Vergifnisonderwys: wat is dit en waarom is dit nodig?

  • 3

Suid-Afrika is ’n gewelddadige land. In ’n onlangse LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel skryf ’n navorser dat struwelinge in ’n omgewing tot ’n geweldsiklus vanuit die verlede, deur die hede en tot in die toekoms groei indien dit nie deur die een of ander vorm van vredeskepping beëindig word nie. Dit is een van die redes waarom vergifnisonderwys dalk ’n plek in leerders se opvoeding verdien.

Estelle Kruger gesels met Hannes van der Walt oor sy artikel: Vergifnisonderwys: Is dit (voor-)teoreties toereikend begrond?

Wat was jou ervaring in die onderwysberoep voordat jy die akademie betree het – het jy reeds as onderwyser bewus geword van vergifnisonderwys en die implikasies daarvan?

My skoolhoujare lê almal vierkantig in die tydperk van die “ou” Suid-Afrika, ’n tyd waarin ’n mens meer bewus was van die doen en late en van die belange van jou eie bevolkings- en godsdienstige groep as dié van ander. Ek was dus uiteraard meer bewus van onreg wat plaasgevind het in byvoorbeeld my eie bevolkingsgroep as van dié binne en tussen ander bevolkingsgroepe. Ons weet vandag dat daar destyds baie onreg teenoor ander groepe gepleeg is en dat dit netjies vir ons “weggesteek” was. Baie van die onreg teenoor ander groepe is ook op politieke gronde geregverdig, byvoorbeeld gedwonge verskuiwings van mense “sodat hulle by hulle eie mense kon wees” en so aan. As ek terugkyk, raak ek al meer onder die indruk van die mag van opvoeding, en meer bepaald wanneer opvoeding sekere dimensies van indoktrinasie aanneem, met ander woorde wanneer die opvoedeling eintlik die keuse ontneem word om vir hom- of haarself te dink en feitlik gedwing word om te dink soos die opvoeders wil hê jy moet dink. Terugskouend oor my eie opvoedings- en onderwyservaringe sou ek sê dat die groter vryheid wat kinders vandag geniet, hulle beter in staat stel om (krities) vir hulself te dink. Ons is nie destyds altyd soveel vryheid toegelaat nie – nie tuis nie, en ook nie in die skole nie.

My loopbaan as onderwyser, wat maar net nege jaar lank was, is aanvanklik ook gekenmerk deur hierdie soort opvoedingsbenadering. Ek was onder meer verantwoordelik vir ’n vak wat destyds bekend gestaan het as geestesweerbaarheid. Met die insig waaroor ek vandag beskik, verstaan ek dat vakke soos hierdie en die hele onderwysbenadering van destyds maar dié was van ’n owerheid wat op sy laaste bene gestaan het en nog krampagtig vasgehou het aan wat tot op daardie stadium vir diegene in landsbeheer “gewerk” het. Soos ek ouer geword het, veral toe ek ’n universiteitsdosent geword en buitelandse kontakte begin opbou het, het ek begin verstaan dat daar baie onreg in ons land gepleeg is en word. Die geskiedenis toon dat niemand juis as sondaar uitgesonder kan word in die proses nie; weens ons gebrokenheid as mense sondig ons daagliks teenoor mekaar en moet daar daagliks vergifnis gevra word vir ons gedrag en optrede.

Wat is die agtergrond van die studie – maw watter spesifieke omstandighede het hierdie navorsing van jou geïnspireer?

As dosent in die filosofie van opvoeding aan die destydse PU vir CHO (nou NWU) is dit van my verwag om die opvoedkunde vanuit ’n Skriftuurlike (Bybelse) perspektief te ondersoek en uit te bou. (Hierdie benadering is laat vaar met die koms van die nuwe Suid-Afrika, maar dit is ’n verhaal vir ’n ander dag.) In my pogings om die vak so uit te bou, het ek in die middel van die jare ’70 van die vorige eeu kontak gemaak met kollegas van ’n onderwysersopleidingsinstansie in Gouda, Nederland, die Hoogeschool de Driestar (die “drie sterre” hou verband met die trits skool, ouerhuis en kerk wat in die onderwys moet saamwerk in die vorming van die kind). Ek (en kollegas van die NWU wat ek later by die projek betrek het) hou daardie bande tot vandag toe in stand, onder meer deur middel van gesamentlike navorsingsprojekte. So in die koers van 2010 het ons besluit om navorsing te doen oor die verband tussen godsdiens en die onderwys. Dit was noodsaaklik weens gesprekke hier te lande en ook in Europa oor hoe godsdiensdiversiteit in skole en onderwysstelsels hanteer en behartig moet word. Nadat ons heelwat gepubliseer het oor die verhouding religie/godsdiens en die onderwys, het ons tot die besef gekom dat ons ook navorsing moet doen oor die vraagstuk van godsdienstige verdraagsaamheid. Ons ondersoeke oor godsdienstige verdraagsaamheid het ons weer daartoe gelei om te begin navorsing doen oor vergifnis en vergifnisonderwys, en oor gasvryheid en gasvryheidsonderwys.

Die artikel uit my pen wat in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het, is een van die eerste pennevrugte uit hierdie projek oor vergifnis en vergifnisonderwys. In die artikel probeer ek verduidelik wat vergifnis en vergifnisonderwys is, en ek probeer toon hoedat dit in die literatuur begrond is. Ek is tans aan die navorsing doen oor hoe presies die pedagogie van vergifnis inmekaar steek, met ander woorde hoedat ’n mens die konsep en die praktyk van vergifnis in ’n klaskamer aan kinders sou onderrig. Hopelik sien ’n artikel oor hierdie onderwerp binnekort die lig!

Hoe sou jy die verskil tussen filosofiese en psigologiese aspekte van vergifnisonderwys kortliks verduidelik aan belangstellende (maar oningeligte) onderwysers om hulle meer betrokke te kry by die probleem?

Die wetenskap het vier kerntake: om te verstaan en te beskryf; om ons in staat te stel om oor iets te praat, dit wil sê om teorie daaroor te ontwikkel; om afleidings oor die onderwerp te maak; en om ons kennis oor die onderwerp in die praktyk toe te pas. Die taak van die filosofie is om binne hierdie viervoudige raamwerk die grondslae en die beginsels van vergifnis te verstaan en daaroor te teoretiseer en te filosofeer; die taak van die psigologie is weer om binne hierdie raamwerk te verstaan wat in die psige (die gees) van die mens gebeur as onreg teenoor hom of haar gepleeg is, of wanneer hy of sy onreg pleeg, en wat daar gebeur as vergifnis gevra en gegee word. Die taak van die opvoedkunde is om op sy beurt binne hierdie viervoudige raamwerk die pedagogie van vergifnis te beskryf, met ander woorde hoe ’n mens byvoorbeeld kinders kan lei om te verstaan wanneer vergifnis gevra en gegee kan en behoort te word, en hoe dit dan gedoen moet of kan word.

As jy die hoof van ’n skool was, hoe sou jy vergifnisonderwys prakties bestuur in die werksituasie, en hoe kan opvoeders meer ondersteun word sodat vergifnis in die klaskamerkonteks gevra en gegee kan word?

Om dit te beantwoord sou ek aansluit by wat ek hier bo gesê het oor die taak van die opvoedkunde. ’n Skoolhoof wat die pedagogie van vergifnis ken en verstaan kan die personeel en die kinders in die skool lei om meer gevoelig te wees vir onregpleging, en ook meer gevoelig te wees vir die noodsaak daarvan om vergifnis te vra as ’n mens teenoor ’n ander persoon of ’n ander groep oortree het, en om vergifnis te gee wanneer iemand opreg daarom vra. Ek is ’n voorstander van die teorie dat die persoon wat die beweerde onreg gepleeg het, nie noodwendig belydenis van sy of haar oortreding hoef te doen om vergewe te kan word nie – ’n mens behoort onvoorwaardelik te vergewe. Indien ’n mens nie bereid is om so te vergeef nie, bly jy die albatros van onvergewensgesindheid op jou skouers dra. ’n Skoolhoof behoort van tyd tot tyd hierdie gedagtes aan die skoolgemeenskap oor te dra. Dit is in enige skool belangrik, maar nog belangriker in ’n skool wat godsdienstig en kultureel divers saamgestel is. Dit is veral belangrik in gevalle waar skoolgemeenskappe nog worstel met onreg wat in die verre verlede teenoor hulle gepleeg is.

Jy kyk in jou artikel krities na die Enright-, Nussbaum- en Coetzer-tipes benaderings tot vergifnisonderwys. Watter van hierdie benaderings het die mees praktiese toepassingsmoontlikhede in Suid-Afrika – veral gesien in die lig van nuwe wetgewing oor godsdiensonderwys? Motiveer asseblief.

Soos onlangse hofuitsprake weer eens onderstreep het, is ons gebonde aan die bepalings van die Grondwet (1994) van ons land en die beleid oor godsdiens in die skole (2003). Volgens hierdie dokumente mag geen partikularistiese (besondere, uitgesoekte) godsdiensbenadering in openbare skole gevolg word nie; met ander woorde geen godsdiens behoort voorkeur bo alle ander in ’n skool te kry nie – alle godsdienste moet eenderse blootstelling kry. In die lig hiervan sou die Enright-tipe-benadering, wat sover as moontlik lewensbeskoulik en godsdienstig neutraal probeer bly, die aangewese metode wees om in openbare skole te volg. Onder bepaalde omstandighede, byvoorbeeld wanneer ’n mens verskillende godsdiens- en lewensbeskoulike benaderings tot vergifnis op ’n vergelykende basis met leerlinge wil behandel, sou die Nussbaum-tipe-benadering ook kon deug. Die Coetzer-tipe-benadering is weer meer gepas vir ’n onafhanklike (privaat) skool wat kragtens sy statuut ’n bepaalde (partikularistiese) godsdiens- en lewensbeskoulike benadering mag volg. In sulke skole kan die Nussbaum-benadering egter ook nuttig wees, omdat dit dan vir die leerlinge verduidelik hoedat mense van ander godsdienstige oortuiging vergifnis sien en benader.

Jou navorsing toon aan hoe vergifnisonderwys-ingrepe in die VSA, Noord-Ierland, Suid-Korea en, Turkye positiewe gevolge gehad het – selfs dat leerders op ’n kreatiewe manier kon leer om iets soos afknouery (die boeliesindroom) die hoof te bied. Is die navorsingsgetuienis beduidend vir insluiting van iets soos die vergifnisprosesmodel van Enright1 in skoolkurrikulums in Suid-Afrika? Verduidelik asseblief.

Soos ek in die artikel verduidelik, het vergifnisonderwys in skole tot dusver hoofsaaklik ’n soort ingreepbenadering behels, dit wil sê daar is vir ’n kort tyd vergifnisonderwys aan die groepe wat jy hier bo genoem het, gegee en die gevolge daarvan by diegene wat daaraan blootgestel is, is dan gemeet. Hierdie ingrepe het dus meer die vorm aangeneem van eksperimente as van werklike opvoedende vorming. Die positiewe resultate wat selfs hierdie kort ingrepe gehad het, het my tot die gevolgtrekking gebring dat dit goed sou wees om vergifnisonderwysprogramme in Suid-Afrikaanse skole  in te voer, juis omdat ons in so ’n diepverdeelde samelewing leef, en juis omdat daar byna daagliks bewyse na vore kom van groot onreg wat in die verlede gepleeg is. As ons en ons kinders nie leer wat onreg is en wat vergifnis behels nie, sal ons tot in lengte van dae sukkel met swak verhoudinge onder mekaar, veral ook met swak verhoudinge tussen die verskillende bevolkingsgroepe waaruit ons bevolking van meer as 56 miljoen mense bestaan. Ons verneem telkens van groot onreg wat in die verlede gepleeg is, maar ons hoor nie dikwels die vermeende onregplegers om verskoning vra nie.

Jy voer aan dat enige soort vergifnisonderwys volgens die Sosiale ruimte en etiese funksie-teorie ook ten diepste eties-moreel begrond behoort te wees. Kan jy kortliks verduidelik wat jy hiermee bedoel in praktiese terme, veral ten opsigte van verskillende soorte skole in Suid-Afrika?

Dit gaan in die etiese, volgens een definisie, veral oor die sorgsame behartiging van die belange van die ander persoon of groep. As ’n mens hierdie definisie aanvaar, dan pas jy dit toe in enige sosiale ruimte waarin jy jou bevind, in hierdie geval die skool, maar ook daarbuite in al die ander samelewingskringe waarin ’n mens jou mag bevind. Indien ’n mens deur die hier bo vermelde etiese beginsel van belangebehartiging gedrewe is, dan staan die belange van die ander persoon of groep vir jou voorop, en nie jou eie of jou eie groep se belang nie. Dan vra ’n mens jou af: Wat kan ek doen om die belange van hierdie persoon met wie ek te doen het, te beskerm en te bevorder? Hierdie soort liefdevolle en sorgsame benadering, as almal van ons dit volg, kan die “olie” word wat die ratte van die verhoudinge tussen individue en groepe in ons land makliker kan laat draai. Dit gaan, terloops, nie oor die “groot” dinge wat ons moet doen nie: begin bloot deur ’n ander motoris wat uit ’n dwarsstraat in die hoofstroomverkeer probeer inkom, in te laat deur hoflik vir hom of haar te wag; begin deur die petroljoggie vriendelik te groet en na sy welstand te vra; begin deur selfs die “eenvoudigste” boemelaar langs die straat menswaardig te behandel; en begin deur self nie ’n liggeraakte kruidjie-roer-my-nie te wees nie. Om verskoning vir onreg te vra en om dit aan die oortreder te gee val ook in die kader van sodanige liefdevolle en sorgsame omgee vir die ander.

In ’n ideale wêreld – hoe sou jy die kwaliteit van vergifnisonderwys in Suid-Afrika sien, hoe sou dit prakties in skole manifesteer? Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom?

As ek minister van basiese onderwys en opleiding was, sou ek vergifnisonderwys ’n uitdruklike deel van die vakkurrikulum vir lewensoriëntering en lewensvaardighede maak. As ’n mens die huidige vakbeskrywing van hierdie twee vakgebiede in die CAPS-dokument ontleed, merk jy dat daar inderdaad plek vir vergifnisonderwys bestaan, maar dat vergifnis en vergifnisonderwys nie regtig by die naam genoem word nie. Dit behoort te verander sodat onderwys in vergifnis doelbewuste aandag kan kry. In die proses moet die verskillende stappe in die pedagogie van vergifnis vir die leerlinge uitgestippel word. (Hierdie uitstippeling is, terloops, na my oordeel nog nie deeglik en volledig genoeg gedoen nie. Ek gee tans hieraan aandag in my navorsing.) Omdat dit van onderwysers, veral diegene wat die vermelde twee vakke in skole moet gaan onderrig, verwag gaan word om die pedagogie van vergifnis toe te pas, moet vergifnisonderwys ook ingesluit word in die opleidingskurrikulum van aanstaande onderwysers.

Waarmee het jy gesukkel in hierdie navorsingsprojek? Watter verrassings het jy gekry?

Die “gesukkel” tydens die navorsing was maar tipies van die navorsingsproses. Ek moes eers duidelikheid kry oor wat verstaan word onder “vergifnis” en “vergifnisonderwys”, en toe moes ek, as opvoedingsfilosoof, probeer deurdring tot die filosofiese, lewensbeskoulike en godsdienstige grondslae van die verskillende benaderings tot vergifnis en vergifnisonderwys. Omdat die meeste van die werk op die terrein van vergifnis en vergifnisonderwys veral deur sielkundiges gedoen is, was die versoeking die heeltyd daar om hulle op die voet te volg en te kyk wat hulle al bevind het. My inset was egter meer filosofies-opvoedkundig. In die lig daarvan moes ek telkens die kosbare werk wat die sielkundiges gedoen het, met ’n ander oog bekyk. Ek moes myself die heeltyd afvra: Watter benadering is ten diepste deur hierdie navorser gevolg, en hoe sou ek dit kategoriseer en beoordeel? Die filosoof se kernvraag is mos om te vra hoe die wêreld, die hele werklikheid (die skepping) inmekaar steek, en dié van die opvoedingsfilosoof is om te vra hoe ons jongmense (en ook diegene wat nie meer so jonk is nie) kan vorm, lei en toerus om die werklikheid, die wêreld rondom hulle, beter te verstaan ten einde goed daarin te kan funksioneer.

Wat het jy as persoon geleer in die proses van hierdie navorsing en die publikasie van jou bevindinge?

Ek het geweldig baie daaruit geleer. Ek verstaan nou self beter wat (sosiale) onreg is, en dat ’n mens dit teen elke prys moet vermy. Ek verstaan ook nou beter dat mense wat meen dat hulle op die een of ander manier verontreg is deur my en ook ander se dade, verwag dat verskoning aangebied moet word voordat hulle die oortreding kan vergeef, maar ek besef nou duideliker as ooit dat ’n mens eintlik onvoorwaardelik behoort te vergeef. Dis vir my as Christen duidelik dat ons moet vergeef soos Christus vergeef het: sonder om voorwaardes te stel, uit liefde en opoffering, deur selfopoffering. Om so te vergewe is om die self te kruisig ter wille van die ander en ter wille van beter verhoudinge. Ek verstaan ook nou beter dat ’n mens die proses van vergifnis aan ander kan onderrig. Soos ek hier bo al gesê het, as ons ’n houding van liefdevolle en sorgsame vergewensgesindheid inneem, en ons ook verbind tot die etiese imperatief van die behartiging van andere se belange, sal ons die ratte van ons samelewing kan help olie.

Brei asseblief uit op die verdere navorsing waarna jy hier bo verwys het, en enige ander nuwe navorsingsprojekte wat dalk op jou horison is.

Ja ... ek is nou besig met navorsing oor die pedagogie van vergifnis. Ek is ook besig om te soek na ’n ruimte vir vergifnisonderwys in die kurrikulum. Burgerskapsonderwys lyk op hierdie oomblik vir my na die mees belowende plek daarvoor, maar hierdie vakgebied is tans in moeilike vaarwaters weens die groot aantal innerlike spanninge waarin hierdie vakgebied tans verkeer – maar dit is ’n verhaal vir ’n ander dag.

Ek is tans ook besig, saam met die bovermelde Nederlandse en Suid-Afrikaanse medeskrywers, met ’n publikasie oor gasvryheid en gasvryheidsonderwys, ’n ander onderafdeling van ons navorsing oor godsdienstige en ander vorme van verdraagsaamheid.

So tussendeur hou ek my ook besig met navorsing ter uitbouing van die teorie waarmee ek in hierdie artikel gewerk het, te wete die teorie rakende sosiale ruimte en etiese handeling of funksie. Hoewel ek al oor etlike dekades implisiet met hierdie teorie werk, dink ek die tyd het nou in my loopbaan aangebreek om dit meer sistematies uiteen te sit en aan te toon wat die toepassingsmoontlikhede daarvan in die opvoedkunde is.

Bibliografie

Enright, RD, M Rhody, B Litts en JS Klatt. 2014. Piloting forgiveness education in a divided community: Comparing electronic pen-pal and journaling activities across two groups of youth. Journal of Moral Education, 43(1):1–17.

Park, J-H, RD Enright, MJ Essex, C Zahn-Wexler en JS Klatt. 2013. Forgiveness intervention for female South Korean aggressive victims. Journal of Applied Developmental Psychology, 34(6):268‒76.

Eindnota

1 Enright se vergifnis-prosesmodel (Enright ea 2014; Park ea 2013):

  • Fase 1 – die blootleggende fase: die persoon met woede, depressie en gekrenktheid raak bewus van sy of haar woede ens en hoe hy of sy tot dusver daarop gereageer het.
  • Fase 2 – die besluitnemingsfase: die persoon ondersoek sy of haar opsies in reaksie op die gedrag of die optrede van die oortreder, en besluit om in die rigting van vergifnis te werk.
  • Fase 3 – die werksfase: die persoon plaas die oortreder in ’n nuwe raam (doen “reframing”) en begin om empatie en erbarming vir die oortreder te kweek
  • Fase 4 – ontdekking van en vrystelling uit die emosionele gevangenis: die persoon wat seergekry het, besef dat hy of sy nie alleen onder onreg gely het nie, begin nuwe betekenis in die onreg te sien, en vind ’n nuwe doel in die lewe.
  • 3

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Julle wil die onlangse godsdiens-hofsaak misbruik om verkeerdelik Christus en sy Kruisevangelie met die antichristelike, humanistiese godsdiens van sekulêre Sielkunde te vervang. Enige versoeningspogings buite-om Christus is onvolhoubaar en dus futiel.

  • Dankie vir die kommentaar! Lees asb weer net my antwoorde hierbo deur, en jy sal merk dat ek ook meen dat ware vergifnis slegs moontlik is op grond van Christus se soenverdienste. Ons leef egter in 'n land met baie verskillende godsdienste, en die artikel wat ek geskryf het, probeer al daardie moontlikhede dek. Let asb ook daarop dat ek nie in die artikel of in my gesprek daaroor verwys het na die onlangse godsdiensuitspraak nie.

  • Hanno Visagie

    Christ and Antichrist - by Dave Hunt - Anti is a Greek prefix that not only means “opposed to” but “in the place of.” Antichrist will indeed oppose Christ but in the most diabolically clever way possible: by pretending to be Christ. For the world to follow and worship him, a false Christianity must become the world religion—a “Christianity” that all religions can accept and that embraces all religions into “one faith.” Hence the necessity for today’s growing apostasy: to create an apostate church to be the Antichrist’s earthly bride, just as the true church is Christ’s heavenly bride. Such is the important role of the New Age movement and the many accelerating delusions and seductions in these “last days.” - The Berean Call - July 1, 2017 - First published in July 1990

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top