Verdien ons dan nie almal die waarheid nie?

  • 6

As deel van my soeke om soveel as moontlik van ons KhoeSan te weet, het ek daarom soveel moontlik different KhoeSan communities net in die Wes-Kaap besoek. Hierdie dag vat my journey my na Stellenbosch, die plek bekend vir sy wynlande wat compete met die beste wynlande in enige dele van die wêreld, ’n plek wat ek ook my huis genoem het vir twee jaar, die plek waar jy wakker skrik met die ruik van pinotage, of as jy net R20 het, kan jy soma drie borrels rooi wyn koop by die bargain, maar ook die plek met die rykste maar ook die armste mense innie land, die plek wat jou behoorlik schizophrenic laat voel, en die plek is Stellenbosch.

Terwyl ek toe nou verby die Slavenhuis stap en foto’s neem, sien ek dat die plek met soveel geskiedenis is dan nou kantore van ingenieurs ens. Toe stap ek na die Stellenbosch-toerismekantoor. Wat my eerste byval, is die Stellenbosch Toerisme se naambord wat “visitors” verwelkom in vier tale. Afrikaans, Engels, Xhosa en Duits. Ek wonder toe nou of hulle dan nie ook mense moet verwelkom in die Khoekhoetaal, eintlik een van Stellenbosch se eerste tale: “//khore//hare” of “wees welkom”.

Terwyl ek nou so wag vir my turn om te praat met die ontvangsdame kyk ek so bietjie rond en ek sien advertensies van al die pragtige wynplase in Stellenbosch-area, asook kunswerke van ander Afrika- en Suid-Afrikaanse etniese groepe, maar niks van ons KhoeSan nie. Hoe hartseer is dit dat die plek dan niks het nie. En as ons praat van waarheid, praat ons nie net van Stellenbosch se wrede koloniale geskiedenis nie, maar ook duisende jare se KhoeSan-geskiedenis, van die mense wat die VOC in die area kom kry het, wie vir hulle gewys waar die //gammi is, want dit was immers die belangrikste deel van die wynbedryf, want sonder water sou nie die druif of die wyn gemaak kon word nie, en tog na tyd was ons tog wreed weggedryf van ons eie waterbronne.

Maar hier staan ek en ek vra toe die dame om vir my asseblief te vertel hoe hulle organisasie nie net toeriste nie maar ook die plaaslike gemeenskappe bewus maak van die eerste mense van Stellenbosch. Watter toere of stappe ook van Stellenbosch se slaafgeskiedenis, want hulle is eintlik net vyf minute weg van die historiese Slavenhuis waar slawe aangehou was, maar ook waar KhoeSan gebly het wat forseer was na plekke soos Cloetesville en Tennantville? Om dan ook nie te vergeet dat hierdie plek se naam nie Stellenbosch, of “Simon van der Stel se bosch” was nie, dat dit eintlik ’n oorspronklike naam in KhoeSantaal gehad het wat niemand vandag weet wat dit is nie.

Sy gee my toe net so ’n vaal, half geskokte kyk (wat ek nou al gewoond is, want in Suid-Afrika is daar die belief dat sekere goed vir ewig en vir altyd weg is en dat ons moet nou net almal “forgive en forget”) asof ek nou ’n vreemde taal praat of soort van op haar vloek, en sy sê daar’s niks oppie oomblik. Ek vra haar toe of daar toekomstige planne is, maar op daardie oomblik weet ek toe die gesprek is verby.

Maar toe heel uit die bloute kom ’n vrou wat nou al heeltyd skelmpies na ons gesprek geluister het, en sy vertel vir my op ’n heel voorbarige en arrogante manier dat die KhoeSan al lankal uitgesterf het, en dat die wêreld “evolve” het.

Ek kyk toe vir die vrou aan, tel tot 5 en probeer mos toe baie hard om nie iets lelik en onbeskof te sê nie – ek is mos immers mooi grootgemaak om mense te respekteer, veral ons ouer mense, en ek vertel vir die vrou: “Kyk Mevrou, ek staan nog hier, dai vrou agter dai toonbank staan nog hier, gaan buite toe en kyk na enige groepie wat nou van die stasie afkom, hulle is KhoeSan, so hoe kan jy dan nou vir my wil sê ons het uitgesterf en evolve, want eintlik – om nie te wil sê in soveel woorde – sê sy vir my om te “forgive en te vergeet en om aan te beweeg”. En ek het mos al baie lankal geleer dat al rede hoekom mense vir jou sal aanmoedig om aan te beweeg, is dat dit wat hulle desperaat is om te vergeet, iets is wat vir jou en jou mense bitter seergemaak het, nog steeds bitter seermaak, en dat in 2018 is dit nie ons duty as die mense wat vandag sit met niks op die plek waar ons alles besit het, om aan te beweeg nie. Dié wat jou seermaak kan mos tog nooit vir jou wat nog steeds seer is, wat eintlik bloei, kom sê om net die deure toe te maak nie.

En tog in dai oomblik besef jy weer eens wat ’n plek soos Stellenbosch vir te lank weggesteek het, was dat die plant van druiwe vir wyn nie net ’n khumbaya of happy-go-lucky-proses was nie. Daar’s juis die Khoekhoe-woord Kakapusa wat beteken “amnesia” wat hier in Suid-Afrika en vandag hier in Stellenbosch sy lelike kop wys.

Want kan plekke soos Stellenbosch, Paarl, Franschhoek, Wellington dan nou eintlik gesien word as modern-day crime scenes. Want ons KhoeSan, wat toe vir duisende jare vreedsaam op die land gebly het, het dan net alles afgelos en vreedsaam wegbeweeg toe die koloniale, die kommando’s met hulle kanonne, gewere, perde, honde vir ons kom vir ons land, dat KhoeSan-kraals verbrand was, dat gemeenskappe uitgewis was wat toe verslaafd was weens die verlies van hul eie land en toe moes werk op hul eie voorouers se land en hoe Jan van Riebeeck eintlik kommando’s gevra het om die bolip van elke vermoorde KhoeSan vir hom te bring as bewys van die “dade” wat plaasgevind het.

Dan ry ons so vanaf Stellenbosch na Somerset-Wes en kyk die “mooie, groene wingerde” en dan om te besef dat in dai grond is daar die bloed van die eerste inboorlinge van Suid-Afrika.

Wat beteken dit tog dan nou vir ons wat vandag die wyn koop as die oorsprong van die wynbedryf so hartseer is? Wat sê dit van ons as society as die waarheid weggesteek word?

Om nie te vergeet van die stories van hoe KhoeSan-vroue “kinders moes dra van slawe”, ook bekend as teelmasjiene, sodat daar genoeg slawe kon wees vir die wynindustrie, want soos ons weet was KhoeSan nooit tegnies gesien as slawe nie, maar kind van slaaf was dan gebore in slawerny in.

En vandag, soos honderde jare gelede, word KhoeSan weer van die land afgesmyt waar van die plase nou omskep word in jagplase en hotelle vir toeriste. Verbaas dit ons dan dat dié gebeur met die kennis van die wortel van die wynindustrie? Waarheen dan vir ons mense? Hoeveel keer moet ons dan nog van ons voorouers se land afgesmyt word? Kudos tog aan die plaaseienaars wat ons KhoeSan met respek hanteer.

Dan lees ek van die welbekende wynplaas in die Paarl-area wat in 1690 aan die Franse familie gegee was om wingerde te plant. En ons moet vra: Was dai land leeg en waarheen het die mense gegaan wat op die land gebly het? Die een vrou vertel my toe die een dag: “Denver, as jy nou na enige plase toe gaan in die Boland en vir KhoeSan-werkers vra,‘Vertel my van julle familieboom’, sal hulle kan teruggaan en jy sal kan sien wie die eerste mense was wat op die land gewoon het.” Iets wat ons hoop word binnekort gedoen. Daar’s die sêding dat ons KhoeSan het tog nooit geglo die land behoort aan ons nie, dat ons behoort aan die land. En ek stem tot ’n mate saam, maar ons het ook nooit geweet dat 400 jaar nadat ons hierdie vreemdelinge sou help, ons sal wees waar ons vandag sit nie. En waar sit ons tog vandag?”

Terwyl ek dan nou so ry deur die Paarl, sien ek waar ons mense sit: oppie strate, ’n lewe van boemelaarskap en skarrel uit vullisblikke, en wat ons nog ook mee sit is die hoogste vlakke van fetale alkoholsindroom as gevolg van die dopsisteem wat vir honderde jare op ons mense afforseer was, en jy kan net kyk as jy ons mense sien. Die noue oë en die onvermoë om volledige sinne te maak. Ek sien toe ook die KhoeSan-antie wat swaar loop aan Shoprite-sakkie innie main road, stywe doekie, met multicoloured jersey, en ek kry so kort glimpse van die antie se gesig.

Maar tog op dié dag besoek ek ook die Kruithuis en word gegroet deur die VOC-kanon en die VOC-vlag. Ek wonder hoeveel van ons KhoeSan weet wat dit eintlik beteken? Ek is in skok. Hulle noem dit intergenerational trauma wat veral onder inheemse gemeenskappe soos ons KhoeSan voorkom, iets wat tot nou nie by enige Suid-Afrikaanse akademiese instituut bestudeer word nie. Deel van my voel wat gebeur het. Die gids by die museum wys my hoe ons KhoeSan-mans staan met die gewere, hoe die veld voor die museum gebruik was as practice waar alles en almal geskiet was, dat daar eintlik olifante in Stellenbosch was wat uitgemoor was deur die grote olifantgewere.

’n Besoekie aan die Stellenbosch Dorpsmuseum en Stellenbosch Universiteit skok om te sien al die goed wat die instansies van ons Khoekhoen en San se geskiedenis het. Ek besef tog hoe hartseer dit is dat ons dan nou bruin geskiedenis sal soek in die museums en dan eintlik wegloop van dié wat ons reg in die oë kyk.

Terwyl ek ook nou ná my trippie terugkeer, voel ek net swaar belas, moeg, psychologically bietjie uitgeteer, en ek vertel my familie dat dít is wat gebeur as ons bewus word van wat regtig met ons KhoeSan-mense gebeur het op die wynplase, dan sien ons tog nie meer net die mooi wingerde en koloniale Victoriaanse huise nie. Nee, ons sien die verarming en uitbuiting van ons mense en ons voorouers need vir ons om hulle stories te vertel, dat ons moet hulle waarheid vertel, dat ons nooit moet vergeet nie, want om te vergeet beteken om hulle pyn te vergeet.

Ek het die Stellenbosch Toerismekantoor gekontak en ek wag nog altyd vir ’n response.

Daar word gesê net die waarheid bring vryheid, bring verligting, maar dat daar nie op leuens gebou kan word nie, en skuld ons tog nie vir ons voorouers en ons nageslagte die waarheid nie? Ek glo so.

  • 6

Kommentaar

  • Johann Basson

    Baie interessante denke en redenasies.

    Dit bring my by die volgende denke:

    Stel jou voor 58 000 000 Suid-Afrikaners wat in 2018 vrylik regoor Suid-Afrika saam met hul vee agter wyding aantrek. Stel jou voor 58 000 000 mense wat net van die veld af leef en afhanklik is van hul vee, wildslewe, seekos en natuurlike plantegroei. Hoe sou "vrede" en "waarheid" vergestald?

    So, wat is "waarheid"? Waarheid = Realiteit? Waarheid = Virtuele droom?

  • I loved this piece! Ek is in Namibië, maar my voorouers van RSA, mens ken nie die hele geskiedenis nie. Sommer baie laat dink vandag. Keep on writing and keep on asking questions.☺

  • Ons Boere sit met min of meer dieselfde probleem - ons, en veral ons taal, word uitgeskuif en afgejak.

  • Dankie dat jy hieroor skryf. Dis noodsaaklik dat hierdie land se geskiedenis volledig geskryf en gehoor moet word.

  • Ek stel belang in naamgewing. Soos wat ek al navorsing gedoen het, het ek op die van Breda afgekom. Daar het net een Breda die land ingekom so 'n paar jaar na die stigting van 'n verversingspos aan die Kaap. Dit was Nikolaas vanaf Delft, en hy was getroud met Aagje Keysers vanaf Rotterdam. hulle dogter, Engela het getrou met 'n ene Michael Ley in 1697.

    Die naam Denver Breda het my opgeval; 'n pragtige KhoiSan van. Ek sal graag wil weet hoe iemand met so 'n naam, hom roem op sy KhoiSanvoorgeslag?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top