US Woordfees: Hitler, Verwoerd, Mandela en ek deur Marianne Thamm

  • 3

Nie die Nazi-gene van haar pa, die apartheidsdae waarin sy as buitestander in ’n werkersklas Afrikaanse buurt grootgeword het, óf die feit dat haar ma nie kon lees en skryf kon die humor en deursettingsvermoë van die joernalis Marianne Thamm smoor nie.

Selfs nie die feit dat sy as gay vrou in ’n hoogs homofobiese samelewing grootgeword het nie.

Tydens ’n gesprek oor haar boek Hitler, Verwoerd and me het sy die Woordfees-gehoor in die Boektent verskeie kere kliphard laat lag met haar eerlike maar reguit antwoorde sonder om doekies om te draai.

Hierdie ten volle tweetalige vrou beskryf haarself as half-Portugees, half-Duitse Katolieke ateïs wat die 20ste eeu verpes het.

Haar onkonvensionele lewensverhaal klink byna te raar om waar te wees.

Soos baie geharde joernaliste uit die ou skool speel sy nie met woorde nie. “Ek het so baie geskryf oor die kak wat SARS (die Suid-Afrikaanse Inkomstediens) aangejaag het dat dit my nie sal verbaas as hulle my sommer hier kom haal nie,” laat sy die gehoor reg aan die begin van haar boekpraatjie regop sit.

Sy is in Engeland gebore as gay dogter van ’n pa wat vir Hitler geveg het in die Tweede Wêreldoorlog, ’n Portugese ma wat nie kon lees of skryf nie maar met ’n onoortreflike veglus vir haar kinders.

Haar boek waarin sy haar woede uitstort oor die 20ste eeu waarin sy die grootste deel van haar lewe deurgebring het, is ’n aweregse tipe biografie oor haar lewe en die omstandighede waarin sy grootgeword het.

Haar ma, wat ondanks haar ongeletterdheid soos ’n tierkat vir haar kinders kon baklei, het beroerte gekry toe Marianne 21 jaar oud was en kon vir die 14 jaar van haar oorblywende lewe nie praat nie, en was vir rondbeweeg van ’n rolstoel afhanklik. Hoewel haar ma nie kon lees of skryf nie, is dit aan haar te danke dat sy vandag so ‘n sterk selfbeeld het, sê Marianne. “Sy sou moord gepleeg het ter wille van my.”

Met haar pa het sy ’n ambivalente verhouding gehad. Sy het hom verag vir sy deelname aan Hitler se weermag, maar was ondanks dit alles baie lief vir hom en het hom tot sy dood opgepas na haar ma se afsterwe.

Sy is tans die assistentredakteur van die gewilde aanlyn koerant Daily Maverick en was voorheen op die redaksie van Huisgenoot se Engelse eweknie YOU. “Ek gee nie om wat ek skryf nie. Ek stel net in mense belang.”

Een van die skreeusnaakse stories wat sy moes skryf, was dié van ’n man wie se huis inmekaargeval het. Hy het in ’n mindergegoede buurt gewoon, maar wou self ’n swembad in sy erf bou met kroegdeure wat op die swembad se terras oopmaak. Hy het egter die gat vir die swembad so na aan sy huis se swak fondamente gegrawe dat die hele vooraansig van die huis ineengestort het.

Sonder om te probeer skok, vertel sy dat sy dagga leer rook het om te ontsnap uit die eng benoude omgewring in die konserwatiewe wit werkersklasbuurt waar sy grootgeword het.

Sy rook steeds van tyd tot tyd dagga, maar het ’n hekel aan alkohol, wat volgens haar veel gevaarliker is.

Dit het ongeveer 30 jaar geneem om ontslae te raak van die kollektiewe skuldgevoel wat sy gehad het omdat haar pa ’n Nazi-soldaat was. “Dit het gevoel of Hitler deel is van my gene.” Selfs vandag nog soek sy haar pa se gesig oral op foto’s as sy in boeke of tydskrifte foto’s van die Tweede Wêreldoorlog opmerk met Nazi-soldate daarin.

Hoewel haar pa haar twee aangenome swart kinders liefgekry het, kon hy nooit werklik ontslae raak van sy rassevooroordeel nie. Vandag verstaan sy beter dat hy ’n man van sy tyd was. “Jy het ’n lesbiese dogter en twee swart kleinkinders nodig gehad,” het sy later jare aan haar pa gesê.

Na die oorlog, toe die geallieerde magte Duitsland verslaan het, het die Duitse volk so skuldig gevoel oor alles dat hulle vir geslagte lank glad nie daaroor wou praat nie. Dit is eintlik maar nou eers dat van die nageslagte makliker daaroor begin praat, sê sy.

“Afrikaners wat in die apartheidsera geleef het, praat makliker daaroor as hulle Engelse burgers wat saam met hulle geleef het.” Sy sê dit is asof Engelse Suid-Afrikaners hulle probeer verontskuldig vir die wandade van apartheid deur dit weg te swyg asof hulle geen aandeel daarin gehad het nie.

Van die vorige eeu wil sy so min as moontlikheid weet en onthou. “Ek het niks van die 20ste eeu gehou nie en kan fokken niks daarvan onthou nie.”

Nelson Mandela het vir ons vryheid gebring, hoewel hy buite voeling was met baie dinge, meen sy. Hy was die verpersoonliking van die hoogste morele waardes waarna ons streef. Vir Zuma het sy egter geen goeie woord nie. Hy het die ANC se morele hoë grond weggekalwe.

Net soos vandag se generasie vrae vra oor Hitler en apartheid, sal toekomstige generasies vra: Wat het julle gedoen toe Nkandla plaasgevind het? Wat het julle gesê en hoe het julle dit gestop?

  • 3

Kommentaar

  • MArietjie le Roux

    Ag regtig ek is tot satwordens toe moeg vir hierdie vloekende libbie's wat boeke skryf en Afrikaners verguis. Get over it!

  • Marietjie.

    Ten minste die keer is dit nie 'n Afrkaner wat Afrikaners verguis nie, en ons het te veel van hulle ook in ons midde. Volgens Jean se woorde is sy: " half-Duitse Katolieke ateïs". Wat van 'n ding is 'n Christelike ateis? Nooit van gehoor nie! Nee wat! Die pa kom vir my voor as meer gebalanseerd en gelukkiger as sy self.

  • Michele Meyer

    Marianne se gesprek was insiggewend en inspirerend, snaaks en intelligent. Mag sy aanhou praat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top