Vir Gail Starke Horne as antwoord op haar kommentaar van 2016-12-07

  • 6

Beste Gail Sterke Horne,

Ek is jammer om te hoor van die aanval op jou man.  Ek wonder net altyd sou daar ʼn almagtige God gewees het, waarom het hy nie die aanval gekeer nie?  Waarom eers wag dat jou man met ʼn mes gesteek word, en dan kom hy en skyn ʼn lig en lei hom na veiligheid.  Waarom verwoestende aardbewings laat plaasvind, duisende mense dood, en as daar een is wat dit oorleef, dan word gesê hoe wonderbaarlik liefdevol God is om hom te red.  ʼn Neef van my is onlangs so aangeval. Sy vrou is verkrag en moes verskeie operasies aan haar gesig ondergaan. My neef het talle steekwonde aan sy arms opgedoen soos hy gekeer het. Weet jy wat sê sy bure? Kyk net hoe wonderbaarlik is God. Niemand is dood tydens die aanval nie.

Wat die lig en die stem betref, kan ek maar net sê: όf jou man lieg daaroor, όf dit was hallusinasies as gevolg van die skok.  Ek het self al so ʼn ondervinding met ʼn wit lig gehad.  Tydens ʼn rugbywedstryd het ek ʼn harde hou teen die kop gekry.  Vir ʼn rukkie was ek bewusteloos, en toe ek bykom, was ʼn klompie seuns besig om my af te dra. Ek het ʼn wit lig gesien, met my ma se gesig in, wat my boosaardig aangegluur het.  Sy het my verbied om rugby te speel, en ek moes dit skelmpies doen. (Dis die reine waarheid; ek lieg nie!)

Jou glo-storie staan bekend as Pascal’s wager.  Dit het die weg gebaan vir talle filosofieë soos die pragmatisme en eksistensialisme.  Sy wager kom kortliks daarop neer dat, alhoewel ʼn mens nie kan bewys dat God bestaan nie, moet jy maar liewers in hom glo, want dan kan jy niks verloor nie.  Bestaan hy nie, is alles goed en wel, maar bestaan hy, dan is jy aan die veilige kant.

Kom ons veronderstel God bestaan, en ek en jy kom by die poorte van die hemel aan.  Jy vertel aan God jy het maar liewer, veiligheidshalwe, in hom geglo, want of hy bestaan of nie, jou geloof red jou bas.  Ek vertel vir God dat ek eerlik is en nie in hom geglo het nie, want hy het nooit met my kom praat nie, hy het hom nie aan my geopenbaar nie.  Ek kon dus nie glo in iets wat nie vir my bestaan nie. 

Nou moet jy my asseblief laat weet wie dink jy, sou God in die hemel toelaat? Jy wat geglo het om jou bas te red, of ek wat eerlik was.

Groete,

Angus

 

  • 6

Kommentaar

  • "Men never do evil so completely and cheerfully as when they do it from religious conviction." Blaise Pascal

  • Angus, Die huidige pous het onlangs beweer as 'n ateïs werklik eerlik nie geglo het nie, dan sal God hom/haar nie straf nie. Komende van God se verteenwoordiger op aarde weet ons nou waar ons staan. Groete, Pro-dink.

  • Beste Angus
    Dit het f-all met eerlikheid te doen. As jy moeite gedoen het om een van jou 23 Bybels te lees sou jy al gelees het as jy volgens die wet lewe sal jy volgens die wet geoordeel word. Paulus sê nie verniet in Romeine 2 dat die wet deur God ingeskryf is in die hart van die mens en hul daarom worstel met die vraag wat goed en wat verkeerd is.
    Dit het dus niks met eerlikheid te doen nie, maar wel omdat jy nie eers aan die vereistes van jou eie gewete kan voldoen. Jy weet mos dit is verkeerd vir 'n getroude man om met 'n skelmpie rond te neuk, gaan God hom daarvolgens oordeel en straf.
    Dit is ons inherente onvermoë in die verband wat gelei het tot die koms van Jesus, die Jesus wat jy reken vermis is, wat uit genade tot ons verlossing en vryspraak voor die Regter lei en nie jou eerlikheid nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top