Vermis deur Jeanette Stals: ’n resensie

  • 0

Vermis
Jeanette Stals
Uitgewer: LAPA
ISBN: 97807993853331

Liefhebbers van die spanningsgenre én Huisgenoot-lesers kan naderstaan. Jeanette Stals se nuwe roman, Vermis, bevat die vereiste spanning en drama. Daarby wag ’n paar sappige geheime om blootgelê te word. Dié roman kon egter beter gewees het, was dit nie vir enkele onwaarskynlikhede en clichés nie.

Vermis is Stals se tweede speurroman. In Katoog, die eerste een, word ’n meisie se lyk in ’n rivier gekry. Speursersant Luna Joubert, ’n jong vrou met ’n ou siel, moet uitvind wie die meisie is, waar sy vandaan kom en met wie sy in verbinding was.

In Vermis verskyn Luna Joubert weer, dié keer om die O’Neills, Suid-Afrikaners wat in Londen woon, se dogter te soek. Die belowende violis het een nag uit ’n gastehuis in Stellenbosch verdwyn. Dalk is Elodie maar net ’n tipiese tiener wat ’n bietjie pret soek? Of is sy ontvoer? 

Die kleingeboude Joubert ondersoek die saak. Speel die gesin se beste vriend, Con, ’n rol in die verdwyning? Hy is duidelik meer as mevrou O’Neill se vriend. Moetiemoorde en seksslaafhandel word genoem, maar wat het eintlik hier gebeur?

Die storie beweeg teen ’n snelle pas en boei die aandag. Luna Joubert sal waarskynlik mettertyd net so gewild raak soos Bennie Griessel in Deon Meyer se romans, of Kassie Kasselman in Rudi van Rensburg se misdaadreeks. Want dié vrou streef na geregtigheid. Daarby vat sy nie nonsens nie en gee sy meer as wat gewoonlik van ’n speurder verwag word.

Die hoofkarakters léwe en die verhouding tussen Joubert en haar broer, Johan, van wie se bestaan sy eers onlangs uitgevind het, wek deernis. Albei is in dieselfde uitdagende bedryf, ondersteun mekaar en beleef geestelike groei. Mens voel Elodie se ma, Gwen, se spanning oor haar verdwene dogter aan en raak saam met haar moedeloos. Wanneer mevrou O’Neill egter goeie nuus kry, toon sy hopeloos te min emosie. Ekstase en dankbaarheid sou meer gepas gewees het.

Oor Elodie se pa, James, wonder mens toenemend. Die verbrokkelende verhouding tussen Gwen en haar man word eg en sensitief aangebied.  

Stals se dialoog werk ook – elke karakter praat met ’n eie stem. Sommige Afrikaanssprekendes span gepas Engelse woorde soos “surveillance-kameras” in. Ander se taalgebruik sal die tannies laat bloos of kla, behalwe dié van Johan, wat “’n groter vloekwoord los”. Watter een dit is, weet ons nie.

Stals ken haar milieu, of dit die gastehuis en omgewing is, of die ongure buurt waarin meesleurende tonele afspeel.

Dis jammer dat van die oplossings te maklik is. Hoe gebeur dit dat misdadigers iemand vang en dan nie dadelik haar selfoon uit haar bosak verwyder nie? Mos maklik om dan hulp te ontbied! En sal ’n meisie in ’n swart sak skuil? Die sak moet besonder groot en sterk en vol luggate wees. Nog ’n vraag: Sou die misdadigers, met slagoffer en al, na dieselfde huis terugkeer nadat die speurder reeds vroeër daar gevange gehou is?  

Stals behoort op te let na clichés, soos ’n glimlag wat “om ’n (strak) mond plooi”.

Daarby is dit oorbodig om die kleur van bykans elke karakter se oë te beskryf – daar is tog ander kenmerke wat mense van mekaar onderskei. In hierdie geval skep oogkleur nie spanning nie en dra dit ook nie tot die ontwikkeling van die verhaal by nie. Dieselfde geld “swart jeans” en ’n “poeierblou” gholfhemp. Stals span te veel byvoeglike naamwoorde in. Less is more.

Van die vergelykings is ietwat verregaande, soos: “James (haar man) kyk net na haar en die angs in haar groei, word ’n donker wolk. Dit roep die beeld wat sy op televisie gesien het by haar op. Toe iemand met ’n motorband om die nek aan die brand gesteek is. Borrelende haat, geweld in sy ergste vorm.” Tog is daar heelwat gepaste beeldspraak, byvoorbeeld: “Lede van die reaksie-eenheid is soos ruimtewesens oral om hulle, dik aangetrek, ook met kopbeskerming.”

Ander beskrywings is net te dramaties: ’n karakter se gil “bou in haar bors op. Sy druk dit (die gil) af en sluk dit weg na haar maag toe.”

’n “Krampagtige” vasklouery kom ook ’n paar keer voor, terwyl emosie of verligting, of vrees en afwagting, “deur” verskeie karakters “spoel”.

Feite dra tot geloofwaardigheid by. Daar word na die Dewani-saak verwys en mens lees dat misdaad teenoor ’n vrou gewoonlik gepleeg word deur ’n man met wie sy ’n verhouding het, of gehad het. Wat ’n 14-jarige slagoffer betref, is die oortreder dikwels iemand in haar vriendekring of ’n familielid met pedofielneigings, skryf Stals.

Die doen en late van die boosaard agter alles word goed gemotiveer, maar dis  nie vir die oplettende leser ’n uitdaging om te voorspel wie die skuldige is nie. As dié oplossing nie so voor die hand liggend was nie, sou Vermis waarskynlik op baie misdaadlesers se top-vyf-lys gewees het.

Die leemtes ten spyt, toon Jeanette Stals beslis moontlikhede om in ’n gewilde misdaadskrywer te ontpop. Kyk gerus uit vir haar volgende roman.

Foto van Jeanette Stals: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top