Vandag gaan ek ’n klomp mense kwaad maak

  • 13

Die Leeus (Foto: Twitter)

Ek is van huis uit ’n Johannesburger wat grootgeword het in die tradisie van die effens vuilerige Ellispark in die arm agterstrate van Doornfontein. Rugbykyk het beteken jy ry deur een van die armste dele van Johannesburg met plaaslike armblankes wat oor die heinings hang as jy verbykom. Die treine op pad rugby toe was boordensvol, en die duikweg onder die treinspoor ’n menslike drukgang wat na ou piepie geruik het.

Een van die grootste oomblikke was toe ons onder-elf teen Unika se span in die voorwedstryd van die All Blacks van Brian Lochore gespeel het. Dit was twaalfuur die oggend, en daar was ’n paar duisend mense op die pawiljoen. Ná die wedstryd het ons vlak onder die ou Quinns-bakkerygebou gesit, en die 20-jarige Brian Williams het vlak voor ons in die hoekie ’n drie vir Nieu Seeland gedruk. Maar die Springbokke het 20-17 gewen.

Ons het dikwels kaalvoet rugby in die ryp gespeel, op velde van geel gras waarop mens gegly het as jy met jou skurwe voetsole in die skrum probeer vastrapplek kry. Die eindrondtes van ons laerskoolliga is op Springfield in die agtergeblewe dele van die Suidelike voorstede van Johannesburg beslis. Teen skole met ses-voet seuns en name soos Andries Wassenaar. Iewers naby was ’n fabriek wat Sharpe’s Toffees gemaak het, en die lug het gevolglik na gebrande koffie geruik. Ná ’n middag se spel op een van die tientalle velde was jou kaalvoete tot oor jou enkels swart van die nywerheidsroet wat aan alles geklou het en in alles ingesypel het.

Maar in daardie jare, in my kinderdae, in die sestigs, was die Rooibontes van Transvaal die konings. Hulle het manne soos Piet Greyling, later Jan Ellis, Toy Dannhauser, Jannie van Deventer en nog later Ray Mordt en Johan Ackermann gehad. Vir ’n hele paar jaar het ons gedink die gloriejare was daar om te bly.

Toe nie.

Só kom ek in 1976 in Wilgenhof, Stellenbosch, aan as ’n eerstejaar.

Die kontras tussen die twee rugbywêrelde kon nie groter wees nie. Alles was groen. Die winterrugbyvelde het gereeld reën gekry.

Die Westelike Provinsie was in hulle fleur. Een van die oumanne wie se naam dikwels opgeduik het – ’n gevierde inwoner van die Bachelors-kompleks op Wilgenhof se terrein, was Andy van der Watt. En natuurlik Morné du Plessis. En moenie vergeet die groot Dok Danie Craven wat in daardie jare Bekfluitjie se huisvader was nie. So een maal per kwartaal het die oubaas met moeite sy skrede by Bachelors se trappe af gewend en teen skemeraand bietjie kom gesels.

Province was seëvierend. Ek het in Wilgenhof se Common Room saam met die res van die rugby-ondersteuners na die Curriebekerwedstryde gekyk.

En dit was nie lekker nie. Transvaal is keer op keer tot in die grond in verneder.  Ek het ernstig oorweeg of ek nie ook maar soos meeste manne wat van ver plekke af kom, my lot by die WP moes ingooi nie.

As ek vandag daaraan dink, dan besef ek dat ek nie eens met ’n wilsbesluit so ’n keuse sou gemaak het nie.

Jy sien, ek kon nie vat kry aan die houding nie. Westelike Provinsie was die beste in daardie jare. Hulle het van die grootste name in Suid-Afrika se rugbygeskiedenis opgelewer. Die probleem was, hulle het jou daaraan herinner. Soos die storietjie oor Bishops in Kaapstad: Hoe weet mens iemand was op Bishops? Hy vertel jou.

Skielik het ek vir die eerste maal gehoor gewone ouens gebruik rugbyterme in Engels: pass, fly-half, tackle, dummy. Daar was iets in die rugbykultuur van die ou-tantes van Oranjezicht, Nuweland en die Paarl wat Afrikaans gepraat het en dan sonder die geringste aanmoediging oorgeslaan het na Engels. Die dubbelmediumskole soos Paul Roos, Boishaai en so aan. Die dik groen gras onder die eikebome wat in die rugbyseisoen na modder geruik het, en so swaar was dat mens skaars daarop kon beweeg.

Een van die tipiese klein insidentjies wat onder my vel ingekruip het, was iemand by die rugby-TV wat sê: “Wie sê iets van Morné?” So half asof dit verboten is om selfs skuins te kyk na hierdie half-god van die WP wat dit goedgedink het om af te daal na die ondermaanse om ons gewone sterflinge te kom vereer met sy spel.

Die ding is dat die Wiepie deur al die jare ’n aura om homself opgebou het as iets spesiaals. Miskien het dit te doen met die feit dat die span heelwat Springbokke opgelewer het: Jannie Engelbrecht, HO de Villiers, Morné du Plessis.

Of dalk met die oortuiging dat hulle ’n spesiale soort rugby gespeel het. Dat hulle alleen in Suid-Afrika die patent op hardloop-agterlynspel uitgevind het. Die gedagte dat hulle ietwat onaantasbaar was, nie té hard hoef te probeer nie. En jaar ná jaar die Curry Cup gewen het.

Later jare was daar die era van ’n Robbie Fleck, wat blykbaar só geniaal was dat hy heeltemal onvoorspelbaar was. Of ’n HO de Villiers wat een van die eerste Suid-Afrikaanse heelagters was wat van agter af by die agterlyn aangesluit het, en drie ná drie gedruk het, en dit alles sonder om ooit sy wit, gestrykte kortbroek te laat vuil word.

En nou is dit Vrydagmiddag 8 Maart 2018, en die Stormers het in die laaste twee wedstryde hulle verloor-rekord teen oorsese spanne verder voortgesit. En ek dink: Ek wonder of die Wiepie, Province, die WP, die Streeptruie, die Stormers, nie tóg oor die jare hulle eie bemarking begin glo het nie.

Ek dink aan ’n klein losskakel met die naam Jantjies, hy voormalig van Florida Hoërskool op die stowwerige Wes-Rand en nou die Leeus, wat kort gelede ’n seisoen in hierdie rugby-Valhalla gespeel het. En hoe daar binne ’n seisoen alle lewe en selfrespek uit hom uit ge-coach is.

En ek dink hoe daardie einste losskakel nou sy voete teruggevind het in ’n Leeu-span wat iets terugroep van die heerlike, eerlike, harde hardlooprugby wat ek onthou van die Rooibontspan in my kinderdae. Hierdie span wat tot onlangs deur die sterkste voorspeler wat ooit vir SA gespeel het, Johan Ackermann, afgerig is, wat absoluut aangedring het sy manne moet hardloop met die bal, en hulleself uitleef, gate uit geniet. Manne wat deur die bank feitlik as te klein (Jaco Kriel, Howard Mnisi, Courtnall Skosan, Andries Coetzee, Sylvian Mahuza) of te onbekend (Aphiwe Dyantyi) of te wat ook al (Lionell Mapoe, Warren Whiteley, Malcolm Marx) beskou is.

En kyk nou na hulle. Hulle doen presies wat die beroemde Wiepie al die jare na bewering gedoen het: hulle gooi die bal rond, geniet hulle rugby, vat kanse op die aanval, plaas hulle lywe op die spel op verdediging en skrum die water uit hulle teenstanders. Hulle onthou hoekom hulle as dertienjariges verlief was op die spel. Dag in en dag uit op die koue geel gras van die Hoëveld (of waar hulle ook al was) niks anders wou doen nie. En weet jy wat, hulle wen sommer ook.

Oukei, dit het 40 jaar gevat. Maar hel, dit was lekker om dit te sê.

  • 13

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Ai, Frans, jy noem name en plekke wat erg vassit in my geheue. Laerskoolrugby in die Johannesburgse winters - ek was op Louw Geldenhuys. Ellispark op 'n Saterdagoggend - my pa het een van die klubspanne afgerig en my elke Saterdagoggend saamgesleep om Diggers, Simmer & Jack, Polisie, Gevangenisse en ander se wedstryde te kyk, teen Roodepoort en Boksburg (harde manne) en ander soortgelykes. Natie Rens was die loskakelheld van die stad.
    Ek was op die pawiljoen toe die Bokke daardie 1955 toets teen die Leeus verloor het. 'n Mislukte vervyfskop. My pa se reaksie was om my smiddags in ons woonstel se agterplaas te leer om te vang, skop en drop, met linker- of regtervoet. Stoei, sokker en korfbal, het hy gepreek, is die basis van 'n rugbyspeler se vaardighede.
    Ons het na die 1956 Nieu-Seeland-toer se krapperige radio-uitsendings om vieruur in die oggend moes luister. Ek kon destyds - as agtjarige - nie verstaan waarom Nieu-Seelanders so vroeg in die oggend hulle rugby speel nie. Nou weet ek. Hulle bly maar altyd voor ons.
    Later was ek op skool waar Jannie van Deventer die heelagter en almal se held was. In Noord-Transvaal, maar ek bly toe steeds 'n Transvaal-ondersteuner.
    Hier in Nieu-Seeland loop ek my vas teen Piet Robbertse, voormalige toetsskeidsregter. "Ken jy 'n Marnewick wat op Rustenburg 'n skole-administrateur was?" Inderdaad. "Goeie skrumskakel," sê hy toe ek kopknik.
    Om die hoek van my af bly daardie einste Brian Williams, nou 'n prokureur. Ek sien hom gereeld by die rugby. Kleiner as wat ek hom onthou, en weet jy wat? Ek het hom daardie drie op Ellispark sien druk. Hy glimlag net verleë toe ek dit noem.
    Die laaste keer wat ek my pa gesien het was toe ons saam was op die ooskant se pawiljoen, op die halflyn. Sonskyn, nartjies en biltong. WP het ons pak gegee daardie dag, maar dit was nog steeds 'n goeie dag.
    Rugby is in ons bloed, vlak onder die vel.

  • Frans,
    Die Curry Cup? Arme Sir Donald Currie ... Nee wat, as Wiepie-man vergewe ek jou. Net soos jy destyds, sukkel ek deesdae om 'n Leeu-ondersteuner te word. Jissie man, jou span speel sulke mooi (wen) rugby, maar ai, ek was ook op Stellenbosch toe Morné daar was, en Dawie Snyman en Hempies du Toit en groot Schalk en Jan Boland en Rob Louw en ... en ...
    So terloops, Johan Ackerman die sterkste voorspeler? Ek het saam met Groot Flip Van der Merwe aan tafel gesit ... Laat 1970's
    Rugbygroete
    Dirk

  • Frans Rautenbach
    Frans Rautenbach

    Chris, dankie vir die interessante herinnerings. Ek was ook in Louw Geldenhuys. Die wedstryd in 1970 was onder-13, my fout. Mooi bly.

  • Dis opmerklik hoe Noord-Transvaal uit die rugbygeskiedenis geskryf word? Het die annale en rygbystatistiek als uitgebrand?

  • Callie Cilliers

    Jy praat die taal en tydsgewrig wat ek ook onthou. Boksburg in my jare was ERPM of HOOTERS wat afkomstig was van die myn. ’n Hooter wat tee- en etenstyd vir bogrondse werkers aangekondig het. Die hardste flanke wat ooit vir die Transvaalse span gespeel het was Martin Pelser en Spanner Martins. Pelser het later saam met Hugo van Zyl vir SA gespeel. En dan was daar Jannie Barnard, elke skoolseun se held. Onvergeetlike tye lank gelede.

  • Johan schamrel

    Vir my as rugby- of dan sportliefhebber, heerlike nostalgie. Na die lees voel ek soos "Blokkies Joubert" en ek dink agter my lê 'n rugbygeskiedenis wat net in ons eie taal so mooi kan klink.

  • Gustaf Claassens

    Dis dik boekeskryfstories die wat wag om nog geskryf te word; vir doeleindes van die nageslag ten einde 'n besondere stuk geskiedenis lewendig te hou maar ook te bewaar vir hulle wat nog moet kom en kennis gaan maak met die ovaal-bal. Dink jy hieraan is dit soos 'n nostalgie-trein wat, hoe ouer mens word, jy meer en meer wil 'ry.' Dit wat jy deur daai klein venstertjies 'sien' asook die herinneringe wat dit oproep bring 'n ongekende soort vreugde en gelatenheid. Dit was 'n tyd toe pawiljoene vol, klub- en dorpsrugby gesond en lewend was, 'karre' om die velde parkeer het en ondersteuners luidkeels hulle spanne ondersteun en toegejuig het maar ook in tale kon praat wanneer die opponente iets verkeerd gedoen het. Nartjies was 'n groot ding, op en van die veld af terwyl biltong en droëwors 'n onuitputlike afsetgebied oor naweke gehad het ...
    As jongeling en Vrystater is vakansietye op Loftus deurgebring waar die Carlton-Liga groter was as Super Rugby vandag. Springbokhelde was oral te sien, die rugby ongenaakbaar en handtekeninge jag was 'n groot, baie groot ding. Om dan nog met hierdie "gode" te kon gesels was die kersie op die koek en grootste eer denkbaar wat jou te beurt kon val.
    Maar daar was ook iets baie meer persoonlik en spesiaal; jou eie held. 'n Speler soos wie jy graag wou wees en speel. Wie se foto’s in koerante was en wie se naam jy gereeld oor die radio gehoor het. Myne was ook 'n Transvaler wat 'n vinnige draai in die WP gaan gooi het maar toe weer terug is Johannesburg toe. Dit was 'n losskakel wat beskryf is as die een met 'n sesvoet systap of ook "Twinkle Toes." Sy naam; Jannie Barnard! Vandag nog is hy my held al het hy tragies in 'n motorongeluk in 1985 op ouderdom 40 jaar gesterf.
    Ek kan nie dink aan nog so 'n opwindende losskakel soos Jannie Barnard nie (Damien McKenzie van die Chiefs en All Blacks kom dalk die naaste) en ten spyte van die feit dat hy op almal se lippe was, is hy om onverklaarbare redes baie stief behandel en dikwels ongelooflik te na gekom. Hy was 19, het saam met die Springbokke na Australië en Nieu-Seeland gaan toer waar hy Keith Oxlee uit die Springbokspan gelig het. Die oorsese rugbypubliek was gaande oor Suid-Afrika se jong dinamiese en opwindende losskakel maar dit is ook waar Jannie Barnard die laaste keer die Groen en Goud gedra het.
    Die keurders wou en het Barnard nooit weer gekies nie al was hy by tye steeds die beste losskakel en tydens proewe opgeskuif na die "A"-span. Net om daarna te hoor dat iemand anders bo hom gekies is. So is onder andere Alan Menter, Mike Lawless en Dawie Snyman bo hom as spanmaats van Piet Visagie tydens oorsese toere gekies terwyl Barnard loshande bo almal uitgetroon het, Visagie inkluis. Jannie het egter bly speel en die skares op hulle voete gehou met sy venynige en skerp breekslae totdat hy later stil-stil van die toneel verdwyn het. En ja, die uwe is steeds soos Boeta die bliks*m in oor sy held, Jannie Barnard (van wie hy 'n hele plakboek gemaak het en nog het) wat so erg te na gekom is deur keurders wat maar net nie wou toegee dat hy by tye die top losskakel was nie.
    Vandag (op ouderdom 61) is ek steeds op soek na foto’s of enige iets van Jannie Barnard. Om nie eers van 'n nommer 10 Diggers-, Villagers- of Transvaaltrui te praat nie. 'n Springboktrui van hom is natuurlik die "ultimate" maar dit is dalk te vergesog alhoewel die hoop nooit beskaam nie ...

    • Kan jy nog die Springbokproewe onthou? Ek dink dit was 1966. Toe Jannie Barnard en Piet Visagie halftyd truie geruil het. Jannie A-span toe en Piet B-span. Dawie de Villiers en Piet Uys was die skrumskakels. (Dit was soos ’n toetswedstryd). Nou ek was daar. As die A-span die bal kry, gooi De Villiers die bal of laag, agter, te hoog, ens vir Jannie. Piet Uys gooi vir Visagie net reg. Dit was die eerste en laaste keer dat ek by rugby geboe het. Die hele skare het. De Villiers het gesorg dat Jannie nooit weer Springbok gespeel het nie. Ek het die volgende week met Jannie hieroor gepraat ... hy’t net sy skouers opgetrek. Dit was ’n skande!

      • Gustaf Claassens

        Ek het nou nog die koerantknipsel van waar truie geruil word. Dis welbekend dat Dawie de Villiers, Flappie Lochner (keurder van daardie tyd en ander ringkoppe daarna) nie vir Jannie wou hê nie. Alhoewel Visagie met tyd sy kant gebring het, is daar geen twyfel dat Jannie Barnard die stiefseun van rugby was nie. Suid-Afrika en ondersteuners van Springbokrugby is die geleentheid ontneem om 'n geniale, opwindende speler in Groen en Goud te kon sien en met hom het sprankelende hardlooprugby (losskakels) begin verdwyn. Dis nou nog so en hoe saai het ons rugby nie geword nie ... Ek het iewers gelees dat sy ma prag-plakboeke van hom bygehou het en wonder waar dit is. Dit sal bitterlik jammer wees as dit verlore is, want daarin lê 'n mooi stukkie geskiedenis van ons rugby opgeteken. Miskien kan iemand ons help hiermee ...

  • In 1953 was daar skolevoeding op die laerskool êrens aan die Oos-Rand. Daar was nie 'n rugbyveld nie. 'n Kleinhoewe-eienaar van 'n kleinhoewe (sommer plot) het sy plot beskikbaar gestel vir oefening.
    Dit was die jare van gewig teen gewig en moes ons eers in die pakkamer aan 'n skaal hang en is die gewig noukeurig neergeskryf. So het langes en skrales en vetties die span gehaal, wat afgerig is deur 'n lang vergete Transvaal-vleuel, Dippenaar.
    Hy het ons geleer tekkel - twee rye wat 'n gang gevorm het - jy ontmoet mekaar so in die middel, niks gehoogvattery nie, judogooie en sulke goeters nie, 'n eerlike laagvat, waar kop uit die pad, skouer met die kortrib, arm om die lyf, kennis maak en jy jouself die vraag afvra, wat de hel jy nou eintlik daar maak en jou verlore asem soek.
    Dan was daar natuurlik ou Stefaans so hard soos 'n klip wat die bal lag-lag kaalvoet van die middellyn oor die pale kon skop, toe ons uiteindelik kon speel op 'n regte rugbyveld by die skool. Eers is die veld omgeploeg en ge-eg en met spoorstawe gelyk gesleep, voordat almal gehelp het om gras te plant.
    Dit was nie die ergste nie, die ou veld was vol koeimis en dorings met die enigste toeskouers 'n paar herkouende koeie en 'n meisies wat kyk hoe hul helde oefen en hard probeer om koeimis en dorings te vermy.
    Later op hoërskool speel ons met tokse, dan is dit tyd om tokse reg te maak - die studs het nie ingedraai nie, maar het bestaan uit ronde stukkies leer, sorgvuldig uitgesoek en Pa se aambeeld en hamer stewig geanker aan die sool.
    Dan was daar die ou agtpand-bal van egte leer en so glad soos seep wanneer dit nat geword het en jy moes hom vang en vashou, niks geklappery, want 'n aanslaan was 'n aanslaan en in die skrum was die vinnigste voet baas. Niks se “crouch, bind...” en sulke goeters nie. Die ouens het mekaar in die oë gekyk, gebind, vasgehou en geskrum. Kan nie onthou dat ek soveel skrums sien val het soos vandag nie.
    En dan die egte lemoenskyfies met rustyd, meneer se pep talk en dan huis toe, plot toe waar daar altyd 'n vergete takie gewag het. Wonder nou nog hoe ons dit oorleef het.

  • 'Vandag gaan ek ’n klomp mense kwaad maak'.Weet nie of dit juis 'n gepaste opskrif is nie,klink eerder soos 'n reis na die verlede ...

  • Lekker reis na die verlede. Ek het nou baie lekker gelees aan die kommentaar. Ek het self ’n vroeë blootstelling aan Pirates-bekerrugby gehad. Eintlik nog voor ek kon loop in die middel 50’s.
    My pa Fred Haupt het Diggers afgerig en hulle het die beker ’n paar keer gewen.
    Hy het as ’n ouer persoon onderwys gestudeer aan Wits en hulle eerstes afgerig. Ek het ’n foto saam met die eerstes toe ek omtrent drie was en die dag die baldraer was. Al die spelers het agterop geteken. Dae van agt-naatballe.
    Ek ken al die spelers en skole waarna verwys word. Ons het in Unified/Florida twee strate van die stasie af gebly. Ek was standerd 4 en 5. Ons het ’n Ellispark-skolierseisoenkaartjie gekry, so klein oranje rugbybal en probeer om soveel knippies moontlik in hom te kry. Ek het elke Saterdag as daar rugby was so teen negeuur die trein gehaal om al die wedstryde te sien. Ou Ellispark, ek was altyd vrek bang ek gaan tussen die sitplanke inval tot doer onder. Daai dae nog van laerskool, hoërskool onder 20, tweede span. Hoofwedstryd het 15:30 begin. Na die wedstryd is ek tussen die groot ooms se bene deur terug stasie toe en na donker by die huis gekom. Deur die gangetjie soos hierbo beskryf.
    Ek het in 1973 in Johannesburg begin werk en toe omtrent elke Saterdag op Ellispark by die hekke gewerk en al die hoofwedstryde gesien. 1974 Leeus Transvaal Kwaggas en Toets (eina).
    Ek was ’n hele paar keer op die nuwe Ellispark maar was nooit vir my dieselfde nie.
    Bly die laaste 15 jaar in die Kaap en was darem paar keer op Nuweland, maar is binnekort op pad terug!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top