Die verdwyning van Afrikaans oppie Cape Flats

  • 3

Die ander dag is ek so bietjie verlore, ek vra die jong dame nou mooi directions in Afrikaans, want is mos nou oppie Cape Flats en nog van die generasie waar meerderheid Afrikaans kon praat.

Sy gee my toe die verskimmelde kyk asof sy die vel van my gevreet wil afhaal, asof ek haar nou gevloek het. Ek staan daar heel verstom.

Haar pa kyk die saak toe die heeltyd aan, hy self eerstetaal-Afrikaans, staan toe nader en sê: “Nee, sy praat nie Afrikaans, sy praat net Engels.” En sy sê toe agterna vir my in Engels dat Afrikaans haar eintlik bang maak. Ek word toe teruggevat na my menigte insidente met veral een groot klerewinkel wie se personeel net altyd weier om Afrikaans terug te praat, al weet ek hulle kan dit praat.

Dit was nou ’n paar jaar gelede, maar ek besef toe dat die situasie al hoe slegter geword het. Dat skole wat eens hoofsaaklik Afrikaans was, nou “forseer” word om verengels te word, ouers aanbeveel om hul kinders in Engelse skole te sit, en in baie gevalle word die Afrikaanse primêre kind dan deur die onderwysdepartement aanbeveel om te “switch”.

Ek vra myself toe nou wanneer het die situasie dan nou so lelik agteruit beweeg? Wanneer het ons dan toegelaat dat ons Khoesan, aka die bruin mense in die land, weer eens ons taal verloor? Ons vergeet somtyds dat Afrikaans se wortels eintlik Khoesan is, dat hierdie taal deur ons Khoesan geskep was, om te onderhandel met Europese skepe hier aan //Hui !Gaeb of Kaapstad.

Die taal wat eintlik 50 jaar voor die aankoms van Jan van Riebeek alreeds gepraat was, wat eers Khoekhoe-Nederlands genoem sou word, dan Genadendal-Nederlands en dan Afrikaans, vernoem na die eerste mense, Khoe en Saan wat Afrikaners genoem sal word. Die kleine maar krities belangrike deel van geskiedenis wat telkemale ignoreer word as Afrikaans genoem word ’n nie-Afrika-taal.

Tog in 2017, in ’n postdemokratiese land, verloor ons mense dan nou weer eens ons taal. En vir my as Khoesan-taalaktivis sal ek net so hard baklei vir Afrikaans. Want nou ondergaan ons as Khoesan tweede taalverlies en dit beteken meer verwarring en vervreemding want tog in Afrikaans kan ons mense ons Khoesan tale leer, maar in Engels, nee.

En in Afrikaans gebruik ons Khoekhoe-woorde, soos aitsa, abba, kwagga, dagga, boegoe en baie meer, wat ons onbewus van was en baie nog steeds is, en dan nou hoe gedoen as ons die taal verloor wat ons nog verbind met ons voorouers?

Vra jy hoekom ons nou ons kinders stuur na Engelse skole, dan hoor ons “want Engels is die internasionale taal van besigheid en sal eintlik meer geleenthede, meer deure oopmaak vir ons kinders”.

Watter deure as jou kind nie behoorlik die taal kan praat, lees, skryf of kan in dink? Want taalbemagtiging is immers meer as net ’n taal praat.

Word deure dan nie eintlik tóégemaak nie? Word deure vir Duitse, Franse, Italiaanse mense toegemaak omdat hulle nie Engels kan praat nie? Nee, en jy kan sê maar hulle is Europeërs, hulle is van die Eerste Wêreld, ons verskil. Ja, hulle kom van die Eerste Wêreld waar hulle ekonomie sterk is in hulle taal, maar wat hulle ook vir die wêreld aanbied is baie meer as Engels.

Hulle weet wat eintlik deure oopmaak is die vermoë om komplekse konsepte toe te pas in veranderende omstandighede, om kreatief en vernuwend te wees, om waarde by te voeg deur jou eie intellektuele kapitaal op te bou en te verkoop, en dit geskied nooit en sal nooit geskied in ’n tweede taal nie.

Ons kan ook enige kundige in die gebied vra oor die gevolge van tweede- of derdetaalonderwys wat verskil van die moedertaal, die huistaal, die gemeenskaptaal en die ekonomiese, sosiale en sielkundige impak wat dit sal hê op nie net die individu nie maar ook haar of sy gemeenskap. Dis hoekom Internasionale Moedertaaldagvieringe plaasvind op 21 Februarie – omdat dit so belangrik is.

Ons ouers, wat self nie Engels magtig is nie, wat nie weet van taalverlies of taalverskuiwing nie, kan self nou nie hul eie kinders help met werkstukke nie, doen die “switch”.

Die verantwoordelikheid vir die “besluit van taal” word op veral ons werkersklas, bron- en kennis-armoedige Afrikaanse gemeenskappe geplaas, mense wie self gebukkend gaan onder soveel ander ekonomiese en sosiale drukke wat nie altyd ingelig word oor hulle besluit nie. Dan besef ons ook dat amper niks navorsing gedoen is nie en ons word gelos om verder te verval in armoede, uitgesluit van ekonomiese geleenthede wat ander groepe najaag en bevorder juis deur ons taal te minag.

Soos die vrou my sê: “Nee, my kind is baie slim, hy vang gou baie aan” en ek verduidelik haar weer dat as die kind se grondslag Afrikaans is, dan bemoeilik en belemmer sy as ouer eintlik haar kind se vermoë om goed te doen, om universiteitstoelating te kry in matriek, beurse en toegang tot hoëronderwysinstansies, maar dan sê die vrou sy is maar graad 10 uit skool en sy wil haar kind beter lewe gee en dit glo sy gaan geskied in Engels. 

En ek kan nie die vrou blameer nie, want oor die algemeen het Engelssprekende bruin mense op die Kaapse Vaktes hoër standaard van lewe, bly in beter, veiliger woonbuurte, se kinders is by model C- of privaatskole, by universiteite, word dokters en ingenieurs en ry fensie karre. Mense soos die vrou is dan ignorant dat dit nie eintlik taal is nie, maar ’n klas issue en dit het historiese grondslag. Dat die minagting van ons wat Afrikaans praat deur die bruin Engelssprekendes op die Kaapse Vlaktes nie gaan stop as ons nou skielik Engels gaan praat nie.

Ons op die Kaapse Vlaktes sien mos dan ook nie dat baie Afrikaanssprekendes van gebiede buite die Kaapse Vlaktes ook dokters en ingenieurs word nie.

Ek onthou toe eendag in Home Affairs hoe ’n Engelssprekende kind haar ma en pa probeer “proper English” laat praat en die minagting waarmee sy met haar ouers praat, amper asof sy embarrassed is deur haar ouers en hoe haar pa haar kyk met die verkleinerende oë.

En al hoe meer vind die verdwyning van Afrikaans nie net plaas op die Kaapse Vlaktes nie.

My hart was seer. Ek wonder toe nou die konflik van kommunikasie wat veroorsaak word deur die interne taaldebatte tussen mense met reeds soveel konflik, wat mekaar reeds nie verstaan nie.

Mense, dié is ’n ernstige saak, dié is ’n hartseer saak. Verarming en vernedering van ons Khoesan deur ons tale vind nou weer eens op wrede manier plaas. Dis geskiedenis wat homself herhaal. Ons kan dit nie toelaat nie.

  • 3

Kommentaar

  • Goed geargumenteer, maar uit eie ondervinding kan ek nie saamstem met die skrywer nie. My ouers het na SA geëmigreer toe ek nog kind was, my moedertaal is Nederlands en ek het met daardie huistaal in 'n Afrikaanse omgewing grootgeword en skoolgegaan. Later aan 'n Engelse universiteit (UK) gestudeer en vandag is ek volkome drietalig, met aangepaste kultuur. My persoonlike siening is dat Kaapse Afrikaans die probleem is wat baie bruin mense het met Afrikaans, aangesien dit deur baie mense gesien word as benede Standaardafrikaans, die taal van die minder ontwikkeldes. Jy sal dit immers nie hoor by die dokters en ingenieurs van die Kaapse Vlakte nie, en ander Afrikaanssprekendes beskou dit in kommentare op die sosiale mediaforums neerbuigend as "oulik" en "te pragtig!", maar nie as volwaardig nie.

  • Dit is iets wat ek ook opmerk. Ek doen gemeenskapswerk in die Goodwood-area en praat hoofsaaklik Afrikaans met ouers. Wanneer ek dan met die kinders gesels, moet dit meesal Engels wees. Gewoonlik sal die ouer in die gesprek na die kind draai en dan in swak Engels met die kind kommunikeer. So leer die kind dan nie een taal behoorlik praat nie! Hartseer! Lê die oorsaak regtig by die skole of is dit iets dieper?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top