US Woordfees: Afrikaans raak my nie, traak my nie?

  • 1

Afrikaans raak ons en traak ons.

Dit was die boodskap van ’n paneel jongmense tydens ’n diskoersgesprek oor Afrikaans as onderrigtaal by die US Woordfees.

Esra Plaatjies, ’n tweedejaar-onderwysstudent aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie, sê dit was vir hom baie moeilik om aan te pas toe hy sy studies in Engels moes voortsit.

Hy het op ’n plaas grootgeword “waar selfs die hoenders my in die oggend in Afrikaans wakker gekraai het”.

Esra sê daar is ’n blink toekoms vir Afrikaans, maar dit is vir hom swaar om te sien hoe trap sommige mense op Afrikaans.

Die feit dat hy op skool moedertaalonderrig ontvang het, het egter vir hom stewige fondasie gebied en hom gehelp om makliker aan te pas toe hy hom skielik in ’n nuwe taalomgewing bevind waar alles Engels is.

Hy sê hy het homself bloedneus geloop toe hy die eerste keer te doen kry met Engelse terme in veral wiskunde en wetenskap.

Vir die eerste keer het hy gehoor van terme soos proper fractions en improper fractions wat hy geken het as ware breuke en onegte breuke. Omdat hy wiskunde in Afrikaans verstaan het, was dit egter vir hom makliker om die werk in ’n tweede taal te verstaan.

Die gesprekleier, Marius Swart, ’n taalbeplanningsdeskundige aan die US se Departement Afrikaans, wou van die paneel weet waarom Afrikaans as onderrigtaal vir hulle belangrik is.

Mercia Kannemeyer, ’n honneursdramastudent aan die US wat onlangs bekend geword het vir haar dokumentêre kortfilm waarin sy voorspraak maak vir Afrikaans as onderrigtaal, sê Afrikaans beskik reeds oor die infrastruktuur om behoue te bly as taal van onderrig.

“As Afrikaanse mense erns wil maak met moedertaalonderrig kan hulle ’n groot bydrae lewer as hulle ander inheemse tale help om tot volwaardige tale van onderrig te ontwikkel.”

Sy verwerp die bewering dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is. “Afrikaans het nie net ’n wit gesig nie. Vir baie mense was dit ook die taal van bevryding.”

Bernard Pieters van AfriForum Jeug, wat uit ’n tradisionele wit agtergrond kom, sê vir hom is dit ’n hol argument om te beweer dit is beter om in Engels te studeer omdat “almal in die wêreld” dit verstaan.

“Wat van ingenieurs wat in Afrikalande gaan werk waar Frans die dominante taal is of in baie ander lande soos in Suid-Amerika en elders waar Engels ook nie die algemene spreektaal is nie?

“Wat van die talle mense regoor die wêreld wat in Afrikaans studeer het en vandag suksesvolle beroepe oral in die wêreld het? Hulle is nie werkloos omdat hulle aan Afrikaanse universiteite in Afrikaans studeer het nie.”

Die vyftienjarige Chenique Wehr van die Hoërskool Breërivier in Worcester het met die res van die paneel saamgestem dat dit nie nodig is om van Standaardafrikaans af te sien om dit meer inklusief te maak nie.

Die algemene konsensus was dat Standaardafrikaans belangrik is, maar dat ook die verskillende variëteite van Afrikaans erken en waardeer moet word.

Standaardafrikaans moet behoue bly, maar eerder uitgebrei word om ook van die ander variëteite in te sluit.

Susan Marais, van die US se Departement Afrikaans se moedertaalinisiatief, het gesê Standaardafrikaans moet behou word, maar Kaaps, Namakwalandafrikaans, Namibiese Afrikaans en al die ander variëteite van die taal moet ook erken word.

Kannemeyer meen Afrikaans moet eerder herstandaardiseer word om ook meer van al die ander variëteite in te sluit.

Swart wou ook van die paneel weet hoe mens ontslae raak van die stigma wat aan Afrikaans kleef.

“Afrikaans is die mees diverse taal van alle tale in die land. Dit is heeltemal ondenkbaar dat dit ooit weer as die taal van die onderdrukker gestigmatiseer kan word,” het Pieters gesê.

Een van die lede uit die gehoor het gemeen dat as Afrikaans steeds as die taal van die onderdrukker gesien word, is Engels eweneens die taal van die onderdrukker. Daar is byvoorbeeld baie Xhosa-leerlinge in haar skool wat nie Engels magtig is nie en nou verplig word om dit as taal van onderrig te gebruik.

Die oplossing lê vir hulle daarin dat daar meer aandag aan meertaligheid gegee word eerder as om slegs Engels as onderrigtaal te bevorder.

Kannemeyer gee toe dat daar sekere mense en organisasies is wat Afrikaans vir hulle eie politieke agendas wil gebruik, maar wou liewer nie name noem nie. “Die geveg teen Afrikaans is dikwels ’n geveg teen mense en nie teen ’n taal nie.”

Marais het met die res van die paneel saamgestem dat daar meer gedoen moet word om die verkeerde persepsie wat daar steeds by baie mense oor Afrikaans bestaan, te help verander. Dit kan net gebeur as Afrikaanse mense in ’n gees van meertaligheid ook na ander inheemse tale uitreik.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top