V.I.T.O., die Nam-Afrikaanse rapper wat sy wortels omhels

  • 0

V.I.T.O. is die verhoognaam van Vito Heyn, ’n ontluikende rapper uit die Noord-Kaapse dorp Okiep wat deur sy unieke gebruik van Nam-Afrikaans die Namakwalandse vlag met trots swaai. Annie Klopper het met hom gesels.

Jy is aan die voortou van die NamakwaTrots Toer. Hoe is die toerlewe en die resepsie van dié musiektoer?

Die NamakwaTrots Toer is ’n konsert wat tieners motiveer om trots te wees op hul plek, hul tradisie, sleng en styl. Die toer het met die eerste konsert op 21 September op Steinkopf afgeskop. In hierdie konsert vertel ek van my reis deur middel van musiek, vanaf die eerste dag toe ek die pen opgetel het tot waar ek ’n musiekblyspel saam met David Kramer geskryf het. Ek probeer my bietjie sukses tot dusver gebruik om tieners te motiveer om aan hulle drome te glo. Daar was ongelooflike gaskunstenaars wat die gehoor op hul tone gehad het. Die terugvoer van die konsert in Steinkopf was diep nxa. Mense in verskeie streke het begin vra wanneer die konsert hulle dorp sal bereik. Tans is ek nog op soek na borge om die toer verder te vat, maar ek glo en vertrou daar sal ’n way kom.

Dit is duidelik dat jy trots Afrikaans is, en trots is op jou Namakwalandse herkoms en tuiste. Wat vuur hierdie trots aan en wat beteken dit vir jou om Namakwalands te wees?

Ek het so paar maande terug met Bouwer Bosch en Peach van Pletzen gewerk, in samewerking met kykNET, waar ons drie songs opgeneem het, en musiekvideo’s daarvan is geskiet. Een van die songs wat goeie terugvoer gekry het, was “Ek is trots”, en dis waar die inspirasie vir die toer ontstaan het. In die song verwys ek na ons Namakwalandse kultuur, tradisie en sleng, en die musiekvideo beeld dit baie mooi uit. Soms voel ons skaam omdat ons vanaf ’n klein dorp kom, skaam oor die manier hoe ons praat, skaam oor ons kleredrag en tradisie. Ons moet net leer om ons wortels te omhels, want dit is juis wat ons uniek maak. Ek is versot op die Afrikaanse taal en sal dit vir niks verruil nie. Toe ek in Engels rap, verloor ek die Namakwalandse aksent, daarom verkies ek om in Afrikaans te rap. Daarom verkies ek om in Nam-Afrikaans (Namakwalandse Afrikaans) te rap. Om Namakwalands te wees is om met trots plat te praat, sonder om jou aksent te verander as jy in die stad kom. Dis om steeds jou Namakwalandse tradisie uit te leef waar ook al jy in die wêreld is. Dis om die Namakwalandse kleure met trots te dra.

Die feit dat jy in Nam-Afrikaans rap, gee aan jou musiek ’n outentieke karakter. Wat aan Afrikaans, en spesifiek aan Namakwalandse Afrikaans, is vir jou spesiaal en maak dit vir jou lekker om in dié variant te rap?

Ek was van dag een af versot op Afrikaans; het vanaf skool ’n liefde gehad vir opstelle en gedigte. Ek voel gemaklik om in my moedertaal te rymklets, want almal in Namakwaland praat Afrikaans, so dis die beste manier om my storie te vertel. Met verwysing na my liedjie “Outjie van die platteland” sê ek: “As jy Engels in Namakwaland praat, gaan jy sommer tronk toe.” Daar is soveel pragtige elemente, maar waarvan ek die meeste hou, is die sleng.

Jy praat dikwels van jou songs as stories. Waar kom jou liefde vir storievertel vandaan?

Ek sal sê beide my ouers het ’n invloed daarop; my ma is ’n baie goeie storieverteller en my pa het ’n verbeelding wat skrik vir niks. Toe ander kinders die gewone verhale vertel is, het my pa sy verbeelding gebruik om ons stories te vertel. Die eerste liedjie wat ek uit my persoonlike oogpunt vertel het, was “Eerste oomblik”. Dit was die eerste keer toe ek verlief raak. Al hoe meer tieners het na my musiek begin luister, en ek het my musiek as ’n metode gebruik om met tieners te praat, asook om regstellings te maak. Ander kere gebruik ek my verbeelding om stories te vertel.

Wat bedoel jy met “regstellings maak”?

So, nadat ek gematrikuleer het, het ek Human Resource Management studeer op Okiep Kampus. Kort daarna het ek my studies in Kaapstad gaan voltooi. Mense het begin lag vir my aksent, want dit was vreemd vir hulle. Toe ek noem dat ek van Namakwaland is, het daar vrae uitgekom soos “Het julle teerpaaie?” en “Is daar karre of net donkies?”. Ek het besef dat baie mense ’n verkeerde persepsie van my plek het, en het gevoel om ’n regsteling te maak op die beste manier wat ek kan: musiek.

Jou pa, Bruce Newman, is ’n tromspeler. Sou jy sê dis waar jou liefde vir musiek, en veral vir ritme en optrede, vandaan kom? Wat was die groot katalisator wat jou laat besluit het om self musiek te maak en hoe oud was jy toe jy begin rym het?

Ek kom uit ’n musikale familie. My pa wou graag hê ek moes dieselfde rigting as hy volg, maar ek kon nie die ritme op die drums kry nie. So sy broer Sebastian Newman, ook ’n rymkletser, het my altyd in sy kamer geneem en ons het heeldag na Afrikaanse rap geluister. Daar het ek ouens ontdek soos Cream, HemelBesem, Jitsvinger, Kallitz, almal Kaapse invloede. Ek het ’n liefde begin kry vir Afrikaanse rap. Het later begin om my eie lirieke te skryf, maar het toe in ’n Kaapse aksent gerap. Met tyd het ek begin om my eie stem te gebruik in my musiek. Op daardie stadium was ek omtrent 14 jaar oud.

Vito Heyn (Foto: Anoeschka von Meck)

Wat het jou spesifiek op die genre van rap laat besluit, eerder as sê nou maar harp speel of rockmusiek maak? Wat is dit aan dié genre wat jou aangegryp het?

Ek het van kleins af na Amerikaanse rapmusiek geluister soos Eminem, en sy musiek het my ook geïnspireer om stories te vertel. Soos ek ouer raak het ek na ouens soos Lil-Wayne begin luister en sy musiek het my weer inspireer om punchlines en metafore te gebruik. Ek het altyd ’n passie gehad vir rapmusiek vanaf skool. Ek het ’n jaar terug ’n CD uitgebring met die naam WaarHATE. Die album bestaan uit ’n wye verskeidenheid van genres, vanaf R&B, house, reggae tot by trap en langarm. Die rede daarvoor was ek wou vir almal cater. So Nam-Afrikaans beteken nie rap of hip-hop nie, dit is ’n styl wat ek op enige vorm van musiek kan gebruik.

Vertel my bietjie meer oor daai album-titel, WaarHATE ...

Dit is my eerste unofficial album. Ek het dit self opgeneem in my home studio en met talentvolle plaaslike producers gewerk soos S-Lewies en Pedigree Beats. Ek love om met die Afrikaanse taal te speel, daarom wou ek nie reguit die woord “waarheid” gebruik nie. Daar is baie emosie en persoonlike ervarings in die stories wat ek vertel op die CD, asook woede wat ek uitspreek, daarom het ek besluit op WaarHATE, wat verwys na woede asook waarheid.

Wat lê alles in V.I.T.O. se visier? Watter planne het jy vir die onmiddellike toekoms?

Ek werk aan ’n nuwe CD, nog net rowwe idees, so ek sal nog nie ’n release-datum kan vasstel nie. Ek beoog ook om my Trots-toer verder bekend te stel aan die Noord-Kaap, en moontlik later aan Suid-Afrika. Van my drome is om nasionaal met my Nam-Afrikaanse styl te toer en die mense daar buite te wys hoe ons dit in Namakwaland doen. Ek werk ook tans aan ’n paar nuwe musiekvideo’s, en het ’n droom om eendag my eie televisieprogram aan te bied.

En V.I.T.O. se slotwoorde, soos altyd ...

Hulle weet wie dit is!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top