Verslag oor kopieregwetgewing aan lede by PEN Afrikaans se AJV op 20 Augustus 2016

  • 4

Die wetsontwerp wat die wysiging van die Wet op Outeursreg ten doel het, is verlede jaar ter tafel gelê. Verskeie organisasies, insluitend PEN, PASA (die uitgewersvereniging van Suid-Afrika), universiteite, Dalro ea het kommentaar ingedien oor die moontlike negatiewe effekte van die voorgenome veranderinge aan die wet. Wat spesifiek vir skrywers ter sprake is, is die effek wat die wetgewing op outeurs se inkomste kon hê en die uitwerking op die uitgewersbedryf. (Ander bedrywe, soos die filmbedryf – enigiets waar kopiereg ter sprake is – word natuurlik ook geraak, maar met betrekking tot PEN Afrikaans fokus ek op die implikasies vir skrywers en literêre werke.)

Deskundiges was spesifiek krities oor die definisie van “orphan works” en die voorneme dat kopiereg aan die staat oorgedra word indien die eienaar van die werk nie opgespoor kan word nie of oorlede is. Die ander belangrike kritiek was die instel van “fair use” vir opvoedkundige doeleindes. Dit sal die staat of ander partye toelaat om werke te reproduseer sonder vergoeding aan die kopiereghouers en sonder om toestemming daarvoor te vra. Verder maak die wysiging ook voorsiening vir die totstandkoming van ’n verpligte lisensiëringsmeganisme wat deur die staat geskep word en wat nie die normale kontraktuele toestemming van die kopieregeienaar vereis nie.

Die hersiene wetsontwerp is reeds in Junie vanjaar deur die kabinet goedgekeur, maar die inhoud daarvan is tot op datum nog steeds nie deur die Departement Handel en Nywerheid beskikbaar gestel aan die publiek nie. Die aanduidings is dat dit in September vanjaar voor die parlement sal dien.

Die sake wat kommerwekkend is:

  • Skrywers, uitgewers en die ander kreatiewe bedrywe wat deur veranderinge aan die Kopieregwet geraak word, het nog nie die geleentheid gehad het om die hersiene Wetsontwerp te bestudeer en te bepaal in watter mate voorgestelde veranderinge geïnkorporeer is nie – indien enigsins.
  • Die proses is nie deursigtig genoeg nie en die vereiste wetlike prosedures is nie gevolg nie.
  • Die Departement Handel en Nywerheid het onderneem om ’n onafhanklike ekonomiese-impakstudie te laat doen. Hoewel die tender geadverteer is, is dit nie toegeken nie. Die Departement het skynbaar wel ’n studie gedoen, maar dit is nie vir ons beskikbaar nie en is uiteraard ook nie onafhanklik nie.
  • Die negatiewe effek op die inkomste van skrywers is potensieel verreikend. Die wetsontwerp in sy oorspronklike formaat maak dit moontlik vir die staat om die eiendom van skrywers se intellektuele goedere vir homself op te eis sonder vergoeding aan skrywers.

Ons werk op die oomblik saam met PEN South Africa, en sal skrywers en die publiek ingelig hou oor die nuwe wetsontwerp. Ons wil verseker dat die belange van skrywers in ag geneem word en beskerm word. Ons wil dus ook nóú met skrywers, joernaliste, uitgewers en ander belanghebbendes saamwerk om te verseker dat die wetsontwerp aandag in die media ontvang, indien nodig, en nie bloot stil-stil deurgedruk word nie.

Marga Stoffer
20 Augustus 2016

 

  • 4

Kommentaar

  • Dis 'n totale skelmstuk - skrywers verdien amper niks. Wat nodig is dat boeke wat opvoedkundig gebruik gaan word van belasting vry te stel.

    • Carla van der Spuy

      Dis reg. Ons verdien reeds so min. As dit goedgekeur word sal daar min skrywers oorbly.

  • Dis mos absurd: "Die wetsontwerp in sy oorspronklike formaat maak dit moontlik vir die staat om die eiendom van skrywers se intellektuele goedere vir homself op te eis sonder vergoeding aan skrywers."
    ... Wat van die intellektuele eiendom van oorsese skrywers? As die wetgewing slegs op plaaslike gepubliseerde werke van toepassing sou wees, dan moet plaaslike skrywers oorsee publiseer, soos byvoorbeeld in Nederland, en dan die boeke "invoer". Omdat die oorgrote plaaslike gepubliseerde boeke in Afrikaans is, wonder mens of daar nie 'n versteekte agenda is nie?

  • Welkom in die land van waansin. Vraag: Weet iemand dalk hoe tantieme op bv opvoeregte van dramas aan langslewende of kinders in 'n testament bemaak kan word? Blykbaar is dit praktyk in Nederland. Die opvoerregte van Hugo Claus se Suiker kon ons met groot omslagtigheid uiteindelik by sy weduwee kry wat blykbaar die regte op sy werk geërf het? Vriendelike groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top