Vergoedingsboetes in strafregtelike verrigtinge – ’n vars perspektief

  • 0

Vergoedingsboetes in strafregtelike verrigtinge – ’n vars perspektief

Abraham Hamman, Fakulteit Regte, Universiteit van Wes-Kaapland
Windell Nortje, Fakulteit Regte, Universiteit van Wes-Kaapland

LitNet Akademies Jaargang 14(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Vergoedingsbevele in Suid-Afrikaanse howe blyk eerder die uitsondering as die reël te wees. Alhoewel artikels 297 en 300 van die Strafproseswet 51 van 1977 vir sulke vonnisse voorsiening maak, word dit nie in die algemeen deur ons howe toegepas nie. Dit kan wees dat die howe nie altyd bewus is van hierdie vonnisse nie, of dat die fokus meer gerig is op beskuldigdes en oor wat die belange van die breë gemeenskap is en verlang, as wat die slagoffers vereis. Dit het tot gevolg dat in die meeste gevalle die slagoffer en benadeeldes se posisie of versoeke nie in ag geneem word nie en hul opinies gevolglik afgeskeep word.

Hierdie bydrae bespreek die spesifieke bepalings van die Strafproseswet wat handel oor vergoedingsboetes, asook sekere hofbeslissings waar vergoedingsboetes onder die soeklig geplaas is. Die howe is in die algemeen meer strafgerig en fokus meer daarop om die beskuldigde te straf as om na die posisie van die slagoffer te kyk. Die teorieë van strafoplegging, soos vergelding, afskrikking en rehabilitasie, moet in ag geneem word, maar die tyd het straks aangebreek om ook na die posisie van die slagoffer uit ’n herstellendegeregtigheidsoogpunt te kyk. Daar behoort ’n sterker fokus te wees op wat in die beste belang van die benadeeldes is en hoe die howe hul posisies kan bevorder. Een van die moontlike oplossings is ’n vergoedingsbevel waar ’n bedrag geld aan die benadeelde partye betaal word. Dit is ’n boetestraf wat die hof oplê, maar in plaas daarvan dat die geld na die staatskas gaan, gaan dit na die slagoffers of hul familie.

Daar behoort nie in alle ernstige tipe misdade, soos wrede verkragtings en moordsake, sulke soort boetes opgelê te word nie. Die fokus moet eerder wees – en daaraan moet aandag geskenk word – gevalle waar spesifieke versoeke deur die klaagster, slagoffer of benadeelde aan die hof gerig word. Daar moet op sodanige pleidooie ag geslaan word, veral as ’n soort vergoedingsbevel versoek word.

Trefwoorde: benadeelde; beskuldigde, boete; gevangenisstraf; herstellende geregtigheid; oortreder; slagoffer; straf; Strafproseswet; vergoedingsboete; vonnis

 

Abstract

Compensation orders in criminal proceedings – a fresh perspective

South African courts have to deal with the sentencing of convicted accused on a daily basis. While presiding officers are well-trained and experienced in sentencing matters, it seems that compensation orders are not generally invoked as a form of punishment. This article discusses the compensation penalty as a possible means of punishment that could be used in our courts. It could be one of the factors that may help to reduce an accused’s prison sentence and also to compensate the victim who has suffered damage resulting from the criminal activity.

The accused’s constitutional right to a fair trial provides that the lightest possible punishment should be imposed upon him. If a compensation fine is indeed a more lenient sentence, it should then be imposed. The actual sentence rests solely on the discretion of the presiding officer. There are various sentencing options available to the presiding officer, of which life imprisonment is the heaviest, and a fine the most lenient. A fine is a form of punishment which requires the accused to pay an amount of money to the state. A compensation order, on the other hand, is a sentencing option that requires the accused to pay a monetary amount, as determined by the court, to the victim. Notably, the court will not grant such an order if the accused does not have the financial means to pay the compensation. Compensation orders may take various forms and are not limited to monetary amounts. Compensation orders are regulated in terms of sections 297 and 300 of the Criminal Procedure Act 51 of 1977.

Compensation orders in criminal proceedings in South African courts are the exception rather than the rule. Although included as an option in sections 297 and 300, it not regularly exercised by our courts. It may be that some courts are unaware of these types of sentences or that the focus is more geared towards the accused and the interest of the broader community rather than the victims. Consequently, victims in criminal proceedings are more often than not placed in a disadvantaged position as their requests for compensation are frequently disregarded by the courts.

Apart from the specific provisions of the Criminal Procedure Act dealing with such compensation orders, this discussion also deals with some court decisions where these were placed under the spotlight. The Criminal Procedure Act makes provision for compensation orders where damage was caused to the property of victims and where compensation orders can be part of a suspended sentence. Courts have not been consistent in the application of compensation orders. Notably, the recent approach of the Supreme Court of Appeal in DPP v Thabethe [2011] ZASCA 186 and Seedat v S [2016] ZASCA 153 raises further questions about the application of compensation orders in South Africa.

In general, while criminal courts have focused on punishing the accused, the position of the victim has been largely neglected. The theories of punishment, such as retribution, deterrence and rehabilitation, should certainly be considered, but it is time to take cognisance of the position of the victim, especially from a restorative justice perspective. Restorative justice is a prominent concept in South Africa, particularly after the successful completion of the Truth and Reconciliation Commission’s activities. It plays an important role in balancing various sentencing options while at the same time providing an alternative for an accused who has lost all hope. At the same time the community also becomes involved in the restorative justice process, thus creating an inclusive sentencing option.

However, the concept of restorative justice within the criminal justice system has been criticised. Research has shown that older offenders are less susceptible to rehabilitation, while there are some offenders who are very difficult to rehabilitate or never become rehabilitated. Nonetheless, restorative justice sentences could still be utilised to address the imbalances in certain cases, especially where the victim has been severely affected by the offence.

It is submitted that there should be a stronger focus on what is in the best interests of the victims, interests which the courts should promote in furtherance of the development of restorative justice mechanisms in the criminal justice system. One of the possible solutions is compensation orders where an amount of money is paid to the victim of crime as a form of damage. It is true that in punishment, especially for crimes associated with violence, very severe penalties may be imposed on offenders, and in these cases consideration should not be given to imposing a penalty or a compensation order on such persons. That being said, the imposition of a compensation order in a serious case is not inconceivable, especially when all parties are in agreement.

The call is not to impose compensation orders in all serious types of crimes such as rape and murder, but attention should be given where victims request compensation. In Thabethe and Seedat such requests were made by the victims of serious crimes. The victims even stated in Thabethe that it was not their wish for the accused to be imprisoned, but rather for them to receive compensation from the accused. The victim in Seedat made it clear to the court that she would benefit from the imposition of a compensation order as she was in a dire financial situation at the time of the trial. These are serious requests by victims which should not be swept under the rug by our courts. Although the courts in Thabethe and Seedat expressed their concern that compensation orders could send out a wrong message to criminals and the community at large, in Seedat the Supreme Court of Appeal in fact imposed a sentence which was a combination of direct imprisonment and a compensation order. Perhaps it is opportune that the courts listen to the pleas of victims and award this type of compensation where it is requested by the victim. Alternatively, victims should be made aware by the prosecution that these types of sentences are available.

Keywords: accused; compensation orders; Criminal Procedure Act; penalty; punishment; restorative justice; sentencing order; victims

 

1. Inleiding

Suid-Afrikaanse howe moet op ’n daaglikse basis persone vonnis wat aan misdrywe skuldig bevind is. Alhoewel voorsittende beamptes deeglik opgelei is, en sommige jare lange ondervinding van vonnisoplegging het, blyk dit dat vergoedingsboetes nie algemeen as ’n straf opgelê word nie. Hierdie bydrae bespreek die vergoedingsboete as ’n moontlike strafmiddel wat in ons howe aangewend kan word. Dit kan eerstens help om ’n persoon se periode van gevangenisstraf te verminder, en tweedens kan dit benadeeldes vergoed wat as gevolg van die betrokke misdaad gely het.1

Dit is so dat in strafoplegging, veral vir misdade wat met geweld gepaard gegaan het, baie swaar strawwe aan oortreders opgelê kan word en dat in daardie gevalle daar glad nie oorweging daaraan geskenk kan word om aan sulke persone ’n boete op te lê nie. Tog is dit nie te verregaande om wel so ’n bevel te maak nie, veral nie as al die betrokke partye daartoe ingestem het nie. Die grondwetlike reg van ’n beskuldigde, naamlik die reg op ’n billike verhoor, bepaal onder meer dat die beskuldigde die voordeel van die ligste moontlike voorgeskrewe straf moet kry.2 Indien ’n vergoedingsboete wel so ’n ligter tipe vonnis is, behoort dit dan opgelê te word.

Die soort vonnisbevel wat toegestaan word, is uitsluitlik in die diskresie van die voorsittende beampte. Daar bestaan verskeie vonnisopsies, waarvan lewenslange gevangenisstraf die swaarste vonnisbevel is, en ’n boete die ligste. Een van die moontlike opsies is vergoedingsboetes ingevolge artikels 297 en 300 van die Strafproseswet 51 van 1977.3 Hierdie opsies vereis dat die beskuldigde ’n geldbedrag soos deur die hof bepaal, aan die benadeelde of hul naasbestaandes moet betaal.

Verder is vergoedingsboetes ook deel van ’n herstellendegeregtigheidsvonnis en word beskou as ’n deel van die hervormingsteorie. McCold en Wachtel4 definieer herstellende geregtigheid as ’n “process involving the direct stakeholders in determining how best to repair the harm done by offending behaviour”.

Herstellende geregtigheid as ’n regskonsep in Suid-Afrika het veral na die totstandkoming van die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) meer prominent geword.5 As gevolg van die sensitiewe aard van die oorgang van apartheid na demokrasie het die WVK, wat wêreldwyd geloof is, bewys dat herstellende geregtigheid wel sy plek in die Suid-Afrikaanse regstelsel verdien. Daar is egter diegene wat die beginsel van herstellende geregtigheid kritiseer, veral die interaksie tussen herstellendegeregtigheids- en die vergeldingsteorie.6 Die wanbalans kom veral na vore in ernstiger sake waar howe versigtig is om ’n vonnis soos ’n vergoedingsboete op te lê.7

Hierdie bydrae bespreek eerstens wat vergoedingsboetes behels en fokus derhalwe ook op die wetgewing wat voorsiening maak vir die uitreiking van sodanige bevele. Dit word gevolg deur ’n bespreking van hoe sulke boetes binne die konteks van herstellende geregtigheid aangewend kan word. Daarna verskuif die fokus na verskeie hofbeslissings waar die probleme en uitdagings rakende vergoedingsboetes uitgelig is. Die gevalle waar vergoedingsboetes deur ons howe opgelê is, word ontleed om te bepaal of dit problematies is al dan nie. Ten slotte word voorstelle ten opsigte van vergoedingsboetes en die pad vorentoe vir Suid-Afrika gemaak.

 

2. Vergoedingsboetes

In ’n strafsaak moet die howe verskeie faktore by vonnisoplegging oorweeg, en die howe het verskeie vonnisopsies tot hul beskikking.8 Die algemeenste vonnis is ’n boetestraf of direkte gevangenisstraf. Boetestrawwe kom in die algemeen in Suid-Afrikaanse howe voor. Gevangenisstraf mag natuurlik ook met ’n boete gepaard gaan, of ’n boete kan as ’n opskortende voorwaarde opgelê word.9

’n Boetestraf behels dat die oortreder ’n geldbedrag aan die staat as ’n boete moet betaal as straf vir sy misdaad of misdade.10 In so ’n geval het die benadeelde uiteraard gewoonlik geen aanspraak op sulke betalings nie. Alhoewel howe in die algemeen ’n wye diskresie het om ’n boetestraf op te lê, is daar verskeie riglyne wat gevolg moet word.11 Eerstens moet die misdade nie so ernstig wees dat gevangenisstraf opgelê moet word nie.12 Die oortreder moet ook oor die finansiële vermoë beskik of toegang tot finansies hê waarmee die boete betaal kan word.13 Gewoonlik word boetes, vir misdade wat gepleeg is vir finansiële gewin, deur die hof opgelê indien die hof wel sou besluit om ’n boete op te lê. Dit is nie raadsaam om ’n beskuldigde ’n boetestraf op te lê indien die boete buite die vermoë van so ’n persoon is nie.14 Boetes moet egter ook nie so klein wees dat dit nie die erns van die misdaad weerspieël nie.15

In die geval van ’n vergoedingsboete, daarenteen, gaan ’n bedrag geld wat deur die oortreder betaal word, na die benadeelde en nie na die staat nie. Die oortreder betaal dan die bedrag óf direk aan die benadeelde óf by die klerk van die hof in, vir die skade wat vanweë die optrede van die beskuldigde gely is.

Die hof sal in onder andere die volgende omstandighede die oplegging van vergoedingsboetes oorweeg: waar fisieke skade toegedien is aan die persoon of aan die eiendom van die benadeelde, asook vir emosionele skade en pyn en lyding.16

2.1 Vergoedingsboetes in die Strafproseswet

2.1.1 Artikel 300

Vergoedingsboetes vir skade aan die eiendom van ’n persoon word deur artikel 300 van die Strafproseswet gereguleer. Volgens hierdie artikel kan ’n vergoedingsbevel gemaak word waar daar skade aan of verlies van enige eiendom van die slagoffer was. Dit bepaal dat enige veroordeelde persoon wat deur sy misdaad skade en verlies aan die eiendom van ’n ander veroorsaak het, in sekere omstandighede beveel kan word om die benadeelde te vergoed. Dit het die effek van ’n siviele vonnis. Die hooggeregshowe het ’n onbeperkte jurisdiksie om sulke bevele te maak, maar die streeks- en landdroshowe se jurisdiksie is onderskeidelik tot R600 000 en R120 000 beperk.17

Daar is egter sekere ander vereistes waaraan voldoen moet word voordat ’n artikel 300- vergoedingsboete uitgereik mag word. Die hof mag so ’n bevel oplê slegs as die benadeelde party daarvoor aansoek gedoen het,18 of waar die aanklaer die aansoek op die instruksie van die benadeelde persoon gebring het.19 Dié soort bevele is beperk tot skadevergoeding vir direkte verlies of skade.20 Artikel 300-skadevergoedingsbevele word nie aanbeveel vir skade wat spruit uit motorongelukke nie, omdat die vasstelling van sulke skade ’n langdurige proses is.21 Dit is ook ’n kwessie wat gewoonlik tydens siviele verrigtinge in dispuut geplaas word.

Omdat artikel 300-bevele die effek van ’n siviele vonnis het, kan alternatiewe gevangenisstraf vir die wanbetaling ingevolge so ’n bevel nie gemaak word om afbetaling af te dwing nie.22 Daar word aanbeveel dat wanbetaling deur middel van eksekusieverrigtinge in die siviele howe deur benadeelde partye as ’n moontlike oplossing gebruik word.

Hierdie soort boete kan gevolglik nie opgelê word as daar nie skade of verlies aan die eiendom veroorsaak was nie. Verskeie gerapporteerde beslissings dui egter daarop dat sommige howe foute begaan het deur bevele uit te reik wat geensins volgens die tersaaklike wetgewing gemagtig word nie.23 Dit kan ook wees dat die howe ’n soort vergoedingsbevel in gedagte gehad het, maar foutiewelik die bevel onder artikel 300 gemagtig het.24

2.1.2 Artikel 297

Volgens artikel 297 van die Strafproseswet mag ’n hof ’n vonnis uitstel vir ’n periode van minstens vyf jaar, waartydens ’n opskortende voorwaarde deur die hof opgelê kan word wat die betaling van ’n bedrag geld aan die benadeelde of sy familie insluit.25

Die artikel bepaal soos volg:

(1) Waar ’n hof ’n persoon aan ’n misdryf skuldig bevind, behalwe in die geval waar ’n minimum straf deur ’n wet vir daardie misdryf voorgeskryf word, kan die hof na goeddunke –
(A) die oplegging van die vonnis uitstel vir ’n tydperk van hoogstens vyf jaar (en) die persoon vrylaat (I) op een of meer voorwaardes, hetsy met betrekking tot –
(Aa) die vergoeding.

Ingevolge hierdie artikel mag die vonnishof die vonnisoplegging uitstel vir hoogstens vyf jaar en die oortreder óf onvoorwaardelik vrylaat óf vrylaat op een of meer voorwaardes, insluitend die betaling van ’n bedrag geld aan die benadeelde.26 Artikel 291(1) sluit misdrywe uit waar ’n minimum straf deur ’n wet voorgeskryf word, maar artikel 297(4) sluit nie misdade waarvoor minimum vonnisse voorgeskryf word, uit nie.

Die spesifieke voorwaarde verskil van die gewone negatiewe opskortende voorwaardes wat gewoonlik met opgeskorte vonnisse gepaard gaan. Die voorwaarde is gewoonlik negatief van aard, naamlik dat ’n persoon nie soortgelyke misdade pleeg gedurende die opskortingstydperk nie.27

Skadevergoedingsbevele kan as ’n positiewe voorwaarde beskryf word. Ander positiewe voorwaardes sluit in gemeenskapsdiens, korrektiewe toesig, die onderwerping aan behandeling of die bywoning van lesings of kursusse. Hierdie tipe voorwaardes het ten doel om die beskuldigde te rehabiliteer en hom terselfdertyd in staat te stel om ’n positiewe bydrae tot die samelewing te lewer.

Die beskuldigde kan ook gevra word om in die toekoms weer voor die hof te verskyn indien hy voor die verstryking van die tydperk daartoe opgeroep word. Indien die persoon nie opgeroep word om voor die hof te verskyn nie, of indien die hof bevind dat die voorwaardes nagekom is, word geen verdere vonnis opgelê nie en die vonnis kom dan neer op ’n waarskuwing van die hof.28

 

3. ’n Herstellendegeregtigheidsopsie

Vergoedingsboetes is ’n vorm van herstellende geregtigheid wat ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse regstelsel uitmaak. Tronke wat oorvol is, gepaardgaande met verskeie ander faktore, het die regering destyds genoop om oorweging te skenk aan ’n alternatiewe vonnisbevel: herstellende geregtigheid.29 Herstellende geregtigheid is ’n betreklik nuwe konsep in Suid-Afrika wat nog nie behoorlik vlam gevat het nie – dit is slegs in sy derde dekade.30 Dit stamp op ’n gereelde basis kop met die beginsels van algemene strafreg wat op vergelding gebaseer is.

Uiteraard is daar in Suid-Afrika, waar die misdaadsyfers hoog is, ’n verwagting van die howe om oortreders te straf en uit die samelewing te verwyder.31 Herstellende geregtigheid druis in ’n sekere mate teen hierdie ortodokse strafregtelike beginsel van vergelding in. Waar ’n dief byvoorbeeld normaalweg deur die lens van vergelding gesien word, beskou herstellende geregtigheid die persoon as iemand wat rehabiliteerbaar is. Dit is nie die doel van herstellende geregtigheid om die strafregtelike beginsels te vervang nie.32

Boutellier33 stel dit so: “Restorative justice is not so much an alternative as another strategy in security politics. It is not a substitution for criminal justice, but a contribution to the ongoing reshaping of social order.”

Dit kan ’n wesenlike rol vervul in die balansering van die verskeie vonnisopsies, terwyl dit ook ’n uitweg bied vir sommige oortreders wat alle hoop verloor het. Dienooreenkomstig word die gemeenskap ook in sekere gevalle by die proses betrek om sodoende ’n inklusiewe geregtigheidsmodel te verseker.

Die unieke verwesenliking van herstellende geregtigheid lê daarin dat die beskuldigde verantwoordelikheid vir sy optrede moet aanvaar.34 Dit is ook belangrik dat die beskuldigde die benadeelde as ’n individu aanvaar en respekteer.35 Bykomend hiertoe bied herstellende geregtigheid verskeie voordele vir benadeelde persone.36 Die benadeelde is ’n sentrale figuur in die proses van herstellende geregtigheid.

Koen37 voer aan: “In the restorative paradigm, victim empowerment is more than just giving the crime victim a role in the criminal justice system. It is really about reconstructing that system in such a way that it cannot function without the co-operation of the crime victim.”

Weens die verdoemenswaardige effekte van misdaad bevind benadeeldes hul gewoonlik in ’n slegter posisie as voorheen. Ten spyte hiervan reken sommige misdadigers dat hul misdrywe geen persone affekteer nie, soos ’n persoon wat belasting ontduik.38 Dit is natuurlik nie waar nie, want daar is altyd ’n slagoffer wat op een of ander manier deur misdaad geaffekteer word. Anders as die ortodokse strafreg, is herstellende geregtigheid daarop gefokus om die benadeelde ’n stem van sy eie te gee. Deesdae is dit byna onmoontlik om te dink aan ’n regstelsel sonder die invloed van herstellende geregtigheid. Frehsee39 voer aan dat “[c]riminal procedure ... is ill-equipped to deal with the emotional trauma the victim suffers as a result of the crime.”

Herstellende geregtigheid vul dus hierdie leemte.40 Die betaling van reparations, soos dit in Engels bekendstaan, oftewel “reparasies” in Afrikaans, is ’n gewilde vorm van herstellende geregtigheid. Dit het veral plaasgevind nadat Oos-Duitsland en Wes-Duitsland na die Tweede Wêreldoorlog gevonnis was om geldelike reparasies aan die Geallieerdes te betaal.41 Die woord reparations vind sy oorsprong in die woord repair.42 Die “herstel” wat plaasvind met die betaling van ’n geldelike bedrag aan ’n slagoffer, vervul ’n belangrike rol in die herstel van die slagoffer se pyn. Ofskoon die pyn gedeeltelik verlig word, is dit nog steeds ’n belangrike stap in die versoening tussen die slagoffer en die beskuldigde.43

Sodanige vergoeding vervul ’n belangrike rol in die effektiewe hervorming van die misdadiger. Herstellende geregtigheid word onder die verskillende strafteorieë juis as ’n hervormingsteorie geklassifiseer.44 Die basis van die teorie is dat die betrokke vonnis ten doel het om die oortreder te hervorm en te rehabiliteer.45 Hierdie teorie staan lynreg in stryd met verskeie ander strafteorieë, soos die vergeldingsteorie of die voorkomingsteorie, wat meer daarop gefokus is om die oortreder te straf vir sy wandade. Terwyl die hervormingsteorie ook ’n strafelement bevat, is die rehabilitasie van die oortreder die beslissende aspek.46 Dit het ook die gevolg dat die pyn en lyding van slagoffers ook in ag geneem word.

Desnieteenstaande is die hervormingsteorie beslis vatbaar vir kritiek. Die volgende gronde is noemenswaardig: Eerstens is die beginsels van die teorie nie altyd in verhouding met die graad en erns van die misdryf nie.47 Die oplegging van ’n vergoedingsboete in plaas van tronkstraf in die konteks van ’n ernstige misdaad sal altyd bevraagteken word. Miskien moet ’n mens nie net die hervormingsaspek met die tipe misdryf vergelyk nie, maar ook in ag neem dat die slagoffer van die misdaad ’n belangrike rol kan speel in hierdie balanseringsproses. Hierbenewens word daar minder gewig geplaas op die erns van die misdaad en meer aandag aan hervorming geskenk.

Tweedens is dit moeilik om presies te bepaal wanneer ’n oortreder finaal hervorm is.48 Dit kan ’n paar maande tot jare duur. Hoe ook al, dit is belangrik dat die oortreder ’n kans gegun moet word om te rehabiliteer.

Derdens is die teorie nie altyd oortuigend in die geval van ouer oortreders nie.49 Anders as met jonger oortreders, is dit moeilik om gevestigde gewoontes in ouer oortreders te verander.50

Vierdens bewys statistiek dat die hervorming van ’n misdadiger nie altyd wesenlik is nie.51 Die werklikheid is dat sekere misdadigers wel onrehabiliteerbaar is.52

Benewens die feit dat die hervormingsteorie onder gereelde kritiek deurloop, is dit van kardinale belang vir die effektiewe funksionering van die regstelsel. Soos alreeds genoem, het uiters hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika veroorsaak dat die gevangenisdiens eenvoudig net nie meer die hoë volume gevangenes kan hanteer nie. Herstellende geregtigheid bied in hierdie uitdagende omstandighede ’n ideale oplossing. Dit is inderdaad nodig om meer gebruik te maak van die hervormingsteorie om te voorkom dat die teorie sy glans verloor. Terselfdertyd is dit belangrik om meer klem te plaas op die slagoffer se bydrae tot die proses indien ’n mens ernstig is oor die implementering van herstellende geregtigheid as ’n primêre vonnisopsie.

Dit is juis hier waar herstellende geregtigheid in al sy glans en glorie die meeste van sy glans verloor. ’n Primêre vonnisopsie soos vergoedingsboetes word selde deur howe oorweeg in ernstiger sake. Dit plaas ’n groot vraagteken by die vraag of herstellendegeregtigheidsbevele soos vergoedingsboetes wel toegepas kan word in ernstiger sake en of dit meer gepas in minder ernstige sake is.

’n Bespreking van onlangse regspraak plaas hierdie probleem onder die vergrootglas.

 

4. Die howe se benadering

In S v Huhu53 het die Bloemfonteinse landdroshof ’n vergoedingsboete ingevolge artikel 300 opgelê. Die hof het die beskuldigde skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging. Die beskuldigde is gevonnis tot twee jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is. Een van die voorwaardes was dat die beskuldigde ’n vergoedingsboete van R1 300 ingevolge artikel 300 aan die klaer moet betaal.54 Die boete was in maandelikse paaiemente betaalbaar en moes op die sewende dag van elke maand geskied.55

Die saak is op hersiening geplaas waartydens die hooggeregshof beslis het dat die verhoorhof verkeerdelik artikel 300 in plaas van artikel 297 van die Strafproseswet toegepas het. Die hof a quo het dus gefouteer met sy interpretasie van artikel 300. Die hersieningshof het verklaar dat ’n vergoedingsboete ingevolge artikel 300 van toepassing is slegs waar ’n beskuldigde voldoende eiendom of uitvoerbare bates het om die klaer ten volle of in ’n groot mate te kan vergoed. Dit het die posisie bevestig wat geformuleer is in S v Khoza.56 Soos alreeds genoem, maak artikel 297 voorsiening daarvoor dat ’n beskuldigde, indien hy of sy werksaam is, die vergoedingsboete in maandelikse paaiemente kan betaal en as ’n voorwaarde vir ’n opgeskorte vonnis.57 Die hof beslis vervolgens dat Huhu nooit die klaer ten volle kon vergoed nie, omdat hy nie voldoende of uitvoerbare bates besit het nie.58 Daarbenewens het die hof die vonnis aangepas en verklaar dat die beskuldigde die klaer ingevolge artikel 297(1)(a)(i)(aa) van die Strafproseswet met die bedrag van R1 300 moet vergoed.59

In S v Khoza60 het die beskuldigde tereggestaan in die Johannesburgse landdroshof op ’n aanklag van diefstal. Die beskuldigde is skuldig bevind op die aanklag dat sy R35 000 in kontant van haar werkgewer gesteel het en is gevonnis tot ’n boete van R10 000 of 36 maande gevangenisstraf. Die vonnis is opgeskort vir ’n tydperk van vyf jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan diefstal of poging tot diefstal gedurende die tydperk van opskorting nie. Die hof beslis verder dat sy ’n vergoedingsboete ingevolge artikel 300 moet betaal. Sy is beveel om die bedrag van R20 000 soos volg te betaal: R2 000 op die dag van vonnis, en die balans in paaiemente van R500 aan die einde van elke maand totdat die balans ten volle betaal is.61

Die ooreenkoms tussen die staatsaanklaer en die verdediging was dat die beskuldigde R20 000 aan die klaer moet betaal nieteenstaande die feit dat dit R15 000 minder was as wat die beskuldigde oorspronklik by die klaagster gesteel het.62 Die saak is daarna op spesiale hersiening na die Suid-Gautengse hooggeregshof verwys. Die hersieningshof het bevestig dat daar twee maniere is waarop ’n hof ’n vergoedingsbevel kan maak waar ’n klaer as gevolg van die optrede van ’n beskuldigde skade gely het. Die een is ’n bevel wat deel uitmaak van die opskortende voorwaardes in ’n vonnis ingevolge artikel 297. Die ander is ’n vergoedingsbevel ingevolge artikel 300 wat die uitwerking van ’n siviele vonnis het. Die hof bevestig dat beide metodes diskresionêr is en afhanklik is van die skuldigbevinding van ’n beskuldigde vir ’n oortreding wat skade veroorsaak het.63

Die hof beslis verder dat ’n bevel ingevolge artikel 300 net gepas sal wees waar die beskuldigde oor voldoende bates of geld beskik.64 Indien ’n beskuldigde nie in staat is om die klaer ten volle te vergoed nie, moet ’n bevel ingevolge hierdie artikel nie gemaak word nie. Indien ’n beskuldigde werksaam is en in staat is om ’n bedrag geld in paaiemente te betaal, sou dit meer gepas en prakties wees om ’n opgeskorte vonnis op te lê op voorwaarde dat die bedrag in periodieke paaiemente betaal moet word.

Die saak is terugverwys na die landdros wat die skuldigbevinding uitgebring het, om ’n behoorlike ondersoek te doen om te bepaal of artikel 297 of artikel 300 die mees geskikte vonnis vir doeleindes van ’n vergoedingsbevel is.65

In S v Thabethe66 het die klaagster (die dogter), haar moeder en die beskuldigde, wat ook die moeder se minnaar was, in een huis gewoon.67 Die beskuldigde was die broodwinner in die huis asook ’n vaderfiguur vir die dogter.68 Die dogter was ten tye van die voorval 15 jaar en 10 maande oud.69 Op die dag van die voorval het die dogter sonder haar moeder en die beskuldigde se toestemming die huis verlaat en nie teruggekeer nie, waarna hulle onraad vermoed het.70 Die beskuldigde het ’n soektog na die klaagster geloods en haar by die huis van een van haar seunsvriende opgespoor.71 Die klaagster het vermoedelik seksuele omgang met haar vriend gehad.72 Om die ware verloop van gebeure van haar moeder te weerhou, het die klaagster by die beskuldigde gepleit om ’n ander weergawe van die gebeurtenis aan die moeder te vertel.73 Die beskuldigde het toegestem op die radikale voorwaarde dat die 15-jarige klaagster seksueel met hom moet verkeer.74 Die beskuldigde en die klaagster het toe seksuele omgang gehad. Die volgende dag het die beskuldigde homself aan die polisie oorhandig en erken dat hy die klaagster verkrag het. Die hooggeregshof75 het die beskuldigde skuldig bevind aan verkragting. Die hof het egter ’n baie ligte vonnis opgelê wat die betaling van ’n vergoedingsboete ingesluit het, naamlik dat hy 80 persent van sy inkomste aan die klaagster en haar familie moet bestee.76

Een van die belangrikste versagtende omstandighede tydens vonnisoplegging was dat die klaagster en die moeder erken het dat hulle nie sonder die beskuldigde kon oorleef nie, en verklaar het dat dit nie hul wens is dat hy tronk toe moet gaan nie.77 Buitendien het die klaagster verder gesê dat sy die beskuldigde vergewe het en dat hulle die strydbyl begrawe het.78 Dienooreenkomstig het die hof ’n herstellendegeregtigheidsvonnis opgelê, in plaas van die minimum vonnis van 10 jaar tronkstraf wat voorgeskryf word vir die misdaad van verkragting van kinders onder die ouderdom van 16 jaar.79

Die hoogste hof van appèl het egter die vonnis tersyde gestel en die beskuldigde tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die hof verklaar dat die oorspronklike vonnis nie toepaslik was nie, op grond van die erns van die misdaad.80 Die hof verklaar verder dat howe daarteen moet waak om herstellendegeregtigheidsvonnisse op te lê waar ’n beskuldigde aan ’n ernstige misdaad skuldig bevind word.81 Die hof beslis soos volg:

I have no doubt about the advantages of restorative justice as a viable alternative sentencing option provided it is applied in appropriate cases. Without attempting to lay down a general rule I feel obliged to caution seriously against the use of restorative justice as a sentence for serious offences which evoke profound feelings of outrage and revulsion amongst law-abiding and right-thinking members of society. An ill-considered application of restorative justice to an inappropriate case is likely to debase it and make it lose its credibility as a viable sentencing option. Sentencing officers should be careful not to allow some overzealousness to lead them to impose restorative justice even in cases where it is patently unsuitable. It is trite that one of the essential ingredients of a balanced sentence is that it must reflect the seriousness of the offence and the natural indignation and outrage of the public.82

In Seedat v S83 het die kwessie weer eens voor die hoogste hof van appèl gedien. In hierdie saak was die 63-jarige appellant in die streekshof skuldig bevind aan verkragting en tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis. Tydens appèl na die hooggeregshof teen sy vonnis het die appellant aangevoer dat die verhoorhof gefouteer het deur nie ’n alternatiewe vonnis van herstellende geregtigheid te oorweeg nie. Die appèl is gehandhaaf en die vonnis van sewe jaar gevangenisstraf is tersyde gestel en vervang met ’n bevel wat gelas het dat die appellant die bedrag van R100 000 aan die klaagster moet betaal.84 Die direkteur van openbare vervolging was egter nie tevrede met die vergoedingsboete as ’n vonnis nie en het verder na die hoogste hof van appèl geappelleer om die vonnis tersyde te stel. Hy het aangevoer dat die vonnis van die hooggeregshof onvanpas en ongeldig was.85

Die appellant, ’n sakeman wat twee winkels besit het, het op die betrokke dag die klaagster se woning besoek om ’n bedlamp af te lewer.86 Hy het aangebied om aan haar te toon dat die lamp in ’n werkende toestand is. Die klaagster het ingestem dat hy dit doen en het hom ingenooi na die slaapkamer, waar hy die lamp getoets het. Volgens die klaagster het die appellant daar in die kamer seksuele omgang met haar gehad.

Die klaagster wou hê dat die hof ’n gemeenskapsgebaseerde vonnis moet oplê en ’n bevel vir finansiële vergoeding aan haar moet uitbring vir die verkragting en trauma wat sy gely het. Sy het verder versoek dat die appellant R500 000 aan haar betaal en ’n Toyota-motorvoertuig koop, maar was selfs bereid om ’n bedrag van R100 000 te aanvaar.87

Die hoogste hof van appèl beslis dat ingevolge artikel 297(1)(a)(i)(aa) ’n hof nie die bevoegdheid het om ’n vonnis vir hoogstens vyf jaar uit te stel wanneer die wet ’n minimum straf voorskryf nie.88 Nietemin bevind die hoogste hof van appèl dat artikel 297(4) wel ’n hof magtig om die werking van ’n gedeelte daarvan op te skort onderhewig aan sekere voorwaardes, waar ’n persoon skuldig bevind is aan ’n misdryf waarvan ’n wet ’n minimum straf voorskryf. Die hof aanvaar dat die hooggeregshof korrek was om te bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede was wat ’n wesenlike afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig het.89 Die hoogste hof van appèl bevind dat die feit dat die appellant ’n bejaarde man, ’n eerste oortreder en nie in goeie gesondheid was nie, wel so ’n afwyking regverdig het.

Die hof stem egter nie met die sentimente van die hooggeregshof saam dat die opsie van ’n herstellendegeregtigheidsvonnis in die saak korrek is nie.90 Volgens die hof is die klaagster se vermeende oortuiging dat dit gepas sou wees dat die appellant aan haar eerder ’n geldelike vergoeding moet betaal, nie die enigste faktor wat in ag geneem moet word nie.91 Die hof het beklemtoon dat verkragting ’n plaag in ons samelewing is en dat die howe ’n verpligting het om ’n duidelike boodskap uit te stuur, nie net aan die beskuldigde nie, maar ook aan ander potensiële verkragters, en om aan te toon dat die gemeenskap dit nie sal duld nie. Daar word verder beslis dat strafregtelike verrigtinge veronderstel is om by die publiek vertroue in die kriminele regstelsel in te boesem, en dat die publiek inderdaad met reg bekommerd kan wees as howe bereid is om ’n opgeskorte vonnis tesame met ’n geldelike vergoeding in verkragtingsake op te lê.92

Ten spyte van die gevorderde ouderdom van die appellant, asook sy gesondheid, bepaal die hof dat die oplegging van ’n vergoedingsboete alleen onvanpas is.93 Die hof verwys na Hewitt v S94, ’n vorige saak wat in dieselfde hof beslis is. In Hewitt was die appellant, ’n bejaarde man van 75 jaar, direkte gevangenisstraf opgelê ten spyte van die feit dat sy gesondheid ernstig verswak het. Dit is van kardinale belang om ’n sekere punt in die Hewitt-saak met betrekking tot ouderdom uit te lig. Hoewel Hewitt ’n sieklike man van 75 jaar oud was en Seedat ’n 63-jarige relatief jonger en gesonder man, is Hewitt ’n swaarder vonnis opgelê as Seedat. Die hoogste hof van appèl vervang gevolglik die vonnis wat die hooggeregshof in Seedat opgelê het deur ’n vonnis van vier jaar direkte tronkstraf.

Vergoedingsboetes word nie gereeld in ons howe opgelê nie.95 Die sake waarna hierdie bydrae verwys, het verskeie probleme en tekortkominge ten opsigte van vergoedingsboetes belig. Dit wil voorkom asof, net soos herstellende geregtigheid, die toepassing van vergoedingsboetes in strafsake meestal onderbenut word weens die groot steun wat die strafregbeginsels plaas op die vergeldingselement, die fokus op die beskuldigde en die belange van die gemeenskap.96

Sommige howe lê wel vergoedingsboetes op, maar fouteer deurdat die verkeerde artikels van die Strafproseswet gebruik word.97 Dit kan ook ’n weerspieëling daarvan wees dat die howe nie baie met hierdie tipe vonnisse gekonfronteer word nie.

In sowel Thabethe as Seedat is dit duidelik dat die hoogste hof van appèl sterk gekant is teen slegs vergoedingboetes in ernstige sake soos verkragting en dus nie ten gunste van die herstellendegeregtigheidsvonnis is nie. Tog blyk dit dat die hooggeregshowe meer geneë is om sulke bevele op te lê. Dit is ’n aanduiding dat die strafregstelsel wel kan afwyk van die vergeldingsteorie in ernstiger sake. Maar meer nog, dit is bewys daarvan dat howe ’n wye verskeidenheid vonnisopsies tot hul beskikking het. Die strafregstelsel kan nie stagneer nie en moet aanpasbaar wees en ontwikkel in ooreenstemming met die veranderings in die gemenereg en die handves van regte.98

Fattah99 maak die volgende kritiese opmerking:

I find it rather puzzling that despite enormous social evolution and vast intellectual progress in the last two centuries, our criminal justice system remains frozen in the era of retaliation. It continues to be fixated on the notion of retribution and the need to inflict pain and suffering on the offender by way of making him pay for the injury and harm that he has done.

 

5. ’n Nuwe perspektief

Dit is geykte reg dat by die oplegging van vonnis, howe ’n aantal faktore moet oorweeg.100 Dit is die aard en erns van die misdryf, die persoonlike omstandighede van die oortreder en die belange van die gemeenskap.101 Daar moet altyd gepoog word om ’n gebalanseerde vonnis op te lê, wat glad nie die effek behoort te hê dat een of meer van die faktore onderbeklemtoon of oorbeklemtoon word nie.102 Uiteraard moet daar na die oortreder as ’n individu gekyk word. Daar moet ook genade betoon word aan die oortreder. Dit is so dat daar nie vonnisse is wat outomaties beskikbaar is en wat met gereelde toonmaat soos items in ’n winkel deur ’n voorsittende beampte van ’n rak afgehaal kan word en net uitgedeel word nie. Dit verg deurdagte oorweging, bepeinsing en behoort nie lukraak gedoen te word nie. Daarteenoor moet beamptes ook verseker dat die vonnis gepas is en in pas met die verskeie teorieë van straftoemeting, naamlik afskrikking, rehabilitasie, vergelding en voorkoming.103 Daarom moet ’n vergoedingsboete nie ligtelik as ’n strafmiddel opgelê word nie. As dit egter na oorweging van al die bogenoemde faktore gepas is, behoort howe nie te skroom om dit wel te doen nie.

5.1 Hervorming of vergelding?

In die Thabethe-saak was die beginsels van die hervormingsteorie en die vergeldingsteorie telkemale teen mekaar opgeweeg.104 Ofskoon die klaagster en haar moeder ten gunste was van die hervormingsteorie, het die hof nietemin beslis dat die oortreder nie hervorm kon word nie. Dit blyk dat die hof hom blind gestaar het teen die wet wat uitsluitlik voorsiening maak vir die minimum vonnis van gevangenisstraf vir die spesifieke misdaad.105 Songca en Karels106 ondersteun die hof se standpunt, maar voer aan dat daar gekyk moet word na herstellende geregtigheid as ’n “parallelle meganisme” wat die vergeldingsbenadering kan aanvul. Dit is daarom van groot betekenis dat die teorieë in samesyn funksioneer en mekaar komplementeer.

Die beskuldigde is direkte gevangenisstraf opgelê ten spyte van die feit dat hy blykbaar nie ’n toekomstige gevaar vir die klaagster, haar familie of die samelewing sou wees nie.107 Hy was verder ook ingeskryf vir ’n seksuele-oortreding-voorkomingsprogram en was die broodwinner van sy familie.108

Dit blyk dat die hoogste hof van appèl in Seedat109 wil sê dat in alle ernstige tipes sake soos verkragting en moord daar altyd direkte gevangenisstraf moet wees. Tog het die hooggeregshowe in sowel Seedat110 as Thabete111 beslis dat die beskuldigdes nie ’n gevangenisstraf moet kry nie en dat ’n vonnis van herstellende geregtigheid wel in die unieke omstandighede en feite van pas is. In albei gevalle is die klaers verontrief en in albei gevalle was die appellante se grootste ontevredenheid met die opgelegde vonnis die feit dat die howe nie die herstellendegeregtigheidsopsie as ’n alternatiewe meganisme in ag geneem het nie. Die versoeke van beide klaagsters is ook van die hand gewys.

Daar word aan die hand gedoen dat vergoedingsboetes tesame met die ander herstellendegeregtigheidsvoorwaardes wat die verhoorhowe opgelê het, voldoende vonnisse in sekere omstandighede sou wees. Net omdat ’n oortreder aan verkragting skuldig bevind is, beteken dit nie dat hy altyd ’n hewige gevangenisstraf verdien nie.112 Dit behoort veral die geval te wees waar die slagoffers beklemtoon het dat hulle nie sonder die beskuldigde ’n finansiële voortbestaan kan voer nie.113

Vergoedingsboetes word in die algemeen nie in ons howe opgelê nie want die howe is meer gefokus op vergelding en op die regte van die beskuldigde. In hierdie verband word geargumenteer dat die Grondwet meer ten gunste van beskuldigdes as slagoffers is. Artikel 35 van die Grondwet bevat ’n aantal gestipuleerde regte waar die beskuldigde se reg op ’n billike verhoor bevestig en verskans is.114 Daar is egter geen aparte klousules wat oor slagofferregte handel nie. Nietemin word toegegee dat die konstitusionele hof wel in Carmichele v Minister of Safety and Security met verwysing na die handves van regte in die Grondwet die regte van slagoffers verwoord en beskerm het.115 Carmichele was egter die uitsondering op die reёl. Die slagoffer moes ’n siviele aksie instel en het as klaagster geen hulp van die strafhof ontvang nie. Miskien is dit tyd vir ’n paradigmaskuif in ons howe om nie net die beskuldigde se posisie in aanmerking te neem nie, maar ook die posisie van slagoffers. Slagoffers behoort in die strafhowe beskerming te kry en behoort nie soos in die Carmichele saak op eie koste siviele eise hoef in te stel nie.

5.2 Belange van die gemeenskap teenoor die belange van die slagoffer

Een van die faktore wat in ag geneem word tydens strafoplegging, is die belange van die gemeenskap. Dit is egter merendeels so dat die belange van die breë gemeenskap voorrang geniet bo dié van die individuele slagoffer. Indien vergoedingsboetes meer gereeld opgelê word, kan dit onwillige getuies aanspoor om na vore te kom en in howe te getuig sodat misdadigers aan die pen kan ry. Sodanige boetes sal ook die effek hê dat meer tevrede slagoffers uit die howe sal stap, omdat ’n blote tydperk van gevangenisstraf nie brood op die tafel van die slagoffers plaas nie, maar ’n vergoedingsboete wel. Die geld gaan aan die slagoffers of hul familie, en nie na die staatskas toe nie.

In sowel Thabethe116 as Seedat117 het die hoogste hof van appèl beklemtoon dat die breë gemeenskap glad nie tevrede sal wees indien in verkragtingsake ’n beskuldigde slegs ’n boete opgelê word nie. Dit blyk uit hierdie uitsprake dat die mening van die wye publiek, asook die absolute afstootlikheid van die misdade, altyd voorrang behoort te geniet bo dié van die klaagsters. Daar sal natuurlik diegene wees wat sal redeneer dat jy nie ’n persoon wat aan verkragting skuldig bevind is, ’n boete kan oplê nie. Die vraag sal wees: Watter boodskap dra dit uit na die breë gemeenskap?

Indien daar na Seedat118 gekyk word, het die slagoffer ’n kontantbedrag en ’n motorvoertuig versoek; in Thabete119 het die klaagster en haar moeder versoek dat die beskuldigde hul moet onderhou. Wat die howe in effek dus gedoen het, was om ’n situasie te skep waarin die klaagsters weer ’n keer die onderspit moes delf. Die eerste keer is hulle verontrief deur die optrede van die beskuldigde en tweedens as gevolg van die uitspraak van die hof. Die howe het die beskuldigdes gevonnis soos wat die gemeenskap wou hê, terwyl die hof ook ’n boodskap wou uitstuur aan toekomstige oortreders om hulle af te skrik.

Die tyd het dalk aangebreek om meer klaagster/slagoffer-bewus in ons howe te raak in plaas van slegs beskuldigde-bewus te wees. Die fokus moet verskuif om te bepaal wat ook in die beste belang van die klaagsters/slagoffers is. Sodoende kan meer tevrede klaagsters/slagoffers uit ons howe stap as om die persepsie te laat toeneem dat die strafregspleging slegs tot voordeel van beskuldigdes is. Ons propageer geensins dat die gevestigde regte van beskuldigdes afgewater moet word nie, maar eerder dat die regte van die klaagsters/slagoffers meer prominensie in strafregspleging en vonnisoplegging moet geniet. Daar word alreeds van klaagsters/slagoffers gebruik gemaak om te bepaal wanneer persone uit die tronke kan kom en op parool vrygelaat moet word.120 Dit is ’n gulde geleentheid om tydens vonnisopleggings meer van hulle gebruik te maak. Daar is geen rede hoekom ’n vergoedingsboete tesame met direkte gevangenisstraf nie ’n paslike vonnis in sekere gevalle kan wees nie.

Alhoewel die hoogste hof van appèl in Seedat beslis het dat ’n vergoedingsboete nie gepas is nie, maar dat direkte gevangenisstraf opgelê moet word, is die effek juis dat die vonnis van die hof ’n kombinasie van ’n vergoedingsbevel en direkte gevangenisstraf is. Die beskuldigde het alreeds R15 000 aan die klaagster oorbetaal.121 Daar is aangedui dat sy dit nie kan terugbetaal nie. ’n Mens sou kon redeneer dat Seedat nie die bedrag sal terugeis nie, want dit is in ag geneem by die oplegging van sy vier jaar gevangenisstraf deur die hof. Seedat se vonnis in ’n neutedop is dus: ’n tydperk van vier jaar direkte gevangenisstraf plus ’n vergoedingsboete van R15 000.122

Nietemin is daar nie ag geslaan op die versoeke van die persone wat die meeste verontrief was, wat die vernedering letterlik aan hul liggame ervaar het en van hul menswaardigheid ontneem was nie. ’n Middeweg soos om vir hulle vergoeding te gee en ook die oortreder te straf sou meer aanvaarbaar gewees het. ’n Hof moet immers ’n gebalanseerde vonnis uitbring en al die faktore in ag neem.123 Slegs direkte gevangenisstraf in hierdie tipe gevalle is juis ’n oorbeklemtoning van die aard en erns van die misdryf en negeer die belange van die slagoffer. Die fokus is te sterk op wat ’n gepaste vonnis vir die oortreder is. Die Seedat-geval is onderskeibaar van die Hewitt-saak.124 Die media en die druk van die publiek het ’n groter rol gespeel in die vonnisoplegging van Hewitt as van Seedat. Hewitt was ook aangekla van meer as een misdryf, terwyl Seedat net aangekla was vir die een klag van verkragting. In Seedat het die slagoffer beklemtoon dat sy tevrede was met die oplegging van ’n vergoedingsboete, waar dit geensins die geval in Hewitt was nie.125

Daar word toegegee dat in ernstige misdade soos verkragting en moord, en waar vergoedingsboetes glad nie deur die familie van die slagoffer of oorledene versoek word nie, dit nie in ag geneem behoort te word nie. Maar waar dit verkies word deur die benadeeldes, is daar geen rede hoekom dit nie oorweeg kan word nie. Trouens, dit gebeur reeds dat die benadeeldes wel gepols word oor hul opinie tydens paroolsittings.126 Daar word tydens paroolsittings aan ’n groep persone groot seggenskap gegee, maar dieselfde gebeur nie tydens vonnisoplegging nie.

 

6. Gevolgtrekking

Die Strafproseswet127 maak spesifiek voorsiening vir vergoedingsboetes. Die toepassing van hierdie vonnisbevele is egter tot nou toe ietwat onbevredigend. Dit word aan die hand gedoen dat die stereotiepe opvatting ten aansien van misdadigers – die algemene siening dat hulle ’n gevaar vir die samelewing is – sal moet verander voordat daar gepraat kan word van ’n groter rol vir herstellendegeregtigheidspraktyke binne die strafregtelike konteks.

Fattah128 stel dit kortweg so: “Another faulty premise underlying the use of penal sanctions is the mistaken belief that criminals are radically different from law-abiding citizens, a belief that leads to the creation of a false dichotomy between criminals and non-criminals.”

Om herstellende geregtigheid ’n regmatige plek binne enige funksionele regstelsel te gee, moet daar gehoor gegee word aan al die partye wat geraak is deur die misdaad, insluitend die oortreder en die slagoffer.

Op sigself bied vergoedingsboetes meerdere uitdagings. Daar word toegegee dat dit nie altyd finansieel moontlik sal wees vir beskuldigdes om vergoedingsboetes te betaal nie.129 Ook beteken die feit dat ’n groot persentasie oortreders waarskynlik onder die broodlyn lewe, nie dat vergoedingsboetes summier uitgesluit moet word nie. Sodra ’n gevonniste oortreder ’n inkomste verdien, is hy in staat om ’n boete te betaal. Die uitstelling van boetes word ook op ’n gereelde basis in howe toegestaan.

In die regspraak wat onder bespreking was, het die hoogste hof van appèl wel beslis dat vergoedingsboetes nie toepaslik is nie; tog is ’n gulde geleentheid deur die vingers laat glip om moontlike leiding aan ander howe te bied oor wanneer hierdie vonnisse wel oorweeg behoort te word. Suid-Afrikaanse howe behoort in gepaste sake alle moontlike opsies van herstellende geregtigheid te oorweeg voordat swaarder vonnisse opgelê word. Dit is nie ’n onbegonne taak nie, maar behoort met omsigtigheid benader te word.

Met Suid-Afrika wat gebuk gaan onder ’n hoё misdaadsyfer en gepaardgaande oorvol tronke, het dit tyd geword om alternatiewe strawwe soos vergoedingsbevele baie meer as strafmiddels te gebruik. Sulke bevele het ’n tweërlei voordeel: minder gevangenes in oorvol tronke en ’n definitiewe positiewe bydrae vir die slagoffers van misdade wat vergoeding ontvang vir die skade wat hulle gely het. Sodoende sal meer tevrede slagoffers in strafsake verkry word en mense wat huiwerig is om getuienis in ’n hof te lewer, aangespoor word om na vore te tree en te help om misdadigers aan die pen te laat ry.

 

Bibliografie

Aertsen, I., T. Daems en L. Robert (reds.). 2006. Institutionalizing restorative justice. Milton: Willan.

Abel, C.F. en F.H. Marsh. 1984. Punishment and restitution: A restitutionary approach to crime and the criminal. Westport: Greenwood Press.

Achilles, M. en L. Stutzman-Amstutz. 2008. Responding to the needs of victims: What was promised, what has been delivered. In Sullivan en Tifft (reds.) 2008.

Boutellier, H. 2006. The vital context of restorative justice. In Aertsen, Daems en Robert (reds.) 2006.

Buck, K. 2005. State compensation to crime victims and the principle of social solidarity. European Journal of Crime, Criminal Law and Criminal Justice, 13(2):148–78.

Cunneen, C. 2008. Exploring the relationship between reparations, the gross violation of human rights, and restorative justice. In Sullivan en Tifft (reds.) 2008.

Danieli, Y. 2008. Essential elements of healing after massive trauma: Complex needs voiced by victims/survivors. In Sullivan en Tifft (reds.) 2008.

English Oxford Living Dictionaries. 2016. https://en.oxforddictionaries.com/definition/reparation (6 Desember 2016 geraadpleeg).

Fattah, E.A. 2007. Is punishment the appropriate response to gross human rights violations? Is a non-punitive justice system feasible? Acta Juridica, 1:209–27.

Frehsee, D. 1999–2000. Restitution and offender-victim arrangement in German criminal law: Development and theoretical implications. Buffalo Criminal Law Review, 3(1):235–59.

Jordi, P. 2005. Compensation for victims of crime in a civil context. http://www.csvr.org.za/wits/confpaps/jordi.htm (6 Desember 2016 geraadpleeg).

Joubert, J.J. (red.). 2013. Criminal procedure handbook, 11de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Hudson, B. 2003. Victims and offenders. In Von Hirsch e.a. (reds.) 2003.

Koen, R. 2007. The antinomies of restorative justice. Acta Juridica, 1:247–71.

Logan, C. 2013. Restorative justice: Encouraging more meaningful engagement with the criminal justice system. University College Dublin Law Review, 13:39–70.

Makiwane, P. 2015. Restorative justice: Bringing justice for crime victims? Obiter, 36(1):79–94.

McCold, P. en T. Wachtel. 2002. Restorative justice theory validation. In Weitekamp en Kerner (reds.) 2002.

Neethling, J. 2015. Owerspel as gedingsvatbare aksiegrond. LitNet Akademies, 12(2):397–415.

Neser, J. 2001. Reformation of sentencing in South Africa. Acta Criminologica, 14(2):84–9.

Snyman, C.R. 2014. Criminal Law, 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Songca, R. en M. Karels. 2016. Geregtelike en wetgewende reaksies op seksuele misdade deur en teen kinders in Suid-Afrika en die potensiële gebruik van herstellendegeregtigheidspraktyke. LitNet Akademies, 13(1):444–78.

Steytler, N.C. 1996. Constitutional criminal procedure – A commentary on the Constitution of the Republic of South Africa. Durban: Butterworths.

Sullivan, D. en L. Tifft (reds.). 2008. Handbook of restorative justice: A global perspective. Abingdon: Routledge.

Villa-Vicencio, C. 2008. Transitional justice, restoration, and prosecution. In Sullivan en Tifft (reds.) 2008.

Von Hirsch, A., Julian V. Roberts e.a. (reds.). 2003. Restorative justice and criminal justice: Competing or reconcilable paradigms. Portland, Oregon: Hart Publishing.

Watney, M. 2015. The role of restorative justice in the sentencing of adult offenders convicted of rape. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:844–55.

Weitekamp, E.G.M en H.G. Kerner (reds.). 2002. Restorative justice: Theoretical foundations. Milton: Willan.

 

Eindnotas

1 In hierdie bydrae sluit die term benadeeldes klaagsters, klaers en slagoffers in.

2 Sien art. 35(3)(n) van die Grondwet van die Republiek van Suid Afrika, 1996.

3 Hierna die Strafproseswet.

4 McCold en Wachtel (2002:111).

5 Die Waarheid-en-Versoeningskommissie is daargestel ingevolge art. 2 van die Promotion of National Unity and Reconciliation Act 34 van 1995.

6 Sien bv. Boutellier (2006:26).

7 Sien DPP v Thabethe [2011] ZASCA 186; Seedat v S (731/2015) [2016] ZASCA 153.

8 Sien Joubert (2013:326).

9 Sien art. 297(1) van die Strafproseswet; Steytler (1996:426).

10 Joubert (2013:342).

11 Joubert (2013:343).

12 Ibid.

13 S v Frans 1924 TPD 419. Sien ook Joubert (2013:343).

14 S v Ncobo 1988 3 SA 954 (N). Sien ook Joubert (2013:343).

15 S v Bhembe 1993 1 SASV 164 (T).

16 Sien art. 297 van die Strafproseswet. Sien ook Jordi (2005).

17 Art. 92(1)(b) van die Wet op Landdroshowe 32 van 1944.

18 S v Dhlamini 1967 4 SA 679 (N).

19 S v Vanmali 1975 1 SA 17 (N).

20 S v Mokwana 1969 2 SA 484 (0); S v Du Plessis 1969 1 SA 72 (N).

21 Joubert (2013:356).

22 S v Msiza 1979 4 SA 473 (T).

23 Sien S v Huhu [2013] ZAFSHC 74; S v Khoza 2011 1 SACR 482 (GSJ).

24 S v Huhu parr. 3, 5.

25 Sien ook Joubert (2013:355).

26 Sien bv. S v Charlie 1976 2 SA 596 (A); S v Edward 1978 1 SA 317 (NK). Sien ook Joubert (2013:355).

27 S v Tshali 1985 3 SA 373 (O).

28 Joubert (2013:352).

29 Sien Snyman (2014:18).

30 Vgl. Koen (2007:247).

31 Boutellier (2006:27) verklaar: “The protection of citizens has become the dominant crime policy theme.”

32 Sien Boutellier (2006:26).

33 Ibid.

34 Sien Hudson (2003:180); Koen (2007:256).

35 Hudson (2003:180).

36 Sien Achilles en Stutzman-Amstutz (2008:211); Koen (2007:254); Makiwane (2015:84); Neser (2001:85). Abel en Marsh voer aan dat “[r]estitutionary systems provide victim-focused law and therefore address the issue of securing liberty for those whose ability to pursue their social options has been damaged by a criminal act.” Sien Abel en Marsh (1984:160).

37 Koen (2007:255).

38 Hudson (2003:180).

39 Frehsee (1999–2000:236).

40 Villa-Vicencio (2008:387) verduidelik dat “[r]estorative justice seeks to recover dimensions of justice often lost within the institutional retributive justice process.”

41 Sien bv. Danieli (2008:343–54). Sien ook Cunneen (2008:355–68).

42 Sien English Oxford Living Dictionaries (2016).

43 Sien Logan (2013:39–41).

44 Snyman (2014:17–8).

45 Sien Snyman (2014:17).

46 Sien bv. Snyman (2014:17–8).

47 Sien Snyman (2014:18).Sien ook DPP v Thabethe, waar ’n soortgelyke proporsionele gebrek t.o.v. die herstellendegeregtigheidstraf aan die lig gebring is.

48 Snyman (2014:18).

49 Ibid.

50 Ibid.

51 Ibid.

52 Ibid.

53 S v Huhu [2013] ZAFSHC 74.

54 S v Huhu par. 2. Die verhoorhof het die vonnis m.b.t. die vergoedingsboete soos volg uiteengesit (par. 2): “That the accused compensate the complainant in terms of section 300 of the Criminal Procedure Act 51 of 1977 in the amount of R1 300 (One Thousand Three Hundred Rand). Such amount is payable in monthly instalments of R200 (two hundred) and one instalment of R100 (one hundred rand) at Clerk of the Court, Magistrates Court Bloemfontein. The first instalment is payable on or before 7 March 2013 with the remaining instalments on or before the 7th day of each succeeding month until such amount is paid in full.”

55 S v Huhu par. 2.

56 S v Khoza 2011 1 SACR 482 (GSJ).

57 S v Huhu par. 4; sien ook S v Khoza parr. 9–10.

58 S v Huhu par. 5.

59 S v Huhu par. 7.

60 S v Khoza par. 1.

61 S v Khoza par. 4.

62 S v Khoza par. 5.

63 S v Khoza par. 8.

64 Sien ook S v Baloyi 1981 2 SA 227 (T).

65 S v Khoza par. 13.

66 DPP v Thabethe (619/10) [2011] ZASCA 186. Sien ook Songca en Karels (2016:456–62) vir ’n veelseggende bespreking van die saak.

67 DPP v Thabethe par. 5.

68 DPP v Thabethe parr. 5,12.

69 DPP v Thabethe par. 5.

70 Ibid.

71 Ibid.

72 Ibid.

73 Ibid.

74 Ibid.

75 S v Thabethe 2009 2 SACR 62 (T).

76 Vir die res van die vonnisvoorwaardes sien DPP v Thabethe par. 2.

77 DPP v Thabethe par. 6.

78 Ibid.

79 Dit was ingevolge artikel 51(2) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997, saamgelees met deel 3 van Skedule II van die wet.

80 DPP v Thabethe par. 19.

81 DPP v Thabethe par. 20. Sien ook Songca en Karels (2016:456).

82 DPP v Thabethe par. 20.

83 Seedat v S (731/2015) [2016] ZASCA 153.

84 Seedat v S [2015] 3 All SA 93 (GP).

85 Seedat v S 731/2015) [2016] ZASCA 153) par. 19.

86 Seedat v S par. 2.

87 Seedat v S par. 12.

88 Seedat v S par. 33.

89 Seedat v S parr. 34, 37.

90 Seedat v S par. 38. Die HHA verwys na sy eie vorige beslissing: DPP v Thabethe [2011] ZASCA 186; 2011 2 SACR 569 (HHA).

91 Seedat v S par. 39.

92 Seedat v S par. 40.

93 Seedat v S par. 41.

94 Hewitt v S [2016] ZASCA 100.

95 S v Khoza par. 10.

96 Sien DPP v Thabethe par. 19; Seedat v S par. 38.

97 Sien S v Huhu par.3; DPP v Thabethe par. 29.

98 Sien bv. Neethling (2015:408).

99 Fattah (2007:211).

100 Joubert (2013:325–7).

101 Sien S v Rabie 1975 4 SA 855 (A). Sien verder Joubert (2013:326).

102 Joubert (2013:325).

103 Joubert (2013:327).

104 DPP v Thabethe parr. 10, 12, 14–5, 19–20, 22.

105 DPP v Thabethe par. 29.

106 Songca en Karels (2016:466).

107 DPP v Thabethe par. 11.

108 DPP v Thabethe par. 2.

109 Seedat v S [2016] ZASCA 153 par. 38.

110 Seedat v S [2015] 3 All SA 93 (GP) parr. 49–50.

111 S v Thabethe parr. 40–1.

112 Sien oor die algemeen Watney (2015).

113 S v Thabethe par. 20.

114 Art. 35 van die Grondwet.

115 Sien Carmichele v Minister of Safety and Security [2001] ZACC 22; 2001 4 SA 938 (KH).

116 S v Thabethe par. 17.

117 Seedat v S [2015] 3 All SA 93 (GP)par. 39.

118 Seedat v S [2015] 3 All SA 93 (GP)parr. 31, 38.

119 S v Thabethe par. 20.

120 Art. 75(4) van die Wet op Korrektiewe Dienste 11 van 1998; art. 299A van die Strafproseswet.

121 Seedat v S par. 42.

122 Seedat v S parr. 42–3.

123 S v Zinn 1969 2 SA 537 (A).

124 Seedat v S [2015] 3 All SA 93 (GP) par. 50; Hewitt v S par. 10.

125 Seedat v S [2015] 3 All SA 93 (GP) par. 31;Hewitt v S parr. 11–3.

126 Art. 75(4) van die Wet op Korrektiewe Dienste; art. 299A van die Strafproseswet.

127 Artt. 297, 300 van die Strafproseswet.

128 Fattah (2007:214).

129 Sien Buck (2005:149).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top