkudiges te meng nie! Toe ek (Pieta) Staan vir Oudts höer se beheerraad toe spring daai klomp onderwysers soos katte op 'n warm plaat rond om te keer! Ek sê weer, ek betaal nie R23 000 per jaar sodat 'n onkundige onderwyser my kinders indoktreneer nie.

    • Ancoise Zietsman

      Interessante program wat ek nou die dag kyk. Die christenvrou is raadop omdat haar man nie saam met haar kerk toe wil gaan nie! Die antwoord? Hou op om sy priester te probeer wees en wees sy vrou! Pieta van den Heever, daar is wel EEN familielid wat vir jou onvoorwaardelik sal ondersteun, want ek is jou NIG, en dis wat ek gaan wees vir jou! Sterkte met die hofsaak NEEF, trots op jou!

  • Jan Pierewiet

    Vertel die kinders dat daar ook 'n sekulêre opsie is (agnosties as dit iets genoem moet word). Elke godsdiens maak 'n beroep op mites en mitologiese figure om die natuurlike beloop van die lewe natuurverskynsels te verklaar of te beheer (bid om reën byvoorbeeld). Elkeen se mites verskil, maar is dikwels op dieselfde storie gebaseer.

    Indien dit nie gedoen kan word nie, sê dan liewers niks, maar leer vir hulle goeie wetenskap dat hulle self kan besluit.

    • Verkeerd Jan Pierewiet - Dis beter dat kinders in hulle eie godsdiens grootword (Christenlande Christelik, Hindoelande hindoe, Islamlande Islam, Buddhistiese lande Buddhisties ens.) Waaroor die arme bloedjies verwar?
      Hulle almal leer in elkgeval goeie wetenskap - hulle sal ook dan beter daarop (wetenskap nou) kan konsentreer as om godsdiens te wonder en te stry - DIT vat baie tyd.

      • Jan Pierewiet

        Dalk nie. Dalk jy.

        Godsdiens hoort in die Sondagskool.

        Op skool word kennis oorgedra en word nie probeer om kinders te "bekeer" nie.

        'n Onderwyser kan kinders indirek deur sy respekvolle lewenshouding, vriendelikheid en respek teenoor almal beïnvloed.

        • Jan Pierewiet, wat praat jy van 'bekeer'? In 'n Islamland is die kind reeds 'n Islamiet, net so 'n kind in 'n Christenland, 'n kind in 'n Hindoeland ens. Daar is nie sprake van bekeer nie; hulle is almal by verstek 'bekeer'. Ek sê dus weer; moenie die kind opsaal met opsies waartoe hy nog lank nie in staat is om oor te besluit of op te los nie. Godsdiens op skool is nie bloot 'n goeie ding nie; dis 'n noodsaaklikheid.

          • Nogal Andersdenkend

            Nou het jy my verloor. Ons is in Afrika gebore en dus Afrikane?

  • Hoe word Joodse en Griekse skole geraak? As die storie privaatskole uitsluit, geld dit dan ook vir Afrikaanse privaatskole (sou daar so iets bestaan)?

    • Pieta van den Heever

      Privaatskole word nie geraak nie. Dit gaan oor belastinggeld en skoolgeld wat vir indoktrinasie gebruik word. Die OGOD wil hê dat kinders van alle gelowe geleer word. Hoekom? As ’n kind een geloof beoefen word hy/sy maklik ’n gelowige, maar wanneer die kind by die derde geloof kom wat hy bestudeer, dan besef hy/sy dat iets drasties verkeerd is! Dan gaan hulle internet toe en besef gou watter enorme skade geloof oor die jare veroorsaak het. Kyk hoe lyk dit in lande waar ’n godsregering is, daar is net chaos! En ateïstiese lande is van ons gesondste lande. Godsdiens het jare en jare terug laas iets positief gesê!

      • Pieta, jy sê ons moet kyk na die lande waar daar 'n godsdiensregering is; dis net chaos. Andersom swaer, daar is chaos in die lande waar daar NIE 'n godsdiensregering is nie soos hier byvoorbeeld. Vergelyk nou die Nuwe SA met Amerika byvoorbeeld. Amerika is nie perfek nie maar hulle het die afgelope 22 jaar nie hulle infrastruktuur en geldeenheid verrommel soos die geval hier is nie. Jy sal nou aanvoer dat Europa grootliks ateïsties is en dit mag so wees maar Europa het nie skielik ateïsties geword en toe vooruit gegaan nie - kyk maar na die katedrale, die kerkmusiek ens. Om die waarheid te sê, daar het dalk 'n verandering ten slegte ingetree sedert hulle godsdiens versaak het.
        Vat maar Japan ook byvoorbeeld - Japan het gegroei tot 'n gerekende moondheid met Shino-isme en Boeddhisme oor 'n lang tydperk. Dit mag wees dat, soos in Europa, hulle nie meer deelneem aan wat mens georganiseerde godsdiens kan noem nie mar hierdie 'afvalligheid' is nie rede vir Japan se groei nie. Jy verwar oorsaaklik en gevolglik; die land groei nie agv afvalligheid nie maar afvallig tree meestal in na die land gevorder het (en, lyk dit my, meestal met slegte gevolge aangesien etiek en sedes hand-aan-hand met godsdiens loop).
        Hierdie uitsluiting-van-godsdiens-veldtog is maar weer eens 'n libtardtruuk, eintlik erge diskriminasie - moenie-hoeharrie-nie-jou-goed-is-net-so-goed-soos-my-goed is die manifestasie van 'n meerderwaarigheidswaan.

  • "Pietersen meen leerders behoort gelykmatig oor alle godsdienste onderrig te word. Die beoefening van enige spesifieke godsdiens moet buite skoolure geskied ... Pietersen sê die hofsaak gaan nie daaroor om godsdiens uit skole te verban nie, maar dat alle godsdienste gelyke erkenning by openbare skole moet kry."
    Natuurlik is om nie godsdiens in skoolure te beoefen nie dieselfde as om godsdiens uit skole te verban. "Gelykmatige onderrig oor alle godsdienste" is nie godsdiens op skool nie, maar kennis oor wat ander glo op skool.
    En wat is "gelykmatig"? Moet hulle ewe veel oor Zeus (wat lank gelede aanbid was), die Mormoonse profeet, voodoo (wat aanhangers in veral Suid-Amerika het, nie hier nie), Mohammed, Jesus, en elke Hindu-god leer - al word hierdie karakters nie ewe veel aanbid nie?
    As mens net moet leer van die gelowe wat aanhangers in Suid-Afrika het, moet mens dalk proporsioneel daarvan leer volgens hoeveelheid aanhangers? Ek dink nie Hans Pietersen sal daarmee tevrede wees nie - dit sou beteken dat meer as 60% daarvan oor die Christelike geloof moet gaan.

  • Ons lewe darem nou al in die 21ste eeu. Alle vorme van godsdiens is irrasioneel, want dis gebaseer op superstisie en die bonatuurlike.

    • Beste Angus
      Bygeloof is versigtig om onder 'n leer deur te loop, 'n perdeskoen aan jou deur te spyker vir geluk, 'n afkeer van die getal 13 (of 4 in die geval van Chinese) te hê, daardie soort van ding; iets heel anders as godsdiens (dis nou as jy met 'superstisie' bygeloof bedoel).
      As dit volgens jou mening dieselfde ding is (godsdiens en bygeloof) dan is dit net dit; jou mening tensy, natuurlik, jy 'n uitleg kan gee hoekom dit dieselfde ding is.
      Ek sien jy maak die ou ou libtardfout, naamlik dat alles wat chronologies volg, beter is. Dis 'n mite.
      Groetnis
      Jan Rap

  • Beste Jan Rap,
    Ek mag verkeerd wees, maar dit wil al vir my lyk aan jou skrywe dat jy onder die indruk is dat Amerika 'n "godsdiensregering" het, soos jy dit noem. Dis heeltemal verkeerd. Die First Amendment-wet wat op 15 Desember 1791 aanvaar is, bepaal dat geen wetgewing ingedien mag word wat enige religieuse instansie bevoordeel nie. Godsdiensonderrig in skole is verbied en dit het al tot talle hofsake gelei. Diegene wat godsdiens weer in die skole wou invoer, het hulle vasgeloop teen hierdie wet. In ander gevalle weer, het leerlinge hulle beroep op hierdie wet indien hulle geforseer word om aan godsdiensverrigtinge deel te neem.

    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Ek moes geskryf het: godsdiensonderrig is verbied in staatskole. Miskien moet ek ook byvoeg dat Thomas Jefferson alreeds geskryf het van "a wall of seperation between state and church."
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Bygeloof en superstisie is nie absolute sinonieme nie. Bygeloof het te make met lere en watter skoen jy soggens eerste aantrek. Superstisie het te make met die bonatuurlike, daardie gebeure wat mense glo wat nie deur die menslike verstand of deur die wetenskap verklaar kan word nie.
    As ek sê ons lewe in die een-en twintigste eeu, bedoel ek ons lewe in ʼn verligte eeu, en dit het niks met “libtard” (sic) te doene nie. Ek bedoel daarmee dat ons nie meer in gode glo soos ons eertydse grotbewonervoorvaders nie.
    Groete,
    Angus

  • My ervaring met 'n godsdiens-georiënteerde skool is dat die wiskunde-onderwyser dink hy moet met 'n kind oor godsdiens praat in plaas van wiskunde en dit is, in my opinie, heeltemal onvanpas aangesien hy 'n wiskunde-onderwyser is en nie 'n teoloog of godsdiensonderwyser nie. Dis so goed ek vra die dominee om my kind te help met die wiskunde.
    Godsdiens moet by die huis, tussen ouer en kind gekweek word en versterk word met die beoefening van geassosieerde rites soos bepaal deur die godsdiens. Dit versterk die band met geloof en die band tussen familielede.
    Die skool se verantwoordelikheid is om 'n kind genoegsame formele kennis te gee om 'n fondament vir studie en werk te wees. Die ouer se verantwoordelikheid is om die kind voor te berei vir die res, insluitend wat sy godsdienstige grondslag is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top