Van Dakar tot Stellenbosch 30 jaar later

  • 29

Dertig jaar later, nadat 61 Suid-Afrikaners van wie die meeste Afrikaners was, in 1987 Dakar toe is om met die ANC in gesprek te tree, het die spook van onafgehandelde sake van drie dekades weer sy kop uitgesteek tydens ’n seminaar om die Dakar-besoek van destyds te herdenk.

’n Hewige bekgeveg het die afgelope naweek tydens die laaste gesprek van die seminaar losgebars toe Breyten Breytenbach ’n knuppel in die hoenderhok gegooi het. In sy laaste toespraak het hy skerp te velde getrek teen die huidige stand van sake in die land.

Breyten Breytenbach
Foto: Naomi Bruwer

Hy is onder andere vanuit die voorsitterstoel ondersteun deur Theuns Eloff, een van die Dakariete wat destyds met die ANC in gesprek getree het en tans uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting is.

Dit is moeilik om na die naweek se Dakar-reünie wat op die Spier-landgoed buite Stellenbosch gehou is, ’n klinkklare gevolgtrekking te maak van die Dakar-beraad se gevolge en die daaropvolgende onderhandelings vir ’n demokratiese Suid-Afrika.

Vir sommige Dakariete soos Breyten Breytenbach en Theuns Eloff is die land se wiele vinnig besig om af te val as dinge so aangaan. Ander meen weer die prentjie is glad nie so donker nie.

Mense soos Hermann Giliomee, wat ’n geruime tyd al skepties is oor die uitkoms van Dakar, deel ook mense soos Breytenbach en Eloff se kommer oor veral taalregte en die vrese van minderhede wat voel hulle is nie welkom in die land nie.

Hermann Giliomee
Foto: Naomi Bruwer

Aan die ander kant van die spektrum is daar diegene soos André Odendaal, voormalige lektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, en oud-regter Johann van der Westhuizen wat luidkeels beswaar gemaak het teen Breytenbach en Eloff se stellings. Hulle meen daar moet gefokus word op nie-rassigheid en ’n beter Suid-Afrika.

Die vonk in die kruitvat was toe Breytenbach en Eloff tydens die laaste besprekingsessie skerp te velde getrek het teen, onder andere, die afskaling van Afrikaans en hulle het gewys op die vrese van minderhede in die land.

Van der Westhuizen het dit bestempel as ’n totale aanslag uit die stoel terwyl van die ander Dakariete hul gedistansieer het van sekere uitlatings wat Eloff en Breytenbach gemaak het.

Johann van der Westhuizen
Foto: Naomi Bruwer

Breyten het nie met woorde gespeel nie. Hy het onder meer na die Universiteit Stellenbosch verwys as “daardie Nazi-universiteit anderkant die bult”. Hy het later gesê hy vra verskoning en vervang die term Nazi-universiteit met Matzi-universiteit.

Hy sê die skuld kan nie net voor die deur van die ANC-regering gelê word nie. Dit is nie die ANC wat besig is om Afrikaans op Stellenbosch dood te maak nie, maar sommige akademici wat die taal daar help vermoor. Dit is niks anders as verraad nie, het hy gesê. “Ek gaan nie name noem nie, maar almal weet wie dit is”.

Eloff het dit veral gehad teen die grondwet wat nie in die praktyk nagekom word nie.

Theuns Eloff
Foto: Naomi Bruwer

“Ons is besig om uitmekaar te val,” het Breyten gesê. “Ek sal probeer om dit so helder en duidelik as moontlik te sê, maar wanneer mens dit doen, verklaar jy jouself irrelevant in die oë van sommige.”

Hy het gesê hy sal sonder enige twyfel enige tyd weer doen wat hy gedoen het as hy kon kies, maar hy deel nie die sentimente van diegene wat glo minderhede in die land moet stilbly ter wille van ’n groter saak nie.

Almal in die land is minderhede, het hy verder gesê. “Ons is sitting ducks. Word sitting ducks dan nie toegelaat om te kwaak nie?" wou hy weet. "Waarom glo ons dit is verkeerd as ons in ons eie taal praat oor dinge wat verkeerd is? Watse nonsens is dit? Wat de hel moet Afrikaanse Afrikane dan doen?" het hy gevra.

Hy het gewaarsku dat die sentrum besig is om mee te gee. Nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Daar is ’n gebrek aan morele leierskap. Dit is tyd om dit te erken en ter wille van diegene wat ná ons kom oor te begin.

“Kyk na die politiek in Frankryk en wat aangaan in Soedan, die Kongo en Egipte.” 

Volgens Breytenbach is die land verder terug as 30 jaar gelede. “Genoeg is genoeg.”

André Odendaal
Foto: Naomi Bruwer

Volgens Odendaal het die laaste gesprek van die seminaar die vorige dag se konsensus aan skerwe laat spat. “Ek kan my op geen manier daarmee vereenselwig nie.”

Die ANC-veteraan Aziz Pahad en sy broer Essop Pahad, wat ook die Dakar-reünie bygewoon het, was net so verontwaardig oor die bydraes van Eloff en Breytenbach.

Hulle het beswaar gemaak omdat die bespreking oor die saak heel laaste op die agenda was en sê daar is nie behoorlik daarvan kennis gegee nie. Essop het gesê die seminaar eindig met meer vrae as antwoorde en die laaste sprekers se bydraes was vir hom ’n teleurstelling. Hy het voorgestel dat die gesprek op ’n later stadium verder gevoer moet word.

Essop Pahad
Foto: Naomi Bruwer

Waaroor die Dakariete dit wel eens was, is dat Suid-Afrika in elk geval nie kon voortgaan op die koers van destyds nie.

Of die land hom tans bevind in ’n seisoen van herfs wat vinnig in ’n koue winter kan verander en of Suid-Afrika op die vooraand is van ’n nuwe lente is skynbaar iets waaroor daar nog lank gedebatteer sal word.

Die groep Suid-Afrikaners wat die ANC destyds onder moeilike omstandighede 30 jaar gelede in Dakar ontmoet het om die weg te help baan vir ’n nuwe Suid-Afrika was in baie opsigte dapper gewees.

Hopelik sal daar ’n nuwe geslag dapper Suid-Afrikaners na vore tree om die sake waaroor daar 30 jaar gelede nie konsensus verkry kon word nie, en steeds by baie mense spook, op ’n verbeeldingryke manier aan te pak.

Aziz Pahad
Foto: Naomi Bruwer

As Dakar se konferensiegangers van drie dekades gelede gebruik kon word om die legitimiteit van die apartheidsregime te ondermyn, kan mens maar net hoop ’n nuwe geslag kry dit reg om te keer dat die sentrum van ’n land wat onder staatskaping gebuk gaan, nie meegee soos wat Breytenbach waarsku nie.

As dit nie gebeur nie sal konferensies van die aard net soos 30 jaar gelede nie veel meer wees as gebare en simbolisme met weinig substansie nie.

Lees ook:

Die “gees” van Dakar leef voort (ook met verskille)

Martie Retief-Meiring
Menings

"Baie insigte, waarskuwings, navorsing, diep denke en selfs drome is by die konferensie/regstelling/'wake' geuiter. Die gees van Dakar blyk tog nog meer as ’n mite te wees. Die eens vermaledyde gangers is steeds, dalk steekse, tog ernstige denkers."

  • 29

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Breyten Breytenbach het nog nooit agendas gehad nie. Sy morele kompas dryf hom. Hy was en bly 'n "reus."

    Theuns Eloff tree al sterker op die voorgrond en het, op die oog af, ook so 'n "kompas" aangeskaf. Hy kan (en ek dink hy gaan) 'n al groterwordende leiersfiguur word en rol in ons land speel vorentoe ... solank hy net nie daai kompas verloor nie. Die waarheid van en oor Prof Gilliomee is dat hy nie 'n aks afwyk van dit wat hom oor die jare heen gedryf het nie. Hoekom moet en sal hy nou verander? Welgedaan aan driemanskap. Julle bied en gee hoop.

    Poilitieke affiliasies is groot by die die here van wie verder melding gemaak word. Hulle "terleurstellings" moet teen dié agtergrond beskou en as sodanig hanteer word.

  • Nou ja. Daar het jy dit.
    Dis soos 'n klomp ou toppies wat stry oor wie se wynsoort die lekkerste smaak.
    Punt is net dat hulle deel is van'n uitgediende debat. Hulle het hul dag gehad en is irrelevant in vandag se real politiek.
    Hoeveel van vandag se jonger mense stel werklik belang in wat Breytenbach, Gioliomme en kie. dink? Hulle het hul tydjie in die son gehad.
    Het hulle werklik geglo dat die verlede binne 'n paar dekades na' 94 hunky dorry sal wees? Dit was wensdenkery. Hierdie geknelde land sal nog deur baie seer gaan alvorens ons vrede kry. En miskien nooit.
    Afrikaans is my hartstaal maar dit word geen gunste bewys deur hierdie taalbulle wat bly vasklou aan drogbeelde nie.

    • Johannes Comestor

      Charl Adams bevorder darem werklik nie sy hartstaal Afrikaans met sy dwars opmerkings oor uitgediende ou toppies/taalbulle nie. In watter opsigte het hulle verkeerd? In watter opsigte vaar jong latte beter? Die verskil tussen oues en jonges is dikwels wat die ouderdom wysheid gebring het. Wat Afrikaans betref, is die waarheid dat die ouer garde in veel groter mate as die jong latte bereid is om vir die voortbestaan van Afrikaans te veg. Wees dankbaar vir wat hulle doen pleks van hulle te veroordeel.

      • Jy onderskat die enorme skade wat apartheid gedoen het. Wittes is +/- 8milj waarvan Afrikaners 5milj en die res Engels, Portugees ens. Dit los 47milj swartes. Dink jy werklik hulle gee om wat 'n handjie vol Dakariete dink? Hulle gaan die toekoms van hierdie land bepaal, nie ons nie.

    • Henri du Plessis

      Met ander woorde, jy is ook heel tevrede met wat tans aan die gang is hier in ons ou landjie, Zuptas en al. Meneer, ek weet nie aan watter agtertiet jy hang nie, maar die Rip van Winkels soos jy is so goed soos die wat met n leë emmer staan en kyk hoe sy huis afbrand en hou van die hitte. Beste wense.

  • Pierrette Rocher

    Respek in gesprekvoering. Kennis van alomvattende geskiedenis van AL die volke in SA. Kerke afwesig. Morele verval. Watter gemene grond is nodig om almal op die tafel te kry?

  • Johannes Comestor

    Onder Afrikaanssprekende blankes is daar glad te dikwels die persepsie dat om polities byderwets te wees, beteken dat jy anti-Afrikaner en anti-Afrikaans moet wees. Breyten Breytenbach toon dat so 'n standpunt nie noodwendig geldig is nie.

  • Guptas. Stukkende ekonomie. 30% werkloosheid -
    baie hoër onder jong mense. Klink soos iets wat nie werk nie.

  • Spier is vesting van die Vrymesselaars. Multi-kulture in een land word gedryf deur die Romeins Katolieke Kerk (Pous) en al sy sub-organisasies. Jy sal opmerk dat daar 'n hoofstroom van mense is wat hulle lande verlaat en na die Wit lande trek. Min gaan bly in die Derdewêreld. In die ryk Moslem-lande is daar beweging maar jy bly altyd 'n tweedehande bywoner in daardie land en jy word beperk. So nou ja. In 'n demokrasie is die uiteinde waar daar meer as een kultuur lewe dat daar 'n resies ontstaan tussen die kulture of rasse om te oorheers.

  • As mens nie self daar was nie en nie eerstehands die nuanses en konteks waarin dinge gesê is aangehoor het nie, kan mens nie regtig die stellings wat aangehaal word kritiseer nie. In die algemeen egter die volgende:
    Die land se wiele val nou nog nie regtig af nie, maar ons is goed op pad na 'n Low-Middle Road situasie, vergelykbaar met iets soos Nigerië. Die grootste enkele probleem wat nie 'n Cyril Ramaphosa of selfs 'n engeltjie in ANC- of DA-kleure maklik gaan beredder nie is die "colour-coded wealth gap". Buiten die omvang daarvan is dit 'n vrek handige politieke wapen en weerligafleier. Die groot fout wat na 1994 gemaak is, was om nie 'n ekonomiese Kodesa tussen regering en groot besigheid te hou nie. Die euforie van daardie tyd moet seker die skuld kry. Is dit nou te laat? Ek weet nie, maar dit sal 'n man op 'n perd vat om so-iets werklik produktief van die grond af te kry.
    Ons gaan nog baie Coligny's, brandende stadsale en kampusonrus sien.
    Ons veelgeroemde grondwet word nie respekteer nie en die druk vir ingrypende wysigings gaan toeneem. Daarbenewens word die letter daarvan heeltemal te veel getoets en die beginsels omseil.
    Wat die taalkwessie betref was die Kodesa-kompromis 'n merske fout. Die amptelike taal moes Engels gewees het met moedertaalonderrig vir iets soos die eerste sewe jaar. Staatsbefondsde tersiêre onderrig in SA in enige ander taal as Engels is wensdinkery. Die volk het genoeg kritiese massa om self na die taal te kyk.
    Die realiteit is ook dat 'n klomp van die witmense en spesifiek die Afrikanervolk se kuikentjies besig is om huis toe te kom. Vir elke eensydige kreet van verontregting uit wit geledere is daar meestal 'n teenargument wat wyd aanklank vind.

  • Aryeh Barenboim

    Ek hou hierdie verwikkelinge jare lank dop hoe Suid Afrika van 'n "Dutch-based" gemeenskap tot 'n holistiese gemeenskap ontwikkel het. Jan Smuts het hierdie beginsel van Holisme reeds 100 jaar gelede op die tafel gesit. Hierdie groter-wordende-eenheid het sy beslag gevind in die Unie van SA in 1910. Dit het veroorsaak dat die ANC en SAKP saam met die Dutch en Engelse, politieke teorieë begin ontwikkel en vorm aangeneem het.
    Die SAKP en ANC 80 jaar moes wag om deel te word van die bestel. Holisme is die roepstem van die nuwe liberale wêreld (veral na die verval van die USSR) Die Holisme of soos dit vandag genoem word -Globalisering- is 'n wêreldwye eksperiment wat konstant geboortepyne ervaar, hetsy in Griekeland, Brexit, Le Pen of in Skotland en die EU. SA is die proefkonyn van die eksperiment.
    Die probleem wat die "Dakar-mense" vandag ervaar was hulle naïewe benadering tot Dakar . Miskien eerder 'n kinderlike naïewe droom. SA was reeds tydens en voor-apartheid deur die globaliste beheer en besit. Mr Zuma is heeltemal korrek vandag as hy na die "white minority capital" verwys wat die land beheer en ook die ekonomiese welstand van die land in die toekoms gaan bepaal. Reeds met Rhodes en met die voltrekking van die Oppenheimer en JP Morgan ekonomiese kaping voor 1910 het dit nie saak gemaak wie die land beheer nie. 'n Baie goeie voorbeeld is (was) die Goud- en Diamanttak van die destydse SAP wat net die belange van die Oppenheimers en JP Morgan beskerm het ten koste van die welvaart van die gemeemskap. Die hoogtepunt van die kaping was in die jare 70’s toe 1000 ton goud per jaar geproduseer was. Die goud het die land verlaat. Wat agtergebly het was ’n Stirling wat reeds in die begin van die 1930’s ontbondel was en die pad gebaan het vir die verswakking van die ZAR vandag.
    Afrikaans is ’n minderheidstaal wat geen nut het in die holistiese wêreld. Die geveg wat Breytenbach nou voer het hy reeds verloor in Dakar. As Breytenbach of Eloff gedink het hulle Damaskus-belewenis gaan lei to ’n nuwe tuin van Eden was hulle blootweg naïef.
    Die SAKP en ANC was gestig, befonds, beskerm en bemark deur die Rhodes, Oppenheimer en JP Morgan kabaal. In die kabaal is daar geen plek vir die emosies oor Afrikaans. Die selfde kabaal beheer en reguleer holisme, finansieel en polities.
    As julle taalsoldate wil veg vir Afrikaans moet julle eerder kyk of die regte eienaars van die land dit gaan toelaat. Om nou heimwee van verlange na die Taal te kraai is eerder kognitiewe dissonansie.

    • Dis duidelik jyself kan nie eens Afrikaans praat nie. In Afrikaans gebruik ons die dubbele ontkenning. Nie ... nie.

  • Basie jordaan

    So eenvoudig en tog sukkel ons daarmee! Dit gaan alles oor een ding! Ek sien dit in verskeie industrieë. As daai een ding weg gevat word dan val al die argumente en alle probleme plat! Raai wat dit is ...

  • My gatvolheidsvlak vir al hierdie 'kenners' is hemelhoog. Selfaangestelde intellektueles wie skokkend naïef was. En nou wil hulle nog steeds adviseer? Geen wonder die populiste staan wêreldwyd op nie want die 'kenners' leef op ander planete.

  • Wilhelm Fourie

    Ek, Afrikaner van middel-30, stem absoluut met Breyten saam. Waarom mag "sitting ducks" niks sê nie? Ek wil 'n bydrae lewer tot die land en maak my kinders as lojale Suid-Afrikaners groot. Dit is hulle wat nog 70 jaar hier "sitting ducks" gaan wees. Ons is 'n land van minderhede en moet dit wat vir mekaar belangrik is respekteer. Vir die Afrikaanssprekendes is dit ons taal. Ek respekteer Xhosa-tradisies ook. Hoekom kan die Afrikaanssprekendes nie toegelaat word om die besondere (nie bevoorreg bo andere nie!) rol te speel wat die Jode in baie Europese lande gespeel het nie?

  • Chris du Plessis

    Frans Cronje, hoof van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge het in ’n artikel in Maroela-media onlangs gesê dat "wittes sal verdwyn uit SA teen die middel van die eeu".
    Dit is die bottom-line van al hierdie aksies.

    • Wilhelm Fourie

      Chris, jy vereenvoudig darem bietjie sy argument. Die pers het opskrifte met woorde soos "verdwyn" gekies om die koerante te laat verkoop. Volgens die prognoses wat hy aanhaal gaan daar nog steeds meer blankes in SA wees as heelwat ander minderheidsgroepe (wat beslis 'n rol speel) vandag. Verder het 'n statistikus aan my verduidelik waarom prognoses so moeilik en onakkuraat is: Indien 'n mens met die aannames (wat gemaak word om die bevolkingsamestelling oor, bv 50 jaar vanaf 2017 te bepaal) vandag se bevolkingsamestelling met 1967 se data "voorspel" is 'n mens nogal redelik ver uit ...

  • Marietjie Luyt

    Johann van der Westhuizen is nie verniet verontwaardig oor Breytenbach se opmerkings dat dit Afrikaanse akademici is wat self die taal ondergrawe nie: dit was immers hy wat as voorsitter van 'n komitee wat Tuks se taalbeleid moes bepaal, skynbaar heel gemaklik besluit het dat Afrikaans maar uit die lesingsale moet waai.
    Ek het Van der Westhuizen juis by 'n openbare ontbytpraatjie by Tuks sydelings hieroor hoor praat. As ek reg onthou, was die tema van sy betoog so min of meer dat studente nie hul menings met geweld op die universiteit moet probeer afdwing nie. (Die EFF het juis in die weke vooraf gereeld amok op die kampus gemaak, met dreigende uitsprake dat hulle nie Afrikaans of Afrikaners op die kampus soek nie. Ten spyte van Van der Westhuizen se standpunt, het hy toe nietemin dié klompie "Bruinhemde" heel maklik hulle sin gegee, en aangekondig dat alles voortaan net Engels, alles Engels sou wees.)
    Dit lyk my mense wat daarvan hou om mag uit te oefen, dit graag wil laat lyk asof die besluite wat hulle neem, onafwendbaar is. Dit is natuurlik "onafwendbaar" as jy as priori besluit het dat insluiting in die binnekring - daar waar "konsensus" vervaardig word - eintlik maar al is wat tel.

  • Om Afrikaans prys te gee sal nie 'n aks verander aan die gemors waarin die land verkeer nie. Inteendeel, dit sal ons net verder verarm. Juis daarom moet ons alles in ons vermoë doen om die taal te behou en uit te bou. Dit is 'n onvervangbare bate vir al die mense van die land - beslis nie net vir Afrikaners nie.

  • Dit is baie belangrik dat enige mens 'n standpunt moet hê, maar ons leef in 'n era waar ons nie almal bereid is om te gee en te neem nie en meer belangrik, te deel nie. Meeste van ons plant landmyne deur ongeverifieerde inligting te verkondig. Die ouer garde het gefaal as ek die huidige situasie in ons land evalueer. Hulle ontneem die jeug van onafhanklikheid, 'n gesonde ekonomie en vrede. Ons het die laaste afgrond bereik. Gaan ons saam staan en saam bou of gaan ons in die laaste loopgrawe lê?

  • Marie (van Rooyen) Sweetnam

    Dit lyk vir my of hierdie hele taalkwessie omtrent is soos die seuntjie wat met sy vingertjie in die gaatjie van die Hollandse dyk gesit het - maar vir hom het daar weldra hulp gekom, en so is Nederland nog vandag veilig met hulle dyke teen die woede van die see. Maar of ons dit in hierdie (nou) so droewige land sal kry en beleef, dit betwyfel ek baie sterk.

  • André Badenhorst

    So die beswaarders sê: "daar moet gefokus word op nie-rassigheid en ’n beter Suid-Afrika".

    Sjoe, ek dog die beskerming teen noodwendige meerderheidsvergrype (daar waar die kollektiwisme oorgaan na tolitarisme) is 'n internasionaal-erkende meganisme om dit juis teë te werk.

    Dit wys jou maar net dat sommige van ons nog in die heerlikheid van Lalaland verkeer, of jy nou 'n oud grondwethofregter, 'n ouskool-liberaal, of 'n Gupta-bevriende Pahad is.

  • Die doodsklok het lankal vir SA en vir Afrikaans gelui ... Soos in Jeremia se tyd sal die volk dit nie glo, voor die laaste Wit Afrikaner op 'n vlugtelingskip geklim het om uit die afgebrande oorblyfsels van Azania te ontsnap nie. Die Dakariete se debatte gaan daar niks aan verander nie.

    • Nou waarheen sal ons dan trek Thomas? Dixie land dalk?
      Oh, I wish I was in the land of cotton,
      Old times there are not forgotten,
      Look away, look away, look away Dixie Land.

      In Dixie Land, where I was born in,
      early on one frosty mornin',
      Look away, look away, look away Dixie Land.

      I wish I was in Dixie, Hooray! Hooray!
      In Dixie Land I'll take my stand
      to live and die in Dixie.
      Away, away, away down south in Dixie.
      Away, away, away down south in Dixie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top