Verskroeide aarde: ’n onderhoud met Fransjohan Pretorius

  • 16

Verskroeide aarde
Fransjohan Pretorius
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624079668

Skrywers oor hul nuwe boeke: Fransjohan Pretorius oor Verskroeide aarde

Hallo Fransjohan. ’n Nuwe uitgawe van die koffietafelboek Verskroeide aarde het onlangs by Tafelberg verskyn. Dit is nou 115 jaar na die einde van die Anglo-Boereoorlog (ABO). Ondervind jy, wanneer jy met mense op straat gesels, dat daar steeds ’n behoefte is aan die lees omtrent en sien van foto’s rondom hierdie oorlog?

Die belangstelling by veral Afrikaners – maar waarskynlik nie alle Afrikaanssprekendes nie – so lank ná die oorlog en reeds 15 jaar ná afloop van die herdenking daarvan, bly verstommend groot. Ek kry ook dikwels navrae van Engelssprekende Suid-Afrikaners of buitelanders wie se oupas of oupagrootjies aan Boerekant geveg het. Foto’s trek altyd die aandag, en in hierdie hersiene uitgawe is daar 160 van die 260 foto’s en illustrasies wat nie in die eerste uitgawe van 2001 verskyn het nie. Meer as 50 hiervan is in kleur. En die gehalte van die foto’s is merkwaardig goed.

Daar was al baie oorloë in die geskiedenis. Waarom is die Anglo-Boereoorlog ’n oorlog in hierdie land wat net nie uit die psige van Suid-Afrikaners verdwyn nie?

Ek moet beklemtoon dat dit veral Afrikaners is wat hierdie gevoel ervaar. Rondom die 100-jarige herdenking van die Groot Trek in 1938 het Afrikanerleiers en -woordsmede die lyding en die heroïese van die Anglo-Boereoorlog gaan haal om Afrikanernasionalisme te bevorder. Hulle taak was maklik, want die skreiende feite van die oorlog het vanself gespreek. Hulle het die Boere net nog groter en dapperder as die lewe voorgestel en die konsentrasiekampe ten onregte as moordkampe bestempel (dit was ten minste nie die Britte se bedoeling nie). Om nasionalisme te bevorder het jy ’n vyand nodig, en die Brit was daardie maklike objek. Daarna het Afrikaners in die Nuwe Suid-Afrika pak gekry met die onthullings voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie, en toe die herdenking van die oorlog kort daarna kom, het Afrikaners skielik besef: haai, maar ons het ook gely, neem kennis julle! Moet egter nie die groot impak van skitterende historiese romans en kortverhale oor die oorlog uit die oog verloor nie – met natuurlik PG du Plessis se Fees van die ongenooides wat uittroon.

Laat ek dan dalk eerder vra: as jy nie saamstem daarmee dat Suid-Afrikaners hierdie oorlog genoeg bestudeer nie (byvoorbeeld in skole se leerplanne), waarom beskou jy dit as ’n oorlog met verreikende gevolge in hierdie land? Jy kan enige faktore bespreek: praktiese dinge soos die grootte van die bevolking, die onderdrukking van een groep wat dalk tot onderdrukking van ’n ander groep kon bydra, nasionalisme, algemene uitstyg bo omstandighede ten spyte van verlies.

Die Afrikaner het verarm uit die Anglo-Boereoorlog getree en soos wat hy geleidelik op politieke, finansiële en kulturele gebied herstel het, het hy hom voorgeneem om nooit weer deur ander oorheers te word nie. Die sentiment wat hy uit hierdie stryd met hom saamgeneem het, was ’n groeiende en aggressiewe nasionalisme. Op ’n indirekte manier was apartheid uiteindelik die gevolg daarvan. Nasionalisme is uitsluitend, en dit laat jou jou oë sluit vir die lot en lyding van ander. Swart mense weer het gevoel die Britse regering het hulle met die Vrede van Vereeniging in die steek gelaat – en die meeste swart mense het die Britse oorlogspoging gesteun omdat hulle gereken het dat ’n beter bedeling op hulle sou wag ná ’n Britse oorwinning. Daarin is hulle ontnugter, want lone op die myne was minder as voor die oorlog, en die gekwalifiseerde (gedeeltelike) stemreg van die Kaapkolonie waarvolgens ’n paar duisend swart mans stemreg gehad het, is nie na die voormalige republieke uitgebrei nie – ook nie met die toekenning van verantwoordelike bestuur in 1906 en 1907 nie, en ook nie met Uniewording in 1910 nie. Die gevolg: die swart struggle het momentum gekry met die stigting van die South African Native National Congress in 1912, wat in 1923 die naam African National Congress gekry het.

Verskroeide aarde is ’n emotiewe titel, omdat dit nie net ’n beleid wat in die oorlog aangewend is, uitstip nie, maar ook mense se verbintenis met grond en die verlies hiervan aandui. Wil jy dalk uitbrei op hierdie gebeurtenis(se) en die nalatenskap daarvan op die gemoedere van Suid-Afrikaners?

Baie goed raakgesien, Naomi! Vanaf die oomblik dat daardie Britse patrollie by ’n Boerewoning opgedaag het, die inwoners bars behandel het, die opstal en buitegeboue afgebrand, die skape en beeste in ’n kraal gejaag en doodgeskiet of lewend verbrand het, die oeste op die lande afgebrand het, en die inwoners ongenaakbaar aangejaag het konsentrasiekamp toe, het die gebeure in die slagoffers se gemoed geskroei. Toe kom die verskriklike lyding en sterftes in die konsentrasiekampe, waar ’n kwart van die inwoners gesterf het vanweë die Britte se skokkend vrot administrasie en gebrek aan sorg. Baie van ons kan getuig hoe ’n ouma wat in so ’n kamp was, eers teen die jare sestig van die vorige eeu bereid was om daaroor te begin praat. Dit was posttraumatiese stres op sy ergste, ’n term wat hulle nie eens geken het nie. Ek besit ’n bord wat bykans ongeskonde gekom het uit die afgebrande opstal van my oorgrootjies, Dirk en Elizabeth van Rooyen van Roodebloem, noord van Harrismith. Die bord het fyn-fyn krakies in, met swart roet daarin gebrand as herinnering. Eerlikwaar, ek kyk as historikus sonder emosie daarna, maar ek begryp daardie trauma. En onthou, swart mense het dieselfde ervarings gehad, want die Britte het hulle as voedselverskaffers van die Boere óók in konsentrasiekampe gedompel, waar die versorging eweneens skokkend sleg was.

’n Onlangse besoek aan die Vrouemonument in Bloemfontein het my die geleentheid gebied om die Sol Plaatje-saal te besoek. Wil jy dalk iets vertel van hoe hierdie nuwe uitgawe van Verskroeide aarde die impak van die ABO (of die Suid-Afrikaanse Oorlog, soos dit ook soms genoem word) op die hele Suid-Afrikaanse bevolking toelig?

Twee van die hoofstukke gaan oor die swart ervaring tydens die oorlog, en meer spesifiek in die konsentrasiekampe, en ’n derde hoofstuk oor die argeologiese opspoor van ’n swart konsentrasiekamp. Stowell Kessler is sedert die eerste uitgawe oorlede, maar ek kon sy voltooide doktorale proefskrif wat deur die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein uitgegee is, benut om belangrike toevoegings tot sy hoofstuk in Verskroeide aarde te maak. Aangrypende foto’s oor swart, bruin en Indiërbetrokkenheid is opgediep en verhoog die indrukwekkende voorkoms van die boek. In die jongste tyd is gewag gemaak van swart meisies wat saam met wit gesinne in die wit kampe opgeneem is, en ’n paar van die foto’s in die hersiene uitgawe getuig daarvan. Soos die Oorlogsmuseum tereg bevestig: hierdie was almal se oorlog. In hierdie sin wás dit ’n Suid-Afrikaanse Oorlog, hoewel ek normaalweg die benaming Anglo-Boereoorlog gebruik, omdat die amptelike diplomatieke en politieke stryd tussen Brittanje en die Boere was – met ultimatum en vredesluiting en al.

Daar is in my skooldae graag aangevoer dat die ontdekking van diamante, goud en mineraalrykdomme ’n groot rol gespeel het in die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Maar dan was daar ook sleutelfigure wat op sekere tydstippe in hul eie lewens ’n visie gehad het oor die uitbou van hul eie koninkryke – mense soos Cecil John Rhodes. As mens dink aan vandag se protesaksies en sleutelfigure wat hier rolle speel, kan mens nie anders nie as om raak te sien hoe sekere dinge eenvoudig saamwerk om ’n perfekte storm te bewerkstellig. Stem jy saam? Wil jy dalk iets vertel van hoe jy dink die Anglo-Boereoorlog ontstaan het, wat alles bygedra het tot die uitbreek daarvan?

Ja, ek wonder hoeveel LitNet-lesers onthou nog so ’n kartonboksie wat ons as kinders ’n kaleidoskoop genoem het en waarin jy gekyk het om mooi gekleurde patrone te sien? As jy die fokus gedraai het, het nuwe patrone gevorm. So amper gebeur die geskiedenis – dinge werk saam om ’n nuwe beeld en gebeure te vorm. Haal goud uit die prentjie, en hier was geen Anglo-Boereoorlog nie. Die ontdekking van ryk goudriwwe aan die Witwatersrand in 1886 het plotseling ’n sukkelende Zuid-Afrikaansche Republiek potensieel die magtigste politieke en finansiële staat in suider-Afrika gemaak, en die oorheersende posisie van die Kaapkolonie (en dus Brittanje) bedreig. Voeg daarby dat Brittanje, Frankryk en Duitsland besig was om Afrika onder hulle te verdeel, en bring ambisieuse karakters soos Cecil John Rhodes en veral Alfred Milner in die prentjie – Milner wat homself as ’n “British race patriot” bestempel het – en jy het ’n resep vir aggressie en oorlog. Mag was reg, en niks wat Paul Kruger kon doen, sou die oorlog kon verhoed het nie.

Emily Hobhouse is by die Vrouemonument begrawe, saam met drie ander leiers in die Afrikaanse gemeenskap. Dit moes seker aardskuddend gewees het dat ’n Engelse persoon daar begrawe is destyds toe die Vrouemonument opgerig is. Was Emily Hobhouse vir die Boere ’n simbool van “nie alle Britte is so sleg nie”, of op watter manier kan jy die komplekse dankbaarheid en heldeverering wat teenoor haar bestaan het toe sy daar begrawe is, beskryf?

Ons moenie vergeet dat Emily Hobhouse die skokkende lyding in die wit konsentrasiekampe aan die groot klok in Brittanje gaan hang het nie. Dit was ’n geweldige verleentheid vir die Konserwatiewe Britse regering, want niemand daar het eens geweet van die bestaan van die kampe nie. Toe die Liberale Party Emily se saak opneem, was die regering genoodsaak om op te tree. Hulle het ’n Dameskomitee onder Millicent Fawcett na Suid-Afrika gestuur, wie se bevindings en aanbevelings ten opsigte van verbetering van die situasie ooreengestem het met Emily s’n. Haar opheffingswerk ná die oorlog (weefskole, ploegspanne) het dit vir Afrikanerleiers maklik gemaak om van haar ’n heldin in die opbloei van Afrikanernasionalisme te maak. Ek dink nie die gedagte van “nie alle Britte is so sleg nie” het ’n rol gespeel nie. Sy is as “een van ons” beskou.

Daar is sommige van ons wat lewe wat voorouers geken het wat nog by die Anglo-Boereoorlog betrokke was. Dink jy dat as hierdie geslag mense sterf, daar ook warm belange en betrokkenheid by hierdie oorlog sal afsterf?

Kultuurleiers het ’n manier om sentimente oor die verlede wakker te hou, maar toegegee, daar is talle jong Afrikaners wat geen erg het aan die lyding en sterftes in die konsentrasiekampe nie. Ek dink ons almal se ervaring is egter dat soos ons ouer word, die geskiedenis vir ons belangriker word. Ek weet dat baie Afrikaanse ouers vir hul kinders van die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe vertel en wil vertel. Hulle het egter nie altyd die feite tot hul beskikking nie, en dalk is Verskroeide aarde ’n bietjie van ’n hulp. Laat ons egter geen illusies koester nie – geskiedenis is soos om ’n klip in ’n plaasdam te gooi. Vir ’n tyd lank is daar rimpelings op die wateroppervlak, maar daardie rimpelings verdwyn ook later.

Na al die baie boeke wat jy rondom die Anglo-Boereoorlog geskryf het: wat staan vir jou uit van hierdie oorlog spesifiek, as jy iets moet uitsonder?

Die feit dat die oorlog deur ménse ervaar is – gewone mense, helde en lafaards, met ambisies en vrese, en talente en swakhede. Net wanneer ek dink ek verstaan hierdie oorlog, word ek getref deur die nuanses daarvan. Niks daarvan is net reg of verkeerd nie, net swart of wit nie, net goed of sleg nie. Christiaan de Wet het wondere verrig op die slagveld, maar soms ook lekker drooggemaak. So ook Koos de la Rey, of Louis Botha. Om nie eens van die Britse generaals te praat nie. Dit was ’n uiters komplekse oorlog met vele skakerings van menswees.

Wat kan vandag se mense uit die Anglo-Boeroorlog leer? Of is dit nodig om iets hieruit te leer met die oog op die toekoms? Kan mens nie bloot die geskiedenis en die feite leer om die impak op wie ons vandag is, te verstaan nie? Of wat is jou gevoel hieromtrent?

Kennis van die Anglo-Boereoorlog sal ons beslis help om die ontwikkeling van die geskiedenis en ook ons eie tydvak beter te verstaan. Vir my as Afrikaner is die grootste les uit die oorlog dat die deursnee-Afrikaner vandag in ’n baie beter posisie verkeer as 115 jaar gelede, of tydens die Groot Trek. Alles is ver van pluis af in die land, soos die verskrikking van plaasmoorde getuig, maar oor die algemeen was die Boere en Voortrekkers baie meer in die duister oor ’n onsekere toekoms as ons. En as ek paternalisties mag wees: ons landgenote kan ook maar afkyk hoe Afrikanerorganisasies ná die Anglo-Boereoorlog en daarna hul mense laat opstaan het uit die ellende – die Helpmekaarbeweging, die Reddingsdaadbond, Sanlam, Volkskas. ’n Gelyk pad was dit egter nie.

  • 16

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Die een vraag wat nie gevra was nie is, was die ABO die eerste globale geo-politiese oorlog?
    My kennis is beperk, maar volgens wat ek gelees het, was dit geo-politieke oorlog. Destyds was die Europese koninklikes nog in beheer, maar daar was tog ook geo-politieke probleme tussen hierdie uitgebreide families.
    Tsar Nicolaas van Rusland was pro-ZAR. Crimean oorlog was nog vars in sy geheue. Die vraag moet ook gevra word, waar het kennis vandaan gekom om 'n globale mag soos die Britse koninkryk aan te vat. Geen van die Boere-generaals het werklik Militêre opleiding gehad nie. Al die ervare soldate uit Europa het met Militêre tegniek gekom. Enigiemand wat al by Magersfontein gestaan het en na die omvang van die loopgrawe gekyk het, sal besef daar was strategie in hierdie beplanning. Wat sal dit wees? In enige lokval is dominansie van die hoë grond vir oorhoofse snelvuur van grofgeskut krities. Ook die beplanning om die Britse aanval in die doodsakker te laat ontplooi, was darem meer as wat klompie plaasboere kon uitdink. Dit was eerste oorlog waarin loopgrawe en vaste stellings gebruik was, soos in Ladysmith.
    Dikwels word die aktiewe rol van vroue onderspeel en beperk tot die konsentrasiekampe.
    Genl Cronje is goeie bewys dat Boeregeneraals nie opgeleide militariste was nie, by Modderfontein.
    Wel, daar was al in vele verhandelinge oor die Militêre strategie by aanvang van ABO in globale Militêre akademies geskryf, selfs in VSA.

  • Helena Welthagen

    Ons jeug van vandag moet sekerlik kennis maak met die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog.

  • "En die konsentrasiekampe ten onregte as moordkampe bestempel (dit was ten minste nie die Britte se bedoeling nie)." Ek sou bitter graag 'n verduideliking vir hierdie siening wil hê? Want as ek soveel moeite doen om op 'n skip te klim om oorlog teen 'n ander nasie te gaan maak is dit presies my bedoeling ...

    • Fransjohan Pretorius

      Dankie vir jou vraag, Lindy. Fransjohan hier. 'n Leër poog om sy opponente-leër uit te wis. Dit het natuurlik niks met moordkampe vir burgerlikes te make nie. Die oorsprong van die konsentrasiekampe vir burgerlikes? Tweeledig. Lord Roberts het in Maart 1900 ná sy inname van Bloemfontein 'n proklamasie uitgevaardig waarin hy Boerekrygers nooi om die wapen neer te lê met die belofte dat hulle rustig na hul plase kan terugkeer. Toe die guerrilla-oorlog egter in die maande daarna uitbreek, het die Boeregeneraals probeer om hierdie wapenneerlêers weer op kommando te kry, soms met dwang. Roberts het nou besluit om die wapenneerlêers in vlugtelingkampe byeen te bring om hulle teen die Boerekommando's te beskerm. Die eerste twee sodanige kampe was in September 1900 in Bloemfontein en Pretoria. Intussen het genl De Wet op 7 Junie 1900 'n groot slag by Roodewal aan die Bloemftn-Pta-spoorlyn geslaan. Roberts, wat twee dae tevore Pretoria ingeneem het, was afgesny van die buitewêreld. Sy reaksie was om op 16 Junie 1900 'n proklamasie uit te vaardig: vir elke aanslag op die spoor sal die huis naaste aan die gebeure afgebrand word - en daar is begin met De Wet se opstal naby Roodewal. Teen September het die spoor-aanvalle nie opgehou nie, waarop Roberts bepaal het dat vir elke aanval alle opstalle in 'n radius van 16 km afgebrand sal word en dat landerye verwoes en vee gedood of weggevoer sal word. Vir elke aanval dus dood en verwoesting binne 547 vierkante kilometer. 'n Dodelike verskroeideaardebeleid. Daar moes iets met die hawelose Boerevroue en -kinders gedoen word, om hulle uit die oorlogsterrein te kry, sodat hulle nie die Boerekommando's van voedsel en skuiling kon voorsien nie. En so word hulle (wie se mans en pa's nog op kommando is) saam met wapenneerlêers en hul gesinne in die kampe opgeneem. Omdat die haweloses in die meerderheid was, word dit konsentrasiekampe genoem. Hulle is self die "undesirables" genoem. Toe Kitchener einde 1900 by Roberts oorneem, is die beleid kragdadiger en oral toegepas, of daar nou aanvalle op spoorlyne was of nie. Die Britte het nou iets op hande gehad wat hulle nie voorsien het nie, en moes die kampe begin administreer. Dit is so vrot gedoen, met swak behuising, swak voedsel, swak higiëne en swak mediese versorging in oorvol kampe, dat mense siek geword en begin sterf het - en vir die epidemies soos masels en maagkoors was daar nie oplossings nie. Moordkampe? Nie die bedoeling nie, hoewel die kampkommandante meestal die inwoners verag het.

  • Hans Richardt

    Ek sal graag Fransjohan Pretorius se analise wil sien van ABO op die volgende vier vlakke binne globale konteks -
    Sosiaal - dis die eerste oorlog waarin die joernaliste daagliks, weekliks en net periodiek vanaf die slagveld verslag gedoen het met foto’s en film. Selfs Emily Hobhouse het uit konsentrasiekampe verslag gedoen aan die liberale media. Die sosiale weerstand teen die ABO in media, het invloed op Britse verkiesings na ABO gehad.
    Ekonomie - die globale wêreld was in groot resessie vanaf die ABO-era en dit het werk geskep vir Britse koloniale mag.
    Politiek- daar was reeds verset teen kolonialisme.
    Militêr - nuwe wapens, nuwe taktiek en idee van oorlogsmisdade, prisoniers en konsentrasiekampe. Die verskroeideaardebeleid, wat nog in moderne oorlogvoering bv in Vietnam gebruik was.
    Maak die geskiedenis van toepassing op hede, want daar is lesse in geskiedenis. Beperk die emosies in die geskiedenis.

  • Hans Richardt

    Fransjohan Pretorius bly in gebreke om dit te beskryf dat professionele soldate uit buiteland militêre strategie en taktiek vir landelike boere gebring het.
    Cronje was antagonisties teenoor hierdie buitelandse huursoldate /vrywilligers, wie kovert deur hul regerings betaal was om as militêre adviseurs vir boeremagte op te tree.
    De Wet en De La Rey in weste het hierdie vrywilligers onder hul bevel geneem. Botha en Smuts het ook in Ooste.
    Cronje was met sy dubbelbed en vrou krygsgevangene geneem en na St Helena, vrou en al, gestuur as krygsgevangenes.
    Verder, word vroue in ABO altyd net as konsentrasiekampslagoffers voorgestel, terwyl daar vele vegtende boervroue was.

  • Hans Richardt

    Ek het ook altyd met net emosies na die ABO gekyk, maar het nou met lees en tyd, buite die Saampraters-konteks van SA, besef watter omvang en impak die ABO op globale verhoudings gehad het. Solank mens binne die tonnelvisie van SA politiek kyk na die ABO, kom politieke korrektheid-ideologie altyd uit.

  • Hans Richardt

    Fransjohan Pretorius, toe ek jonk was, was ek altyd skaam vir my oumas. Ander kinders se oumas was Grand, myne in lang rokke met kappies. Tot 'n grand skoolvriend vir my verduidelik dat ek bevoorreg is om saam met lewende geskiedenis uit 1800's en ABO's te lewe, snuif snot op bo-lip en al ...
    My oumas het met mekaar gesels en het nie gedink ons is goed genoeg om hul uit te vra oor hul ervarings nie.
    Die wat nie in konsentrasiekampe was nie, het ook hel gehad op die vlug. Die Britse soldate het dikwels geskiet op hulle ook. Na Kitchener "marshal law" afgekondig het teen Boere, was alle voortvlugtendes vyande. In moderne terme, terroriste ...
    Hierdie vrouens het op wilde vrugte en skelm boerderye oorleef. My een ouma is in die Magaliesberge aan ’n hartaanval oorlede, terwyl sy haar paar skape opgepas het, sodat bobbejane hul nie moes byt nie. Ek was toe tweede jaar op universiteit. Sy was in haar 90's.
    Ek het haar sommer ouma Hardegat genoem, wat altyd haar seekoei-handsambok gedra het ...
    My respek aan hierdie geslag wat vir VRYHEID geveg en geleef het, sonder om hul hart op hul mou te dra. Hul was doeners en nie saampraters nie.

  • Fransjohan Pretorius

    Sjoe Hans, jy vra baie. Met effens beperkte tyd het ek nog nie kans gehad of gesien om op jou eerste kommentaar van 28 Augustus te reageer nie, en hier gooi jy my verder toe! Ek sal so kort moontlik probeer antwoord, want ek wil nie in langdurige gesprekke betrokke raak wat my energie en tyd tap nie.
    Dis vir my onduidelik wat jy met ʼn geo-politieke oorlog bedoel. Tsaar Nicolaas II was inderdaad pro-Boer omdat hy, soos jy insinueer, anti-Brits was. Die probleem met die regerings en staatsleiers van die Europese grootmoondhede - Frankryk, Duitsland en Rusland - was dat nie een van hulle die Boere wou help nie, want hulle was elkeen bang dat die ander twee dan Brittanje se kant teen hulle kies.
    Jy vra waar die kennis vandaan gekom het om teen Brittanje te wil oorlog voer, en jy suggereer dat daar ervare soldate (offisiere) van Europa met militêre tegnieke gekom het. Die enigste wat werklik van belang was, was generaal Georges de Villebois Mareuil van Frankryk, en dalk kolonel Yevgeny Maximov van Rusland. Laasgenoemde het nie juis insette oor die wyse van oorlogvoering gelewer nie, maar was ʼn ontsettend dapper vegter. De Villebois Mareuil het homself nogal hoog geag, en hy het heel tereg kommandant-generaal Piet Joubert se beleërings van Ladysmith, Kimberley en Mafeking gekritiseer, en hom probeer beweeg om sy alie in rat te kry, en so ook dié van ʼn koppige generaal Piet Cronjé, maar vergeefs. De Villebois Mareuil was wel beïndruk met generaal Louis Botha, wat eers kort voor de Villebois Mareuil se dood in April 1900 die kommandant-generaalskap oorgeneem het ná Joubert se dood. Die enigste Boere-offisiere wat werklik iets van oorlogvoering geweet het (deur vooraf daaroor op te lees) was generaals Barry Hertzog en Jan Smuts. Generaals Botha, De la Rey en De Wet het suiwer op instink en uit hul jagervaring merkwaardige vertonings gelewer. Ek het nog nooit bewys gekry dat die regerings van Europa die vrywilligers by die Boere heimlik betaal het nie – daar was maar sowat 2 000 van hulle, en hul invloed was werklik beperk; eintlik was die meeste van hulle ʼn helse las vir die Boereleërleiding.
    Die loopgrawe by Magersfontein was nie die eerste in oorlogvoering nie – dit kan minstens tot die Dertigjarige Oorlog in die 17de eeu teruggevoer word. Wat nuut was, was De la Rey se skuif om die loopgrawe vóór die rantjies te grawe – waar die Britte hulle nie verwag het nie en waar ʼn koeël die vyand tref omdat hy reguit trek en nie van ʼn heuwel af in dooie grond vasslaan nie. De la Rey se militêre insig het hom laat besef Graspan – waar die Boere die heuwels beset het en onder die Britse artillerie deurgeloop het - was nie die oplossing nie, toe probeer hy verrassingsloopgrawe en slaag gedeeltelik by die Modderrivier, en toe kom sy sukses by Magersfontein.
    Bitter, bitter min vroue het die wapen aan Boerekant opgeneem, ofskoon daar talle aansprake is. Moet jou nie daarmee op sleeptou neem nie. Een waarvan ons seker weet, was Sarah Raal, wat in Januarie 1901 uit ʼn konsentrasiekamp ontsnap het en by haar broers op kommando aangesluit het voordat sy in Augustus 1901 gevang is en weer in ʼn konsentrasiekamp beland het.
    Jy is reg oor die nuusmedia en die Anglo-Boereoorlog. Kyk Stephen Badsey se hoofstuk in John Gooch se boek The Boer War (2000), en my The A to Z of the Anglo-Boer War (2010).
    Ja, die ekonomie het maar swaar getrek in die 20ste eeu, maar veral na die Eerste Wêreldoorlog.
    Uiteraard was daar uit die staanspoor weerstand teen kolonialisme/imperialisme, maar feitlik elke keer het die imperiale moondheid maar gewen – in die Anglo-Boereoorlog se geval Brittanje. Dit was eers ná die Tweede Wêreldoorlog, toe die imperiale moondhede sat geveg en kwesbaar was, dat die kolonies suksesvol in opstand gekom het.
    Brittanje het goeie lesse uit die Anglo-Boereoorlog geleer. Hulle het die Lee-Metford met die Lee-Enfield Merk 1 vervang, en die groot 18-ponder kanonne ingebring. Takties het hulle wegbeweeg van lord Roberts se flankaanvalle en weer generaal Buller se frontaanvalle aanvaar. Hier kom die loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog!
    Deurlopend sedert die twee helfte van die 19de eeu het internasionale konvensies soos by Genève (1864) en Den Haag (1899) oorlogsoptrede bepaal. State het hulle nie altyd daaraan gesteur nie. Konsentrasiekampe en verskroeideaardebeleid was niks nuuts nie. Dit is reeds deur die Spanjaarde in Kuba toegepas in 1860-1870 en weer in 1896 (in lg. het daar minstens drie maal meer Kubane gesterf as Boerevroue en –kinders in die Anglo-Boereoorlog), en toe weer die Spanjaarde in die Filippyne, gevolg deur die Amerikaners in die Filippyne (1899). Ná die Anglo-Boereoorlog het die Duitsers die Herero’s in Duits-Suidwes-Afrika (nou Namibië) in konsentrasiekampe opgesluit.
    Sjoe, halt.

  • Hans Richardt

    Fransjohan Pretorius, dankie vir jou antwoord.
    Ek het nogal die Sneaky Boer kort film wat Britte destyds in filmteaters as soort van advertensie van die ABO en Brittanje se meerderwaardige houding oor Boere, geniet. Dit was bedoel as subtiele indoktrinasie van Britse bevolking, maar die Pommies het gekla dat die swart loskruitpatrone wat in teaters as byklanke geskiet was tussen toeskouers, te erg was. Die media het globaal rapporteer oor die oorlog.
    Ek vind dit vreemd dat skrywers nooit aan die hand van strategiese hoofde skryf nie:
    Sosiaal
    Ekonomie
    Politiek
    Militêr
    Dit behoort sinvol te wees vir jonges wie nie veel oor emosies voel, oor sentiment van ABO nie, omdat hul voel dié sentimente is nie meer polities korrek nie!
    Die Franse markies het tog raad tov taktiek gehad? Wel, met Russophobia was nog min werklike navorsing in Moskouse Staatsuniversiteit Afrikaanse argiewe oor ABO gedoen? Feit is, sentiment was negatief na ABO oor alle buitelanders. Daar bestaan rekords van Russiese Jode wat selfs kommandante was van Boerekommando’s, by SA Joodse raad.
    My punt is, is die beperkte opinies van impak van ABO. Die Boere/Afrikaners het reeds arm wit vraagstuk gehad voor die ABO, wat dit net beklemtoon het en vererger het.
    Groete en dankie vir emosielose antwoord.

  • Hans Richardt

    Wel, 'n munt het 3 kante.
    Die kleptokrate is weg uit die ZAR met die "Kruger-miljoene", na Switserland en Argentinië. Daar was geen geld van ZAR oor vir arm wittes of siviele bevolking se veiligheid nie en buitendien was grootste deel van die staatskas in oorlog in vir wapens.
    Die guerrilla-fase het voorrade konvooie en treine geteiken. Maw die Boere-kommando’s het bygedra tot volksmoord?
    Lord Alfred Milner was verantwoordelik vir die siviele konsentrasiekampe, nie die Britse weermag nie. Bitter min verwysings was na Alfred Milner as koloniale hoof gedoen omtrent die konsentrasiekampe. Of het Milner as aards Britse etnosentris nie veel gevoel vir sy nuut verkrygde koloniale bevolking nie? Veral met Britse setlaars wat na ABO ingebring was in twee Boererepublieke.

  • Hans Richardt

    Soos wat die dokter in ou Verskroeide Aarde dokumentêr noem, die vroue en kinders wat saam met Nonnie de la Rey "op kommando" gebly het in veld, beter daaraan toe was, as dié wie saamgehok was in kampe, tov oordraagbare siektes, bv TB en masels.
    Rolpapier en sanitêre doeke was nog nie beskikbaar in ZAR en Vrystaat nie ... dit moes helse gemors gewees het met waterkrisisse.
    Die Boere se guerrilla-fase wat voorraad konvooie geteiken het, het ook aanleiding gegee dat kampe ook minder voorrade gekry het, van die karige rantsoene voorsien deur Alfred Milner. Waarom word hierdie feit nooit genoem nie? Die Boereleiers het in gebreke gebly om voorsiening vir veiligheid van hul siviele bevolking te maak. Om nie eie verantwoordelikheid te vat vir die konsentrasiekampe en gevolge daarvan nie, is tog ook groot Ontkenning deur Boere. Dit is 'n Laizzez Faire houding gewees om siviele persone onbeskermd te los. Dit was ook swak diplomasie van Boere-leiers se kant gewees.
    Ek voel dat hierdie Britse strategie later in Bosoorlog ook deur Suid-Afrika in Suid-Angola gebruik was, deur landmynvelde, vernietiging van siviele infrastruktuur en krygsgevangene kampe bv hokke in Oshakati, Grootfontein en buite Tsumeb.
    Die Britte moes vir 400 000 koloniale soldate en 200 000 persone in konsentrasiekampe logistieke voorsiening doen, met Boerekommando’s wat hul logistieke lyne konstant aangeval het, om self te kon oorleef.
    Het Boere minder 'n bloedlose oorlog probeer voer aan die begin, sou die oorlog dalk ander wending gehad het, dalk 'n paar Swart Weke in 'n ry?
    Verder was Boereleiers ook kleptokrate, wie beste vir hulself beding het tydens Vrede van Vereniging in Pretoria.

  • Hans Richardt

    Fransjohan Pretorius, ek het in my amateur navorsing oor mediese behandeling van gewonde Boere net bollie gekry.
    Ek weet dat die mediese ZAR-Rooikruis ver ontoereikend was vir die ongeveer 46 000 Boerekrygers.
    My vraag eenvoudig - waar kry ek beskrywings van bv wondbehandeling deur Boere. Ek het storie gehoor dat perdesterthare gebruik was om wonde toe te werk. Tog wonder ek oor die verstaan van fisiologie van liggaam. Bv spiere, ligamente senings en beenbreuke tydens wonde op slagveld.
    Ek weet dat die Britte sewe x-straalmasjiene gebring het. Die Duitse Rooikruis het in hul veldambulans ospitaal ook 'n x-straalmasjien gehad en ook droë-sel-elektrisiteit.
    Die internasionale mediese krygsmedisyne het uitgebreide rekords oor hul ondervindinge, maar van Boerekant, niks.
    Ek weet ook dat Britse mediese korps uitgebreide sisteem gehad het om gewondes af te voer. Die Boere het ook sisteem gehad, alhoewel minder ontwikkeld.
    Ek weet egter dat Boere se hardnekkigheid, gemaak het dat van hul gewondes op afgeleë plase gelos was.
    Ook uit dokumente dat lyfwonde meeste sterftes opgelewer het.
    Wel, beenwonde was redelik goed hanteer, mbv x-strale en gips om bene weer te spalk.
    Dis hierdie minder romantiese of emosionele aspek van die ABO wat my nog laat belang stel. Ek het bv in Calvinia graf van jong Boer gesien, waarvan grafskrif sy verwondingsdatum en sterfdatum op gehad het, voor vandale dit stukkend geslaan het.

  • Onderhoudvoerder maak toesprake wat maskeradeer as vrae. Selfs nou voel ek dat daar in Amerika nog steeds ripples is van hul eerste en tweede burgeroorloë. Soos ek baie jare gelede aan Mangosuthu Buthelezi gesê het toe dit onwettig was om Mandela uit te roep, hou ek hom nie verantwoordelik vir Ulundi of Rorkes Drift se bloedbad nie. Die enigste vraag wat gevra is, is: "Wat is die regte ding om vandag te doen?" Dis dit. In SPIKED stel ek die eerste Suid-Afrikaanse Burgeroorlog voor. Jy kan dit ook 'Boere-' of 'Engelse Oorlog' noem. Ek verwys na Hobhouse as 'n katalisator vir die Britse publiek se bewustheid van hierdie tragedie. http://amazontophundred.blogspot.com. Ek sou belangstel in die terugvoer van LitNet-lede .

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top