US Woordfees se teateraanbod die beste ooit

  • 0

Die 2016 US Woordfeestoneelprogram bied voorwaar iets vir elke smaak. Van 'n klug tot drama, eenpersoonsoptredes tot groot rolverdelings, klassiek tot splinternuut geskryf.

Broodlyn

A doll's house, die Noorweër Henrik Ibsen se skerp kommentaar op die tradisionele rolle in die huwelik, is 'n ko-produksie met die Nasionale Kunstefees, Grahamstad. Nadat sy dit daar gesien het, beskryf Die Burger se Laetitia Pople dit as "'n Ont­hutsend, nuwe produksie" en "Die gehoor het soos een mens opgespring om dit toe te juig. 'n Mens hoop ­teater­besture sal oor hul voete val om die uitsonderlike ­pro­duk­sie ­opgevoer te kry". Die akteurs is Jennifer Steyn, Martin le Maitre, Anthea Thompson en Rob van Vuuren, en Christiaan Olwagen, Standard Bank Jong Kunstenaar vir Drama 2015, is die regisseur.

Nóg 'n klassieke vertaling is Buite blaf die honde swart deur die Fransman Bernard-Marie Loltès. 'n Ondersoek na die manier waarop mense mekaar manipuleer en uiteindelik isoleer. Jaco Bouwer is die regisseur van dié koproduksie met die KKNK.

'n Nuwe produksie van die klug Hond se gedagte debuteer tydens die fees. Hoewel reeds meer as 'n eeu gelede geskryf, kan teatergangers verseker wees van goeie lagterapie tydens hierdie produksie met akteurs soos Louw Venter, Sandra Prinsloo, Neels van Jaarsveld, Albert Pretorius, Martelize en June van Merch. Met Christiaan Olwagen in die regisseurstoel.

Aartappels en Ammo

Aan die ander kant van die spektrum is In ongenade, 'n verwerking van JM Coetzee se Disgrace, wenner van die Bookerprys in 1999. Jaco Bouwer bring hierdie vuishou van 'n teks na die verhoog met Gerben Kamper, Jerry Mofokeng, Nicole Holm, Tinarie van Wyk Loots en Charlton George.

Jerry Mofokeng is nie net op die verhoog doenig nie. Moeder Moed en haar kinders, waarvan hy die regisseur is, sal ook te sien wees. Hierdie Bertolt Brecht-meesterstuk was reeds te sien by die KKNK en Vryfees en volgens resensente is dit duidelik waarom hierdie as een van die beste toneelstukke van die Twintigste Eeu gesien word. Met kragtoer-vertolkings deur Aletta Bezuidenhout, Deon Lotz, André Roothman, Nicole Holm en Juliana Venter.

Tematies sluit NP van Wyk Louw se Raka hierby aan. Kom kyk wat Deon Opperman met hierdie klassieke epos gedoen in sy aanpassing vir sleg twee akteurs – Franci Swanepoel en Neels van Jaarsveld.

Die skoleproduskie, in samewerking met Kunstekaap, is vanjaar die baie gewilde boek Fiela se kind, deur Dalene Matthee. Juanita Swanepoel is die regisseur van dié produksie wat ook ontluikende talent, gesien in die Nasionale Toneelkompetisie, in die rolverdeling het.

Tobacco, the harmful effects thereof, is 'n produksie met Andrew Buckland (en soms, van agter 'n gordyn, sy vrou, gespeel deur Toni Morkel). 'n Ouer man se sug na vryheid.

Die dag is bros

Van Innibos kom Wessel Pretorius se Die dag is bros. Met Sandra Prinsloo en Nicole Holm oor vergifnis, familie en die stories wat jou altyd by bly.

Benoni Dehaeck se Die gangsters word in Die Breughel Teater opgevoer ter viering van hierdie besondere teatermaker se bydrae in Cloetesville met sy Breughelteatergroep. Die gangsters het in 1993 groot gehore getrek en bring sleutelkarakters oor kleur- en geloofsgrense byeen om voorveronderstellings van goed en kwaad te ondersoek.

Gangsters

Teatergangers kan uitsien na Hemelruim wat die prys vir beste aktrise by Aardklop gewen het. Tinarie van Wyk Loots is 'n dosent in kosmologie, Paul du Toit 'n sukkelende byeboer. 'n Ondersoek na die noodlot, toeval, karma en hoe verskillende besluite op verskillende vlakke uitspeel.

Steeds in die buitenste sfere is Son. Maan. Sterre. ook volgende jaar weer by die Woordfees op die planke – 'n jaar nadat dit hier geopen het. 

Mis

Maar alles is nie net swaar en ernstig nie! Vra maar vir Neels van Jaarsveld wanneer hy begin gholfballe slaan in Inni rof.

En as jy lus het vir 'n sterk vrou wat die lewe vierkantig in die oë kyk, maar seker jy kry 'n afspraak met Engela van Tonder-Strydom in My briljante egskeiding, die Afrikaanse vertaling van Geraldine Aron se internasionale treffer. Vertaling en regie deur Hennie van Greunen. Met Anthea Thompson.

'n Onbeplande tema by die 2016-fees is die verhouding tussen André P Brink en Ingrid Jonker. Twee toneelstukke – Orgie en Plant vir my 'n boom, André – ondersoek hierdie verbintenis. Orgie het tydens 2015 se fees gedebuteer en is 'n verwerking van Brink se gelyknamige boek oor die krag en storms in die verhouding tussen Hy en Sy. Plant vir my 'n Boom, André speel af die aand voordat Brink 'n eredoktorsgraad ontvang – en enkele dae voor sy dood. Terwyl hy wag om op die verhoog geroep te word, begin hy 'n gesprek met Ingrid. Tinarie van Wyk Loots vertolk die rolle van Sy en Ingrid terwyl Stian Bam Hy speel en Erik Holm André Brink.

Santa Gamka

Santa Gamka, nog 'n boek wat sy weg na die verhoog gevind het, is die verhaal van Lucky Marais se laaste paar minute op 'n – baie warm! – aarde. Kom kyk hoe Marlo Minnaar gestalte gee aan hierdie Karoo-karakter, geskep deur Eben Venter.

Reza de Wet is een van die voorste dramaturge wat die land al opgelewer het. Kom beleef 'n Engelse verwerking van haar wonderlike, magiese Mis, met Faniswa Yisa en Clyde Berning. Die regisseur is Mdu Kweyama.

Ander toneelstukke om na uit te sien is Piet se optelgoed deur Rob Murray; Pruimboom, waarin kindermolestering ondersoek word; Mike van Graan se Rainbow ScarsRooivalk met Richard September; Mari Borstlap se SøskenTwee susters en Aartappels en ammo deur Chris Vorster; Harry Kalmer se Weg; Klein Jakkalsies met Diaan Lawrenson en Jody Abrahams; Marion Holm se Die Kaap is weer HolmsBroodlyn met Maurice Paige en Kim Syster; Amper, Vrystaat!, As en After dark in the Groot Marico.​

Amper Vrystaat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top