Verraad en liefde

  • 0

Dit is ’n bitter, genadelose winter op die Hoëveld oos van Ermelo.

Die koue sny soos glasskerwe deur die verflenterde klere van die Boerekommando wat op die plaas Leliefontein in en om die verwoeste opstal skuiling soek. Klein vuurtjies wat nie in die nag van ver gesien kan word nie, brand tussen huis- en kraalmure wat stukkend en swart gelaat is nadat die Britse troepe daar deurgetrek het, alle vee doodgemaak het en vroue en kinders na die konsentrasiekamp weggevoer het.

Die kommando het pas ’n verrassingsaanval geloods en wapens, ammunisie en ander voorrade gebuit. Verskeie van die gehate Kakies het gesneuwel, verskeie is gewond, en meer as twintig is gevange geneem. Hulle is uitgeskud en nakend in die vrieskoue veld ingejaag, om te oorleef as hulle kan.

Die grootste buit was twee jong Boere, wat National Scouts geword het. Nou moet hulle verhoor en gestraf word.

Kommandant Johannes Steenkamp en sy krygsraad van vyf manne sit in die enigste vertrek van die ou plaashuis wat nog ’n mate van privaatheid bied.

“Al wat ons hier van ons plase oorhet is ’n toneel van skreiende verwoesting,” sê hy bitter. Hy kry so koud dat sy tande liggies klapper. “Hierdie bouval was mý woonhuis, wat ek self met die hulp van my plaasarbeiders gebou het. Nou is alles wat ek en julle besit het, verwoes soos die Kakies daaroor trek, afbrand, uitroei en hoop om ons só te laat oorgee.”

Hy kyk na die ander kommandolede. Soos hy, lyk hulle uitgeteer, moeg, vuil. Dit ruk hom aan die hart om sy manne so te sien. Hulle is almal gekwel deur wat voorlê. Hy moet hulle moed en oortuiging inpraat. Maar waar kry hy dit vandaan? Hy is so moeg. So diep geskok, dit is soos ’n lem in sy hart.

“Verdomde gespuis,” hoor hy die veldkornet sis. “Ons families sit nou in die konsentrasiekamp soos ’n trop brandsiek skape in ’n kraal. En mense soos dié Vermaaks lewer hulle uit. Gaan ons, ná al ons en ons mense se opofferings en skade, genadig wees teenoor ons eie mense wat ons aan die vyand verraai?”

Kommandant Steenkamp trek sy baadjie stywer om sy lyf, al help dit nie veel teen die koue nie. “Afgedankste satansgebroedsel. Ingekruip in die holle van die genadelose vyand wat die brood uit ons en ons families se monde neem en ons wil oorheers. Ons veg vir ons vryheid teen ’n groot oormag. Ons het goeie vegters weens dié vervloekte verraad verloor. Hoeveel erger is dit nie as jou eie mense, ook bloed van jou bloed, jou in die rug steek nie?”

Gewapende burgers bring die twee National Scouts in. Hulle is nog jonk. Nicolaas Vermaak is twintig jaar oud. Sy broer Petrus is agtien. Die twee Scouts is asvaal van vrees en kommandant Steenkamp let op hoe erg veral Petrus bewe.

Hy moet sy hart teenoor dié kind verhard. In ’n poging om sy rykdom te red, het hulle vader liewer aan die Engelse oorgegee. Almal weet dat National Scouts se familie kastig as “vlugtelinge” onder Britse beskerming by die konsentrasiekampe ingeneem word, waar hulle beter behandeling kry as die families van die mense wat voortveg.

Hy kyk streng na die verraaiers. “Julle, Nicolaas Jacobus Vermaak en Petrus Gerhardus Vermaak, het as verkenners opgetree vir ’n Britse kolonne, ’n mag van die 5th Victoria Mounted Rifles oftewel die Bushmen, wat ons mense genadeloos uitdelg. Dit is júlle wat hulle na hierdie plaas en die ander in die omgewing gelei het. Julle het nie slegs verkenning gedoen nie, maar ook die wapen opgeneem teen die kommando waarvan julle voorheen lede was. Mense wat so veragtelik optree, het die reg verbeur om te lewe. Wat het julle hierop te sê?”

Nicolaas Vermaak kyk hom half uitdagend, half smekend aan. Dié seun ken hy van sy babadae af en Nicolaas hoop seker dat hy tog genade sal betoon. Hy en kommandant Steenkamp se seun, Lafras, het dan van kleins af saamgespeel.

Lafras wag in duidelik gefolterde spanning saam met die ander kommandolede om te hoor wat Nicolaas se uiteinde gaan wees, maar eintlik verwag hy die ergste. Dit is vir die kommandant swaar om sy seun se ontsteltenis te aanskou.

“Kommandant, die hele land is reeds verwoes.” Nicolaas se stem is skor. “Ons en Oom…Kommandant se familie is na die Bethal-konsentrasiekamp geneem. Baie van die burgers is al weggestuur na krygsgevangenekampe. Ons het die oorlog verloor, maar julle wil dit nie besef nie. Julle sal aanhou veg tot niks oorbly nie. As ons Scouts is, kry ons mense minstens kos in die kamp. Vader is daar, en Moeder, en julle familie. Daar is kinders…”

“Ja, die National Scouts se mense kry genoeg kos terwyl die ander mense van honger vergaan, maar dit is die bitter brood van verraad,” val kommandant Steenkamp hom in die rede. “Ons Boere stik van dié boosheid.”

Hy beraadslaag met sy krygsraad. Almal se gesigte waarop die swaarkry, die ontnugtering, die minagting en afkeer duidelik geëts is, stem saam dat summiere teregstelling moet geskied.

Kommandant Steenkamp kug, steek weg hoe emosioneel hy meteens raak toe hy opmerk dat jong Petrus homself uit vrees natgemaak het. Die kind met blonde hare en blou oë soos sy ma s’n.

“Voordat ons die vonnis oplê, mag julle vir oulaas iets sê.”

“Ek is spyt oor wat ons gedoen het,” sê Petrus, sy jong stem skril van paniek. “Wees my asseblief genadig.”

“Doen met mý wat julle wil,” sê Nicolaas, bitter gelate. “Praat en smeek sal tog niks help nie. Ek vra net dat julle my broer genadig moet wees. Hy is nog jonk. Gee hom liewer tien houe lyfstraf en hou hom gevange. Wat ook al, maar moet hom nie doodskiet nie.”

“Hy is al agtien jaar oud, nie meer ’n kind nie,” sê kommandant Steenkamp streng. “Hy het net so goed soos jy geweet hy verraai sy mense.”

Na verdere beraadslaging spreek hy die vonnis uit. “Nicolaas Jacobus Vermaak en Petrus Gerhardus Vermaak, julle twee verraaiers sal om dagbreek gefusilleer word. Julle kan vanaand aan julle mense skryf en julle laaste gebede aan ’n regverdige God rig. Mag onse Heiland julle genadig wees.”

Hy gee opdrag dat die twee hulle eie graf moet grawe. Die twee jong mans word uitgeneem. Daar is net een graaf en hulle gebruik dit om die beurt. Trane loop by hulle wange af, maar hulle doen dit sonder om te praat of te smeek.

Daarna neem vier gewapende kommandolede hulle en bind hulle vas aan die wiele van ’n wa wat by die Australiërs gebuit is. Die kommandolede gee vir hulle hul laaste maaltyd en skryfgoed sodat hulle die laaste briewe kan skryf. Hulle skryf egter niks. Die kommandolede hou wag.  Brandwagte is om die kamp gepos.

Dis of daar ’n doodsheid oor die kamp hang. Niemand wil hul eie mense tereggestel sien nie, maar geregtigheid moet geskied. Karige aandetes word by die vuurtjies geëet. Die verkluimde burgers en die perde bondel saam. Hulle asems is mis wat in die ysige lug hang. Hier daal die nagte se temperatuur tot onder vriespunt. Uithou tot die sonlig van die volgende dag is ’n uitgerekte beproewing.

Lafras Steenkamp roep ná ete sy vader eenkant en praat saggies. “Here, Vader, dis darem vreeslik dat ons vir Nicolaas en Petrus so moet sien sterf. Ek kan nie glo hulle het teen ons gedraai nie, al is dit uit nood.”

“Ja, my seun, maar moenie oor hulle die Here se naam ydellik gebruik nie. As mens lafhartig genoeg is, verloor jy jou skaamte en eergevoel en gee jy jou aan skande oor. Ek het altyd gedink ou blink Stefaans is ’n verdekselse maaifoedie, maar tant Lettie wou hom opsluit hê.” Hy sug. “Sy was ’n mooi en gesogte nooi maar Stefaans was mos ’n ryk wewenaar. Saf, swak van inbors en te lief vir gerief. Nou sal dié seuns voor hulle doodgaan en daar sal geen nageslag meer wees wat die naam Vermaak kan voortdra nie.”

Lafras se oë blink van trane.

“My seun, jy is nie môre in die vuurpeloton nie, want dit sou darem te erg wees om dit van jou te verwag, maar jy sal teenwoordig moet wees en jou sterk hou. Ek wil nie sien dat my seun knak nie. Ek wil my nie vir jou skaam nie.”

Lafras kyk verwytend na sy vader. “Ek sal daar wees, Vader, al is dit vir my ’n saak van weemoed. Ek sien Nicolaas nog soos toe ons kinders was, en maats. Dit maak my hart seer. Maar ek weet darem dat Nicolaas sy straf verdien. Dis vir Petrus wat ek die jammerste voel…”

Kommandant Steenkamp praat bars. “Petrus is net so skuldig soos sy broer. Gaan slaap, as jy kan. Môre, ná die teregstelling, moet ons oos trek. Die Kakies gaan ons wil afslag oor ons die Australiërs so verniel het.”

*

Sy hande bewe erg van koue en spanning toe hy die tou om die polse van Petrus Vermaak sny. Die jongeling lyk half bewusteloos verkluim en hy moet hom skud. Met sy vinger oor sy lippe wys hy dat Petrus nie ’n geluid moet maak nie. Nicolaas, wat ineengedoke teen die ander wiel lê, word nie wakker nie. Die wag het naby hulle aan die slaap geraak, half verkluim, toegewikkel in sy verflenterde kombers, geweer oor sy skoot.

Hy beduie dat Petrus moet weg. Die nag is besonder donker, die maan ’n dun sekel en die sterre flentertjies ys. Snerpblink lê die ryp oor alles.

Die jong verraaier skarrel weg, verdwyn die duisternis in. Miskien vang hulle hom weer, miskien nie. Dalk verkluim hy op die vlakte. Minstens het hy nou ’n halwe kans om te oorleef.

Lafras Steenkamp skrik orent toe pandemonium om hom losbars.

“Die een het ontsnap!” hoor hy iemand roep.

“Soek hom,” hoor hy sy vader skree.

Hy kyk hoe die burgers rondhardloop, uitwaaier. Hy kyk hoe Nicolaas vervaard opkyk. Hoe dankbaar hy lyk. Hoe die trane by sy wange afrol. Sy hart krimp van bejammering.

Petrus Vermaak het verdwyn, blyk dit gou.

“Los die gesoek, ons het nie tyd daarvoor nie,” sê kommandant Johannes Steenkamp. “Ons sal moet gou maak met die teregstelling en laat spaander.”

Hy laat die vuurpeloton vinnig opstel. Die graf is vlak, maar nou sal daar net een lyk wees. Die vyf mans wat met gewere regstaan, is almal ontstig. Een staan met geboë hoof en bid met ’n mond wat woorde geluidloos vorm. Dit is vir dié Boere vreeslik om een van hulle eie mense te skiet, al het hy hulle verraai.

Die geblinddoekte gevangene word na die graf se rand gelei. Hy wil geen laaste woord spreek nie. Sy hele lyf bewe so erg dat almal dit kan sien. 

Al die omstanders se asems kom wasemrig by hul monde uit. Almal is stil. Kommandant Steenkamp dra met ’n hees stem ’n stuk voor uit die Bybel wat hy so goed ken en so dikwels aanhaal. Hy is bewus daarvan dat Lafras eenkant tussen sy makkers staan en van afgryse sidder. Hy roep die bevel uit. Die vuurpeloton lig hul gewere. Nicolaas Vermaak gooi sy hande in die lug, skree een keer. Die gewere bulder. Donker kolle verskyn op sy lyf. Sy knieë knak en hy val reg agteroor in die vlak gat.

Lafras se lyf het ook geruk, sien kommandant Steenkamp. Lafras kreun, draai om en strompel weg. Hy wil natuurlik nie sien hoe hulle die lyk met grond toegooi nie.

Lafras bestyg sy perd. Hy leun oor na sy vader wat langs hom sy perd se buikgordel stywer trek. “Vader vra nie ...”

“Ek wil liewer nie weet nie,” val die kommandant hom bars in die rede. “Opsaal, manne, laat ons wegkom.”

*

“He’s alive, but barely,” hoor Petrus Vermaak die Britse stem, maar hy is stokstyf gevries en halfdood van die water van die pan. Alles pyn. Hy kan nie reageer nie, sy mond is dood, sy tong ’n stuk ys.

“Give him brandy, lieutenant ... might still survive, but he’s frozen ... hidden in the pan ... must have spent hours in the icy water ... have to take him to Bethal ... camp ... hospital ...

*

Die Kerkraadsvergadering is in oproer. Stefanus Vermaak staan voor die vyandige lede wat hom aangluur, soos voor ’n krygshof.

“Julle Judasboere en National Scouts is nie welkom in ons kerk nie,” sê ouderling Johannes Steenkamp bruut, hard en duidelik.

Die ander lede stem luidkeels saam, hoewel die dominee paaiend probeer praat. “Broers, gee die man tog kans om sy saak te stel.”

Stefanus maak keel skoon. “Ons het die wapen teen julle opgeneem sodat julle nie ons land in die afgrond indwing nie. Ons moes iets doen om julle te laat ophou.” 

“Moenie maak asof julle dit uit edele motiewe gedoen het nie,” sê Johannes minagtend. “Julle het uit lafhartigheid gehensop.”

Josias Brits (wat nog steeds deur sommige mense as Veldkornet aangespreek word), roep uit: “Ons is verpletter. Die kerk is nou ons enigste volksraad. Ons sal julle straf deur julle onder sensuur te plaas. Ons sal nie die sakramente aan vuilgoed soos julle laat bedien nie. Ek sit nie langs ’n volksverraaier in die kerk nie.”

“Ons sal nie julle kinders in dié kerk doop nie,” sê ’n ander man wie se klere ook verslete en gelap is. “Julle het ernstige sonde teen julle eie mense gepleeg.”

“Miskien as julle om vergiffenis smeek, broer …” begin die dominee, maar die klomp kerkraadslede rumoer. Vandag het hulle nie lus vir praatjies van vredemaak en vergiffenis nie en vind dit moeilik om respek teenoor die versoenende kerkman te betoon.

“Gaan stig gerus julle eie Scoutkerk, Stefaans Vermaak,” sê Johannes Steenkamp. “Judasboere is wat ons julle noem. Dit is julle wat gemaak het dat ons die oorlog verloor. Die Britte minag julle vir jul verraad, al het julle hulle gehelp. Hulle het julle net gebruik en julle was maar te gewillig, swerkaters ...”

“Ons vergewe en vergeet nie,” sê een aggressiewe kerkraadslid.

Johannes sit met vuiste gebal. “Julle Vermaaks is nie welkom in ons huise, op ons plase of in ons kerke nie.”

Stefanus Vermaak is spierwit in die gesig. Hy draai om en loop uit, maar sy skouers is nie fier nie. Hy lyk asof hy slae gekry het.

Johannes kyk hom met haat agterna. Dít is die man wat sy geliefde voor hom weggeraap het. Stefaans word gehaat en geminag maar sy plaas is nie so verwoes soos die Steenkamps en ander bittereinders s’n nie. Sy vrou het nie in die kamp omgekom nie. Sy behou een seun.

Verraad en liefde loop hand aan hand. Hy het gestraf, maar uit liefde het hy ook gered.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top