Idiome in die klaskamer: visuele woordsmede/woordmeesters in wording

  • 0

Te laat vir die kat se afval kom; wie sal die kat die bel aanbind?; kat se blad; die kat uit die boom kyk; kerm soos ’n kat oor ’n derm; die kat in die donker knyp; daar is meer as een manier om ’n kat dood te maak; ’n kat in die duiwehok gooi; snags is alle katte grou; dis nie ’n kat om sonder handskoene aan te pak nie; soos kat en hond leef; vir die kat kwaad wees en die hond skop; g’n kat se kans nie; ’n kat in die kelder toemessel; ’n kat kan ook na ’n koning kyk; ’n kat in die kelder toemessel; lyk asof die katte jou kos afgeneem het; so welkom soos ’n kat in die melkkamer en om iets draai soos ’n kat om warm pap is enkele van die idiomatiese uitdrukkings met die woord kat wat in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom van Anton F Prinsloo gelys word. Die vraag is of leerders op skool, asook studente op universiteit, se idiomatiese woordeskat deel van hulle taalgebruik uitmaak.

Idiomatiese taal en woordgebruik vorm deel van taalkundeonderrig en kan doelmatig op skool (en universiteit) onderrig word. In hierdie artikel word ’n eksperiment in idiome-onderrig met behulp van tegnologie met taalonderwysstudente beskryf.

As eksperiment het ek studente uitgestuur om foto’s van idiome op kampus te neem. Dit is voorafgegaan deur ’n lesing oor idiome, die aard van idiome, idiome in die klaskamer met verwysing na onderrigstrategieë, en die gebruik van woordeboeke in idiome-onderrig.

Idiome kan volgens Swanepoel (1997:128) beskryf word as enige vaste uitdrukking waarvan die idiomatiese (figuurlike) gebruik nie geheel en al uit die letterlike betekenis van die samestellende dele afgelei kan word nie. Dikwels kom woorde in ’n idioom nie andersins vrylik in die taal voor nie en is hul betekenis buite die idioom ook onduidelik. Idiome is vaste uitdrukkings en segswyses eie aan ’n taal. Idiome word dikwels as die speserye van taal beskryf, aangesien dit taal kleurryk, geurig en lewendig maak. Verskillende idioomvorme kan onderskei word, naamlik metafore, metonimia, ironie, allegorie, argaïsmes en neologismes.

Chené Moggee

Kennis van idiomatiese taalgebruik verruim taalgebruikers se woordeskat aansienlik. Estetiese teksproduksie en -waardering kan plaasvind wanneer vaardige taalgebruikers idiomatiese uitdrukkings op allerlei wyses manipuleer om die kommunikatiewe potensiaal daarvan te verhoog. Swanepoel (1997:130) wys daarop dat idiomatiese taalgebruik denkvaardighede ontwikkel. ’n Kognitiewe model kan steun op perseptuele, fisieke, sosiale en kulturele (linguisties ook) ervaringe van die werklikheid.

Marzanne Möller

Die funksie van idioomkuns kan as volg saamgevat word: dit kan die argument versterk; dit het oortuigingskrag; dit kan dien as waarskuwing; en dit kan bydra tot die diepere betekenisse van gebeurtenisse.

My doel as dosent van taalonderwysstudente (en spesifiek Afrikaanses) is om vakkennis, asook pedagogiese vakinhoud binne ’n konstruktivistiese raamwerk te vestig. Richardson (2003: 1626) beskou konstruktivistiese onderwys as leerdergesentreerd, aangesien aandag aan die individu geskenk word en respek getoon word vir die leerder se agtergrond en ontwikkelende begrip van kennis en waardes. Tydens onderrig word gedeelde begrip van die onderwerp geskep deur interaktiewe betrokkenheid met take wat gestruktureer is vir die ontwikkeling van leerders (en studente) se metabewussyn van hul eie denk- en leerprosesse. Met die uitvoer van die idiometaak word die model van ervaringsleer ook toegepas, aangesien kennis verwerf word deur konkrete ervarings wat tot begrip lei. Studente is aktief betrokke by die konstruksie van hul eie idees en interpretasie van idiome. Ervaringsleer pas binne die konstruktivisties-interpretatiewe paradigma.

Talana Cilliers

Taalgebruikers verstaan, verwerf en onthou idiome beter as hulle weet hoe idiome gemotiveer word en hoe dit binne die woordeskat in sy geheel gesitueer is. Beter begrip kan dus bewerkstellig word indien gebruikers presies weet hoe die idiomatiese betekenis daarvan ’n funksie is van die motiverende beeld. Dit gaan dus oor betekenisstruktuur en interpretasie van idiome. Verklarende woordeboeke, asook woordeboeke soos die bogenoemde Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, het ’n groot rol te speel in die onderrig van idiome. Tydens die onderrig van idiome word taalgebruikers se analitiese vermoëns geslyp, veral om kontekstuele inligting te ontgin om betekenis af te lei en om idiomatiese uitdrukkings te rekonstrueer.

Studente vorm deel van die sogenaamde MALL-generasie (waar MALL staan vir Mobile Assisted Language Learning) – die generasie wat met behulp van draagbare toestelle leer. Hulle gebruik draagbare tegnologie, byvoorbeeld slimfone of tablette, in die leerproses. Sodoende vind demokratisering van die leerproses ook plaas waar die verantwoordelikheid vir die leerproses na die student verskuif en ek my rol as fasiliteerder van leer vervul.

Michelle Cooper

Die leerdoelwitte van die lesing oor idiome was naamlik:

  • Gebruik idiomatiese uitdrukkings gepas.
  • Gebruik ’n woordeboek om woordeskat uit te brei.
  • Stel idiomatiese woordgebruik visueel voor deur middel van draagbare tegnologie.
  • Lei betekenis af en verduidelik die skrywer se bedoeling.

Die taakopdrag was as volg:

  • Gebruik draagbare tegnologie om een of twee idiome of uitdrukkings op kampus of in jou leefwêreld af te neem. Dit kan ook nuwe idiome of tipiese studente-uitdrukkings wees. Skryf die idioom op die foto neer, asook jou naam. Stuur dit per e-pos aan die dosent.

Onderrigstrategieë wat met die lesing en verskafte taak gevolg is, is die volgende:

  • Speel met woorde
  • Visuele voorstellings.

Ek het onderrigstrategieë demonstreer wat hulle ook in die toekomstige klaskamer kan toepas.

Na inlewering van die taak kon studente ook reflekteer op die taak en sodoende is meer betekenis aan die taak verleen. Refleksie help om ervarings te organiseer en te veralgemeen. Refleksies kan opgeteken word in joernale of multisimboliese vorme en besprekings.

De Beer (1986:105) het dit teen die metode waar die idioom langs die verklaring geplaas word en leerders dit moet memoriseer, aangesien dit doods en oneffektief is. Dit sal beslis nie ’n taalliefde aanwakker nie, wat staan nog die ontwikkeling van die vermoë om taalskeppers te word. En is dit nie uiteindelik die doelwit van menige Afrikaanse taalonderwyser om taalskeppers te vorm nie? Met dié onderrigstrategie, waar studente idiomatiese woordgebruik visueel met behulp van tegnologie moes voorstel, is die saadjie vir kreatiewe taalonderwysers hopelik gesaai.

Bronnelys

De Beer, JA. 1986. Ons verwaarloos ons idioomskat. Klasgids, 21(1):99–108.

Prinsloo, AF. 2009. Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom. Kaapstad: Pharos.

Richardson, V. 2003. Constructivist pedagogy. Teachers College Record, 105(9):1623–40.

Swanepoel, P. 1997. Idiomatiese taalgebruik en die afstand tussen Afrikaans en Nederlands. Tydskrif vir Afrikaans en Nederlands, 4(1):128–62.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top