Valse vriende – die gevaarlike avontuur van vertaal uit Nederlands

  • 0

Sedert menseheugenis – dit wil sê vandat ek kon lees – het daar in my ouerhuis ’n geraamde spreuk gehang. Op swart satyn in goud geborduur het daar gestaan: “Gezelligheid kent geen tijd.” Dit was ’n geskenk uit Nederland van my pa se broer wat in die vyftigerjare klassieke tale aan die Universiteit van Utrecht gestudeer het. Dit was my heel eerste kennismaking met Nederlands. Al kon ek die betekenis onmiddellik snap, was die spelling, die grammatika en die lewenshouding van dié swierige woorde vir my vreemd.

In Afrikaans sou dié spreuk só klink: “Geselligheid ken nie tyd nie”, of meer idiomaties: “Geselligheid steur hom nie aan tyd nie.” Maar met die Afrikaanse dubbele negatief gaan die bondige trefkrag van dié rymende spreuk verlore. Dat hierdie einste dubbele negatief my jare later as vertaler dikwels ’n skeelhoofpyn sou besorg, kon ek tóé natuurlik nie weet nie. En wat daardie so kernagtig geformuleerde lewenshouding betref: in die geroetineerde Gereformeerde pastorie waarin ek grootgeword het, was daar beslis nie veel tyd vir geselligheid nie. Baie jare later eers sou ek besef dat hierdie spreuk sy oorsprong heel waarskynlik in die gemoedelike, Katolieke suide van die Lae Lande moes gehad het, eerder as in die Calvinistiese, strenge noorde. Ek weet dat ek my hier aan ongeoorloofde stereotipering skuldig maak, maar ek sal dit later nuanseer.

My eerste bewuste kennismaking met die Nederlandse literatuur was in die jaar 1964. Ek was toe nege jaar oud en die boek was die Afrikaanse vertaling van die Vlaamse skrywer Leopold Vermeiren se Die Rooi Ridder. Dit begin só:

Die silwer klanke van die trompette sny deur die môrelug. Die swaar valbrug word neergelaat oor die breë kasteelgrag, en die jong Oerold, groot en sterk, ry op sy pikswart perd deur die poort. Hy hou ’n oomblik die teuels in. In die ooste lê die son nog jonk en rooi, suidwaarts strek die vrugbare lae polderland, en in die weste, anderkant die rivier wat die hele laagland in twee sny, lê die geweldige groot Dagonwoud.

Dae lank het dié adjektiefryke Middeleeuse wêreld my geboei – dáár in die afgeleë, snikhete, droë Namibië waar ek grootgeword het. Per kerende pos het ek aangesluit by die “Orde van die Rooi Ridder” – die skrik van die wrede kasteelhere, maar die vriend en beskermer van die armes. Ek het ook die res van die reeks verslind, met my lapelwapentjie (’n eiketakkie met drie akkers) trots op my bors vasgesteek. Totdat die reeks abrup en sonder verduideliking in die middel van die Rooi Ridder se avonture as Kruisvaarder onderbreek is. Vir al wat ek weet, dool hy nog altyd in Palestina rond en hunker hy vol heimwee terug na België!

In die “Ou Suid-Afrika”, waarvan Namibië (oftewel Suidwes-Afrika) deel uitgemaak het, moes hoërskoolleerlinge ’n Nederlandse boek lees as deel van die vak Afrikaans. Ons voorgeskrewe boek in die vroeë sewentigerjare was Aart van der Leeuw se De kleine Rudolf. Van die verhaal onthou ek byna niks meer nie. Veel Nederlands het dit my ook nie geleer nie, omdat ons onderwyser die boek al voorlesende in Afrikaans vertaal het. Die literatuurhistorikus GPM Knuvelder slaan die styl van hierdie boek nogal hoog aan: “… onder de pen van deze auteur gaat ook de taal bloeien, krijgen de woorden klank en kleur, dragen de zinnen zich voort op een bekoorlijk ritme.” Van dié klank, kleur en ritme het ons uiteraard niks gemerk nie. Die onderwyser het nooit ’n woordeboek geraadpleeg nie, en was sekerlik ook onbewus van die tallose valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands. Ek is heeltemal daarvan oortuig dat hy op dié manier ’n alternatiewe verhaal geskep het. Vandag sou ’n mens dit seker ’n postmodernistiese leesstrategie kon noem.

Dit was eers aan die Universiteit van Stellenbosch dat ek werklik met die Nederlandse letterkunde kennis gemaak het – in lesings aangebied deur professore wat in Nederland gestudeer het in die dae van onbelemmerde kulturele uitwisseling. Die bekendste van hulle was ongetwyfeld prof WEG Louw, die digter, en broer van NP van Wyk Louw. Hy het vanaf 1935 tot 1939 aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer en het perfekte Nederlands gepraat.

’n Mens kan nie oor die kontak en wisselwerking tussen Afrikaans en Nederlands praat sonder om na die kultuurverdrae tussen Suid-Afrika en die Lae Lande te verwys nie. Die akkoord tussen Suid-Afrika en Nederland is in 1951 onderteken, en dié tussen Suid-Afrika en België in 1954 – die jaar voor my geboorte. Dit het voorsiening gemaak vir groter samewerking op geestelike, artistieke, wetenskaplike, opvoedkundige en tegniese gebied. In die jare sewentig en tagtig het die akkoord egter ’n stormagtige tyd binnegegaan wat gekenmerk is deur vervreemding, antagonisme en selfs by tye ’n openlike vyandigheid – veral tussen Nederlanders en Afrikaners. Die ANC en die Anti-Apartheidsbeweging Nederland (AABN) het ’n voortgaande veldtog gevoer teen die wyse waarop die bepalings van die verdrag uitgevoer is. Die Nederlandse regering het gevolglik in 1977 besluit om die verdrag te bevries. In 1981 is dit offisieel opgesê. Die Belgiese regering het eweneens in 1977 die kulturele akkoord met Suid-Afrika opgeskort, hoewel dit nooit volledig opgesê is nie. Dit het ’n einde gemaak aan die kulturele en wetenskaplike samewerking tussen die betrokke regerings.

Wel het daar nog beperkte kontak bestaan tussen die universiteite, uitgewers en ander instansies. Hoewel die Nederlandse taal- en letterkunde gedurende die tagtigerjare nog aan al die universiteite onderrig is, het Nederlands geweldig veld verloor in Suid-Afrika. Nederlands het vir Afrikaanssprekendes ’n vreemde taal geword. In die jare wat Suid-Afrika kultureel deur die Lae Lande geboikot is, was daar egter nooit ’n gebrek aan leesstof, televisiemateriaal en musiek uit die VSA nie. Min Suid-Afrikaanse studente het in die boikotjare die geleentheid gehad om in Nederland en Vlaandere te studeer. Hulle het wel ’n heenkome in Brittanje of die VSA gevind. Die verengelsingingsproses van die Suid-Afrikaanse samelewing is ongetwyfeld deur die verbreking van die bande met die Lae Lande verhaas, hoewel dit nie die enigste of selfs belangrikste rede was nie.

Nederlandse boeke was moeilik bekombaar in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse uitgewer Human & Rousseau se reeks “Literatuur van die Lae Lande”, wat op die universiteitsmark gerig was, is in die laat tagtigerjare gestaak weens ’n afname van studentegetalle in Nederlandse Letterkunde-kursusse. (Terloops, vanweë die kulturele boikot het dié reeks opvallende leemtes ten opsigte van moderne outeurs vertoon. Louis Paul Boon, Harry Mulisch, Jan Wolkers, J Bernlef, Cees Noteboom, om slegs enkeles te noem, het geweier om opgeneem te word. Mense soos WF Hermans, Gerard Reve, Hugo Claus, Hella Haasse en Hubert Lampo het hulle egter nie laat intimideer nie en kom almal in die reeks voor.)

In 1994 het Suid-Afrika ’n ware demokrasie geword en is alle boikotte teen die land opgehef. Ondanks die ondertekening van ’n nuwe kultuurverdrag op 30 September 1996 met Nederland en op 28 Oktober 1996 met Vlaandere is daar nog steeds bitter min Nederlandse publikasies in boekwinkels en openbare biblioteke beskikbaar. Universiteitsbiblioteke het in die meeste gevalle ’n afdeling Nederlandse literatuur, asook taal- en letterkunde. Hoe gereeld dit nog aangevul word, is wel ’n vraag.

In Kaapstad is daar ’n goeie Nederlandse biblioteek wat gehuisves is in die Huis der Nederlanden. Daar word selfs beweer dat dit die grootste versameling Nederlandstalige boeke in die Suidelike Halfrond is! Maar dit is net bereikbaar vir mense in die Kaapse Skiereiland en die Boland. Die televisiestasie BVN (Beste van Vlaandere en Nederland) kan op Suid-Afrika se satelliet-betaalkanaal (DStv) opgevang word.

Nederlandse en Vlaamse skrywers en dans- en teatergroepe besoek die Suid-Afrikaanse kunstefeeste van tyd tot tyd. So ook Herman van Veen, Stef Bos en Dana Winner. En dit is omtrent die somtotaal van die Lae Lande se nie-akademiese, kulturele penetrasie in Suid-Afrika.

Ten opsigte van akademiese kontak speel die Nederlandse Taalunie ’n belangrike rol. Verder het sowel Nederland as Vlaandere ’n fonds vir die subsidiëring van vertalings. Daarsonder sou nie ’n enkele boek uit die Lae Lande in Afrikaans vertaal kon word nie, aangesien die plaaslike uitgewers nie die risiko van ’n potensieel swak verkoper wil loop nie.

Maar nou weer terug na die boikotjare. Ondanks die offisiële opskorting van die kulturele betrekkinge tussen België en Suid-Afrika is ek toegelaat om in 1983 aan die Katholieke Universiteit van Leuven te studeer. Ek was destyds ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, en daar het ’n informele skakeling tussen die twee universiteite bestaan. Een van die hoogtepunte vir my daardie jaar was die Antwerpse Boekebeurs, “Het andere boek”, waar ek die pas vrygelate Breyten Breytenbach in ’n vraaggesprek sien optree het. (Breytenbach is die voorafgaande sewe jaar in gevangenisse in Suid-Afrika aangehou weens beweerde “terroristiese bedrywighede.”) Die gespreksleier was die digter en joernalis Herman de Coninck. By dieselfde boekebeurs het ’n baie jong, bekkige en rebelse Tom Lanoye sy gedigte “perform”.

Nooit het ek tóé kon dink dat ek twaalf jaar later Herman de Coninck én Tom Lanoye in Afrikaans sou vertaal nie. Ná hierdie twee Vlaminge het ek ook die Nederlanders Herman van Veen, Harry Mulisch, Gerrit Komrij en Karel Glastra Van Loon vertaal. En ter wille van die Noord-Suid-balans toe weer ’n Vlaming: David van Reybrouck. Met die uitsondering van Mulisch het al dié skrywers Suid-Afrika met die bekendstelling van die vertalings besoek. Intussen het ook Antjie Krog, Abraham H de Vries en Hennie van Coller tekste van Tom Lanoye, Henk van Woerden, Adriaan van Dis en Luuk Gruwez in Afrikaans oorgesit.

Maar is dit hoegenaamd nodig om vanuit Nederlands in Afrikaans te vertaal? Die tale is tog wedersyds verstaanbaar, hoor ’n mens dikwels. Veral die Afrikaanse leser behoort sonder veel moeite ’n Nederlandse teks te kan lees, omdat Nederlands glo die grootste deel van die Afrikaanssprekende se historiese taalbewussyn uitmaak.

Ongelukkig het hierdie romantiese opvatting weinig met die werklikheid te doen. Die lees- en begripsversperrings wat die Nederlandse taal vir Afrikaanse lesers oplewer, is legio. Ek noem enkele van dié slaggate.

1. Nederlands het ’n groter aktiewe woordeskat as Afrikaans, onder meer as gevolg van die verskille tussen “Noord-Nederlands” en “Suid-Nederlands” of “Vlaams”.

2. Identiese woorde en uitdrukkings het dikwels verskillende en selfs teenoorgestelde betekenisse in die twee tale – die sogenaamde valse vriende. (Afrikaanse literatuur beteken in Nederlands byvoorbeeld “literatuur van Afrika”; in Afrikaans is dit “literatuur in die taal Afrikaans”. Andersins praat ons van “Afrika-literatuur”. Die Afrikaanse woord vaak beteken “slaperig”, soos in “Klaas Vaak”; die Nederlandse vaak is dikwels in Afrikaans. Die woord aardig beteken in Nederlands “aangenaam”; in Afrikaans beteken dit “onaangenaam”. Enso-eindeloos-voort.)

3. Al vorm Nederlands die fonologiese, leksikale en sintaktiese basis van Afrikaans, het ons taal ander inheemse én uitheemse invloede ondergaan – onder meer van Maleis, Khoi, die Nguni-tale en die Sotho-tale. Daarom sê ons in Afrikaans baie (Maleis) in plaas van veel of zeer; kierie (Khoi) in plaas van staf; gramadoelas (Nguni) in plaas van rimboe. Die genoemde Nederlandse woorde klink vir die Afrikaanse oor óf vreemd óf argaïes. Die grootste invloed gaan egter van Engels uit, wat Afrikaans tot in sy idiomatiese, Dietse kern aantas. Die anglisering van Afrikaans is ’n voortgaande, skynbaar onkeerbare proses. Die Nederlandssprekendes leen ook alte graag uit Engels, maar dit is beperk tot die woordeskat – die idioom van die taal bly onaangetas.

4. Afrikaanse lesers herken selde die Nederlandse imperfek, omdat Afrikaans nie die onvoltooide verlede tyd het nie. (Afrikaans ken slegs die perfek, behalwe in die geval van enkele hulpwerkwoorde: is – was, wil – wou, sal – sou, kan – kon, het – had.) En die imperfek is die normale tyd waarin die meeste Nederlandse literêre tekste geskryf word. In Afrikaans is die normale verteltyd die historiese presens, omdat die het ge- van die voltooide verlede tyd so lomp is.

5. Of ze/zij op hulle (meervoud) of sy (enkelvoud, vroulik) dui, kan alleen afgelei word van die werkwoordsvorm. Aangesien Afrikaanse werkwoorde nie vervoeg nie, ontgaan die betekenis van so ’n sin die meeste Afrikaanse lesers. (Met ander woorde: zij zijn/waren = hulle is/was; zij is/was = sy is/was.)

6. Daar is talle Nederlandse idiome en uitdrukkings wat glad nie in Afrikaans voorkom nie. (Omgekeerd uiteraard ook.)

7. Daar bestaan geen omvattende vertalende woordeboek vir die twee tale nie. En selfs al verskyn daar hopelik binnekort so een, sal dit die leser in die geval van skynbaar bekende woorde nie help nie. Die aard van valse vriende is juis dat hulle nie as sodanig herkenbaar is nie!

As ’n Afrikaanse leser toegang wil verkry tot die ryk Nederlandse literatuur, moet dit noodsaaklikerwys deur middel van vertalings geskied. Selfs al was Nederlandse boeke vryer beskikbaar in Suid-Afrika, sou dit in ’n groot mate onleesbaar bly vir die gewone leser. Dit is die droewige realiteit.

Ons dra wedersyds skuld aan die vervreemding tussen Afrikaans en Nederlands – die Afrikaner met sy onvergeeflike apartheidspolitiek en die Nederlandstaliges met hulle kontraproduktiewe kultuurboikot. Maar dié ongelukkige toestande lê al byna ’n dekade in die verlede. Die grense is nou wawyd oop – selfs al kos ’n Schengen-visum deesdae 60 euro!

“Gezelligheid kent geen tijd,” sê die Nederlandse spreuk. En ná my jaar lange studieverblyf in Leuven was ek daarvan oortuig dat hierdie lewensmotto sy oorsprong in nonchalante, gemoedelike Vlaandere gehad het. Maar hoe misleidend stereotipering kan wees, het ek ook in Vlaandere uitgevind. ’n Paar jaar gelede woon ek ’n vertalerswerkswinkel by wat deur die Nederlandse Taalunie georganiseer is en wat in Nederland én België plaasgevind het. In ’n lesing oor die kultuurverskille tussen Noord en Suid beweer die spreker dat Nederlanders absolute stiptelikheid van ’n mens verwag. Maar as jy in Vlaandere na iemand se huis genooi word en jy klop betyds aan, is die huismense heeltemal onkant betrap. Die gasheer het dan nog sy pantoffels aan en die gasvrou staan in haar voorskoot voor die stoof. In Vlaandere is dit goeie maniere om minstens ’n halfuur laat te wees, verseker daardie kultuurkenner ons. Tydens die Belgiese been van die werkswinkels word ek vir aandete uitgenooi na die huis van die radioman Jean-Pierre Rondas. Die afgespreekte tyd is sewe-uur. Met my nuutgevonde kennis sit ek op die Concience-plein in Antwerpen en wag tot om halfagt voor ek aanlui. Mevrou Rondas maak die deur oop en is baie verlig om my te sien – want Jean-Pierre ry al ’n halfuur lank op sy fiets rond op soek na my. Hy dag ek het verdwaal!

Nou wil ek vir u prakties demonstreer watter uitdagings vertaalwerk uit Nederlands na Afrikaans skep. Dit is die maklikste om dit aan die hand van gedigte te doen. Die eerste voorbeeld kom uit my vertaling van ’n keuse uit die Vlaming Herman de Coninck se vroeë gedigte, wat in 1996 uitgegee is onder die titel Liefde, miskien. Ek lees eers die oorspronklike Nederlandse vers en dan die Afrikaanse weergawe:

Middenin de vlakte van juli
kwam ik je tegen. Ik woon hier, zei je.
Ik keek naar de bloemen. Ja, dat zie ik,
zei ik, en waar leerde je de kunst
om niet lang te duren? Ook hier, zei je.

Je was lenig; en je woorden waren zo
doorschijnend, ik kon je er helemaal
door zien.
En daar lag ik al in het gras
en wat hield ik in mijn hand?
Een oortje, waarin ik het lange woord
“lieveling” uitgoot, zonder morsen.

En nou die Afrikaans:

Midde in die vlakte van Julie
kom ek jou toe teë. Ek woon hier, sê jy.
Ek kyk na die blomme. Ja, dit sien ek,
sê ek, en waar leer jy die kuns
van kortstondigheid? Ook hier, sê jy.

Jy was lenig; en jou woorde was so
deurskynend, ek kon jou heeltemal
deur hulle sien.
En daar lê ek toe in die gras
en wat hou ek in my hand?
’n Oortjie, waarin ek die lang woord
“lieweling” uitgiet, sonder om te mors.

Die opvallendste verskil tussen die twee tekste is dat die eerste in die onvoltooide verlede tyd, die imperfek, geskryf is; die tweede is in die teenwoordige tyd, die presens. Ek hét al gewys op die lompheid van die Afrikaanse verledetydsvorm, omdat ons slegs die voltooide verlede tyd, die perfek, ken. Die eerste sin van hierdie gedig moes streng gesproke só gelui het:

Midde in die vlakte van Julie
het ek jou teëgekom.

Ritmies is dit sonder energie of spankrag vanweë daardie het … ge-. Gelukkig is dit die aanvaarde gebruik in Afrikaans om die teenwoordige tyd, die sogenaamde historiese presens, te gebruik wanneer ’n verhaal vertel word. Verder kan die verlede deur ’n voegwoord soos toe aangedui word, wat ek toe ook gedoen het:

Midde in die vlakte van Julie
kom ek jou toe teë.

In die Nederlandse reëls is daar ’n herhaling van die a-klank in die woorde vlakte en kwam. Hierdie assonansie gaan in die Afrikaans verlore, maar word voor vergoed deur die allitererende toe en teë. Die vertaalde reëls boet dus nie aan klankrykheid in nie. (Dit is ’n erkende beginsel in die vertaalkunde: vir elke verlies moet daar gekompenseer word – en verkieslik op dieselfde taalvlak, hetsy fonologies, leksikaal, sintakties of metafories.)

Afrikaans is, benewens die perfek, opgesaal met nog ’n lomp konstruksie: die dubbele negatief. In De Coninck se gedig loop die vertaler hom gelukkig net een maal in ’n negatiewe stelwyse vas:

en waar leerde je de kunst
om niet lang te duren?

staan daar in die eerste strofe. Die letterlike vertaling is ritmies energieloos:

en waar leer jy die kuns
om nie lank te duur nie?

Dit klink veel treffender as ’n mens die negatiewe stelwyse omswaai na ’n positiewe:

en waar leer jy die kuns
van kortstondigheid?

Die verlore l-alliterasie van die oorspronklike (leerde … lang) word voor vergoed deur die herhaling van die k in kuns en kortstondigheid.

Tot sover die Vlaamse voorbeeld.

Die gedigte van die Nederlander Gerrit Komrij het ’n bykomende uitdaging gebied – ’n uitdaging op die terrein van die versvorm. De Coninck se gedigte is redelik vry van vorm, selfs ook as hy sonnette skryf. Daarteenoor skryf Komrij streng formele verse waarin hy die lettergrepe tel sodat al die versreëls presies ewe lank is. Verder rym sy gedigte volgens ’n vaste patroon. Om van hierdie vorm af te wyk sou vir enige ernstige vertaler heiligskennis wees.

Sodra ’n mens lettergrepe begin tel, kom jy agter dat Afrikaanse woorde meestal korter is as die Nederlandse vanweë die talle en-uitgange in Nederlands. In Afrikaans verloor ons dikwels ook ’n lettergreep deur die wegval (elisie) van die tussenvokaliese konsonant. So word byvoorbeeld die tweelettergrepige leder én leger die eenlettergrepige leer en leër.) En dit besorg die vertaler baie gou ’n sillabiese kopseer. Aan die ander kant het die dubbele negatief in Afrikaans weer ’n lettergreep te veel tot gevolg – en boonop een wat telkens aan die einde van die sin in rymposisie beland!

Ter opheldering van wat ek so pas gesê het, gee ek ’n voorbeeld uit my vertaling van ’n keuse uit Gerrit Komrij se gedigte. Dit is in 2005 deur Protea Boekhuis gepubliseer as Die elektries gelaaide hand. Die gedig “Contragewicht” is ’n sonnet met ’n vaste rymskema en elkeen van die 14 versreëls het 10 lettergrepe met ’n jambiese metrum. Die gedig bestaan dus uit presies 140 lettergrepe. Ek haal net die tweede strofe aan:

Want waar ek heenga voel ik me niet thuis
En waar ik tuis ben wil ik telkens weg.
De grens wordt smal tussen geluk en kruis,
Steeds minder denk ik wat ik hardop zeg.

Hierdie strofe het drie struikelblokke gebied: die negatiewe stelwyse, die rympatroon en die metrum. In die eerste reël staan daar letterlik:

Want waarheen ek gaan, voel ek nie tuis nie.

Só vertaal, beslaan die reël presies tien lettergrepe, maar die ritme haper en dit is byna onmoontlik – in elk geval onwenslik – om op daardie onbeklemtoonde nie aan die einde van die reël te rym. Maar gelukkig kan ’n mens nie tuis nie ook as ontuis weergee. Daarmee is een rymprobleem sommer ook opgelos (in Afrikaans rym tuis ook met kruis), maar nou kort die reël een sillabe. Dit is maklik oplosbaar deur die stopwoordjie daar in te voeg. En siedaar, ’n volmaakte versreël:

Want waarheen ek gaan, daar voel ek ontuis.

Nee, nie heeltemal volmaak nie, want ek kon nie die jambiese metrum nadoen nie:

Want wáár ik héénga vóél ik mé niet thúís.
(Ta tam / ta tam / ta tam / ta tam / ta tam)

Maar in dié opsig moes ek die stryd gewonne gee. Die meeste moderne poësielesers is – gelukkig vir die vertaler – skaars van die metrum bewus, dit wil sê van die kunsmatige klempatroon wat onder die normale spraakritme skuilgaan.

Die rympatroon het in die vierde versreël nóg ’n strik gestel: zeg rym daar op weg. In Afrikaans behoort daar te staan:

Steeds minder dink ek wat ek hardop sê.

Maar sê rym natuurlik nie met weg nie, daarom moes ek dié reël heeltemal herskryf. Uiteindelik het my vertaling soos volg geklink (let op dat ek die jambiese metrum in minstens reëls 2 en 3 kon behou):

Want waarheen ek gaan, daar voel ek ontuis
En as ek tuis is, wil ek gou weer weg.
Die grens vervaag tussen geluk en kruis,
En wat ek dink, klink in my mond oneg.

Vertaling vanuit een taal na ’n ander behels veel meer as net taal- en vormkwessies. Daar is ook kulturele aspekte wat moeilik oorgedra kan word, of glad nie. Soms moet vertalers hulle toevlug noodgedwonge tot voetnote of verklarende aantekeninge neem. By die vertaling van tekste uit die klassieke oudheid is dit selfs onvermydelik. By moderne tekste sal die vertaler eerder so onopsigtelik as moontlik verklarend probeer vertaal, omdat voetnote en aantekeninge die nie-akademiese leser kan afskrik. Dit is ’n saak waaroor ’n mens uitgebreid sou kon uitwei.

Ek volstaan egter en sluit af met ’n enkele voorbeeld. Een van Herman de Coninck se gedigte het ek soos volg vertaal.

Denkend aan vroeëre gedigte

Ons was jonk, ons het die taal
soos ’n perd bestyg en uitdagend
oor die velde gery, lasso’s
van woorde geslinger na alles
wat ons wou verower. O,
dit was dolle roekelose ritte. Wees tog
maar versigtig, het die kritici agter ons aan geroep.

En saans het die taal nog gestaan en natril,
op stal in ’n gedig, runnikend
van heimwee na die maan
en na die verste betekenisse.

In die oorspronklike het daar in plaas van die kritici ’n persoonsnaam gestaan: Kees Fens. Fens was ’n baie bekende en invloedryke Nederlandse literêre kritikus. Dit sou egter onregverdig wees om te verwag dat die deursnee Afrikaanse leser dit moet weet. Vandaar my verklarende, voetnootlose vertaling: die kritici.

Daniel Hugo
Uitvoerende Direkteur: Huis der Nederlanden

Bibliografie

De Coninck, Herman. 1996. Liefde, miskien. Uit die Nederlands vertaal deur Daniel Hugo. Kaapstad: 1996.

Hugo, Daniel. 1997. “Boeke-aanbod só vergroot”. Afrikaans Vandag. Junie 1997.

—. 1998 “Nederlandse literatuur in Afrikaanse vertaling”. Filter, September 1998.

Knuvelder, GPM. 1974. Beknopt handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde. Malmberg Den Bosch. Sesde druk.

Komrij, Gerrit. 2005. Die elektries gelaaide hand. Gedigte vertaal deur Daniel Hugo. Pretoria: Protea Boekhuis.

Odendal, FF en RH Gouws. 2005. HAT – Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Maskew Miller Longman. Vyfde uitgawe.

Terblanche, Otto. 1998. Nederland en die Afrikaner: Gesprek oor Apartheid. Universiteit van Port Elizabeth.

Vermeiren, Leopold. 1964. Die Rooi Ridder. Vertaal deur Elma Hartman en Deon van den Heever. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top