Valiant Swart kuier by die WAT

  • 0

Daar is nou 'n portaal vir Woordeboek van die Afrikaanse Taal op LitNet. LitNet se lesers kan nuwe inligting en projekte wat op die WAT betrekking het, hier lees. Hier onder deel Willem Botha, redakteur van die WAT, onlangse foto's en bedrywighede van die WAT.

Woordpret

Karin Brynard was die gas by die WAT se eerste Woordpret van die jaar. Sy het oor die taalgebruik van Afrikaanssprekendes en haar skryfwerk gesels. Daarna was daar 'n boeiende gesprek oor die gewildheid van Afrikaanse spanningsverhale, wat dikwels die misdaadsituasie in Suid-Afrika as agtergrond het.

Resensie van deel XIV

Om die resensie van deel XIV van die WAT te lees wat in Die Burger verskyn het, gaan na http://www.dieburger.com/bylae/2014-02-23-woordeboek-loop-beslis-nie-in-die-sand.

Borg ’n woord

Die WAT se Borg 'n Woord-prystrekking vir die Sanlam-skenking van R25 000 het onlangs plaasgevind. Die gelukkige wenner is DJP Opperman van Kleinmond. Op die foto verskyn Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur, Erna Meaker, voorsitter van die WAT Trust, en Arnold Schoonwinkel, voorsitter van die direksie van die WAT. Borg 'n Woord gaan steeds voort, en deelnemers ontvang steeds sertifikate, maar kwalifiseer nie meer vir vanjaar se prystrekking nie.

Beskermheer: Borg ’n Woord

Nataniël is vanjaar die beskermheer van Borg 'n Woord en hy het tydens die Woordfees saam met Willem Botha en Erna Meaker, voorsitter van die WAT Trust, vir 'n foto geposeer.

Nuutskeppingskompetisie

Die algehele wenner in die WAT se Nuutskeppingskompetisie 2014 is die woord wynpyn (“hangover”). Johan Steyn het die wenwoord ingestuur, en wen twee nagte vir twee persone in 'n ATKV-oord van sy keuse. Die prys word deur die ATKV geborg. Die ander finaliste was straatstorie (“urban legend”), intellektrek (“brain drain”), dataproppie (“memory stick”) en slimbril (“smart glasses”).

Baie dankie aan almal wat gedurende die kompetisie op RSG se webwerf gaan stem het. Ons maak volgende jaar weer so!

Velddraf met woorde

Velddraf met Woorde is Saterdag 15 Maart 2014 by Uitkyk aangebied. Die Velddraf het nie net uitdagende roetes gebied nie, maar ook hope pret met mense wat met woorde eerder as nommers deelgeneem het. Van die woorde was: kortpad, ompad, japtrap, krok, liefs en oeps. Deelnemers kon ook hulle woorde borg as deel van die WAT se projek Borg 'n Woord.

Woorde van die week: kafoefel, karnuffel

kafoefel ww., het gekafoefel. Vry: Die nooi kafoefel lekker. Die polisieman is op die spoor van die kafoefelende paartjie (Die Burger).
Uit Skotse Engels carfuffle.
karnuffel ww., het gekarnuffel. Speelsgewys afknou, seermaak; geniepsig speel met; terg, pla, bv deur onder te sit, vas te druk, te stamp, te knyp, te kielie, die hare te trek, ens: Die ou bobbejane blaf en die kleintjies tjank soos die ouers hul karnuffel (GR von Wielligh). Hy geniet dit baie as die meisies hom vang en 'n bietjie karnuffel oor sy kattekwaad (PJL Odendaal).

Valiant Swart by die WAT

Valiant Swart, een van die voorste Afrikaanse  liedjieskrywers van die afgelope  twintig  jaar, is op Vrydag, 6 Junie die gas by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Woordpret.  Hy het reeds veertien CD's die lig laat sien en sy debuutalbum, Die Mystic Boer, is in 1995 uitgereik. In 2008 word hy saam met Ollie Viljoen met 'n SAMA-toekenning vir hulle album Vuur En Vlam in die kategorie Beste Afrikaanse Tradisionele Album bekroon. Van Suid-Afrika se grootste sterre, soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Bok van Blerk en Piet Botha het al van sy liedjies opgeneem.

Lanzerac Landgoed sal van hul uitsoekwyne  kom bekendstel. Wyn, sap en ligte verversings is vanaf 12:30 beskikbaar en Valiant kom om 13:00 aan die beurt. Die program duur ongeveer 45 min. en sal dus voor 13:45 ten einde loop.

Kaartjies kos R25 en daar is sitplek vir slegs 50 persone.  Skakel Cecile of Tanja voor of op 5 Junie  by 021 887 3113 of kontak die WAT by wat@sun.ac.za om u sitplek te bespreek.  Die Buro van die WAT is in Banghoekweg 115, Stellenbosch.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top