Uys Krige (1910–1987)

  • 2

Gebore en getoë

Mattheus Uys Krige is op 4 Februarie 1910 op die plaas Bontebokskloof tussen die sendingstasie Zuurbraak en die dorpie Buffeljagsrivier in die distrik Swellendam gebore. Met Uys se geboorte was die plaas in besit van sy oupa aan moederskant. Hy was die tweede seun van Jacob Daniel Krige en Susanna Hermina Uys en is vernoem na sy Uys-oupa. Albei Uys Krige se ouers het gestam uit ou Afrikaanse families waarvan verskillende lede ’n belangrike rol in die geskiedenis van Suid-Afrika gespeel het. Piet Uys en Magdalena Retief behoort tot Uys se voorgeslagte.

Uys se vader, Japie Krige, het die BA-graad aan die destydse Victoria Kollege ontvang en in 1899 ’n betrekking as klerk in die landdroskantoor op Caledon aanvaar, maar in 1903 na Stellenbosch teruggekeer. Ná sy huwelik in 1908 en die geboorte van hul eerste seun, Jacobus in 1909 werk Japie as landdrosklerk in Clanwilliam, Bredasdorp, Uniondale, Kaapstad en Bellville voordat hy in 1920 weer na Stellenbosch teruggekeer. In 1927 word hy bevorder tot landdros op Cathcart, ’n betrekking wat hy daarna ook op Ladybrand en Bethlehem in die Vrystaat beklee het.

Ná sy uittrede het hy en sy vrou, Sannie, tydelik in woonstelle in Kaapstad rondgeswerf voordat hulle ’n Victoriaanse huis in Claremont in Kaapstad gekoop het. Teen die einde van sy lewe het hulle in Tuine in Kaapstad gewoon waar hy op 14 Januarie 1961 op 82-jarige ouderdom oorlede is.

In sy jeug was Japie baie bekend as Springbok-rugbyspeler. Dit spreek baie duidelik uit die verwysings in sy werk na sy vader dat Uys baie trots op hom was. En hy het self later in die voetspore van sy vader probeer volg toe hy tydens sy eerste verblyf in die suide van Frankryk louere as ’n rugbyspeler verwerf het, ’n prestasie wat hom gehelp het om aan die lewe te bly toe hy platsak in Europa gesit het.

Uys se moeder, Sannie, is op dieselfde plaas as haar seun gebore en het aan die Victoria Grove High School for Girls op Riversdal skoolgegaan. Daarna is sy na Bloemhof op Stellenbosch om haar as onderwyseres te bekwaam en klavier onder FW Jannasch te studeer, ’n instrument wat sy nog tot laat in haar lewe bespeel het. Sy het later twee bundels kortverhale, Vroue (1948) en Papawers en pikkewyne (1953) gepubliseer asook The nightingale sings (1964). Sannie is op 20 Februarie 1976 kort ná haar 90ste verjaardag oorlede.

Toe Japie en Sannie getroud is, is twee verskillende Afrikaanse families verenig - Japie, die sport- en regsman en Sannie, die kunssinnige een wat lief was vir die geskrewe woord en musiek, maar ook ’n vrou wat goed in beheer was van haar huisgesin. Vyf van hul ses oorlewende kinders het haar kunsaanleg geërf en tussen haar en Uys was daar altyd ’n spesiale band.

Uys se oudste broer, Jacobus (Bokkie), is op Stellenbosch gebore waar hy ook universiteit toe is. Hy was ’n knap student wat ’n Rhodes-beurs verwerf het wat hom in staat gestel het om in Oxford te gaan studeer. Die derde broer, na Uys, was Petrus Arnoldus wat in 1911 gebore is en hy was die enigste van die Krige-kinders wat nie aan die kunste meegedoen het nie.

Francois, die vierde seun, is in 1913 op Uniondale gebore. Hy het sy opleiding as kunstenaar aan die Michaelis Kunsskool in Kaapstad ontvang en het laterjare tot een van Suid-Afrika se fynste kunstenaars ontwikkel, veral wat portretskildering en landskappe betref. Hy het ook van Uys se werke, soos Ver in die wêreld, Sol y sombra en Die goue kring, geïllustreer. Soos Bokkie en Arnold het Francois ook geen nageslag gehad nie.

Die twee dogters van die gesin was Maria Magdalena (Mizzi) wat in 1917 gebore is, en die laatlammetjie van die gesin, Suzanne Hermine, gebore in 1926. Mizzi het aan die Universiteit van Kaapstad studeer en het later toneel onder Balthazar Verhagen studeer. Sy het saam met Lydia Lindeque toneel gespeel voor die soldate in Kaïro en Italië tydens die Tweede Wêreldoorlog. Sy is op 44-jarige ouderdom in 1961 aan kanker oorlede. Suzanne het as joernalis gewerk en is met Revel Fox, die Kaapstadse argitek getroud.

Kort na Uys se geboorte het die gesin na Uniondale verhuis, waar Francois gebore is en daarvandaan is hulle na Bredasdorp waar hulle op Zandhoogte, ’n uithoek van die plaas Nagwag gebly het. Gedurende vakansietye het hulle na die omliggende strandoorde gegaan, veral na Port Beaufort met Kaap Infanta en Witsand aan die mond van die Breërivier. By Witsand, Waenhuiskrans en ook by Onrust het die Krige-kinders met somervakansies ’n heerlike, onbekommerde jeug gehad. Daar is Uys se liefde vir die see gebore.

Op Bontebokskloof, waar Uys gebore is, het die kinders ook heerlik by hulle oupa en ouma gekuier en stories oor die Anglo-Boereoorlog gehoor.

In 1917 het die gesin na Kaapstad verhuis, waar hulle in Tamboerskloof gaan bly het. Vir die jong Uys Krige was dit ’n ongelooflike ervaring om die wondere van die stad vir die eerste keer gade te slaan: die wolkekrabbers, al die motors, trems en die menigte mense. Hy en sy broers het saam aan ’n bende behoort wat die ongebruikte riooltonnels in die oop veld aangrensend aan die straat waar hulle gewoon het, geïnspekteer het. Uys was sewe jaar oud toe hy vir die eerste keer saam met sy ma teater toe is om die opvoering van Peter Pan van JM Barries te aanskou. Toe hy vir Peter Pan by die venster sien ingesweef kom, was dit vir die jong seun soos ’n wonderwerk, "die bliksemslag wat die bekoring van die teater vir hom laat begin het." (JC Kannemeyer: Die goue seun)

Uys is op sewejarige ouderdom skool toe waar hy met Engels as voertaal aan die Tamboerskloof Primary School onderrig is. Daarna is hy na ’n ander skool in Bellville waar sy rapport aan die einde van 1919 briljant was. In die loop van 1920 verhuis die gesin na Stellenbosch waar Uys hom aangemeld het by die Hogere Jongenschool, maar sy uitslae was daar nie so wonderlik nie. Paul Roos, wat kaptein was van die Springbokspan van 1906 waarvan Uys se pa, Japie, ’n lid was, was toe hoof van die skool.

"Uys het van vroeg af ’n wakker belangstelling in sport getoon en hy wou ook in die eerste rugbyspan speel, soos sy pa, maar op skool het hy eerder sy merk op die gebied van krieket gemaak. Saam met hulle deelname aan die Mostertsdrift-krieketklub het die Krige-seuns gehelp om eiehandig op die stuk grasveld langs die skool vir hulle ’n krieketbaan aan te lê en ’n volledige stel paaltjies, knikkertjies, beenskutte en selfs ’n mat aangekoop," skryf JC Kannemeyer in sy biografie oor Uys. By geleentheid moes die leerlinge teen die personeel speel en het Uys vir Paul Roos skoongeboul. Oor die krieketbaan wat hulle self gebou het, het Uys geskryf: “Daardie gruisbaan wat ons gereeld met die grootste piëteit gegiet en toe mooi platgerol het met ’n ou roller wat ons op ’n donker nag van iemand se tennisbaan ‘geskaai’ het, daardie pragtige lang groen mat wat ons oop- of toegerol het asof dit die einste towertapyt was waarmee Sinbad deur die lug na al dié verre, fabelagtige kontreie gevaar het – dit was ons heilige oortuiging g’n skoolkinders het nog ooit tevore op hul eie met so ’n prestasie voor die dag gekom nie.”

Die kinders was nog heel klein toe Sannie hulle aal aan die klassieke werke van die wêreldliteratuur blootgestel het. Lewis Carroll se Alice in Wonderland, groot stukke van John Bunyan se The pilgrim’s progress, Charles Dickens se romans, Kingsley se The water babies, Swift se Gulliver’s travels, Defoe se Robinson Crusoe, Van Eeden se De kleine Johannes, en die Statebybel is van die boeke wat sy aan hulle voorgelees het. “My moeder was verantwoordelik vir al ses van haar kinders se liefde vir die letterkunde,” het Uys later vertel.

Tot op 14-jarige ouderdom was Uys se voorkeur leesstof tipies dié van ’n seun van daardie ouderdom: avontuur- en speurverhale deur skrywers soos Phillips Oppenheim, Clarence Mulford en Zane Grey. Hy het gereeld penny horribles by tweedehandse boekwinkels of kafees aangeskaf en as hulle blaaie verkreukel was, het hy dit met ’n strykyster gestryk.

Van jongs af was hy ook vasgevang in die reuk van papier en wanneer sy skoolleesboeke hom begin verveel het, het hy sy ouer broer Bokkie se Afrikaanse boek nader getrek. Die agterstevoortrekkers (1917) van Reenen J van Reenen was een boek waaruit hy baie genot geput het. En al het Uys nie baie geld gehad nie, het hy vir homself boeke begin koop.

Hy het in Darter se boekwinkel ’n kopie van Sinbad se avonture ontdek en hy wou dit ten alle koste hê, maar dit was teen drie sjielings en ’n sikspens net te duur. Sy broer Francois het hom aangehits om die boek "uit die winkel te vervreem,” het Kannemeyer vertel. Maar hy het so skuldig gevoel dat hy dit later weer teruggeneem het. Hierdie storie was die basis van sy latere kortverhaal "Die diefstal".

Uys se volgende kontak met die klassiek wêreldletterkunde het gekom vanaf sy Engelse onderwyser, eerwaarde PJ Loseby wat voor die klas op sy lessenaar gesit het en uit die klassieke Engelse digters se werk voorgelees het. “When I heard,” het Uys later gesê, “Shelley and Keats spoken in this beautiful English voice for the first time at the age of fourteen – well, something happened to me; I never was the same afterwards.”

Terselfdertyd het Uys se Afrikaanse onderwyser, Timo Kriel, hom bekend gestel aan die Afrikaanse poësie van die voorlopers daarvan, soos Jan FE Celliers, C Louis Leipoldt, AD Keet en T Wassenaar.

Op dertienjarige ouderdom het Uys begin skryf, eers in Engels en kort daarna in Afrikaans. Hy skryf verse, sketse, verhale, opstelle en nuusberigte. Vir The Cape Argus het hy gereeld verslae oor sportgebeure op Stellenbosch geskryf, terwyl van sy Engelse gedigte en opstelle in AA Donovan se weekblad The Cape en The South African Review van Alfred Palmer opgeneem is. In sy biografie skryf Kannemeyer: “Wanneer hy by geleentheid ’n prosaskets en gedigte aan The Sunday Times stuur en die redaksie vra om in hulle rubriek ‘Answers to correspondents’ te laat weet ‘if I must cut down summarily the poetical fruit-tree’, is die kritiek egter taamlik vernietigend: ‘Until you cut out altogether the very bombastic style and the dozens of complicated metaphors, it is no use you sending any more articles to us. The story is quite impossible and the poem worse. We should certainly advise you “to chop down summarily the poetical fruit-tree”.’”

Uys het sy eerste letterkundige prys gewen met ’n skets in Engels in die destydse kinderafdeling van The Cape Argus. Van sy prosabydraes het in die jaarblad van die Hoër Jongenschool verskyn en met sy eerste inskrywing in die tydskrif De Goede Hoop het hy die eerste prys verower vir ’n gedig oor die Voortrekkers, “Dingaansdag”.

Ten spyte van die advies van The Sunday Times het Uys voortgegaan met dig. Hy het selfs die antwoord van die koerant uitgeknip en dit in sy plakboek geplak. “Ek is van mislukkings aanmekaar gesit soos ’n tennisnet van gate, maar ek bly hang,” het hy later gesê.

“Die rymelaar se lied” wat in De Goede Hoop van 15 April 1926 verskyn het, was sy antwoord aan sy kritici. Hieroor skryf Kannemeyer in sy bibliografie van Uys Krige: "Dit was sowel Dertig se eerste kunsbelydenis in versvorm as ’n jong seun se manhaftige reaksie op die kritiek wat sy verse uitgelok het. Terselfdertyd was dit ’n voorbeeld van hoe Uys, ten spyte van die feit dat hy seergemaak moes gevoel het, negatiewe kommentaar kon verwerk":

Hulle sê my versies is niks wêrd,
Van digkuns weet ek kop nog stêrt.

My ritme is mos ook verkeerd,
Die mense is tog so geleerd.

My versies skeur hul uitmekaar,
En daarmee is hul glad nie klaar,

Want ook my versmaat is nie reg.

My versies, o die is so sleg!

Hul’ het geen goeie woord daarvoor,
Hul rys hul stem in slegsêkoor ...

Die woorde borrel op in my,
Hul kom vanself; ek kan nie swy.

Die klankevloed oormeester my,
Dit is spontaan; ek kan nie swy.

My sirkel van gedagtes dy
Al breër uit; ek kan nie swy.

Die reënboog van my digtrant kry
’n Nuwe kleur; ek kan nie swy ...

My moeder sê sy lees hul,
Vir haar is hul so mooi;

Dus skrywe ek nie vir jul,
Maar net vir haar en my.

Volgens die nuwe regulasies wat in 1927 van krag geword het en wat aan hom ’n datumkeuse gegee het, het Uys in Februarie 1927 ̶ en nie in November 1926 nie – die seniorsertifikaat-eksamen met welslae afgelê. Sy uitslae was nie te wonderlik nie – chemie 234 uit 330 punte, Latyn 195 uit 350 en Afrikaans 163 uit 220 – maar hy het darem ’n onderskeiding in Engels gekry.

Verdere studie en werk

Ná die voltooiing van sy skoolloopbaan was Uys se groot belangstelling beslis die letterkunde, maar hy was onseker of hy ’n bestaan daaruit sou kon maak en om onderwys te gaan studeer was nie ’n opsie nie. Sy familie was van mening, omdat hy so glad met sy mond was, dat hy sou goed vaar in die regsberoep. Hy het hom dan ook aan die begin van 1927 ingeskryf as regstudent in BA Regte aan die Universiteit van Stellenbosch.

Uys en sy broer Bokkie het eers saam met ses ander studente in Bergville, oorkant die Ou Hoofgebou gewoon, maar hy is vanaf sy tweede jaar na John-Murray-huis (later Dagbreek). Dit was nie lank nie of Uys was aktief by die sport- en sosiale aktiwiteite van die universiteit betrokke. Sy hart het feitlik elke dag aan ’n ander meisie behoort en hy het nie net berg geklim en geswem nie, maar ook oor naweke krieket gespeel. Hy was lid van die universiteit se eerste krieketspan, maar in rugby kon hy slegs die derde span haal.

Hy het gou agter gekom dat die regskursus nie heeltemal die rigting vir hom was nie aangesien dit nie sy "beweeglike en romantiese aard" bevredig het nie. Wat vir sy latere ontwikkeling van meer belang was, was dat een van sy dosente, JLM Franken, hom bekend gestel het aan die Franse poësie van digters soos Villon, Baudelaire, Rimbaud, Verlaine, Mallarme en Apollinaire. Hy het die kortverhaalskrywers Daudet en De Maupassant leer ken en van sy vertalings van hul verhale is later in Die Huisgenoot opgeneem. Uys het later verklaar: “Sy (Franken se) besielende lesings oor die Franse letterkunde het ’n hele wêreld vir my oopgemaak.” Vandat hy by professor Franken begin klas neem het, het hy die begeerte gehad om Frankryk te besoek om die land, sy mense en kultuur van naderby te leer ken.

Fransie Malherbe was die een wat hom aan die jonger Nederlandse digters voorgestel het en daarvoor het Uys groot waardering gehad. Sy kennis van die skilderkuns het hy met behulp van buitemuurse lesings uitgebrei en die werke van Van Gogh en Cézanne ontdek. Deur sy dosente in Engels V Walpole en D Hopwood, is die wêreld van Shakespeare en die klassieke, romantiese en realistiese drama en poësie van die Engelse letterkunde aan hom blootgelê.

Tydens sy studentejare het Uys saam met nege van sy medestudente ’n vereniging vir skryfkuns onder die naam The Nine Muses gestig. Behalwe Uys en sy broer, Bokkie, was daar Helm van Zyl en Louis van Winsen wat albei later regters sou word, en Willem van Rooijen, ’n latere joernalis. Van sy studenteverse is in tydskrifte soos Die Boerevrou, Die Huisgenoot, Die Nuwe Brandwag en Die Stellenbosse Student gepubliseer. In Die Stellenbosse Student het hy dikwels gebruik gemaak van die skuilnaam Matuk, afgelei van die voorletters van sy naam en van. Uys was ook redaksielid van Die Stellenbosse Student.

In November 1929 het Uys sy BA in regte voltooi met ’n slaagpunt van 60 persent vir sowel Romeins-Hollandse Reg as Romeinse Reg. Sy broer Bokkie het met sy uitslae ’n Rhodes-beurs verwerf en Uys het vir sy ouers getelegrafeer: “Bokkie slaag cum laude, ek sonder moeite!” Teen hierdie tyd het Uys al besef dat hy ’n skrywer wou word en nie ’n advokaat nie. Hy was dus glad nie van plan om die volgende jaar die LLB-kursus te gaan volg nie – hy het geen begeerte gehad om verder te studeer nie. “Hy wou die wêreld sien, self ervaar, lees en veral skryf,” skryf Kannemeyer.

Bokkie en Uys is na hulle studies na Cathcart, waar hulle ouers gebly het. Op die gesellighede wat die jongmense gedurende die Desembermaand op die dorp gehou het, het Uys hom gate uit geniet en het hulle saans tot baie laat gedans. Hy was van plan om aan die begin van 1930 na Johannesburg te gaan en van daar af na Lourenço Marques (vandag Maputo), waar hy dan per skip na Europa sou vertrek en sy reisgeld sou betaal deur aan boord te werk.

Phil Weber het vir Uys ’n bekendstellingsbrief geskryf en daarmee is hy na Izak la Grange van The Rand Daily Mail. Só is hy as verslaggewer by hierdie koerant aangestel en het hy besluit om nie meer na Europa te gaan nie. Aan die begin van Maart 1930 het hy in Johannesburg begin werk.

Uys het in die agtien maande wat hy by die Rand Daily Mail gewerk het, baie geleer en die sosiale lewe van Johannesburg was ook baie lekker, maar in hom was daar nog altyd die begeerte om na Europa te gaan. Om geld te verdien het hy belowe om artikels uit Europa te skryf en aan Die Volkstem te stuur en teen die middel van 1931 is hy met die Dunbar Castle vanuit Kaapstad na Europa.

Uys is aanvanklik na Londen, maar sy kop het nog altyd Frankryk toe gestaan. Toe ’n Engelse sportjoernalis aan hom vertel het van veral die mense in die suide van Frankryk wat so gaande oor rugby is, het hy besluit om daar te gaan rugby speel en so ook geld te verdien. Na drie maande in Londen is Uys weg na die vissersdorpie Sanary-sur-Mer.

Hy is eers saam met ’n joernalis-vriend, Jack Barkham, na Parys waar hulle twee en sy broer Bokkie vir ’n week Parys ervaar het, waarna hulle per trein na Marseille is. Uys het lid geword van Toulon se rugbyklub en na een wedstryd vir die tweede span (waar hy "heldedade" verrig het) is hy vir die eerste span gekies. Hy, wat slegs Stellenbosch se derde span kon haal, moes handtekeninge aan jong seuntjies uitdeel en die koerante kon nie genoeg skryf oor hierdie nuwe aanwins nie.

Enslin du Plessis, ’n Londense vriend, het aan Uys vertel van die Suid-Afrikaanse Engelse skrywer, Roy Campbell, wat in Martigues in Provence bly. In die herfs van 1932 is Uys na Campbell wat op ’n plasie naby die vissersdorpie gewoon het. In ’n skets wat in Sout van die aarde opgeneem is, het Uys op ’n humoristiese manier vertel van sy eerste ontmoeting met Campbell. Sy kuier by Campbell en hulle se gesamentlike rit, met Uys agterop Campbell se fiets, was die begin van ’n vriendskap wat lewenslank geduur het.

Marseille se rugbyklub, van wie Uys aanvanklik ’n klein inkomste ontvang het, was egter aan die begin van 1933 feitlik bankrot en kon hom nie meer betaal nie. Die Campbells het, nadat hulle na ’n groter huis getrek het, Uys gevra om permanent by hulle te kom woon. Hoewel Uys dus jammer was om sy vriende in Marseille te verlaat, het hy besluit om by die Campbells in te trek. En einde 1933 het hy saam met hulle vir die eerste maal na Spanje vertrek.

Vir Uys was sy eerste sien van Spanje liefde met die eerste oogopslag. Hy het daar en dan besluit om in Spanje te bly en hy was "gou gefassineer deur die teenstrydighede in die Spanjaard se samestelling," skryf Kannemeyer, "sy hoogs individuele innerlike lewe, sy Stoïsynse afgetrokkenheid, en naas sy strakheid en stugheid ook sy drif en emosie en die wyse waarop hy hom aan skerts en jolyt kan oorgee. Later sou Uys hierdie twee pole in die samestelling van die Spaanse mens in die woorde sol y sombra – son en skaduwee – saamvat."

Omdat hy nie veel geld gehad het nie, moes Uys noodgedwonge in Barcelona in die swakker gedeeltes van die stad gaan bly, waar hy kennis gemaak het met swerwers, bedelaars en misdadigers van alle afkomste, asook met politieke uitgewekenes vanaf byna elke land in Europa. Om sy inkomste aan te vul het hy op ’n gereelde basis sketse oor sy belewenisse aan koerante in Suid-Afrika gestuur.

Van Barcelona is Uys in April 1934 na Valencia aan die suidelike kus van Spanje. Valencia met sy breë strate en geskiedkundige geboue het vir Uys Krige aangegryp en daar het hy gevind die gewone Spanjaard was meer bereid om met buitelanders te gesels. Deur in te skryf aan die plaaslike universiteit het hy kennis gemaak met die Spaanse letterkunde en het daar vir hom ’n nuwe wêreld oopgegaan. Hy het nog steeds sy rubrieke geskryf en ander stof versamel deur oral met die plaaslike mense te gesels.

Dit was dan ook hier dat Uys kennis gemaak het met die werk van die groot Spaanse digter en dramaturg, Federico García Lorca (1898–1936). Kannemeyer vertel meer van Uys se fassinasie met Lorca: "Lorca was ’n skrywer wat Uys van die begin af meegevoer het en in wie hy ’n sielsgenoot herken het. Deur die kennismaking met Lorca se werk, wat hom begeester het, het Uys van sy verse begin vertaal. Dikwels is hy só meegevoer dat sy weergawes herskeppinge geword het, nadigtings van die oorspronklike in die trant van die Spaanse digter. In die jare wat gevolg het, het Uys talle vertalings en verwerkings uit Lorca se dramas en poësie gedoen en met bewondering oor hom gepraat. Ook op sy eie skeppende werk het Lorca ’n duidelike invloed gehad."

Tydens Uys se verblyf in Spanje sou hy van die mees dramatiese gebeure van die Spaanse geskiedenis belewe. 1936 se politieke onruste wat die Spaanse Burgeroorlog tot gevolg sou hê, was reeds sigbaar en in een van sy sketse het hy geskryf: “Gedurende die drie weke sinds my aankoms in Barcelona het daar ongeveer 40 bomme hier ontplof.”

Selfs nadat hy in 1935 teruggekom het na Suid-Afrika, het hy nog meelewing gehad met die gebeurtenisse daar, soos gesien kan word in die gedig "Lied van die Fascistiese bomwerpers" waarin ’n bitter-ironiese aanklag te sien is teen die magte wat christelike leuses voorhou maar tog die bevolking van Spanje probeer vernietig.

Voordat hy terug is na Suid-Afrika het sy ma in Maart 1935 na Spanje gekom om saam met Uys en Francois rond te toer. Hulle is ook na Italië en Frankryk. Uys wou ook na Nederland en België gaan om nader kennis te maak met die Nederlandse en Vlaamse skrywers. AAM Stols het hom per brief voorgestel aan ’n paar Vlaamse skrywers, maar hy het gemeen die Vlaminge is "swaar op die hand en swygsaam”. Hy het vir Modest Lauwerijs gaan kuier en dié het baie gehou van die gedigte wat Uys vir kommentaar aan hom voorgelê het.

In Madrid het hy die Lope de Vega-fees bygewoon wat gehou word ter ere van die groot Spaanse dramaturg uit die 17de eeu en hier het hy sy eerste inspirasie gekry om self toneel te skryf. Een van die groot toneelondervindings van sy lewe was Lope de Vega se pragtige sosiale drama Fuente ovejuna, wat by dié geleentheid deur Lorca met ’n studentegeselskap in die Retiro-park in Madrid opgevoer is. Omdat Uys te laat was vir ’n afspraak met Lorca, het hy die enigste geleentheid wat hy ooit gehad het om Lorca te ontmoet, misgeloop.

Gedurende die laaste maande van sy verblyf in Spanje het die naam Emilia Eulalia al meer opgedoen in sy briewe aan die huis en sy liefde vir die onbekende meisie. Hy wou met haar trou en het sy pa gevra om sy doopsertifikaat aan te stuur. Maar wat gebeur het dat die huwelik nooit plaasgevind het nie, weet niemand nie. Toe Uys in Desember 1935 terug is na Suid-Afrika, het die verhouding doodgeloop.

Gedurende Uys se verblyf in Europa is van sy gedigte in Helikon van Desember 1933 gepubliseer. AAM Stols het laat blyk dat hy die werk van jong Suid-Afrikaanse digters in ’n spesiale uitgawe van sy tydskrif sou publiseer en het vir Uys gevra om "redakteur" te wees. Aan die begin was die medewerking maar skraps, maar namate die gedigte begin inkom het, het Stols besluit om ’n bloemlesing die lig te laat sien. In Maart 1937 is Afrikaanse versameling gepubliseer met gedigte van Haarhoff, Eitemal en Mocke, asook van jonger digters soos die Louw-broers, Elisabeth Eybers en Krige.

Behalwe vir die bloemlesing en die artikels wat hy om den brode geskryf het, het Uys gedurende die tyd wat hy in Spanje was, heelwat werk aan sy eie gedigte bestee en het hy gemeen dat daar genoeg verse is om ’n bundel vol te maak. Hy het dit self persklaar gemaak, in vyf afdelings ingedeel en oorgeskryf in ’n groot boek met ’n leerband wat hy in 1933 in Florence gekoop het. Hy het dit Eerste gedigte genoem. Uys het dit reeds in 1934 aan sy broer Bokkie vir sy verjaardag present gegee.

Uys het die bundel aan Stols gestuur, maar die Nederlander wou nie die kans waag om ’n bundel met soveel gedigte deur ’n Afrikaanse digter te publiseer nie, aangesien hy nie geweet het of poësie-lesers in die Lae Lande dit sou koop nie. Bokkie het dit aan Van Schaik Uitgewers gestuur wat dit weer aan MSB Kritzinger gestuur het vir keuring. Kritzinger was egter baie negatief en het dit afgewys. Uys het vroeër die verse aan Roy Campbell voorgelees en vertaal soos hy gelees het. Campbell was so beïndruk dat hy ’n artikel op ’n begeesterde manier geskryf het oor Uys en die Afrikaanse taal.

Nadat Van Schaik die manuskrip afgekeur het, het Uys Campbell se artikel aan Bokkie gestuur en hom versoek om dit saam met die manuskrip aan TJ Haarhoff te gee vir keuring. Haarhoff het die gedigte genotvol gevind en het dit aan die Johannesburgse tak van die Skrywerskring voorgelees. Hulle het meestal daarvan gehou, maar daar was tog voorbehoude soos dat van die gedigte te "lank uitgerek" was en dat van die meer "modernes" waarmee stadig gegaan moet word "ter wille van ons goeie publiek", het Haarhoff in ’n brief aan Uys geskryf (JC Kannemeyer: Die goue seun).

Die bundel het toe tog uiteindelik in 1935 by Van Schaik verskyn onder die titel Kentering: eerste verse.

Die resensent in Ons Eie Boek (dalk FEJ Malherbe, April-Junie 1935) se mening was as volg: "Ons het vir seker hier te doen met waaragtige jong kunstenaarskap, maar eerder in spontane jeuggevoel as in diepte of besonkenheid, wat met die jare kom. Uys Krige is die sanger van skoonheid, van jeug en jonge liefde, van geluk en dan veral van die smart om die kortstondigheid van skoonheid en sy geluk. Hy is die romantiese troebadoer, die wanderlustige jongeling, wat ons sy kleurryke, klankryke liriese siel openbaar; sy lied sing onder stralende nuwe hemele, met tog altyd om sy hart die kwelling van die weemoed en die heimwee. Hy is jonk, wakker en fris en het sy Afrikaans fyn getroetel en verfyn in die skool van Romaanse ritme en woordlenigheid. Maar naas die nuwe en treffende in die bundel is daar nog die gewone jeuggebreke: geforseerde bewoording van aandoeninge, retoriese wendinge, onskone wydlopigheid en gesogtheid van beeld en veral klank, redenering in plaas van beelding.”

Hy het voortgegaan deur Krige met AG Visser te vergelyk en gemeld dat die verafrikaansing van François Villon ’n pragtige oefening bied vir die verfyning van ons taal. “Die bundel eindig met twee van die mooiste: ‘Tram-ode’ en ‘Dagbreek’. Al die heerlike name van sy verlange spook deur sy gees as hy op die hortende trem in Marseille sit en die Aldarin in die verte sien vaar. Avignon en Carcassonne maal saam met Meyerton in die Transvaal! ‘O stem van verdriet ...’ ’n Enkele keer is daar ’n reminissensie van Rupert Brooke, maar die geheel is selfstandig en sterk gebou. Sulke beheersing laat ons nog veel van Krige verwag. Daar is ’n stygende lyn in die gedigte.”

S Ignatius Mocke het in Die Huisgenoot van 18 Oktober 1935 gesê dat ’n gedig soos “Nagreën” "onoortuigend aandoen weens die gebrek aan spankrag en die oorlading van die woord en dat baie verse aan ’n hinderlike "woorde-teveel"’ ly en ’n te bewus-beredeneerde indruk maak."

Die negatiefste en mees onbillike resensie het gekom uit die pen van DF Malherbe in Die Volksblad van 11 Januarie 1936. Malherbe het verwys na Haarhoff wat in sy inleiding geskryf het “[geen] Afrikaanse digter het soos Krige die weemoed van die swerwende Afrikaner in die buiteland weergegee nie”. Volgens Malherbe kon dit dalk waar gewees het, "maar dan wou hy, by alle waardering van die skrywer se jeugdige romantiek en vaardigheid, byvoeg dat as dit die vrug moet wees van jare lange omswerwing in die vreemde, dan sou ons die Afrikaanse aspirant-digters ernstig aanraai om tuis te bly en hul kragte te gee aan die dringende eise van ons kultuurnood”.

Kannemeyer meen dat Uys met Kentering, ten spyte van vaal kolle, in baie opsigte vir die Afrikaanse poësie iets nuuts gebring het. "Dit geld nie alleen vir die problematiek van dood, verganklikheid en die vae, onbestemde onrus van die bloed as motiewe waarop WEG Louw wys nie, maar ook vir die verbinding van die vrye vers met ’n meer tradisionele tipe gedig en die wyse waarop hy by Franse digterlike tradisie aangesluit het en daar tóé reeds iets van die Mediterreense wêreld in sy poësie neerslag gevind het. Die hoogtepunt van die bundel en een van Krige se belangrikste bydraes tot die Afrikaanse poësie is 'Tram-ode'.

"In sy Blokboek oor Treknet skryf Ernst Lindenberg dat die gedig "één volgehoue poging is tot ontvlugting na die romantiese, verafgeleë plekke. Met die Aldarin kry die digter se gevoelens koers, eers na die Verre Ooste, dan na plekke van herinnering oor die hele aardbol. Die gedig word ook ’n verwoording van verlange na die vaderland en ’n verlore, ongerepte jeug. Gedurig is daar sprake van verlore of onbereikbare dinge; en tog skep die gedig op paradoksale wyse ’n indruk van lewensgenieting."

Op 13 Desember 1935 het Uys Krige ná byna vier en ’n halwe jaar in Europa in Kaapstad aangekom – ongeveer ses maande voordat die Burgeroorlog in Spanje sou uitbreek.

Terug in Suid-Afrika, na ’n kort verblyf in Kaapstad en by sy ouers in Ladybrand in die Vrystaat, is Uys na Pretoria waar hy aangestel is as tydskrifredakteur by Die Vaderland, met die opdrag om ook te help met die algemene beplanning van Die Brandwag, wat in 1937 as ’n literêre bylaag van Die Vaderland geloods sou word. Uys het nie net noordelike skrywers soos CM van den Heever en JRL van Bruggen se werk gepubliseer nie, maar ook werk van NP Van Wyk Louw en ID du Plessis en ander digters wat nog nie so bekend was nie.

In Junie 1936 het Uys saam met die res van die redaksie na Johannesburg verhuis. Daar het Uys verder gewerk en geskaaf aan heelparty van sy verse en het hy ook nuwes geskryf.

Maar hy kon nie lank in Johannesburg uithou nie. In daardie tyd het Unie-Volkspers besluit om ’n nuwe koerant in die suide te begin. Die eerste uitgawe van Die Suiderstem het in Oktober 1936 verskyn onder die redakteurskap van CJS Strydom, wat kort daarna opgevolg is deur Abraham H Jonker. Die Vaderland het ingestem dat Uys kon teruggaan Kaapstad toe om daar vir Die Suiderstem te gaan werk. In Kaapstad was hy meer betrokke by die gebeure in die letterkundige wêreld en het hy ook van die Engelssprekende skrywers en intellektueles in Kaapstad ontmoet en vriende met hulle geword. Hy het ook skouers geskuur met kunstenaars soos Lippy Lipschitz en Wolf Kibel.

Reeds voor Uys se vertrek na Europa het hy ’n jong meisie Rachel Alida du Toit ontmoet wat van Petrusburg in die Vrystaat gekom het. Sy het later onder haar verhoognaam Lydia Lindeque baie bekend geword as ’n uitstekende dramatiese aktrise en een van dié bestes van die Suid-Afrikaanse toneel. Nie lank na Uys se terugkeer na Suid-Afrika nie, het hulle mekaar weer ontmoet. Die twee het dadelik baie verlief geraak en hulle is op 27 Januarie 1937 in Kaapstad getroud. Lydia is direk na die huwelik weer op een van haar toneeltoere.

In Oktober 1937 het Uys by Die Suiderstem bedank en as ’n vryskutjoernalis gewerk. Uys en Lydia se eerste kind, Maria-Eulalia – vernoem na Uys se ouma Krige en sy Spaanse nooi – is op 25 Desember 1937 in Kaapstad gebore. Die arts wat die bevalling behartig het, was Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanse vrou wat in Nederland as mediese dokter gekwalifiseer het, en ook ’n skryfster.

Uys en Lydia het vir Van Wyk Louw gevra om Eulalia se peetvader te wees. In April 1938 het die gesin in Izapa, ’n houthuisie op Clifton se Tweede Strand, gaan woon. Uys was in hierdie stadium reeds afvallig van kerklike vormgodsdiens en het Eulalia sommer self in die ysige water van die Atlantiese Oseaan “gedoop”.

Ná sy troue met ’n vrou met toneel wat in haar are vloei, het dit hom geïnspireer om benewens poësie en prosa, ook sy hand aan die toneel te waag. Hy het aan die begin oor sy belewenisse tydens sy reise geskryf wat hy en Lydia vir die radio opgeneem het. Daarna het ’n vertaling van Federico Lorca se Mariana Pineda in November 1937 gevolg met ’n spel vir die radio getiteld Die gees van die water . Die eenbedryf Die skaapwagters van Bethlehem was ’n groot verbetering en dit sluit by die Middeleeuse tradisie van die Kersspel aan. Die Bybelse verhaal word in die eenbedryf deels na ’n Suid-Afrikaanse milieu oorgedra.

In 1938, met die Voortrekkereeufees wat voorgelê het, het Uys besluit om ’n geskiedkundige drama van groter omvang te skryf. Nadat hy Gustav Preller se biografie oor Piet Retief gelees het, was hy diep geraak deur die ontroerende brief wat Magdalena Retief as bejaarde vrou aan haar familie in die Kaap geskryf het. Hy was so diep daardeur getref dat hy begin skryf het aan ’n drama met Magdalena Retief as hoofkarakter.

Magdalena Retief is ingedeel in agt tonele en ’n epiloog en dit speel af oor ’n tydperk van langer as 50 jaar. Dit beeld die lewe van Magdalena uit vanaf haar sestiende tot haar sewentigste jaar. Die drama is in 1938 deur Unie-Volkspers gepubliseer met ’n pragtige bandontwerp en houtsneë deur Cecil Higgs. Die Krugersdorpse Munisipale Vereniging vir Drama en Opera het in 1938 die eerste prys aan die drama toegeken in die wedstryd vir toneelstukke oor die Groot Trek.

FATSA (Federasie van Suid-Afrikaanse Toneelverenigings), die voorloper van die Nasionale Toneelorganisasie, het Magdalena Retief bekroon. VW het in sy resensie (Suiderstem, 13 Mei 1939) geskryf dat dit ’n waardige werk oor ’n waardige tydperk is. “Nie alleen getuig Magdalena Retief van ’n grondige kennis van die aard en omstandighede van daardie geskiedkundige tydperk nie, maar dit skep in sy geheel ’n atmosfeer wat ons ’n insig gee van die wel en wee van die worstelende Trekkersvolk in al sy aspekte. Uys Krige het blykbaar met opset die motoriese episodes uit die geskiedenis links laat lê, en hom toegelê op die uitbeelding van die Voortrekkerlewe onder die skadu van hierdie gebeurtenis.” VW het ook die dialoog geprys.

In 1948 het Uys Magdalena Retief in so ’n mate hersien dat die hele hoofstuk 8 van die oorspronklike teks vervang is. In 1975 is daar weer ’n nuwe uitgawe uitgegee waarin albei die tekste verskyn. Vir André P Brink (Rapport, 4 Januarie 1976) was daar nog altyd gebreke in die stuk, maar daar is tog iets "onvergeetliks omtrent die hooffiguur én die wyse waarop Uys Krige haar stadigaan, oor ’n tydperk van meer as ’n halfeeu, onthul: in die eerste toneel is sy ’n meisie van sestien jaar; in die epiloog sewentig. Deur slim snywerk is daar bowendien op subtiele wyse geboetseer aan haar rustige, ingekeerde krag."

In November 1938 is die Kriges weer na die Transvaal. Lydia moes die hoofrol vertolk in Magdalena Retief, wat in Krugersdorp opgevoer is. Hulle het aanvanklik in Pretoria gewoon, maar op 1 Januarie 1939 trek hulle na ’n huurhuis in Johannesburg.

Uys was pas klaar met Magdalena Retief toe Anna Richter-Visser hom gevra het om ’n eenbedryf vir ’n groepie Kaapstadse amateurspelers te skryf vir ’n opvoering op Heldedag van 1938. En dit is hoe Die wit muur sy ontstaan gehad het. Dit speel af gedurende die Anglo-Boereoorlog met die hoofgebeure ’n Britse offisier wat ’n jong Boereseun met die dood dreig as hy nie vir hulle vertel waar sy pa se kommando is nie. Anna Richter-Visser was die regisseur en die opvoering was baie suksesvol.

Gedurende 1939 het Uys nog twee eenbedrywe geskryf, naamlik Die ongeskrewe stuk en die blyspel Die arrestasie wat hy vir die Hugenoteviering aan die Universiteit van Kaapstad geskryf het. Die arrestasie, Die wit muur en Die skaapwagters van Betlehem is in 1940 in boekvorm by Unie-Volkspers uitgegee.

In Mei 1939 het Uys saam met sy broer François, die kunstenaars Walter Battiss en Terence McCaw asook sy suster Mizzi na Basoetoland (vandag Lesotho) gereis, waar hulle saam met ’n Sotho-gids teen die Maluti’s opgegaan het. Uys het in ’n reeks artikels wat van 9 Junie tot 31 Oktober in Die Brandwag verskyn het oor die reis verslag gedoen. In 1990 is dit postuum uitgegee met ’n voorwoord deur Hennie Aucamp onder die titel Na die Maluti’s.

Uys se volgende bundel gedigte, Rooidag, het in 1940 by Van Schaik verskyn, met verse uit sy Franse en Spaanse periodes wat nie in Kentering verskyn het nie, asook verse wat hy sedert sy terugkeer na Suid-Afrika geskryf het. Die bundel is in vier afdelings ingedeel wat chronologies op mekaar volg: I, Johannesburg – Sanary-sur-Mer (1930–1932); II, Marseille – Nice (1932–1933); III, Provence – Spanje (1933–1935) en IV, Suid-Afrika (1936–1939). Dit bevat dus verse van ongeveer tien jaar en bevat ook gedigte wat vroeër ontstaan het as die laastes in Kentering.

Veral “Die lied van die Fascistiese bomwerpers” het die kritici beïndruk. WEG Louw (Huisgenoot, 2 Mei 1941) het byvoorbeeld geskryf: "Die gedig bevat van die skerpste reëls wat Krige nog geskryf het. Die gedig is beurtelings ’n felle aanklag, beurtelings bitter ironie, en deurgaans deurstu van ’n eienaardige beweeglike ritme. Dit is ook deurgaans in ’n heeltemal vrye vers geskryf."

Louw het egter sy resensie as volg afgesluit: “Wanneer ’n mens jou nou afvra wat die wins van hierdie bundel is, sou ek, ondanks die vooruitgang wat dit op Kentering is, dit nie te hoog wil stel nie. Sonder dat dit noodsaaklik ’n ongunstige kwalifikasie is, sou ek wil sê dat hierdie poësie na my mening nie van so ’n aard is dat dit die draer van die mooiste en blywendste literêre tradisie van ’n taal kan word nie. Hierdie verse is soms ontroerend, meermale mooi, en feitlik sonder uitsondering om die een of ander rede interessant, maar hulle verteenwoordig nog nie dié kwaliteite waardeur ’n poësie groot en onverganklik word nie.”

In Die Burger van 1 Maart 1941 het G Dekker geskryf dat die poësie in Rooidag jeugpoësie bly "van ’n simpatieke, begaafde digter, ryk aan stemminge en sieninge, maar wie se ontroeringslewe nog te weinig verdiep het tot die diepere noodwendigheid van groter kuns. Hierdie poësie doen sterk aan as die digoefeninge van ’n jong talent wat sy vreugde aan sy ontluikende gawe van die skepping van versskoonheid en plastiek uitleef. (...) Hoewel Rooidag geen ontwikkeling van betekenis bring in die kuns van Krige nie, laat dit ons sy verdere groei met hernude belangstelling volg, die hoop koester dat hy deur ernstiger kunstenaarskap, groter lewensverdieping, ’n dieper, voller klank sal bydra tot die simfonie van ons digkuns waarin verskeidenheid van gawe en toon nodig is en naas die diep grondtoon ook die ligtere bytoon kleur moet bring.”

Later het Rob Antonissen “Die lied van die Fascistiese bomwerpers” beskryf as die “magtigste, bitterste maar ook ontroerendste sarkasme wat nog ooit in Afrikaanse verse sy géselgestalte gekry het”.

Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het Uys as vryskutjoernalis aan die Rand gewerk. Hy het hom in September 1939 by Smuts se kantoor aangemeld en hy en Arthur N Wilson is as Afrikaanse en Engelse uitsaaiers aangestel om die onjuiste inligting van die Nazi-oproep Zeesen uit Berlyn aan die Suid-Afrikaanse nasie verkeerd te bewys. Só het hy gevoel dat hy met sy skryftalent ’n bydrae om die Nazi's teen te staan, kon lewer.

Maar dit was nie genoeg vir hom nie. Hy wou by die vegtende magte aansluit en het met Jan Smuts daaroor gaan praat. Hy is as die Afrikaanse, en Conrad Norton as die Engelse oorlogskorrespondent aangestel. In November 1940 het die twee in Nairobi aangekom. Uys Krige se ervarings in die droë woestynwêreld van Somaliland, Abessinië en Egipte het neerslag gevind in baie van sy gedigte.

In die middel van 1941 het Uys netelroos opgedoen en vir ’n rukkie na Suid-Afrika teruggekom. Hoewel Eulalia, sy dogter, verheug was om haar pa te sien, was die verhouding tussen hom en Lydia aan die verbrokkel. Sy ou rusteloosheid en swerflus het weer kop uitgesteek en in September 1941 is hy Kaïro toe. Op 23 November 1941 het die Slag van Sidi Rezegh naby Tobroek plaasgevind en is Uys en Norton deur die Italianers as krygsgevangenes na Italië weggevoer. Oor sy herinneringe aan hierdie veldslag het Uys die skets “Totensonntag” (die Sondag van die dooies) geskryf, wat later in Sout van die aarde opgeneem is.

Uys en die ander gevangenes is na die Tuturano-kamp naby Brindisi aan die ooskus van Italië geneem. Selfs in daardie moeilike toestande het hy daarin geslaag om enkele verse neer te skryf. En aangesien daar geeneen was wat Afrikaans magtig was nie, het hy ook Engelse gedigte begin skryf. Aan die begin van 1942 is die gevangenes na ’n permanente kamp, die Sulmona-kamp tussen die hoë Abruzzi-berge oos van Rome geskuif. Daar het dit beter met die gevangenes gegaan en hulle het tot briewe van die huis af ontvang. Lydia het in een brief geskryf dat daar "geen nuwe begin sonder hom is nie" en dat sy vir hom sou wag.

Uys het aangehou om gedigte en ook enkele kortverhale te skryf. Hy het ’n rol gespeel in die voorlesings van King Lear en Twelfth night en was die impetus agter die opvoering van Shaw se Pygmalion en Robert Sheriff se Journey's end in die kamp.

Gedurende hierdie tyd het Uys die kortverhaal "Death of a Zulu" geskryf. Retrospektief daarna gekyk was dit een van die belangrikste stukke prosa wat hy toe geskryf het. Ben du Toit wat saam met hom in die krygsgevangenekamp was, het die verhaal aan hom vertel en Uys het dit binne 24 uur op ’n paar stukkies verfrommelde papier neergepen. Die Engelse weergawe van die verhaal het in The dream and the desert (1953) verskyn. Die Fyner afgewerkte Afrikaanse weergawe het in Die Brandwag van 31 Augustus 1964 as "Die dood van die Zoeloe" verskyn.

Die handgeskrewe weergawe van die verhaal is in die kampkoerant gepubliseer en Uys se Engelse vriende was gaande daaroor. Internasionaal het die verhaal ook goed gevaar en finansieel was dit ’n groot sukses. Dit het André Gide, Franse Nobelpryswenner, só beïndruk dat hy die Franse vertaling in sy maandblad L'Arche opgeneem het. Die BBC het dit uitgesaai en dit is deur nog ’n Franse skrywer Georges Duhamel aangeprys. Vir Ignazio Silone, ’n Italiaanse romanskrywer, was dit die beste kortverhaal met die Tweede Wêreldoorlog as agtergrond. Dit is in die Amerikaanse tydskrif Harper's Magazine gepubliseer en Amerikaanse kritici was oorwegend positief daaroor. Nie net is dit in Nederland en Engeland raakgesien nie, maar dit is ook in Duits, Jiddisj en Magjaars vertaal en opgeneem in twee bekende Skandinawiese tydskrifte.

Oorlogsgedigte het in 1942 verskyn. Met enkele ingrypende wysigings, die verdeling van die gedig “Die pad deur die woestyn” in twee verse, en die toevoeging van een verdere gedig word dit in 1947 heruitgegee as Die einde van die pad en ander oorlogsverse. Saam is die nege gedigte ’n chronologiese verslag (met ’n datum en ’n aanduiding van waar dit geskryf is by die meeste gedigte) van Uys se ervaring van die oorlog vanaf 1939 tot Mei 1941.

Oor Oorlogsgedigte, wat by Van Schaik verskyn het, het J van Melle (Suid-Afrika, September 1942) geskryf dat net die feit dat die gedigte veral die oorlog in Noord-Afrika as tema het, dit klaar iets besonders is. “Hul belangrikheid lê egter nie soseer daarin dat hulle ’n gans nuwe onderwerp besing nie, maar veral in die feit dat hulle ’n aantal goeie eienskappe besit wat selde tesame aangetref word. Ek dink dan in die eerste plaas aan die helderheid van die taal sodat jy selde ’n reël meer as eenmaal hoef te lees om die sin daarvan te vat. (...) En ek dink aan die suiwerheid van sy woorde wat hy nie aan klank of rhythme wil opoffer nie. Die digter bekoor my buitengewoon, eerstens deur die rhythme van die weerkerende woorde en gedagtes maar veral deur duidelike en aangrypende skildering.” Van Melle het gemeen dat sy styl in hierdie bundel die uiting van persoonlikheid is – sy groot vryheidsliefde wat sig in die vorm van sy verse openbaar; sy avontuurlike gees wat hom na ’n nuwe wyse van segging laat soek; sy liefde vir mense wat sy werk deursidder van medelye.

“In hierdie bundel besing Krige die oorlog asof hy daar buite staan, asof hy geen party kies nie; soos een wat geen kant vir vyand het nie. Dit kan hy doen omdat hy een van die weiniges is wat van patriot tot mens gegroei het; wat nie alleen ’n goeie patriot is nie, maar tegelyk besef dat hy lid is van die mensdom as geheel.”

JC Kannemeyer skryf in Die goue seun dat ’n Italiaanse seun die middag van 8 September 1943 op ’n fiets by die kamp aangery gekom en aan die gevangenes geskreeu het dat die oorlog verby is. Mussolini is gearresteer en Pietro Badoglio het gesorg vir ’n wapenstilstand tussen Italië en die Geallieerde Magte. Met die nuus dat die Duitsers op pad was na die kamp, het Uys en drie ander gevangenes vertrek. In die dorpie Sulmona het hulle vir ses dae in Vincenzo Petrella se kelder in wynvate geskuil teen die Duitsers wat op soek was na die krygsgevangenes.

Met die verdere hulp van Italiaanse boere en herders het Krige en sy medegevangenes daarin geslaag om ses weke lank vir die Duitsers weg te kruip. Uiteindelik is hy oor die berge gelei na Compabasso, waar hulle deur die linies gekom het. Daarna is hulle na Foggia, die vroeëre hoofkwartier van die Luftwaffe, en onmiddellik na sy aankoms daar is hy per skip terug na Suid-Afrika. In Johannesburg is Uys met Lydia en Eulalia verenig en het hulle in ’n huisie in Norwood, wat Lydia met haar spaargeld gekoop het, gaan bly. Die gesin is ook per trein na die Kaap sodat Uys sy familie weer kon sien.

Bowenal wou hy so gou as moontlik die hele geskiedenis van sy ontsnapping te boek stel. Hulle het in Onrust, waar hulle gaan vakansie hou het, aangebly en in Februarie 1944 het Uys begin om The way out aan Lydia te dikteer. In Maart 1944 keer hulle terug na Norwood waar Lydia voortgegaan het met haar radio- en toneelverpligtinge. Sy was weer swanger en het gehoop dat die lewe saam met Uys nou rustiger sou wees.

Uys se paadjie om The way out gepubliseer te kry, het nie altyd glad verloop nie. Hy het dit eerstens aan Hurst & Blackett voorgelê, maar hulle wou dit nie uitgee nie. En hoewel die Britse uitgewer Collins dit dadelik aanvaar het, het dit eers in Desember 1946 op die rakke verskyn as gevolg van die papierskaarste ná die oorlog.

Die voorste literêre kritici in Londen het The way out baie geesdriftig ontvang. Lawrence G Green het geskryf: “After reading The way out those who cannot read Afrikaans will hope that Uys Krige will continue to write in both languages. His English is sensitive and vivid. In fact, I am now wondering whether there is any other writer in the Union so completely and powerfully bilingual as Uys Krige ... This is one of the 1939–1945 war books that will live.”

"Hierdie historiese verslag van ’n spannende periode uit Uys se lewe lees soos ’n roman: beskrywings van die grootse bergwêreld van die Abruzzi word afgewissel met binnenshuise tonele in Italiaanse boerewonings of in herdershutte hoog bokant die valleie. Telkens is daar die akute gevaar dat die vlugtelinge deur die Duitsers betrap sal word en kom hulle selfs tot binne hoorafstand van Duitse soldate, sodat die spanning selde verslap. Uys gedenk met dankbaarheid die talle eenvoudige Italiaanse mans, vroue en kinders wat dikwels met selfopoffering die voortvlugtiges in hul huise versteek het en hulle van kos en klere voorsien het. Hulle vriendelike en gasvrye houding het die voortvlugtiges telkens bemoedig – selfs nadat die Duitsers gedreig het om enigeen wat die vlugtelinge help, te skiet. Met The way out het Krige inderdaad die doel bereik waarmee hy dit geskryf het: “om ’n dankskuld aan die Italiaanse bevolking van daardie streek te vereffen," aldus M Nienaber-Luitingh in Lantern van Maart 1969.

Uys het self die Afrikaanse vertaling van The way out reeds in 1948 gedoen, maar toe hy die manuskrip eers aan die Afrikaanse Persboekhandel se Sarel Marais in 1951 en in 1954 aan George Minnaar van Nasionale Boekhandel voorgelê het, het albei gesê dat hulle twyfel of dit met sukses uitgegee sou kon word. Môrester oor die Abruzzi, die vertaling, is eers in 1987 gepubliseer, enkele dae voor Uys se afsterwe.

In die 1940’s was Uys twee keer in die spervuur toe dit gekom het by die toekenning van die Hertzogprys. Kannemeyer skryf in sy biografie oor Uys Krige dat die Hertzogprys vir Drama vir 1941 vir die tydperk 1938 tot 1940 moes toegeken word. Die enigste noemenswaardige werke uit die 24 stukke wat beoordeel is, was Uys se Magdalena Retief en Die wit muur en ander kortspele en JFW Grosskopf se Die klipdolk en ander kortspele. Die keurkommissie, H van der Merwe Scholtz (sr) en FCL Bosman, het bevind dat Magdalena Retief ’n verdienstelike werk is, maar dat dit as drama onbevredigend is. Die drie eenbedrywe in Die wit muur staan op ’n hoër vlak en volgens die kommissie het slegs Krige se werk die Hertzogprys verdien, maar hulle het nie geweet of Uys reeds "die rypheid, breedte en diepheid bereik het wat ’n mens graag met die Hertzogprys" sou wil assosieer nie. Hulle het dus gevra dat die hele saak na ’n breë letterkundige kommissie verwys word. Die uitslag van die stemming van dié kommissie was vier stemme vir Uys en ses teen hom. Daar is dus besluit om nie ’n bekroning te maak nie. Uys moes tot in 1985 wag voordat hy die Hertzogprys vir al sy dramas ontvang het.

Die Hertzogprys vir Poësie moes in 1943 ’n baas kry. Die letterkundige kommissie wat die besluit moes neem, het bestaan uit FEJ Malherbe, EC Pienaar en PC Schoonees. NP Van Wyk Louw se Raka en Gestaltes en diere kon nie in aanmerking geneem word nie, want volgens die reëls van daardie tyd kon ’n skrywer wat reeds die Hertzogprys in ’n sekere kategorie ontvang het, nie weer daarvoor in aanmerking kom nie. Terugtog van WEG Louw was wel in die wedloop en so ook Uys se Rooidag en Oorlogsgedigte, ID du Plessis se Kwatryne en Weerlose uur van Ernst van Heerden. Die meerderheidsverslag van Malherbe en Pienaar het aanbeveel dat die prys tussen ID du Plessis, WEG Louw en Uys Krige gedeel word. Schoonees het gemeen dat Terugtog die mees geslaagde bundel was, maar hy het gevoel dat Elisabeth Eybers ook in aanmerking moes kom omdat die prosedures sodanig verander is dat daar na ’n vroeëre tydvak teruggegryp kon word. Hy het gemeen dat Eybers en Louw die prys moes deel, of om dit net aan Louw toe te ken. Die saak is weer eens na ’n breë letterkundige kommissie verwys en die uitslag was Du Plessis 2, Krige 2 en Louw 0. Een lid het Eybers gekies en ’n ander vir Leipoldt. Die aangeleentheid is terugverwys na die letterkundige kommissie en hierdie keer het Malherbe en Pienaar gemeen Krige moet die alleenwenner wees, terwyl Schoonees gesê het dat hy dit nie oor sy gewete kon kry om Krige te bekroon nie en nog minder Kwatryne van Du Plessis. Op 8 April 1944 het die Fakulteitsraad albei hierdie verslae verwerp en die Hertzogprys eenparig aan Elisabeth Eybers vir Belydenis in die skemering en Die stil avontuur toegeken. In 1974 is die Hertzogprys vir Poësie aan Uys se hele oeuvre toegeken.

In 1944 is Uys terug na Kaïro. Vir Lydia was dit ’n groot terugslag. Sy was swanger met hulle tweede kind en het gemeen dat Uys sy skrywery voor haar en die kinders geplaas het. Sy het al sy briewe aan haar verbrand en vir haar was hulle huwelik verby. Op 6 Desember 1944 is hulle seun, Taillefer Lafras Markgraaff, gebore. Hy het later die noemnaam Tai gekry.

Uys is later ook na Italië waar hy, net soos in Kaïro, uitsendings vir die Suid-Afrikaanse radiodiens en die BBC behartig het. Hy het stukke oor die oorlog vir koerante en tydskrifte gelewer en het ook briewe, waar nodig, onder die sensuurpen laat deurloop. Met sy terugkeer na Rome het hy ’n hele trok vol kos, klere en ander presente bymekaargemaak om na sy vriende in Sulmona te neem om hulle te bedank vir al die hulp en gasvryheid wat hy daar ontvang het. Gedurende die laaste vyftien maande van die oorlog het Uys as joernalis die front besoek en ’n hele aantal avonture beleef. Hy het ook ’n besoek aan Londen gebring waar hy by die BBC in vier tale uitgesaai het. In Maart 1946 het hy na Suid-Afrika teruggekeer.

Vanaf sy terugkeer na Suid-Afrika het Uys hom uitsluitend aan sy skryfwerk gewy. In 1948 is sy bundel sketse wat hy in Spanje geskryf het, Sol y sombra, deur Unie-Volkspers gepubliseer.

TJ Haarhoff het in Ons eie boek van 21 Maart 1949 geskryf dat Uys Krige se belangstelling in Spanje ’n menslike een is wat: "die mens in al sy veelsydigheid en die landskap in sy verhouding tot die mens uitbeeld. En wat hy skrywe is nie net joernalistieke beskrywing nie; dit is ’n egte deel van sy ervaring, opgeteken met ’n kunstenaarswaarneming en die seleksie wat die ware kunstenaar kenteken. Hy dring deur tot die essensiële en gee ons onvergeetlike tonele. ‘Son en skaduwee’ noem hy die sketse en inderdaad hul bevat die skerp kontraste van die landskap sowel as van die maatskaplike en politieke lewe.”

In hierdie sketse het hy teruggekeer na die republikeinse Spanje van 1931 tot 1939. In ’n resensie van 15 Januarie 1949 (bron onbekend) is geskryf dat baie van die werk onegalig is, maar dat in ag geneem moet word dat dit aanvanklik geskryf is as artikels vir koerante; dus is sommige van die sketse baie langer as wat die inhoud regverdig.

’n Tweede bundel sketse getiteld Ver in die wêreld het in 1944 verskyn en Jaco van der Merwe (Huisgenoot, 14 Maart 1952) het geskryf dat ’n mens Uys Krige in hierdie bundel op sy suiwerste terugvind: “gevoelig vir kleur en stemming, gemoedelik waar dit oor menslike verhoudings gaan, ruim van hart, lig-fladderend van die een na die ander – en ewe tuis in Suid-Afrika as in Frankryk, Spanje en Italië. Die sketse is so uiteenlopend van onderwerp en agtergrond dat die bostaande opmerking seker die enigste veralgemening is wat hulle die leser sal toelaat om te maak. Elke sketsie het ’n bekoring van sy eie, ’n tikkie algemeen-menslike allure – of dit nou gaan oor hasejag by Martinique of die mossies van Barcelona of ’n ou naturellegids in die Drakensberge. Daarby besit Uys Krige die vermoë om die atmosfeer van ’n bepaalde plek of situasie met ’n paar gevoelige pennevegies te laat herlewe. Selfs die aantal oorlogsketse, die merendeels te velde geskryf, bevat geen starre relaas van gebeurtenisse nie, maar getuig eerder van ’n besondere sensitiwiteit vir stemming en gewaarwordinge.”

Die Dertigers wou lank reeds met ’n letterkundige tydskrif begin en op versoek van Van Wyk Louw moes Uys met die papierkontroleur in verbinding tree om verlof tot die oprigting van só ’n tydskrif te kry. Toe Standpunte einde 1945 verskyn het, is Uys egter nie gevra om as deel van die redaksie te verskyn nie. Hy was hieroor heeltemal tereg in die gesig gevat en het besluit om sy eie tydskrif te begin. In September 1946 het hy en Ehrhardt Planje die geleentheid benut om Vandag oor te neem en dit tot ’n literêre tydskrif te omskep. Uys wou graag van hierdie tydskrif ’n tweetalige mondstuk maak wat beide die Afrikaanse en die Engelse letterkunde sou dien. Hy wou ook die teater, kuns, argitektuur en die politiek betrek en buitelandse korrespondente vir bydraes werf. Hulle het voorsien om dit ’n blad te maak wat bo nasionale en taalgrense sou uitstyg en die vervreemding tussen die Afrikaanse en Engelse kulture in die land sou oorbrug.

Uys het daarin geslaag om die medewerking van belangrike ouer en jonger Afrikaanse en Engelse skrywers te kry en het ’n hele paar bydraes van elders gewerf. Uit die buiteland het A Roland Holst, Dylan Thomas, Roy Campbell en William Plomer bydraes gestuur, terwyl hy, naas sy eie werk, ook bydraes van Elisabeth Eybers, J van Melle en Herman Charles Bosman verkry het. Hulle het ook werk van ’n aantal jongelinge en debutante wat later belangrike figure sou word, opgeneem: Olga Kirsch, Jan Rabie, Alan Paton, Guy Butler, Jack Cope en Christina van Heyningen. Ook foto’s van kunswerke van Cecil Higgs en François Krige is afgedruk. Een van Nadine Gordimer, ’n latere Nobelpryswenner, se kortverhale, “Music teacher”, is in die uitgawe van Desember 1946 geplaas.

Ongelukkig kon Uys en Planje net vier uitgawes behartig voordat die verliese te kwaai geword het en hulle die tydskrif moes staak. Hierdie vier uitgawes is volgens Kannemeyer steeds ’n voorbeeld vir latere geslagte van hoe ’n Suid-Afrikaanse kultuur oor rasse- en taalgrense heen opgebou kan word.

Uys se vierde digbundel, Hart sonder hawe, wat in 1949 verskyn het, bestaan hoofsaaklik uit verse wat hy as krygsgevangene in Italië geskryf het. Die bundel is in vier afdelings ingedeel: die eerste afdeling bevat Afrikaanse en Engelse verse, die tweede ’n paar gedigte aan sy dogter, en die derde nadigtinge van Lorca se werk; die vierde afdeling, wat as naspel dien, bevat gedigte wat in die Transvaalse Laeveld geskryf is.

Vir DJ Opperman (Huisgenoot, 7 Oktober 1949) was die vermenging van Afrikaanse en Engelse verse steurend, maar hy erken ook dat dit ’n suiwerder beeld van Uys Krige gee. “In albei tale word ’n mens getref deur sy drif, maar óók deur sy gebrek aan vormtug – miskien nog meer in sy Engelse verse. Dikwels wek die gedigte dan ook die indruk van brode wat oor die pan gerys het. Uys Krige se digterlike procédé is veral, soos by Whitman, Lawrence, Pound en Van Schagen, ’n los opeenstapeling van ’n hele reeks fyn waarnemings. Hierdie bonte veelheid probeer hy gewoonlik verbind deur herhalings: enersyds van ’n bewegende visuele beeld, soos die seemeeu, die swaeltjie, ’n pad wat gevolg word, waaiende sand of swewende mis; maar andersyds ook deur die herhaling van klanke, ’n lank volgehoue rymklank, ’n keervers, waarmee hy dan ’n inkantasie wil skep wat dikwels moet vergoed vir die verwaarlosing van die treffende woord, die beeld, die bou van die vers, die strofe, en die werking van die denke. Sy belewings mis meermale diepte en perspektief, maar besit meestal ’n meevoerende hipnotiese klank. (...)

“Wat sy vertalings of nadigtinge betref, vervul Uys Krige dieselfde rol in die Afrikaanse poësie as Hendrik de Vries in die Nederlandse. Net die voorbeelde wat hy soms kies, is vir my eienaardig. Tog sou ek baie graag ál sy vertalings in een band wou sien. In die Afrikaanse letterkunde vorm Uys Krige se digterpersoonlikheid ’n aangename afwisseling en aanvulling en daar gaan ’n besondere aantrekkingskrag daarvan uit. Sy jongste bundel, Hart sonder hawe, bevat mooi verse, maar dit bring geen nuwe ontwikkeling mee nie. Hier weer voel ’n mens soos met sy vorige twee bundels: Uys Krige het vroeër praatpoësie geskryf, maar deesdae beoefen hy veral die spraaksame vers.”

In Ons eie boek (16:2, 1950) het AP Grové Uys Krige beskryf as ’n stemmingskunstenaar: "die impressionis wat die natuur, die neerdrukkende van sy omgewing, die troostelose landskappe byna passief ondergaan en dan sy vervlugtende stemminge probeer vaslê in verse wat ewe-eens van ’n min of meer verbygaande en tydelike betekenis is. Daarmee is natuurlik nie gesê dat Krige se poësie nie ’n eie bekoring het nie. ’n Mens sou kan wys op die digter se skerp waarneming, sy gevoeligheid – sy dit dan ’n enigsins oppervlakkige gevoeligheid – die bekoorlike frisheid, die jeugdige uitbundigheid van sy poësie. Maar Hart sonder hawe­ doen, wat die afsonderlike gedigte sowel as die bundel in sy geheel betref, fragmentaries aan. (...) Hart sonder hawe is nie sonder verdienste nie, maar die digter sal moet waak teen tugloosheid wat op die duur kan lei tot ’n totale uitrafeling van sy vers.”

In 1950 is Vir die luit en die kitaar deur Afrikaanse Persboekhandel gepubliseer. "Hierdie bundel bevat vertalings uit die poësie van ’n aantal bewonderde buitelandse digters, met enkeles van wie hy sonder twyfel ’n sekere verwantskap voel," het AP Grové (Huisgenoot, 21 Maart 1952) geskryf. "Arabië word verteenwoordig deur 68 kwatryne van Abu’l-Ala; Frankryk deur gedigte van Prudhomme, Gautier, Villon, Baudelaire en Rimbaud; Spanje deur verse van Lope de Vega, De Quevedo, Calderon de la Barca, Machado, Jimenez en Lorca; terwyl die bundel afgesluit word met ’n aantal geesdriftig geskrewe maar enigsins oppervlakkige beskouinge oor die werk van die meeste van die figure.

“Oor die getrouheid van die oorsettinge uit Spaans sowel as uit Arabies – in die lg geval het Krige nie uit die oorspronklike vertaal nie – kan ek nie oordeel nie, maar die vlugtigste vergelyking met die Franse tekste bring aan die lig dat die digter hom wel vryhede en ‘foutiewe vertalings’ veroorloof. In die naskrif erken hy trouens self dat hy veeleer die getrouheid van die ‘gees, stemming en sfeer’ as ’n ‘letterlike’ getrouheid nagestreef het. ’n Ander houding lyk my nie goed moontlik nie.”

Vir DJ Opperman bring Krige se vertalings genot van ’n letterkundige aard. Dit is egter ook broodnodig om tot die besef te kom van die dinge wat van uiterste belang was in die vorming van Krige se persoonlikheid as kunstenaar.

Met hierdie bundel is een aspek van Uys se werk uiteindelik deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns erken: Vir die luit en die kitaar is in 1950 met die Akademieprys vir Vertaalde Werke bekroon. In sy commendatio tydens die oorhandiging van die prys het Meyer de Villiers (Tydskrif vir Wetenskap en Kuns) gesê: "Hierdie bundel verteenwoordig die belangrikste groep vertaalde gedigte in ons letterkunde en die bekroning is ’n blyk van waardering vir die jare lange arbeid van Krige om die kultuur van die Romaanse volke vir Suid-Afrika te vertolk."

Eers in 1950 het die Kriges hulle weer in Kaapstad gevestig. Daar het Lydia, selfs na ’n beroerte, ontwikkel tot een van die belangrikste aktrises op die Suid-Afrikaanse toneel. Uys het ook in hierdie jare baie geskryf en veral eenbedrywe gepubliseer. Fuente sagrada; Die grootkanonne en Alle paaie gaan na Rome (1949) word in een bundel uitgegee en so ook Die sluipskutter, Die ongeskrewe stuk en Die gees van die water (1951).

André P Brink het gemeen dat Fuente sagrada, wat Uys al in 1939 voltooi het, "voluit teater is ten spyte van sekere tekortkominge – veral deur die lang optog van hawelose mense wat woordeloos oor die verhoog trek.”

Die grootkanonne is deur Rob Antonissen in Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede as ’n geestige maar te woordryke “dronkmansburlesk” beskryf.

Alle paaie gaan na Rome word deur Kannemeyer beskryf as een van Uys se allerbeste eenbedrywe: "Dit handel oor ’n ou vrou wat teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Italië saam met haar stom kleindogter staan en wag in die hoop dat een van die trokke wat verbykom, hulle sal oplaai na Rome toe waar ’n dokter die kind moontlik sal genees. Verby hierdie enkele gebeurtenis word die geweld en leed van die oorlog verder sigbaar in slagspreuke wat nog orals op die mure geverf is en in die verwoesting en menslike ellende wat uit die puin en vervalle huise blyk.”

Die ongeskrewe stuk is ’n impromptu toneel, saamgestel aanvanklik deur ’n regisseur en ’n musikant, later deur enkele persone uit die gehoor. Volgens FEJ Malherbe (Ons Eie Boek, 1952) is daar "hier en daar iets van Krige se beweeglike mentaliteit te waardeer, maar die eintlike handeling bly uit en die argumente oor wat die toneel is, of oor bespotlike volksentimente, interesseer nog minder. Die toneelstuk bly ongeskrewe. Die tweede stuk in Die sluipskutter, Die gees van die water, is ’n hoorspel en is Uys Krige waardig. Die figure is die onrustige water, vasgevang in ’n bergspleet; die wispelturige wind; en ’n wyse ou berg. Krige se digterlike prosa is die belangrikheid van hierdie stuk. Die sluipskutter is suiwer drama. Dit is ’n lewendige voorstelling, in goeie speelhandelingseenheid, van die vraag of ’n gevange jong Duitse sluipskutter, in Italië toe die oorlog vir die Duitsers klaar verlore was, gefusilleer sal word of nie."

Uys se twee eenbedrywe oor die Tweede Wêreldoorlog en die kortverhale “Dood van die Zoeloe” en “The charcoal burners” wat hy self vertaal het as “Die Carbonari”, vorm ’n indrukwekkende vierluik. Vir “The charcoal burners” het hy in 1951 die eerste prys van £250 in die New York Herald Tribune se World Short Story Competition gewen. Dit is in meer as twintig tale vertaal en is saam met “Death of the Zulu” Uys se grootste internasionale sukses.

Uys het deur die jare gedurig aan sy werk geskaaf en verander, veral sy eenbedrywe wat hy, ná die veranderings aangebring is in twee bundels heruitgegee het, naamlik Vier eenbedrywe (1967) en Die wit muur en ander eenbedrywe (1973). Alle paaie gaan na Rome het hy nie minder as agt keer oorgeskrywe nie. Sy eenbedrywe word met die jare ook gereeld deur amateurtoneelgeselskappe opgevoer. So het Fred Engelen Die wit muur in 1952 met groot welslae in die Koninklijke Nederlandsche Schouwburg in Antwerpen opgevoer. Helen Faul het dit in ongeveer dieselfde tyd met ’n Afrikaanse groep in Utrecht op die planke gebring.

Hy wou ook van sy eenbedrywe en kortverhale in Engels vertaal en het probeer om dit deur Britse of Amerikaanse uitgewers te laat uitgee. In 1948 het hy Fuente Sagrada, Die sluipskutter en Alle paaie gaan na Rome vertaal, maar sy ou vriend, Jack Barnham, het nie baie positief hierop gereageer nie. In 1962 is dit deur HAUM uitgegee, maar nie voordat Uys dit weer eens hersien het nie.

Hy het ook van sy beste kortverhale in Afrikaans, soos “Die doodkis” en “La miseria”, in Engels vertaal en dit is in 1953 saam met Alle paaie gaan na Rome en “Death of the Zulu” deur Collins in Londen uitgegee onder die titel The dream and the desert. In Amerika, waar dit ook versprei is, was die ontvangs net so positief. In die Washington Times was ’n resensie met ’n getekende portret van Uys op die voorblad, terwyl die New York Herald Tribune se resensie ook op die voorblad verskyn het. Die New York Times het verslae en resensies oor twee kolomme geplaas saam met ’n foto van Uys. Met The dream and the desert en The way out het Uys Krige ontwikkel tot die mees suksesvolle tweetalige skrywer wat die Afrikaanse letterkunde nog opgelewer het.

Hierna het twee toneelstukke gevolg, naamlik Die twee lampe in 1951 en die blyspel Die ryk weduwee in 1953. Die twee lampe het Uys in 1964 in Engels vertaal en daarvoor die Rosamund Gilder-toekenning ontvang vir een van die twee beste vertaalde toneelstukke uit die vasteland van Afrika. Nadat Uys dit herskryf het, is dit in 1964 deur Human & Rousseau uitgegee.

André P Brink (Rapport, 18 Mei 1975) kon egter nie veel waarde aan die stuk heg nie: "Daar is wel aangrypende momente in hierdie studie van ’n outokratiese vader wat twee seuns na die graf dryf omdat hy weier om enige toegewing aan enigiemand, homself inkluis, te maak, maar die deugde wat daar wel in die stuk is, word oorskadu deur die gebreke. Voorbeelde is die gebrek aan werklike teenspelers vir die oubaas, aangesien albei sy seuns maar papperig teenoor hom reageer en uiteindelik, alte maklik, in selfmoord ’n uitweg soek; die oordadige gemoedelikheid wat ’n tragiese voortgang laat vervlak; die oormatige praterigheid. Mens het groot waardering vir die mooi en sterk momente wat daar wel in die stuk voorkom, maar dit bly ’n hoogs onbevredigende drama. Dit is twee lampe dié met te min olie vir ’n lang lewe.”

Die twee lampe is die eerste keer op 23 September 1966 in Bellville se Burgersentrum professioneel opgevoer toe Kruik dit onder regie van Pietro Nolte aangebied het met onder andere Ernst Eloff en Jannie Gildenhuys as spelers. Uys het die stuk ingeskryf vir die groot toneelwedstryd tydens die Van Riebeeck-fees, waar hy die tweede prys met Johannes Meintjes gedeel het. (WA de Klerk en Gerhard Beukes het die eerste prys gedeel.)

Wewenaars en oujongkêrels wat gelyktydig met huweliksaansoeke by ’n ryk weduwee opdaag, is ’n ou tema in die komedie en klug. In die geval van Die ryk weduwee is dit Anna de Kock van die plaas Soete Inval, naby Wellington, by wie Etienne Roux, oujongkêrel-professor in die letterkunde, Frans de Waal, wewenaar-boer van Beaufort-Wes, en Pierre Naudé, wewenaar-prokureur, se hand in die as geslaan word wanneer sy van haar voorman, Piet Swart, verneem dat hy net vir haar kom werk het om “vir die eerste in sy lewe in haar teenwoordigheid te wees”. Wanneer die ryk weduwee dan haar geld verloor, net om binne drie dae ingelig te word dat alles weer reg is, is die situasie byna volledig. In Beeld en bedryf is geskryf dat Die ryk weduwee nie heeltemal as blyspel slaag nie, "as gevolg van krake in die struktuur van die stuk en die feit dat dit nie heg gebou is nie. Dis goeie vermaaklike spel, maar daar is te veel ongemotiveerde handeling, te weinig psigologiese indringing en te veel karikatuuragtigheid en uiterlike handeling op effek ingestel."

Die ryk weduwee het sy landswye toer deur die NTO in Januarie 1953 in die Johannesburgse Biblioteekteater begin. The Rand Daily Mail en Die Vaderland het baie negatief gereageer op die opvoering, maar die ander koerante was baie meer geesdriftig en het voorspel dat die stuk ’n sukses sou wees. Wat toe ook gebeur het. Na al die toere, onder andere ook na die destydse Suidwes-Afrika, is gesê dat 100 000 mense die opvoerings bygewoon het en dat die stuk meer as R50 000 ingeoes het – die grootste inkomste wat die NTO ooit uit ’n produksie ontvang het.

Die stuk is deur die jare met gereelde tussenposes opgevoer: in 1968 deur Truk, in 1974 deur Kruik en in 2009 by die Stellenbosse Woordfees. Met die publikasie van die boek deur Afrikaanse Persboekhandel in 1953 was die kommentaar egter nie so gunstig nie.

Die rusteloosheid wat so integraal deel van Uys Krige was, het weer sy kop uitgesteek en aan die begin van 1952 het hy begin om planne te beraam vir nog ’n besoek aan Europa. Lydia en die kinders sou moes tuisbly met beswaarlik genoeg geld om liggaam en siel aanmekaar te hou. Vriende en familie het probeer help, maar dit was nie altyd genoeg nie. Uys wóú egter gaan, veral vanweë die apartheidspolitiek in Suid-Afrika en op 26 Maart 1952 het hy op ’n studiereis na Europa gevaar. As deel van sy toer sou hy teaters in verskillende stede besoek en daarvoor het hy geld van die Molteno Trust ontvang. Geldelike bystand is ook deur die Franse regering belowe uit erkenning vir wat hy in Suid-Afrika doen om die Franse kultuur te bevorder en omdat hy vir drie jaar voorsitter van die Alliance Française in Johannesburg was.

Gedurende Uys se verblyf van nege maande in Londen was dit veral die Londense teater waarin hy belanggestel het en in hierdie tydperk het hy negentig produksies bygewoon. Voor sy vertrek uit Kaapstad het Uys al aan Jan Rabie, wat op daardie tydstip nog in Parys gewoon het, genoem dat hy hom graag sou wou besoek. Op 19 Desember 1952 het Jan en Marjorie Wallace vir Uys op die Gare du Nord in Parys ingewag. Benewens al die teater- en rolprentproduksies wat Uys in Parys gratis bygewoon het, het hy en Jan Rabie ook in wisselwerking met mekaar se werk verkeer. Jan, wie se Frans beter was as Uys s’n, het hom gehelp met die vertalings van Paul Éluard se gedigte, terwyl Uys vir Jan help slyp het aan sy verhale vir Een-en-twintig­. Kannemeyer noem hierdie samewerking tussen Jan Rabie en Uys Krige die geboorte van Sestig.

Na kort besoeke aan Nederland en België is Uys in Augustus 1953 vir sewe maande na sy geliefde Spanje. Hy het in Tossa de Mar, ’n vissersdorpie aan die Costa Brava, gaan bly. Daar het hy by die eenvoudige Katalaanse vissersvrou Adela Domingo Estran en haar man Juan geloseer en aan sy drama Die goue kring begin werk. Hy het dit gebaseer op die Portugese legende wat hy jare tevore in die verhaal “La Miseria” in Die palmboom verwerk het. Die legende kom daarop neer dat Die Dood in die gedaante van ’n aantreklike jong man na ’n dorpie kom om Moeder Mart te kom haal. Deur ’n towerkrag wat aan haar gegee is, laat sy hom aan ’n lemoenboom vassit. Selfs wanneer sy hom bevry, kan hy slegs binne ’n nou sirkel om die boom beweeg. Maar toe gebeur die wonder. Geen mense sterf meer in die wêreld nie. Ook pyn word onsterflik en mense wat smag om te sterwe, bly worstel met hul pyn. Omdat die dood en die lewe so nou verbonde is, kan moeders ook nie aan kinders geboorte gee nie. Uiteindelik besef Moeder Mart dat sy haarself ter wille van ander moet opoffer. Sy bevry Die Dood en vertrek saam met hom.

In Tydskrif vir Letterkunde van Junie 1957 het MS du Buson geskryf dat Krige met hierdie drama ’n besliste bydrae tot ons letterkunde gelewer het. “Die krag en hoë verdienste wat uit die drama straal, moet hoofsaaklik toegeskryf word ten eerste aan die supranormale atmosfeer wat deurgaans geskep en gehandhaaf is en ten tweede aan die besonder geslaagde karakterbeelding. Die styl is digterlik: stromende prosa, ritmies, beeldryk, met ’n sprankelende aanwending van die soepele taal – dit is digterliker as sommige van ons dramas wat in versvorm geskryf is. Die inhoud is digterlik. (...)

“Die metafisiese inslag oorheers die spel: die Goue Kring van die lewe, die eenheid van die Lewe en die Dood; die mens wat genoeë moet neem met sy menswees, met sy lot versoen-wees. Die hele ontwikkeling van die legende word gedra deur hierdie diepere betekenis wat onopgesmuk aan die leser of die toeskouer oorgedra word en ’n blywende indruk nalaat. Ten spyte van die kritiek het ons hier ’n besondere bydrae tot ons toneelliteratuur wat allerweë verwelkom moet word.”

Oor die heruitgawe van Die goue kring in 1976 het André P Brink in Rapport van 17 Oktober 1976 geskryf dat dit die rykste komedie is wat ons in Afrikaans het en dat dit ’n hoogtepunt in Uys Krige se oeuvre is: “Die didaktiek en moralisering, die liriese uitweidinge, die sinnebeeldigheid van party figure en die bewuste stereotipering van ander – dit alles staan volledig in die teken van die komiese, musikale legende. In die hande van ’n groot regisseur, in die hande van François Swart, sou Die goue kring die ryk en heerlike lewe verkry waartoe dié manjifieke stof hom so oorvloediglik leen. (...) Gebreke het die stuk. Natuurlik. Dit is die soort stuk, soos álle waaragtige meesterwerke, wat gebreke móét hê om juis daardeur hul intense menslikheid te bewys. Ek wonder soms of ons drama- en teaterkritici ten volle besef wátter skat hierdie werk van Uys Krige wérklik is: ’n waardige loflied aan en uit die hart van een van die menslikste en ruimste van alle kunstenaars wat nog uit Afrikaans musiek gemaak het.”

Kannemeyer skryf: "Hierdie drama het Uys baie na aan die hart gelê, want hierin versoen hy sy liefde vir Spanje, vir die Afrikaanse taal en vir die eenvoudige plattelandse mense. Sy Spaanse 'vistermense', het hy by geleentheid gesê, kon net sowel Kaapse bruin mense gewees het. Hy het ook gevoel dat hy met hierdie drama dalk naby aan die volle gebruik van die teater (kom). Ek maak gebruik van musiek, dans en sang en koor in ’n eenheid wat, meen ek, organies is; en dan is daar nog ’n taamlike sterk storie of intrige ook. Die stuk bevat ook ’n sekere besinning – wat dramaties verantwoord is, dink ek – oor wat ek voel omtrent die lewe en die dood.”

Uys het aan die einde van Maart 1954 na Kaapstad teruggekeer. Hy het nou betrokke geraak by die opvoering van die Engelse vertaling van Lorca se Yerma, waarin Lydia Lindeque die hoofrol vertolk het. Toe Uys se Afrikaanse vertaling van Yerma in 1963 in boekvorm verskyn het, nadat dit in 1952 in Standpunte gepubliseer is, het dit net lof van oral ontvang. Dit is daarna weer in 1966 en 1989 uitgegee. Op grond van die feit dat dit in Standpunte verskyn het, is die Akademieprys vir Vertaalde Werk in 1956 daaraan toegeken.

Fanie Olivier het geskryf (Insig, Augustus 1981) dat dit ’n "vreugde en lekkerkry was om weer ’n keer met hierdie vertaling van Uys Krige kennis te maak en ook om die waardering wat Krige geskryf het, weer te lees. Yerma, die vrou van ’n hardwerkende boer Juan, smag na ’n kind, maar haar man nie. Haar eer laat haar nie toe om by ’n ander man troos te soek nie, al is daar iemand wat sy begeer. Uiteindelik kan sy die byna onmenslike besitlikheid van haar man nie meer verduur nie en vermoor sy hom wanneer hy hom aan haar opdring."

In 2001 is Yerma tydens die Aardklop-kunstefees opgevoer uit erkenning vir uitmuntende bestaande drama en word algemeen beskou as een van die beste Afrikaanse vertalings van ’n drama. Dit is onder regie van Juanita Swanepoel opgevoer met Nicole Holm, Lida Botha, Albert Maritz, Joanie Combrink, Susanne Beyers, Nina Swart, François Toerien en Johann Botha in die rolverdeling. Uys het ook erken dat van die drie Lorca-stukke wat hy vertaal het – Die huis van Bernarda Alba, Die bloedhuwelik en Yerma – dit laasgenoemde was wat hom die naaste aan die hart gelê het.

Uys se vyfde bundel oorspronklike verse, Ballade van die groot begeer, het in 1960 verskyn. Hy het die gedigte binne vyf maande geskryf terwyl hy by sy ouers se huis in Onrust gebly het. Hy het met hierdie bundel weggeswaai van die vrye vers van Die einde van die pad en Hart sonder hawe en liefs gedigte geskryf in ’n balladeske en anekdotiese vorm met ’n vaster prosodie en rymskema, meestal deur die Kaapse bruin mens met sy besondere taal- en spraakeie regstreeks aan die woord te stel.

In Die Volksblad van 13 Oktober 1960 het FIJ van Rensburg gemeen dat die stof van hierdie bundel Uys Krige soos ’n handskoen pas: “Min dinge kon sy talent beter gepas het as hierdie uitbeelding van die kleurlinglewe. Ons het hier dan ook die tipiese Uys Krige, en op sy beste. Die loslippigheid, die kwinkslag, die liefde vir die bont, dikwels kakelbont massa (wat tog dikwels net onder die oppervlakte suggestief en assosiatief verbind is), die onversadigbare, die onophoudelike – dis alles hier. En oorvloediger as voorheen. (...) Die kleurlingtaal is inderdaad die heerlikste ding van hierdie bundel. Die blanke taal steek maar taamlik kwasterig en vierkantig hierteen af. (...)

“Tog is daar ’n groter tug in die beste verse van hierdie bundel as wat die los, rondloperige vorm oppervlakkig sou kon suggereer. Die gebruik van ’n bepaalde tipe ballade-vorm, dié met kontrasterende rym, is ’n duidelike teken hiervan. Hierdie tipe ballade is in hoë mate funksioneel vir die stof wat hy moet dra. Dikwels het hierdie stof van die kleurlinglewe ’n helder botoon maar ook ’n donkerder ondertoon. (...)

“Uys Krige het met hierdie bundel tog ruim gebruik gemaak van sy geleentheid tot oopvlek van ’n heerlike stuk taal- en werklikheidsbelewing wat slegs half-bekend en in elk geval anders is – ’n weldadige verruiming van ons poësie.”

Ernst Lindenberg (Die Burger, 13 Januarie 1961) het hierdie bundel beskryf as “futlose verse” wat Krige se reputasie as digter slegs kan skaad.

In 1958 het die Universiteit van Natal ’n eredoktoraat aan Uys toegeken. By die geleentheid is daar melding gemaak van die “flexible, lucid quality” van Krige se Afrikaans. Rhodes-Universiteit het in 1970 gevolg en in 1975 het Uys se alma mater, die Universiteit Stellenbosch, ook ’n DLitt-graad aan hom toegeken uit erkenning vir die feit dat hy een van Suid-Afrika se beste dramaturge was. By laasgenoemde geleentheid het Opperman die volgende geleentheidskwatryn voorgedra:

Ten spyte van sy periodieke maagpyn
en dat hy kort-kort na die buiteland verdwyn,
trap hy tussendeur uit flonkerende korrels
telkens in ons letterkunde ’n kroonjaarwyn.

In 1986 het die Afrikaanse Studentebond ’n erepenning aan Uys gegee vir sy bydrae tot die Afrikaanse gemeenskap en die Suid-Afrikaanse samelewing.

Uys en Lydia se huwelik is op 8 Augustus 1958 ontbind, met Lydia wat toesig oor die twee minderjarige kinders gekry het. Sy is nie lank daarna nie met John Mantel, hulle eertydse buurman in Johannesburg, getroud. Lydia is in Julie 1997 in Andorra in die suide van Frankryk oorlede.

Uys se bundel reisverhale en sketse Sout van die aarde (1960) het ten nouste aangesluit by sy ander twee, Sol y sombra en Ver in die wêreld. WEG Louw het in Die Burger van 2 Februarie 1962 geskryf dat Uys Krige een van die "eerstes van sy generasie was, as dit nie die allereerste is nie, wat ’n Afrikaanse prosa begin skryf het wat die hele wonder en vindingrykheid van ons spreektaal as grondslag het. As dit nie was dat hy af en toe té oorgeesdriftig is nie – sodat sy sinne te lank word en selfs byna in mekaar vasdraai – sou hy die knapste in dié besondere soort wees. (...) Dis ’n boek dié wat Uys Krige se aansien as skrywer sal verhoog en stukke beter as party verse wat ek die laaste jare van sy hand gesien het.”

AvZ (Volksblad, 19 Julie 1962) het Sout van die aarde beskryf as ’n bekoorlike boek, ’n heerlike, vrolike boek, vol tintelende lewensvreugde sowel as diepe lewenswysheid. Dit is ’n boek wat die hart goed doen.

Uys en Jack Cope het intussen, in September 1958, in een van die houthuisies in Clifton gaan woon. Die huis wat hulle saam gekoop het, was Sea-Girt, waar NP Van Wyk Louw en Truida ook gebly het. Daar het hy gereeld op die strand gaan lê en skryf en het hy met Afrikaanse en Engelse skrywers kontak gehad. Hy het vir Adam Small ontmoet en met Ingrid Jonker was hy goed bevriend.

In 1957 is die Leadership Exchange-beurs van die Carnegie-organisasie aan Uys toegeken, maar hy het steeds uitgestel om dit te gebruik. Die Carnegie-instansie het hom gewaarsku dat die toekenning sou verval indien hy dit nie gebruik nie en in Februarie 1959 het hy uit Kaapstad vertrek. Hy was van plan om sewe maande in Amerika deur te bring en daarna weer na Brittanje te vertrek, en dan sou hy en sy dogter Eulalia die res van 1959 saam deur Europa reis. Die teater-aanbiedinge op Broadway in New York het Uys nie eintlik beïndruk nie en ook nie die New Yorkse toneelkritici nie. In Amerika het hy ’n afstand van 25 000 myl afgelê en lesings by heelwat universiteite gelewer.

Uys het Eulalia op 5 Oktober 1959 op Plymouth-stasie in Engeland ontmoet en die twee het drie maande lank deur Europa gereis en onder andere Londen, Italië en Griekeland besoek. Op 29 Desember 1959 het Uys terug na Suid-Afrika vanaf Athene gevlieg.

In 1961 het Gedigte 1927–1940 verskyn waarin die bundels Kentering en Rooidag verenig is. Dit was egter nie net ’n "saamsit" van hierdie twee bundels nie, maar in sommige gedigte is die chronologie verander wat veroorsaak het dat van die gedigte as ’t ware van bundel verwissel het. Daar is ook gedigte in die versamelbundel wat gedateer het uit die tyd toe bogenoemde twee bundels verskyn het.

FIJ van Rensburg (Volksblad, 7 Julie 1961) het geskryf: "Daar is ’n gebrek aan kristallisasie in die werk as geheel, maar dit bly ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse poësie. Afrikaans sou armer en minder geskakeerd gewees het sonder hierdie gedigte. Hoewel daar met die verloop van die tyd veranderinge in Uys se digkuns ingetree het, was dit nie wesenlik nie. Die vernaamste kenmerke van Uys Krige vind die leser in al hierdie gedigte terug."

In 1960 wen Uys die derde prys van £100 in Die Landstem se Letterkundige Wedstryd met sy digbundel Splinters. Die gedigte het later deel gevorm van die bundel Vooraand wat in 1964 uitgegee is.

Vooraand was ’n lywige bundel en het ook ’n groot aantal gedigte bevat waarvan sommige reeds in die dertigerjare hulle ontstaan gehad het. Oor die bundel het PG du Plessis (Sondagstem, 4 April 1965) geskryf dat daar in Vooraand genoeg is wat lesenswaardig is: "daar is mooi gedigte, en daar is soms in ’n strofe of vers ’n plek waar die digter praat met die stem van die taal-virtuoos, of waar die romantiek werklik roerend word, of waar die egte uitbundigheid uitslaan. Maar hierdie plekkies word deur die massa woorde rondom en tussen hulle so uitmekaar gedruk dat dit tussen die woorde skaars nog herkenbaar is. Krige het dus met sy gesels, sy vrolikheid en sy nuwe melankolie ’n mooi bundel gemaak – waarby ons ongelukkig ’n lang kritiese ‘Maar ...’ moet skryf.”

FIJ van Rensburg het in Die Burger van 29 April 1963 geskryf dat die grootste gedeelte van Vooraand niks verander aan die beeld van Krige soos ons dit tot op daardie stadium leer ken het nie. "Agt van die nege afdelings waarin die bundel verdeel is, is net ’n voortsetting van dinge wat ons reeds in sy vorige bundels ken. Een afdeling het egter iets nuuts gebring, naamlik 'Onrusrivier 1956'. Dis gedigte oor die dood, oor lewensrypheid en oor terugkyk na die kinderjare. Verblydend is dit egter dat dit nie net ’n verruiming van tema is nie, maar dat die titelgedig bv ook blyke gee dat daar tegniese groei was. (...) Een onmiskenbare bate van die bundel, wat in hierdie tyd gerus vermeld kan word, is die sintuiglik-gesonde daarvan. Krige se wêreld kan seker nie as preuts beskryf word nie en tog slaag hy steeds daarin om dit gesond te hou. Veral die speelse stel hom hiertoe in staat. Daar is altyd helder son en vars lug in Krige se hantering van die sintuiglike. En, soos gesê, dit wys wat moontlik is.”

Uys en Jack Cope het tydens hulle verblyf in Sea-Girt gereeld vir Jan Rabie, Marjorie Wallace en Ingrid Jonker gesien. Jonker het haar na die finale verwydering van haar man, Pieter Venter, opnuut in Kaapstad gevestig. Uys het Ingrid se gedigte met ’n baie kritiese oog gelees. Sy het haar ook in hierdie tyd emosioneel aan Jack Cope geheg. En hoe verder die jaar 1965 gevorder het, hoe verder het Ingrid verval in ’n losbandige lewe van seks, dwelms en drank. Haar selfdood op 19 Julie 1965 was vir Uys ’n geweldige slag. ’n Paar dae na haar begrafnis het sowat 50 mense by haar graf saamgekom om te luister na ’n waardering van Ingrid se werk deur Uys en ’n voordrag van enkele van haar verse deur Jan Rabie.

In 1966 was Uys weer midde-in ’n storm oor die toekenning van die Hertzogprys. In ’n berig in Die Burger is daar geskryf dat die Akademie besluit het om nie ’n toekenning te maak nie. In ’n brief aan dié koerant het JJ Human geskryf dat hy dit in die openbare belang ag om bekend te maak dat die keurkomitee die Hertzogprys vir Drama eenparig vir Uys Krige aanbeveel het. Hierdie keer het die keurkomitee bestaan uit WJ Du P Erlank, CJM Nienaber en TT Cloete. Onmiddellik daarna het daar ’n storm losgebars en het medeskrywers in die pers te velde getrek teen hierdie miskenning van Uys.

Op versoek van Eghard van der Hoven, toneeldirekteur van Truk, het Uys in die sestigerjare die groot werk aangepak om Twelfth night van Shakespeare in Afrikaans te vertaal. Hy was aanvanklik onwillig om die groot taak aan te pak en van die begin af het hy ’n hele paar probleme opgetel. In sy inleiding tot die vertaling het Uys geskryf dat die stemming in Twelfth night, wat hy as Shakespeare se beste blyspel beskou, voortdurend verander, en daarmee saam ook die taal. Hy het egter voortgegaan, en vyf en ’n half maande later (in 1967), met dele wat hy telkens herskryf het, was dit klaar. Kannemeyer beskou die eindproduk as verreweg die beste vertaling in Afrikaans van ’n Shakespeare-komedie, ’n werk waarin die Elizabethane plek-plek soos tipiese Afrikaners praat. Uys het aan die Sunday Chronicle gesê: “it was a labour of joy. Afrikaans chimes so harmoniously with the rural imagery of Shakespeare, culled from the Warwickshire countryside.”

Ernst van Heerden het gemeen dat die woordspelings waarin Shakespeare so ’n behae kon skep, "water op die meul van ons Afrikaanse woordvirtuoos was – en hier kon hy dikwels sy vindingrykheid laat botvier."

Met die verskyning van Uys se volgende drama, Muur van die dood in 1968 het FIJ van Rensburg (Volksblad, 7 Augustus 1969) geskryf dat dit beslis nie as Krige se “mees ambisieuse werk tot dusver” soos dit op die flapteks beskryf word, is nie. Hy het al beter gedoen. "Muur van die dood vertel die verhaal van Chris Brink wat as soldaat in die Tweede Wêreldoorlog gevoel het dat die lewe sin het en dat hy iets vir sy medemens beteken. Maar ná die oorlog kon hy nie koers kry nie. As plaasvervanger vir die gevaar van die oorlog jaag hy teen die Muur van die Dood. En ná die kameraadskap wat hy in die leër ondervind het, erg hy hom aan die rasseskeiding in Suid-Afrika, en in sy omgang met die vroulike geslag kan hy ook geen bevrediging kry nie. Uiteindelik pleeg hy selfmoord deur te vinnig teen die Muur van die Dood te jaag."

PJ Conradie (Die Burger, 13 Maart 1970) was ook nie baie vleiend oor hierdie drama van Uys nie: “Daar gebeur feitlik niks in hierdie drama nie; die mense praat en praat en praat net. Dis nie dat die gesprekke op sigself vervelig is nie. ’n Mens verstom jou oor die virtuositeit waarmee die digter die taal hanteer. (...) Juis hierdie taalvaardigheid is egter gevaarlik, want Krige kan nie die versoeking weerstaan om selfs in ernstige oomblikke met die taal te speel nie. (...) Die dialoog, hoe onderhoudend dit ook al is, bevredig ’n mens dus nie, omdat dit te veel ’n doel op sigself geword het en nie op ’n allesoorheersende klimaks afgestem is nie. Weer eens het Krige se talente as dramaturg nie tot hul reg gekom nie omdat hy hulle nie met die nodige selfbeheersing gebruik het nie.”

Uys en Jack Cope se saamblyery was nie altyd sonder probleme nie. Na Ingrid Jonker se dood het Jack depressief geword en oor naweke het sy familie daar kom kuier, wat vir Uys ontstemmend geword het. In April 1968 het hulle tot ’n ooreenkoms gekom waarvolgens Uys sy deel van Sea-Girt aan Jack sou verkoop wat dit in paaiemente van R1 000 sou afbetaal. Eers nadat Jack Sea-Girt in 1970 gekoop het, het Uys sy geld gekry.

Uys het hom op 18 April 1968 op Onrustrivier gevestig (hy het altyd daarop aangedring dat dit Onrust is en nie Onrus nie), en daar het hy vir amper twintig jaar in Swartdakkies gebly wat hy van sy broer Arnold gekoop het. Drie weke na sy aankoms in Onrust, op 5 Mei, het hy weer na Londen vertrek, waar hy sy ou vriende, soos sir Laurens van der Post, die regisseur Leon Gluckman en die skrywer Sydney Clouts opgesoek het. Hy het egter net twee weke daar gebly voordat hy op 19 Mei na New York gevlieg het. Hy het ’n leierskapsbeurs van die VSA se State Department ontvang. In New York het hy sy hersiening aan Die loodswaaiers voltooi en John Gainfort se eenbedryf Going home vertaal met die titel Kry julle ry, wat in Drie eenbedrywe (1987) opgeneem is.

Na drie maande in Amerika – in Augustus ̶ het hy na Ierland vertrek, waar sy seun Taillefer vanuit Londen by hom aangesluit het. Nadat hulle Ierland verken het, is hulle na Londen voordat hulle op 4 November 1968 in Parys aangekom het. Hulle het in ’n hotelletjie naby André P Brink en Breyten Breytenbach gaan bly. André het vertel dat met Uys se aankoms “lyk en ruik en proe Parys anders. Van elke ding word lig-lig poësie gemaak. Hy loop soos ’n terglustige Midas deur die stad en slinger versreëls teen die geute, strooi ryme oor die strate, rank die Luxemburgtuin toe met beelde, tower vokale en konsonante uit die wolke of sy maagpyn op.”

Uys en Taillefer het verder deur Europa gereis tot in Italië, waar Taillefer ook sy vader se weldoeners van die oorlog ontmoet het. In Rome het die geluk Taillefer getref om die Italiaanse rolprentmaker Federico Fellini te ontmoet wat hom die geleentheid gebied het om as kameraman vir die rolprentregisseur te werk. Dit was die begin van sy loopbaan as internasionale filmmaker en hy het besluit om nie verder saam met sy pa te reis nie.

Uys is daarna nog na Athene, maar het daarteen besluit om vir Jan Rabie en Marjorie op Kreta te gaan kuier. Hy was moeg en wou terug na Suid-Afrika. Vroeg in Januarie 1969 het hy na Suid-Afrika vertrek en op 27 Januarie is hy terug na Kaapstad.

Op Onrust het Uys nie stilgesit en “afgetree” nie. Hy was nou betrokke by al die kunstenaars wat hulle gedurende dié tyd op Onrust of Vermont kom vestig het, soos Jan Rabie en Cecil Higgs en Gregoire Boonzaier wat reeds daar gewoon het. Daar was ook mense soos Elsa Joubert en Klaas Steytler, Jack Cope, Koos Human, Barend Toerien en Etienne Leroux en Chris Barnard en Katinka Heyns wat naweek- en vakansiehuise daar besit het. Saam met die meeste Suid-Afrikaanse skrywers was Uys baie ontsteld toe Breyten tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis is vir vermeende terrorisme.

"Uys was van die vroegste tyd – reeds in die dertigerjare – vierkantig gekant teen oneerlikheid en politiekery van watter aard ook al. Hy het die vermoë gehad om dwarsdeur moedswillige skelmstreke te sien, die moed om dit openbaar te maak en sy oortuigings sonder bybedoelings pertinent en glashelder te stel. Daarom dat hy hom die onmin van die regering op die hals gehaal het en telkens in ’n letterkundige woestyn moes beland waar die enkele waterplekke kontak met eendersdenkendes, ongeag velkeur en nasionaliteit, ouderdom, werkrigting en vermoëns was," het Bonnita Davidtsz in Die Vaderland van 28 Junie 1974 geskryf. "Soos ’n profeet het hy vir menswaardigheid anderskleurige Suid-Afrikaners ook betrek."

Daarom moet ons in vrede leef,
wit, bruin en swart en kind en kraai,
moet ons mekaar verdra verstaan
ja, hiérso aai en dáárso paai ...
Ek weet dis swaar, verbrands,
maar ons moet traai om te probeer
en traai ... en traai ... en traai ...

Selfs in sy latere jare het Uys nie gehuiwer om politieke uitsprake te maak nie. Net soos hy in sy jonger jare heftig uitgevaar het teen die gedwonge uitsetting van mense en ontruiming uit Distrik Ses, was hy een van die skrywers wat saam met WA de Klerk, André P Brink, Etienne Leroux en Jan Rabie Athol Fugard se saak bepleit het toe hy ’n paspoort geweier is. ’n Saak wat hom ook na aan die hart gelê het, was die veroordeling van Bram Fischer. Toe Fischer in 1973 sterwend aan kanker was en nog steeds gevange gehou is, het Uys in ’n brief aan Rapport ’n roerende pleidooi gelewer vir die vrylating van sy groot vriend.

In 1969 het die Akademie die Akademieprys vir Vertaalde Werk gesamentlik aan Eitemal vir sy vertaling van Faust en aan Uys vir sy vertaling van Twelfth night toegeken. Uys het egter die prys geweier – nie omdat dit ’n gedeelde prys was nie, maar omdat hy reeds jare terug vertroue in en respek vir die Akademie se oordeelvellinge verloor het. Hy het sy redes in ’n verklaring uiteengesit en afgesluit met: “Laat my woorde so helder soos ’n swart kraai op ’n sneeuveld spreek. Indien die Akademie dink dat sy literêre oordele enige waarde vir die meerderheid van ons skrywers en digters van enige betekenis het, moet hy spoedig van so ’n dwase illusie ontnugter word. Ek is moeg, moeg van die Akademie se aanhoudende aarselinge, weifelinge in verband met literêre aangeleenthede, sy voortdurende teenstrydighede, besluiteloosheid, geboer in sy eie wandelgange, onderlinge rugkrappery, politieke gekonkel, partydigheid en algemene ondoeltreffendheid in dié verband.

“Ek is ook moeg van al sy gesukkel met my werk sedert 1943, doodmoeg. Al wat ek van die verhewe liggaam verlang, is om my in die toekoms met rus te laat. Al wat ek nog van hom nodig het, is vrede en rus sodat ek kan aangaan om die werk te skryf wat my vriende en ek, veral ek, van my verwag.

“Nou het ek my sê gesê. En ek het lank gevat om dit te sê. Laat ons nou die Akademie-Krige-lêer toeklap en hom lag-lag in die Apiesrivier gooi.” (Beeld, 18 Mei 1969)

In 1969 word Spaans-Amerikaanse keuse deur Human & Rousseau uitgegee, wat in 1971 met die Akademieprys vir Vertaalde Werke bekroon word. Sewe van die 19 digters wat in hierdie bundel opgeneem is, is van Venezuela en die bundel bevat ook ’n hoofstuk oor die volk, die geskiedenis en die digters van hierdie land. Eben Meiring het die aanbeveling vir die Akademieprys vir Vertaalde Werke geskryf: “Meer as veertig jaar al werskaf hy (Uys) om van die grootste Franse en Spaanse digtersname Afrikaans te laat praat. ’n Mens kan objekteer dat dié bundel nie al die beste Suid-Amerikaanse poësie verteenwoordig nie. Krige self haas hom om dit te sê. (...) Maar vir my hanteer Krige hier genoeg gehalte-materiaal om die voorste versvertaler te bly.”

Uys se vertaling van Shakespeare se King Lear is in 1971 gepubliseer. Voor die toekenning van die Akademieprys vir Vertaalde Werk toegeken is, het Danie van Niekerk, die sekretaris van die Akademie, Krige gebel en gevra om tog maar die prys te aanvaar al het hy in 1969 gesê hy wil niks meer met die Akademie te doen hê nie. Van Niekerk se verweer was dat die huidige Akademie nie geblameer kon word vir die voorgangers se foute nie. Nadat ook Meiring Naudé, die Akademievoorsitter, en Eben Meiring, wat die commendatio moes opstel, hom gebel het, het Uys besluit om die prys te aanvaar.

In sy commendatio het Eben Meiring (Die Burger, 28 Mei 1971) gesê dat min vertalers die Romaanse praat- en sangvers grondig aanvoel en hul eie maak. Krige kry dit reg omdat hy dié poësie deur en deur ken, omdat hy binne selfopgelegde grense presies weet wát om te verafrikaans, hóé om te suggereer en te evokeer. Daarom kry hy dit reg “om so baie Romaansheid te herskep, te herdig – diep en innig en hunkerend”.

In sy motivering het Rob Antonissen (Die Burger, 19 September 1972) geskryf dat dit ’n reuse taak was om een van die mees aangrypende en ontredderde treurspele wat die wêreld besit, in Afrikaans oor te bring. “Miskien is geen enkele ander werk van Shakespeare in ’n ewe groot verskeidenheid van stemminge en toonaarde geskryf nie: in Krige se herskepping leef die outentieke Lear met daardie hele verskeidenheid. Na wat ek gesê het oor Krige se blykbare plesier om aan ’n blyspel bý te dig, is dit des te opmerkliker dat hy hom, wat dit betref, by die vertaling van hierdie treurspel ten strengste beteuel het (selfs in die ’nar’-passasies!).

“Hy het homself so goed as geen interpreterende vryhede toegestaan nie, en terselfdertyd tog daarin geslaag om ’n natuurlike spreek- en speelbare stuk te skryf. Maar veel meer as dit: sy Koning Lear is ’n drama wat gedra word, deur ongemeen-veelsydige kreatiewe taal.”

Ernst van Heerden het in sy bespreking in Rapport (13 Augustus 1972) geskryf dat Lear een van die groot gefolterdes in die literatuur is: “Dat sy dwaasheid, lyding en boetedoening so aangrypend tot ons in ons eie taal spreek, het ons aan Uys Krige se ondernemingsgees – en sy virtuositeit – te danke.”

In 1973 het Van Schaik ’n Keur uit sy gedigte uitgegee. Uys het self die samestelling gedoen uit die ses bundels oorspronklike verse wat tussen 1935 en 1964 verskyn het. Maar daar was nie een enkele nuwe ongebundelde vers in nie. Hierdie Keur was een van die bundels wat in 1974 aan die kommissie van die Akademie ter oorweging van die Hertzogprys vir Poësie voorgelê is. Die belangrikste ander mededinger was Breyten Breytenbach met Skryt en Met ander woorde: Vrugte van die droom van stilte. Die Letterkundige Kommissie het met ’n meerderheidstem besluit om die Hertzogprys vir Poësie aan Uys Krige toe te ken.

En hoewel daar druk op Krige was om die prys te weier – van Abraham de Vries en André P Brink – het Uys tog besluit om dit te aanvaar. AP Grové (Jaarboek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1974) het tydens die oorhandigingsplegtigheid gesê dat Krige ’n veelsydige skrywer is: ”In ’n voortreflike prosa skryf hy reisverhale, reissketse en kortverhale. Hy is ook ’n uitmuntende vertaler en skrywer van verskillende dramas en eenbedrywe. Maar bowenal is hy digter, en ’n hele aantal van sy verse het al klassiek geword in ons taal."

Hy eindig sy toespraak: “Soos enige digter van betekenis het Krige in sy beste verse vir dit wat hy wou bring, op sy eie manier die essensiële vorm gevind. Daarvan lewer hierdie Keur oorvloedige getuienis.”

Uys het na die toekenning gesê dat hy die prys vir sy poësie gekry het, maar dat die meeste van sy verse ná veertig jaar nog ongepubliseer is. “Ek is baie bly, ek is baie tevrede dat ek die prys kry, maar nou het ek net een hoop en dit is dat ek die tyd en die gesondheid gegun sal word om nuwe werk te lewer. ’n Mens is mos nooit tevrede met jou ou werk nie. Ek is lank nie klaar geskryf nie. En nou moet ek nie die mense teleurstel wat so baie vertroue in my gestel het nie. Ek moet die verwagting vervul.” (Die Burger, 5 Junie 1974)

Met die publikasie van Die loodswaaiers in 1977 het die Afrikaanse ligte toneel ’n welkome speelstuk bygekry, volgens Pieter Fourie in Beeld van 5 Desember 1977. Die stuk is al in 1966 deur Kruik opgevoer. Dit speel hom af in en om die tentspreekkamer van kaptein Francois van Rensburg naby die Italiaanse bergvesting Kombolchia in Noordelike Abessinië teen die einde van April 1941. Die belangrikste verhaalgegewe en handeling ontwikkel uit die verhouding tussen Van Rensburg en sy ordonnans aan die een kant en ’n vermaaklike dog ontroerend-menslike groepie loodswaaiers aan die anderkant. Die loodswaaiers is sat van die oorlog en probeer Van Rensburg oortuig dat hulle medies ongeskik is om verder aan die oorlog deel te neem.

Krige self het dit ’n komedie-klug genoem, en na Fourie se mening heeltemal tereg, want dit is nie suiwer komedie nie en ook nie suiwer klug nie. Fourie het sy bedenkinge oor sekere aspekte van die stuk, maar dit is beslis ’n speelstuk, sê hy.

André P Brink (Tydskrif-Rapport, 27 November 1977) noem dit ’n stuk so Krigeaans soos kan kom: “jolig in sy voorstelling van menslike feilbaarhede, maar deurgaans met soveel stralende liefde vir die mens met al sy skete en befoeterdhede en streke dat jy nog lank agterná van warmte bly nágloei. (...) Dis nie Uys Krige se beste komedie (goed, komedie-klug dan) nie; en puris en puritein sal om ’t ewe kan kla oor bedenklike dramatiek en karakterisering soms. Maar Uys het ’n manier om as ’t ware by die formele literatuur verby te skryf. Hy kry sy geskakeerde beeld van ’n warm menslikheid opgebou ten spyte van die prosedures wat hy volg en die prosesse wat hy gebruik. Lank ná die formele aspekte van Die loodswaaiers al vergete is, sal die geloof, hoop en liefde van dié menslike tafereel mens nog bybly.”

Hennie Aucamp was die samesteller van Met ander oë wat in 1980 deur Van Schaik uitgegee is. Volgens JP Smuts (Beeld, 31 Augustus 1981) het Aucamp ’n goed verantwoorde keuse uit Krige se werk gemaak en het hy dit ingelei met ’n deeglike opstel waarin hy die outeur as prosaïs onder die loep neem: “Aucamp se inleiding is ’n omvattende en deeglike studie en is waarskynlik die belangrikste stuk oor dié onderdeel van Krige se werk wat ons het. (...) Met ander oë skep die geleentheid tot ’n herwaardering van die prosaïs Uys Krige. Dit bied nie alleen ’n verteenwoordigende keur uit die werk van hierdie skrywer nie, maar bevestig dat hy ’n paar stukke geskryf het wat gereken moet word tot die handjie vol “klassieke” kortverhale in Afrikaans. Dit toon verder dat ’n hele aantal van sy kortprosa-tekste uiters leesbaar is en soms uitmuntende onderdele het. Bowenal bewys dit dat Krige se werk die toets van die tyd deurstaan het.”

Deur sy moeder het Uys in die vroeë 1970’s die kunstenares Margaret Maskew leer ken met wie hy gou ’n hegte vriendskap gesluit het. Sy het deur die jare pragtige fyn pen- en houtskooltekeninge en etse van hom gemaak wat sy later saam met ’n teks in A portrait of Uys Krige (1985) gebundel het. Margaret was ook een van dié wat vir Uys tot met sy dood bygestaan het.

Uys was deur die jare gereeld plat getrek met ’n derm- en maagkwaal wat hom etlike kere na die hospitaal gestuur het. Dit het al erger geword en in Mei 1970 moes hy vir twee weke in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem word. In 1972 is hy na die Volkshospitaal vir ’n blaasoperasie, waarvan hy goed herstel het, maar nie lank nie of hy is weer met sy maagkwaal na Groote Schuur. Hy het aan Marjorie Wallace geskryf dat dit die ergste nog was en dat hy vir twaalf dae aanmekaar net opgegooi het. Maar gelukkig het die tien dokters hom weer op die been gekry en het hy gou herstel na ’n prostaatoperasie.

In die weke na sy ma Sannie se dood in 1976 is hy weer gepla deur ’n bloeiende maagsweer, voortdurende hikke en mislikheid en moes hy na Hermanus se hospitaal vir dehidrasie.

In die winter van 1976 is Uys na die Transvaal, waar hy by vriende, asook by Bokkie en sy vrou, Dorothy, gekuier het. Daar was hy in ’n redelik ernstige motorongeluk en is hy in die hospitaal opgeneem met ernstige hoofbeserings en etlike beenbreuke. Hy moes verskeie beenoperasies ondergaan, want sy linkerheup was ontwrig, die linkerknie se ligament was geskeur en die ligament van die regterenkel was gestuit. Die verpleegpersoneel het na die tyd net lof gehad vir Uys, wat nooit gekla het nie, maar net altyd die personeel aangeprys het. Tog het die mense wat hom besoek het, ’n verandering in hom opgemerk – dit was asof sy lewensdrif gedemp was. Nog ’n onverwagte gevolg van die ongeluk was egter dat hy nooit weer ’n aanval van mislikheid of ’n bloeiende maagsweer gehad het nie.

Dit het langer as ses maande geduur voordat Uys weer na Onrust kon terugkeer. Hy het by sy aankoms aan Margaret gesê dat goedheid en erbarming die belangrikste kwaliteite in die lewe is en dat hy nooit weer ’n lelike woord met iemand wil hê nie.

Terug op Onrust was dit duidelik dat Uys se skeppende vermoë hom ook verlaat het. Daar het nog baie onvoltooide manuskripte rondgelê en hy het gesukkel om dit waarmee hy besig was, soos Môrester oor die Abruzzi, klaar te maak. Sy laaste werke, soos Die ballades van Villon, Verse van Lorca en Drie eenbedrywe, is almal postuum gepubliseer. Brasilië sing en Spaanse danse is onderskeidelik in 1990 en 1991 deur MM Walters in sy reeks Poësie uit verre lande uitgegee. Self het Uys na hom verwys as ’n afgetrede digter: “As jy ’n afgetrede dokter of advokaat kon kry, waarom dan nie ook ’n afgetrede digter nie?”

In 1977, met Uys se 67ste verjaardag, het sy vriende hom met ’n spesiale bundel, Oggendlied, gehuldig. Dit is saamgestel deur André P Brink en ’n stuk of dertig skrywers en digters van min of meer alle generasies van dertig tot sewentig het tot die bundel bygedra. Brink het met die oorhandiging gesê dat die letterkunde dit aan Uys te danke het, meer as aan enigiemand in Afrikaans, dat ander tale vir ons letterkunde oopgemaak is: nie net deur wat Uys vertaal het uit ander tale nie, maar deur wat daarvoor sal wees.

In 1981 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir wetenskap en Kuns die Akademieprys vir Vertaalde Werk vir die sesde maal aan Uys Krige toegeken - hierdie maal vir sy vertaling van Lorca se Die Huis van Bernardo Alba.

Met die herdenking van Uys se 75ste verjaardag in 1985 het Human & Rousseau in samewerking met Perskor en HAUM sy poësie gebundel onder die titel Versamelde gedigte. AP Grové het in Die Transvaler van 27 Junie 1985 geskryf dat dit ’n vreugde is om weer hier met al Uys Krige se ou bekende gedigte kennis te maak: "En ek is getref deur hoe ryk Krige se poësie na vorm en inhoud is, asook deur die groot verskille tussen hom en dié van sy mededertigers. Hy was ook nooit ’n vorm- of denkdigter nie, hoewel hy pragtige kwatryne geskryf het. Soos enige digter van betekenis het hy in sy beste verse vir dit wat hy wou bring, op sy manier spontaanweg die essensiële vorm gevind. Daarvan lewer Versamelde gedigte genoeg voorbeelde."

Dieselfde aand wat die bekendstelling van Versamelde gedigte plaasgevind het, is Pierre Marais se program oor Uys, Sol y sombra, op televisie gebeeldsend. Dit was ’n pragtige huldeblyk aan Uys Krige. Tydens die maak van die program is Pierre Marais en Uys na Europa, waar die televisiespan saam op sy spore kon loop.

In 1985 het Uys die Hertzogprys vir Drama vir sy hele oeuvre ontvang en hierdie keer was daar geen polemiek rondom die toekenning nie. Hy het aan ’n joernalis gesê: “Jy weet ná jare van gissinge, wense en hope wat ek naderhand laat staan het, vertel jý vir my van dié prys. Vir wat is dit ook al weer? O ja, drama. Soms lyk dit vir my dat dit juis ’n aanbeveling is as die kritici nie van jou werk hou nie. Ek hoor nou die dag dat my eenbedrywe op die oomblik in ’n Duitse vertaling in Zürich, Switserland opgevoer word.”

Teen die middel van 1987 het Uys baie ernstig siek begin word en was sy toestand so sleg dat hulle nie kon opereer nie. Hy is op 10 Augustus 1987 in sy huis, Swartdakkies, op Onrust aan maagkanker oorlede. Hy word oorleef deur sy dogter, Eulalia, sy seun, Taillefer, en drie broers en ’n suster. Uys is op 13 Augustus 1987 op Onrust begrawe. Daar was geen roudiens nie en die kis is direk van die begrafnisondernemers af na die graf gebring. By die graf het ’n skoolmeisie “Die seemeeu” voorgelees, Jan Rabie, Gregoire Boonzaier se seun, Revel Fox en Koos Human het elk ’n paar woorde gespreek en ’n paar gedigte is voorgelees, onder andere deur Eulalia. Pieter Oettle, ’n vriend van Eulalia se dogter, het die “soete weemoed” van die Andante-gedeelte van Mozart se Klavierkonsert nr 21 op die fluit gespeel, gevolg deur die wysie van Psalm 23, waarby Eulalia met die diskant ingeval het.

Later het Jan Rabie Uys se graf met wit skulpe bedek en drie sonneblomme daarop geplant. Op die grafsteen verskyn die gedig “Sonneblom” uit Vooraand:

Na die bron
van alles, die son,
één beurende drang
één goue verlang!

Huldeblyke

  • JC Kannemeyer: "Met sy heengaan verloor die Suid-Afrikaanse letterkunde een van sy flambojantste en veelsydigste figure. Dis opvallend dat hy in die Dertigerjare eintlik ’n buitestaander was en nie deelgeneem het aan die belydenispoësie en geding met God nie. Die vernuwing van Sestig kan teruggevoer word na hom toe. As ek terugdink aan my persoonlike kontak met Uys, is dit sy vitaliteit en lewensvreugde wat my die langste sal bybly; en sy onwrikbare eerlikheid. Dis ook opvallend dat hy by herhaling ander politieke standpunte as sy tydgenote ingeneem het. Hy het hom herhaaldelik uitgespreek teen diskriminerende apartheidswette, en was ook een van die eerstes wat teen die ontruiming van Distrik Ses geprotesteer het." (Rapport, 23 Augustus 1987)
  • Koos Human: "Ons verloor ’n getroue vriend en medewerker. Ek het vir Uys die afgelope 30, 35 jaar geken en ons het baie goed saamgewerk. Hy’t ’n baie groot vriendekring gehad wat hom baie sal mis." (Die Burger, 11 Augustus 1987)
  • Afrikaanse Skrywersgilde by monde van Chris Barnard: "Dis ’n gevoelige slag vir Afrikaans en die letterkunde. Hy was ’n veelsydige en kleurryke persoon en waarskynlik die gewildste digter in Afrikaans. ’n Rustelose en swerwende troebadoer, het hy homself onderskei in die Tweede Wêreldoorlog, as joernalis, professionele rugbyspeler en ’n filantroop. Sy bydrae tot Afrikaans was omvangryk en so veelsydig as wat dit indrukwekkend was." (Transvaler, 11 Augustus 1987)
  • Jan Rabie: "Geen ander skrywer was so geliefd en het soveel nuwe borrelende lig deur nuwe vensters uit Spanje, Frankryk en Italië in Afrikaans laat val nie. Uys het sy lewe lank die geesdrif en die ontdekkingslus van ’n kind gehad. En dan is daar die vermetele bobbejane in die Parlement wat hom so ’n dekade gelede ’n kommunis genoem het." (Transvaler, 11 Augustus 1987)
  • Gerhard Beukes: "Ek groet my ou vriend Uys, met wie ek ’n ver ent op ons Afrikaanse toneelpad saam geloop het, met ’n dankbaarheid wat groter is as my weemoed. En ek sê dankie dat hy soveel bruikbare werke - prosa, poësie, drama - in ons letterkunde kon nagelaat het. Hy was ’n hartlike, rustelose swerwer wat sy lewe lank anderkant ver horisonne na nuwe vergesigte bly soek het. Hy was die dromer wat altyd na ’n geïdealiseerde wêreld uitgereik het waarheen hy kon ontvlug het. Deur al die jare in sy huis op Onrus was die wanderlust die enigste vriend wat hom nooit verlaat het nie. Ek groet hierdie swerwersvriend wat slegs in die droom werklike geluk kon vind. Miskien sou sy slotreël in 'Die einde van die pad' die beste wense wees waarmee ons hom ook kan groet: laat hierdie kalmte en stilte duur, o Heer, laat dit lank duur ..." (Volksblad, 10 Augustus 1987)
  • Adam Small: "Hamba kahle, Uys Krige! Travel well, you who were a traveler ... True poets never die, of course, and Krige’s was (I should say is) a make of language that can keep on communicating, as song and as conscience, in this society (or lack of society). (...) And Uys, as poet, had tried so hard, so magnificently hard, to have people related to each other by way of ... Afrikaans. Indeed, don’t I do him an injustice to speak of him as “trying hard”? Relation, as I intend it here, is just part of the meaning of his poetry, anyway, being there like water when it rains, or sunshine on a clear day ... But at least important vestiges of Afrikaans will remain for my children, and will remain also because of a superlative poet called Uys Krige, whose prayer it was (and, again, I should say is), that the “people of his race” should become compassionate and free: O mense van my ras, ondanks alles wat ons skei/ steeds aan my gees, my siel, my hart verwant,/ wees groot en ruim en sterk, wees vry ... A poet’s pipedream, perhaps? But then, how desperately don’t we need pipedreams. Of this sort, that is." (Weekend Argus, 15 Augustus 1987)
  • Breyten Breytenbach: "Ek wil my deernis met die familie betuig. Vir my was Uys altyd ’n groot mens, ’n groot digter, ’n groot kampvegter vir menseregte.

    Doekvoet vat
    Die witkop-senter
    Toe daai gat
    En hol nou, hol nou
    Doodlyn toe."
    (Rapport, 16 Augustus 1987)

  • Revel Fox, swaer: "Uys het ’n onuitputlike vermoë gehad om lief te hê en deernis vir sy medemens gehad, en as daar ooit iemand was sonder ’n bewustheid van verskille tussen mense, dan was dit Uys. Hy het almal wat hy teëgekom het, geleer om Afrikaans lief te hê, en hy kan net die mens wees wat die meeste verantwoordelik sal wees vir Afrikaans se volgehoue teenwoordigheid onder die wêreld se tale." (Die Burger, 14 Augustus 1987)
  • London Times: "Krige made his name through the honesty of his portrayal of his fellow Afrikaners and his powerful evocation of the marvelous and menacing landscape of his country. But he was also known for his strenuous and influential efforts to break the English-Afrikaans language barrier which divides South Africa."
  • André P Brink: "Dit was die hartste hart van Uys se 'way out': nie ontvlugting uit kamp of werklikheid nie, maar ’n oopmaak om wind en lug binne te laat: die wind en lug van die Franse poësie, die Italiaanse, bo alles, bo alles seker Spaans (...). En ek onthou ’n treurige wind in die olywe. ’n Wind wat treur om die gestorwe matador Mejías, om die gestorwe Uys Krige. Dié tale het hy in Afrikaans binnegelaat en ons behoed teen stroewe, oormatige Germanisering. En met die baldadigheid en vryheid en speelsheid waarmee hy ons taalhuis se vensters oopgemaak het, het hy die lied van die troebadoer binnegelaat, die minnaar, die eensame, die defote, die ramkiekie-speler in die maanlig: ’n stem wat gesing het van hartseer en van vryheid, altyd van vryheid. Want alles wat die mens bind, alles wat die mens minder maak as wat hy kan wees, het hom persoonlik verwond. (...) Brewwe ligmomente: maar só kosbaar. Om eenmaal, net eenmaal, aards en hier te gewees het. Te gesing het, te geglo het, te geweet het. Uys, Uys, daar is ’n droewe wind in die olywe vandag, en die aand kom skielik. Maar daardie deurborende straal van die son wás daar. En dít is vir alle tye." (Rapport, 23 Augustus 1987)
  • Willem Steenkamp: "It’s a funny thing, but there are some people one just doesn’t believe will ever die. They are so much alive, so much a part of the warp and weft of one’s life, that it seems the world will crumble when they go the way of all flesh. Such a man was Uys Krige. How can that inexhaustible leprechaun of a man be dead? It seems wrong; one is almost angry that he has gone away. (...) Tot siens, man. Laat die geselswoorde gladder as klippers rol, daar in die duistere wie-weet-waar." (The Cape Times, 11 Augustus 1987)
  • Hennie Aucamp: "Uys Krige is miskien die suiwerste voorbeeld van die Romantiese gesteldheid in Afrikaans en ek skryf “Romanties” met ’n hoofletter, omdat agter Uys se verse, dramas en prosa, die Europese, en by name die Romaanse Romantiek opklink. (...) Die ware Romantiek is ’n gekompliseerde lewenshouding. Die “somberte” in Krige se hart was bowenal ’n kwellende bewustheid van die verganklikheid van alles wat aards is. Sy verheerliking van die aardse is terselfdertyd ’n sensuele opwerp van skanse teen die dood. Dood, paradoksaal, is een van die sentrale temas in die oeuvre van ons “goue digter”; of beter gesê: die spanning tussen lewe en dood. (...) Maar die somberte in Uys se hart slaan wyer uit as persoonlike smart. Uys Krige se politieke besorgdheid oor sy land sal miskien eers in ons verwarde tyd in perspektief gesien word, en hiertoe sal die publikasie van sy briewe grootliks bydra. (...) Maar sy geloofsbelydenis as mens en digter staan nóg duideliker in die volgende reëls in sy gedig 'Verre blik', en word ’n vergesig vir ’n tyd wat ’n visioen nodiger as brood of water het:

    O mense van my ras, ondanks alles wat ons skei,
    steeds aan my gees, my siel, my hart verwant,
    wees groot en ruim en sterk, wees vry,
    vol lig en stilte, soos dié suiderland!" (Die Burger, 11 Augustus 1987)

  • Jan B Vermaak: "Uys Krige is per geleentheid 'die kroonprins van die Afrikaanse letterkunde' genoem. Sy enorme nalatenskap, wat van soveel veelsydigheid getuig, sal sorg dat dié ere-titel aan sy nagedagtenis gekoppel bly. Die kuns van Uys Krige, waarvan ons gelukkig soveel voorbeelde het, sal waardeer en bestudeer word solank as wat die Afrikaanse taal bestaan: 'Die kunstenaar verdwyn, maar sy werk bly voortbestaan.' Jare gelede het Uys ’n reeks 'Grafskrifte' in Rapport gepubliseer, en ek vind dié een gepas om hierdie waardering mee af te sluit:

    Die tong van engele
    Hy wat nooit opgehou het nie met praat, praat, praat,
    hy praat tog saam, nie waar, daar op die Groot Beraad?"
    (Prisma, 12 Desember 1987)

  • Johann de Lange: "Avonturier, wêreldreisiger, oorlogskorrespondent in Italië, oninperkbare gees, ewige ontheemde, intens betrokke by die lewe, by die mens en by menslike lyding en onreg, altyd ossillerend tussen ’n lewensbevestigende opgaan in die aardse aan die een kant, en ’n wêreldvreemde verlange na ’n ander soort bestaan aan die ander kant. Niemand het meer bygedra tot die mite van Uys Krige as hyself nie. (...) As ek aan hom dink, dink ek altyd aan die see, en aan die bottels seewater en -sand wat die kru binnelanders soms terug karwei huis toe, en wat natuurlik na ’n paar dae sleg word, want seewater is nooit bedoel om stil te staan nie." (Transvaler, 11 Augustus 1987)
  • Eulalia Krige oor haar pa en die Kriges: "Man, as jy ’n kind is, besef jy nie eintlik sulke dinge nie. Jy is maar net in jou familie en jy geniet die mense en so aan. Maar later, as jy grootword, dan besef jy natuurlik hulle is spesiale mense. Hulle hét daai eenvoudigheid en tog groot intellek soos my pa gehad het. Maar ’n eenvoudigheid ook, want hy was altyd mál daaroor om met almal te gesels ... almal in die straat – die skoonmakers en straatveërs het hy mee gepraat. En natuurlik die vrouens op die strand!" (Beeld, 13 Februarie 2010)

Uys is na sy dood nie vergeet nie. In 1993 het Gus Ferguson van Snailpress Jacques Prévert se Franse gedig Song of the snails who went to a funeral uitgegee met die oorspronklike Frans, Barend J Toerien se Engelse vertaling en Uys se Afrikaanse vertaling:

Na die begrafnis van ’n blaar
kruip twee slakke voort
met lanfer om hul horings
en swart skulpe soos dit hoort.
Hulle sluip deur die skemering
van ’n mooi-herfsdag.
Kom hulle daar aan, helaas,
is’t lente wat om hulle lag.
Al die blare wat dood was,
is die ene kleur en geur;
hulle stel die twee slakke
diep teleur.

In 1997, tien jaar na sy dood, het Daniel Hugo ’n huldeblyk getiteld Troebadoer van die woord oor die radio uitgesaai. By die KKNK van 2002 is Die goue seun onder regie van Marthinus Basson op die planke gebring. Hierin is veral gefokus op die besonderse verhouding tussen Sannie Uys en haar seun Uys Krige. Cobus Rossouw het die rol van die ouer Krige gespeel, Neels van Jaarsveld dié van die jonger Krige en Grethe Fox die rol van haar ouma, Sannie Uys. Fox het gesê dat Uys, haar oom, in sy loopbaan geïsoleer was omdat hy teen die wette van die tyd uitgepraat het – onder andere sy baie bekende toespraak teen die Groepsgebiedewet. “Ons drama is ’n politieke herwaardering van iemand wat die moed gehad het om uit te praat.”

Hierdie toneelstuk het saamgeval met die publikasie van JC Kannemeyer se biografie oor Uys Krige, Die goue seun: die lewe en werk van Uys Krige, wat by Tafelberg verskyn het. Volgens Hennie Aucamp het die biografie Uys in ’n nuwe, verhelderende lig geplaas. Kannemeyer het ook in 2002 Die naamlose muse: uit die skatkis van die goue seun: ’n omnibus saamgestel wat ’n versameling van Uys se gedigte, prosastukke, eenbedrywe en vertalings bevat en wat as ’n neweproduk van die biografie beskou kan word. Daarmee saam het ook Die naamlose muse verskyn wat ’n samestelling is van Uys se literêre opstelle en gesprekke. Dit het by Protea Boekhuis verskyn.

In 2010, tydens die herdenking van Uys se 100ste verjaardag, het Eulalia, Tai en Grethe Fox, ’n susterskind van Uys, oor hom in die Woordfeesprogram Uys Krige in Ons Binnekring gesels. Ná die gesprek, gelei deur Amanda Botha, het JC Kannemeyer, Krige se biograaf, ’n rondleiding van Krige se dokumente in die universiteit se Dokumentasiesentrum gedoen.

Ook in 2010 het daar by Hemel en See Uitgewers ’n samestelling van Uys se briewe verskyn wat deur Peet van Aardt, voormalige Rapport-joernalis en tans nuusredakteur by Nuus24, bymekaar gebring is. Van Aardt het gesê dat sy belangstelling in Krige se briewe deur John Kannemeyer geprikkel is. Toe Van Aardt na afloop van sy studentedae op ’n reis na Europa vertrek, het die bekende literatuurhistorikus hom aangemoedig om die briewe van ’n jong Uys Krige saam te neem.

In 2009 het Van Aardt ’n meestersgraad in Edisiewetenskap onder Kannemeyer, buitengewone professor aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands, voltooi. Die onderwerp: Uys Krige se briewe wat hy as jong man tydens sy eerste oorsese reis geskryf het.

“Ek kon identifiseer met die briewe wat Krige in sy vroeë twintigs uit Frankryk en Spanje geskryf het toe hy die wye wêreld vir die eerste keer ingevaar het,” sê Van Aardt. “Dit verteenwoordig die belangrike ontwikkeling van Krige as jong, verlore seun tot die periode toe sy debuutbundel Kentering verskyn het. Byna soos in my geval 70 jaar later, was daar die avontuur van Krige se eerste oorsese reis, die familiebriewe, sy verblyf by Roy Campbell in Frankryk totdat hulle voor die skuldeisers moes vlug Spanje toe. Campbell het as leermeester natuurlik ’n groot invloed op Uys gehad. By hom aan huis is hy blootgestel aan die Europese digkuns en het hy digters van oor die hele wêreld ontmoet.”

Voordat Krige in 1935, met die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog, teruggekeer het na Suid-Afrika, het hy kennis gemaak met sy eerste groot liefde, Emilia. Briewe aan Uys se familie wat lig werp op die liefdesverhouding met Emilia is ook in die bundel opgeneem. Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje het ontstaan uit die tesis wat Van Aardt onder leiding van Kannemeyer voltooi het.

Uys het die laaste sê uit “Op die ou end”:

Wat bly daar oor van al my liefde,
die blydskap van my gees, my bloed
en al my singe?
Net dit:
herinneringe.
Wat bly daar oor
van dié herinneringe?
Net die vergetelheid
van alle dinge.

Publikasies

Publikasie

Kentering: eerste verse

Publikasiedatum

1935

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Magdalena Retief: ’n toneelstuk in agt tonele en epiloog

Publikasiedatum

  • 1938
  • 1940
  • 1941
  • 1943
  • 1948
  • 1975

ISBN

0798105968 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Unie-Volkspers
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Hertzogprys vir al sy dramas 1985
  • Krugerdorpse Munisipale Vereniging vir Drama en Opera vir toneelstukke oor die Groot Trek 1938
  • Federasie van Afrikaanse Toneelverenigings se prys vir Drama

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Rooidag: Verse

Publikasiedatum

1940

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die palmboom: verhale

Publikasiedatum

  • 1940
  • 1943

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die wit muur en ander eenbedrywe

Publikasiedatum

  • 1940
  • 1943
  • 1944
  • 1945
  • 1947
  • 1973

ISBN

062700251X (hb)

Uitgewers

  • Port Elizabeth: Unie-Volkspers
  • Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Veldtog vir vryheid: ’n kort oorsig van die oorwinning van die Afrikanersoldate in Oos-Afrika 1940–1941 / saam met Conrad Norton

Publikasiedatum

1941

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Inligtingsburo

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Oorlogsgedigte

Publikasiedatum

1942

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Ver in die wêreld: sketse

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1951
  • 1953
  • 1954
  • 1955
  • 1956
  • 1983

ISBN

0628023049 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

The way out: Italian intermezzo

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1955
  • 1957
  • 1983

ISBN

062300593X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Italiaans vertaal deur P Pieroni 1965
  • Afrikaans vertaal deur outeur 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die grootkanonne: ’n eenbedryf

Publikasiedatum

1946

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Dalro

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die einde van die pad en ander oorlogsverse

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Sol y sombra: Spaanse sketse

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1955
  • 1956
  • 1958
  • 1963
  • 1975
  • 1977

ISBN

0627003206 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Unie-Volkspers
  • Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Alle paaie gaan na Rome: eenbedrywe

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Hart sonder hawe

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Fuente sagrada; Die grootkanonne; Alle paaie gaan na Rome: eenbedrywe

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die sluipskutter en ander eenbedrywe

Publikasiedatum

  • 1951
  • 1985

ISBN

0628030231 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertaal deur outeur 1962

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Twee lampe: ’n drama in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1951
  • 1975
  • 1980

ISBN

0798104392 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy dramas 1985

Vertalings

Engels vertaal deur outeur 1964

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die ryk weduwee: ’n blyspel

Publikasiedatum

  • 1953
  • 1958
  • 1968
  • 1970
  • 1974
  • 1976
  • 1989
  • 1990

ISBN

  • 0798102462 (hb)
  • 079812623X (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy dramas 1985

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

The dream and the desert

Publikasiedatum

1953

ISBN

(hb)

Uitgewers

London: Collins

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Uit Afrikaans vertaal deur outeur

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die goue kring: ’n legende in vier bedrywe

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1976
  • 1986
  • 1987

ISBN

  • 0798106441 (hb)
  • 0798119721 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy dramas 1985

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Ballade van die groot begeer en ander gedigte

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

’n Keur vertaal in Russies deur E Vitkovski 1977

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Sout van die aarde

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1961
  • 1963
  • 1964
  • 1970
  • 1980

ISBN

0798603747 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur outeur 1967 en gepubliseer onder die titel The orphan of the desert

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Gedigte 1927–1940

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1963
  • 1968

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vooraand

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1983

ISBN

0628025017 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Muur van die dood

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Constantia

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Hertzogprys vir al sy dramas 1985

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vier eenbedrywe. Saamgestel deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1969
  • 1970
  • 1971
  • 1981

ISBN

0627011888 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Kry julle ry! / saam met Eulalia Krige (’n vrye vertaling van John Gainfort se Going home)

Publikasiedatum

1969

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Dalro

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die ongeskrewe stuk (’n impromptu)

Publikasiedatum

1970

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Dalro

Literêre vorm

Eenbedryf

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

’n Keur uit sy gedigte

Publikasiedatum

1973

ISBN

062700251X (hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys vir sy poësie 1974

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die loodswaaiers: ’n komedieklug

Publikasiedatum

1977

ISBN

0798107952 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir al sy dramas 1985

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Oggendlied: ’n bundel vir Uys Krige op sy verjaardag 4 Februarie 1977. Saamgestel deur André P Brink

Publikasiedatum

1977

ISBN

0798107405 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Herdenkingsbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Met ander oë: keuse uit die prosa van Uys Krige. Saamgestel deur Hennie Aucamp

Publikasiedatum

1980

ISBN

0627011029 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Rostrum: verhoogtekste. Saam met Hennie Aucamp, J Groenewald, CP Leach en J Kapp

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624021123 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Versamelde gedigte. Saamgestel deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

1985

ISBN

0627012097 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Poësie uitgegee tydens digter se 75ste verjaardag

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Drie eenbedrywe: Interieur, Kry julle ry, Die apie

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798121556 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Roussau

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Môrester oor die Abruzzi

Publikasiedatum

1987

ISBN

062803184X (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Afrikaanse vertaling deur outeur van The way out

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Na die Maluti’s

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798125004 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The dream

Publikasiedatum

1991

ISBN

0947461124 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Vlaeberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Afrikaans deur Ina Rousseau 1991, 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit die skatkis van die goue seun: ’n omnibus. Saamgestel deur JC Kannemeyer

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624040826 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Omnibus

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die naamlose muse. JC Kannemeyer: redakteur

Publikasiedatum

2002

ISBN

9119825789 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje. Ingelei deur Peet van Aardt

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780620469265 (hb)

Uitgewers

Hermanus: Hemel en See Boeke

Literêre vorm

Briewe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Uys Krige as vertaler:

  • Brasilië sing: Portugese gedigte. Kaapstad: Perskor, 1990 [ISBN 0628034288 (sb)]
  • Dokter teen wil en dank. Johannesburg: Dalro en Pretoria: Van Schaik, 1968 en 1971.
  • Spaans-Amerikaanse keuse. Kaapstad: Human & Rousseau, 1969 (Akademieprys vir Vertaalde Werk 1971)
  • Spaanse dans: Spaanse gedigte. Kaapstad: Perskor, 1992 [ISBN 0628034938 (sb)]
  • Vir die luit en die kitaar: vertalings uit die Spaanse en Franse digkuns. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel; Perskor, 1950, 1984 (Akademieprys vir Vertaalde Werk 1951) [ISBN 0628023057 (hb)]
  • Éluard, Paul: Éluard en die surrealisme. Kaapstad: HAUM, 1962
  • Lorca, Federico Garcia:
  • Prévert, Jacques: Versions of Prévert’s The song of snails who went to a funeral. Plumstead: Snailpress, 1993 [ISBN 1874925159 (sb)]
  • Shakespeare, William:
  • Villon, Francois: Ballades van Villon. Kaapstad: Human & Rousseau, 1987 [ISBN 0798121653 (sb)]

Uys Krige as samesteller

  • Afrikaanse versameling. Maastricht: Stols, 1937
  • Campbell, Roy: Poems of Roy Campbell. Kaapstad: Maskew Miller, 1960, 1962
  • Van Melle, J: Keur uit die verhale van J van Melle. Pretoria: Van Schaik. 1949, 1955, 1964, 1970, 1972 [ISBN 0627000150 (hb)]

’n Keur van artikels oor Uys Krige beskikbaar op die internet:

Artikels deur Uys Krige beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Kannemeyer, JC. 2002. Die goue seun: die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad: Tafelberg
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Vir LitNet-leesstof, baie lank, dog uiters boeiend, die moeite werd gewees om te lees. Wat vir my opvallend was, wat ek nie geweet het nie, is dat hy na sy afsterwe, direk vanaf die lykshuis in sy graf begrawe was, sonder enige roudiens nie. Voorwaar 'n Afrikanerhart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top