Vir Jan oor sy beskouing van wat Linguistiek is

  • 2

Beste Jan,

Ek wil graag weet, op grond waarvan mag iemand soos Jan Rap (en ek kan byvoeg, en sy maat), sommer aan ʼn vakdissipline soos Linguistiek voorskryf wat dit is en wat dit nie is nie?

Linguistiek is die studie van taal (nie ʼn taal nie). Grammatika is ʼn onderafdeling van Linguistiek en behels die studie van taalstrukture en hoe tale funksioneer (nie een besonderse taal nie). Nadat ʼn student Grammatika (die vak, die dissipline), bestudeer het, kan hy, as hy belangstel, ʼn besonderse taal neem (sê nou maar Engels, of Russies, of Afrikaans of  ʼn vreemde taal wat hy in Suid-Amerika ontdek het), en die struktuur en werking daarvan bestudeer. Dan kan hy hierdie struktuur of werking beskryf deur middel van taal. Gewoonlik word die taal gebruik wat bestudeer is, maar heel vreemde tale wat nog nie bestudeer is nie, word die struktuur in Engels beskryf. Soos rugby of tennis of krieket hulle eie vaktaal het, so het die Grammatika ook sy eie nomenklatuur.

(Ek wil net hier byvoeg: dis nie ek, Angus, wat so beweer nie, dis hoe almal wat Linguistiek bestudeer, dit verstaan. )

Dis nie ek wat Chomsky die Vader van die moderne Linguistiek en die moderne Grammatika noem nie. Dit is hoe hy bekend staan in die wêreld van die Linguistiek. Hy kan tereg die vader van die moderne Grammatika genoem word, want met sy Syntactic Structures het hy die taalbeskouing en hoe tale innerlik funksioneer, heeltemal in ʼn ander rigting ingestuur. Dit staan bekend as Transformasionele Generatiewe Grammatika (TGG). Jy wil weet watter taal se grammatika. Dit is die grammatika van taal, nie ʼn taal nie, maw taal in sy universele betekenis.

Jy skryf: “Jy sê net uiters knap onderwysers kan die doseer van die direkte metode toepas. Hoekom is dit dan so wonderlik want om die grammatika aan te leer het jy nie eers ’n onderwyser nodig nie; jy kan ’n boek koop (dink aan die gewilde ‘Teach Yourself’-reeks).”

Ek herhaal: net uiters knap onderwysers kan die direkte metode gebruik. Ek sê nie dat jy nie vir jouself deur middel van ʼn boek ʼn nuwe taal kan leer nie. Dit is natuurlik die maklikste om die taal se grammatika te leer, en so die taal, as jy dit sonder hulp wil doen.  Die grammatika in hierdie ‘Teach Yourself’-reeks is deur knap grammatici geskryf. Die heel beste manier om ʼn taal te leer, is om daaraan blootgestel te word. As jy Italiaans wil leer, gaan woon in Italië. Spoedig sal jy die taal ook grammatikaal korrek praat, alhoewel jy nie doelbewus die grammatika geleer het nie.

Jy beweer dat ek grammatika met grammatikaterme verwar. Hoe so? Grammatikaterme is dan juis die taal wat ʼn mens gebruik as jy grammatika beskryf. Ek het dit alreeds hier bo aan jou verduidelik. Elke vak het sy eie nomenklatuur; grammatikaterme is die nomenklatuur van grammatika.

Ek het al herhaalde kere aan jou verduidelik dat die kennis van grammatika, of grammatikaterme is nie nodig om ʼn taal te kan praat of om dit aan te leer nie. Blootstelling aan die taal is al wat nodig is en as dit nie moontlik is nie dan is doelbewuste taalonderrig nodig. Die moderne manier van taalonderrig is die direkte metode. Daar is natuurlik hope ander metodes van taalonderrig. Ek het eenkeer ʼn demonstrasie van die Stokkiesmetode gesien. Glo dit as jy wil, maar dit het nie lank geneem nie, toe stry ʼn klompie Taiwannese lekker in Afrikaans met mekaar. (Dis my stokkie. Nee, dis my stokkie. Dis nie jou stokkie nie, ens. )

Dit is nou maar eenvoudig so dat Engelse woorde Afrikaanse woorde verdring, daar kan ons nie vanaf wegkom nie. Waarom dit so is, kan ʼn heel interessante studie wees. Jy kan dit gerus aanpak vir jou doktorale proefskrif. Ek het ʼn teorie daaroor (teorie natuurlik in die populêre sin van die woord, nie die wetenskaplike nie). Soos sekere feite verander, so slyt sekere woorde se betekenisse. Die woord ‘wonderlik’ se betekenis vervaag omdat diegene wat dit ken, aan die uitsterf is, en die woord ‘amazing’ word aangegryp deur die nakomelinge. So is dit met elke Engelse woord wat in Afrikaans gebruik word. Eens op ʼn tyd het ons, ek dink die woord ‘jasje’ gehad. Niemand wat Afrikaans praat ken meer die woord “jasje’ nie, maar almal weet wat ʼn baadjie is. ‘Jasje’ se betekenis het geslyt en verdwyn, en ‘baadjie’ het die plek daarvan ingeneem.

Ek herhaal: ek hou nie daarvan dat Engelse woorde in Afrikaans gebruik word nie. Dis vir my afskuwelik lelik, maar dis my persoonlike smaak. Die werklikheid is egter, dit gebeur met Afrikaans, en ek kan nou nie my kop in ʼn gat druk soos die spreekwoordelike volstruis nie. Ek moet erken dat dit Afrikaans verryk. Daardeur versterk dit Afrikaans se seggingskrag. Veral op wetenskaplike gebied kan ons deesdae nie meer sonder Engels klaarkom nie, want Engels is die wetenskaptaal van die moderne eeu.

Natuurlik is Afrikaans, om jou taal te gebruik, vervalle Nederlands. Jy moet gaan lees oor hoe die mense gekla het, (soos jy nou kla) oor die swak Nederlands wat aan die Kaap gepraat word. Allerhande redes is daarvoor gegee van geen onderwys in Nederlands nie, gebrek aan skole, tot slapgattigheid van die burgers, ens, ens.

Jy sê self enige taal het ʼn brontaal. Waarom kan Afrikaans nie ook die brontaal van ʼn ander taal wees nie? Op die oomblik lyk dit nie so nie, maar hoe weet ons wat oor 500 tot ʼn 1000 jaar verder gebeur? Die totstandkoming van Afrikaans is maar ʼn uitsondering, maar gewoonlik neem dit eeue vir ʼn taal om te vorm.

Angus

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek is nie by die taalbespreking gemoeid nie. Ek hou glad nie daarvan as "Afrikaanssprekende" mense Ingelse woorde in hul Afrikaanse gesprekke ingooi nie. Die gewildste is mos die "Awesome" Ek kan in my kouse dinges as iemand dit doen. Ek is seker mos ook moedswillig. My gunsteling "reaksiesoekers" is die direkte vertaling van Afrikaans na Ingels om iets te beskryf. Ek sien partykeer die aanhoorder, verstaan nie, of wil nie en ander probeer my reghelp. My gunsteling is om van roltrappe in Ingels te praat as "rolling steps". Ek praat ook van "I put ears on you" bedoelende, ek sit jou ore aan. Dit haal die verveling uit baie gesprekke uit.

  • Best Giantdwarf,
    Man, I vote with you.That rolling steps and I put ears on you, stab very much the dragon with them rooineks.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top