Van kant gemaak deur Kris van Steenberge: ’n resensie

  • 0

Van kant gemaak
Kris van Steenberge

Vertaler: Fanie Olivier
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306825

“Ons staar na die oorkant. Daar lê soveel daar, anderkant die flikkerende spieël van die see. Stofbelaaide herinneringe onder die nuutgeboude mure. In die voegbrei van die fier steunbere wat net-net nie meegeee nie. Op die skuim van die bier wat die mense daar brou. Agter die ooglede van dié wat die land weer in reguit vore sny. Tussen die fyn vingers van vroue wat onverstoorbaar klos.”

Só laat Kris van Steenberge die laaste, tweestemmige, verteller vanaf ’n eiland terugkyk op die getormenteerde landskap in sy opspraakwekkende debuutroman, Van kant gemaak. Die blik is op ’n herstellende België wat teen wil en dank die slagveld geword het vir die loopgraafoorlog van 1914–1918. Die herinneringe behels egter veel meer as oorlogsvernietiging en heropbou. Die pryskomitee wat die Vlaamse Debuutprys in 2014 aan die roman toegeken het, noem dit tereg ’n “meeslepende, goed opgebouwde, stilistisch sterke, epische vertelling met mooie karaktertekening”.

Kan die Eerste Wêreldoorlog ooit uit die Vlaamse psige verdwyn? Die jong, uiters suksesvolle Belgiese staat wat destyds die volle lading gekry het, is vandag opnuut een van die welvarendste ekonomieë op aarde. Dit nadat breuklyne in die samelewing deur die einste oorlog oopgeruk is en voortbeweeg het om ’n moderne, uiters ingewikkelde politieke federasie te vorm.

Terwyl geskiedskrywers selde verder kom as die groot lyne van oorsaak, gebeurtenis en gevolg, word dit aan die literêre skrywer oorgelaat om die menslike emosionele verwringing tot uitdrukking te bring.

Direk na die oorlog sou ’n Paul van Ostaijen met sy radikale poëtiese eksperimente, sy “feesten van angst en pijn”, die hele Nederlandse taalgebied wakker ruk. Sou skrywers soos Ernst Claes met verhale soos “Een schamel moedertje” die verdriet van die eenvoudige mens laat sien. Marnix Gijsen sou pas in 1951 waag om sy intens gevoelige elegie, Klaaglied om Agnes, te publiseer. ’n Eeu na die wêreldramp sou Stephan Hertmans die lang skadu daarvan opnuut bekyk in sy semi-outobiografiese roman Oorlog en terpentijn. En só die destyds onderdrukte Nederlandse taal in België een van sy grootste internasionale “bestsellers” besorg, dwarsoor die aardbol vertaal.

Vir die Afrikaanse leser het Protea Boekhuis nie slegs die gevestigde Hertmans se oorlogsroman in vertaling beskikbaar gestel nie, maar nou ook Kris van Steenberge se Van kant gemaak. Kritici noem Van Steenberge se boek trouens ook ’n “instant klassieker”. Die filmregte is bowendien pas na verskyning opgeraap.

Van kant gemaak is in die eerste plek ’n Vlaamse dorpsverhaal met sterk tradisionele trekke. Die oorspronklike Vlaamse titel is trouens die naam van die dorp, Woesten. Elisabeth is die pragtige dogter van die hoefsmid. Haar moeder is ’n vermaarde kantklosser wie se talent en ambag sy ook erf. Hierdie wakker meisie het te kampe met verskeie probleme van haar tyd. Nie die minste daarvan nie is ’n samelewing waarin sy op geen manier haar volle potensiaal kan ontwikkel nie. ’n Huwelik met die jong stadsdokter Guillaume uit die hoë klasse van Brussel hou op eerste gesig intellektuele moontlikhede in. Dit lyk ook asof sy danksy hom deur die glasplafon van haar stand sal kan breek en aan die plattelandse beperktheid kan ontsnap. Dit alles blyk ’n illusie te wees.

Een van die sterk punte van die roman is die verwikkelde patroon, die kantwerk, van die verhoudingsnetwerk waarin Elisabeth vasgevang is. Wat is die aard van die hoogs intelligente Guillaume se sielkundige probleem wat hom ná ’n romantiese aanloop ongeskik maak as eggenoot? Die leser moet self afleidings maak. Dit geld ook die ingrypende ramp wanneer hy as verloskundige mistas met hul tweeling. In watter mate is sy geestelike beperkinge en gebrek aan ervaring die oorsaak daarvan dat die tweede kind as aaklig verminkte wese ter wêreld kom? Speel die skuldkompleks weens sy vergissing as opgeskote seun wat tot die dood van sy vader gelei het, hierby ’n rol – ’n voorval waarin sy vader moontlik in hom die nakomeling van sy moeder se minnaar herken het? Guillaume se teleurstelling oor sy skadukind maak dat hy hom slegs as “Naamloos” laat doop en ’n steeds somberder lewe begin lei, afgeskei van die res van sy gesin.

Vir Elisabeth huiwer daar op die agtergrond die man van haar bloed, die minnaar met wie sy weens standsverskil en misverstande geen toekoms kon opbou nie. Die vir die dorpelinge vreemde en daarom gewantroude Meneer Funke hou wel haar intellektuele bestaan aan die gang totdat dit wreed tot ’n einde kom. Vir hom is dit self weer ’n plaasvervanger vir ’n groot gemis in sy eie lewensgeskiedenis. Met geld wat sy by Meneer die Pastoor verdien met haar kantwerk, spaar Elisabeth vir ’n laaste droom: om na die paradyslike Eiland Wight te ontsnap om daar met haar verminkte seun ’n nuwe lewe op te bou. Ook dit gun die noodlot haar nie.

Hier hou die emosionele en sielkundige kantwerk nie op nie. So is die Engelse weduwee wat later die op die slagveld gebroke Guillaume oppas, nie daarmee gediend om hom af te staan nie.

Wanneer die ellende van die gesinsituasie op die ergste is, swaai die verhaal om na ’n moordgeskiedenis. Nóg die onbesuiste vigilante uit die dorp nóg die polisie slaag daarin om die skuldige aan die pen te laat ry. Hierdie een geval van doodslag word ironies genoeg opgevolg deur die uitbreek van die oorlog. Sowel die normale, buitengewoon aantreklike lid van die tweeling, Valentyn, as sy vader beland in die allesvernietigende stryd. Woesten self is ’n dorp naby Ieper, waar die ergste veldslae van die oorlog plaasgevind het. In die roman vind Naamloos en Guillaume na afloop daarvan ’n erg beskadigde huis terug. Nou is albei verminktes.

Na al die in soms werklik pragtige prosa beskrewe ellende neem die intrige uiteindelik nog ’n “goeie wending”. Die moordenaar word geïdentifiseer en kry sy verdiende loon. Die twee seuns maak hul moeder se laaste droom waar. So word die moderne tradisie van ’n oop einde vermy en die roman tot ’n besonder harmonieuse slot gebring, iets wat baie kritici dit as middelmoot sal laat etiketteer.

Hoe dan ook is dit ’n boeiende, goedvertelde geskiedenis. Alle historiese romans is uiteraard op die eietydse leser gerig. Hedendaagse kwessies word dan ook hier aangeraak, waaronder pedofilie in die Katolieke Kerk waaroor België in die afgelope dekades sulke skokkende onthullings te verwerk gekry het. Dieselfde kerk wat in die oorlogsituasie ’n reddingsboei uitgooi na soveel ontredderdes, onder wie Naamloos, huisves dus terselfdertyd die niksontsiende boosheid self. Verder is dit ’n boek van trauma in ’n verskeidenheid gedaantes, van mense wat daaraan ondergaan en ander wat tog nog slaag met ’n nuwe bestaan.

Verteltegnies is die boek ook wel interessant. Dit is soos ’n Griekse drama opgebou uit vyf dele. In die eerste twee begelei ’n derdepersoonsverteller die leser. In elk van die vele newe-afdelings word afwisselend die visie van afsonderlike karakters aangebied. So word die sielkundige verskeidenheid uitgebrei. Naamloos, die misvormde wat nie kan praat nie, se visie ontbreek aanvanklik. In die derde afdeling word hy opeens na vore gehaal as ek-verteller. Die leser word daardeur in ’n vertrouensverhouding geplaas met die sosiaal uitgestotene. So word ’n nuwe blik op die gebeure geskep. Dit geld ook in die daaropvolgende afdeling, “Bevele”, waarin die nou eweneens verminkte en gekwelde Valentyn direk aan die woord kom nadat hy deur sy verloofde, Violet, in Engeland opgespoor word. Hy is ’n ander karakter as voorheen, iemand wat homself probeer afskerm van sy vorige lewe. In die slotafdeling, “Tweesaam”, is die twee broers beurtelings in kort, afwisselende, onderdele aan die woord. Uiteindelik vertel hulle as “ons”, word hulle ook stemsgewys ’n funksionerende eenheid, ’n lewensduo.

Sonder uitdagings vir ’n vertaler is die teks nie. Die vertaler, Fanie Olivier, slaag goed daarin om dit ’n vloeiende Afrikaanse ritme te gee. In sy “Nota deur die vertaler” gaan hy in op sy behoud van bepaalde Franse uitdrukkings. Dit is om “die feit lewendig te hou” dat daar toe nog geen formele Belgiese taalgrens bestaan het nie. Hoeveel Afrikaanse lesers probleemloos ’n uitdrukking soos “une dame lunathique” (wat vervolgens verklaar word met die effens beter bekende, maar onbevredigende “femme fatale”) sal kan hanteer, bly vir my ’n vraag. Die vertaler het natuurlik ook daarmee te kampe dat taalgebruik onlosmaaklik deel is van die sfeer wat weergegee moet word. Dat dit oor ’n so sterk aan Afrikaans verwante woordeskat gaan, maak sake nie makliker nie. Soms bly die woordkeuse hier inderdaad ook te neerlandisties. Wanneer Valentyn sy weersin teen die polisie wil uitdruk, laat die vertaler hom steeds ’n “godverdomme” gebruik. Oor die geestelike toestand van sy vader voeg hy by: “Volgens my was hy reeds nie meer daar nie.” Die eerste makker wat in ’n geveg sterf, beskryf hy as slegs “’n passant”. Of die vertaler verantwoordelik is vir die slim, dubbelsinnige Afrikaanse titel, word nie genoem nie. Iemand moet egter daarmee gelukgewens word. Dit geld ook Hanli Deysel met haar voorbladontwerp.

Van kant gemaak is ’n boeiende roman wat ek hartlik in ons taal verwelkom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top