VER[r]AS: Studeerkamerfunksie

  • 1

Op Dinsdag 2 Mei het VER[r]RAS (Vereniging vir Afrikaansstudente) van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch hul jaarlikse Studeerkamerfunksie gehou.

Die doel van die funksie is om by oudstudente van dié departement te hoor waarheen hul loopbane hul gevat het, en ook wat BA-studente na afloop van hul studie in die praktyk kan verwag.

Die gassprekers by vanjaar se geleentheid was Willem Botha, Daleen Venter, Danie Marais, Hester Carstens en Bibi Slippers.

SZ Minnaar, voorsitter van die VER[r]AS-komitee, verwelkom die gaste en stel vir Willem Botha bekend en aan die woord.

Volgens Willem Botha kies die beroep die mens. Hy dink spesifiek aan drie mense in sy familie wat aangesê is om advokate te word, maar wat telkens deur verskillende kronkelpaaie uiteindelik uitgekom by die beroep waarheen hul harte hulle gestuur het. Dit is ook dieselfde pad wat hom van ’n graad in die regte geneem het na die maak van woordeboeke. Volgens hom leer BA- en BEd-kursusse jou van die lewe, en die mensekennis wat daarin opgedoen word, kan as wegspringblokke na ’n verskeidenheid rigtings beskou word.

Willem Botha

Nina Fouché (VER[r]AS-komiteelid)

Daleen Venter het verlede jaar haar honneursgraad in vertaling in die departement voltooi. Sy is tans ’n vertaler, proefleser en blogger by Lekkeslaap. Sy beklemtoon dat elke dosent kennis oor ’n spesifieke vakgebied met studente deel en dat dit die dinge is wat sy elke dag in die praktyk gebruik. Sy gebruik byvoorbeeld dit wat sy by Rufus Gouws oor leksikografie geleer het, om woordeboeke effektief te gebruik. Sy onthou ook Ilse Feinauer se raad oor deeglike navorsing, en vra haarself gereeld tydens die redigering van ’n teks af: “Wat sou dr Lourens gedoen het om hierdie teks te verbeter?” Sy sê ook dat daar min dinge is wat jou so vinnig laat grootword soos om die eerste keer jou eie medies of versekering te betaal.

Daleen Venter

Elodi Troskie (VER[r]AS-komiteelid)

Danie Marais is betrokke by PEN Afrikaans en is ook ‘n gepubliseerde digter. Danie se pad het ook al ver gaan draai om hom te bring na waar hy vandag is. Hy deel sy insigte, maar noem dat dit slegs ’n Danie-vormige oplossing vir ’n Danie-vormige probleem is en dat elke mens se situasie verskillend is. Hy het op ’n dag besef dat hy baie min volwassenes ken wat tevrede is met hul loopbaan. Hy het toe summier besluit om ’n “huisman” (nav “huisvrou”) en skrywer te word. Later het hy ’n onderwyser en skrywer geword en gereken dat lang vakansies van die onderwys (!) ideaal is om te skryf en boonop ’n inkomste te verdien. Hy is egter nou ’n teksredakteur en skrywer. Hy sê as jy ’n spesifieke loopbaan wil volg, niks anders jou gelukkig sal maak nie. En as jy reeds besluit het om ’n BA-graad te kry, is dit waarskynlik die regte keuse.

Danie Marais

Janko Etsebeth (VER[r]AS-komiteelid)

Hester Carstens het tien jaar gelede haar BA-graad verwerf en was nog nie een dag sonder ’n werk met pensioen en medies nie. Sy beklemtoon egter dat dit noodsaaklik is om ’n honneursgraad te doen, want ’n BA op sy eie is te dikwels nie voldoende nie. Sy deel nuttige wenke vir werksaansoeke – van CV’s wat geproeflees móét word, die werksplek wat nie altyd net vol vreugde en plesier is nie en die noodsaaklikheid van ’n goeie houding, tot die werklikheid dat min mense aan al die vereistes van ’n pos voldoen, en dat jy in elk geval aansoek moet doen.

Hester Carstens

Lisa Slippers (VER[r]AS-komiteelid)

Bibi Slippers is die ontvanger van 2016 se Eugène Marais-prys en vanjaar se UJ-debuutprys. Sy deel haar storie, wat begin by haar voorneme om na skool ’n ontkleedanser in Durban te word om vir balletklasse te betaal, tot waar sy nou vir ’n produksiemaatskappy werk, inhoud genereer en kopie skryf. Sy sê dat mense met BA-grade ongelukkig vier keer harder as ingenieurs moet werk, en daarom is dit baie belangrik om nooit vir enigiets nee te sê nie. ’n BA het egter ’n groot reikwydte van opsies en “soms moet jy jou liggaam slap maak dat die stroom jou vat”. Jy moet werksondervinding opdoen, al doen jy dit verniet terwyl jy nog studeer (en terwyl jy dit kan bekostig). Doen iets wat jou laat uitstaan – maak jou CV kleurvol met ’n mooi ontwerp, of los jou ouderdom uit en laat jou ervaring iets sê van watter tipe kandidaat jy is.

Bibi Slippers

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Oudstudente van die US se Departement Afrikaans het gesê wat hulle doen. Nou kan dosente in daardie departement gerus sê wat hulle doen om die verengelsing van die US teen te werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top