Vader Bonaventure Hinwood (1930–2016)

  • 3

Gebore en getoë

Edward Victor Hinwood, of Ted soos hy onder sy vriende bekendgestaan het, is op 12 Februarie 1930 in Hillbrow gebore. Sy ma was ’n Afrikaanse nooi wat afstam van die Vissers wat saam met Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het. Sy het later heeltemal verengels. Sy pa se familie was Hewitts wat hulle in 1832 uit Engeland in Somerset-Oos kom vestig het. Sy Engelse pa was betreklik tweetalig, dus het die jong Ted nie “heeltemal sonder Afrikaans” grootgeword nie.

Hy voltooi sy laerskooljare aan Orange Grove Primary en gaan dan na Highlands North High, albei skole in Johannesburg.

Hy vertel aan Anastasia de Vries (Rapport, 7 Desember 2007) dat sy lewe een is van "ommekere en inkere. Ek is in die Metodistekerk gedoop, het in die Anglikaanse Kerk grootgeword en later ’n Franciskaanse priester geword. Eers het ek net in Engels geskryf, en nou net in Afrikaans.”

Van sy skooljare af het hy al gedigte geskryf en was hy ook betrokke by die verhoog.

Sy belangstelling in die biblioteekwese het reeds op hoërskool begin toe hy studentebibliotekaris was. “My liefde vir boeke het daartoe gelei. Ek het altyd baie gelees. Toe ek op skool was, het ek boeke verorber. Enigiets wat leesbaar was. Ek was as jong mens nie baie gesond nie en kon nie aan sport deelneem nie, dus het ek gelees.”

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Ted na die Universiteit van die Witwatersrand, waar hy na vier jaar ’n BA-graad met geskiedenis en Engels as hoofvakke behaal, asook ’n honneursgraad in geskiedenis. Terselfdertyd ontvang hy opleiding as bibliotekaris. Universiteite het dit nie destyds as vakgebied aangebied nie en die Suid-Afrikaanse Bibioteekvereniging het die opleiding verskaf.

Met sy universiteitstudies agter die rug gaan werk Ted vir twee jaar as bibliotekaris by die Johannesburgse Openbare Biblioteek.

Maar toe, in 1951, word hy lidmaat van die Rooms-Katolieke Kerk en volg hy ’n ander roeping: in 1953 word hy die eerste Suid-Afrikaner wat as kandidaat vir die Franciskaanse Orde aanvaar word. Hy vertel aan Elsa Krüger (Beeld, 7 Mei 1988): “In so ’n besluit is God die hoofspeler. Ek was altyd geïnteresseerd in kerksake toe ek jonk was. Ek is Metodis gedoop, Anglikaans aangeneem en Rooms-Katolieke priester georden en heelwat van my familie is NG Kerk!”

Op ’n vraag van Kruger wat hom omtrent hierdie Orde getrek het, het hy geantwoord: “Die Orde is om twee eienskappe vir my aantreklik. Enersyds die broederlikheid, die noue emosionele band onderling, die hegte persoonlike verbintenisse en andersyds die klem op die armoedige lewenswyse. Die Katolieke Kerk glo en leer daar is waarhede wat onbeweeglik is, wat ons móét glo, wat nie betwyfel kan word nie. In die kerk se tradisie, geloofsbelydenisse, algemene leer en in die liturgiese praktyke is die kerngeloofswaarhede ononderhandelbaar. Dit is wat ons glo. Punt.”

In 1951 is Hinwood vir drie jaar na Ierland en daarna vir byna 11 jaar na Rome. In 1964 stuur die Kerk hom terug na Suid-Afrika, waar hy aangestel word as studentekapelaan aan die Universiteit van Pretoria, ’n pos wat hy vir sewe jaar beklee het.

In 1963 begin hy – in Latyn – met sy doktorsgraad oor ’n teologiese besinning oor ras en vertaal dit ook in Engels. Nege jaar later verwerf hy sy meestersgraad in biblioteekkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Hy verskuif later na die St John Vianney-kweekskool in Pretoria, waar hy tot sy aftrede professor in teologie was. Hy bly in Santa Sofia, gemeentehuis van die Orde van St Franciskus in Waterkloof, Pretoria, waar hy sy rus en vrede gevind het. Nie dat sy lewe rustiger verloop het nie. Benewens sy digwerk was hy voog van Santa Sofia, het hy vertaalwerk vir die Afrikaanse Katolieke apostolaat gedoen, raad gegee oor priesteropleiding, toesig gehou oor die biblioteek van die Katolieke seminarie in Waterkloof én die vyf biblioteke van die Franciskane, af en toe klasgegee, en was vir die Pretorianers jare lank ’n simbool van vreedsame naasbestaan en welwillendheid tussen uiteenlopende kerke.

Tydens sy jare oorsee het sy Afrikaans nog meer “vervalle” geraak. Nadat hy teruggekeer het na Suid-Afrika en studenteleraar by Tukkies geword het, het hy besef dis onmoontlik om die werk te verrig sonder dat hy tweetalig is. Elsa Krüger vertel dat hy begin het om koerant te lees, radio te luister en by elke moontlike geleentheid Afrikaans te praat – al was dit een woord Afrikaans, een Engels en een Italiaans. Binne ses maande het hy Afrikaans onder die knie gehad. Daarna was sy gesproke Afrikaans baie suiwer, en hy het niks daarvan gehou om sy tale te meng nie.

In 1965 ontmoet hy vir Franz Marx en word hy aangemoedig om te begin skryf. Sedert 1965 begin hy versies in Afrikaans skryf, ook in ’n poging om sy taal te verbeter, “en dit het selfs beter gegaan as my Engelse pogings,” vertel hy aan Marinda Uys (Die Transvaler, 3 Mei 1988). "Van toe af kon ek nie meer in Engels skryf nie. Ek kan dit nie verklaar nie. Jy weet, gedigte kom vanself by my in Afrikaans op – ek kan nie sê hoekom nie. As ek privaat bid, is ek geneig om in Afrikaans te bid. Dit kom spontaan. Afrikaans spreek my blykbaar net op ’n sekere vlak aan wat Engels nie doen nie.” Die gedigte het meer geword en ’n klompie is ook in tydskrifte soos Rooi Rose opgeneem.

In 1966 ontstaan daar in Pretoria ’n digterskring waarvan vader Bonaventure deel is. Hier het hy sy jare as digter begin saam met geesgenote en mededigters soos onder andere Wilhelm Knobel, Marlise Joubert, Stephan Bouwer en Wilma Stockenström.

Tydens hierdie byeenkomste het vader Bonaventure ’n leidende rol gespeel om aan jong, opkomende digters die geleentheid te bied om hulle werk te bespreek. Ander digters wat ook hierdie byeenkomste bygewoon het, sluit Marié Blomerus, Jeanne Goosen, Pirow Bekker, DPM Botes en Wessel Pretorius in. Soos Johann Lodewyk Marais in Ensovoort, 1994 vertel, is skrywers nie altyd goeie organiseerders nie. "Vader Bonaventure het met sy nougesette sekretariële ywer vir gereelde byeenkomste gesorg, waar tekste vir almal beskikbaar was vir bespreking en waar die geselligheid, wyndrinkery en versnaperings eers moes wag totdat die gedigte ordelik en sober bespreek is. Al het hy as organiseerder nooit vir homself ’n titel soos voorsitter, president of sekretaris opgeëis nie, was sy invloed formidabel. Van die voorste figure van daardie era getuig nou nog van vader Bonaventure se rol agter die skerms."

In 1986 besoek Johann Lodewyk Marais vir Bonaventure en vra hom of hy nie weer met die digterlike bidure van die sestigerjare wil begin nie. En so is besluit om weer gereeld die byeenkomste aan te bied waar digters mekaar se werk kan bespreek. Die eerste byeenkoms vind plaas in Februarie 1986 in Bonaventure se sitkamer. Elke maand het hy gesorg dat daar so vier of vyf gedigte van ’n digter is wat hy dan per pos aan die verskillende digters gestuur het. Die besprekings is om die beurt by die huise van verskillende digters aangebied. Dan is die gedigte “anoniem” bespreek, maar eintlik was dit gewoonlik ’n ope geheim wie se gedigte aan die beurt is, vertel Marais. Al het die skrywers se name ontbreek, het die digter van die gedig wat bespreek word, elke keer kans gekry om sy/haar gedig self te lees. Op hierdie manier kon die betrokkenes met die tekste vertroud raak voordat die bespreking begin, en na die bespreking het die digter heelparty wenke ontvang hoe om sy of haar gedig te verbeter – en nog boonop gratis.

In die tagtigerjare was sulke byeenkomste en daardie tipe werkswyse nie ’n algemene praktyk soos vandag met die kursusse in kreatiewe skryfwerk nie. Digters soos Johann Lodewyk Marais, Martjie Bosman, Johann de Lange, Henk Havenga, Renée Marais, Marietjie van der Merwe en baie ander het baie by hierdie samekomste geleer. Van die digters wat aanvanklik die samekomste bygewoon het, het dit later verlaat, maar Hinwood het dit nog altyd aangebied – 22 jaar nadat Lodewyk Marais hom besoek het – en die argief met al die gedigte het stadig maar seker groter geword.

Bonaventure was sedert die jare sestig ook baie betrokke by teater, radio en televisie. Die lewende teater het hom baie na aan die hart gelê en hy het erken dat die enigste ander ding wat hom sou kon gelok het, was om akteur te wees. Op hoërskool was hy gereeld in toneelopvoerings en het selfs die kardinaal in CL Leipoldt se Die heks gespeel. Tussen sy universiteitstudies deur was hy gedurig met toneel besig – elke aspek daarvan: toneelspel, stelbou, kostuums, ontwerp en regiewerk. “Ek het feitlik al my studeerwerk op die vloer agter die verhoog van die Groot Saal gedoen. Tussen repetisies deur” (aan Johann Lodewyk Marais).

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1964 nooi Anna Neethling-Pohl hom om as gasdosent by Tukkies se Drama-departement te kom lesings gee. Hy word toe af en toe as raadgewer vir Truk-produksies ingespan, veral vir stukke met ’n godsdienstige tema.

In 1973 vra Franz Marx hom of hy nie ’n rol in ’n film wil hê nie. Hy was ietwat verbaas, maar het gemeen hy sou dit in elk geval nie in sy besige program kon inpas nie. Toe hy dit egter aan sy kollegas noem, het hulle hom aangemoedig om dit te aanvaar, sodat hy ondervinding kon opdoen om voor kameras op te tree – veral met televisie wat binnekort na Suid-Afrika sou kom. Sy kollegas het sy klasse waargeneem en so het hy akteur geword en ’n rol in die film Aanslag op Kariba gehad.

In 1974 stuur die Kerk hom na Engeland, waar hy vir drie maande ’n kursus in radio- en televisiewerk loop, maar na sy terugkeer was hy te besig om enige van sy nuutgevonde kennis te gebruik, totdat Anna Neethling-Pohl hom getakel het. Hy vertel aan Family Radio and TV van Oktober 1981: “She gave me a long lecture about letting moss grow on one’s soul and what the Lord demands of one’s talents.” Hy kontak vir Jan Schutte en die gevolg was dat hy selfs in die eerste episode van The Villagers gespeel het.

Sy betrokkenheid by die radio het in die laat sestigerjare begin toe die seminarie gevra is om deel te hê aan die SAUK se uitsending van kerkdienste. Hy was ook ’n lid van die paneel van die Engelse diens se Radio Chaplain-programme, en op televisie lei hy eredienste en neem aan paneelbesprekings deel.

In die vroeë tagtigerjare het hy genoeg gedigte gehad vir ’n bundel, en sy eerste bundel, Smeulvuur 1996–1975, word in 1981 deur Van Schaik gepubliseer onder die skuilnaam Hewitt Visser, ’n naam wat van sy ma en pa se voorsate afkomstig is. Hy verduidelik die gebruik van ’n skuilnaam aan Anastasia de Vries: “In die 1960’s was daar nog stereotiepe idees oor wat ’n priester veronderstel is om te doen en te sê. En net om my die vryheid te gee om te sê wat ek wou, het ek onder ’n skuilnaam begin skryf.”

Smeulvuur is oor die algemeen redelik goed ontvang en Fanie Olivier (Die Burger, 10 Desember 1981) skryf dat die verse deurgaans van ’n diep, maar eenvoudige, religieuse aard bly, slingerend tussen ’n hartseer en uitbundigheid. En André le Roux (Beeld, 27 Julie 1981) skryf dat Smeulvuur tog meer oplewer as die gewone debuut en dat dit poësie is wat noukeurige lees verdien.

Met die verskyning van Sonvis in 1988 gebruik Hinwood nie meer sy skuilnaam nie. TT Cloete (Die Burger, 12 Mei 1988) beskryf Sonvis as ’n "simpatieke bundel, baie toeganklik, pretensieloos en opreg. Die bundel is baie boeiend in sy makrostrekking en daar staan pragtige gedigte in, die soort poësie wat mens in Nederlands by Bloem kry." Joan Hambidge (Vaderland, 30 Mei 1988) meen dat ten spyte van die feit dat die bundel nie groot in omvang is nie, dit tog verse bevat wat die leser bekoor.

Soenoffer word in 1991 uitgegee (deur Van Schaik). Sover Daniel Hugo (Die Burger, 4 Februarie 1992) weet, is daar net drie Afrikaansskrywende Katolieke: die filosoof Martin Versfeld, en Sheila Cussons en Bonaventure Hinwood. “Hulle gee aan ons oorwegend Calvinistiese literatuur ’n besondere dimensie – net soos Breyten Breytenbach se Zen-Boeddhisme en Olga Kirsch se Judaïsme. Dit lê voor die hand om Hinwood se poësie met dié van Sheila Cussons te vergelyk. Albei skryf religieuse verse, maar in verskillende tradisies. Waar Cussons by uitstek ’n mistieke digter is, beoefen Hinwood ’n godsdienstige skryfgenre wat al sedert Totius in Afrikaans bekend is, naamlik die gelykenis en die allegorie waar ’n waarneming of gebeurtenis uit alledaagse werklikheid gebruik word as ’n beeld vir ’n metafisiese, religieuse waarheid. Soenoffer is ’n yl, maar verkwikkende bundel in ’n poësiedorre tyd."

In 1993 verskyn daar, ook by Van Schaik, ’n omdigting van die Bybelse Psalms vir Afrikaanssprekende Katolieke deur Hinwood. Hy vertel aan Neels Jackson (Beeld, 9 September 1993)dat hierdie weergawe nie ’n beryming is nie. "Om die waarheid te sê, dit rym glad nie. Dit moes ’n streng teksgetroue vertaling wees, maar boonop ’n ritmiese omdigting wat gesing-praat kan word soos dit in die Rooms-Katolieke Kerk gedoen word. Aanvanklik was die gedagte slegs om ’n vertaling vir kerklike gebruik te lewer, maar na ’n besoek aan Helgard Raubenheimer by Van Schaik is besluit om dit te publiseer sodat dit naas ander omdigtings van Skrifdele in boekwinkels kan staan en gekoop kan word."

Oor hierdie omdigting het Bonaventure aan Johann Lodewyk Marais gesê dat dit vir hom ’n besonderse publikasie is. “Ek dink dis vir my die kroon op my letterkundige werk tot nou toe. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek dink dis die grootste en waardevolste poging wat ek tot nou toe aangewend het.”

By die bekendstelling van die bundel Psalms en lofgesange sê Elize Botha: "Bonaventure het die Psalms verwerk in vloeiende heffingsverse om, mondvriendelik en tongwelgevallig, in gesamentlike gebed en gesang opnuut, en in ’n heel nuwe omgewing, in Afrikaans te klink. Daarom is daar ’n ervaring van tydloosheid in die eietydse taalvorm waarin hierdie Psalmberyming van Bonaventure tot ons kom. Baie dankie dat dié ervaring vir ons moontlik gemaak is.”

Berta Smit (Die Burger, 23 November 1993) sê dat die omdigting soos Hinwood dit gedoen het, vir almal bedoel is. "En hoewel hy binne ’n bepaalde opgaaf moes werk om die Psalms te laat inpas in die ritme en die aard van die sang soos dit binne die Katolieke Kerk gebruiklik is, het dit nie merkbaar inperkend op hom ingewerk nie. Sy verse het ’n spontaneïteit en soepelheid wat dit uitnemend leesbaar maak, al is dit dan ook net as suiwer poësie. Dié bydrae van Hinwood is net weer ’n bewys dat die eintlike waarheid altyd vars bly."

In 2004, na ’n digterlike stilswye van 13 jaar, word Hinwood se volgende bundel, Serafyn, by Bent Uitgewers uitgegee. So ook die volgende twee: Afskynsels (2007) en Seevlak tot savanna (2008). In Serafyn, skryf Fanie Olivier (Beeld, 7 Maart 2005), is die digter se verhouding met die godheid die belangrikste tema, maar dit was teleurstellend, veral as gevolg van die swak tipografiese afwerking en te veel gedigte wat redelik middelmatig is.

In Volksblad van 13 Desember 2004 was Bernard Odendaal die volgende mening oor Serafyn toegedaan: "Die gedigte is tekenend van die innige, onskouspelagtige, religieus-inspirerende werk wat Hinwood lewer." Maar ook hy het dit teen die baie tik- en spelfoute.

Oor Seevlak tot savanna (2008) skryf Johann Lodewyk Marais op LitNet: "Hinwood se gedigte is heel dikwels vol van die mistieke en godsdienstige belewing wat hom in dieselfde kategorie plaas as ’n digter soos Sheila Cussons. Soms vind die mistieke wending eers in die slot van ’n gedig plaas, maar vir iemand wat vertroud is met vader Bonaventure se gedigte, is hierdie wending selde totaal onverwags en/of ongemotiveerd. Daarom miskien ook dat daar nie werklik fenomenologiese omgang met die werklikheid is nie en die ding as sodanig nie die digter se verwondering ontlok nie. [...] Op die keper beskou, besing hierdie gedigte die lof van God in al sy gedaantes in die skepping. Die ironiese toon in meer as ’n hand vol gedigte sorg dat die geheel nie stroef voorkom nie. [...] Vandag bring ek hulde aan die verrykende blik wat hy my op die lewende wêreld om my bied. Hy, meer as talle groot kokkedore in die Afrikaanse letterkunde, het dit vir my die moeite werd gemaak om in hierdie digterlike tradisie te probeer voortwerk.”

Michael Shackleton skryf in The Southern Cross: The website of Southern Africa’s National Catholic weekly: “[In this collection the poet] has lost nothing of his imaginative choice of words and their sounds in blendings and arresting beauty. This is a collection of poems about nature and the poet’s surging emotions when faced with the sea and the land. The poet’s moods and feelings are expressed in short entities, each one neither longer nor briefer than the images demand. God’s special relationship with creation, the human family in particular, is central to this poetry.”

Bonaventure Hinwood se lewe was te vol vir hom om net aan die skryf van gedigte aandag te gee. Maar as hy tot bedaring gekom het, was daar geen keer nie. Meestal met vakansies "borrel die gedigte net uit". Hy het aan Elsa Krüger vertel dat as hy moontlik kon, hy sy vakansies by die see deurbring. Hy was baie erg oor swem, winter en somer. Tyd vir ontspan was daar weinig, maar hy was dol oor drama, ballet en opera, en ’n ewige student met ’n onversadigbare drang na kennis.

In 2009 vertel Bonaventure aan Sylvia van Zyl dat hy reeds weer besig is met ’n nuwe bundel. Hy het toe geglo dat hy minstens nog een bundel in hom het. Oor sy digkuns het hy verder aan Van Zyl vertel: "Die heilige Franciskus het die eerste gedig in moderne Italiaans geskryf. Dit is deel van hul geestelike belewenis om God in alle situasies, mense en dinge raak te sien. Jy kan maar sê dat digkuns ’n tradisie is in die Franciskaanse orde. Ons vier nou juis die 800ste herdenkingsjaar van dié orde.”

"My gedigte is nie-godsdienstig, maar my geloof skyn tog deur. Dit is die manier waarop ek dinge beleef. Ek skryf dalk nie doelbewus ’n godsdienstige gedig nie, maar die agtergrond waarteen alles geskryf word, geskied in daardie atmosfeer.”

Sy volgende digbundel was Safari. “Dit is maar ’n nuk van my om met die s- en f-klanke te speel in al die titels van my bundels. Die bundel bevat ’n paar reisgedigte en die titel suggereer ook ’n reis in die rigting van God.”

Hinwood se laaste bundel was sover (2014). Op Protea Boekhuis se webwerf word daar meer oor hierdie bundel vertel. "In hierdie bundel verklap hy uiteindelik van sy geheime, onder meer waarom al sy digbundels ‘s’ en ‘v’ as sleutelletters bevat; ook hoekom hy nie anders as in Afrikaans kan dig nie en sy gees en binnelewe 'meer tuis in Afrikaans' vind.

"Die bundel is nie 'tematies' deurdat dit op spesifieke onderwerpe fokus nie. Dit dek eerder ‘n breë spektrum onder ag afdelings. ‘n Spesiale toegif is die illustrasies, geneem van sy broer Lionel se skilderye, wat beeld by die woord voeg. Hierdie bundel bevat Hinwood se 'vintage' woordkuns gestempel met sy menslikheid, pittigheid en nederige spiritualiteit. Hiermee giet hy sy ryk lewenservaring deur die tregter van sy dieper kyk op die wêreld om hom: geskakeerde bepeinsings oor God in die alledaagse."

Nadat Hinwood in 2010 afgetree het, het hy vir ’n rukkie in die Franciskaanse huis wat ten suide van Pretoria geleë is, gewoon. Daarna het sy gesondheid egter so agteruit gegaaan dat hy in die Holy Cross-tehuis in die noordweste van Pretoria gaan bly het. Hier het hy tot sy afsterwe op 8 September 2016 gewoon en het hy nog elke dag vertaal- en skryfwerk gedoen en hom met sy priesterlike werk en gebede besig gehou. Hy was 86 jaar en sewe maande oud. Hy is uit die St Pius X Katolieke Kerk in Waterkloof, Pretoria begrawe.

Op LitNet bring Renée Marais hulde aan hierdie bekende figuur in die Afrikaanse letterkunde. Marais skryf dat Hinwood veral ’n groot rol gespeel het in die "vertaling van liturgiese materiaal uit (veral) Latyn en Engels in Afrikaans, soos die Missaal, met al die gebede wat in die Katolieke Kerk gebruik word, en die Leksionarium, die versameling skriflesings en beurtpsalms wat by die Sondag- en weekdagdienste gebruik word. Die hoogtepunt van sy liturgiese vertaalwerk is die Afrikaanse vertaling, spesifiek vir gebruik in die Katolieke liturgie, van die 150 Bybelse psalms en 12 lofgesange. Hierdie vertaling moes voldoen aan die vereiste dat die tekste maklik in groepsverband opgesê of gesing kan word, wat meegebring het dat die vertaler hom streng aan bepaalde metriese (ritmiese) vereistes moes hou. In hierdie werk, wat jare lank geduur het, het Hinwood sy vertalings aan ʼn groepie van sewe persone voorgelê vir kommentaar op die taal en digterlike inkleding, die Afrikaanse kerktaal (register) en die korrekte interpretasie van die Hebreeuse oerteks. Hierdie vertalings beskik oor ʼn besondere poëtiese kwaliteit en neem ʼn volwaardige plek naas die psalmberymings van Totius en TT Cloete in die Protestantse liturgie in. [...] Tot sy dood was Hinwood ook betrokke by die jongste vertaling van die Bybel in Afrikaans."

Oor sy digkuns skryf Marais: "Vader Bonaventure Hinwood se ingesteldheid en geloofsoortuiging as Katolieke Christen is onlosmaaklik aan sy digkuns gekoppel. Talle gedigte bevat subtiele verwysings na die Katolieke teologie, wat nie noodwendig herkenbaar is vir ʼn leser wat nie daarin onderlê is nie. Ten spyte hiervan spreek die gedigte op ʼn primêre vlak tot die leser, sodat herkenning van die teologiese verwysings meer waarde toevoeg en nie absoluut noodsaaklik is vir begrip van die gedigte nie.

"Hinwood se gedigte handel oor verskeie temas: liefde vir God en medemens, eerbied vir, en verbondenheid met, die skepping en die natuur (veral die see – hy was ʼn goeie swemmer), medemenslikheid, lyding, sosiopolitieke ongeregtigheid, reis (by voorkeur per vliegtuig), vriendskap, dankbaarheid, en die alledaagse lewe. Sy gedigte is heg gestruktureer, met besondere aandag aan metrum en klank. In al sy bundeltitels gebruik hy byvoorbeeld doelbewus [s]- en [f]-klanke, en besprekings en voorstelle tydens die digterlike byeenkomste het meermale getoon met hoeveel aandag aan verstegniese middele en besonderhede sy gedigte gestruktureer is.

"Dit is eintlik onverklaarbaar dat die bydrae wat Bonaventure Hinwood tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het, nog nie beter opgeteken is nie en dat hy nog nie die erkenning geniet wat hom in velerlei opsigte toekom nie. Afgesien van ʼn huldigingsnommer van die literêre tydskrif Ensovoort (6:1, 1994) is inligting oor hom en sy werk as digter, vertaler, teoloog en mentor maar skraps. Dit is hoog tyd dat ʼn indringende oorsigartikel aan Hinwood se werk gewy sal word, en hy sy regmatige plek binne die Afrikaanse literatuurgeskiedenis sal inneem."

Ook op Twitter en Facebook is huldeblyke aan Bonaventure Hinwood geskryf.

In die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Nuusbrief van Augustus 2016 word daar ook hulde aan Hinwood gebring: "Met agt digbundels wat tussen 1981 en 2014 verskyn het, het hy ruim tot die Afrikaanse poesie bygedra, nie net as een van die min Katolieke stemme in die Afrikaanse digkuns nie, maar ook as fasiliteerder van twee digterskringe in Pretoria wat as slypskole gedien het vir ʼn groot getal digters, van wie sommige groter prominensie in die Afrikaanse literere wereld sou geniet as Hinwood self. Hierbenewens het hy ʼn besonder belangrike bydrae tot die vestiging van ʼn Afrikaanse Katolieke liturgie gelewer. Diegene wat die voorreg gehad het om hom as priester, digter en/of persoonlike vriend te ken, se lewens is aangeraak deur sy geloof, sy sagmoedigheid, sy goedheid en goedgesindheid teenoor alle mense, en deur sy formidabele intellek."

Publikasies as Hewitt Visser

Publikasie

Smeulvuur 1966–1975

Publikasiedatum

1981

ISBN

0627011535 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

As Bonaventure Hinwood

Publikasie

Gee ons vandag: oordenkinge vir elke dag

Publikasiedatum

1984

ISBN

0627013813 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Christelike lektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sonvis

Publikasiedatum

1988

ISBN

0627017932 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soenoffer

Publikasiedatum

1991

ISBN

0627017932 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Psalms en lofgesange

Publikasiedatum

1993

ISBN

0627018890 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Oorsetting

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Serafyn

Publikasiedatum

2004

ISBN

0958418387 (sb)

Uitgewer

Kilnerpark: Bent Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afskynsels

Publikasiedatum

2007

ISBN

1919999116 (sb)

Uitgewer

Kilnerpark: Bent Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Seevlak tot savanna

Publikasiedatum

2008

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kilnerpark: Bent Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Safari

Publikasiedatum

2009

ISBN

 

Uitgewer

 

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sover: lewensgedagtes

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780981416830 (sb)

Uitgewer

Xlibris Publikasies

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Gedigte deur Bonaventure Hinwood beskikbaar op die internet:

Artikels oor en deur Bonaventure Hinwood beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 3

Kommentaar

  • Soos ekself was Bonaventura 'n opgeleide bibliotekaris. In die vyftiger jare was biblioteekkunde wel reeds as akademiese vak aangebied by UP, Potch en later die UK. Ekself het in 1959 by UP gekwalifiseer. As jy reeds 'n graad voltooi het kon jy egter ook bibliotekaris word deur 'n diploma by die SA Biblioteekvereniging (SAB) te verwerf en dis die pad wat B gevolg het. Hy het gereeld vergaderings en konferensies van die SAB bygewoon en steeds waardevolle, positiewe bydraes gelewer. Ek het hom goed geken en hy was ook goed bevriend met prof PC Coetzee, dr HJ Aschenborn en ander leidinggewende bibliotekarisse. Sy sonore stem en steeds korrekte Afrikaans met 'n ligte Engelse aksent klink steeds in my ore.

  • Hermie van Zyl

    Ek het die voorreg gehad om vir 'n kwartaal lank saam met Ted Hinwood (soos ons hom destyds genoem het) in die Grieks II klas by Tukkies te sit (1968). Hy het spesiaal net dié klasse bygewoon omdat die dosent (Willem Vorster) met ons die Pastor van Hermas ('n belangrike klassieke werk in die RK) gelees het. Dit het dikwels tot interessante en soms komiese gesprekke aanleiding gegee. Ted het vanuit sy RK-agtergrond perspektiewe bygebring waarvan die dosent nie veel geweet het nie. Ted het ook niks gehou van die manier waarop die dosent "presbutera" vertaal het nie, nl "die ouvrou"; dit was vir hom te oneerbiedig. En Willem Vorster het natuurlik moedswillig daarmee volhard, tot Ted se ergernis. En ons jong studente het hierdie "tweestryd" uiteraard baie komies gevind en uitgebuit. Nietemin, eind goed, als goed. Ek het net die grootste respek vir hierdie wonderlike mens, geleerde en bo alles, gelowige, gehad. Veral ook omdat hy die Afrikaanse taal uit eie keuse sy eie gemaak het. Ek eer sy nagedagtenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top