Venter en Nystrøm: Musici in verset teen die massamens

  • 0

Rolf-Erik Nystrøm en Juliana Venter (Foto: Facebook)

Die verbruikerslewe stomp mense se verwagtinge van wat oorspronklik is af. Dus meng sommige kunstenaars die dissonante met die dissidente in ’n poging om dan met ’n klankbeeld iets eg van die mens te voorskyn te haal. Jy moet jou storie ken om dit te laat slaag.

Die afgelope Saterdag (5 Augustus) in die Blah Blah Bar-lokaal in Kaapstad het die vokale kunstenaar Juliana Venter (Oslo en Berlyn) en die virtuose saxofonis Rolf-Erik Nystrøm (Oslo), juis dít reggekry met ’n gevarieerde program, genaamd Human. Hierin het hulle vooropgestelde verwagtinge van só ’n uitvoering deurbreek. 

Dit is gepas dat in hierdie intieme uitvoering die mens sentraal gestel is: Venter en Nystrøm het daarin hulde gebring aan mense wat die maniere uitdaag waarop ons na die wêreld kyk. Aan die hand van musiek van oor die wêreldkaart met tekste van Rilke, Shakespeare, Ginsberg en Nordiese digters het hulle ’n vry eklektiese, eksistensieel gelaaide en deurgekomponeerde program aangebied. 

Iets meer oor dissidensie in hierdie verband: Vir iemand soos Vaclav Havel gaan dit oor die plek van die waardigheid van menswees en (waar dit gaan om musikante) om ’n artistiek integer lewe te kan lei, om die vryheid daarvoor te kan benut. Die agtergrond van sy menings is die lewe onder Kommunisme, maar hy het ingesien dat dit ook op die Westerse verbruikersamelewing van toepassing is. Hierdie soort dissidensie is iets waaruit Venter en Nystrøm in Human vir hul verset en vryheid put.

Aan die begin van die uitvoering trek Nystrøm stadig los met sy saxofoon. Venter kom die lokaal binne. Stilaan, dan al hoe duideliker, klink die antwoord op sy talmende note: haar onmiskenbare sopraanstem. Dit begin voel soos ’n Japannese verhaal, met note en stiltes ingeskryf op verlange, stem en saxofoon ingestel op mekaar. Die musiek verander en word dan vreemd gemaak. Soos iets uit ’n musiekstuk uit die Kabuki-teater van Japan of Xenakis se musiek oor oorlog, of albei. By tye klink dit of Venter ’n medium vir ’n dolende Dadaïs geword het. Nystrøm bespeel die saxofoon se volle klankpalet tot selfs as perkussie-instrument. 

Vervreemding in musiek is niks nuuts nie, maar tog: Die wyse waarop Venter en Nystrøm verrassende klankpalette skep en bymekaar voeg, vra van ’n gehoor om, weg van die konsertsaal, ánders te luister. Elektriese onverwagsheid in die musiek haal veronderstellings soos lae vernis af van wat in ’n uitvoering kan wees. 

Venter is bekend om haar soniese avonture. In haar soeke na interessante buitewyke en betekenisvolle marges bring sy haar aansienlike talent as sopraan met ’n punkbenadering in verband. ’n Betreklik onlangse voorbeeld hiervan was in 2015, ’n uitvoering in die Detroit Vintage Garage in Soutrivier. Daar het sy en die Sh...Art-strykensemble, tesame met die makhoyane- en umrhubhe-boogspeler Cara Stacey en ’n orkes bestaande uit motorfietse die vloer gedeel het. Onkonvensionele orkestrasie is vir hierdie sangeres en komponis allermins ongewoon. Sy tref ook nie onderskeid tussen die kunslied, jazz, improvisasie, opera, kabaret en elektroniese musiek nie. 

Sy en die avant-garde (lees: gehaltewerk wat sowel kunstenaar en gehoor uitdaag, nie die etiket op wat neerkom op ’n pretensieuse stellingname nie) is so ongeveer gemaak vir mekaar. Gemeet aan die Suid-Afrikaanse hoofstroom van die 1990’s, het sy as lid van die groep Mud Ensemble (1993 - 1999) ’n soort outsidermusiek gemaak en werk van digters soos Wopko Jensma en Johan van Wyk is daarvoor getoonset.

Van ’n onlangse projek, Spooky Attraction From a Distance, waarvoor sy ’n album saam met Joseph Suchy gemaak het, het sy haar komposisie “Ende des Herbstes” uitgevoer. Dit is ’n hoogtepunt op die album, “Sunflower Sutra”, en is onder andere in Duitsland uitgereik is. Dit bevat ook toonsettings van werk van Breyten Breytenbach, Van Wyk, Venter, Ramsay Mackay en Rumi. Sy sing op die album in Afrikaans, Engels en Duits.

In Human word stem en saxofoon al hoe verder los gemaak van vertroude klank: Die saxofoon klink tot soos ’n stok wat oor bamboes stryk. Nystrøm verf met sekuur klankhale. Venter se stem styg en daal in ’n soms dissonante, meermale spookagtige harmonie met en teen dié van die saxofoon in. ’n Tradisionele liedtekstuur en bekende vorm is hier soms hééltemal afwesig. 

Venter dra ’n droefgeestige stadsvers van die Noorse digter Tor Ulven voor, later uit die Amerikaner Ginsberg se “Howl” (“I saw the best minds of my generation destroyed by madness starving histerical naked,/dragging themselves throught the negro streets at dawn looking for an angry fix/angelheaded hipsters burning for the ancient heavenly connection to the starry dynamo in the machinery of night.”). 

’n Virtuose klankbeeld en roerende afskeid wat ook ’n herinneringskuns is, is Nystrøm se komposisie vir Errol Dyers (1952–2017), ’n werk vir solosaxofoon. Hy wou baie graag saam met hom speel, maar die beoogde ontmoeting is kortgeknip deur Dyers se afsterwe verlede maand. 

Uit Mauritanië kom ’n lied vol verlange en deernis as hulde aan Marie Human, ’n vriendin van Venter wat ook onlangs oorlede is.

Ná die laaste gevoelvolle noot van hul uitstekende, donker kabaretweergawe van “Gloomy Sunday”, laat Venter die vonke spat in “Swamp Girl”, ’n treffer uit die 1950’s, met Nystrøm wat voedoe en jazz in sy saxofoon vermeng. 

By die opening van ’n gesamentlike groot tentoonstelling van die Ekspressionistiese meester Edvard Munch en ’n stigter van die Cobra-groep, Asger Jorn, het hulle hul klankkleure by dié van die skilderye gevoeg. Werk wat spesifiek oor die menslike kondisie handel, pas Venter en Nystrøm besonders goed. By die geleentheid het hulle onder andere Billie Holiday se “Without Your Love” uitgevoer en hierdie lieflike weergawe is ook by Human ingesluit. Hier is ’n gedeelte van hul Munch-museum-uitvoering:

Benewens die uitstalling het hulle onlangs opdragwerk vir die opening van die Oslo-poësiefees uitgevoer en toer onder meer met nuwe werk, teks van die Noorse digter Øyvind Berg, na verskeie kuns- en literêre feeste.

Venter is al vir jare op verhoë in die buiteland, veral in Duitsland en deesdae in Noorweë waar sy en Nystrøm die meeste van die tyd woon en werk. Sy is ’n Afrikaanse kunstenaar en komponis wat dit verdien om gevier te word, hier en in die buiteland. En hul samewerking is uit die boonste rakke. Op sy beurt bewys Nystrøm skynbaar moeiteloos die mate waarin hy ’n merkwaardige eksponent van die saxofoon is. (’n Oorsig van sy CV bied die volgende: Hy het al in meer as 50 lande op vier kontinente uitvoerings gegee en van meer as 100 werke vir saxofoon die eerste uitvoering. As solis het hy verskeie kere opgetree saam met die Oslo-filharmonie en internasionaal saam met verskeie ander gerekende orkeste en ensembles. Hy skep ook sy eie komposisies vir orkes, dans en film. Saam met internasionale volksmusiekmakers van lande soos Senegal, Tadjikistan, Egipte, Brasilië, die Ivoorkus, China, Norweë en Sri Lanka toer hy gereeld.) 

Venter en Nystrøm het al wyd, in museums, klubs en teaters in Europa, China en Afrika hul musiek met gehore gedeel. Daar is ’n eklektiese verskeidenheid uitdrukkingsmiddele, ook in hul eie komposisies: benewens motorfietse, ook water, toneel, performance, Strauss, Schönberg, jazz, vroeë Barok en rock in verskeie vorme. Vir Human het hulle op virtuose, intense wyse omgegaan met werk wat besiel en by die gehoor ’n fassinerende visie gelaat van hoe musiek begryp en vertolk kan word. Venter, met haar dramatiese vokale reikwydte, en Nystrøm, met sy verbluffende saxofoonspel, het met hul kundige en onkonvensionele benutting van style en tegnieke, harmonieë, grille en vervloeiings, wan- en weerklanke hul instrumente iets van wat die mens is laat word.

Dit laat ’n mens ook gans anders aan sopraan en saxofoon dink. 

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top