Versoening en sosiale kohesie: ’n onderhoud met Elnari Potgieter

  • 1

Hierdie onderhoud is gebaseer op die LitNet Akademies-artikel (Godsdienswetenskappe), “Die liturgie van die 1995-Wêreldrugbybeker-eindwedstryd: ’n ruimtelik-liturgiese refleksie deur die lens van ’n sosiale-kohesie-model” deur Daléne Flynn (Julie 2017).

Menán van Heerden het met Elnari Potgieter, projekbestuurder: South Africa Reconciliation Barometer, gesels oor versoening en sosiale kohesie in 2017.

Elnari Potgieter

Volgens hierdie artikel het die 1995-Wêreldrugbybeker-eindwedstryd ’n positiewe bydrae tot sosiale kohesie in die Suid-Afrikaanse samelewing gelewer. In die artikel word sosiale kohesie gedefinieer as “die wyse waarop daar binne ’n gemeenskap ruimte geskep word sodat individue voel dat hulle behoort aan en erken word as lede van die gemeenskap”. Hoe sou jy sosiale kohesie definieer?

’n Wye verskeidenheid definisies van sosiale kohesie bestaan, en daar is nie tans regtig ’n enkele internasionaal aanvaarde definisie in hierdie verband nie.1 Die meeste definisies verwys na ’n tipe verbondenheid tussen ’n groep mense – ’n saamwees wat eenheid en harmonie kan bewerkstellig.2 Byna soos ’n tipe “gom” wat samelewings saamhou – met elemente van solidariteit, gedeelde lojaliteit en die besef van interafhanklikheid tussen groepe mense.3 Hierdie “groepe” kan onder andere families, gemeenskappe, kultuurgroepe, streeks- en nasionale groeperings wees.

Eietydse definisies sluit egter nie net die wese van sosiale kohesie in nie, maar sluit ook voorwaardes in vir samelewings om samehangend te wees.4 Hierdie definisies handel met beide die eienskappe wat ’n samelewing samehangend (“cohesive”) maak, en dié wat verdeeldheid veroorsaak. In hierdie verband word daar verwys na twee elemente as voorwaardes vir kohesie, of dan samehangendheid. Die eerste is gedeelde norme, sowel as verwantskappe en verhoudings in die samelewing. Die tweede is die (afwesigheid van) ongelykhede (bv sosio-ekonomies en/of in terme van magsverhoudings), uitsluiting en relatiewe ontneming in ’n samelewing.

Dit is hier belangrik om te noem dat sosiale kohesie nie moet plaasvind tot uitsluiting van ander nie.

Die definisie waarby ek die meeste aanklank vind in die Suid-Afrikaanse konteks is die een van die OECD, wat ook ’n aspek van aktiewe betrokkenheid bevat: ’n samehangende oftewel ’n “cohesive” samelewing is een wat “(works) towards the well-being of all its members, minimising disparities and avoiding marginalisation. It entails three major dimensions: fostering cohesion by building networks of relationships, trust and identity between different groups [in die Suid-Afrikaanse konteks dan tussen verskillende groepe mense, maar ook tussen burgerlikes en instellings]; fighting discrimination, exclusion and excessive inequalities, and enabling upward social mobility.”5

Wat is die verband tussen Suid-Afrika se versoeningsproses en sosiale kohesie van die nasie, indien enige?

Versoening is beide ’n proses en ’n doelwit ná konflik. Daar was met ander woorde reeds ’n breuk in verhoudings in ’n spesifieke samelewing of konteks. Sosiale kohesie is dan, soos hier bo genoem, teenwoordig in samelewings waar daar gewerk word in die rigting van verbondenheid, sowel as waar aan sekere voorwaardes voldoen word – insluitende die aanspreek van ongelykhede. Om sosiale kohesie te bou en te bewerkstellig is nie noodwendig net ’n doelwit wat nagestreef word na of voor konflik nie, maar kan ook ’n doelwit en stand van sake op sigself wees. Dit kan ook nagestreef word ten einde byvoorbeeld veerkragtigheid in ’n samelewing te bewerkstellig.

Die verskil tussen hierdie twee prosesse en konsepte lê daarin dat versoening ook elemente van waarheidvertelling en historiese nalatenskap verg, en ook aspekte van die genesing van verhoudings tussen verskillende groepe in ’n samelewing insluit, en dat daar gewoonlik prosesse van geregtigheid, herstel en/of restitusie plaasvind ten einde te versoen.

Die ooreenstemming van hierdie twee prosesse is hoofsaaklik in die besef van wedersydse afhanklikheid tussen verskillende groepe mense, en ’n tipe saamwees wat eenheid en harmonie bewerkstellig.

Hoe sou jy versoeningsprosesse van die verlede en die toekoms beskryf na aanleiding van die South African Reconciliation Barometer (SARB)? Hoe word versoening in 2017 gemeet? Daarmee saam, vertel ons meer van die SARB en jou werk as projekleier?

Die SARB is ’n projek van die Institute for Justice and Reconciliation (IJR). Hoofsaaklik behels die projek ’n voorheen jaarlikse, nou tweejaarlikse, publieke opname wat die persepsies van Suid-Afrikaners met betrekking tot die versoeningsproses meet – op ’n multidimensionele manier. Die opname word sedert 2003 gedoen, en is een van ’n handvol soortgelyke projekte ter wêreld. Dit is ook die enigste Suid-Afrikaanse opname wat op die versoeningsproses fokus en wat op  lang termyn veranderings in dié verband kan toon.

As die eerste in sy soort, en een van die min opnames wat op versoening in Afrika (en wêreldwyd) gefokus is, het die SARB ’n belangrike bron geword om nasionale dialoog aan te moedig, inligting aan besluitnemers te bied, beleidsvorming te ondersteun, sowel as vir die gebruik in die ontwikkeling van nuwe ontledings en teorieë met betrekking tot versoening in postkonflik samelewings. Gegewe die unieke fokus van die barometer word die SARB binne regerings-, sake- en burgerlikesamelewingskringe gekonsulteer.

Die SARB fokus sedert 2003 op persepsies rakende menslike veiligheid, politieke kultuur, dwarssnydende (“cross-cutting”) politieke verhoudings of verwantskappe, historiese nalatenskap, verhoudings tussen verskillende rassegroepe en toewyding tot dialoog. In 2014 het die vraelysinstrument geldigheids- en betroubaarheidstoetse ondergaan, en fokusgroepgesprekke is gehou om te ondersoek of die vraelys ook ander aanwysers moet oorweeg in die meet van versoening. Die meeste van die langtermynvrae is behou, maar die aanwysers is hergroepeer en meer vrae in verband met geregtigheid is ingesluit. Tans sluit die elemente wat gemeet word, persepsies betreffende magsverhoudings (polities, ekonomies, kultuurgewys), demokratiese politieke kultuur, apartheidnalatenskap, rasseversoening en verandering in die samelewing in.

Aan die begin het die Suid-Afrikaanse versoeningsproses – veral op ’n nasionale vlak – meer op die genesing van rasseverhoudings, nasionale eenheid, sowel as prosesse van waarheidvertelling gefokus – wat wel belangrike aspekte van die versoeningsproses is. SARB se 2015 data wys egter dat die meeste Suid-Afrikaners voel dat die versoeningproses nie voltrek kan word indien dié wat tydens apartheid onderdruk was, arm bly nie.6 Ongelykheid, as een van ’n lys van moontlike antwoorde in die SARB, is ook die grootste bron van verdeling in die samelewing.7 Daar is al hoe meer die besef dat die aanspreek van ongelykhede deel vorm van die versoeningsproses. Dit is egter nie die enigste vereiste vir versoening om plaas te vind nie – genesing van verhoudings, ’n demokratiese politieke kultuur en handeling met historiese nalatenskap bly elemente van belang in die proses tot ’n gesonder saamwees.

Verder word daar meer dikwels verwys na horisontale versoening – tussen groepe mense / verskillende mense. Daar is egter ook die nodigheid vir vertikale versoeningsprosesse – tussen Suid-Afrikaners en instellings byvoorbeeld. ’n Proses wat nie dikwels aandag geniet nie.

Volgens die artikel is Mandela ’n simbool van hoop en vryheid vir sy mense. Desmond Tutu het in die nuwe demokratiese era die woord Reënboognasie gemunt. Is hierdie nasiebouretoriek nog ter sake in 2017?

Soos hier bo genoem, vorm nasiebou deel van versoening – maar dis net een deel van die proses. Ander elemente – soos ongelykhede wat nie aangespreek word nie (wat minder aandag geniet het in gesprekke rondom versoening tot op hede) – kom nou na vore. Dit beteken egter nie dat Suid-Afrikaners nie die begeerte het vir nasionale eenheid nie, en ook nie dat Suid-Afrikaners dink eenheid is onmoontlik nie. In 2015 byvoorbeeld het SARB gevind dat 71% Suid-Afrikaners ’n verenigde Suid-Afrikaanse nasie begeer, en 64% het aangedui hulle voel dis moontlik om dit te bereik.8 Hierdie feite bied ’n ongelooflike geleentheid vir dialoog – ’n kans vir ’n gesprek rondom die Suid-Afrika waarnatoe ons kan en wil werk.

Dit is 22 jaar na 1995. Daardie Wêreldrugbybekerwedstryd gryp tot vandag toe diegene wat dit onthou se verbeeldings aan. ’n Film (Invictus) is hiervan gemaak. Wat is die waarde van die herinneringe aan dié euforiese geleentheid vir ’n nasie (indien enigsins)?

Nasionale sportgebeure in Suid-Afrika skep geleenthede vir Suid-Afrikaners om mekaar te ontmoet en rondom ’n gedeelde doelwit of idee te verenig. So byvoorbeeld wys SARB se data tydens 2010 – die jaar waartydens Suid-Afrika die Wêreldsokkerbeker hier aangebied het – meer oopheid teenoor integrasie en meer optimisme onder Suid-Afrikaners. Sulke geleenthede help skep ’n gevoel van ’n “nasie”, en skep die geleentheid vir ’n land om as’t ware saamwees te “herbedink”.9 Verder help sulke geleenthede in die skep van ’n meer inklusiewe kollektiewe geheue. Dit is egter belangrik om steeds bewus te bly van ingroep-uitgroep-dinamiek, selfs ten tye van sulke groot verenigende gebeure – veral in terme van ongelykhede en toegang tot die deelname aan nasionale en/of gemeenskapsgebeure.

Eindnotas

1 OECD Development Centre. 2012. Perspective on global development: social cohesion in a shifting world. Parys.

2 Pervaiz, Z, AR Chaudhary en I van Staveren. 2013. Diversity, inclusiveness and social cohesion. Institute of Social Studies, Working Paper No 2013 – 1.

3 Fenger, M. 2012. Deconstructing social cohesion: Towards an analytical framework for assessing social cohesion policies. Corvinus Journal of Sociology and Social Policy, 2:39–54.

4 Chan, J, HP To en E Chan. 2006. Reconsidering social cohesion: developing a definition and analytical framework for empirical research. Social Indicators Research, 75(2):273-302.

5 OECD Development Centre. 2012. Perspective on global development: social cohesion in a shifting world. Parys.

6 Hofmeyr, J en R Govender. 2015. National reconciliation, race relations, and social inclusion. South African Barometer Briefing Paper 1. 8 Desember 2015. Aanlyn: http://www.dac.gov.za/sites/default/files/reconciliation-barometer.pdf.

7 Ibid.

8 Ibid.

9 Giesler, Josh Tancer. 2016. Re-imagining the South African nation: case studies of the 1995 Rugby World Cup and the 2010 FIFA World Cup. Honneursskripsie.

  • 1

Kommentaar

  • Die meeste mense stem saam dat ongelykhede verminder moet word. Die meeste landsburgers besef dat hieraan gewerk moet word. Die probleem is net daar is 'n wanbelans in die erkenning van wesenlike faktore wat ongelykhede verder veroorsaak en voortsit. Hoor ons genoeg dat lae produktiwiteit, swak werksetiek, korrupsie, onbekwame aanstellings, nepotisme, staatskaping swak eonomiese groei agv swak politieke leierskap, swak onderwys verdere ongelykhede veroorsaak en op groot skaal voortsit. Trouens die skaal van hierdie faktore is besig om alle ander pogings om ongelykhede uit te skakel en sosiale kohesie te bevorder te vernietig. Maar politieke propaganda en blaamverskuiwing vind toenemend plaas hoe harder die waarheid oor die genoemde faktore skreeu juis in 'n poging om hierdie waarhede te verdoesel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top