Video: #SAS4_2015 – Antjie Krog oor Afrikaanse identiteit

  • 3

Antjie Krog het Vrydag 2 Oktober as deel van die Swart Afrikaanse Skrywersimposium by UWK gepraat oor Afrikaanse identiteit. Sy was deel van 'n paneelbespreking wat die vrae gestel het: Waar kom ons vandaan? Het Afrikaanse identiteitskontrukte van die verlede nog geldigheid?

  • 3

Kommentaar

  • Carina van der Walt

    Onlangs waak ek vir 'n tyd lank langs die sterwensbed van my jonger sussie. Dit was hartverskeurend om haar as een van 'n tweeling dag vir dag te sien agteruitgaan. Sy was meestal alleen in die kamer en die besoekers het in- en uitgestroom. Maar op 'n dag is die bed langs haar gevul. Daar lê 'n jong, swart meisie wat ingekom het vir haar chemoterapie. Sy kry dae lank geen besoekers nie, maar eet goed. Die suster sê sy reageer ook goed op die chemo. As sy slaap, slaap sy op haar knieë met die kombers oor haar kop getrek. Dit verander die bed in 'n miershoop. Ek kon maar net in herkenning grinnik.
    Op 'n dag sê my sus vir my: "Gaan na haar toe. Sy kry swaar."
    "Hoe weet jy dit?", het ek saggies kop onderstebo gevra.
    "Ek het mos daagliks met hulle gewerk. Ek kan dit sien. Help haar." (My sussie het skoolgehou by 'n soort nywerheidskool op die platteland. 'n Plek waar sy al 'n paar keer agter die klaskamerdeur aangehou is met 'n mes.)
    Terwyl ek by die meisiekindjie op haar bed sit met my arm om haar skouers geslaan, wieg ek haar so 'n bietjie soos net 'n regte Afrika mêmma sou maak.
    My sussie vra wat haar naam is.
    "Bopelo", sê sy.
    En my sus reageer: "I will pray for you, Bopelo, my dear. You will be okay", terwyl die dood reeds onmiskenbaar oor haar eie kop hang. Ek moes bietjie sluk.
    En ek bly Bopelo in my arms wieg, stel vrae en probeer troos. "Where is your family? How old are you? Do you have a brother? A sister? You are so young, Bopelo. You are so beautiful. So strong. You will survive this." En Bopelo antwoord al my vrae terwyl opstandige trane oor haar wange stroom.
    "I hate this place!"
    Dan raak sy 'n bietjie kalmer.
    Het ek my taal verloën met hierdie paar trooswoorde in Engels?
    Het ek my wit vel verloën deur 'n swart meisie vas te hou wat dit nodig gehad het?
    Vir geen geld in die wêreld glo ek dit mos nie!
    My sussie is op 1 Oktober begrawe. Maar iewers in Mafikeng kom Bopelo se drie weke vir haar volgende chemo-behandeling al weer nader. Ek is daarvan oortuig dat sy die groot K sal wen. Ek gun vir haar 'n lewe en 'n toekoms in ons mooi land, net soos ek ook vir my sussie se spierwit drie grote kêrels 'n toekoms in hierdie selfde land gun.
    Wat kos dit om perspektief te kry op wat waar en goed en volhoubaar is in so 'n hartverskeurend gekompliseerde land soos Suid-Afrika? Afstand? 'n Doodskaduwee? Ek weet nie!
    Wat ek wél weet is dat die lewe minder ryk geskakeer en nogal saai is as almal om jou dieselfde velkleur het, dieselfde taal praat en min of meer dieselfde mentaliteit het. Ons mense in Suid-Afrika se innerlike rykdom lê in 'n opwindende verskeidenheid, wat elke dag wag om ontdek te word. Kan ons nie maar probeer om mekaar se "andersgeit" te respekteer en te koester nie?

  • Afrikaans, dus nie net ’n taal nie! Vir my is dit ek as mens persoonlik! Afrikaans is die klank wat deurkom in my lewenssang! My verlede se roeping na aanvaarding in die hoedanigheid van menswees! Dat kleur en agtergrond nie ’n verskil moet maak in waarvoor ek as "mens" of sogenaamde "kleurling" glo of wat vir my belangrik is! As ’n saad van die jare 70, gebore ’n jaar na die opstand van swartes oor hul taal, staan ek vandag as ’n voorstaander en trotse spreker vir en van Afrikaans! Sonder haat oor my grootwordjare, maar hoop dat ons vorentoe sal saambeweeg en ons diversiteit sal omarm met trots, kameraadskap! Ja daar kom tye wat jy so mismoedig is oor wat in die land tans gebeur, maar dit help ons niks om te stagneer in die verlede! So persoonlik voel ek dat ons moet hande vat en saam ’n brug bou met Afrikaans so ook die ander amptelike tale want ons wil niemand te na kom nie! Ons kan as ons bereid is om aan te beweeg en ons taal te laat groei en dit te water met liefde en vergifnis!

    • Carina van der Walt

      Akkedissie, jy praat 'n "taal" (want méér as taal is dit regtig) so na my hart. Ek sal jou graag 'n keer wil ontmoet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top