Vigil definitief ‘n aandjie uit werd

  • 0
Foto: Jesse Kate Kramer

 

Graham Hopkins is legendaries in Johannesburg. Elke stuk waarin hy speel, is ’n sukses. Sou dit wees omdat hy goeie keuses maak? Sou dit wees omdat hy as akteur almal om hom aanstig tot hoë standaarde? Waaraan sou dit te danke wees?

En as hy omring is van ander soos hy?

Vanessa Cooke se suksesse loop ewe diep. Reeds jare lank skenk sy haar grasie aan veral die Markteater, maar het sy ook al spore getrap in die Ruimte- en ander teaters.

Hierdie is die twee akteurs op die verhoog in Vigil.

En roer hulle twee in by twee reuse van ons verhoë: die ongelooflike aktrise Susan Danford en haar man, die ewe skouspelagtige akteur Stephen Jennings, en jy is ’n hanetree van sukses af, voor jy nog begin het.

Die stuk speel af in ’n pragtig-ontwerpte stel. Absurd aanmekaar geweef is die kinderelemente: skewe deur, venster, kas. Aanmekaar gegom deur ’n oumensgom, breiwol en breiwerk – in verskeie betowerende skeppinge. Die ontwerper is Julia Anastasopoulos. Die beligtingsontwerp is ook grotendeels geslaag. En waar daar dalk een donker kol op die verhoog is wat nie daar moes wees nie, vergoed die interessantste ontwerp ruim daarvoor.

Hierdie hoogs interessante, ondernemende werk is glo gedoen deur Luke Ellenbogen. (Dié inligting is nie op die program nie.) Mens dink dis seker maar sulke besonderhede, soos die enkele donker kol op Graham Hopkins se gesig, wat koerante in hul resensies aan ’n puik stuk teater een of twee sterre – minder as 5 – laat gee. Maar dis een verstelling weg van opgelos.

En die semi-absurde, gepaardgaande met die klank/musiek, herinner mens aan ’n ander regie van hierdie bekroonde regisseur, Chris Weare, wat na ’n jaar mens steeds bybly: ’n uitstekende produksie van The Mechanicals, naamlik Murderer.

Soos Murderer, vloei hierdie stuk knap. Die kwinkslae en aanslag herinner gereeld aan Monty Python se John Cleese. En een sterretjie weg, vir ’n kolletjie hier en daar wanneer dit klink asof Hopkins onnodig hard werk daaraan om kontak te maak met sy medespeler en met sy gehoor. Dis egter so minuskuul dat dit kwalik afbreuk doen aan die sukses van die produksie.

Gehoorlede kan hulle net verwonder aan die briljante fokusverskuiwings. Elke keer as Hopkins die mees lakoniese stellinge maak, weet die regisseur die fokus sal verskuif na Cooke, en manipuleer hulle dit ook magieslik so. En nes die stuk van Hopkins ’n amperse eenmansoptrede vra, word sy absurdste gedagtes eenvoudig gesteun deur ’n toeganklike onderspeelde oordaad. En wanneer die gehoor se aandag gelei word na Cooke ... daar is sy, slaggereed, en suiwer.

’n Slaggat wat grotendeels vermy word, is die potensiële verval in dieselfde tempo en patrone, veral deur Hopkins. Hulle verskuif subtiel, meestal, spoed en aanslag. Giggels doen die ronde in die gehoor soos wat elke gehoorlid se aptyt op ’n ander manier bevredig word. En die twee rondes applous aan die einde plaas die stempel op ’n vermaaklike, maar stimulerende, aand uit.

Teen die trappe af hoor almal mekaar se optimistiese opmerkings, soos “baie goed”, en “dit was nou charming”.

Vigil is definitief ’n aandjie uit werd; ’n juweel, met die room van die land se akteurs en teatermakers, in ’n Kanadese pryswennerstuk. Vigil is ’n spanpoging van die Jennings/Danford-paartjie en Hopkins as vervaardigers. Mag die samewerking nog baie gebeur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top