Verwoerd-nostalgie: ’n teken van die tye?

  • 29

Klokslag elke jaar hierdie tyd doen foto's van oorvol strande die ronde op sosiale media. So seker soos die son in die ooste opkom, is die gepaardgaande kommentaar neerhalend en rassisties. Dis ook nie lank daarna nie of iemand begin foto's van oorvol strande in die suide van Frankryk en Italië, of deesdae in Australië, plaas om te wys dieselfde situasie geld ook in ander lande.

Dis deel van die nuwe abnormale “normaal” van Suid-Afrika. Dit kan met ’n sug en ’n rol van die oë afgemaak word.

Wat moeiliker is om af te maak, is die hernude belangstelling die afgelope aantal maande in die oranje blanje blou en die nostalgiese verlange na die leierskap van Verwoerd. Die retrospektiewe beeldpoetsery neem nou reeds in alle ywer toe. Daar word gereeld verwys na hoe sterk die ekonomie onder Verwoerd was, hoeveel werksgeleenthede daar was, hoedat daar dissipline was, hoedat lewensgehalte beter was vir inwoners, en veel meer.

Dit is natuurlik gedeeltelik waar. Die ekonomie wás sterk, maar dit was deel van ’n wêreldwye verskynsel. Zuma is ’n gewilde teiken en sondebok wat uitgewys word vir alles wat verkeerd is in Suid-Afrika. Die realiteit is egter dat daar wêreldwyd ’n ekonomiese insinking is, en een politikus in Suid-Afrika kan dit nie veroorsaak nie.

Dit is so dat daar werksgeleenthede geskep was. Vir Afrikaners. Bruin en swart mense het nie tot dieselfde mate voordeel getrek uit Verwoerd se beleid nie. Dieselfde is waar omtrent lewensgehalte.

Gedurende die 1940’s en 1950’s het Afrikaners dit maar swaar gehad, net soos swart en bruin mense. In ’n onlangse onderhoud met ’n tagtigjarige vertel sy onder andere dat almal in die 1940’s hulle brood in bruinpapier moes toedraai, en hoedat die vetkolle op die papier deurgeslaan het. Alhoewel Tupperware al in 1946 tot stand gekom het, is dit eers in 1964 in Suid-Afrika versprei. Niemand kon botter bekostig nie, en hulle moes vet uitbraai om op die brood te smeer. Klere was skaars, en dit was niks ongewoons dat die jonger kinders in die familie die ouer kinders se te klein klere moes dra nie.

Dit het vir Afrikaners beter begin gaan eers toe Verwoerd aan bewind kom en projekte begin het om Afrikaners te bevoordeel. Daardie institusionele bevoordeling, gegrond op kleur en taal, bestaan nie meer nie.

Die hunkering na vervloë dae maak steeds nie sin nie. Ekonomies is Afrikaners as ’n groep steeds beter daaraan toe as die meeste ander groepe in Suid-Afrika. Selfs die swart middelklas groei nie teen dieselfde spoed nie. Kan dit dan wees dat die hunkering nie soseer na ekonomiese voordeel is nie, maar eerder na die sosiale voordeel wat die geloof in wit meerderwaardigheid onder Verwoerd gebied het? Is dit hoekom daar nou met soveel heftigheid ontken word dat Verwoerd apartheid ontwikkel het van ’n stomp, oneffektiewe instrument na ’n skalpel wat haarfyn kon sny?

En is dit dan nie skynheiligheid om staat te maak op daai voordeel, maar Zuma en die ANC te veroordeel wanneer hulle presies dieselfde doen om swart mense op te hef en ekonomies te bevoordeel nie?

Die pendulum swaai al meer na konserwatisme, nie net in Suid-Afrika nie, maar dwarsoor die wêreld. Kyk maar na Trump en sy Meksikaanse muur, die uitbreek van geweld teen Moslems in post-Brexit Engeland, die opkoms van neo-Nazis in Duitsland, die toenemende streng godsdienstige invloed van ISIS in die Midde-Ooste. Dis nie toeval dat die Reina-nagklub in Istanbul as teiken van ’n gewelddadige aanval uitgesoek was nie. Reina is ’n simbool van sekulêre vergrype en Westerse dekadensie vir ISIS, wie verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar het.

Regse en verregse elemente kan net in spesifieke omstandighede floreer, net soos virusse en bakterieë. Frustrasie en onsekerheid rondom opvoeding en die koste daarvan, bewerings van onbevoegdheid en/of korrupsie aan regeringskant, magsvertoon en magsmisbruik deur politici in verkose posisies, tesame met kommer oor die ekonomiese vooruitsigte is besig om ’n teelaarde van politieke onvergenoegdheid te skep.

Dit op sigself is nie problematies nie. Verandering en verbetering kom immers net wanneer mense die status quo begin bevraagteken. Wat wel problematies is, is die skynbare onvermoë om politiese oplossings vir politiese probleme te vind. Ons het duidelik nog nie politieke volwassenheid bereik om geskille vreedsaam te besleg nie.

My vrees is dus dat ’n toenemende konserwatiewe groep al meer op rassistiese maniere hul frustrasie sal uitspeel. Dis glad nie vergesog om van daar te gaan na ’n radikale, gewelddadige reaksie vanaf veral gefrustreerde swart jong mense nie. Toenemende verregse aktivisme gaan waarskynlik toenemende swartbewussyn-aktivisme tot gevolg hê.

Die woede en frustrasie veroorsaak dat geleenthede om die ernstige vrae te vra, en die ernstige gesprekke te voer, gemis word. #FeesMustFall en die gewelddadige frustrasie van die swart jeug het nie in isolasie opgevlam nie. Zuma se korrupte bewind het nie in isolasie ontstaan nie. Ekonomiese agteruitgang, selfs meer as die refleksie van ’n wêreldwye insinking, gebeur nie in isolasie nie. Misdaad, en veral geweldsmisdaad, vier nie in isolasie hoogty nie. Armoede en hongersnood vind nie in isolasie plaas nie.

Ons kan ons nasionale demone besweer net as ons begin praat met mekaar, met die opregte bedoeling om te luister en te leer.

Ek het groot hoop vir hierdie pragtige land. Ons moet egter leer om mekaar die voordeel van die twyfel te gee. Elke dag. Oor en oor. Dit beteken dat ons almal, swart en wit, sal moet afstand doen van ons verontskuldigende beelde. Wit mense sal moet ophou vra: “Hoe lank moet ek nog betaal vir apartheid?” Swart mense sal moet ophou vra dat wit mense aanhou betaal aan ’n skuld wat hulle in elk geval nie kan delg nie.

Die tyd het gekom dat ons begin hande vat en saamwerk aan ’n land waar niemand se seer geringgeskat word nie, waar ons mekaar met deernis en vergifnis begin behandel. Dit beteken noodwendig dat daar opofferings aan albei kante moet kom. Grootheidswaan kan nie beloon word nie. Minderwaardigheid kan nie aangemoedig word nie, hoe subtiel ook al.

Die eerste slagoffer sal waarskynlik die romantiese geloof wees dat alles beter was onder Verwoerd. Vir die grootste deel van die bevolking was dit nie, en ’n erkenning dat Verwoerd se toepassing van apartheid skade aan ander rassegroepe aangerig het, en hulle ontwikkeling vertraag het, is noodsaaklik.

Slegs dan sal die waarheid ons almal kan vry maak.

  • 29

Kommentaar

  • Maar die Engelse was nog steeds ekonomies beter daaraan af. Verder, baie van ons sou dieselfde graad van ekonomiese sukses kon behaal het in enige ander westerse land.

    • Die gemors het begin met die Broederbond se verwaandheid, verwardheid en vermetelde isolasionisme met die uitsluiting van "volksvreemdes".
      Die grondlegging van die ondergang van die blanke Afrikaner is in 1918 gelê met die stigting van die Broederbond.
      Dit is baie jammer dat die blanke Afrikaners al hul sogenaamde volksvreemdes as hul vyand beskou het! Die beste raad vir die Afrikaners nou is "hou den bek " en werk.
      Paul Kruger se optrede het broedertwis en Engelse haat aangewakker wat ten koste van nasiebou 'n Hollandse/ Afrikaner-ideaal nagestrewe het!
      So what watter taal 'n "volk" praat solank 'n land in eenheid vir sy mense kan sorg!
      Wat help dit my dat my taal suiwer is , my beursie leeg en ek is nie opgelei om in die nuwe internasionale kuber-ekonomie my brood te verdien nie!

  • Die waarheid is 'n relatiewe begrip. Dit word dikwels deur jou eie voorkeur en verstaan versteur. Dit is nie duidelik waarom die Indiër-groep wat as amper slawe na SA gekom het en net so hard deur die segregasiewette getref is kon uitstyg nie. 'n Japannees het eendag vir my gesê hy kan nie verstaan dat swart bevolking nie dieselfde weg as Koreane gevolg het nie toe hulle deur die kommuniste onderdruk is nie en maar die onderwys wat hul gebied is wel aanvaar het en die beste daarvan gemaak het nie en toe hul wel bevry is was die meeste geletterd. Hier is geglo dat liberation before education moet kom en die agterstand vanaf 1976 is nog nooit ingehaal nie. Nadat ek Giliomee se artikels oor Verwoerd gelees het dra die mites oor die invloed wat hy gehad het om die land te vernietig in die staat wat dit vandag is ook nie meer water nie. Hy het net vyf jaar regeer voor hy vermoor is. Die Afrikaner met al sy vratte het ten minste geglo in onderwys en moedertaalonderrig en dit het ook 'n groot bydrae gelewer dat hul hulself kon ophef. Toe hulle opgehou het om die Engelse te blameer vir wat met hul verkeerd gegaan het, het dit ook beter met hulle gegaan. Ten minste het hulle in hul frustrasies nie die universiteite afgebrand nie.

    • Die waarheid is glad nie 'n relatiewe begrip nie.
      Daar is beginsels waarop waarheid gebaseer kan word.
      Die voordele wat die Nasionale Party geniet het, is in die vorige dekades onder die generaals gevestig. Daar was groter visie onder hulle as die eng beskouing van die NP.
      Infrastruktuur, skole, Yskor, WNNR, ens.
      Die voordele van die '60s en '70s kan eerder toegeskryf word aan die aanvraag na kommoditeite soos goud, yster, ens. Die SA ekonomie was toe meer geskoei op verkoop daarvan.
      Vandag word die infrastruktuur afgebreek om bepaalde kaders tevrede te stel.
      Die gevolg sal wees dat die bou wat na unie-wording plaasgevind het, tot niet bestuur sal word en die ekonomie so vernietig!

  • Rassisme geskied of direk en blatant, wat die radiogolwe laat tuit; of subtiel deur wetlik en skaars skuins onder die ras-radar, kamtig onder die dekmantel van akademiese voorlegging, oor enige ras, behalwe jou eie, se doen en late, as sonde uit te beeld. In die proses word die sondes van 'n minuskule minderheid in die betrokke ras ge-ekstrapoleer as algemeen onder die gemeenskap onder bespreking, soos hierbo.
    In Bettina se rubriek oor Jenny Sparrow, word die rassisme onder blankes eers histeries uitgekryt en dan eindig sy met: "Ek is moeg daarvoor dat mens jou nie kan draai in hierdie land sonder dat iemand jou moet herinner aan jou kleur nie ... En dit maak my gatvol". En nou Bettina, wat van ons wat jou beheptheid oor die "wit" (ras) se "sondes" gedurig moet aanhoor? Dink jy nie ons word ook gatvol daarvoor nie? Oordonderend is enige vorm van rassisme onder die bruin bevolking afwesig.
    http://www.litnet.co.za/sewe-lesse-wat-pennysparrow-my-leer/Bettina
    Dan het ons haar gerammel met wilde veralgemenings wat as feite voorgestel word in haar sogenaamde "Wit Bevoorregting" http://www.litnet.co.za/wit-bevoorregting/. http://www.litnet.co.za/wit-bevoorregting/ Om dit nou te kroon, hierdie rubriek!

  • Gustaf Claassens

    Daar is uiteraard baie waarhede in wat Bettina hier sê. Daar is ook frustrasies, verwarring, oorvereenvoudigings en oordrewe uitlatings in aannames wat gemaak word. Dis alles menslik en vir alles moet mens begrip hê omdat redes hiervoor inderdaad bestaan. NET SOOS daar redes is hoekom diegene wat deur haar in die 'beskuldigde bank' geplaas word reageer en optree soos hulle doen. En net soos in Bettina se geval gaan hierdie denke en optredes gepaard met frustrasies, verwarring, oorvereenvoudigings en oordrewe uitlatings. Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde, 'n siklus en 'n sirkel wat voltooi word. Aan die einde van die dag moet elkeen van ons egter vir onsself afvra en uitwerk waar ons inpas en ook wat ons dink, sê of doen, reg en menslik is.
    Wanneer dinge begin "warm" word, soos in baie gevalle in die res van die wêreld tans, begin etiese vrae kommerwekkend minder belangrik word en dis waar die situasie gevaarlik begin raak, wanneer liggies van oranje na rooi begin oorslaan ... wanneer die individu (dis nou diegene in die beskuldigde bank) “gevaartekens” begin sien en ervaar en waar hy/sy dink, en selfs begin glo, sy/haar menswees en sinvolle voortbestaan in gedrang kom - (sien die aanslag op Afrikaans as taal, "affirmative action" optredes, nimmereindigende kwotas in sport, onophoudelike beskuldigings van rassisme ens).
    Dit is deur ons eie toedoen dat dinge besig is om meer en meer gekompliseerd te raak en Bettina is reg, dis nodig dat die mens (van beide kante af) hulle in toom moet hou en ernstiger moet poog om 'n wag voor hulle mond te plaas. Die onus is veral op leierskap (ook beide kante toe) om die voorbeeld te stel. Dis wanneer sogenaamde leiers opruiende uitsprake maak wat soos onkruiddoders vir nasiebou is, dat gevaarligte begin flikker. En wanneer skole, kuns en biblioteke voor die voet afgebrand en standbeelde afgebreek word, kom dit as geen verrassing dat stelsels en waardesisteme bevraagteken word nie ... niks snaaks nie, dis oral oor die wêreld so, soos Bettina self na verwys.
    So, ja; wat tans in Suid-Afrika gebeur, is hoegenaamd nie bevorderend vir verdraagsaamheid en goeie verhoudinge nie. Tog is Verwoerdiaanse romantisering van sommiges waarna Bettina verwys, bloot simptomaties van 'n reaksie en soms/dikwels ook 'n rebellering van teenpole. Negatiewe gebeure gee die mens 'n "punch drunk" gevoel. In reaksie gaan lê hy/sy soms teen die toue om tyd te koop; iets wat ons darem nog het. Dis 'n soort buffer om die stampe en stote wat uitgedeel word te probeer "uitry."
    Feit is, die welstand van ons mense (beide kante) dui 'n hoë ongelukkigheidstemperatuur aan - 'n akute soort ‘koors” wat terapeutiese berading en bystand vereis. Dis daarom belangrik dat eensydige beskuldigings nie soos ou kos in die mikrogolfoond warm gemaak word en aan hoofsaaklik die een of die ander groep alleen voorgesit word nie. Almal wat Suid-Afrika lief het en in basiese ordentlikheid glo het 'n verantwoordelikheid om te doen wat reg is.
    Dis kots of kis en uit flarde moet ons vleg, veg of vlug - die wisselkoers tussen goed en kwaad. Dog, die hoop beskaam nie ...

    • Wie sê dat daar 'n verlange is na die Verwoerd-era? Ek het dit nog nooit gesê nie en ek het nog niemand dit hoor sê nie. Spreek maar slegs jou opinie uit en moenie uitsprake namens my maak nie.

  • Wat ook nie uit die oog verloor moet word nie was dat geld en kennis baie beperk was. Wie sal dan nie eers aan sy eie aandag gee voordat aan ander aandag gegee word nie. Daar was wel 'n plan om die ander bevolkingsgroepe ook op te hef maar natuurlik sou dit stadiger gaan totdat meer fondse beskikbaar raak. Dan ook dat die ANC dieselfde foute maak wis nie die verlede uit nie, inteendeel dit wys duidelik hulle onvermoë om uit te styg en die ding reg te doen.

  • Marietjie Buhr

    Ek stem heelhartig saam. Net een kwessie ontbreek: Bettina preek, buiten vir een sinnetjie, teen regses en verregses. 'It takes two to tango'. Dieselfde beroep moet gedoen word op diegene wat wittes verwens, wegdryf, doodmaak. En hierdie versugtinge blatant uitspreek. Dit IS rassisme al word die skuldiges hoe verontskuldig. Die pendulum swaai ongelukkig steeds. Bettina is reg. Konserwatisme swaai die pendulum wêreldwyd ekstreem in die regse rigting. Dus swaai dit ook ekstreem na die linkse kant. Om dit in Suid-Afrika in die middel te kry, sal ons moet hokaai stop die lorrie aan beide kante. En dit, glo ek, kan die groter groep welwillendes in die sentrum doen. Ons moet ons nie deur die ekstremes op sleeptou laat neem nie.

  • Al wat die rubriek en kommentare eintlik in 'n neutedop sê is, dat suksesvolle bevrydingsorganisasies nie suksesvolle regerings beteken nie. Ongelukkig is dit dikwels die teenoorgestelde en geld “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms." (Paul Kruger, 1904) nie meer nie en word dit wat goed was op talle gebiede onder leiding van die ANC-regering so vernietig of so verwaarloos dat dit biljoene rande kos om dit weer in 'n werkbare toestand te kry. En dit terwyl miljarde Rande se wanbesteding jaarliks bekend gemaak word.
    Dit is veral op plaaslike vlak dat daar talle wanfunksionerende watersuiweringswerke is wat waterbronne besoedel tot so 'n mate dat dit gesondheidsrisiko’s vir mense inhou.
    Daar is talle ander voorbeelde, soos bv die ineenstorting van openbare gesondheidsdienste, wat gelei het tot 'n florerende privaat-gesondheidsdiens. Die diens is weens onbekostigbare tariewe buite die bereik van miljoene mense en word tog deur baie hooggeplaastes verkies bo die diens waarvoor hul verantwoordelik is. Dieselfde geld vir privaatonderwysdienste en sekuriteitsdienste.
    In 2004: “However, Safety and Security Minister Charles Nqakula disclosed in parliament on Tuesday that the South African Police Service is spending a whopping R3,8-million a month, or R45-million a year, on private security companies."
    Indien goed goed gewerk het onder die ou regering moes dit vir die nuwe regering 'n 'template' gewees het en as uitgangspunt gedien het om aan die agtergeblewenes dieselfde indien nie beter te voorsien nie en terselfdertyd die goeie uit die verlede in stand te hou.
    Wat ons nou sien is 'n totale agteruitgang op talle gebiede en roekelose geldbesteding en onhaalbare eise soos gratis onderwys ens, terwyl diegene aan bewind agteroorbuig om daaraan te voldoen om sodoende langer aan bewind te bly, want in 'n werklike goed funksionerende demokrasie sou hul al lank die trekpas gekry het.
    Onder die Verwoerd-regering kon ek darem vrylik rondloop in die stad waar ek woon en nie wegkruip agter hemelhoë staalheinings en veiligheisdeure terwyl kinders in die algemeen van skool na huis kon loop sonder om van hul besittings beroof te word.

  • Bertie Vollgraaff

    Ek is baie bly ek kon Bettina Wyngaard se artikel lees en ek moet sê dat ek meer mense dit wou laat lees. Die bydrae van ander op die onderwerp is puik en in goeie smaak wat so anders is in meeste van nuusblaaie waar in opbouende gesprekke die hel op jou gefel word agv rassisme.
    Ons sal beslis moet hande vat en vooroordele agterweë laat en help om 'n oplossing te bring.
    Ons is almal in dieselfde boot en ons alleen moet dit deur die storms stuur na 'n veilige tuiste vir almal.

  • louis lagrange

    Daar is in die demokrasie as regeerselsel verskeie gesigspunteoor hoe goed leierskap daarmee n goeie bestaan vir die bevolking bewerk. Dat swart en bruin volle seggenskap oor hulself geniet het, word ontken om 'n dooie rooi Kommunisme weer in plek te roep!

  • Wonder maar net of dinge beter of slegter gaan. Duidelik slegter en loop die paadjie van "Afrika". Maar daar is tog hoop. Los "affimative action", gee elke persoon op meriete kans en skep proses van mentorskap waar minder gegoede persone toegang kry tot opleiding, ongeag ras of kleur, geslag. Dan sal die wat wil, hulle geleenthede gebruik. As "agtergeblewenes" egter voel dat hul steeds minderwaardig voel en nie opgewasse is om op gelyke voet mee te ding nie, dan is dit jammer.

  • Kotie Esterhuizen

    Ek sê en ek glo as Verwoerd nie vermoor is nie, en hy 'n kans gehad het om homself te bewys, sou die land vandag baie anders gelyk het.

  • Ag nee wat Bettina. Regse konserwatisme en Verwoerd-nostalgie? Jy klink net soos die "White monopoly capital"-klomp.

  • Eensydige skrywe sonder passie vir wat nou is. Om die Verwoerd-era aan destydse opgang en groei van die sestigs te koppel en die Zuma-era aan wêreldwye ekonomiese afplatting toe te skryf is bloot veralgemening. Ons het onder Verwoerd die tweede sterkste ekonomie gehad omdat ons 'n ekonomie gebou het op selfbeskikking en nie aan die voete van China en ander sogenaamde Eerstewêreldlande gekniel het vir krummels nie. Die BBK en KOK het industrieë in die tuislande geskep om SA in 'n ekonomiese reus te groei. Ons het eerstens vir onsself vervaardig en ook uitgevoer. Ons was die broodblik van Afrika en het oorskotte van baie produkte gehad wat ons baie maal kon weggee aan buurstate. Nou is ons 'n invoerland met enorme buitelandse skuld en dit net te wyte aan een man en organisasie. Die ANC was dalk 'n goeie rewolusionêre organisasie maar van regeer en bou weet hul niks. As hul ernstig was oor rassehervormings sou hul dag een enige verwysing na ras en velkleur van ons wetboeke afgevee het. Almal sou net Suid-Afrikaneras wees, buiten die wat vrylik oor ons grense loop. Nou het ons steeds wette wat Suid Afrikaners van mekaar polariseer en dreigemente van grondbeslaglegging wat die droom van eenheid net meer 'n droom laat. Met dit alles in ag genome my liewe dame is dit nie 'n wonder dat baie terug verlang na die ou dae nie.

    • Ek is dit volledig eens met jou, Alwyn. Die ANC met sy "People's War" het sedert 1976 hierdie land van ons (en enige hoop op vreedsame naasbestaan en volhoubare groei) stelselmatig verwoes. Lees Anthea Jeffery se boek hieroor, en kyk na die uitstekende dokumentêre film "Tainted Heroes" (verkrygbaar by Afriforum). En die De Klerk-regering het direk in die hande gespeel van die ANC en sodoende meegehelp aan die verwoesting. Dis om van te huil in jou hande!
      Lees ook "Hermann Giliomee: historikus. 'n Outobiografie" wat onlangs verskyn het vir 'n onontbeerlike perspektief.

      • Marinus ek het met oud-MK lede gewerk en gehoor hulle praat van hulle besoek aan Viëtnam. Ek kon dit nie verstaan totdat 'n kollega "The People's War" aanbeveel het.
        Toe verstaan ek hoekom hulle daar was en hoe die patroon van geweld en manipulasie van die media inpas.
        Die ANC en huidige toestand in SA is die oorsaak van die beleide van die NP.

        • Dawid, die huidige toestand in SA neig al nader aan die heersende toestand so kensketsend van Afrika - chaos en ekonomiese verval. Die huidige toestand is juis te wyte omdat van die NP-beleid afgewyk is. Maklik om te bewys; in die res van Afrika het die NP-beleid nie gegeld nie.

          • Deur diskriminasie of die wetboeke te bring na die tweede wêreldoorlog waar die gevolge van rassediskriminasie sigbaar was, het die NP-regering 'n dwase stap geneem en hul beleid en SA 'n maklike teiken gemaak. Groepe soos die ANC het toe bestaansreg ontvang!
            Teen die laat 1940s was Suid-Afrika hoog geprys in die wêreld.
            Die halstarrigheid van die NP het daardie reputasie vernietig.
            Dit het ook 'n saak vir die swart nasionaliste in Afrika gegee. In die toekoms sal Verwoerd, Malan en Strydom seker kan erken word as die stigters van swart nasionalisme.
            Die gevolge daarvan sien ons.
            Die oorsaak is anders as wat jy voorstel!

  • "Swart mense sal moet ophou vra dat wit mense aanhou betaal aan ’n skuld wat hulle in elk geval nie kan delg nie". Wat skuld wit afrikaners ander groepe wat hulle nie kan delg nie? Jy verwag samewerking maar dan slaan jy weer ’n wig in van verdeeldheid met so ’n stelling?
    Die skryfster noem die verlede ’n retrospektiewe beeldpoetsery van ’n halwe waarheid.
    Sy skryf verder en ek haal aan: "Die realiteit is egter dat daar wêreldwyd ’n ekonomiese insinking is, en een politikus in Suid-Afrika kan dit nie veroorsaak nie."
    In haar voorafgaande kommentaar noem sy eers die volgende, ek haal aan: "Daar word gereeld verwys na hoe sterk die ekonomie onder Verwoerd was, hoeveel werksgeleenthede daar was, hoedat daar dissipline was, hoedat lewensgehalte beter was vir inwoners, en veel meer." Is dit moontlik dat een politikus verantwoordelik was vir so ’n toename in ekonomiese vooruitgang? Het die verhandeling van die Rand/Pond toe teen 2/1 ’n absolute negatiewe invloed gehad op alle bevolkingsgroepe. Of moet ons ook maar die blink gepoetste halwe waarhede aanvaar dat almal beter af is onder die huidige ekonomiese toestande van ’n Rand/Pond van 17/1?
    Sy propageer ’n vergeldingsleer waar alle slegte gebeure deur ’n slegte daad voorafgegaan moet word en dat dit weer onmiskenbaar die skuldlas van die wit afrikaner is en dat vergifnis nie sal deel vorm in die "beslagleggingsooreenkoms" van die skuldeisers nie.
    Is daar nie ’n beter voorbeeld as die korrupte ANC-regering wat die omkeer van die denkprosesse en die veralgemening wat daarmee gepaard gaan, gebruik om hulle leuens in halwe waarhede te fabriseer onder die massas en armes nie?
    Die ANC onder die korrupte leierskap van Zuma kan gerus ook maar hulle romantiese geloofsoortuigings neerlê en vrede maak met die halwe waarhede van hulle eie politieke verlede, aanvaar dat hulle plan uitgedien is en begin om hulle skuldlas te vereffen, aan alle Suid-Afrikaanse Burgers, ten opsigte van die ekonomiese gemors waarin Suid-Afrika verkeer.

  • Dit is regtig jammer dat 'n persoon van haar statuur haar sal wend tot die sensasionele uitsprake. Ongelukkig is die wittes/blankes in die land 'n steen des aanstoots of doring in die vlees vir menigtes wat dieselfde sentimente deel. Al raad wat ek vir haar het is, "get over it and move aan". Jy gaan beslis jou beeld skade berokken.

  • Sover ek weet, het moedertaalonderrig wel op laerskool bestaan. Ek het in die sestigs vakansiewerk in 'n Transkeise boekwinkel gedoen. Die moeders het tou gestaan om Xhosa-boekies te koop. Via Afrika was die uitgewer en het groot geld gemaak.

  • Jy's reg Roelfie; ek weet dat Waldemar Bonsels se 'Assap und Jen' en 'Die Biene Maja' is Xhosa of Zoeloe vertaal was vir daardie leerlinge.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top