Verlore in vertaling

  • 2

Heelwat gaan verlore in vertaling. Dis ’n gegewe. Eskimo’s het byvoorbeeld 27 woorde om sneeu te beskryf. Afrikaans het nie.

Dan is daar weer heelwat woorde in Afrikaans wat glad nie goed vertaal in ’n ander taal nie. Shaleen Surtie-Richards het byvoorbeeld toe sy hoor Fiela se kind word in Engels vertaal, blykbaar gevra: “Hoe vertaal mens ‘Magistraat se moer?’” Iets van die essensie, van die gevoelslewe, gaan verlore wanneer dit vertaal word.

Selfs binne dieselfde taal word dieselfde woorde in verskillende streke verskillend verstaan. Selfs binne dieselfde streek, met verloop van tyd, verander ’n woord se betekenis, sodat oupa en kleinkind dieselfde woord kan gebruik en twee verskillende goed bedoel.

Dis waar nie net van woorde nie, maar ook van geleefde ervaringe. Litigasieprokureurs weet dat twee getuies dieselfde gebeure kan beskryf en dit heeltemal verskillend onthou. Dit beteken nie dat enigeen leuenagtig is nie; dit beteken bloot dat mense op verskillende aspekte fokus en anders onthou.

Geleefde ervaringe beteken ook dat mense inligting verskillend interpreteer. So byvoorbeeld vertel ’n vriend my van ’n saak waar hy vir een party optree oor ’n voorval wat by ’n derde party se huis plaasgevind het. My vriend se kliënt het getuig dat hy eerste gesit het, en dat daar omtrent vyf ander persone tussen hom en die klaagster gesit het. Die klaagster het saamgestem. My vriend se hele argument was daarop gebaseer dat die klaagster se weergawe nie korrek kon wees nie, omdat daar soveel mense tussen haar en sy kliënt gesit het. Die landdros vra toe net een vraag: “Was dit ’n tradisionele hut, of ’n moderne geboude vertrek?”

Die hut was rond, en alhoewel sy kliënt heeltemal reg was daarin dat daar vyf mense tussen hom en die klaagster gesit het, was sy ook reg daarin dat sy langs hom gesit het. My vriend het aangeneem dat die voorval in ’n moderne, vierkantige vertrek afgespeel het, en dan sou die klaagster se weergawe onwaarskynlik wees. Sy ervaring is dat vertrekke vierkantig is, nie rond nie, en sy hele verdediging was op daardie aanname gegrond. Hy het nie eens daaraan gedink om te vra hoe die vertrek lyk nie, want hy het aangeneem hy weet.

Toe hy die storie vertel, het ek aanvanklik gedink dit was dom van hom om nie ten minste te vra hoe die vertrek lyk nie. Hoe meer ek egter daaroor begin dink het, hoe meer het ek besef ons doen almal elke dag dieselfde. In ons daaglikse wandel maak ons baie keer aannames oor die mense rondom ons. Ons vra nie vrae nie, want ons dink ons weet.

Dis hoe misverstande gebeur. Iets het verlore gegaan in die manier waarop ons ervaringe vertaal, in die lens waardeur ons ervaringe evalueer.

Wanneer Blade Nzimande dan sê dat universiteite maar vir ses maande kan sluit om die protesterende studente ’n les te leer, word dit gesê vanuit die geleefde ervaring van ’n minister onder druk. Daar is egter ook die ervaringe van studente wat nie protesteer nie en wat wil leer wat glad nie in ag geneem word nie. Daar is die ervarings van ouers wat elke dag opoffer en met minder klaarkom sodat hulle kinders kan leer wat vergeet word. Daar is die ervarings van persone wie se studentegelde alreeds betaal is en wat nou gepenaliseer word omdat hulle ook nie klas kan loop nie.

Dis die oorgrote meerderheid van studente. Dié wat protesteer en geboue vernietig, is in die minderheid. Tog word almal dieselfde behandel, en dit lei tot ongeregtigheid, en onregverdigheid, wat weer lei tot verdere protes.

Aan die ander kant is daar die geleefde ervaring van studente wat gefrustreerd is en wat hulle frustrasie uitleef deur geboue te vernietig, hulle medestudente te intimideer en geweld te pleeg. Wat van hulle?

Wanneer daar ’n misverstand oor woorde kom, is dit maklik om dit reg te stel deur vrae te vra, of na ’n goeie woordeboek te gaan. Hoe egter gemaak met misverstande oor geleefde ervarings? Hoe gemaak as daar nie bereidwilligheid van alle kante is om te luister, te probeer verstaan en te probeer empatiseer nie?

Hoe word die geleefde ervaringe van verskillende groepe in ’n konfliksituasie vertaal? Hoe gaan een groep ’n ander groep verstaan as daar niemand is wat bereid is om tussen die groepe te beweeg, te luister, te verstaan en te verduidelik nie?

Die opvoedingskrisis wat ons beleef, kan opgelos word. Ons het egter vertalers nodig wat sal saamwerk om te verseker niks van die belangrike geleefde ervarings gaan verlore in vertaling nie.

Dis nie #FeesMustFall nie, dis #UnderstandingMustRise.

  • 2

Kommentaar

  • Die aanname dat die protesteerende studente in die minderheid is maak nie meer sin nie. Ek dink die minderheid is veel meer as wat vermoed word anders sou die wanorde al lankal tot `n einde gekom het.

    Waar lê die fout dan? Die regering? polisie? Kampusbeheer? Iemand moet die blaam dra vir hierdie chaos. Dit is nou genoeg en aksie moet onmiddellik geneem word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top