Vi amal wat voel soesie liewe nie meer wêrt issie

  • 1

Got sê ...

Vi amal wat voel soesie die liewe nie meer wêrt issie ... Ek vestaan!

Got sê, “Het jou vyande lief soes jouself.”
Dit lyk my Got was nog nooit mensie,
want hoe kan djy die man lief het wat
jou kind voo jou toe-oë vekrag het,
hoe kan djy die wit man wat
jou land gesteel het lief het
hoe kan djy die swart man
wat jou slaaf moet wies lief het?
Hoe kan djy hulle lief het wat
anners dan djy is?

Got sê, “Gie jou vyand ’n bord kos wanne
hy honge is.”
Dit lyk my Got het nog nooit
die seer van ’n ma gevoel
wat haa eeste en ienigste
kind veloor het deur iemand
se hantie
Wan hoe kan djy die vrou ’n
Bord kos gie wat jou ienigste
Kind van jou tet af gesteel het?

Got sê, “Moenie kwaad
met kwaad betaalie
wan dit gattie die kwaad weg vattie.”
Dit lyk my Got was nog nooit
deur ’n taxi drive ampe vannie pad
af gery nie.
of deur kinners in jou klas
bespottie.
of deur jou besigheidspartner
veneuk wassie.

Got sê, “Djy moet broederlike liefde wys
an mekaa.”
Dit lyk my Got het nog nooit gehoor
die skree-na-hulp van jou ma 
af, soes jou pa, haa man, haa soes
’n hond innie ronte in moerie.
of nog gevoel hoe dit voel
om deur die ienigste mens
wat djy vetrou vekoep
te wôttie.

Got sê, “Vegiewe vi hulle wat kwaad
an jou gedoen het.”
Dit lyk my Got het nog nooit
laat moes huis toe
travel mettie treinie
en soes djy by die donke stasie
uitloep deur ’n bolling jongens
wat jou kinners
kan gewies het, angeval wôd
om die bietjie geld wat djy
gewêk het voo by
die wit baas wat fokkol
warrie oo hoe djy by jou huis kô nie,
afgevat wôd,
en hoe djy later daai aand met ’n skaam
gevriet voo jou honger kinners
moet staan en veduidelik dat
hulle moet wee gan loaf by antie Hettie
se suinige man vi ’n halwe brood
se geld.

Got sê, “Djy moet giestelik
wies en my dien.”
Dit lyk my Got was nog nooit in ’n kêkkie
waa die pastoor bietere klere dra
dan die mense in sy kêk,
waa die pastoor die meisies,
en seuns, vannie jeuggroep
eeder betas of rape of al twee.
Waa die pastoor se vrou
brêk hoe sy nog ’n
flet-screen TV gan hang innie
twieslaapkamerhuis wat al klaa
drie groot-gat TV’s in het
tewyl djy warrie oo hoe
djy jou kinners se skoolgeld
gan betaal.

Got sê, “Djy moet hêppie wies, en djy moet
geduldig wies.”
Dit lyk vi my Got was nog nooit
in parliamentie.
Hy’t nog nooit geluiste na
die lede van parliament
en hoe hulle stry en
baklei oorie geld wattie
hulle s’n issie.
Terwyl die res van ôs
maa baklei tienoo
wie is wit-genoeg of swart-genoeg,
of oo wie is vekeerd en wie
is reg.

Got sê, “Djy moet met ’n vol hart bid.”
Dit lyk my Got vestaanie
dat ôs lankal vegiet het
hoe bid wêkie.
Dat ôsie mee op ôs knieë
elke aand langs os beddends
knielie om dankie te sê nie.  
Want wat van WhatsApp,
of Facebook.
Want wat vannie foto’s
wat ôs deel om vi Got en ôs
followers te wys
ôs is lief vi Got. Wat van allie
new age meditation gemors
wat ôs nou proebee
want dit voel oek soms al gooi
ek my hanne tien mekaa
elke aand, en al kniel ek tot
my knieë begin bloei, dat
Got net niks hoo nie.
Dit lyk soes Got doef geraak het
daa boe.

Got sê, “Ôs moet met mekaa in
vriede liewe.”
Dit lyk my Got was nog nooit
innie hospitaal of ’n skool
as ’n bom geval hettie.
Of in ’n mall as die bullets
begin vliegie.
Of in ’n kêk as dit gerob
wôttie.

Ek dinkie Got vestaanie. Ôs sal nooit kan
in vriede liewe,
of wies soes hy
wil hê ôs moet wiesie,
wan vi soelank soes hy liewe,
en vi soelank soes ôs liewe
ken ôs nog net
geweld.
En vriede is maa net ’n
droem wat Got iewers,
innie hiemel, lê
en droem.

Maa Got sê,
“Het jou vyande lief soes jouself.”

  • 1

Kommentaar

  • Dis op die man af -hard en sonder genade. Maar, dit kom uit die hart uit en dit wat uit die hart uit kom het nie klere aan nie. Baie mooi geskryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top