Vallei van melk en heuning: Foto's van boekbekendstelling

  • 1

Vallei van melk en heuning
Riana Scheepers

LAPA Uitgewers
ISBN:
 9780799360318

 

 

Riana Scheepers se pragtige boek Vallei van melk en heuning is op 23 November tydens twee geleenthede op die plaas De Compagnie geloods.

Die oggend om 11h00 is die pragtige tuine van De Compagnie aan die publiek oopgestel. Enigeen kon kom inloer.

Keurige eetgoed is uitgesit en die gaste kon deel aan die oorvloed van die plaas. Riana het hierdie olywe self ingelê.

Reuben Riffel het op ’n dag vir Riana Scheepers gesê: “Om só te kan kook, is hemels.” Dít nadat sy vir hom die bestanddele vir die dag se ete uitgepak het: spinasieblare, tamaties, eiervrugte, appelliefies, vye, kruie, ’n mandjie skarreleiers, ’n skaapboud uit die Tankwa Karoo, ’n bottel rooiwyn. Alles het gekom uit haar tuin, haar kelder, haar weiland.

Hierdie tema was Saterdag oral te sien.

Ek kon nie anders as om hierdie stoeltjie raak te sien en af te neem nie. Dit is dieselfde stoeltjie wat vir die voorblad gebruik is.

Alles in die boek is op Riana-hulle se plase afgeneem. Al die bakke, borde, koppies, kastrolle en glase behoort aan Riana en haar gesin.

De Compagnie se tien jaar oue potstilbrandewyn het al verskeie pryse gewen. Hierdie stookketel staan trots buite die kelder.

Die kelder is ook ’n pragtige gebou. Gaste kon wyn proe, gesels en koop.

Hier is Johann Loubser, Riana se man, en Charles Stassen, die wynmaker, besig om gaste van die wyn en die brandewyn te vertel.

Dedré Fouquet (middel) het haar kunswerk in die kelder uitgestal. Hier gesels sy met Elsibe en Rod McGuffog.

Dit was middag en dit was aand. Die plaas het haar vere reggeskud vir die volgende funksie en die mense op die plaas het nóg harder gewerk. Hier is Hannetjie de Clercq, kunstenaar en vriendin van Riana, besig om die lang tafel te organiseer.

Almal het gehelp. Hier dra Adriaan Meyer, Riana se seun, kos aan.

Regtig, álmal het gehelp. Hier is Hendri Warricker, die uitgewer van Vallei van melk en heuning, besig om kos aan te dra. Hendri is self ’n wonderlike kok. Hy het die hele oggend vir Riana in die kombuis gehelp.

Selfs die fotograaf is ingespan. Hier is Danie Janse van Vuuren. Hy het die foto’s in die boek geneem. Die foto’s is ongelooflik; hierdie man se werk verdien vermelding.

Johann Nel het grepe uit die boek voorgelees.

Terwyl Johann gelees het, kon die gaste onder die reusekoeltebome ontspan.

Van die gaste het rustig die prag van die boek ingedrink en foto’s met hulle selfone geneem.

“Alles het begin met ’n vy,” het Johann vertel. Riana het eendag ’n storie aan Hendri Warricker vertel oor die vyeboom op haar werf, toe sê Hendri: “Hoekom skryf jy nie ’n boek nie?”

Vallei van melk en heuning is ’n kosboek, ’n boek oor die liefde, ’n boek oor die lewe. In die boek vertel Riana hoe Johann Loubser eendag vir haar ’n mandjie vol bloedrooi rissies gebring het.

Die liefde blom steeds bloedrooi tussen hulle.

Daarna het Riana almal bedank wat aan die boek gewerk het. Hier is sy saam met Katryn Kruger, beter bekend as Katryntjie. Die twee was nogal emosioneel daar op die verhoog. Katryntjie is Riana se regterhand en het tot die resepteboek bygedra.

Hier is die span: Riana (heel regs), saam met Katryntjie. Dan Hendri Warricker, die uitgewer, Danie Janse van Vuuren, die fotograaf, Evette Lombard, die stilis, en heel links Nadene Kriel, die uitlegkunstenaar.

Daarna is gesmul. Hierdie filet was murgsag.

Die brood was kraakvars.

Die olywe was oorvloedig en die tertjies smaaklik.

Die aarbeie was so mooi, ’n mens het amper gehuiwer om daarvan te eet.

Terwyl die gaste gesmul het, is hulle vergas deur The Real Wicomb Trio, bestaande uit Piere-Henri Wicomb, klavier, Leonore Bredenkamp, baskitaar en John Pringle op die tromme.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top