Van mens tot dier: V&A met Einstein-kompetisie-wenner Wynand Goosen

  • 1

wynand650b

wynand_weninskrywingGrootwildnavorser Wynand Goosen is weer op pad bos toe. Dié Matie het pas die tweede prys in die Einstein-kompetisie met die bostaande opsomming van sy PhD losgeslaan. Imke van Heerden, die projekbestuurder van die Einstein-kompetisie, het hom gelukkig opgespoor voor hy internetontvangs verloor.

Wynand, so gepraat van bosritte, watter gereedskap is altyd in ’n grootwildnavorser se rugsak?  

a. Toiletpapier
b. Spuitnaalde
c. Bloedbuise
d. Handskoene
e. Sonbril
f. Pen
g. Papier.  

wynandcollage1
Wat is die mees fassinerende aspek van jou navorsingsprojek? Was daar enige resultate of bevindinge wat jou verras of opgewonde gemaak het?

Die mees fassinerende aspek van my navorsing was vir seker toe ek ’n paneel diagnostiese merkers wat vantevore met groot sukses in mens-TB-navorsing gebruik is, in buffels ondersoek het en dieselfde sukses ondervind het. Dit is inderdaad ‘n aanduiding dat ons almal een groot familie is, van buffel tot mens.

Daar was een bevinding wat my behoorlik op en af laat spring het: een van die diagnostiese merkers wat ek ontdek het in buffels, het die vermoë om vir agt weke by kamertemperatuur stabiel te bly op membraanfiltreerpapier en na ek die bloed vir 20 minute behandel het by 65ºC om ontslae te raak van enige skadelike patogene. Die bevindinge vir navorsers op my gebied beteken dat jy nou bloedmonsters kan steriliseer, dit op ’n klein stukkie papier kan plaas en na enige plek in die wêreld kan stuur vir verdere ontleding.

wynandcollage2
Hoekom het jy die Universiteit Stellenbosch, asook hierdie spesifieke navorsingstema gekies?

Ek was nog altyd van ’n jong ouderdom af gefassineer deur wetenskap, veral biologiese wetenskap, maar sodra ek ’n boek neergesit het, het ek die rugbybal opgetel. Rugby was een van die grootste redes hoekom ek Stellenbosch gekies het, maar soos een liefde jou na ’n sekere instelling kan vat, kan ’n ander seker dieselfde doen.

Gedurende my voorgraadse studie het ek ontdek dat wetenskaplikes ’n massiewe rol speel in die beheer van verskeie siektes in grootwild en vir my het dit ongelooflik interessant en opwindend geklink. Dit was hier waar ek in kontak gekom het met prof Paul van Helden, die hoof van die Departement van Biomediese Wetenskappe, en dr Sven Parsons, ’n veearts en wetenskaplike. Albei navorsers het ’n groot liefde vir die welstand van diere, en so het ek self gedurende 2012 ontdek, as hul heel eerste student in die splinternuwe diere-TB-groep, populasie drie. Vandag is ons reeds sewe studente sterk en doen TB-navorsing in verskeie spesies diere, waarvan so ’n paar beeste, buffels, leeus, olifante, meerkatte, vlakvarke en koedoes is.

wynandcollage3
Wat wil jy doen nadat jou studie afgehandel is?

Ek dink nie my studie sal ooit afgehandel wees nie – ek gaan vir seker nog verder studeer, al is dit nie eers in die rigting waarin ek my nou bevind nie.

Wat sou jy graag eendag wou bereik?

Ek wil dit bereik om die boodskap oor te dra van interne geluk, aanvaarding en vrede, al kry ek dit reg met net een persoon. As meer mense daagliks doen wat hulle wil doen en wat hulle werklik gelukkig maak, sal die wêreld darem ’n baie beter plek wees as nou. 

wynandonderhoud2
Hoekom het jy vir die Einstein-kompetisie ingeskryf, en hoe voel dit om ’n wenner te wees?

Ek het vir die kompetisie ingeskryf omdat ek op Facebook gesien het hoe sekere van my vriende dit gedoen het en onthou toe ’n gesprek by ’n konferensie wat ek met ’n navorser in Wenen gehad het oor hoe belangrik dit is vir navorsers om hulself te bemark en nie net te glo dat hulle navorsing dit vir hulle sal doen nie.

Ek dink daar moet meer gereeld soortgelyke kompetisies wees om ’n saadjie in jongmense te plant om verder te gaan studeer, asook om hulle bewus te maak van die verskeie loopbane wat daar buite beskikbaar is.

Dit voel vreemd om een van die wenners te wees – ek is nie regtig iemand wat ooit sulke kompetisies wen nie. Hierdie is nou ’n goeie getuigskrif oor hoe daardie persoon wat altyd sê: “Pffff … my kanse is maar skraal”, ook ’n kans staan om kompetisies soos dié te kan wen.

wynandonderhoud3
Watter raad het jy vir skoliere wat dit dalk oorweeg om jou studierigting in te slaan? Watter aanlegte bevoordeel mens in hierdie studieveld?

My raad aan skoliere sal wees om dit vir seker te oorweeg as jy jouself diep in die bos kan sien, in die middel van nêrens in die nag met ’n koplig aan, terwyl jy bloed trek by ’n verdoofde leeu omring deur onverdoofde leeus en ’n hele park vol wilde diere.

Aanlegte wat jou in my veld sal bevoordeel, sal ’n groot liefde wees vir wetenskap, diere en die algehele welstand van alle lewe op aarde, aangesien siektes soos TB sonder vooroordeel doodmaak, van mens tot dier. 🙂  

Lees ook:

 

  • 1

Kommentaar

  • Pieter Goosen

    Wow. Ons as Wynand se ouers wil net graag vir hom sê baie, baie geluk met sy prestasies. Ons is so ongelooflik trots op hom. Ook vir al die betrokke partye in die kompetisie wil ons net sê baie dankie vir die geleenthede wat julle vir ons kinders en ons land bied.

    Alle sterkte en voorspoed vorentoe.

    Groete.

    Erna en Pieter Goosen

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top