Voet op die water

  • 0

Om jou voet op die water te sit, soos Petrus van ouds in God se Woord, kom nie maklik nie.

Soms wanneer jy afkyk, is die water onder jou voete troebel, vreemd en diep. Dan skop twyfel in. Om God te vertrou vir wonderwerke kom vir my soms hoogs benoud. Alhoewel afsonderingstye en voorbereiding tydens stiltetyd sterk en vurig manifesteer, word my keel nog steeds droog wanneer ek ‘n onbekende groep mense voor my sien.

As mens sal ek dan wonder, terwyl woorde van lippe afrol, sal God sy Woord eer? Dis anders as die komediant wat sy stories leer voor die tyd, en die nuusleser se woorde wat op skerm voor hom/haar afrol. Dis makliker. Maar om ‘n verhoog te betree, nie presies te weet wat gaan gebeur of wat jy gaan sê, en sodoende eintlik aan die Heilige Gees verklaar om die leiding te vat, want jy is maar net die instrument waardeur Hy werk, is om vanuit geloof te waag. Dan wonder ek of die gevoel, om eerder weg te wil hardloop voor die tyd, ooit sal verdwyn?

Adrenalien hierin is voordelig. Hou jou wakker, paraat. Spirituele sintuie skerp en oop. Die gevoel van saligheid en verrukking in wen kom vir die fietsryer as die hoogtepunt van ure se oefening. Openbaringskennis bars soms uit onder druk. Die gevoel – verrassend en nuut! Na oorwinning is die triomf onbeskryflik.

Soms lyk dit onmoontlik dat God weer lewe kan skep. Maar deur ‘n ingryping bewys Hy weereens Sy troue liefde aan die mensdom. Sy grootheid en goedheid slaan soms my asem weg.

En wanneer die Here wel Sy Woord eer, en wonderwerke plaasvind, dan bevestig dit weereens: God is ‘n werklikheid. En die mens wat sonder Hom na sy graf gaan, of sy kinders, is arm en sonder toekoms of hoop.

Jy mag maar jou Skepper vertrou met jóú.

Trienie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top