US Woordfees: Ryk Hattingh is almal se vriend

  • 4

Ryk Hattingh is terug met ’n knal. Die eerste keer in 19 jaar klink sy stem soos uit die dood weer op in die Afrikaanse letterkunde.

Tydens die Woordfees het hy die gehoor aan sy voete gehad met sy rou, eerlike vertellings oor sy veelbesproke lewe.

Resensente is gaande oor Huilboek wat onlangs uit sy pen verskyn het, en met goeie rede.

Huilboek speel af tussen sy lewe vandag in Nieu-Seeland waar hy die afgelope jare skoene regmaak om kos op die tafel te sit en sy kinderjare aan die Oos-Rand van die ’60’s.

Die titel verwys na die boekie waarin hy as miserabele seuntjie elke keer ’n kruisie moes maak as hy huil. Op ’n slag 105 keer op een dag, het sy ma eenkeer vertel. “Kan jy dit glo? Honderd en vyf keer op één dag. Magtag maar hy is ’n irriterende kind! Ek weet nie hoe ek dit met hom hou nie. Jy kyk skaars na hom dan bars hy in trane uit,” het sy ma destyds vertel.

“Dis ’n befokte naam vir ’n boek. Huilboek. Ek kan nie glo iemand het nog nooit daaraan gedink om ’n boek so te noem nie,” sê Ryk dié week in ’n byna volgepakte Boektent.

Die bladsye van sy eie huilboekie met honderde kruisies lyk “soos ’n begraafplaas van ’n vierjarige seuntjie op die Oos-Rand”.

“Ek was mislik en het heeltemal te veel vrae gevra en so aan, maar ek was nie boos nie.

“Ek sou darem graag ’n paar woorde met my pa wou wissel. Ek sou graag wou weet hoekom hy nie van my gehou het nie. Want ek dink nie ek was regtig so sleg nie. Ek het nou wel baie gehuil.”

As volwasse man is Hattingh nie skaam om sy diepste gevoelens rou en eerlik met sy lesers en gehoor te deel nie.

Ryk Hattingh (Foto: Gerrit Rautenbach)

Kan jy nou dink, sê die man wat op ’n stadium onderwys gegee het op Knysna: “Jy gee Afrikaans op Knysna. God man!”

Met sy boeke het hy nooit geld gemaak nie. Vandag is geld ook nie vir hom belangrik nie. Hy het ’n hekel aan materialisme. Hy wil net leef en ná sy moeilike kinderjare die lewe ten volle leef en geniet saam met sy gesin in Nieu-Seeland.

Sy kinders weet nie eers waarom Suid-Afrikaners so gek is oor hulle pa se skryfwerk nie. “Whatthefuckdad!” sê sy seun toe hy hoor sy pa is spesiaal Woordfees toe genooi vir die bekendstelling van sy boek en die opvoering van sy toneelstuk Sing jy van bomme, wat ook tydens die Woordfees opgevoer is.

Onder die koeltebome by die Plataankafee in Stellenbosch staan sy bewonderaars tou om met hom te gesels en vir elkeen maak hy tyd.

Soos die toeval dit wou hê, woon hy in dieselfde gastehuis as AfriForum se baas, Kallie Kriel. Twee Suid-Afrikaners wat op feitlik elke gebied van die lewe so ver van mekaar verwyder is soos oos en wes, maar Ryk kry dit reg om selfs met Kallie vriende te maak.

Ryk Hattingh en Kallie Kriel (Foto: Jean Oosthuizen)

Kort voor sy praatjie sit ek saam met hulle twee ’n bier en drink en verstom my aan die spontane hartlikheid waarmee hulle met mekaar gesels, asof hulle mekaar al jare ken en dik pelle is.

Sy hele lewe lank hou hy Ryk dagboek. Elke dag skryf hy met die hand iets in sy dagboek en wanneer hy regtig skryf, doen hy dit gewoonlik in die nag.

“Die wêreld is vir my ’n verskrikking in sy wese. Om te skryf is my verweer teen dié verskrikking. Here, maak dit sin?” vra hy.

Die dominees het hul bes gedoen om om hom te oortuig van die bestaan van hemel en hel en dat hy sonder die geloof in Jesus as die seun van God ’n goeie kans het om hel toe te gaan.

“Ek het egter vroeg reeds eenparig besluit ek kan my nie ophou met dit en wat met my gaan gebeur ná my dood nie. Hulle woorde het op onvrugbare grond geval.”

Huilboek is ’n outobiografiese werk waarin hy vir die eerste keer ook ’n stem probeer gee aan Outa Toon, sy swart maatjie uit sy kinderjare. In daardie opsig is die boek volgens hom ’n mislukking, “want ek kan nie regtig aan hom ’n stem gee nie. Dis net nie moontlik nie. Hy het uit my lewe verdwyn.”

Ryk het al die pad van Nieu-Seeland spesiaal Stellenbosch toe gekom vir die bekendstelling van sy boek en hy het die gehoor soos klei in sy hande gehad toe Antje Krog met hom gesels oor sy boek en Jana Celliers daaruit voorlees.

Ryk sê Huilboek is vir hom die hoogtepunt van sy skrywersloopbaan. En hy is nog lank nie klaar geskryf nie. Die jare lange stilte van sy kant is deels daaraan toe te skryf dat hy hom eers in sy nuwe vaderland moes vestig en ook ’n nuwe ambag onder die knie moes kry met sy winkel waar hy skoene regmaak.

“Ek gaan nog baie boeke skryf. Ek sal nooit ophou skryf nie. Ek sal hulle opfok tot die dag wat ek doodgaan,” sê die man wat nie huiwer om ongeregtigheid en brutaliteit aan die kaak stel nie. Selfs nie die “doos” van ’n pa wat hom as kind so geslaan het s’n nie.

Met Huilboek nooi Hattingh jou soos ’n troue vriend tot binne-in sy hart om saam met hom te stap deur die pad van sy veelbesproke lewe.

Jy wil saam met hom lag en saam met hom huil, soos almal wat by die Woordfees saam met hom om ’n tafel kon sit en bier drink.

  • 4

Kommentaar

  • Hierdie paragraaf is nou vir my baie tragies:

    “Ek gaan nog baie boeke skryf. Ek sal nooit ophou skryf nie. Ek sal hulle opfok tot die dag wat ek doodgaan,” sê die man wat nie huiwer om ongeregtigheid en brutaliteit aan die kaak te stel nie. Selfs nie die “doos” van ’n pa wat hom as kind so geslaan het s’n nie.

    Daar gaan nie meer boeke wees nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top